Читать книгу Onthou my - Helena Hugo - Страница 7

3

Оглавление

Vrydagoggend word die huis nog weer deeglik skoongemaak. Oupa sny gras, Ouma hang wasgoed op, Jessie skrop vir oulaas die kombuis en badkamer, Janine stoot die stofsuier oor die sitkamermat. Jenny en Riekie sit mekaar op die bank en vasklou, kastig bang vir die suigmasjien. Die Kersboom flikker aan en af. Janine werk net voorlangs. Sy skakel die stofsuier af, stoot dit gang toe en trek die boks met speelgoed vir die dogtertjies nader. Ouma Leen het Janine se Pink Panther, haar teddies en Barbie-poppe uit die kas gehaal, maar Jenny is nog te klein vir Barbie. Aunty Anny het vir haar ’n Kewpie met ’n sak vol kleertjies gebring. “Van die arm vroutjies maak popklere vir broodgeld. Dis ons nuwe predikantsvrou, sy het hulle aan die gang gekry.”

Uncle Abie het sy stokperdjie aangedra: Noag se ark en al die diere, kunstig uit hout gekerf. Dis sy trots, hy maak dit gratis vir die kerkskool. Jenny, wat so ongelukkig was oor haar speelgoed wat in Londen agtergebly het, speel nou alte lekker. Janine sit op die mat met haar rug teen die bank en kyk hoe oulik sy ’n legkaart bou, groot stukke wat geduldig gemeet en gepas word vir ’n huis met ’n spitsdak, twee vensters en ’n voordeur. Riekie kou aan ’n plastiektandering, sy kwyl haar borslap papsopnat.

Ding-dong-dang, kondig die muurhorlosie die halfuur aan.

Jenny kyk op. “Ou Ding-Dong,” sê sy.

Riekie laat val haar tandering en klap handjies.

Janine glimlag. Twintig jaar gelede toe sy die klokkespel die eerste keer gehoor het, het dit haar verbeelding ook aangegryp. Die ou horlosie kondig die tyd so reëlmatig en stiptelik aan, sy stem het deel geraak van die huis en die huishouding. Minute, ure, dae, maande, jare het byna ongemerk verbygaan. Maar hy hang waar hy altyd gehang het, reg bokant die riempiesbank met die gevoude lappieskombers. Oor die tafel pryk nog dieselfde fluweellap, in die middel dieselfde vaas. Net die fotogalery lyk nie meer soos drie jaar gelede nie. ’n Vergroting van Janine in haar trourok, Ouma en Oupa deftig aan weerskante van haar, is bygevoeg. Jenny en Riekie se geraamde portretjies staan links en regs. Greg skitter in sy afwesigheid. Die tyd het tog aangestap.

Jessie loer om die deurkosyn. “Sit aan die TV, hulle wys Toy Story 2.”

“Woody!” gil Jenny en stoot die legkaart eenkant toe.

Jessie kom sit langs Janine. “Jy’s bleek. Wat makeer?”

Janine tel Riekie op haar skoot. “Hulle hou my besig, ek slaap sleg.”

“Ons kry vanaand gaste.”

“Weet ek dit nie.”

“Hulle sal nie lank kuier nie. Kerk is agtuur môreoggend.”

“Sjuut, julle!” Jenny skuif nader aan die televisie. Sy verstaan genoeg Engels om die dialoog te volg.

Riekie raak knieserig. Jessie vat haar by Janine en dra haar, al klaende die gang af. Janine kyk ’n stukkie van die speelgoedmanewales, staan dan op en loop kamer toe.

Riekie rus teen Jessie se skouer. Sy neurie haar aan die slaap, wieg haar op die maat van “Kersfees kom, Kersfees kom …”

Janine trek die bababedjie se lakens reg. As sy nie meer hier is nie, sal Jessie haar dogtertjies grootmaak. Dis ’n aaklige gedagte en dit kan gebeur, sy kan doodgaan – soos sy deesdae voel, so maklik.

