Читать книгу Helene de Kock Omnibus 9 - Helene de Kock - Страница 7

4

Оглавление

Die paar weke voordat die stropery in alle erns begin, is ’n swaar en swanger tyd. Die boeregemoedere loop hoog, en op Damplaas is dit nie anders as elders nie. Die geringste teken van vog in die lug maak oom Frederik en Eugene paniekerig. Ook Peet, en langsamerhand ook Marcel, raak in geringer mate aangetas deur die wisselinge in die weer. Want die koringlande van Damplaas lê bedags witgeel en glimmend onder die warm son, en as jy op die wenakker loop en bakhand oor die donsige branding daarvan tuur, kry jy die ryp geur van ou hout – genoeg om ’n landman te laat visioene sien.

Aand vir aand vertel oom Frederik se astigmatiese oë hom dat daar ’n kring om die maan is – ’n seker teken van reën in sy geweste. En aand vir aand kom Peet saam kyk deur sy dik bril en verseker hy oom Frederik dat hy niks te vrese het nie. Soms berus oom Frederik hom sugtend by Peet se sobere profesieë van dorre hemele in die strooptyd, en ander tye begeef sy moed hom sodat ’n handgrootte wolkie hom op ’n oggend met verslaenheid slaan.

“Ek het jou gesê,” kom pluk hy Peet een rooidag uit die bed en roep na Eugene in die gang af. “Kom kyk nou maar self! Hierdie jaar, seg ek jou, kry ons paddamanne om die wier op die bodem te kom bymekaarskraap!”

’n Vaak Peet loop in sy kamerjas saam stoep toe, stik van die lag toe hy die paar wolkies sien. Eugene staan ewe fronsend en vol angstige bespiegeling, nes sy pa langs hom.

“Nee wat, oom,” glimlag Peet, soek-soek in sy bysiendheid in die grou oggendlig na ’n groter bron vir die ou man se vrese. “As die wolkies nou uitsprei en pensvet maak, dán kan oom so sê …”

“Almiskie!” sug oom Frederik bekommerd, en Eugene brom iets in sy keel. Peet onderdruk ’n lag; hierdie gepieker oor die weer is vir hom jaar na jaar so vermaaklik dat hy dit nie graag misloop nie en met kwasiwysheid daaraan deelneem. Daar was al jare dat dit nie so snaaks was nie, toe die lande vol water gestaan het sodat die stropers beswaarlik kon inkom. Maar op die een of ander wyse het die geseënde oom Frederik altyd oes gemaak. Gróót ook. En hierdie jaar lyk dit werklik asof dit ’n dubbele seën gaan wees.

“Vandag,” sê oom Frederik skielik, en sy pyp maak ’n dun blou spiraaltjie dak toe, “begin ons stroop!”

“Gaaf,” sê Eugene dadelik. “Hoe gouer hoe beter!”

Dis soos ’n wedloop, dink Peet. Almal trippel koorsagtig rond totdat die skoot knal, en dan is dit holderstebolder en weg met die res. Hy word bewus van die twee mans wat hom begin aankyk, en hy weet hulle wag dat hy sy sê moet sê oor die gereedskap, want dis sy afdeling.

“Die ysters is reg vir die ding,” sê hy lakoniek, en draai om en loop die huis in om hom te gaan aantrek.

Ook vir Maryn en Elsje breek ’n heel nuwe tydperk van hul vakansie aan. Van nou af sal hulle hot en haar moet koffie- en teegoed aandra totdat hulle later die skinkery in hul drome voortsit. Want Damplaas se ongeskrewe wet is dat geen keel in die oestyd mag droog wees nie. Daarvoor moet die vrouvolk sorg. Hulle verwelkom ook hierdie gewoel, want ná die weke langs die swembad in die son, is hulle fiks en uitgerus. Mooi gerond en gebruin, is hulle ’n lus vir die oog. Dit veral was die laaste paar aande baie opmerklik, wanneer die drie mans ná die dag se werk in die swembad kom afspoel het, met Pote ’n blaffende bondel op die rand daarvan. Die soel skemeraande het gewoonlik begin met ’n borrelende pretmakery in die water totdat almal uitgeput op die nog gloeiende leiklipblad langs die swembad gaan lê. En dan het die woorde en die gelag oor die dag se gawe oomblikke en klein katastrofes begin opdroog totdat iemand ’n laaste paar trae woorde kwytraak en dit stil word. Dan het die emosie wat by elkeen van hulle byna tasbaar teenwoordig was, begin om klein voelers uit te steek totdat die atmosfeer naderhand gelaai was met die fyn roeringe van bedekte en miskien skaars erkende passie. Daar was niks wat ’n mens met die fynste oog kon sien of met ’n enkele vraende woord kon ontbloot nie.

