Читать книгу Onthou my - Helena Hugo - Страница 8
4
ОглавлениеOm Jenny se warm lyfie op haar skoot vas te hou en die kinderlike opwinding met haar te deel, is vir Janine oorgenoeg. Vrede is al wat sy vir die res van die aand begeer. Die feëliggies wat oupa Koen met Bennie se hulp opgehang het, is aangeskakel en het die skemer tuin in ’n towerland omskep. Selfs Riekie kraai van plesier en klap handjies met aunty Anny se hulp.
Ou Kersvader, wat seker besef hy raas te veel, laat sak sy stem, praat gerusstellend, prys die kinders wat heeljaar deur soet was en die grootmense wat nog aan stories glo. Sy rooi jas is nie gemaak vir die Weskus se somerweer nie, hy sweet vreeslik.
“Nou ja,” sê hy, “ek het nog baie huise om te besoek. Laat ons dus voortgaan met ons verrigtinge by hierdie adres. Ernest, bring die presente.”
’n Vrolike kabouter in ’n grasgroen pakkie sleep ’n sak nader, grawe een uit, skuif sy bril reg en lees. “Jenny Walker!”
Jenny is skielik so skaam, sy kan nie beweeg nie.
“Toe, gaan,” por Janine.
“Is sy die mooi dogtertjie met die goue krulle? Is jy Jenny?” Die kabouter gee ’n paar treë en wink haar nader.
Jenny gly stadig van Janine se skoot af, gryp die pakkie, spring terug en fluister hoorbaar: “Kan ek oopmaak?”
Maar haar naam word weer gelees, en nog ’n keer, tot die groen kabouter haar vra om gou eers te help met die uitdeel.
“Heidense gebruike,” fluister ouma Leen, “maar kinders hou van feëverhale.”
Almal kry arms vol geskenke. Jessie bedank Kersvader en sy kabouter, in die regte lewe Bakkies Bakker en sy vroutjie, Tienke, elkeen met ’n bottel tuisgemaakte aarbeikonfyt. “Daar is nog braaivleis as julle wil bly vir ete.”
“Baie dankie,” sê Bakkies, “ons verkas liewer voor die klok twaalfuur slaan.” Hy gooi die leë sak oor sy skouer. “Tot volgende jaar!”
Tienke voer ’n paar bokspronge uit en huppel agter hom aan.
Toe hulle weg is, hoor Janine by Jessie dat hulle vroegaand by pastoor Willemse-hulle se gemeentelike Kersboom opgetree en gou die guns vir die Kowalski’s kom doen het. Bakkies, Bennie en oom Hermaans Bezuidenhout borg elke jaar geskenke en eetgoed vir behoeftige kinders. Janine onthou die dorp se Kersbome uit haar kinderdae. Sy het nie geweet dat die Kowalski’s ook bydra nie. Lief vir kinders en onselfsugtig, dis wat hulle is. Riekie het op aunty Anny se skoot aan die slaap geraak. Jenny is, danksy Jessie se hulp, gebad en in die bed, omtrent toegepak onder haar presente.
Janine maak verskoning by Bennie: “Ek moet Riekie in die bed gaan sit.”
“Jou geskenke,” keer hy. “Kan ek dit vir jou saambring?”
Sy kyk na die hopie langs haar stoel. Bennie het vir haar ’n bottel Yardley gegee, verleë omdat hy nie weet watter geur sy verkies nie. “Maak nie saak nie,” was Jessie se kommentaar, “hy het jou nou vir hom gemerk.”
Sý het vir Janine die jongste Danielle Steel gekoop, ’n roman met ’n suggestiewe titel – Second Chance – wat Janine blitsvinnig in die sakkie teruggeprop het.
“Kerk, môre agtuur,” waarsku ouma Leen. Sy is besig om flenters toedraaipapier op te tel en in ’n mandjie te stop.
Janine wil help, maar Bennie tree tussenbeide.
“Dankie, Bennie, kyk asseblief wat jy kan red. Vermorsing is vir my een te veel. Kinders kan jy nie kwalik neem nie, maar volgende jaar is nog ’n jaar en dié soort papier raak al hoe duurder.”
