Читать книгу Onthou my - Helena Hugo - Страница 9

5

Оглавление

Getrou aan die Kerstradisie is die kerk vandag tot barstens toe vol. Nie net die dorpsmense nie, familie, vriende en ander kuiergaste is ook teenwoordig. Miskien verbeel sy haar, maar vir Janine voel dit asof almal na hulle kyk, mekaar in die ribbes pomp, oë rol en saggies praat. Jenny, wat nie ’n kerk met ’n binnekant soos hierdie een ken nie, leun agteroor: blou oë wawyd oop, linkerarm styf om Pink Panther.

Sonlig sif deur die oosvensters, gooi gekleurde blokke teen die oorkantste muur. Die hout van die kunstig gekerfde preekstoel glim soos ougoud. Links en regs van die preekstoel pryk reuserangskikkings: krismisrose tussen jong palmtakkies, krisante en swaardlelies. Gerda Schoonraad? Is dit sy wat die blomme versorg het, of Marta Koster?

Juffrou Ciska en meneer Swanepoel kom by die sydeur in. Hulle lyk nog net so verlief soos altyd: ouer, stadiger en gryser, maar mooier. Sy speel nie meer die orrel nie en hulle gaan sit langs mekaar in die linkerblok heel voor. Janine besluit om so gou moontlik by hulle uit te kom.

Haar oog val op die kansellap, goue letters op ’n purper agtergrond: God is liefde.

En haar hart roep uit: U het my ook lief! Waarom, Here, het ek U nie van die begin af geken nie?

Asof dit haar antwoord is, ontwaak die orrel en vul musiek die ruimte.

’n Siddering trek deur Jenny se klein lyfie, sy druk Pink Panther stywer vas, klou aan hom, wieg op maat van “Kom herwaarts, getroues”. Ouma Leen wys vir haar waar die musiek vandaan kom.

Mevrou Riëtte Volker is voor die orrel. Sy is klein en skraal, maar speel manhaftig. Bokant haar teen die agterste muur toring die orrelpype, ’n glansryke verskansing teen die boosheid daar buite. Jenny se mond hang oop. Sy het nog nie voorheen so ’n instrument aanskou nie, nie sulke musiek gehoor nie. Janine is nou spyt dat sy nie kans gekry het om haar na een van die High Church-dienste te neem nie. In hul Baptiste-gemeente was daar net ’n orkes van kitare en tromme, nie iets so groots soos hierdie orrel nie. Sy hou duime vas dat haar dogter nie in trane uitbars nie. Klein Riekie raak juis ook woelig en aunty Anny het haar hande vol. Jenny staan teen die bank voor hulle se rugleuning en vergaap haar. Janine waag dit om skeef te draai sodat sy kan sien wie agter hulle sit. Dis Bakkies en Tienke, Marta Koster en haar ma, tannie Hetta – heel rustig.

Marta buig oor en raak aan haar skouer, fluister: “Janine, hallo. Lyk my sy verstom haar aan die orrel.”

Janine voel ongemaklik, sy knik formeel. Dink Martha dalk dat die kind nog nooit die binnekant van ’n kerk gesien het nie?

Sy buig haar kop, bid in haar hart: Here, help my om nie almal te wantrou nie.

Mevrou Volker speel een Kerslied ná die ander. Sy sluit af met ’n trompetgeskal en speel dan ’n rustige melodie wat Janine nie ken nie. Jenny, met haar arms om Pink Panther, sit weer netjies op haar plek. Die konsistoriedeur langs die preekstoel gaan oop en die kerkraad kom uitgestap. Janine verwag om Oudominee te sien, maar die predikant is jonk en frisgebou. Hy staan met sy kop geboë en bid voordat hy die trap na die preekstoel klim. Henriëtte trek weg met ’n lied wat Janine nie kan onthou nie, maar ouma Leen hou haar nuwe Liedboek vir haar oop en wys na die woorde: “Bring my na u woning, Here, laat my daar voor U verskyn waar ek lofsing U ter ere, waar u glans oor my kan skyn …”

Jenny staan op die bank tussen hulle en sing soos net sy kan sing.