Dié een aand was daar ook niks wat as anders vertolk kon word nie. Elsje het soos al die ander aande langs Eugene gelê; hy met ’n arm liggies oor haar skouers. Maryn het langs die duttende Peet gesit, en Marcel en sy hond het ’n entjie van hulle af uitgestrek gelê. Nou en dan het Pote sy kop gelig om seker te maak dat Marcel nog lê waar hy lê. Ook het hy Maryn met opregte hondverering dopgehou. Hulle almal het die voorafgaande week met onuitgesproke verbasing gesien hoe die toegeneentheid tussen Maryn en die groot hond groei. Dit het soms selfs gelyk asof Pote moeite het om sy aandag regverdig tussen die ou en nuwe lojaliteit te verdeel. Ook dié dag, toe die laatmiddag ’n laventel skemer word, het Marcel opgestaan, sy groot handdoek om sy onderlyf gedraai en saggies deur sy tande vir die hond gefluit. Pote het laf en lomp opgespring, ’n slag na Marcel gekyk en toe na Maryn gedraf, om haar bly trippel en ’n uitgerekte blaf-tjank gegee.

“Dis nou seker dat jy moet saamkom,” het Marcel met ’n glimlag gesê, en daarmee lewe in die toneel geblaas: Maryn het half verleë tussen sit en opstaan gehuiwer; Elsje het haar bolyf op haar elmboë gelig en met wye oë toegekyk, terwyl Eugene met verbasing gesien het hoe sy suster se gesig vertrek in gepynigde besluiteloosheid. Toe het Peet, wat ook Marcel se woorde gehoor en soos altyd Maryn se spanning aangevoel het, een bruin arm uitgesteek en haar liggies aan die boarm teruggehou. Sy het teruggesak; Pote het na Marcel gedraf, wat bedaard vir almal goeienag gesê het, en hulle het hom in ’n vriendelike koor geantwoord. Eintlik was daar niks fout nie – nie op die oppervlak nie. Tog was dit ná daardie aand duidelik dat dit nie net Peet is wat bewus geraak het van die ragfyne uitleg van ’n nuwe bedeling nie. Selfs die prosaïese Eugene het soms in vraende onbegrip na sy suster gekyk wanneer Marcel by is, net om Peet dan weer bekommerd dop te hou. Tog het hulle nie daaroor gepraat nie. Daar was eintlik niks om te sê nie …

Voordat hy die eerste stroopdag instap, beskou Peet homself ’n kort oomblik in die spieël. Hy lyk waarlik nog nes altyd. ’n Mens sou nooit sê, dink hy met ’n wrang laggie, dat ek maar baie onlangs ontdek het dat ek al geruime tyd verlief is op my beste vriend, my aangenome bróér, se meisie nie … ’n Mens sou nooit uit my vroomgladde gesig kon lees dat ek byna daagliks die nuwe motor tot mot en roes verwens nie, want dit het vir my die simbool geword van ’n yslike verpligting. Iemand anders sou dit lankal afgewerp het soos klere wat nie by die klimaat pas nie – maar nie ék nie. Ek sal nooit die wonderlike geborgenheid wat Damplaas en sy mense my bied, kan aantas nie.

Met skielike insig en ’n diep verbasing dat hy dit nooit voorheen so besef het nie, weet hy dat Maryn die sleutel is tot hierdie geborgenheid. Sy verhouding met haar het nog net vreugde en voordeel gebring. Dis asof hy meteens ’n helder blik kry op die jare wat verby is, en duidelik sien wat oom Frederik tóé al gesien het – dat ook Maryn se toekoms in die klein Peet opgesluit lê …

Dan stap hy uit in die goue, blink môre en sien met opregte genot hoe die stropers een vir een van die skuur af verby die huis karring op pad lande toe. In die kajuit van die heel voorste stroper merk hy vir Eugene op, wat hom oor die werf sien loop en uitbundig vir hom waai. Vir die eerste maal hierdie jaar voel Peet die bruising van die oesseisoen in sy bloed. Dis ’n weergalose tyd. Dit wek iets in oud en jonk – ’n nuwe vreugde wat ontspring uit die ou dankbaarheid dat God só goed is.