Ouma en oupa Koen s’n is platgestryk en opgevou, aunty Anny s’n daarnaas. Janine sit haar arms om ouma Leen.
“Myne het ongelukkig in die slag gebly. Jenny het gehelp om oop te maak.”
“Als reg, liefieding, dis belangriker dat sy dit geniet.”
“Dankie, Ouma, vir alles. Maar Ouma moet nou tot rus kom.”
“Ja, my bene wil padgee. Ai, my kind, ek hoop jy kan vannag van jou verlore slaap inhaal.”
“Die tande wat moet uit, is uit. Ek’s vol moed.”
“Onthou net om jou wekker te stel dat julle betyds is vir kerk, die mense weet jy’s terug.”
“Ek belowe, maar Ouma moet kom kyk of ons op is.”
Uit haar eie sou Janine nie môre haar voete in die kerk gesit het nie. Sy doen dit vir ouma Leen en oupa Koen, al verwag sy dat hulle aangestaar gaan word.
Bennie wals verby met die opgehoopte mandjie. Sy waag ’n vlugtige nagsoentjie – nie op sy mond nie, langs sy mond op sy wang. “Dankie, Bennie. Jy kan die res van die presente op die eetkamertafel neersit.”
Versigtig tel sy die slapende Riekie van aunty Anny se skoot af op. Riekie se krulkoppie is natgesweet, haar lyfie klam van heelaand in aunty Anny se arms. Janine druk haar teen haar vas. Riekie ruik na die roospoeier wat aunty Anny so mildelik gebruik.
Die ouer vrou raak vir oulaas aan die kind se wangetjie. “So ’n oulike ou dingetjie en stroopsoet.” Haar oë blink. “Wens sy was my kleinkind.”
Janine waag geen antwoord nie.
Oupa en uncle Abie stry oor hout wat oor is en wat Oupa vir uncle Abie wil teruggee.
“Nee, Koen, ons kom een van die dae weer braai en dan het jy genoeg.”
“Wat van jou?”
“Ek vat by die winkel.”
“Nag, Oupa. Nag, uncle Abie.”
“Sê vir hom hy moet sy hout saamvat.”
“Haai, Oupa, dis ’n geskenk. En hier is mos plek.”
Oupa Koen sug met groot gebaar. “Nou ja, as jy so sê.”
Uncle Abie glimlag in sy skik. “Dankie, Janine.” Hy raak aan haar arm. “Nag, my kind.”
My kind, dink sy in die wegstap, asof ons familie is.
Hoekom het sy sy kant gekies teen oupa Koen? Sy weet eenvoudig nie.
In die gang kry sy vir Jessie wat die slaapkamerdeur oopstoot. “Ek het haar bedjie vir jou reggemaak,” fluister sy. “Jenny is in droomland. Jy kan vannag lekker slaap. Bennie is mal oor jou.”
“Dit help hom niks,” verweer Janine, “ek is getroud.”
“Die wet is aan jou kant. Jy kan oor begin. Nag, Janine.”
Rus is haar nie beskore nie. Sy tel skape, tel dae, terwyl die muurhorlosie die ure afmeet. Dit is haar vyfde dag terug in Suid-Afrika. Sy is nie in die dorp om vakansie te hou nie, hierdie huis is haar enigste heenkome. Ouma-hulle het die spaarkamer vir haar en haar dogters ingerig. Dis die grootste kamer in ’n huis wat so beknop is, Oupa praat van aanbou. Wat sal hy sê as sy nog ’n bedjie wil inpas?
Sy moet werk kry, genoeg verdien om op haar eie bene te staan. Of is Greg bereid om hulle terug te vat? Die stilte tussen hulle draal al weke. Sy het nie geld om hom te bel nie en hy doen niks van sy kant nie. So, wat lê vir haar voor? Egskeiding? Die Kowalski’s se winkel? Verguising as sy nie meer haar swangerskap kan wegsteek nie? En Bennie?
