Читать книгу Helene de Kock Omnibus 9 - Helene de Kock - Страница 9

6

Оглавление

’n Paar dae ná die vleisbraaiery leen Maryn vir die eerste maal Peet se nuwe motor om dorp toe te gaan. Hy oorhandig die sleutels aan haar sonder om kapsie te maak, trek net groot oë toe sy beduie hoe mooi sy sal ry.

“Nee rêrig,” paai sy glimlaggend, “jy hoef jou nie in die minste te bekommer nie, ek sal uiters versigtig wees!”

“Jy maak my al hoe banger,” antwoord Peet met ’n kamma frons, bekyk haar nietemin fyn van agter sy dik brilglase.

“Ag, Peet …” sê Maryn intens, toe sy sien dat sy geskerts daarop gemik is om dit weer ’n bietjie sag en goed tussen hulle te maak, want sedert die braaiery was hulle tog ’n bietjie versigtig vir mekaar – bang om mekaar te vermy, traag om mekaar op te soek. Ook nou weet sy dat die tyd nie reg is om mekaar weer in erns te probeer vind nie. Daarom lig sy net ’n hand en vee tergend oor sy gesig. Hy snap wat sy probeer doen, tel haar met een haal hoog bo sy kop op, skud haar soos ’n sakkie meel tot sy benoud skree, en sit haar weer neer. Toe lag hulle vir mekaar en met mekaar.

“Geniet nou die dag,” sê hy toe sy wegstap met die sleutels in haar hand, en sy waai vrolik terug.

Peet gaan sit weer by die kombuistafel waar hy besig was om ’n vroeë toebroodjie saam met koffie te geniet. Eugene is douvoordag al weg lande toe en hy self kon ’n bietjie later lê, want hulle is voor met die droëry. Hy is net klaar toe Elsje verwaaid binnekom, nog in haar stemmige kamerjapon gekleed.

“Ek moet gou eet,” sê sy toe sy hom sien, en gaan sit op haar plek. Sy trek dadelik die brood en botter nader. “Maryn is toeka al klaar, en sy wil hê ek moet saamgaan dorp toe.” Sy smeer die brood vinnig en hap groot stukke, sodat Peet effens lag kry.

“Ja-nee,” sê hy en hou sy oë liewer op die wit tafeldoek, op die botterpot, op die brood – want selfs op hierdie vroeë uur is Elsje ’n prentjie met haar rosige gesig, oë nog loom van die diep slaap en skielike wakker word, en die goue hare in ’n koddige bollatjie bo-op haar kop. “Ja-nee,” sê hy weer in ’n poging om geselskap te maak, “julle twee gaan weer die dorp leeg koop!”

Sy glimlag net met haar mond vol brood, en skink terselfdertyd vir haar koffie.

“Jy het toe nooit nou die aand met die vleisbraaiery gesing nie,” probeer hy weer.

Elsje hou op eet, kyk diep in die koffiekoppie en drink toe stadig daaraan sodat Peet amper begin dink sy’t vergeet van hom. Toe sê sy tog: “Ek was nie in die stemming nie.”

“Waarom nie?” vra Peet direk, stut sy gesig in sy hande, sy elmboë voor hom op die tafel.

Elsje sug en gee in.

“Omdat ek en Eugene woorde gehad het. Ek … hy wil hê ons moet trou voordat hy teruggaan universiteit toe.”

“En?” vra Peet sag, sy bloed ’n dreuning in sy ore.

“Ek besluit nog,” antwoord sy vinnig, vee haar mond met die servet af, staan op en draf die vertrek uit.

Maryn en Elsje het heelwat te doen in die dorp. Die kruideniersvoorrade van Damplaas is boomskraap en moet aangevul word. Maryn het besluit dat die benodigdhede vir die Kersete wat elke jaar op Damplaas gegee word, ook sommer nou gekoop moet word. Daarby het twee van die onderwyseresse wat Maryn al jare lank ken, vir haar en Elsje gevra om ’n laat middagete by hulle te kom geniet voordat die skole sluit en hulle met vakansie weggaan.

In die winkels help Elsje vir Maryn met die uitsoek van die kruideniersware en kontroleer die lysie wat Maryn al die vorige aand opgestel het. Kort ná eenuur is hulle klaar en besluit om sommer dadelik na die losieshuis te ry waar die onderwyseresse tuisgaan. Hulle bring ’n baie gesellige twee uur saam met die jong meisies deur, en dit val Elsje op en krap aan Maryn dat daar so baie nuuskierige vrae gevra word oor dié dokter Hoffman wat nou oom Frederik se nuwe stoetery gaan bestuur. Net toe hulle wil vertrek, kom Lilette uitasem by die losieshuis aan en kom staan by die ander op die sypaadjie onder die groot bome.