Janine het nie die hart om haar stil te maak nie, nie eens toe ’n tannie voor hulle gesteurd omkyk nie. Mevrou Volker speel ’n paar frases voor die volgende vers begin en toe Jenny agterkom sy sing alleen, gaan lê sy plat op haar rug op die bank en skop met haar bene in die lug. Ouma Leen sou dit nooit in die verlede toegelaat het nie! Vandag sing sy voort asof niks haar pla nie.

“Here, heilig U my denke, laat u woorde my steeds dring dat ek met my blye klanke singend aan U hulde bring …”

Haar stemmetjie bewe, maar aan hartlikheid ontbreek dit nie. Die gemeente sing uit volle bors. Janine volg die woorde op die bladsy, so anders as die gospel waaraan sy die afgelope maande gewoond geraak het. Maar Ouma se Gesangboek het ook plek gemaak vir die Liedboek van die kerk.

Toe almal sit, Jenny inkluis, en die predikant die seëngroet uitspreek, sien Janine die jong vrou in die pastoriebank. Weerskante van haar sit ’n dogtertjie, wat lyk of sy oud genoeg is om al skool te gaan, en ’n seuntjie nie veel ouer as Jenny nie. Die predikant het ’n vriendelike sonbruin gesig. Hy preek nie soos Oudominee met ’n bulderstem nie, hy praat met die gemeente en wens hulle ’n geseënde dag toe voordat hy die Kanselbybel oopmaak en die ou-ou Kersverhaal uit Lukas voorlees. Vir Janine wat die laaste tyd in haar Engelse Bybel lees, klink dit nuut en vars.

Jenny vra kliphard. “Mamma, is dit ’n Afrikaanse kerk?”

“Ja, luister mooi.”

Die tannie kyk weer om, sy glimlag asof sy hulle vergewe het.


Dit het Jenny, soos enige kleuter van twee jaar en ses maande, ’n tydjie geneem om tot bedaring te kom. Toe het sy rustig geraak. Aunty Anny het ’n slag met Riekie. Sy sit soos ’n pop op haar skoot.

Janine kan nie veel van die preek onthou nie. Die predikant het iets gesê van engele wat vandag nog verskyn en sy het teruggedink aan die liewe ou dame wat haar op Heathrow-lughawe gehelp het om skoon te kom nadat sy opgegooi het in die hysbak. Soos ’n engel uit die hemel het sy verskyn en net so skielik weer verdwyn. Sy was nie te deftig of te haastig om te help nie en sy was op daardie oomblik die enigste mens wat omgegee het. So iemand vergeet jy nie maklik nie. Almal in die hysbak, Greg inkluis, het neus opgetrek, nie haar barmhartige Samaritaan nie. Die dorp se mense is meesal hysbakmense, hulle kyk na haar asof sy besoedel is. Sal die engele onder hulle dapper genoeg wees om saam met haar aangekla te word? So diep ingedagte is Janine, sy skrik toe die predikant die slotsang aankondig.

“Maar eers luister ons na ons eie operaster met ’n wiegelied vir die baba Jesus. Tannie Ciska, dankie dat Tannie ingestem het.”

Daar trek ’n fluistering deur die kerk. Die koppe draai, almal se oë is op haar. Sy het ’n ligblou rok aan, dit vloei soos water om haar slanke figuur. Haar hare is gevleg en soos ’n kroon om haar kop gedraai, daar is pêrels om haar nek. Ciska Swanepoel was Janine se musiekjuffrou, maar vandag voel dit verkeerd om te onthou hoeveel duette hulle saam gespeel het. Sy stap so regop soos ’n vorstin tot voor die preekstoel, kyk oor die gemeente en glimlag asof sy groet.

“Ek sing graag vir julle ‘Mille cherubini in coro’ – ’n koor van duisende engele, geskryf deur die Duitse komponis, Franz Schubert. Die Afrikaanse vertaling is my eie poging sodat julle ook saam met my kan verstaan wat hy wil tuisbring.”

Dit voel vir Janine of sy met haar praat, terselfdertyd sê: Onthou jy nog die romantiese Schubert en sy impromptu’s wat jy oor en oor moes speel? Onthou jy sy depressie en sy ellende, die arme siek jong man wat die mooiste melodieë gekomponeer het en afhanklik was van vriende vir sy lewensonderhoud? Janine voel trane in haar oë opwel.