Jessie sal ’n goeie ma wees. Sy lê die slapende Riekie versigtig neer, fluister: “Skatlik.”

“Sy is, veral as sy slaap.”

“Ek hoor haar snags.” Jessie staan ’n entjie weg. “Jy moet my kom roep as dit te erg raak,” sê sy saggies.

“Jy werk, ek kan jou nie van jou nagrus beroof nie.”

“My werk is nie veeleisend nie.”

“Wanneer jy hier is, help jy my heeltyd. Ek weet nie wat ek sonder jou sou doen nie.”

“In Londen het jy alleen reggekom.”

“Nie sonder Esther en ons kerk se Baby Circle nie.”

“Dis goed dat jy nie alleen was nie.”

“Daar was tye dat ek so alleen was, ek het julle briewe oor en oor gelees.”

Jessie sit haar arm om Janine. “Selfde hier.”

“Ek sien nie kans vir vanaand nie.”

“Die Kowalski’s het ons laas jaar genooi. Vanjaar is dit ons beurt.”

“Ek wil nie ’n pretbederwer wees nie, maar ek het gehoop dis net ons.”

“Jy is onseker oor Bennie, of hoe?”

“Oor hom én die res van die dorp. Ons moet môre kerk toe en almal sal my aangluur.”

“Vra my, ek moes ook daardeur. Wat my bekommer, is dat jy so bleek is.”

Janine voel die warm blos in haar nek opstoot. “Ek is moeg, dis al.”

“Dan moet jy jou kans waarneem en rus voor ons geselsery vir Riekie wakker het.”

“Hoe laat kom hulle?”

“Vieruur. Ons eet twaalfuur ’n toebroodjie, vanaand braaivleis.”


Teen drieuur voel Janine beter. Jessie help haar om Jenny en Riekie te bad en partytjierokkies aan te trek. Bennie Kowalski kom weer ter sprake en Janine belowe om ten minste ’n bietjie moeite te doen met haar voorkoms. Toe was en blaas sy haar hare en smeer lipstiffie aan. Haar blomrok sit nog lossies, hoewel die lae hals haar vol borste beklemtoon. Nadat sy ’n laaste draai voor die spieël gemaak en vooroor gebuk het, besluit sy om die rok met ’n kuitbroek en ’n oorhangbloes te vervang, sagte lap wat tot by haar kuiltjie toeknoop en elke kurwe netjies verbloem.

Die gaste sit onder die afdak en tjips eet toe sy by hulle aansluit. Aunty Anny het Riekie op haar skoot en Jenny staan penregop langs ouma Leen. Die mans is soos gewoonlik om die vuur. Janine gee aunty Anny ’n drukkie, sy voel die geneentheid van die ouer vrou na haar toe oorspoel. Geen verwyt nie, net aanvaarding.

“Jou dogtertjies is pragtig,” sê sy. “Hoe gaan dit met jou? Het jy al tot verhaal gekom?”

“Dankie, aunty Anny, ek voel elke dag beter.”

“Ek is bly. Ons was bekommerd oor jou. Jy het darem vanmiddag bietjie kleur op jou wange. Dis mos nou somer hier, nie winter soos in Londen nie. Jou ouma sê my julle was al op die strand.”

“Eergister, die kinders geniet dit. Jessie ry, maar sy werk volgende week.”

“Jy moet Bennie vra om julle te vat, vir jou en die kindertjies. Ons sal vir hom instaan by die winkel.”

Janine bloos. Om aan haar en Bennie op die strand te dink is genoeg om haar benoud te maak.

Hy kom na hulle toe aan met ’n bord vol skaapworsies. “Lusmakertjies.” Sy oë rus op haar met onverbloemde bewondering. “Hallo, Janine, hoe gaan dit?”

“Goed, dankie.”

“Jy lyk ook goed, ek bedoel … mooi. Wil jy sit?”

