Читать книгу Helene de Kock Keur 3 - Helene de Kock - Страница 4

1

Оглавление

Die Desembervakansie in Die Vallei volg die ou patroon: Soggens stoot die sonlig oor die bergkamme en spoel oor die klompie strandhuise wat knus in die kom tussen berg en see lê. En stadig kom daar roeringe. Gordyne word weggeskuif, pap- en brood­geure meng met die seeluggie en koffiedrinkers verskyn op balkonne. Van hul flukse bure keer uitasem terug van ’n vroeë strandstappie en stamp hul sandvoete sommer in die straat skoon terwyl hulle mekaar voorkeer vir ’n oggendgeselsie.

Almal hier ken mekaar. Jare lank al kom hulle hier vakansie hou. Hul kinders ken mekaar ook en al die huise het name. Dis mooiklinkend en paslik, en selfs vreemdelinge wat Die Vallei besoek, voel amper tuis as hulle dit lees. Kannie Kla, Kom Weer, Lekkerbly, Vuurvliegie, Onder die Kalander en Seepampoentjie. Soms bly besoekers verwonderd en half verlangend voor so ’n huis staan. Geborgenheid spreek uit die tuine vol blou en pienk krismisrose wat meestal vlak by die stoepie groei. Veral die hout­huise adem ’n soort beleënheid wat ’n mens laat drome droom.

Maar teen teedrinktyd vergader al wat leef in Die Vallei op die breë, eindelose strand. Meeue kom sit vlak by die sambrele, wag op ’n happie, en honde (wat, streng genome, daar verbode is) hap spelerig na die klein brandertjies of streep vervaard agter van die ouer manne aan op pad na die visplekke.

As die son reg bo die water staan, is dit nog net die vasbyters wat onder die sambrele bly om toebroodjies te eet en louwarm koffie uit flesse te drink. Die ander skuif weg na hul koel slaapkamers, versadig gebaljaar en wel wetende dat die berge en die see met sy hoë, wilde branders wat skuimend op die wit sand breek, môre nog daar sal wees. Want vanmiddag sal hulle na die strandmeer gaan om op kleinerige seilbootjies te vaar of hul vernuf op seilplanke teen dié van hul tienerseuns te beproef.

Teen die strook hoë duine wat strand en dorp skei, lê ’n klompie jongmense. Hulle is al van vroeg af hier, en dis nou bra tyd om die sambrele se hoek te verander om meer skadu te kry, want ’n paar roer al onrustig op hulle vrolik gestreepte handdoeke. Son­brandolie help ook net tot op ’n punt en dan word ’n mens kaiing gebraai.

“Nou vergaan ek,” kla Danien Fouché en kyk kwaai om haar rond. “Julle manne vat al die skaduwee vir julle!”

Dis ’n óú klagte en niemand steur hom juis aan haar nie.

“Ek loop sommer,” dreig sy.

Hier en daar lig daar ’n lui ooglid.

“Nou toe nou,” sug Paul Hough en kom stadig op sy elmboë orent. Hy bekyk haar met sóveel ooglopende genoegdoening dat sy vererg opstaan en haar handdoek uitskud. Nie dat sy nie sy kykery gewoond is nie, maar nou is dit te warm vir enigiets wat ’n erkentlike blos verdien.

Haar broer, Frans, lig sy kop en kyk haar onbewoë aan.

“Aangesien jy in elk geval gaan loop, bring sommer vir ons klomp iets saam om te drink, jong. Ek’s nou te lui om huis toe te loop. En sê sommer vir Ma ons sal teen skemer eers tuis wees. Ons gaan netnou Klippiesbaai toe loop en dan gaan ons later ’n bietjie rivierop roei.”

Danien hink op twee gedagtes. Sy kan haar nou vir hom vererg dat hy so lekkerlyf is, maar aan die ander kant is dit nie ’n slegte idee nie: om hier op die strand ’n ligte ietsie te eet en te drink en dan ál met die rotse langs die paadjie tot by Klippiesbaai te volg. Dis ongelooflik mooi daar en sy wil juis ’n klompie klippies optel. Dit skep so ’n mooi effek saam met potplante.

