Читать книгу Helene de Kock Omnibus 9 - Helene de Kock - Страница 8

5

Оглавление

’n Week nadat Peet en sy helpers hulle gaar gesukkel het met die klam koringstrooi wat om die awegaar van die oond gekoek was, en die tergende proses om die koring weer terug in die voerput te kry, verloop die sessie by die oonde baie meer gedissiplineerd. Peet is elke wakker oomblik op sy pos, en bewaar die een se siel wat weens onoplettendheid ’n soortgelyke katastrofe laat ontkiem. Net toe hierdie sinchronisasie van die stropery op die lande en die droëry by die oonde amper vervolmaak is, daag die beeste per vragmotor van Petrus Steyn af op. Damplaas is in beroering. Marcel moet sy hulp tydelik van die droogoonde onttrek om hom geheel en al aan die Simmentalers te wy. Oom Frederik vat skaars grond so kloek hy om sy beeste, en Eugene steek vinnig die koors by hom aan. Selfs Peet kom loer ’n kwartiertjie lank toe die beeste Damplaas se helder neongeel oorknippies aankry en sommer uit die staanspoor, en dalk meer vir die pret, geweeg word. Ook Selina kom na die drukgang toe en beduie dat daar nou ná al die jare weer misvure gepak kan word.

Dis natuurlik Maryn en Elsje wat voorstel dat die koms van die Simmentalers gevier moet word. Almal behalwe Eugene en Marcel, wat by die droogoonde is, nuttig ’n vroeë aandete op die groot stoep toe Maryn sê dat dit nou ’n oulike plan sal wees om ’n paar mense oor te nooi en vleis te braai. Oom Frederik en Elsje is dadelik entoesiasties, maar Peet gooi wal.

“Dit sal moeilik wees om in dié tyd partytjie te hou,” sê hy somber, roer en roer sy koffie met ’n aanhoudende geklingel van die lepeltjie teen die koppie.

“Lyk my jy werk te hard, Peetman,” antwoord oom Frederik hom, en sy pyprook bol in die stoeplig. “Ek ken jou mos nie so vol besware nie.”

Peet pluk die lepel met skrik uit die koppie. Hy sal moet lig loop. Oom Frederik is fyn van oog en nog fyner van nerf. Maar hy wat Peet is, weet hoe om met woorde te dokter …

“Oom het reg,” sê hy, en sy stem is mild en paaiend, “wat ek nodig het, is ’n lang oop stuk pad in my nuwe wa!”

Die ou man straal sommer.

“Maak so, seunie! Ek sal jou sê, gaan jy nou môre Bethlehem toe om entstof vir die beeste te kry. Marcel sal jou dankbaar wees, en dan ry jy sommer jou oop stuk pad!”

“Goed, oom.” Peet glimlag, drink sy koffie klaar, en staan op om homself te verskoon. Dis nou-nou weer sy beurt by die oond.

“Ons gaan saam,” kondig Maryn aan, net toe hy wil loop. “Ek en Elsje kort ’n paar stukkies klere, en ek wil hê ons moet by oom Hannes van Uitdraai aangaan om van sy spesiale wors te kry vir die braaiery. Ons sal ’n bietjie ekstra vleis moet hê as ons soos gewoonlik weer die onderwyseresse nooi.”

“Ja,” stem oom Frederik toe, “ek hoor juis daar’s ’n nuwe onderwyseressie vir Biologie. Kom glo van die Kaap af …”

Die volgende oggend is Peet saam met die son uit die vere en was hy die BMW met Eugene se motorsjampoe. Toe hy klaar is, skitter die motor. Dis egte genot vir hom om sy eiendom só te sien, en hy besluit om net vir vandag niks verder te dink nie. Dis sy motor en hy gaan vandag geniet soos iemand wat ’n droom sien waar word het. Dis mos nie te sê dat daar nie ook ander drome is nie …

Hy slaag in hierdie voorneme. Die dag saam met Maryn en Elsje begin met louter plesier, want ook die meisies is op hierdie heerlike, oop sonskyndag lig van gemoed en hul gesprekke op pad vlot vrolik en vinnig. In die dorp vra Elsje om haar eie loop te loop, want haar soektog na sandale sal die ander twee tog net verveel. Hulle spreek af om mekaar etenstyd by ’n restaurant te ontmoet. Peet drentel geduldig oral saam met Maryn totdat sy eindelik alles het wat sy gesoek het. Toe gaan hulle Marcel se beesmedisyne haal en gaan sit en wag vir Elsje om haar opwagting te maak. Sy daag dan ook skaars tien minute ná hulle op. Haar fyn vel gloei en haar oë blink opgewonde toe sy uitasem by hulle kom sit. Sy skud haar sybokkiehare uit haar gesig en lag haar stralende lag.