“Hoe gaan dit op Damplaas?” wil sy vrolik weet, en kry met ’n skud van haar koppie die rooi hare uit haar gesig. Haar oë is gretig op Maryn gerig. Dié maak asof sy onbewus daarvan is en sluit solank die motordeure oop. Dis Elsje wat die klein vroumensie antwoord, en wel met ’n glimlag wat boekdele spreek: “O, dit gaan baie goed met Marcel Hoffman,” sê sy tot groot vermaak van almal behalwe Maryn. “Jy sien, hy vul sy dae deur sy aandag ten volle te wy aan sy groot liefde …”

Lilette se oë vlieg ongelowig na Maryn, wat haar uitdrukkingloos bekyk.

“En dit is?” vra sy skril.

“Die Simmentalers, natuurlik,” antwoord Elsje onskuldig en ontlok ’n teësinnige glimlaggie van Maryn. Die ander skater dit uit, reeds ten volle op die hoogte van Lilette se onblusbare belangstelling in haar gewese aangetroude neef. Sy betrag dan ook vir Elsje met ’n fyn laggie.

“Ja,” sug sy vroom, “dis ook maar goed dat hy so opgaan in die diere, want as jy nou sy geskiedenis ken, sal jy ook weet waarom ménse hom nie baie amuseer nie …”

Sy het nou almal se volle aandag en benut dit terstond. Ook Maryn staar haar aan met ’n uitdrukking van intense konsentrasie.

“Ja-a …” sê sy weer met ’n stembuiging wat siele kan uittrek, en kom leun met haar heup teen die linkervoorkant van die motor. “Julle sal julle nie kan indink wat hy alles met daardie vrou van hom deurgemaak het nie! Haai, sy’s nou wel my eie niggie, oorlede en als, maar ’n mens kan maar nie vergeet van alles nie!”

Elsje sien die stryd op Maryn se gesig, en kom haar tegemoet.

“Wat het gebeur?” vra sy saaklik.

“Vra liewer wat het nié gebeur nie,” val Lilette met smaak weg. “Die arme man het al sy dae gehad! Ek het altyd vakansies na hulle toe gegaan, want my eie mense is lankal dood. So het ek baie dinge gesien – te veel, sou ek sê. Nee, dié Christine was iets ysliks! Met niks, hoor julle, met net mooi niks was sy tevrede nie. Sy wil ’n nuwe huis hê, maar kry sy die huis, wil sy ’n groter een hê; kry sy die groter een, maak die ruimte haar bang; wil sy ’n huis hê met ’n swembad in die binnehof, dan kry sy een. En dan, moet julle weet, bekommer sy haar gedaan dat sy dalk sal inval as Marcel nie tuis is nie, en wat dan? Want sy kan nie swem nie! Ek het haar een hele week lank probeer leer en toe sê sy sy voel verspot, ons moet dit liewer staak. Verder wou sy ál Marcel se aandag net vir haarself hê, en het sy in sak en as gesit elke keer as hy moes uitgaan in sy groot praktyk. Watter man, vra ek julle, kan dit hou?”

Sy laat die laaste vraag soos die slotwoorde van ’n orakel in die lug hang, kyk gewigtig van die een na die ander en vang oplaas Maryn se blik vas, met ’n tikkie selfvoldaanheid in haar eie.

“Maar hét hy dit toe gehou?” vra Maryn ernstig.

“O ja, hy moes maar. Hy glo nie aan egskeiding nie, sien. Wat hy het, hou hy. Maar ek dink veral ná klein Marcus se geboorte het hy menigmaal daaraan gedink om die kind eenvoudig te vat en te waai. Christine was so besorg oor haarself, maar glo my, sy het nie juis na die kleintjie omgesien nie. Toe was die swembad skielik nie meer ’n gevaar nie en het sy geprotesteer toe Marcel dit wou omhein – dit sou haar glo beklem laat voel. Goed, het hy toe gesê, maar wee jou as die kind hier inval. Aag, dis nog eeue voordat hy sal kruip, wat nog van loop, wat nog van slim genoeg wees om te loer wat in die swembad is. Só was haar antwoorde altyd. Heeltemal ongebalanseerd was sy. Sy het selfs gereken Pote kan maar kyk dat die kind nie inval nie! Sies tog, hy sou ook, weet julle, as hy net dáár was … Maar die dag toe Pote wel op die kind afkom, was dit klaar te laat. Christine het gelê en slaap; sy was moeg en het slaappille gedrink sonder om eers te dink dat die kleintjie ook kan wakker word en begin ronddwaal.