Vandag wil hy nog ’n laaste ogie oor die droogoonde gooi. Die afgelope paar dae het hy met die hulp van ’n paar swart werkers al die moontlike en onmoontlike toekomstige gebreke van die oond nagegaan, want verlede jaar, toe daar ’n paar goeie buie reën geval het, het hulle baie gesukkel om die koring droog te kry. Daar was gedurig maar iets fout.

Maar teen die tyd dat hy die twee stilstaande trekkers aangeskakel het, waaraan die droogoonde gekoppel is, is sy gedagtes geheel en al opgeneem deur sy werk. By hierdie droogoond sal hy in die komende paar weke oor en oor sy brood verdien – want op Damplaas is dit Peet en sy helper Sagrys, ou Paulus se oudste, wat die oondtemperature dophou en die gastoevoer na die vlam reël, want die koring mag net nooit brand nie. Met geoefende oog en vaardige hand gaan Peet weer alles noukeurig na, en teen twaalfuur is hy trappend van ongeduld dat die eerste sleepwaens op die perd en leunwa moet opdaag van die lande af – boordensvol blinkvet koringkorrels …

Ná lang besprekings tussen oom Frederik en Marcel, het hulle twee uiteindelik besluit om die Simmentalers by ’n stoetteler in die distrik Petrus Steyn te koop. En drie dae ná die aanvang van Damplaas se stropery vertrek Marcel, met almal se uitbundige goeie wense, om hierdie geweldige aankoop te gaan doen. Binne ’n paar dae keer hy terug met die goeie nuus dat hy dertig pragtige Simmentalerverse gekoop het, waarvan sommige dragtig is, asook ’n kampioenbul teen ’n rekordbedrag wat selfs Eugene se oë in ’n soort genotvolle skok laat rek. Die beeste, kondig Marcel aan, sal die volgende week met vragmotors op Damplaas aankom. Hy en Pote het teen aandete by die opstal opgedaag met die nuus. Hierdie een keer weier Marcel nie Maryn se uitnodiging om te bly vir ete nie, en hy kom sit geredelik langs haar op Peet se plek, want dié is sedert vroegaand al weer by die droogoond om die eerste nagsessie tot middernag waar te neem.

Maryn kyk tersluiks na hom terwyl hy eet en praat en beduie van die beeste. Oom Frederik is sigbaar opgewonde en kom byna nie sover om regtig te eet nie. Elke keer as hy wil wegval, het hy ’n nuwe vraag aan Marcel, wat op sy stil, ernstige manier antwoord so goed hy kan. Maryn sien dat selfs op sy sober gesig daar ’n speling van ingenomenheid is. Maar die uitdrukking vervliet so gou dat sy nie seker is of dit ooit daar was nie. Watter vreemde mens! dink sy terwyl haar oë nikssiende na haar bedrywige mes en vurk op haar bord staar. Net sodra ek dink hy gaan nou finaal te voorskyn kom sodat ek kan sien hóé hy voel en wát hy voel, dan raak hy weg agter daardie swygende gesig van hom. Dis meer as net ’n masker, want sy oë sê: Ek is nie van hier nie! Dis tog asof hierdie Marcel nooit werklik binnekom nie, dink Maryn; hy bly op die rand van ons bestaan hier op Damplaas. Jy weet hy’s hier, maar jy kan hom nie werklik sien nie. ’n Blote woord kan hom sommer heeltemal laat verdwyn. Maar aan die ander kant – daar ís dinge wat hom effens in die lig laat tree, soos sy liefde vir diere.

“Sal jy koffie drink?” vra Maryn hoopvol.

“Graag,” sê hy, en vir die eerste maal daardie aand kyk hy haar vas in die oë, en sonder dat daar ’n spier op sy gesig roer, glimlag sy oë met haar en raak diep en groen soos damwater.

Dis so skielik dat Maryn verlam sit en om die dood nie kan wegkyk nie, maar dis Marcel wat hom sonder enige oënskynlike moeite weer wegwend en ’n taamlik dringende gesprek met oom Frederik begin oor die verse wat in die eerskomende weke sal kalf. Die kalwerhok, reken hy, moet net môre klaargemaak word. Hy en ’n paar van die werkers het reeds byna alles klaargemaak en die halfvoltooide kalwerhok is dig by die sinkskuiling vir die verse. Aangesien van die verse reeds ver dragtig is, moet hulle maar alles regkry vir die kalfies. Voorlopig, besluit hy en oom Frederik, sal die kalwers by die koeie gejaag word, want dit sal nog ’n ruk duur voordat die melkstal met moderne melkmasjiene en al voltooi sal wees. Dit is natuurlik ’n heelwat groter taak as die drukgang en die afdak, en Marcel sal tussen sy ander bedrywighede met die beeste deur hieraan werk. Eindelik gee Marcel aandag aan Eugene, wat saam met die twee meisies heeltyd aandagtig en belangstellend gesit en luister het.