Hy dans om haar rond, sleep twee stoele nader. Sy kies een en sit dit amper mis.

“Bennie, die wors! Jy hou die bord skeef!” Dis Jessie wat ingryp.

Hy herstel merkwaardig, wikkel die worsies wat na die kante toe oorhang, weer middel toe. Jessie bied vir haar ’n wyntjie aan. “Wit of rooi?”

“Vrugtesap, asseblief.”

Verbeel sy haar of is die glimlag om Jessie se lippe net te veelseggend?

“Mango of lietsjie?”

“Mango is goed. Ek kan self.”

Maar Jessie keer. “Ek bring vir jou.”

Bennie buig voor haar. “Kry vir jou ’n worsie.”

Hoe dankbaar is sy nou sy het nie die blomrok aan nie. Sy wil ’n stukkie afbreek, maar haar vingers is dom.

Hy gryp ’n bord van die tafel af en oorlaai dit. “Hou so, dan deel ons.” Met dié draai hy na ouma Leen. “Ouma? En Jenny?”

“Sê dankie vir oom Bennie.”

“Dankie, oom Bennie.”

“Pasop, hy’s warm.”

“Gee hier, Ouma blaas.”

“Mag Riekie ’n worsie eet?”

“Ja, sy eet als.”

Janine kyk vir die worsie wat soos ’n katstert op die bord krul. Almal lag en skerts en sy veg teen trane. Hoort sy hier? Jenny en Riekie, die onskuldiges, wel. Maar sy? Sy het alles wat goed en reg is in die wind gestrooi, haar eie kop gevolg en nie een van hulle in ag geneem nie, minste van almal vir Bennie.

“Aha, hier’s ek weer.” Hy trek sy stoel nader. “Jy’t nog niks geëet nie.” Hy pluk die worsie van die bord af, knyp dit middeldeur en los vir haar die helfte.

Sy keer. “Dis te veel.”

“My ma sê ek moet vir jou sorg. So, eet.”

Sy skraap moed bymekaar, maak soos hy sê, eet en proe net sout.

“En, hoe smaak dit?”

“Lekker.”

Stilte. “Janine … Toe maar, ons kan later praat.”

Oupa Koen roep van die vuur se kant, sy braaitang in die lug. “Vleis is reg! Braaibroodjies ook. Ek en Abie was net gou hande.”

Ouma Leen staan swaar op. “Kom, Jessie, ons gaan haal die slaai. Het julle mans nog plek?”

Oupa Koen knipoog vir Janine in die verbyloop. Daar is ’n vetkring om sy mond, stukkies roet tussen sy tande. Uncle Abie kom staan voor haar en Bennie, vee sy mond met die agterkant van sy hand af. Dit is duidelik dat hy sy eerste tjoppie ook al in het. Amper lyk dit of hy haar wil soengroet. Sy staal haar by voorbaat, maar hy skud sy kop op sy stadige manier.

“Shalom, Janine, dis goed om jou weer in ons midde te hê.”

Hy lyk soos Bennie, Bennie oor veertig jaar. Haar gemoed skiet vol, sy eerlike toegeneentheid laat haar weerstand verkrummel. “Uncle Abie, ek kan nie vanaand op ’n beter plek wees nie.”

Die woorde is uit. Dit geld dalk net vir een aand. Of het sy nou haar toekoms saam met sy enigste kind verseël?

Jenny rem aan haar mou: “Mamma, wanneer kom Kersvader?”

“Nou-nou, my Bytjie.”

“Waar’s Daddy?”

“Daddy is in Londen en die vliegtuie is vol.”

“Ag, nee.”

Uncle Abie hurk by Jenny. “Kersvader het nie ’n vliegtuig nodig nie, hy vlieg deur die lug met sy eie slee. Netnou land hy reg voor die deur met sy sak vol presente, uncle Abie belowe jou.”

“Ek wil my Daddy hê.”

“Maar jy hoor mos nou die vliegtuie is vol.”