“Goed,” sê sy opeens inskiklik. “Ek sal gaan kos haal ook.”

“Moet ek saamkom?” vra Anel traag. Sy is Frans se verloofde en loer net skrams van onder haar groot strooihoed na Danien, duidelik niks lus om nou in die warm son te loop kos haal nie.

“Nee toe maar, wat,” sê Danien en glimlag vir haar. “Jy en Frans het gisteraand so laat van Plettenbergbaai af teruggekom dat jy seker nie die krag het nie.”

Anel lag net lui, ook gewoond aan Danien se geskoor. Frans het al ingedut en hoor nie eens nie.

“Ek sal saam met jou kom,” sê Paul Hough en staan op.

Dis op die punt van Danien se tong om sy aanbod te bedank, maar sy het nie die hart nie. Paul is bepaald die gaafste man wat sy ken. Vroeër was hy die gaafste seun, maar die afgelope paar vakansies het sy besef dat sy die kwalifikasie sal moet verander. Paul het ’n man geword wat koppe laat draai. Lank en skraal ge­bou, maar met ’n direkte kyk in sy blou oë en ’n glimlag wat harte wen.

“Nou kom,” sê sy luiters, en hy val langs haar in.

Hulle loop met een van die smal oopgetrapte paadjies oor die duin tot in die eerste straat en stap ’n ruk in stilte.

Toe raak hy liggies aan haar hand en vra: “Jy het nog niks gesê van jou voorgenome skoolhouery nie, Danien. Sien jy uit daarna?”

“Met gemengde gevoelens, jong. ’n Mens is tog traag om van die kampus afskeid te neem, nè?”

“O ja,” gee hy toe. “Dit het my ’n hele ruk gekos om te besef dat pasiënte nie so vol kwinkslae soos studente is nie!”

Sy lag lekker. Paul is ’n dokter wat die afgelope jaar saam met ’n paar van sy studentemaats in ’n groot praktyk in Kaapstad werk en sy weet dat dit nog maar hotagter met die klompie gaan.

Dit stem haar eensklaps mismoedig. Ons het almal nog soveel te leer, dink sy. Wanneer gaan ’n mens eendag, eendag alles weet? wonder sy. En sal dit ooit goed wees om alles te weet? Dis sulke snaakse vrae wat haar deesdae bang maak vir die toekoms. Dit en die onbekendheid van die jaar wat kom … Sal sy ooit gelukkig wees by die groot skool in Kaapstad?

“Ek is bly jy kom Kaap toe,” sê Paul meteens asof hy haar gedagtes kon volg. En toe sy verbaas opkyk, sien sy iets in sy wakker blik wat haar skigtig maak, sodat sy vervaard wegkyk.

Sy ken hom só goed. Net so goed soos al die ander daar op die strand. Sedert hul kleintyd hou hul gesinne saam hier vakansie. Elke April, Julie en Desember. Vanuit die uithoeke van die land trek hulle vakansies op om ’n groot familie hier in Die Vallei te vorm, en dan val die verhoudings in bekende voeë asof hulle nooit weg was van mekaar nie.

“Danien?”

Hy hou haar aan die arm terug en trek haar onder die skadu van ’n denneboom in. Sy oë gaan soekend oor haar sodat sy ’n blos voel kom. Dit is anders dié vakansie, flits dit deur haar kop. Dis nie net ’n gevoel nie. Dinge is aan die verander.

“Wat?” vra sy byna onhoorbaar.

“Frans sê my daar is niemand in jou lewe nie. Ek bedoel … nie ’n spesiale iemand nie …”

“Nee,” sê sy en gooi haar digte bos rooibruin hare terug oor haar skouers. “Nie juis nie …”

“Wat beteken dit?” wil hy direk weet.

Sy lig ’n skouer. “Ag wat, Paul, dit beteken net dat ek nie haas­tig is nie, en op die oomblik voel dit vir my asof ek wag en wag op iets. Wat, weet ek nie. Ek dink dis wat ’n faseverandering aan mens doen. Gister was ek ’n student en môre, oormôre moet ek voor ’n graadtwaalfklas staan en die Duits en Frans wat ek so naarstig mee geworstel het, moet glad van my tong af rol. Ek is bloot bang, dink ek.”