Ciska haal diep asem. Die kerk is so stil, selfs dit is duidelik hoorbaar.

Sag, baie sag begin sy: “Dormi, dormi, sogna, piccolo amor mio. Dormi, sogna, posa il capo sul mio cor.” Sonder begeleiding vul die soetste, suiwerste klank die Here se huis boordensvol. “Slaap, slaap sag en droom, my kleinste liefkind. Slaap, droom, rus met jou kop hier teen my bors.”

Klein Jenny is wakker, haar goue krulle skeefgeslaap. “Mamma, wie sing so mooi?”

Janine wys vir haar dogtertjie dis die tannie daar voor.

“Sy sing mooi.”

“Sjuut, luister.”

Die kind lig haar kop, daar is sterre in haar ogies. Sy is vasgevang.

Janine bid deur haar trane: Here, in my eenvoud het ek ook vir haar en Riekie aan die slaap gesing, al hoe minder, al hoe moeiliker.

Juffrou Ciska sing van engele. Sy is self een.

“’n Koor van duisende engele glimlag vir jou uit die hemel. Soet is die lied wat jou voorkop nou streel. My hande hou jou saggies vas, ek maak jou toe met goue wolke. Met drome vir jou waak ek oor jou, my skat, beskerm ek jou op jou lewenspad.”

Janine kan die trane nie meer keer, dit stroom. Sy vee dit af met die agterkant van haar hand. Langs haar roer ouma Leen, soek in haar handsakkie na ’n sakdoek, oorhandig dit.

“Slaap, slaap nou, droom, my klein liefste. Sluit jou ogies, luister hoe sing die engelekoor.”

Janine sit haar hande op haar magie, op die onwelkome mensietjie wat dag vir dag in haar groei en groter word. Nie meer ’n embrio nie, ’n fetus met al die eienskappe wat hom of haar eendag ’n stem sal gee, dalk nog so suiwer soos juffrou Ciska s’n. Haar lied troos en kalmeer, die laaste note sterf en raak stil. Almal wag, maar dit is verby. Juffrou Ciska maak haar buiging, knik met die kop, lig haar hand asof sy totsiens sê. Die predikant kom regop, hy klap hande. Spontaan klap die kerkgangers, roep uit, vra na meer. Sy skud haar kop op haar sjarmante manier en stap na die bank waar haar geliefde Gideon vir haar wag. Soos sy wegstap, speel Riëtte Volker die einste Schubert-melodie.

“Mamma,” fluister Jenny so sag asof sy weet dat dit nie vir almal se ore bedoel is nie. “Hoekom huil Mamma?”

Janine slaan haar arms om die klein lyfie, druk haar teen haar vas, durf nie sê nie, dink net: Ek huil omdat ek jou en Riekie so liefhet, ek wil julle alles gee wat ek nie gehad het nie. Ek wil vir julle vrede kies en musiek en geluk. Ek wil nie hê julle moet sonder ’n pappa grootword nie.

Mevrou Volker neem haar tyd, sy speel Schubert so goed soos sy kan. Die gemeente beloon ook vir haar met ’n hartlike applous.

“Baie dankie, Riëtte en tannie Ciska, julle maak hierdie dag ’n dag om te onthou. As slotlied sing ons nou almal saam die bekendste Kerslied van alle tye: ‘Stille nag, Heilige nag’.”

Tydens die drie versies knip Janine haar oë omtrent tien keer in ’n poging om die tekens van haar seer te verbloem. Sy besef sy kry dit nie reg nie, veral toe ouma Leen onder die slotgebed haar hand vat. Sy hou asem op, maar kan weer nie die trane keer nie. Nou sal almal weet. Nou sal hulle hul afleidings maak, haar jammer kry of lekker kry omdat sy hier weggevlieg het met groot fanfare en teruggekruip het soos ’n hond wat geskop is. Met die uitstap kyk sy af, trek die valletjies van Jenny se rokkie reg en wag in die bank om die strik om die klein middellyfie los te maak en vas te knoop, haar hande die ene bewerasie.

