Читать книгу Onthou my - Helena Hugo - Страница 6

2

Оглавление

Die volgende dag, Donderdag, is hul laaste kans vir inkopies voor die dorp se winkels vir Oukersdag sluit. Ouma Leen se Kerstafel is een van die hoogtepunte van die jaar en haar voorbereiding begin vandag in alle erns. Alles wat vooruit gekook, gebak en gevries kan word, word afgehandel met haar notaboekie byderhand sodat sy kan neerskryf, ingeval hulle vir Oupa moet dorp toe stuur om een of ander bestanddeel te koop waarsonder hulle nie kan klaarkom nie.

Janine is so moeg, haar kop sing. Nogtans skil, kap, roer en klits sy geduldig voort. Riekie sny tande, was heelnag huilerig en het teen agtuur vanoggend eers tot rus gekom.

Janine het haar in haar bababedjie neergelê en op die bed gaan sit, gereed om om te val toe ouma Leen die deur oopstoot en saggies, maar nie sag genoeg nie, vra: “Slaap sy?”

Janine het haar vingers voor haar lippe gesit, waarop ouma Leen haar hande verskonend opgehef en haar toe dringend nadergewink het. Sy het die kamer uitgesluip en haar ouma kombuis toe volg. Daar het ’n netjies gedekte ontbyt op haar gewag.

“Kom eet, liefieding. Ons moet jou kragte opbou – jy’s gans te bleek.”

Lemoensap, mieliepap, ’n gekookte eier, gebotterde roosterbrood, kaas en konfyt.

En “liefieding” …

Janine kon nie weier nie. Sy het gaan sit, haar hoof respekvol gebuig, en Jesus nog eens gesmeek om haar te vergewe. Ek het alles wat hulle my gegee het, al hul opofferings versmaai, my rug op hulle gedraai en toe ek nêrens het om heen te gaan nie, by hulle kom aanklop. Vergewe my.

Die sap was vars, maar met ’n oordosis suiker versoet.

“Tee of koffie?” het Ouma vrolik gevra.

“Tee, asseblief.”

“Lyk my jy het by die Engelse geleer om tee te drink. Hou jy nie meer van koffie nie?”

Hoe kon sy erken dat selfs die geur daarvan haar naar maak? Sy het ’n grappie probeer. “Ouma het altyd gesê koffie gee kindertjies vlooie in die maag.”

Ouma Leen het haar bruin teepotjie op die tafel neergesit. “Jy is nie meer ’n kindertjie nie.” Sy het ’n stoel uitgetrek en gaan sit. “Alhoewel, jy sal altyd die dogtertjie bly wat die Here aan my en Oupa toevertrou het.”

Janine kon net die helfte van die lemoensap inkry. Die pap het gewag, soos ’n dam waarin sy moet wegduik. “Ek het alles opgemors. Ouma, ek is jammer.”

Ouma Leen het haar hand gevat. “Jy het dit al hoeveel keer gesê, hoe jammer jy is. En ek en Oupa aanvaar dit heelhartig. Luister nou vir my: Die lewe het jou gegryp en van jou kindwees beroof, maar ek glo vas dat God ’n plan het met jou. Jy het tyd, die toekoms wink en jy’t jou pragtige dogtertjies so mooi grootgemaak, ek is trots op jou. Sorg net vir jouself ook, moenie skuldig voel wanneer ons jou wil help nie. Laat Jessie hulle vir jou bad en aantrek, laat Oupa hulle in die tuin besig hou. Hy en Jenny het vrede gemaak, hulle haal vandag bossies uit. Oor haar hoef jy jou nie te bekommer nie en Riekie slaap mos nou. Is die tand uit?”

“Dis toe ’n kiestand.”

“Veels geluk. Darem vroeg vir kiestande. Eet jy nie jou pap nie?”

“Dis bietjies te veel.”

“Toe maar, ons gooi dit oor die heining vir Jasper se honde. Die toast is koud. Wil jy ander maak?”

“Nee wat, dis nog goed so. Dankie, Ouma.”

Sy het die roosterbrood in die tee gedoop, die botterlaag probeer afwas, afgetrokke gekyk na die vetdruppels wat op die oppervlak verskyn het. Ouma het die oggendgeselsie blykbaar vooruit beplan. Hulle twee is alleen, sy kan praat, haar hart oopmaak, maar sy sien nie kans nie. Die brood het in haar keel vasgesit, sy het dit moeilik afgesluk.