“Pa, los die kind.” Dis Bennie, heel verstandig. Hy haak by uncle Abie in en stap met hom weg.

Janine trek haar dogter nader, hou haar teen haar. Jenny se verlange na Greg is soos ’n smeulende vuur wat kort-kort vlamvat. ’n Kind, dit weet sy, het ook gedagtes en gevoelens wat soms uitborrel. Dalk vermoed Jenny dat die vliegtuigstorie opgemaak is en grootmense nie te vertrou is nie, minste van almal haar eie ma. Jenny huil dat die trane so spat.

Wat sê ek vir haar? Jou Daddy sal nie kom nie. Hy het ons weggegooi, vir jou ook.

Sy haal ’n snesie uit, vee traantjies af, sê liewer niks.

Jessie verskyn asof sy gestuur is. “Het jy seergekry?”

Janine spel G-r-e-g sonder geluid.

“Jy’s mos ’n groot dogter wat al kan tafel dek.” Sy dwing die snikkende Jenny sagkens saam met haar, druk ’n snesie in haar hande. “Vee af jou traantjies, voor ons saam met jou huil. Het jy grootmense al sien huil?”

Jenny dink nie dis snaaks nie, sy huil harder.

Janine weet hoekom. Sy het haar mamma te dikwels in trane gesien.

Ouma Leen raak aan Jenny se voorkop. “Nie koorsig nie, net ongelukkig. Wil Ouma se kind ’n koeldrankie hê?”

Bennie kom sit weer langs Janine, praat saggies. “Weet Greg Walker wat hy doen?”

Sy sluk die knop in haar keel. “Hy is lief vir Jenny en sy vir hom.”

“Hy het haar in die steek gelaat.”

“Ek ook.” Sy kan haar tong afbyt. Dit het uitgeglip en boonop voor hom.

Hy het gehoor, want hy verskuif sy gewig, vou sy arms asof hy sy woorde tel. “Julle kry swaar.”

Bennie kry haar jammer en dit mag nie! “Ons sal regkom. Almal is so goed vir ons, netnou lag sy weer.”

Janine weet sy stry teen haar beterwete. Jenny word oorlaai met goedheid, maar sy het alles verloor wat vir haar bekend was. Dis nie meer winter nie. Die seisoen het gedraai in een dag en een nag. Sy het son gekry, see en sand, oumas en oupas, speelgoed om hare wat agtergebly het, te vervang. Dis te veel, maar dis nie genoeg nie. Sy mis haar Daddy.

Liewe Here, sy is ek, toe ek vyftien jaar gelede hier aangekom en my snags aan die slaap gehuil het. Ek het Ouma en Oupa ’n lewe gelei oor my mamma en my pappa. Hoekom vir Jenny verkwalik?

“Jou ouma is raadop.”

Dit neem ’n sekonde of twee voordat Bennie se woorde by haar insink.

Jenny knibbel aan ’n broodjie, sy loer na hulle, haar oë blink van trane.

“Jenny-by, kom sit hier by Mamma.”

Jenny wil nie. Sy druk die broodjie met albei hande onder haar ken in en staan waar sy staan. Bennie maak sy bene reguit, laat rus sy hande op sy knieë, kyk af. Wat dink hy nou? Dat sy hulpeloos is, ’n hopelose ma? Sy kry lus om op te spring, Jenny te gryp, saam met haar te gaan huil tot hulle albei uitgehuil is. Maar oupa Koen en uncle Abie maak hul verskyning en ouma Leen roep almal bymekaar sodat Oupa die tafelgebed kan doen. Bennie hou sy hand na Janine toe uit. Sy ignoreer dit en vou haar hande op haar skoot.

“Hemelse Vader, ons dank U vir onverdiende gawes.” Oupa se stem bewe, hy is aangedaan. “Seën die voedsel wat vir ons voorberei is deur gewillige hande. Dankie vir ons samesyn met familie en goeie vriende. Ons dink aan eensames en armes, oues van dae en siekes in hospitale en tuis. Ons bid dit alles met die vergifnis van ons sondes, amen.”