“Ewenwel, Pote het daar gestaan en tjank tot Marcel van sy spreekkamers langsaan gekom het om te kom kyk wat aangaan. En toe ek van ’n vriendin af kom, het Marcel nog daar langs die swembad gesit met die kind in sy arms en die hond wat so saggies tjank en Christine wat nog altyd slaap in die kamer …”

Dis asof die afgryse op die ander meisies se gesigte haar tog tot nadenke skok, want sy bring een handjie na haar mond en sê: “Haai, ek weet nie of ek oor hierdie dinge moet praat nie …”

“Jy het klaar,” sê Elsje sag, en toe direk: “Wat het van Christine geword?”

Lilette huiwer ’n oomblik, antwoord toe tóg maar: “Sy het haar te pletter gejaag teen die hekpaal by hul huis. Nou ja, ek was nie baie danig met haar nie, maar dit was verskriklik. Marcel was weke lank soos ’n besetene. Tot Pote het dit nie naby hom gewaag nie. Hy was doodstil, dié Marcel, maar skoon berserk, dié verseker ek julle. Hy het alles verkoop, tot die laaste kopspeld, en toe is hy en die hond Duitsland toe.”

“Hoe vreeslik tragies,” sê een van die meisies, en die ander knik instemmend. “’n Mens kan jou soveel verdriet amper nie voorstel nie.”

“Nee,” sê Lilette meteens heeltemal ernstig, “dit was moeilik genoeg om dit te glo toe dit gebeur het. Maar nou is alles verby. Tot siens hoor, ek kom kuier een van die dae vir julle op Damplaas!”

Die eerste ent van die pad Damplaas toe praat nie een van die twee ’n woord nie; Elsje merk net Maryn se hande wat om die stuur klem, en haar kakebeen wat styf vorentoe gestoot is, en sy draai haar kop weg en glimlag by die venster uit. Sou Peet weet? wonder sy.

Hulle is feitlik regoor die Ou Huis se voorstoep toe dit gebeur. ’n Meerkat vlie ylings oor die pad uit die digte gras, en in ’n oogwenk – maar te laat – sien Maryn dat Pote in volle vaart op die diertjie se spoor is. Sy trap rem dat die stofwolke staan en haar veiligheidsgordel seer oor haar bors strem en Elsje vervaard na haar gesig gryp, maar die motor tref die hond tog skrams. Hy word eenkant toe geslinger en bly doodstil in die lang gras langs die pad lê.

Maryn bring die motor byna dwars in die pad tot stilstand, en die meisies sien met die haastige uitspringslag dat die linkerkantste modderskerm ’n lelike duik het.

“Ag hemel!” sê Elsje, en draf toe agter Maryn aan na waar die hond lê.

“O nee! O nee tog!” snik Maryn terwyl sy by Pote kniel. Hy kyk hulle met sy nat honde-oë aan en maak fyn tjankgeluidjies, sy agterbeen skeef onder hom ingevou. Maryn kyk versteen op die hond af. Waarom moes dit nou gebeur? Sê nou hy is inwendig beseer en is besig om hom dood te bloei? Watter verskoning sal sy tog aan Marcel kan bied? Die hond is in der waarheid al wat hy het. Dit is nou te meer waar ná wat sy vanmiddag van Lilette verneem het. Alle verduidelikings sal strand voor die wete dat die hond ál is wat hy oorgehou het uit sy lewe van gister …

Dis Elsje wat ’n vinnige besluit neem.

“Bly jy hier by hom,” sê sy saaklik. “Ek gaan vir Marcel haal. Of beter, ek gaan hom net sê, dan kan hy met die bakkie kom om julle te kom haal.”

Maryn knik woordeloos.

Elsje gaan klim terug in die motor, trek dit reg in die pad en ry weg. Sy draai af in ’n smal paadjie wat regs tussen twee populiere uitdraai. Dis ’n paadjie wat beslis nie vir prinslike motors soos dié een gemaak is nie, maar Elsje bestuur so versigtig as moontlik. Dit loop verby die uitgestrekte koringlande van Damplaas na die boonste weidingskamp, waar Marcel die afdak en drukgang laat oprig het. Sy vermoed maar dat hy daar kan wees, en sien met verligting die blou bakkie naby die voerkraal staan. Sy hou daar stil en is skaars uit die motor of sy sien hom haastig aangestap kom van die drukgang se kant af. Hy en die werkers is duidelik besig met ’n dosering van die een of ander aard.