“Ek was bang ek’s dalk laat!” maak sy verskoning. “Netnou ry julle sonder my!”

“Groot verlies,” sê Peet skaars hoorbaar, en bestudeer die bekende spyskaart van voor af. Hy kry meteens ’n helder prentjie voor hom – sy eie arm en hand wat om Elsje se skouers gaan en haar saggies wakker skud iewers in ’n bloudonker nag, haar wye oë wat vaak oopgaan en haar welige hare wat goud en glimmend om haar lê. Sy sal dan net so mooi wees soos nou; te alle tye sal hierdie ongeskonde skoonheid haar aankleef. Sy sal ’n bron van lieflikheid bly vir die man wat haar begryp …

Hierdie gedagte klamp yskoud om sy hart. Hoe diep verstaan Eugene haar werklik? Hy het haar lief, sekerlik; haar skoonheid, haar warm vriendelikheid, haar besondere vroulikheid – maar sal hy met sy gedrae, prosaïese geaardheid ooit weet wat ’n mens alles uit Elsje te voorskyn kán haal? Dis ’n grys gedagte, ’n hol vraag, en Peet probeer vergeefs om dit af te skud. Hy lees die doodgewone spyskaart met sy saaie standaardgereggies oor en oor en word niks wys nie.

Maryn steur haar soos altyd glad nie aan Peet se gekonsentreerde swye nie. Peet is mos maar Peet. Sy gesels met Elsje oor alles wat sy gekoop het en sit alles met smaak vir Elsje en opnoem. Sy’t ’n wynrooi rok gekoop vir die Kerspartytjie wat elke jaar op Damplaas gehou word, en skoene wat daarby pas; sy’t ’n wit-en-vlamrooi informele uitrusting gekoop vir die beoogde vleisbraaiery; sy’t ’n das vir Pa Frederik, mansjetknope vir Eugene en ’n duur emalje-dasspeld vir Peet gekoop.

Dis ’n oomblik waarin Maryn ontdek dat sy skoon vergeet het om vir Selina die swart deursigtige kopdoek te koop wat sy voor gevra het. Sy wil dit na haar dertiende kleinkind se doop dra. Maryn kan net nie eens dink om huis toe te gaan sonder dié kopversiersel vir Selina nie. Sy maak haastig verskoning by die ander twee en vra dat hulle solank vir haar iets te ete moet bestel. Toe loop sy vinnig uit en kies koers die straat in.

Toe sy weg is, val daar ’n klipstilte tussen Peet en Elsje. Hy los die spyskaart en vou sy hande voor hom op die tafel, herken die nou bekende benoudheid wat in hom opwel wanneer hy alleen is met Elsje. Hy doen niks om dit te beveg nie. Dis soos pyn, dink hy, dit moet nou maar oor my spoel en uitwoed. Dalk suiwer dit iets in my …

“Peet?” sê Elsje naderhand tog, en in ’n sagte, onseker stemtoon.

“Já?” Kortaf, baie meer as wat hy werklik wou.

“Ek … e … wat ek wou sê, jou nuwe motor ry darem regtig baie lekker!”

Peet is onmiddellik kwaad. Hoe durf sy so … so ’n opsetlik onskuldige stelling kwytraak, so banaal wees en dit terwyl sy weet hoe hy wroeg!

“Wat wil jy nou eintlik daarmee sê?” vra hy bytend.

Sy word wit om haar mond, lyk asof sy haarself wil keer, maar doen dit toe tog nie.

“Maar net dat jy dan wél om te koop is!” sê sy, maar kyk vinnig af op haar ineengeklampte vingers.

Peet voel hoe sy hele lyf vol woede word; sy skouers en kuite wil eintlik kramp daarvan, en die bloed suis dol deur sy kop.

“Ek sal jou nie weer vra wat jy bedoel nie,” sê hy hees en met stywe kake, “want ek weet so presies waarop jy sinspeel! Arme Peet wat toegespin word in die Bassons se goue draadjies! Maar laat ek jou een ding vertel, Elsje – dit is my probleme! En ek probeer ten minste weet wat vir almal op die ou einde die beste gaan wees! Verstaan tog, ek kan onmoontlik nie nóú die dop van die goue eier kraak en daar kom die lelike likkewaantjie uit, in plaas van die kuikentjie wat almal vermoed het daar moet wees nie!”

Daar kom ’n skynsel van ’n lag op haar gesig, maar dit vertrek sodat haar mond bewe toe sy sê: “Ek verstaan jou nog nie … dit lyk my die goue dop is tóg vir jou baie belangrik, Peet!”

Sy kwaad verslaan so skielik dat dit ’n nare ontsteltenis laat, sodat hy haar met net so ’n bittere verwyt antwoord: “Ek verstaan jou ook nie – ek dag nog altyd jy is Maryn se getroue vriendin!”