’n Stadige glimlag groei in sy oë en laat sy mondhoeke krul. Toe lig hy sy skraal, bruingebrande hand en raak aan haar wang.

“Toe maar,” sê hy sag, “ek sal daar wees as dit vir jou te erg word.”

Dis of die skielike emosie wat voelbaar tussen hulle is, vir haar te veel is. Sy draai haar weg en sê oor haar skouer: “Dit sal gaaf wees, hoor!”

Tuis by Meeue, een van die boserwe teenaan die voet van die berg, vind hulle haar ouers op die patio onder groot koeltebome. Karel Fouché skud net sy kop toe hy hoor hulle gaan op die strand eet en raak terstond weer verlore in sy lekker dik vakansieboek. Haar ma, Jacomien, klik haar tong, maar help gou om toebroodjies te maak en ’n paar liter koue koeldrank in ’n sak te sit.

Met die belofte dat sy en Frans en Anel vanaand tuis sal wees vir ’n gesinsete, stap Danien en Paul terug met die twee koelsakke. Op Paul se aandrang loop hulle ’n ander roete wat verby die kafee gaan. Daar glip hy na binne en kom terug met twee pakkies kougom.

“Dit help vir die dors as ’n mens na Klippiesbaai toe loop,” verweer hy skuldig, en sy lag.

“Hm, en om te dink eersdaags gaan ek kinders daarteen waar­sku!”

Hy haak gemoedelik by haar in en swaai die koelsak oor sy ander skouer. En meteens is dit lekker by hom. Die swaar emosie van netnou is weg en daar is weer die óú, argelose kameraderie. Dit kan ek immers hanteer, dink sy.

Hulle stap verby twee hipermoderne, indrukwekkende huise met hoë nokke en baie balkonne. En hulle het swaartillende name ook. Casa Nostra en Fantasia. Maar vlak daarnaas is ’n beboste erf met ’n dennehuis op pale. Vuurvliegie staan daar in dowwe, afge­skilferde letters op die dwarsplankie wat effens roer in die ligte bries.

Onwillekeurig gaan albei staan. Die plek lyk soos elke vakansie die afgelope twee jaar: skoon verlate. Só asof die eienaar dit eenkant toe gestoot het; weg uit sy lewe. Net die grasperke is ge­sny, maar dit word deur die eiendomsagent hiér gedoen, soos almal s’n. Maar die heinings langs die huis groei wild en selfs die groot bosse krismisrose en die enkele hibiskusstruik wat bloed­rooi in die blom staan, lyk vreemd ongetemd.

“’n Mens wonder darem maar …” Paul sug en Danien merk dat sy oë intens, soekend oor die huis gaan. Die voordeur is dig toe, en selfs op ’n afstand sien ’n mens die paar lote klimop wat lustig teen die pale oprank. Grasspriete groei stekelrig in hoeke en onder die hout­trap, waar die grassnyer nie bykom nie. En die gordyne is dig, die vensters vaal. Niemand kom naby die huis nie, dis seker. Vandat tant Fienie twee jaar gelede oorlede is, was Alfons nooit weer hier nie.

“Ek het tog gedink dat hy die een of ander tyd weer sy gesig sal wys,” sê Paul stadig. “Volgens hoorsê het hy tog die plekkie geërf. Tant Fienie had niemand behalwe Alfons nie. En sy was tog ook sy enigste familielid.”

“Hm …” begin Danien rustig, maar voel hoe haar pols met elke woord versnel. “Maar jy weet tog hoe geheg hy aan haar was. Sy was alles vir hom, soos jy sê. Dalk vind hy dit te hartseer om hier te kom.”

Sy is daarvan bewus dat haar asem vinnig oor haar lippe stoot, en sy maak aanstaltes om te loop. Nee wat, dink sy verleë. Dis mos nie moontlik nie. Twee jaar lank het ek hom nie gesien nie, en ek is nie meer ’n tiener wat op loop gaan nie. Ek is ’n grootmens. So? wil haar hart weet. Is dit waarom jy Vuurvliegie so ongemerk moontlik dophou vir enige, maar enige tekens van lewe? En waarom is jy elke vakansie so onnoemlik teleurgesteld as jy niks van Alfons gewaar nie? Wanneer gaan jy ooit insae in jou eie gemoed kry?