“Ek werk nietemin nie naastenby so hard soos julle manne nie,” sê hy met ’n innemende glimlag. Eugene lag breed terug.

“Jy lyk darem asof jy weet wat jy doen, Marcel!”

“Dankie, ek is bly jy dink so. Ek wil in elk geval tog aanbied om te help by die droogoond. Dan sal jy en Peet darem meer blaaskans hê, of hoe?”

Eugene kyk verras na hom, toe vraend na sy pa, en oom Frederik antwoord hom: “As jy heeltemal seker is dat dit jou nie gaan ooreis nie, dan sal Peet en Eugene maar te bly wees!”

“Dit sal my glad nie ooreis nie. Al my rondryery is mos nou agter die rug, wat!”

“Nou maar gaaf dan!”

“Sal ek sommer vannag begin? Dan kan jy van middernag tot ses slaap, Eugene, want jy moet tog weer baie vroeg lande toe.”

Die rooigebrande Eugene se blou oë blink.

“Dít gaan ek nie bedank nie, ou maat!”

Nadat hulle koffie gedrink het, besluit die drie jong mense om eers saam met Marcel Ou Huis toe te stap. Toe hulle op die stoep uitkom, spring Pote van sy lêplek af op en kom beruik Maryn van haar skouers tot by haar tone. Hy was saam met Marcel Petrus Steyn toe om te gaan beeste koop, en is uit sy vel van blydskap om haar weer te sien. Sy lag en probeer vergeefs om hom te laat bedaar.

“Verspotte hond!” sê sy, en hou haar hande na hom uit sodat hy sy groot kop tussen hulle kan druk.

“Jy’t ’n nuwe liefde gekry!” merk Elsje tot Eugene se vermaak op.

“Hm, en onse Peet hou juis nie daarvan om sy goed te deel nie!” lag hy.

Marcel kyk haar net stil aan.

“Hy ruik of jy nog dieselfde is,” sê hy net.

“Ons stap solank,” sê Eugene argeloos. “Dis so ’n lekker aand!” Hy slaan ’n arm om Elsje se middel en loop met haar oor die grasperk in die rigting van die dam en die rylaan wat na die populierlaning lei.

“Kom nou, Pote!” praat Marcel met die hond, en die dier kom proesend en trappend effens weg van Maryn af.

“Sjoe, maar hy is vol vertoon, nè!” sug Maryn eintlik.

“Toe maar, dis alles eg,” is Marcel se kriptiese antwoord, sodat sy vinnig en onseker na hom opkyk. “Kom loop hier langs my, dan sal hy bedaar, want dan voel hy nie so verskeurd nie!”

Sy maak so, en hulle begin aanstap, die maanverligte nag in waar Eugene en Elsje al ver na die laning se kant toe trek. Hulle loop in stilte – die lang ligte man en die klein donker meisie – en die gebrek aan klein geselsies pla hulle nie.

Dis vir Maryn ’n onbeskryflike gewaarwording om so saam met hierdie swygsame, byna geheimsinnige man in die soel nag te wandel. Sy is skerp bewus van hom, tog voel sy ook heeltemal gekoester. Sy wil luid bly wees en tegelykertyd saggies ween. Hierdie botsende emosies wat wild in haar sagte hart druk en du, beroof haar van woorde en stoot warm trane agter haar oë in. Sy is te bang om te praat, want dalk hoor hy die huil in haar stem, en dis nie dat sy regtig hartseer is nie. Daarom konsentreer sy koorsagtig op haar eie voetval op die sagte dounat gras, op die diep gedreun van die droogoond wat ’n mens telkens laat voel dat die klank daarvan wil opwerk na ’n triomfantelike klimaks, maar nooit sover kom nie. Dis juis hierdie aanhoudende gespeel op een lae noot wat ’n mens op die lange duur begin vang. Maar vanaand klink dit vir Maryn anders – soos die dowwe gesang van ’n massakoor wat net so ver weg is dat ’n mens geen woord of wysie kan uitmaak nie, maar tog ’n refrein vorm. Dit ontsluit iets in die warm nag – ’n naamlose weemoed wat swel tot ’n onbekende emosie wat Maryn weer eens laat voel dat sy in die lug hang en glad niks meer verstaan nie.