“Wat is dit?” vra hy dadelik toe hy haar gesig sien, en sy oë rek toe hy die duik in die swierige motor merk. Hy fluit saggies tussen sy tande deur, maar glimlag gerusstellend toe hy haar wit gesig sien. “Sjoe! Moet ek solank vir Peet gaan sag maak?”

“Nee,” sê Elsje, beduie ontkennend met een skraal hand. “Nee, jy verstaan nie … Dis … dis eintlik Pote …”

“Wat het gebeur?” vra hy nog sag, sy oë stil en dringend op haar gerig.

“Ek … ons, dis nou ek en Maryn, het hom per ongeluk raakgery. Hy het ’n meerkat gejaag en reg voor die motor ingehardloop … Ons is verskriklik jammer!”

“Hoe seer het hy gekry?”

“Sy been is sonder twyfel af, maar ek weet nie of hy dalk inwendig ook seergekry het nie!”

“Waar is hy?”

“Reg voor die Ou Huis. Maryn is by hom …”

“Gaaf. Dankie dat jy my kom sê het.”

Hy is halfpad weg na die bakkie toe, toe sy hom inhaal en aan die arm gryp.

“Moet asseblief nie vir haar kwaad wees nie, Marcel. Sy het haar byna doodgeskrik …”

“Natuurlik is ek nie vir haar kwaad nie!” sê hy, en dis asof daar ’n broosheid in sy oë kom. Toe draai hy om en klim in die bakkie.

Elsje volg hom tot waar die paadjie weer in die rylaan doodloop en draai toe regs weg na die opstal toe. Sy sal Peet maar sagkens gaan vertel waarom daar so ’n onooglike duik in sy motor is. Dat daar definitief ook ’n krakie is in die pand wat hom aan die dogter van Damplaas bind – nou ja, dié sal hy wel self uitvind, as hy nie al het nie. Sy wat Elsje is, weet een ding met groot oortuiging: Maryn Basson is besig om haar hart te verloor aan Marcel Hoffman …

Maryn sit skoon verkrimp van ellende by die hond. Hy kyk haar aan asof sy saligheid nou slegs van háár afhang, en hou vol om fyntjies te steuntjank. Sy vryf radeloos oor sy kop en prewel aanhoudend: “Honne, my honne.” Toe sy die lawaaierige gedreun van die bakkie in die pad hoor, veer sy orent en staan Marcel met ’n verstokte uitdrukking en inwag.

Hy trek die bakkie tot vlak langs haar en klim uit – toringlank en baie blond, sy oë ’n swaar grysgroen onder die verrassend swart wimpers. Soos altyd ontstem sy koele teenwoordigheid haar, en toe sy haar mond oopmaak om die eerste woorde van verweer te uiter, begin sy al pratende te snik.

“Ek … kon nie … betyds stop nie … Ek is vreeslik j- …” Sy sluk die woord in en huil met oorgawe, haar gesig in haar fyn hande. Sy is geheel onmagtig om haarself weer op te dam, en dis asof die trane salwend op haar rou gemoed inwerk. Dis so ’n verligting om net sommer toe te gee aan die gevoel wat al weke lank in haar opstu …

“Maryn?”

Sy wil vir hom sê dat sy nooit ooit so eenvoudig van gees is om hartroerend te snik en te snuif voor ander nie, maar sy kom net nie sover nie.

Marcel vat haar stewig aan haar skouers en skud haar met geweld sodat sy terstond ophou en hom met groot, verskrikte oë aanstaar.

“Klim solank agterop die bakkie,” sê hy. “Ek gaan Pote daar neerlê, as ek hom nou enigsins kan verroer.”

Maryn draai swygend om en maak so, gaan sit in die hoek met haar rug teen die kajuit van die bakkie. Sy voel eienaardig lighoofdig, asof sy ’n enorme hoeveelheid ballas afgegooi het, wat haar met ’n ongekende ligvoetigheid gelaat het. Dis nie dat sy lughartig voel nie – sy is net bewus van ’n heerlike helderheid van gemoed, wat sy vir seker weet sy weer sal kan oproep. Haar oë volg Marcel se bekwame songebruinde hande terwyl hulle sagkens oor die beseerde hond beweeg asof hulle ’n verlengstuk van haar eie liggaam is. Sy sien hoe Pote aan die bewe gaan toe die tastende hande nader aan die af been kom, en sy krimp vir die dier se onthalwe ineen. Eindelik kyk Marcel oor sy skouer en sê:

“Ek sal hom moet dorp toe neem. Dis ’n lelike breuk, en ek het nie die fasiliteite hier nie. Ek sal maar vir Hennie Smit vra om my te help met hom …”

“Goed,” antwoord Maryn, nou heeltemal kalm. “Wil jy hê ek moet saamry?”