Ouma Leen kon haar ongemak seker aanvoel, want sy het opgestaan en die ketel gaan voltap. “Ek het ’n bekentenis om te maak,” het sy gesê, “eintlik het ek jou kombuis toe gelok sodat jy my kan help met die Kersfeeskos. Ons maak aartappelslaai, driebone en slaphakskeentjies vir môre se braai, koekstruif vir poeding. Ons stop sommer die kalkoen vir Kersdag en stoom die doekpoeding, dan gaan alles makliker en kan ons ook ontspan en die dag geniet. Reg so?”

Janine het haar ontbytgoed gewas terwyl Ouma blikkies, pakkies, mengbakke, maatbekers, kapmesse, houtlepels en eierklitsers op die kombuistafel uitgepak het. Sy het gepraat asof sy alles wat sy vroeër gesê het, wou toesmeer.

“Jessie is heeldag by die kliniek. Dis ’n besige dag, hulle sluit van die vier-en-twintigste tot die ses-en-twintigste. Die nuwe dominee en sy vrou, Emma, sal vir noodgevalle instaan. Sy is ’n verpleegster, hy is in elk geval heelnaweek aan diens. Die dorp reken op hom. Hy help met alles, ry tot halfdooie mense aan Clanwilliam toe, partykeer reguit na Tygerberg. Hier’s mos nie ambulanse nie. Maandag maak die kliniek halfdag oop, al is dit ’n publieke vakansiedag omdat Tweede Kersdag op ’n Sondag val. Dora ken haar mense. Van die Kersnaweek se ongevalle sal Maandag kom raad soek, anders roep hulle haar uit na hulle huise toe. Sy en Jessie werk hard. Ag, en die salarissie is so skamel.”

“Ek sal werk soek, ouma Leen, ek wil nie op julle teer nie.”

“Jy teer nie op ons nie, ons is bly jy is hier.”

“Ek moet iets bydra.”

“Sorg eers dat jy jou kragte terugkry. Jy hoef ook nie te soek nie. Bennie hou vir jou plek by die winkel.”

“Hoe weet Ouma?”

“Hy is nog lief vir jou, Janine.”

“Sê hy so?”

“Almal sê so, en werk is skaars op die dorp. Meng jy die sous vir die boontjies?”

Janine byt haar lip om nie ’n aanmerking te maak nie. Ouma gooi wye draaie om die dorp se skinderstories, maar sy sal nie verbaas wees as hulle besluit het sy is terug om op te maak met Bennie Kowalski nie. Liewer nie ’n geluid in daai rigting nie. Drieboontjieslaai, dis veiliger. “As Ouma die bestanddele afmeet, ek kan nie die resep onthou nie.”

“Haai, ek ook nie.” Ouma Leen blaai in haar verflenterde plakboek, druk haar vinger op die regte prentjie. “Daar’s hy, nes ek hom in die Huisgenoot gekry het.”

Janine onderdruk ’n glimlag. Ouma was so gekant teen die “sondige” tydskrif wat aunty Anny altyd niksvermoedend aangestuur het. Dit is duidelik deesdae net so aanvaarbaar soos die televisie en ’n kleindogter wat op straat sit omdat sy met haar onderwyser moes trou.

Janine klits die sous dat die skuim so staan. Waarom kan sy Greg nie uit haar gedagte verban nie? Ouma Leen se stem dreun om haar ore en sy dink aan hom, die aantreklike vreemdeling wat drie jaar gelede, toevallig ook drie dae voor Kersfees, op die Kowalski’s se winkelstoep verskyn en haar voete onder haar uitgeslaan het. Uncle Abie was Praag toe vir sy broer se begrafnis en Bennie moes oorneem, hom gedaan gewerk en heeltyd met haar baklei. Was dit nie vir haar naweekwerkie by die winkel nie het sy hom daardie Desember al gelos. Dat sy sy hart kon breek, het sy nie voorsien nie, ook nie die skuldgevoelens waarmee sy haarself opgesaal het nie. Ouma is reg, hy is lief vir haar. Sy kan dit in sy oë sien, in sy hele houding. Dit straal uit hom soos elektrisiteit, maak haar ongemaklik, al sê hy net: “Hallo, Janine, hoe gaan dit vandag met jou?”