Maar sy weet een ding sonder dat dit in die minste vir haar aangedui hoef te word: met Marcel hoef sy nie voor te gee nie. Hy sien deur haar; sy weet dit instinktief. Daarom probeer sy nie ligweg bo-oor haar gevoelens gesels nie, maar val weg met die vraag wat haar die afgelope weke so teister: “Marcel?”

“Hm?”

“Ek het nou die dag toe ek vir Pote by die Ou Huis gaan haal het, die sitkamer binnegegaan en die foto van jou vrou en seuntjie gesien …”

Hy antwoord nie, en die swygende bekentenis vertraag sy soepele pas ook nie. Hy loop eenvoudig daaroor heen. Maar Maryn begin hom ook al ken, of liewer, sy begin ’n aanvoeling vir hom ontwikkel, en sy stap feitlik geruisloos saam, vra skielik weer: “Verlang jy nog baie na hulle?”

Dit laat hom botstil gaan staan sodat sy teen hom tot stilstand kom. Met een hand op haar skouer druk hy haar weg, hou haar daar.

“Ja én nee,” sê hy duidelik. “Tevrede?”

“Nee!” antwoord sy met meer moed as waaroor sy self gedink het sy beskik. “Sê my hoe jy regtig voel!”

Hy los haar skouer, tree effens terug sodat sy in die donkerte skaars sy silhoeët kan uitmaak. Sy vóél eerder dat hy daar is, en ook hoe hy homself heeltemal onttrek.

“Waarom wil jy weet?” vra hy koud.

Dit vang haar tog effens onkant.

“Ek … wil maar net weet,” stamel sy, en toe soos ’n vloed wat sy nie kan keer nie: “Ek … is so jammer vir jou!”

Dis asof die stilte tussen hulle vries, en toe hy praat, is sy stem ysig: “Dit is die swakste rede denkbaar om jou hart aan iemand anders bloot te lê, juffrou Basson. Jy het geen rede om jou oor my te kwel nie. Ek is doodseker Peet Baumann sal floreer op jou belangstelling. Wat meer is, hy is geregtig daarop.”

Harde woorde wat soos klippies in damwater die lou aandlug om hulle versteur, en wat Maryn verward laat stilbly en luister asof sy verwag dat daar nog ’n weerklank ook gaan wees.

“Ek is jammer …” fluister sy sag. “Maar jy verstaan nie …”

“Nie?”

“Nee, ek wil jou maar net in alle werklikheid hier by ons op Damplaas betrek. Ek wil hê jy moet een van ons word. Jy … jy kan nie so eenkant leef nie.” Dis asof sy op dreef kom. “Dís nie soos ons dinge doen hier op Damplaas nie – ons laat nie mense aan hulself oor en laat hulle krepeer nie!”

Hy laat haar woorde ’n rukkie in die lug hang.

“Maryn,” sê hy met ’n sug, “verskoon my as ek vir jou hard klink, maar ek is baie ouer as jy, en ek verstaan baie beter as wat jy dink. Ek is nie besig om te krepeer nie en ek is reeds ’n Damplaas-mens in soverre ek ooit een sal word. Maar dankie!”

Dis net in die laaste woord dat hy ’n greintjie gevoel laat sluip, en Maryn klou daaraan vas, al weet hy nie eens of sy Maryn of juffrou Basson is nie.

“Ek begryp jou regtig nie,” sê sy net, en dis ’n smeking dat hy tog meer aan haar moet openbaar. Maar hy neem net haar arm in ’n ligte, heeltemal onpersoonlike greep en begin weer met haar aanstap.

“Dis om ’t ewe,” sê hy net enigmaties, maar sy stem is byna teer.

Hulle loop verder in stilte, maar dié keer is daar tog iets kameraadskapliks wat huiwer op die rand van hul swye. Tog is dít juis wat Maryn ontstem, want sy voel kompleet soos ’n klein dogtertjie wat ’n wankele vriendskap met ’n grootmens gesluit het.

Pote, wat enigsins onthuts was oor hul stilstanery, kom lek nou, weer gerusgestel, aan Marcel se hand en snuif luid teen Maryn se voorarm op. Toe draf hy voor hulle uit in die donkerte van die digte laning. Toe hulle die maanverligte stoep van die Ou Huis nader, sien hulle die donker figure van die ander twee wat reeds op hulle staan en wag, en Marcel los ongemerk Maryn se arm, loop ’n tree of wat voor haar uit. Die twee figure op die stoep skei vinnig en Maryn hoor Eugene se verleë kuggie.