“Ek ís ook,” antwoord sy met ysige kalmte, en toe vinnig en woedend, sodat haar oë vlam en lewe: “Moenie krake in my gevoelens en lojaliteit soek nie, Peet Baumann! Eerlikheid werk suiwerend in die lewe, en van ons twee is ek verreweg die eerlikste!”

Hulle staar na mekaar, kwaad en verskrik, en sien die weerlose ontbloting van mekaar se harte. Ons het ’n liefdestwis gehad! dink Peet beswaard en tog met vreemde opwinding. En dít nog voordat daar ooit enige liefdesverklaring mag wees …

Op dwingende ingewing reik hy na haar oor die tafel en plaas sy hand warm oor hare wat slap op die blad lê.

“Ek is jammer,” sê hy byna onhoorbaar, en verwoord daarmee sy berou oor ’n onvermoë om weg te breek; sê daarmee dat hy dit wel anders sou wil …

’n Stonde nog kyk sy na hom, en toe staan die trane haar oë vol. Sy neem haar hand weg en staan op. “Verskoon my,” sê sy, en loop vinnig na die kleedkamers. Sy oë volg haar asof sy hartklop daarvan afhang, en toe die deur agter haar toeswaai, sluit hy sy oë en leun terug op die harde kafeestoeltjie. Hy voel byna of hy in ’n botsing was. Die skok sal later kom, dit weet hy. Want daar is so pas veel meer gesê as net die woorde wat gebesig is. Daar was ’n totale erkenning van hul gevoel vir mekaar. Selfs die aanraking van hul hande, wat ’n vredesgebaar moes wees, was onbetwisbaar vol passie. En ek, dink Peet, is ’n beloofde man. Een wat sal moet leer om op sy beloftes te teer, en dit terwyl hy weet daar is in hom die gloed van dié vuur …

Hy sit verwese. Die kelner kom sit hul kos voor hom neer, en hy laat dit koud word. Ná ’n kwartier kom Elsje te voorskyn, bleek gepoeier om die traanspore te verberg. Sy gaan sit bedees en vermy sy oë, eet die koue kos op. Hulle praat niks. ’n Hele ruk later kom Maryn skoon windverwaaid terug. Sy het haar doodgesoek na die regte kopdoek, sug sy, en toe maar dié een gekry by ’n klein winkeltjie doer in ’n straatjie. Sy hou dit op sodat hulle kan sien en hulle inspekteer dit swygend. Net Elsje knik goedkeurend. Toe sit Maryn dit by die ander pakkies en begin gretig eet aan die koue kos, honger van die soekery.

“Nou sal ons ook maar moet spore maak,” sê Peet ten laaste, “want ek moet darem weer so teen sesuur op my pos by die oond wees, en ek wil nog voor die tyd gaan swem en slaap ook!”

Hulle is skaars op pad of Maryn se kop knik en sak na Peet se skouer toe. Hy beweeg sy arm effens sodat sy darem op ’n manier gemaklik is en blik half sku in die truspieëltjie. Elsje se gesig is afgewend; sy kyk ver by die venster uit. Dit lyk asof sy ook net so ver dink. Daar trek ’n sidderende ekstase deur hom, maak hom week en magteloos.

“Els?” vra hy net-net hoorbaar, en loer weer in die spieëltjie.

Sy keer haar gesig na hom, maar haar oë bly ver kyk. “Ja?”

“Sing vir my iets.”

Toe het hy haar volle aandag. Sy lyk verstom.

“Waarom dan?”

Hy lag saggies. Soms, dink hy, moet ’n mens jou veroorloof om sommer net te lag wanneer jy eintlik behoort te huil.

“Newwermaaind … Sing net!”

Sy kry self ’n skewe laggie.

“Wat wil jy hoor – Mozart, Denver of Goosen?”

“Goosen. Heelpad Goosen. Los Denver vir die vleisbraaiery en Mozart vir later.”

Sy bly ’n ruk lank stil, begin toe sag neurie, en later sing sy “Waterblommetjies”. Sy sing dit selfs sonder enige begeleiding met ’n warmte en ’n hartseer oorgawe wat wrange begeerte soos ’n seer spasma in Peet se borskas laat saamtrek. Toe sy klaar is, sê hy skor: “Weer ’n keer …”

Sy huiwer, maar doen dit tog. Hy luister enduit en ervaar weer dieselfde verlange voordat hy half sugtend sê: “Ek … het werklik nie geweet jy sing só nie!”

“Hoe?” vra sy, en die blote woord is ’n smeking. Hy wil-wil homself dit veroorloof om haar te sê dat sy met haar hart sing, maar beteuel hom.

“O,” sê hy argeloos, “so asof jy ’n toekoms kan hê in die sangwêreld!”

Sy oog vang haar in die spieëltjie en hy sien hoe sy toeskulp.