Hy spook by haar met sy donker oë vol verskuilde begeertes, daardie snawel van ’n neus en hoë wangbene, sy klein mondjie – ’n asketiese gesig wat haar herinner aan die portrette van heiliges. Hy is aantreklik genoeg om ’n woestynprins te wees, maar hy is net Bennie Kowalski, haar gewaande eerste liefde, die skoolkys wat sy die aand van die matriekafskeid afgesê het. Ná dit wat sy hom aangedoen het, verdien sy nie ’n vriendelike woord nie, maar hy tree op asof hy van nuuts af verlief is. Die bewyse is daar. Kersvader het tot haar verleentheid te veel geskenke uitgedeel “van Bennie met liefde aan Janine”, en “met liefde van oom Bennie aan Jenny en Riekie”. Een of ander tyd sal sy hom aan die verstand moet bring dat dit nie so eenvoudig is nie.
Kersdag en kerk lê soos ’n berg voor haar, maar die hane kraai en die lig breek teen die ruite.
As Jessie vas glo dat sy terug is om te skei en met Bennie te trou, kan sy net raai wat die res van die dorp van haar dink, by die kerk – die gemeente. Sal Bennie diskreet genoeg wees om haar nie voor almal te soen nie, want hulle sal mekaar ’n geseënde Kersfees moet toewens en selfs ’n drukkie is genoeg om die skinderbekke aan die gang te sit. Riekie en Jenny sal boonop op aunty Anny en uncle Abie afstorm met ’n geouma en ’n geoupa asof hulle bloedfamilie is. O, die skuldgevoelens! Gebede maal deur haar kop en hart, deur haar hele wese: Here, dis nie dat ek nie wil kerk toe gaan nie, ek het nodig om U in u huis te aanbid, u Woord te hoor, raad te soek. Maar, Here, ek is gewond, die merke wat die lewe op my gelaat het, is duidelik vir almal om te aanskou. Môre, nee, vandag is ek die sondebok en die mense wat vir my omgee, gaan seerkry. Vergewe my.
Janine voel mismoedig, haar gedagtes maal en bots. Miskien is die Kowalski’s die enigste mense op die dorp wat haar nie veroordeel nie. Aunty Anny het Janine Scheepers vir ’n skoondogter gekies en Bennie het vir haar gewag. Hulle moet net ’n paar amptelike sakies afhandel en siedaar – eindelik getroud! Dit kan en sal nie gebeur nie. Sy en Bennie was skoolmaats, hulle was gekys, hulle het gevry en daar eindig dit. Sy gaan haar trouring weer aansit, vriendelik wees, maar ferm. Sy is ’n getroude vrou met twee kinders. Hulle kom eerste.
Riekie roer, sy maak geluidjies. Jenny is ook wakker. Sy vra of dit al dag is.
Hulle weet nie van haar nagtelike worsteling nie, maar hul blote teenwoordigheid verseël weereens die belofte wat sy gemaak het, toe hulle deur haar pastoor ingeseën is en voor die gemeente aan hul hemelse Vader beloof is.
“Ja, en dis Kersdag. Ons gaan kerk toe om Jesus se verjaardag te vier.”
“Mamma, ons wil speel.”
“Die diens sal nie lank wees nie. Sodra ons terug is, speel julle vir die res van die dag.”
Jenny dring daarop aan om haar nuwe Pink Panther saam te neem, Riekie kies haar geliefde stokou teddiebeer. Die mense sal dink sy het niks nuuts vir Kersfees gekry nie, maar om nou met haar te stry sal ’n tranedal afgee. Janine sorg dat Jessie en Ouma ook kennis neem.
Die dogtertjies het eenderse rokkies aan – ouma Leen se handewerk wat sy as Kersgeskenke toegedraai het. Die tweetjies lyk te pragtig, goudrooi krulle vasgestrik, wit sokkies, blinkleerskoentjies. Janine het haar gunstelingrok gekies, groen met kantinlegsels, sykouse, hoëhakskoene.
Ouma Leen dra ’n formele pakkie, donkerblou met ’n wit bloes. Die hoed op haar kop is oordadig versier met nagemaakte madeliefies. Sy het dit vasgepen met twee tien sentimeter lange hoedespelde. “Hulle kan my in versterkwater op die kaggelrak sit,” sê sy, “my kerkhoed gee ek nie op nie.”