“Dankie vir die saamstap,” sê Marcel drogies toe hy die stoeptrappies opklim, en die ander lag. Maar Eugene is self nie op sy mond geval nie.

“Dit was suiwer plesier,” sê hy, en Elsje en Maryn lag weer. Ons lag om iets te bedek, ’n soort ongemak omdat Peet nie by my is nie, besef Maryn en staan onwillekeurig nader aan haar broer.

Hulle groet Marcel, en Eugene bedank hom weer op sy hartlike manier omdat hy aangebied het om sy skof by die oond waar te neem. Toe stap hy en die twee meisies terug huis toe. Op die stoep staan hulle nog ’n oomblik lank en kyk na die maan wat net bo die dam hang en silwerig op die water blink.

“Hoe mooi,” sê Elsje saggies, en toe: “Ek gaan nou slaap. Nag, julle.”

Eugene hou haar aan haar hand terug toe sy wil verbystap, en soen haar liggies.

“Nag, Els,” sê hy, laat los haar hand en kyk haar enigsins verbaas agterna toe sy sonder ’n verdere woord die huis instap.

“Het julle woorde gehad?” vra Maryn dadelik toe sy buite hoorafstand is en hulle haar op die plankvloer van die regterkantse gang hoor loop.

Eugene skud sy kop.

“Inteendeel, dit was ’n lekker stappie … maar sy is so veranderlik in die laaste tyd, en so gespanne!”

“Jy verbeel jou,” antwoord Maryn vinnig, gretig om tog enige misverstand wat daar tussen haar broer en haar goeie vriendin kan wees, uit te wis. “Ons vroumense is maar almal so …”

“Jy is nie,” sê Eugene reguit, kyk af na die fyn profiel van sy suster hier langs hom in die lig van die groeiende maan.

“Wat net bewys hoe swak jy my ken,” sê sy, en is self verbaas oor die bitter noot in haar stem.

“Goed dan, jy wás nooit so nie,” sê hy traag, en toe met die skielike verbetenheid wat so kenmerkend van hom is: “Wat is dit met jou en Marcel Hoffman?”

Maryn skrik dat sy die klop van haar hart in haar ore voel.

“Wat bedoel jy?”

“Waaroor het jy en hy gepraat toe ek en Els so … e … in die donker voor julle uitgeloop het?”

“Ons het … oor diere gepraat, die beeste en so aan.”

“En seker ook oor Pote?” Fyn sarkasme, wat haar vir die oomblik ontgaan.

“Ja, ja, oor Pote …”

Maryn voel Eugene se oë op haar gesig en weet dat hy weet sy jok. Sy byt op haar onderlip, kyk na die dam vol maanlig sonder om haar oë een keer te knip, totdat hulle traan en sy moet wegkyk.

“Maryn?”

“Ja …”

“Peet is soos my broer. Jy moenie nou lol nie, sussie …”

Haar weggekeerde gesig vertrek in ’n spasma van kwaad en hartseer en geraaktheid. Niks het nog in haar éie gemoed na die oppervlak gekom nie, sy is maar net bewus van die woeste gemaal diep onder – hoe durf hy sommer dinge kom vooruitloop? Maar van iewers uit haarself haal sy die oerslinksheid te voorskyn van die vrou wat ’n geheim het, en sy keer haar met kalme verbasing na hom.

“Ek het nie die flouste idee waarvan jy praat nie. Ek is op pad na Peet toe om hom tot middernag geselskap te gaan hou. Ek wil nou juis vir hom gaan koffie maak en…”

Hy kyk af in haar wye, diep oë, glimlag gerusgestel en soen haar skrams op haar wang.

“Nag, jong,” sê hy en stap in, draai om om nog iets te sê, maar besluit daarteen, en verdwyn die huis in.

Maryn draai om en gaan kombuis toe om die fles vol sterk swart koffie te maak. Sy sit dit saam met twee lekker slap stukke melktert en groot bekers in ’n houer en trek die bo- en onderdeur van die kombuis agter haar toe. Dan neem sy die flitslig, wat altyd aan ’n haak net buite die deur hang, en loop vinnig oor die donker werf na die droogoonde aan die ander kant van die populierlaning. Sy loop sonder enige vrees in die bekende donkerte met slegs die skraal straal van die flitslig voor haar uit. Toe sy verby die laning is, skakel sy dit af, want ’n ent voor haar brand die ligte van die skuur en oonde, en die dreuning van die oonde is allesoorheersend. Sy laat die geluid toe om deur haar kop te vibreer en haar los en lig te laat voel.