Maar Here, is egskeiding en ’n tweede huwelik, is Bennie Kowalski nou werklik my enigste uitweg?

Janine raak so benoud, dit voel asof sy alles wil neergooi en hardloop. Waarheen en waarom? Om weg te kom van die feit dat sy Bennie nie so liefhet soos hy vir haar nie? Hulle was nou wel gekys. Sy het haar eerste soen van betekenis by hom gekry en byna met hom oor die tou getrap. Amper was dit Bennie met wie sy moes trou en nie Greg nie. Watter draaie sou haar lewe dan gemaak het? Niks. Sy sou nooit verder as die Kaap gereis het nie en net in haar drome na die katedrale en museums van Londen. Dit was nie so sleg saam met Greg nie. Hulle het ’n gesellige blyplekkie gehad, ’n tuintjie met ’n eikeboom, vriende en vriendinne wat omgee. Greg het hard probeer. Lolita, dis wat met hom gebeur het en sy kan dit verstaan. Want sy voel nog Ant se arms om haar, die sagte warmte van sy trui, die belofte van nuwe liefde. Sy is nie onskuldig nie, al kan sy haar hoogheilig hou en Greg kritiseer. Miskien het sy hom weggedryf? Hoe sê sy dit hardop?

Sy gooi die sous oor die bone, roer dit deur, trek plastiek oor die glasbak, soek bêreplek in die yskas. “Wat nog?” vra sy vir Ouma wat staan en jellie roer.

“Die vla vir die koekstruif, dat dit saam met die jellie kan afkoel.”

“Ouma, ons berei nou kos vir ’n jaar.”

“Nee, vir een spesiale dag: Jesus se geboortedag, jou tuiskoms. Ons almal, van jonk tot oud, sal weer saam aan tafel wees.”

“Ek kom met leë hande. Wat kos dit alles?”

“Nie te veel nie, ons spaar vooruit.”

“Julle doen julleself tekort en julle moenie.”

“Nee wat. Bennie sorg vir ons.”

“Hoekom? Ons is nie familie nie.”

“Hy sorg vir die dorp, Janine. Groceries is goedkoper by hom as in Clanwilliam. Anny sê my van die mense wat by hom op skuld koop, betaal nooit alles af nie. Hy gee om vir die armes. Sal nie vat wat nie syne is nie. En nou praat ek my mond verby. Die melk vir die vla is op die stoof, jy kan net die plaat aansit.”

Sy wil soontoe omdraai, maar lighoofdigheid pak haar beet en sy hou aan die tafel vas. Ouma Leen sien dit nie, sy is verwoed besig om meel te sif.

“Ouma …” Die stemmetjie wat Janine by haar keel uitforseer, is onhoorbaar en sy moet harder praat om aandag te kry. “Ouma mag dit maar sê: Greg Walker is ’n dief. Hy’t my erfporsie gesteel. Dit was julle geld ook. Greg het dit gevat en vir hom en Lolita ’n huis gekoop. Daarvoor sal ek hom nie maklik vergewe nie.”

Ouma Leen se hande raak stil. “Ek het vergewe, maar miskien verbeel ek my dit. Ek sal jou nie kwalik neem as jy dit nie oor jou hart kan kry nie.”

“Jesus verwag dit van my. Miskien eendag …”

“Sal jy na hom toe wil teruggaan?”

“Greg is nie meer lief vir ons nie. Dis nou Lolita.”

“Julle bly by ons, die huis is groot genoeg.”

“Dankie, Ouma.”

Nie een van hulle wil dit erken nie, maar die toekoms lê soos ’n berg voor hulle. Egskeiding is waarskynlik die enigste uitweg en dit word nie in ordentlike huise genoem nie. Janine sukkel om die lastige lighoofdigheid onder beheer te kry. Dis ’n waagstuk om die stoof te gaan aanskakel en gewoonweg te vra: “Waar is die vlapoeier?”

“Langs die melk in die blikbeker. Ek het dit afgemeet. Sout en suiker kan jy na smaak byvoeg.”

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe ouma Leen eiers by die meel voeg, roer en meng asof sy aan ’n bakmarathon deelneem. So ken Janine haar. Wanneer sy ontsteld is, hou sy haar hande besig – ou hande, vermink deur jare van harde werk. “Sit solank die pot met water op hoog vir die doekpoeding. Dis amper reg, nog net die droëvrugte en die brandewyntjie, dan kan ek hom toebind.”