Oupa is in swart gepak en gedas. Jessie dra ’n beige broekpak en ’n helderrooi bloes met ’n strik onder haar ken. Sy sukkel met die ritssluiter wat nie wil op nie en die baadjieknope wat nie wil toe nie. “Tyd dat ek op dieet gaan,” mor sy.
Janine wil haar troos, sê sy is een van die dae nog ronder, maar sy kry kans om haar te bedink. Jessie gaan trek haar Toyota uit en parkeer dit in die pad voor die tuinhekkie. Oupa klim voor langs haar in, Janine, Ouma en die kleintjies agter. Die kerk is om die draai, maar dis beter om te ry, veral vir die terugkomslag wanneer die son hoër sit en hulle haastig is om by die kosmakery uit te kom. Die karenjin dreun. Verder heers daar stilte, troebel ná die geskarrel om betyds te wees.
Jessie parkeer die kar onder ’n boom wat sy “ons boom” noem. Een ander voertuig staan op die rand van die skaduwee. “Die Schoonraads,” sê Jessie, “hulle mag maar.”
“Lyk na ’n goeie opkoms,” sê Oupa. “Hoop Ollie het onthou om die bolugte oop te maak.”
“Dis nog vroeg, my man,” paai Ouma.
“Of dit vroeg is of laat, die kerk raak benoud as dit vol is.”
Oupa was lank koster en hy kan nie vrede maak met meneer Olwage wat oorgeneem het, “alles laat verwaarloos en nie behoorlik toesig hou oor die skoonmaker en die tuinier nie.” In die ou dae het hy self die gras gesny.
Jessie sluit die kar en gooi die sleutels in haar handsak. Jenny en Riekie staan soos twee poppies, te oulik, en staar na die kerktoring.
Janine trek hul kleertjies reg. “Soet wees!”
Haar woorde is skaars koud, toe val Riekie se teddie. Sy sak af om hom op te tel, Jenny skop na ’n graspol, skep sand en tref haar sussie in die gesig. Dié sit ’n keel op asof sy vermoor word. Janine tel haar op en troos. Nie dat dit veel help nie.
Ouma Leen haal ’n sakdoek uit en vee traantjies af. “Seker sand in die ogies en dit brand. Kom nou, Ouma se kind, dis nie doodsake nie.” Ouma troos tevergeefs.
Intussen stry Jenny met Jessie. “Is nie ek nie!”
“Hoekom skop jy dan?”
“Hy’t my gebyt.”
“Hier’s rooimiere,” sê Oupa, “staan syntoe.”
“Hulle byt!” Jenny stamp haar voetjies en Jessie paai.
“Kalmeer,” sê Ouma. “Die hele wêreld kyk vir ons.”
“Weer Ollie wat nie gif gespuit het nie.” Oupa grawe ’n stukkie peperment uit sy binnesak. Dit lyk of hy dit vir Jenny wil gee, maar hy sit dit in sy eie mond.
Riekie druk haar gesiggie teen Janine se nek. Langs haar krulkop verby sien sy die Kowalski’s. Bennie het ’n donkerblou broek en ’n wit hemp aan, ’n geel das met kolle. Sy baadjie, wat hy aan sy vinger gehaak het, hang oor sy skouer.
Uncle Abie lyk asof hy in sy pak geslaap het.
Aunty Anny is gedrapeer asof sy ’n tuinparty by die koningin se paleis gaan bywoon. “Wie huil so, tog nie my dogtertjie nie?”
Riekie bedaar onmiddellik. Sy lig haar kop en soek snikkend na waar die liewe stem vandaan kom.
Aunty Anny steek haar hande uit. “Kom na jou aunty toe, dan vertel jy my. Wat het hulle vir jou gemaak?”
“’n Ongelukkie.”
“Geval?” Aunty Anny neem Riekie by Janine oor asof sy haar van mishandeling wil red.
“Sand in die ogies.”
“Hoe op aarde?”
“Per ongeluk. Geseënde Kersfees, aunty Anny.”
“Vir jou ook, Janine.”
“Geseënde Kersfees, en hoe gaan dit vandag?” groet uncle Abie.
Bennie staan nader. “Geseënde Kersfees, ouma Leen, oupa Koen.”