Dis of ’n hand op haar bors druk en sy teug diep na asem sodat Paul effens verbaas na haar kyk en sy gou vra: “Dink … jy Alfons sou klaar gestudeer het?”

“Natuurlik,” sê hy en begin weer aanstap, “hy is te intelligent om dit nie te doen nie. Buitendien, Vuurvliegie is seker nie ál wat tant Fienie aan hom nagelaat het nie.”

Toe hulle op die strand kom, brom die ander al.

“Waar bly julle?” wil Frans weet en reik gretig na die sak met toebroodjies.

Anel skud net haar kop laggend en help gou om die eetgoed en koeldrank uit te deel. Al gou is die warm son vergete en sit almal geselsend en eet. Môre is dit weer iemand anders se beurt om kos te bring. Bokant hulle krys ’n paar meeue en kom sit op ’n veilige afstand rondom die sambrele en wag op ’n aalmoesie.

’n Paar stappers wat die Otterwandelpad voltooi het, kom verby en almal waai vir hulle. Dis onbekendes, maar dit traak niemand.

“Kom drink iets,” roep Anel, en twee moeë jong seuns draai weg van die ander en kom sit by hulle. Gretig luister almal na die twee se entoesiastiese relaas van hul staptog. Frans en Paul-hulle het dié wandelpad al meermale gestap en hulle gesels lekker saam.

Oplaas los hulle die koelsakke net daar onder die sambrele en stap hulle verder saam met die twee seuns Klippiesbaai toe.

Al met die rotslyste langs die kranse loop hulle; vlak onder hulle die malende waters. Toe Danien klein was, moes Frans en sy maats haar dikwels dra oor dele waar die lys te smal is, maar gaandeweg het sy haar vrees vir die klotsende branders ondertoe verloor.

Sy onthou nog die dag toe Alfons, die stil eenkant-een, om­gekyk en gesien het hoe stom-beangs sy aan die skerp rotspunt vasklou. Die ander was ver vooruit en het vergeet van haar. Hy het in sy spore omgedraai en sy arms na haar uitgesteek. Sonder om te wonder daaroor het sy aan hom vasgeklou, haar kop in sy nek gedruk.

“Moet net nie afkyk nie,” het hy rustig gemaan, en haar heelpad tot by Klippiesbaai geabba.

En op al die staptogte daarná het sy gesorg dat sy vlak in sy skadu loop. Later het sy agtergekom dat sy nie werklik meer bang is nie. Sy kon op die rotslys staan en gefassineerd bly afkyk na waar die water skuimbolle onder teen die voet van die kranse slaan.

“Kom!” sê Paul skerp en hou sy hand na haar uit by die óú plek waar die paadjie slegs ’n spoorbreedte is. Sy kyk hom enigsins verbaas aan asof hy totaal onvoorsiens haar wêreld betree het, en neem tog maar sy aangebode hand. Hy help haar oor die smal plek en hou haar effe teë toe sy wil verbydruk na die breër lys.

“Jy moet kyk waar jy trap, meisie,” sê hy, en die warmte van vroeër toe hulle huis toe gestap het, is weer terug in sy oë.

“Toe maar, ek sal,” sê sy en sy voel hoe ’n warboel emosies haar weer pak. Sy wil nie heeltemal alleen wees nie, maar sy het eintlik ook nie meer lus vir die groep nie. Boweal, besef sy eens­klaps, het sy op hierdie oomblik nie lus om Klippiesbaai toe te gaan, te lag en te gesels asof sy ’n sorgelose tiener is, en dan op die óú roete ál met die kam van die berg langs terug te gaan nie.

“Luister,” sê sy gedrewe, “ek gaan terug. Die son is net te warm vir my.”

“Voel jy siekerig?” vra hy besorg.

“Nee … ek het net nie nou lus om te klim en te klouter nie.”

“Moet ek saam met jou teruggaan?” vra hy gretig, maar sy skud dadelik haar kop.

“Nee wat, ek sal regkom, dankie. Gaan geniet jy dit maar saam met Frans-hulle.”