“’n Mens kan nie alles in die lewe wil hê nie,” sê sy, en kyk verby hom na waar die warm middaglug blink spieëlings op die teerpad maak.

“Ek weet dit net so goed soos jy,” kap hy terug, “maar ná wat ek nou gehoor het, kan ek nogal glo dat jy jou meer op sang behoort toe te spits.”

“Ag wat,” verweer sy en blik vinnig weg, “dit sal nog nie brood in my mond sit nie!”

Peet vererg hom sommer, frons sodat sy bril effens sak.

“Klink vir my na Eugene se woorde!”

“Dit is,” sê sy eerlik, en kyk stadig op totdat haar oë syne in die weerkaatsing ontmoet. “Ek … hy … bedoel dit nie so … so kru as wat dit mag klink nie!”

Hy is opeens so kortgebaker dat hy kan blaf daarvan. Wat doen ’n mens tog as jy in ’n hoek vassit? Of liewer, waar dam ’n mens jouself weer op as die walle gebreek het? Die gedagte stu en maal in hom soos waters teen ’n sluis, en hy het al sy konsentrasie nodig om te kyk waar hy ry – want sy oë volg die wit streep op die teerpad asof dit ’n toutjie in ’n doolhof is. Hy en Elsje praat nie weer nie. Hulle swyg die kilometers af tot by die uitdraaipad na Damplaas. Maar net voordat hulle by die groot hekke indraai, trag hy vir die soveelste maal daardie dag om hierdie liefdesban oor hom met woorde af te skud.

“Ons moet probeer, Els,” sê hy sag, kyk vlugtig na haar in die truspieëltjie en sien aan die skielike verdonkering van haar oë dat sy hom volkome begryp.

“Ek wens ek was so gemotiveer soos jy,” is haar vlymskerp antwoord, sodat hy sy asem intrek soos iemand wat onverwags ’n steekpyn voel. Voordat hy haar weer kan antwoord, gee Maryn ’n lang gaapsug teen sy skouer en sit orent.

“Heiden, is ons al hier?” vra sy, en toe die ander twee maar bra effentjies reageer, steek sy haar hand in Peet se deurmekaar krulhare, vryf paaiend agter oor sy nek. “Ekskuus dat ek so ongesellig was, hoor!”

Toe eers kry Peet dit reg om normaal terug te lag en te skerts.

“Ek gaan sommer vanmiddag al begin mense nooi,” kondig Maryn aan toe Peet hulle by die voordeur aflaai, “en dan hou ons oormôreaand die vleisbraaiery! Wat sê julle?”

“Net so,” sê Peet met ’n glimlag toe hy wegtrek om die BMW te gaan bêre. In die stowwerige skemer van die motorhuis skakel hy die motor af en bly net so doodstil agter die stuurwiel sit. Hy sit soos ’n robot wat al afgeskakel is, maar waarvan die ratjies en binnewerkies nog nie mooi bedaar het nie, en asof daar ’n dooie hoop is dat hy weer aan die gang kan kom. Uiteindelik doen hy dit tog; hy klim houterig uit en loop stadig uit die motorhuis om die deure toe te sluit. Die hemel weet, dink hy verstar, wanneer ek eendag weer ’n beweging sal kan maak wat nie vooraf fyn beplan is nie, wanneer ek ooit weer sal kan toegee aan die begeertes van my hart …

Die aand van die braaivleis is lousag met ’n nágloed van die dag se son. Die groot dam lê mosgroen en stil, en hier en daar dryf die laaste koper kaatsings van die lig soos plassies vuur. Die wit troppe bosluisvoëls het lankal tot bedaring gekom bo in die wilgers, en van die digte dambevolking is dit net ’n paar van die dommerige bleshoendertjies wat verstrooid huis se kant toe swem en hulle verwonder aan die helder ligte op die grasperke. Hulle word gou verwilder deur Pote, wat outoritêr vir hulle blaf en dan stywebeen en pronkerig op die wal bly staan tot hulle weg is. Die mans, wat besig is om die wit opslaanstoele en tafels op die grasperk reg te skuif, lag vir hom en roep hom om liewer die werfgespuisies in toom te kom hou. Hulle is al sedert vroegaand tjankend van opgewondenheid by die vooruitsig van al die weggooibeentjies, want die geure wat oor die werf hang en oor die water wegsweef, is genoeg om al wat vleiseter is te laat watertand. By die braaiplekke langs die huis is daar twee vet skape aan die spitte, en die dik skywe beesvleis en kerriesosaties lê en wag. Oor die yslike swart driepootpot, wat volgens Peet aan die hekse in Macbeth kon behoort het, staan Selina kromrug en roer aan die krummelpap.