“Amen,” beaam uncle Abie en Bennie.

Die vroue, soos dit hulle betaam, volg byna onhoorbaar. Oupa Koen se woorde hang nog in die lug. Wat meer wil die Here hoor as dat hulle almal saam, en van sy seën afhanklik is?

“Julle kan kom skep, elkeen vir homself.” Dis ouma Leen wat haar deel doen. Sy lyk moeg, haar taak raak by die dag gewigtiger.

Janine vat ’n kleinbordjie, kies die sappigste happies vir Jenny wat haar kop skud en die vredesoffer wegstoot. Ouma Leen paai en Janine praat mooi. Jenny weier en amper beland die bord op die grond.

“Te veel worsies?” vra Ouma. “Is sy nie honger nie?”

“Sy is, vir ’n roomysie!” Oupa Koen sit sy arm om Jenny. “Dankie, Oupa?”

“Dankie … Oupa.” Jenny glimlag met Greg se glimlag, die ene kuiltjies en selfgenoegsaamheid.

Janine wil beswaar maak. Dis verkeerd om moedswillige kinders met soetgoed te paai, maar sy sien nie kans vir nog struweling nie. Jessie is buitendien klaar op pad yskas toe. Janine laat dit daar, kies vir haar ’n tjoppie met min vet en gaan sit langs Bennie wat sy braaivleis geniet asof niks hom ontstel het nie.

Om die tafel gaan dit vrolik. Oupa Koen en uncle Abie vertel visstories. Aunty Anny en ouma Leen sorg vir korreksies, die staaltjies kom hoeka uit almal se kinderdae. Uncle Abie vertel die een van die man wat sy vismes verloor en dit jare later in ’n snoek se bek teruggekry het asof hy ook op die skuit was toe dit gebeur het. Toe sy vrou beswaar maak, verander hy en oupa Koen van koers en herinner mekaar aan doerie jare se goeie vangste. Ouma-hulle luister nie meer nie, hulle ontleed Huisgenoot se jongste kerrievisresep.

Ouma Leen het nie ’n nuwe resep nodig nie, sy het al emmers vol ingelê: “Totdat ek naderhand nie die visreuk onder my naels kon uitskrop nie.”

Bennie leun na Janine toe oor. “Nes ghries. Onthou jy die Mustang?”

Jessie het haar vertel dat die vriendskap tussen Bennie en Herkie doodgeloop het. Sy maak of sy nie weet nie. “Loop hy nog?”

“Weet nie, ek hou nou my hande skoon.”

“So, jy en Herkie restoureer nie meer karre nie?”

“Hy’s getroud.”

“Ouma Leen het gesê.”

“Sy’s ouer as hy, so ’n opgesmukte vroumens, praat net Engels, rook dat die blou dampe staan. Sy’t die garage op die dorp gekoop, toe hoor ons sy en Herkie ken mekaar. Ryk, haar pa het glo ’n goudmyn iewers in die Vrystaat. Toe hulle trou, gee hy hulle nog ’n garage op Clanwilliam of Citrusdal, een van daai plekke. Hulle het Herkie-hulle se huis gerestoureer, jy moet dit sien om te glo. Sy ouers is in Lambertsbaai in die ouetehuis, dis nie reg nie. Noudat die huis omgebou is, wil Jane trek. Herkie kom net winkel toe om te spog. Hoekom eet jy nie?”

“Ek is nie honger nie.”

“Gee jou tjoppie, ek maak dit klaar. Mens mors nie met kos nie.”

“O, as ’n man uit ’n vrou se bord begin eet …!”

Jessie terg skaamteloos, maar Kersvader het opgedaag. Vet en vrolik pyl hy op Jenny af wat verskrik by Janine kom skuiling soek.

Onthou my

Подняться наверх