Marcel staan op uit sy hurkende posisie oor die hond en plaas sy hande nadenkend op sy heupe; die groenerige oë kyk ver verby die bakkie.

“Dit sal gaaf wees. Maar ek verwag dit hoegenaamd nie van jou nie.”

Sy kyk na sy geslote gesig, voel sy subtiele onttrekking aan.

“Is jy dan nog kwaad vir my?” vra sy sag, pleitend.

Hy bly net staan waar hy is, maar kyk haar darem direk aan.

“Ek was nog nooit vir jou kwaad nie, Maryn. Buitendien, my gesindhede en gevoelens behoort nie vir jou van belang te wees nie. Ek het maar net bedoel dat jy dalk ander verpligtinge mag hê.”

“Nee, ek het nie,” sê Maryn hard en duidelik.

“Slegs weens buitengewone omstandighede het jy nie,” antwoord hy kort en klaar, draai om en buk om Pote met die grootste versigtigheid, sigbaar in die bewing van die rugspiere onder sy hemp, uit die stowwerige lang gras op te tel. Met ’n paar afgemete treë is hy langs die bakkie, en buk oor en lê die hond langs Maryn neer, sy kop op haar skoot. Sy begin hom dadelik gerusstellend agter die ore streel en buig effens vooroor en praat saggies en mooi met hom. Sy sien nie die radelose uitdrukking op Marcel se gesig, toe hy ’n oomblik huiwer voordat hy inklim en stadig wegtrek nie.

Dwarsdeur die stamperige rit dorp toe gesels Maryn met Pote, vertel hom dinge wat sy tot op hierdie dag self nie geweet het nie – en versoek hom om dit tog dig te hou.

Toe sy haar weer kom kry, hou hulle voor dr. Smit se moderne spreekkamers stil. Nog voordat die bakkie behoorlik afgeskakel is, spring Marcel uit en kom dadelik om Pote te vat. Net voordat hy met hom na binne gaan, draai hy skuins om en sê: “Ek sal dit baie waardeer as jy net jou pa sal bel en sê waar jy is.”

“Ek doen dit dadelik.”

“Gaaf. Kom sit dan maar vir my en wag hier in die wagkamer, as jy nie wil hê Peet of iemand moet jou kom haal nie.”

“Ek sal wag,” sê sy, en kyk hoe hy sonder ’n woord omdraai en die dierehospitaal binnegaan. Sy spring met ’n grasieuse sprongetjie van die bakkie af en gaan ook na binne. Aan die ontvangsdame, wat sy ken, vra sy of sy maar Damplaas toe mag bel. Die meisie stem vriendelik in, skakel sommer die sentrale vir haar en vra vir een-twee, die Damplaasnommer sedert ou oom Sterk Freek Basson se dae. Toe daar antwoord is, gee sy die gehoorbuis aan Maryn.

Dis Selina, en sy is net omgekrap toe sy besef dis al laatskemer en Maryn is nog nie tuis nie. Maryn stel haar gerus, vertel wat gebeur het, en vra dat sy asseblief haar pa moet sê om hom nie te bekommer nie, sy sal aanstons terug wees. Waarop die ou bediende net sê sy sal die oubaas sê wanneer hy wakker word, want hy sit en slaap al weer in die groot stoel.

Dis met ’n bekommerde frons dat Maryn eenkant op ’n bank gaan sit. Sit en slaap in ’n stoel – dáárvan hou sy nie. Sy het ook die laaste paar dae opgemerk dat haar pa sommerso, terwyl hy nog half in die geselskap moes wees, ’n vermoeide sug uiter en kopknikkend begin dut. Eers het sy ook maar gedink dat hy hom net ’n bietjie ooreis het, maar sedert die aand van die vleisbraaiery toe hy eintlik bleekmoeg was, pla dit haar. Moegheid gaan tog oor …?

Sy plaas haar hande oorkruis op haar skouers, vryf vinnig oor haar boarms. Dis ál asof sy koud kry, en sy het opeens moeite om haar tande nie te laat klapper nie.

Een van die middeldeure gaan oop en Marcel loer uit.

“Dit sal ’n rukkie duur,” sê hy. “Dis gelukkig nie nodig om ’n pen in te sit nie, maar die breuk is nie juis skoon nie, en ons gaan sukkel.”

“G-goed,” sê Maryn. “Ek gee regtig nie om om te wag nie.”