Vir Peet het sy hele bestaan hier op Damplaas in ’n kookpot van emosies verander waaraan g’n towerspreuk iets kan verander nie … Veral die afgelope paar dae ná sy gesprek met Elsje was hy hom akuut daarvan bewus. Elsje is bleek en stil; Eugene is bot en swygsaam, en Maryn is borrelend van die een of ander blydskap wat sy die joos weet waarvandaan haal. Hy wat Peet is, is half gaar van binne soos hy hom na almal se grille skik. Maryn het die onhebbelikste giere in verband met die reëlings van die vleisbraaiery en vra kort-kort nog gaste by. Sy kan veral nie besluit wie om as maat vir Marcel te vra nie, want hy het glo kort en klaar geweier om self enigiemand te vra. Toe Peet in alle onskuld en met ’n knypie slinksheid voorstel dat sy die nuwe Biologie-onderwyseres vra, het sy hom ’n paar dinge toegesnou en toe in trane om verskoning gevra. Al waaroor sy praat en dink, is die komende geselligheid en wat sy alles kan doen om dit ’n onvergeetlike aand te maak. Sy kan ook glad nie besluit watter een van die sewe uitrustings wat sy besit vir ’n geleentheid soos dié, sy moet aantrek nie. Peet kan sy ore en oë nie glo nie. Hy het haar nog nooit in al die jare van hul intieme vriendskap in so ’n toestand gesien nie. Tog kan hy nie tot by die kern daarvan deurdring nie, want sy eie gevoelens is ’n onklare mengelmoes wat hom konstant laat poog tot helderder begrip van homself. Sy eie liefdespenarie gun hom geen tyd vir die analise van andere nie.

So kry Marcel hom waar hy, diep in gedagte versonke, steeds langs die spitte staan.

“Ek sal jou hier aflos, dan kan jy gaan klaarmaak,” sê hy meteens langs hom.

Peet skrik op, kyk half verbaas na die goed geklede man wie se skelblonde kuif vanaand glad van sy voorkop af weglê, en wie se modieuse klere bepaald nie sommer hier gekoop is nie. Ook Pote sit ewe goed gemanierd op sy agterpote na Peet en loer.

“Dankie,” sê hy, “dit sal nou gaaf wees!” Toe vryf hy ligweg oor Pote se kop en stap huis toe.

Op die voorstoep loop hy Eugene en Elsje raak. Hulle is ook reeds aangetrek vir die geleentheid, en na sy eerste en oombliklike bewondering vir Elsje in haar goudgeel rok wat byna tot by haar enkels klok, is dit vir hom met ’n oogopslag duidelik dat dié twee vasgesit het. Elsje se gesig is ’n yswit wolkie en op Eugene s’n is die onweerskade reeds te sien. Hy probeer nie eens vir Peet verberg dat hy lelik omgekrap is nie. Hy staar hom net ’n oomblik berekenend aan, vat toe vir Elsje stewig aan die arm en loop met haar, stywe ruggie en al, dam se kant toe. Peet is nog nie by die voordeur in nie of hy hoor hul stemme luid en protesterend soos hulle die saak probeer uitpraat. Hy sou wat wou gee om net ’n halfuur lank ’n bleshoender te wees en so van die woedende gesprek daar op die damwal te hore kon kom.

’n Kwartier later is hy self uitgevat in ’n donkerblou broek en hemp en staan hy sy brilglase en poleer toe hy Maryn na hom hoor roep.

Hy sit sy bril op en loop om haar te soek. Hy kry haar in die gang voor haar kamer.

“Genade tog,” sug sy toe sy hom gewaar, “ek’s bly jy is nog hier om my te help! My rok se ritssluiter het iewers vasgehaak en ek kan dit om die dood nie loskry nie en die mense is nou-nou …”

“Staan stil!” gebied hy. Sy maak so, draai heeltemal onbeskroomd om sodat hy kan kyk waar die fout is. Hy kry dit sonder veel gesukkel en rits haar wye vlamrooi rokkie toe. “Daar’s hy!”

“Ag dankie, man,” sê sy, bekyk hom vlugtig op en af met onpersoonlike goedkeuring en draf sonder meer die gang af sitkamer toe. Peet staan haar verdwaas en agterna kyk. Hy weet meteens baie seker wat hy vir Maryn voel, en nog al die jare gevoel het – ’n diepe broederlike teerheid. Net dit.

Toe Maryn die kombuis binnekom, is ou Selina al weer by die stoof besig om te roer aan ’n dik bruin sampioensous wat saam met die krummelpap voorgesit sal word. Maryn sien dat die ou vrou al klaar haar nuwe kopdoek aanhet, om te pas by een van haar beste swart rokke. ’n Damplaaspaartie is ’n groot ding en ’n mens moet dress daarvoor, het sy Maryn kleintyd al ingelig. Sy staak dan ook haar gekarring in die pot, bekyk haar grootmaakkind krities, knik toe vinnig met die kop.