Sy sien nie kans om ’n enkele woord met iemand te praat nie, nie eens met juffrou Ciska nie. Dié word genadiglik deur ’n entoesiastiese groep bewonderaars omring. Ouma Leen vat Jenny se handjie, groet hier en daar, vra hoe dit gaan, knoop kort gesprekkies aan. Aunty Anny spog met Riekie. Janine strompel verby, sien Bennie gesels met ’n man wat sy nie ken nie. Sy loop om by die kar uit te kom. Waar is Jessie met die sleutels?

“Janine!” Iemand roep haar agterna en sy moet omkyk.

Dis Tienke. “Wag vir my!”

Om nie onbeskof te wees nie, moet sy tot stilstand kom.

Tienke sit haar arm om haar. “Toe maar, ek voel nes jy.”

Janine antwoord nie. Hoe op aarde kan Tienke verstaan hoe sy voel! Tienke is gelukkig, sy het vir Bakkies. Hy sorg vir haar.

“Kan ek saamstap?”

Janine knik, die knop in haar keel maak seer. Hulle loop in stilte. Tienke se arm is ’n dooie stomp. Janine wikkel haar los, diskreet sodat sy nie affronteer nie.

Maar Tienke lag. “Hang ek aan jou?”

“Dis bietjie ongemaklik.”

“Sorry. Voorbarig van my. Jou ouma het haar koeksisterresep vir my gegee. Sy is soos ’n tweede ma vir my. Bakkies was van jongs af vriende met jou oupa-hulle, nou verbeel ek my ons kan vriendinne wees.”

Eintlik Bakkies se ma, tannie Agnes, dink Janine, maar sy kan nie praat nie. Sy het so min in Tienke belanggestel, sy weet nie waar sy op skool ingepas het nie. Tienke was nie sportief nie, ook nie vreeslik slim nie.

“Ek was ’n alleenkind,” sê Tienke asof sy weet wat Janine dink. “Bakkies het my gered. Om te dink ek wou niks met hom te doen hê nie. Nou’s ons gelukkig getroud. Kan jy dit glo?”

“Lovers trou met die idee om gelukkig te wees. Ek en Greg is nie. Skies, dalk is ek jaloers.”

Hulle staan onder die boom langs Jessie se kar. Van ver af lyk dit seker of hulle oor koeitjies en kalfies gesels, maar Tienke is besig om na haar toe uit te reik en Janine besef dit.

“Janine, ek is jammer oor netnou. Dit het geklink asof ek van jou verwag om persoonlike sake met my te bespreek. Wou net sê ons huis staan oop, enige tyd. Ek het ook gehuil oor juffrou Ciska se wiegeliedjie. Kom drink by my tee, dan vertel ek jou. Miskien kan ons mekaar help.”

Dis onmoontlik dink Janine. “Hier’s miere,” sê sy, “ons moet omstap.”

“O, goeiste ja, van die bytsoort. Ek moet in elk geval nou wikkel, my niggie-hulle van Clanwilliam kom by ons eet. Geniet julle Kersmaal.”

Toe sy omdraai, besluit Janine miskien tog. “Tienke!”

“Ja?”

“Ek wil graag by jou kom kuier. Sê wanneer.”

“Enige tyd, behalwe van vieruur tot seweuur in die oggend. Ons bak soggens vroeg, maar die winkel is bedags nie te besig nie. Ons twee kan wegglip vir tee.”


In die kar op pad terug van die diens af is ouma Leen so bedagsaam om nie na haar trane te verwys nie. Jenny nestel teen haar aan, kyk na haar op asof sy antwoorde soek. Janine glimlag vir haar. Ouma Leen kyk strak voor haar uit. Klein Riekie op haar skoot speel met haar krale, sit dit in haar mond en suig lustig. Janine gebruik dit om die spanning te verlig en wys vir ousus wat aangaan.

Jenny wip soos ’n Jannie-in-die-kas orent: “Ouma! Riekie eet jou necklace!”

Ouma trek haar asem in asof sy skrik: “Nee, Riekie, dis gagga!”

Riekie trek skuldig die slymerige spulletjie uit haar mond. Ouma Leen knoop die klont sagkens los, ’n verdraagsame glimlaggie op haar gesig.