Hy bly skuins by die deur uithang, bekyk haar met ’n frons. Toe verdwyn hy, om oomblikke later terug te kom met ’n glasie water in die een hand en ’n klein wit pilletjie in die ander. Hy hou dit na haar uit.

“Dit lyk asof jy aan skok ly,” sê hy, en voel aan haar yskoue hande, klik besorg met sy tong. “Toe, drink nou dié!”

Sy gehoorsaam, maar die koue water laat haar opnuut aan die bibber gaan.

“My liewe land tog,” sê Marcel, en vra toe die ontvangsdametjie om vir Maryn ’n koppie warm tee te bring. Hy hurk by Maryn, neem albei haar hande op die groot palm van sy linkerhand en vryf hulle vinnig met sy regterhand. “Beter?” vra hy ná ’n rukkie sonder om na haar op te kyk.

“Ja,” sê sy saggies.

“Waarom het jy nou eintlik so verskriklik geskrik?” vra hy, lig sy oë totdat hulle mekaar vol aankyk.

“Omdat dit jóú hond is,” antwoord sy sonder enige aarseling.

Toe Marcel weer weg is, sit Maryn nog ’n ruk regop, maar die pilletjie doen sy werk en spoedig is sy so lomerig dat sy omkantel op die bank en aan die slaap raak. So kry Marcel haar toe hy en Hennie Smit meer as ’n uur later klaar is met Pote.

“’n Oulike kind,” sê Hennie gedemp terwyl hy en Marcel op haar staan en afkyk, onseker of hulle haar moet wakker maak.

“Hm,” is Marcel se niksseggende kommentaar, sy gesig net so onleesbaar. “Wel, ek is bevrees ek sal haar maar móét steur. Ek wil haar nie veel langer van die huis af weghou nie.” Daarmee buk hy by haar, raak met ’n huiwerige hand versigtig aan haar kop. “Maryn?” Sy roer net effens, maar maak tog haar oë stadig oop, duidelik nog ver van hier.

“Kom,” sê Marcel hard, “ons moet nou ry.”

“Ek is verskriklik vaak,” sê sy lui, en wend geen poging aan om regop te sit nie.

“Dis die pil,” sê Hennie met ’n glimlag. “Wag, ek gee vir jou ’n kombers. Ek slaap soms hier as ek ’n groot operasie gedoen het.”

Hy is gou terug daarmee en gooi dit oor Maryn. Marcel steek sy hande onder haar in en tel haar op, toe stap hy met haar uit buitetoe waar die aandster reeds laag in die swartpers lug hang. Die straatgeluide in die klein dorpie het lankal verstil, en toe hy Maryn inlaai, self inklim en die bakkie se masjien aanskakel, klink dit luid in die kleindorpstilte. Hy lig ’n hand om Hennie te groet, en bedank hom vir sy moeite met die hond. Hulle het besluit dat Pote maar voorlopig in die kliniek moet bly. Marcel kan hom oor ’n dag of wat kom haal, maar hy moet hom maar ’n ruk lank gedra, en alle jag- en jaagtogte is verbode vir die huidige!

Dis eers toe hulle aan die beweeg is en die bakkie oorskakel na tweede rat, dat Maryn sommige van haar gedagtes bymekaarkry. Sy besef nie eens dat hy haar na die bakkie toe gedra het nie.

“Pote?” vra sy.

“Gepleister en geplak en weer vierbenig,” sê Marcel. “Niks om jou oor te bekommer nie!”

“Ek is so bly,” sug sy, en toe weer tranerig: “Ek is regtig darem so jammer oor alles.”

Marcel wag tot hulle uit die dorp is en hy ’n konstante, bedaarde spoed handhaaf voordat hy haar antwoord. Hy swaai sy regterhand oor en druk haar kop tot teenaan sy skouer, sodat sy gemaklik kan sit en nog ’n bietjie dut. Toe sê hy: “Ek weet. En dis onnodig dat ons ooit weer daaroor praat. Dit was buitendien nie jou skuld nie. Honde spring maar voor motors in sedert die wiel uitgevind is.”