“Jy lyk self darem baie deftig, Selina,” sê Maryn, maar vanaand kry sy nie die toegeneë reaksie waaraan sy so gewoond is nie. Die ou vrou bekyk haar met swygsame erns.

“Die beesdokter is by die vure,” sê sy net, en toe Maryn haar mond verbaas oopmaak, hou sy haar een ou hand met die krom pinkie omhoog om enige antwoord af te weer. “Ek sien wat ek sien, Marynetjie, en wat die oog sien, is wat die hart vertel …” Toe draai sy weer terug stoof toe en roer verwoed aan die dik, bruin sous.

Maryn loop amper druipstert die kombuis uit. Sy kan om die dood nie uitmaak of ou Selina goedkeur of afkeur wat sy sien, en of sy dit maar net gelate aanvaar nie. Buitendien, wát sien sy nou eintlik? Nog voordat sy self verder hieroor kan besin, trek sy haar skouers in ’n ontkennende gebaar op en stap doelgerig na waar Marcel aan een van die spitte draai. Haar pa sit ook so ’n entjie van die vuur af op ’n seilstoel en pak die sosaties een vir een op ’n groot rooster wat op die kole moet kom.

Maryn gaan slaan haar arms liefderik van agter om hom.

“En as Pa nou so sit en werk?”

“Ag, ek is moeg, kind …”

“Moeg?” Maryn is dadelik ontsteld. Frederik Basson is nie ’n man wat moeg raak nie, en dit nog minder erken as hy ooit is. As hy sê hy is moeg, is hy al klaar siek. “Maar dan moet Pa nie hiér sit nie! Kom liewer binnetoe en rus ’n bietjie in die woonkamer – die gaste sal nou begin aankom en dan sit Pa vir lank nie …”

Sy is nog meer ontstem toe hy sonder ’n verdere woord inwillig en die sosaties aan Marcel oorhandig, wat die gesprek gehoor het en ook bekommerd nader staan.

“Ek sal hier sorg, oom,” sê hy dadelik, “gaan lê gerus ’n bietjie.”

“Ek stuur vir Peet en Eugene om jou te help,” sê Maryn. “Ek weet nie waar bly hulle nie!” Sy self bied nie aan om te help nie, want op Damplaas is die braaiwerk manswerk, uit en gedaan. Sy en Elsje het saam met Selina die slaaie en bykosse gemaak.

“Soek julle my?” vra Peet, wat ook nader staan en sy oog vinnig en ondersoekend oor oom Frederik se bleek gesig laat gaan.

“Hulle piep sommer onnodig aan my, Peetman,” stel oom Frederik hom gerus, maar laat tog toe dat Maryn hom aan die arm weglei die huis in, en Peet merk met groeiende onrus en misplaaste ergerlikheid dat Eugene en Elsje nog nêrens te sien is nie. Hy gesels egter lekker met Marcel en vra belangstellend uit na al die bedrywighede met die beeste, spreek tog uiteindelik half huiwerend sy bekommernis oor oom Frederik se moegheid uit.

“Ja,” beaam Marcel, “ek het dit al die laaste week of wat opgemerk. Hy is nie vandag se kind nie en hy sal hom vir ’n rukkie moet stil gedra. Een van julle moet dit vir hom sê, want ek wil nie inmeng nie.”

Peet beloof hart en mond om net môreoggend, sodra vanaand se hele doenigheid verby is, met oom Frederik te praat en hom te maan om sy gesondheid beter op te pas.

’n Halfuur later daag daar reeds van die eerste gaste op en Eugene, Elsje en Maryn is daar om hulle te ontvang. Vir oom Frederik is daar ’n groot leunstoel buitetoe gedra, en hy sit nou gesellig en gesels met ’n paar van sy ou vriende. Peet en Marcel is maar steeds by die vure, en nadat Maryn toegesien het dat al die aanwesiges ’n glasie van oom Frederik se eie rumbola in die hand het, gaan voeg sy haar by die jolige klomp jonges om die vure. Marcel is besig om op sy stil manier ’n droë grappie aan een van die plaaslike bankbestuurders te vertel, wat die man en ’n paar ander om hulle laat skater. Om die een of ander rede voel sy skielik heeltemal uit en sy gaan soek die bekendheid van Peet se sy op. Dié staan met sy bril in sy hande en probeer die rooktrane uit sy oë vee.

“Gee vir my,” sê sy, en neem die bril by hom. Hy tuur na haar met sy bysiende oë en glimlag skeef.

“Dankie. Kan ook nie eens my eie meisie op tasafstand herken nie!”