Oupa en Ouma steek hand uit, Jessie en Jenny word ook plegtig gegroet.
En toe doen Bennie dit. Hy sit sy arms om Janine en druk haar teen hom vas, nie asof hy haar gelukwens nie, asof hy haar troos. Jy moenie, wil sy sê, maar al wat uitkom, is: “Dankie, Bennie.”
Terwyl sy haar van hom losmaak, sien sy mense wat gaan staan, in hul rigting beduie en dan by ’n groep aansluit. Wie is hulle? Sy wil nie weet nie. Bennie is besig om sy baadjie aan te trek. Die kraag is ingevou, haar hande jeuk om dit reg te trek. Riekie het blykbaar vergeet dat haar oë netnou gebrand het, sy smelt in haar aunty Anny se arms. Jenny hou Pink Panther in die lug op, uncle Abie groet hom ook met die hand. Toe moet almal sy voorbeeld volg. Tot Janine se verligting sien Jessie ook Bennie se kraag.
“Jou kraag,” beduie sy.
Hy bloos en pluk sy baadjie reg. Die kerkklok lui en Oupa raak haastig. Op pad kry hulle vir Bakkies en Tienke.
“Geseënde Kersfees,” wens hulle mekaar toe.
“Kom kuier,” nooi Tienke. “Ons woon nog waar die Bakkers al die jare gewoon het.”
“Tienke is ook nou een van ons Bakkers.” Bakkies vee sweetdruppels van sy slape af.
“Ons gesels, dan vertel jy my alles.” Tienke bedoel dit seker goed, maar sy is wat Janine betref, glad nie diskreet nie.
Jenny skop weer sand op. “Jy gaan die kerk se matte vuiltrap,” paai Oupa.
Hy vat haar hand, maar Jenny ruk los en huppel vooruit, Pink Panther se stert al slepend agterna. By die kerktrap keer ’n lang skraal vrou in ’n rooi rok haar voor, praat vriendelik, gee aandag aan Pink Panther en wen eensklaps die kind se vertroue. Langs haar wag haar man geduldig, hy is grys van kop tot tone.
“Geert en Yvonne Maasdorp,” sê Bennie.
Sy was Janine se graaddrieonderwyseres wat nou vir haar man, die begrafnisondernemer, werk. Janine wens sy kan omdraai, na die kar toe terugstap en daar bly sit totdat die diens verby is. Sal al haar ou onderwysers haar vandag inwag en met vrae bestook?
Yvonne glimlag. “Jy het die pragtigste dogtertjie. Hoe gaan dit met jou?”
“Goed, dankie,” sê Janine. Sy wag vir die volgende persoonlike opmerking. En siedaar!
“Ek is so jammer vir jou en jou ou dogtertjie. Goed julle het ontsnap. Tannie Leen, julle is seker bly sy is terug?”
“Baie bly en dankbaar,” sê Ouma. “Geseënde Kersfees vir jou en Geert.”
Geert groet formeel en genadiglik kan hulle aanstap.
Mevrou Olwage deel afkondigings uit, haar hare is nog glansend swart, sekerlik nie van nature nie. Sy kyk Janine met jammeroë aan. “Ag, jou arme ding, hoe is dit dan dat die ongeluk jou agtervolg? Eers jou ouers, nou jou man. As Ollie dit darem sou waag …”
Janine voel Jenny se handjie in hare. Sou sy iets verstaan van wat gesê word?
“Geseënde Kersfees, mevrou Olwage.”
“En is dit die dogtertjie?”
“Een van hulle.” Janine beduie na aunty Anny en Riekie.
“O, daar’s twéétjies!”
“Jenny en Riekie, by aunty Anny.”
“Pragtig. Amper ’n tweeling. So jammer om te hoor … van die pa. Is dit waar?”
Janine het nie meer woorde nie. Bennie vat die kerkblaadjie namens haar en du haar vooruit. Hy kies ’n middelbank en wag tot almal sit voordat hy plaasneem. Op dié manier gebeur dit dat Janine op die een punt van die bank sit, hy op die ander punt, die res tussen hulle. Toe Janine haar hoof buig om te bid besef sy dat Bennie stap vir stap die leiding neem.