Dit laat Maryn glimlag, maar selfs in haar lome toestand is daar iets in sy stemtoon wat aan haar krap. Dis asof hy doelbewus tegelyk droog en paaiend is, asof hy haar wil troos, maar ook op ’n veilige afstand wil hou. Hierdie ligte stuwing van frustrasie, tesame met die saligheid van sy skouer hier by haar kop, hou haar wakker, maak haar dringend lus om hom op die een of ander manier te bereik, deur sy skans te breek …

“Marcel, jy verstaan nie,” sê sy sag, draai haar kop teen sy skouer sodat sy sy profiel in die halfdonker kan uitmaak. “Ek weet hoe intiem Pote aan jou verlede verbonde is en hoe swaar dit vir jou sou gewees het as hy iets oorgekom het …”

“En die kennis van my verlede is bra nuutgevonde, anders sou jy dalk minder geskrik het, nie waar nie? Lilette moes haar melodramatiese bes gedoen het om medelye te wek, en toe kom spring die geskiedkundige brak ook nog voor Peet se nuwe motor in! Nee, ek stem saam, dis genoeg om ’n baie minder sensitiewe persoon in dieselfde oorgestimuleerde gemoedstoestand as jy die kouekoors van skrik te gee!”

Maryn sit kiertsregop. Sy is so kwaad dat sy kortasem is. Dit voel asof daar ’n band om haar borskas span. Deels is dit so omdat hy sy vinger so reg op haar bedekte bedoelinge gelê het, omdat hy so sekuur skyn te weet wat in haar vroulike gemoed omgaan. Toe sy praat, is haar stem heserig van ’n aandoening wat spruit uit pure woede en skrynende verlange na die hemel weet wat – want met hiérdie man weet sy nie.

“Dit … is gemeen, geméén van jou! Hier verknies ek my omdat ek o, so bang is om ’n enkele gevoel van jóú dalk te kneus, en … en al wat jy doen, is om ’n mens se belangstelling in jou gesig terug te gooi en dan nog daaroor te lag – of so kom dit voor!”

Marcel kyk vinnig na haar, ry dadelik stadiger en bring die bakkie tot stilstand langs die pad. Hy haal dit uit rat, maar skakel nie af nie. Toe trek hy die handrem vas en draai heeltemal dwars na haar.

Sy bly doodstil voor haar sit en kyk, maar haar mond bewe so dat sy haar onderlip moet vasbyt.

Hy steek sy regterhand stadig uit, vat haar ken vas en draai haar gesig sag na hom toe.

“So kom dit voor, Maryn.”

“Maar waarom dan? Waarom sluit jy jouself so weg?”

Sy hand bly onder haar ken, beweeg dan tot agter haar nek onder die syerige hare in.

“Omdat ek nie meer anders kan nie,” antwoord hy eindelik grimmig. “Ek weet nie meer hoe om my vir ’n medemens oop te maak nie. Ek weet ook nie of dit raadsaam is nie. Ek weet net dit sou dwaas wees om iemand soos jy naby my toe te laat. Jy moet jou nooit weer verknies nie; ek is dit nie werd nie, ek verseker jou.”

Maryn draai haar kop effens sodat haar lippe aan sy voorarm raak, en sê: “Ek het my netnou swak uitgedruk. Ek verknies my nie. Dis net, ek kan nie anders nie. Vandat ek jou die eerste maal ontmoet het …”

Marcel, wat verskeie oomblikke asof versteend bly sit het, neem sy arm vinnig weg, val haar streng in die rede: “Maryn! Jy maak dit vir my moeilik. Moenie!” En toe sy stil en half verslae swyg: “En moet nou ook nie weer seer voel nie! Ek … is bly jy hou van my, en dis al klaar ver meer as wat ek bereid is om vir jou oop te maak! Kom ons ry!”

“En Lilette?” vra Maryn haastig. “Wat van haar? Wat maak sy hier?”

“Dit behoort jou glad nie te skeel nie, maar aangesien jy nou op dreef is met jou vrae, kan ek jou maar net sowel sê. Lilette het so ’n groot behoefte aan sekuriteit dat sy seker nooit in haar lewe sal grootword nie. Sy dink nou, soos wat sy nog altyd gedink het, dat sy dit in my kan vind. Sy is, soos altyd, ver verkeerd. Dit was ook dom van haar om hierheen te kom, tensy sy hier dalk iemand anders kan vind wat vir haar ’n soort beskermheer kan wees: iemand wat kan mooipraat as sy treurig is, raas as sy stout is, rig en lei en liefhê en so aan.” Hy sug lank en diep. “Sy is nie ’n slegte kind nie. As ’n mens haar net eers sover kan kry om op te hou indruk maak en effek te soek, kom jy nogal op ’n heel interessante wese af …”

“Dit klink asof jy al het?” kan Maryn nie verhelp om te sê nie.

“Ag ja,” antwoord hy met ’n klein bietjie irritasie wat in sy andersins so bedaarde stem deurslaan. “Sy was ouerloos en rigtingloos en … my vrou het haar nie juis aan haar gesteur nie. Ek het my af en toe oor haar ontferm, haar oorreed om te gaan leer. En nou móét ons ry!”