“Gevaarlike storie,” sê sy in ’n spotstem, maar haar oë kyk vlugtig verby sy kop na waar Marcel nou weer alleen staan en stadig waarnemend om hom begin rondkyk. Net toe kom daar ’n paar van die jong onderwyseresse om die hoek van die huis gestap, staan ’n wyle op ’n bondel en huiwer, en pyl toe op ’n paar jong boere af, wat hulle skertsend nader roep. Dis duidelik dat die groepies mekaar goed ken. Net een van die meisies – ’n klein, vietse dametjie met rooi-rooi hare en ’n pikantheid wat haar hele wese aankleef – bly botstil staan, haar oë starend groot. Maryn gee Peet sy bril terug en mik om in haar rigting te stap, toe die meisie met ’n fyn geluidjie wat ’n uitroep kon gewees het, reguit op Marcel afstorm. Sy slaan haar kort armpies met ’n ekstatiese “O-Marcel-wáár-slaan-jy-uit!” om sy middel. Peet, wat weer sy bril ophet, sien dit ook – en hoe Marcel, asof vasgevang in ’n stilfoto, haar aanstaar en toe stadig sy hande op haar skouers sit in ’n gebaar wat sprekend is van persoonlike herkenning.

“Ghmf,” sê Maryn, “een van daardie meisies wat haar verbeel sy het ’n spesiale teenwoordigheid van gees wat haar sal vrywaar van sosiale flaters! Al bevlie sy nou ook ’n man op ’n vreemde plek!”

Peet se ongeërgde verbasing oor die rooikoppie se optrede verander in ongeveinsde verstomming. Hy kyk af op Maryn se verwoede gesiggie hier langs sy skouer en sien hoe wild haar mooi blou oë na Marcel en die meisie gluur, wat nou ewe gesellig wegstap na die grasperke voor die huis. Iewers in die donker agterkamers van sy gemoed gaan daar ’n deur oop en ’n skrefie lig kruip in. Dis ’n flou skemering wat gedagtes in vermoedens verander en weer die duistere oorsprong van motiewe opklaar. Nee, dink hy. Nee, nee, nee. Ek en Elsje mag nie. Maar Maryn en Marcel waaragtig óók nie. Maryn is te jonk, te blomskoon vir ’n man wat reeds die liefde in sy geheel geken het – ekstase, vervulling en smart, en wie weet op watter manier nog …

“Draai ’n bietjie die spit, ek’s nou weer hier,” sê hy gesellig aan ’n ou skoolmaat wat rustig langs hom staan en rook, en die man knik. Daarmee draai hy na Maryn en neem haar aan die arm. “Kom jy saam met my!”

Hy stap vinnig met haar deur die mense, groetlag hier en daar, en gaan by die agterdeur in tot in die groot, koel spens met sy rakke vol konfyt en inlêperskes. Die deur druk hy sonder seremonie agter hulle toe. Sy kyk na hom met gesperde oë en kry geen woord uit nie. Dis kompleet asof sy vreeslik geskrik het. En Peet met sy fyn insig weet met sekerheid dat dieselfde lig vir haar gedaag het. Sy wéét waarom sy so ontsteld was toe ’n vreemde meisie Marcel met ’n omhelsing begroet het.

“Wat makeer jou?” vra hy bars, en sy hande bewe toe hy hulle op sy heupe plaas. Hy weet voor sy siel hy sê die verkeerde dinge, maar sy ontsteltenis voer hom aan. “Jy gedra jou soos ’n bakvissie en dis nie net ek wat dit …”

“Bly stil, Peet,” sê sy kalm, haar gesiggie vol versteende emosie sodat Peet nie meer die uitdrukking daarop herken nie, net die verwese trek. Sy haal diep asem. “Moenie dinge sê waaroor jy gaan spyt hê nie!”

“Maryn,” sê hy seer, “ek wil niks sê wat jou gaan ongelukkig maak nie, maar dan moet jy ook niks dóén wat jou gaan ongelukkig maak nie. Beloof my!”

Sy kyk hom woordeloos aan, mik toe om verby hom te kom. Hy keer haar met een lang arm, en meteens kan sy tot selfs die swart van sy pupille deur die dik brillense sien.

“Ek verbied jou,” sê hy baie sag, “om enigiets met Marcel Hoffman te doen te hê!”

“Ek hoor jou,” antwoord sy net so sag, maar tussen hulle swel daar ’n drukking, wat as daar die geringste vonk van begeerte na mekaar was, in ’n soet liefdesuiting sou verskiet het. Maar nou staan hulle net en wag, verbete maar koel, dat kalmte van sinne weer oor hulle moet kom. Oplaas draai Peet self om en maak vir haar die deur byna geruisloos oop. Toe sy met ’n terughoudende blik na hom wil verbyloop, hou hy haar aan haar arm terug en trek haar versigtig, asof hy bang is vir teenstand, tot aan sy sy. Sonder om na haar af te kyk, sê hy: “Ek beplan om vroeër Leiden toe te gaan … as wat ek gedink het. Jy moet ook maar jou dingetjies begin beplan.”