Hoe handig knie sy die deeg! Janine verstom haar aan die krag in haar ouma se arms. Haar vingers is kromgetrek van rumatiek, haar arms maer, die spiere slap, maar dis asof niks haar keer nie – sy knie tot die deeg vorm kry. Toe vee sy die sweet van haar voorkop af en sug asof sy haar laaste asem uitblaas. “Janine,” sê sy, “ons het na jou verlang. Wat jy ook al besluit …”

Maar skielik is haar ou oë vol trane. Sy gryp haar voorskoot se punt, druk die nattigheid op haar wange droog, glimlag dapper. “Ons kan weer koekies bak, soos in die verlede. Ek belowe jou, jy sal nie spyt wees nie.” Sy sprinkel nog meel op die deeg, raak weer aan die knie.

Pla Ouma se hande nie, het Ouma nie pyn nie? wil Janine vra, maar besef by voorbaat dat ouma Leen dit sal ontken. Sy moet buitendien keer of die reuk van melk wat kook, raak oorweldigend. Sy hou asem op, maak die vlapoeier aan en roer dit by die kookmelk. Haar ouma praat en praat, verdoesel die pyn wat hulle met mekaar deel.

“Jenny en Riekie sal in ’n veilige omgewing grootword, ons ken net godvresende mense. Bakkies Bakker het dit gelukkig getref met Tienke. Sy kan vir jou met icing werk, versier ’n koek nes ’n prentjie. Daar’s nog nie kinders nie, maar hulle is net twee jaar getroud. Herkie, onthou jy vir Herkie Calitz? Hy’t gaan trou met ’n ouer vrou, toe koop hulle die garage, glo met haar geld. Daar’s ook nie kinders nie. Tertia en Kallie woon op Lambertsbaai, daai vrou het hulle die huis uitgewerk, als na haar smaak oorgedoen. Die mense praat, hulle sê Herkie loop rond.”

Herkie was die mooiste seun in die klas, so dom soos ’n klip, maar beeldskoon en gebou soos ’n pou. Al die meisies was verlief op hom, sy ook – tot hy haar drome vernietig en Bennie sy plek ingeneem het. Herkie se sussie is dood toe sy maar sewe was. Sy ma het die mooiste truie gebrei, Fair Isle-kunswerke. Herkie en Bennie het Saterdae aan Herkie se Ford Mustang gewerk, dan gaan sy saam en sit by tannie Tersia op die stoep waar sy besig is met haar breimasjien. Die tannie het getreur oor haar oorlede dogtertjie, maar sy het haarself getroos met die hoop dat Herkie eendag kinders sou hê, verkieslik dogtertjies. Die lewe is nie regverdig nie, of is dit nou die Here wat onregverdig is? Verskriklik! Soms sit die duiwel verkeerde gedagtes in haar kop, dan moet sy diep asemhaal en aan Jesus dink, Hom sien met sy lamp wat genoeg lig uitstraal om die wêreld se donker te verlig, ook haar eie hart.

Ouma Leen kom staan langs haar, haal die waterpot se deksel af. “Mooi, dit kook.”

Sy laat sak die Kerspoeding versigtig, sit die deksel op en draai die plaat laer af. Die vla kook amper oor. Janine lig die pot en roer sodat daar nie ’n skil bo-op vorm nie.

“Nou vir ’n lekker koppie tee, ons verdien dit,” sê Ouma.

Maar eers maak sy die skottelgoed bymekaar en pak dit in die opwasbak. Plig voor plesier, dis een van ouma Leen se lewensbeginsels: Plig voor plesier, doen dit nou, spaar en jy sal altyd genoeg hê.

Ouma was en sy droog af. Hulle praat het opgeraak. Janine dink aan die aankondiging wat sy oor ’n paar dae moet doen: nog ’n mondjie wat gevoed sal moet word, doktersonkostes, klere, skoene en skoolgeld, ’n kindjie wat sonder ’n eie pappa sal grootword.

Toe sy Riekie se huilstemmetjie hoor, kan sy nie gou genoeg die vadoek neersit en haar kamer toe haas nie.

Onthou my

Подняться наверх