Maryn gaan hom nie teë nie en hy trek weg. Op pad Damplaas toe praat hulle nie weer nie, en Maryn laat dit so. Sy het opeens ’n groot behoefte daaraan om eenkant en alleen te wees en elke woord van hierdie gesprek weer te hoor en te oordink.

Toe hulle voor die groot verligte opstal stilhou, kom oom Frederik, Peet en Eugene op die stoep uit. Maryn laat die kombers in die bakkie en klim uit. Peet is dadelik by en slaan sy arm om haar. Marcel maak ook terstond verskoning toe hulle die stoep opstap, beduie omslagtig waarom dit so gaaf was van Maryn om saam te ry, want anders was daar niemand by Pote agter op die bakkie nie. Almal vra vrae en gee hul weergawe van Elsje se tuiskoms met die ingeduikte motor, en praat en praat tot Maryn se kop eenvoudig wil bars. Sy merk nie dat Peet en Eugene bra stug met mekaar is, en dat daar ’n ongewone lyn van spanning om haar pa se mond is nie. Dis eers toe Marcel weg is met almal se wense op Pote se spoedige herstel, dat Maryn vra: “Waar is Elsje dan?”

Daar is ’n kort stilte voordat Eugene bot antwoord: “In haar kamer.”

“Tja …” sê oom Frederik toe niemand iets vind om te sê nie. “Jy moet ook maar gaan slaap, doggie. Jy lyk moeg.”

“Pa ook,” sê sy dadelik berouvol. “Ek is jammer ek het julle laat skrik, hoor. Maar ek dink tog ek gaan nou inkruip.”

Sy sê nag, maar dis haar pa en Eugene wat eerste na hul kamers gaan; Peet hou haar hand styf vas tot hulle weg is. Sy kyk op in sy gesig, merk dat hy ietwat verwilderd voorkom. Hy is bleek en sy oë lyk groot en byna beangs agter die dik glase.

“Is jy baie kwaad vir my?” vra sy sag. “Ek bedoel, oor die motor?”

Sy ferm mond trek in ’n halwe laggie.

“Ek was baie kwaad, maar nie oor die motor nie – altans, nie so erg oor die motor nie. Elsje het hier aangekom sonder om heel eerste te sê waar jy dan is. Sy was ook maar seker deur die wind geskrik, want toe sy my gesig sien toe ek na die duik kyk, toe praat sy so deurmekaar van die hond wat voor die kar ingespring het en hoe ’n vreeslike ding dit was, sonder om te sê waar jy is. Wel, toe ek my kom kry, toe skud ek haar aan die skouers dat haar tande klap. Dis net toe dat Eugene op ons afkom en hom lelik vir my vererg omdat ek sy meisie so staan en skud.” Hy laat sy asem in ’n bitter laggie uit. “Hy het my kort en klaar gesê om my hande van Elsje af te hou.”

Maryn is stom van verbasing.

“Maar Peet, hy’s mos heeltemal verspot!”

Hy sug.

“Nee, nie so heeltemal nie. Toe … toe hy Elsje uit my greep het en wil troos, toe ruk sy weg en vra hom om haar uit te los …”

“Ag nee …”

“Ja, en nou’s hy natuurlik half seerderig en ook sommer doof vir enige apologie van my kant af!”

Maryn staan ’n rukkie en dink.

“Ag wat,” sê sy toe, “hy sal daaroor kom.”

“Jy dink so?”

“Ag, natuurlik, man,” sê sy en die ongeduld slaan so skerp in haar stem deur dat Peet verbaas na haar kyk. Sy staar ’n oomblik onverbloemd terug na hom, wens met haar hele wese dat sy ver weg was, los van al hierdie dinge – onverbonde, behalwe aan hierdie nuwe roep van haar hart. Toe kom sy tot haar sinne, staan op haar tone en piksoen hom op die mond. “Nag,” sê sy bedees.

“Maryn,” hou Peet haar terug, “ek het vroeër vandag ’n brief aan professor De Beer geskryf. Ek wil vroeër Leiden toe vertrek.”

Sy moet haarself met ’n innerlike pluk na hom terugbring, en kan om die dood nie dink wat om te antwoord nie.

“Wel, as jy moet, dan moet jy,” sê sy uiteindelik.

“Dis reg. Ek móét.”

Maar dis asof die volle betekenis van sy woorde haar heeltemal verbygaan, want sy knik net en draai om om te gaan slaap. En toe sy in die donker in haar bed lê, dink sy lankal nie meer aan enigiets wat Peet nog ooit gesê het nie.

Helene de Kock Omnibus 9

Подняться наверх