Wat hy eintlik met hierdie woorde sê, weet nie hy óf sy met sekerheid nie. Hulle weet net dat daar iets gebeur het wat hulle meteens hand en tand teenoor mekaar gestel het, en dat net die diepe deernis wat hulle vir mekaar voel, hulle keer om mekaar te bevlieg.

“Ons sal maar sien, Peet,” sê Maryn suf, en stap deur die huis grasperk toe om nog ’n ronde bola te bedien voordat Selina die trollies met die braaivleis en bykosse op die voorstoep uitstoot. Peet gaan terug na die vure toe. Hy kry Marcel ook weer daar op sy pos, besig om die laaste stukke biefstuk van die roosters af te haal. Hy sit swygend hand by nadat hy Selina gehelp het om die skape op groot skinkborde te sit en kombuis toe te dra, waar sy dit behendig opsny.

Nou kyk hy tersluiks na die lang blonde man, merk die diep frons tussen die donker wenkbroue, die vertrekte mond asof hy slegte nuus gekry het. Maar hy waag dit tog om geselserig te sê: “Ek sien jy het iemand raakgeloop wat jy ken!”

Marcel klap die gebruikte rooster toe en sit dit eenkant. Toe eers kyk hy skerp na Peet, sê byna sonder dat sy lippe beweeg: “Geken hét.”

’n Stonde kyk die twee mans mekaar vierkant in die oë, hul gesigte gebaai in die roosgloed van die kole, en dis Peet wat omdraai en die bakke met vleis optel asof daar niks gebeur het nie. Hy is man genoeg om te weet dat Marcel se woorde sy beoogde gesprek tussen hulle twee nie ingelui het nie, maar afgesluit het. Marcel kon net sowel “taboe” gesê het, so sprekend is sy los-my-uit-houding.

Die gaste staan dadelik nader met hul borde wat Elsje intussen uitgedeel het. Maryn bly ingedagte staan by die hond, haar skoenpunt gerusstellend teen sy nek, en kyk na die geselsende gaste. Op die oog af geniet almal die geselligheid baie. Sy skrik op toe ’n klein figuurtjie uit die samedromming tree en doelgerig nader kom. Die rooikop van netnou. Sy wend geen poging aan om met Maryn te praat nie, staan net na die hond en kyk met ’n eienaardige uitdrukking op haar gesig.

“Nou toe nou, dieselfde Pote van destyds,” sê sy dralerig, maak haar perfekte kupido-lippies stemmig toe en laat haar oë takserend oor Maryn gaan.

“Ken jy hom?” ontglip die vraag Maryn se lippe teen haar beterwete in.

Die rooikoppie kry ’n slinkse laggie.

“Van wie praat jy nou?” vra sy liefies.

“Van Marcel Hoffman natuurlik,” kap Maryn ergerlik terug.

“O. Wel, ek ken hom, ja, goed genoeg om te weet om liefs nie oor hom te praat nie. Ek is sy oorlede vrou se niggie, sien, en ek was by toe …”

Haar mondjie klap toe en sy lyk kompleet of sy pas ’n klippie ingesluk het.

“Gaan kry vir jou iets te ete, Lilette,” praat Marcel agter Maryn, en toe die rooikop ewe gedwee wil omdraai, hou hy haar tog terug met ’n vraag: “Jy het my nog nie gesê waarom jy hierheen gekom het nie?”

Sy maak ’n sprekende gebaartjie met een handjie.

“Ag, jong, ek het mos ’n tydelike pos in die Kaap gehad. En toe ek nou hoor jy’s hiér rond … wel, toe dag ek aangesien ek tog die een of ander tyd ’n ou veranderinkie wil maak, sal dit dalk goed wees om na ’n plek te kom waar ek darem so ’n soort van ’n aanspraak het, of hoe?”

Daar is ’n kort, betekenisvolle stilte waarin Maryn haar eie hart kan hoor klop.

“Dan het jy na die verkeerde plek toe gekom,” sê Marcel kortweg, maar tree vorentoe en neem die fyne Lilette aan die arm om haar in die rigting van die kostafels te stuur. Maryn sien hoe hy in die loop oorbuk na haar toe en ’n vinnige, siedende gesprek met haar voer. Haar koppie knik op en af sodat die rooi hare om haar gesig wip en sy lyk verlig toe hy haar los en bedaard vir hom en haar begin kos inskep.

Hy wou my iets duidelik laat verstaan, dink Maryn met ’n malende gemoed, maar ook net ’n ou ietsie. Net dat Lilette ’n fout begaan as sy dink dat sy ’n aanspraak op hom het. Dalk geld dit vir Maryn Basson ook?

Toe Peet haar half ergerlik kom soek om by hom te kom sit, weet sy dat die aand wat so helder en suiwer begin het, klaaglik vertroebel het.

Helene de Kock Omnibus 9

Подняться наверх