Janine kan die kromgetrekte artritisvingers nou eers behoorlik beskou. Dat ouma Leen nog met sulke hande kan raakvat, is verstommend. Voel sy dan nie pyn nie? Of is dit makliker om fisieke pyn te verduur as hartseer?

In die huis, toe sy vir Riekie aan haar oorgee, lyk sy so moeg Janine moet op haar tande byt om nie oor haar ook te huil nie. “Ouma …”

“Ja, my kind?”

“Ekskuus dat ek gehuil het in die kerk.”

“Toe maar, ek verstaan dat jy hartseer is. Wat kan ons doen? Jy moet sê.”

“Ouma, ek kan net dankie sê. Ons het julle lewe kom ontwrig.”

Ouma Leen skud haar kop so hewig, die madeliefies op haar hoed bibber. “Nee, Janine, jy sê dit nie weer nie. Versorg jou baba. Ek gaan my hoed afhaal, dan moet ek kyk wat in die oond aangaan. Die kalkoen is vanoggend voor kerk al in. Groente is geskil, ons moet net opsit.”

Werk, werk, werk want die nag kom nader, werk die pyn weg, bly aan die gang, moet net nooit tot stilstand kom nie!

Janine wonder baiekeer wat van ouma Leen gaan word as sy nie meer kan werk nie.


Die middag aan tafel, toe die dogtertjies klaar geëet het en op die sitkamermat met hul nuwe speelgoed gaan speel, besluit Janine om haar aankondiging te maak.

Jessie is besig om poedingbakkies op mekaar te stapel. “Iemand vir ’n tweede porsie?”

Oupa Koen skud sy kop. “Lekker gewees, maar ek soek nou ’n soutproppie.”

Jessie los eers die bakkies, gaan haal die kalkoen wat onder ’n net op die buffet staan en afkoel, en sit dit voor Oupa neer. Hy begin ywerig kerf. “Abie, wat van jou?”

“Kalkoen kry ons net een keer ’n jaar.”

Janine is oorversadig, sy worstel deur haar poeding. Hoekom die naarheid dié keer nie wil afneem nie, kan sy nie verklaar nie. Miskien het die ontsteltenis by die kerk daartoe bygedra, sy was nog nooit lus vir kos as sy gehuil het nie.

“Janine! Janine, haai! Is jy by?” Dis Jessie se hand wat oor haar poedingbakkie huiwer.

“Skies, ek’s ingedagte.”

“Is jy klaar met jou poeding?”

“Gee vir haar ’n soutproppie. Sy’s te skaam om te vra.” Oupa wag nie op ’n antwoord nie, hy hou die kerfmes met ’n skerfie kalkoen na haar toe uit. “’n Velletjie vir ekstra smaak.”

Sy lig haar hand en keer. “Oupa, ek kan nie.”

Langs hom sit Bennie, ’n frons op sy gesig.

Oupa Koen sit die mes neer. “Wat is dit met jou, Janine? Voel jy nie lekker nie?”

Jessie bly staan, haar hande geskulp om die poedingbakkies. Aunty Anny tel ’n servet op, gee dit vir uncle Abie aan. Onder die tafel vat ouma Leen Janine se hand. Dit voel soos ’n voëlkloutjie wat om haar vingers vasklamp. Sy gaan haar ouma en oupa se dood veroorsaak, sy gaan die Kowalski’s verjaag, vir Jessie die hoenders in jaag. Almal sal teen haar draai, maar dit moet uit.

“Ek is twaalf weke swanger met my en Greg se derde kind. Dis hoekom ek nie kan eet nie, ek is te moeg om my hande op te lig. Ek weet nie watter kant toe nie, ek kan nie help nie.”

Die voëlkloutjie om haar hand trek styf.

Jessie sak in haar stoel af, sy sit die bakkies te hard op die tafel neer.

Die servet val uit uncle Abie se hande, oupa Koen laat sak die kerfmes stadig.

Bennie byt sy lip vas, sy oë blits. Hy fluister, maar almal hoor hom.

“Ek maak hom vrek.”

Onthou my

Подняться наверх