In hierdie eienaardige gemoedstoestand waarin sy swewend wil opstyg, maar teruggehou word deur die loodsware ondertoon van haar gesprek met Marcel, loop sy tussen die twee brullende trekkers deur na die skuifdeur wat ingang verleen tot die oonde. Sy sien Peet dadelik waar hy op sy ou plek sit, reg in die middel voor die twee groot silinders, sodat hy sy oog op die temperatuurlesings asook die gastoevoer na die vlamme kan hou. Soos altyd wanneer Peet met iets besig is, is sy volle aandag daarby. Sy lynregop rug waar hy op die stoel sit en sy hande geklem op sy wyd uitgespreide knieë spreek daarvan. Hy sit half skuins met sy rug na haar en sien haar nie inkom nie. Hy hoor haar ook nie bo die lawaai van die trekkers en die loeiende blaasgeluid van die groot waaiers nie. Sy stap tot ’n paar tree van hom af, sit die houer met die drinkgoed neer en steek twee vingers in haar mond. Dan fluit sy skel en deurdringend, en die dun klank dring ’n oomblik deur die dreuning om hulle. Hy kyk vinnig om, lag haar wit toe en beduie met arms in die lug dat hy bly is om haar te sien. Hy staan op, stel aan die gastoevoer wat blykbaar ’n bietjie te vinnig is, en tel toe die drinkgoed weer op, buig af na Maryn toe.

“Buite!” skreeu hy dig by haar oor.

Sy trek ’n gesig en plaas haar hande oor haar ore, volg hom by die deur uit. Hulle stap ’n entjie weg van die onmiddellike geraas en gaan sit onder ’n skralerige populier wat soos ’n nagedagte ’n ent weg van die populiere in die laning staan. ’n Flou geel skynsel van die lig wat in die skuur en droogoonde brand, kruip tot waar hulle sit sodat hulle net-net mekaar se gesigte kan uitmaak. Peet sit stip na Maryn en kyk. Sy voel die drang van sy blik en kyk op van haar hande wat met die fles besig is.

“Ek het melktert ook gebring,” sê sy vinnig en half verbouereerd, en toe in dieselfde asem: “Wat’s dit?”

Peet blaas sy asem in ’n lag uit.

“Nee, dit lyk my jy dink verliefdes het meer versterking as koue water nodig, of hoe?”

Sy benadering is skreiend lomp, en hulle albei weet dit. Maryn raak weer bedrywig met die flesse en skink vir hulle in, gee solank sy stuk melktert aan. Toe kom die woorde by haar op en voordat sy self die betekenis snap, stort sy hulle in een sin uit.

“As die liefde werklik teenwoordig is, is selfs koue water oorbodig!”

Peet eet swygend sy melktert klaar en weet nie eens dat hy groot stukke afsluk wat nie gekou is nie. Toe vryf hy sy hande liggies teen mekaar om die krummeltjies af te kry.

“Maryn,” sê hy, en sy stem is swaar en gewigtig, “sê jy daarmee dat daar geen liefde tussen jou en my is nie?”

“Nee, nee … Ek … weet nou nie waarom ek so iets gesê het nie.” Haar hande vat-vat ontredderd na haar wange en toe na die koffiebeker om dit vas te klem en in een bedrewe beweging na haar mond te bring.

Dis te veel vir Peet, en hy staan op, kom na haar toe en neem die beker uit haar stram vingers, sit dit neer. Met ’n baie sagte gebaar trek hy haar tot teenaan hom, rus met sy ken op haar sysagte swart krulle.

“Ons gún onsself ook geen kans nie, nè? Ek bly so besig hier op Damplaas dat ek jou glad verwaarloos. Ons moet miskien meer tyd maak vir mekaar, Rynatjie …”

Verliefdes wat genoop voel om maar tyd te máák vir mekaar! dink Maryn met haar gesig teen Peet se bors. Sy voel half meewarig daaroor. Na regte behoort sy nou blindelings te beaam – soos dit ’n opreg verliefde betaam.

“Ja …” sug sy. Dan benut sy sommer haar eie sware inskiklikheid: “Neem my iewers heen in jou nuwe wa!”

“Ja …” sug hy. “Goed dan. Ons kan Saterdag, wanneer Eugene hier aan diens is, ’n bietjie oorry na Bernard en Karen toe. Ek het nog nie die veranderings aan Sonder Winter se opstal gesien nie.”

“Dit behoort ’n romantiese rit te wees,” sê Maryn droog.

Peet hou haar weg van hom om in haar gesig te kyk en haar ’n geweldige, allesomsluitende antwoord te gee, toe daar luid van die oonde se kant af na hom geroep word. Dis ou Paulus se oudste wat altyd maar in die omgewing is wanneer Peet aan diens is.

Peet laat Maryn haastig los en skree: “Hierso! Wat is fout, Sagrys?”

Sagrys kom vinnig tussen die twee trekkers deur aangedraf.

“Dis die koring,” sê hy uitasem. “Dit draai nie!”

Peet maak sy mond oop om te knoop, maar besluit daarteen. “Ag tog!” sê hy net.

“Sirkuleer dit nie?” vra Maryn, wel vermoedend wat dit sal afgee.

“Nee, dit wil nie draai nie, nonnie,” sê Sagrys moedeloos, en aan Peet: “Ek sal seker my pa moet gaan roep om te kom help?”

“Nee wat, laat hom maar slaap. Hy werk genoeg vir die nuwe beeste! Kry jou broers, asseblief, Sagrys!”

Die knik net en laat vat die donkerte in, in die rigting van Damplaas se werkershuise.

“Ek het gewéét die koring is nog te nat,” sê Peet vies, “en kyk nou net watse gemors gee dit af. Die awegaar het natuurlik vasgedraai weens die nat koringstrooi, en nou gly die belt wat die awegaar trek!”

“En nou?” vra Maryn grootogig, want hoewel sy ’n plaaskind is, is hierdie tegniese dinge tog vir haar duister.

“Nou,” sê Peet, en steek hand in die sy vas voordat hy die ergste lawaaisone ingaan, “sal ons tot vroegdag toe by die sewentig sakke klam koring byna korrelgewys uit die silinder moet kry!”

“Maar dis mos ’n vreeslike proses!” laat Maryn simpatiek hoor.

“Juis, want die bietjies-bietjies moet ons nou weer terugkry in die voerput sodat dit weer van voor af in die silinder kan sirkuleer.” Hy buk meteens af na haar, want sy het agter hom aangekom. Toe slaan hy albei arms styf om haar, soen haar twee, drie keer. “Ag, sien jy nou, daar is altyd iets wat my weghou van my meisie! Nou sal ons agter wees met die koring …”

“En die romantiese rit is daarmee heen!” onderbreek Maryn hom met ’n laggie wat haar stem wil laat breek.

“Tja!” sê Peet met sy oë op die verligte skuur. ‘Dis tyd dat ons verloof raak – dit sal sulke ritte oorbodig maak!”

“En romanse?” vra Maryn vinnig, maar verander van deuntjie toe sy besef dat hy weens die drang van sy onmiddellike taak haar nie die antwoord kan gee wat sy verlang nie. “Ag toe maar, jong … Ek is vanaand in ’n anderste bui. Jy kry in elk geval nou-nou hulp. Marcel het aangebied om met die oondsessies ook te help. Hy sê die beesbedrywighede hou hom nie juis só besig nie!”

Peet draai om en kyk haar stip aan.

“Hmf! Wat sal hy nou van oonde weet? Praat van ’n vyfde wiel!”

Dis asof daar ’n vlam in Maryn opskiet.

“Nou’s jy onredelik! Marcel is bekwaam en gewillig – wat méér wil jy hê?”

Daar is ’n droë, krakende stilte tussen hulle, en dit klink asof die droogoonde ver op die horison dreun.

“Bekwaam en gewillig …” sê Peet stadig, nadenkend, en toe, voordat hy omdraai om by die oonde in te stap: “Dit gaan nie om wat ék wil nie, Maryn!”

Maryn snak in die warm aandlug, kyk hom star agterna toe hy wegstap. Wat ’n kriptiese, onverwerkbare gesprek! dink sy, en dit voel asof haar brein aan die brand is. En niks wat ons sê, vind werklik by mekaar ingang nie. Dis die eerste maal dat ons geen aansluiting vind nie …

Toe draai sy stadig en stram om, gaan haal die koffiegoed onder die populier en loop huis toe in die yl lig van die klimmende maan.

Helene de Kock Omnibus 9

Подняться наверх