Sy wag nie op ’n antwoord nie, draai net om en begin doelgerig met die smal paadjie terugloop. Maar sy bly bewus van hom, soos wat hy haar agternakyk. Dis kompleet of sy sy oë tastend op haar rug kan voel, en sy is verlig toe sy eindelik om ’n rots­punt se draai en uit sy oog is.

En ook weet sy sonder enige twyfel waarheen sy eintlik op pad is. Sy stryk haastig oor die los sand aan toe sy weer op die oop strand kom en gaan by die naaste duinpaadjie in, om die dorpie te bereik. Sonder om links of regs te kyk, loop sy na Vuurvliegie toe. En sy aarsel net ’n oomblik om straatop en straataf te kyk, of niemand haar gewaar nie. Maar die straat is leeg, net twee kleuters wat wankelrig op klein fietsies probeer ry. Toe stap sy oor die gras­perk en agterom die huis, waar sy weet ’n groot stoepdek is.

Haastig klim sy die houttrappe na bo, en toe sy eindelik op die koel, skaduryke stoepdek staan, golf verligting oor haar. Eindelik alleen, dink sy. Heel vakansie nog spook sy om weg te kom van die ander af. Dis of sy hul goedige geskerts nie kan veel nie. Of sy tyd nodig het om te dink, of net sommer te sit.

Sy kyk op na die takke van die groot denneboom wat byna heeldag deur heerlik skemer maak op die dek. En sy onthou wyle tant Fienie se woorde: “So ’n lekker boom dié. Altemit nie so kosbaar soos die bosbome, die witels en die kershoute en die stink­houte nie, maar nogtans ’n boom-boom. Hy beskut en beskadu en is nes ’n skouer waarteen ’n mens kan huil.” So het dié den dan die boom-boom geword.

Die dek lê dik van die dooie bruin naalde, sien sy. Hier en daar het die wind ’n oop kol gewaai, maar selfs die twee houtdekstoele is vuil en vol droë blare. Daar lê allerlei opdrifsels teen die toe deur wat die huis binnelei.

’n Lus om skoon te maak kom in haar op. Onder op die grond lê ’n paar dooie takke, sien sy, en toe sy dit gaan haal, merk sy dat die blare nog nie heeltemal verdor het nie. Dit sal lekker veegoed wees.

Sy vee en vee. Haar rug word seer en haar skouers pyn, maar met elke veeg word dit lekkerder. Die hele dek is naderhand skoon en ook die twee groot houtstoele, waarop ’n mens langbeen kan sit. Tóé eers is sy tevrede. En amper gelukkig. Sy gooi die takke weg en teug, hande op die heupe, na asem.

Sy dink, toe sy in die groot denneboom se digte donker takke opkyk: Net ’n mens-mens soos tant Fienie sou vir ’n boom so lief kon word. Sy en haar amper-kind, soos wat sy Alfons genoem het. Hier het hulle altyd soggens ontbyt geëet en ook smiddae en saans versigtig in een hoek van die dek op ’n skottelskaar vuur gemaak sodat die rokies verby die boom-boom trek.

Sy gaan sit in een van die houtstoele, krul haar bene onder haar in, laat haar kop agtertoe sak. En haar laaste gedagtes voordat sy wegraak, is soet en salig, en vol van donkeroog-Alfons en sy liewe tant Fienie.

Die middag verloor sy hitte, word sag skemer toe die man met sy klein wit sportmotor onder die dak stilhou en swaarlittig van die langpad uitklim. Hy aarsel ’n oomblik, maar besluit om eers te verken voordat hy kom aflaai.

Hy is groot en breedgeskouer en hy vee ’n paar maal moeg met sy hand oor sy gesig en sy donker kop tot waar die steil, sterk hare klam in sy nek krul. Toe loop hy eers óm die huis, skigtig soos iemand wat vreemd is. Maar by die houttrap huiwer hy nie, klim ligvoets boontoe.

Op die dek gaan hy staan en sy mond sak oop in verstomming. Hy sien die skoon dek en vir Danien, waar sy soos ’n kind slaap met haar hand onder haar wang. Emosie kom en gaan op sy gesig. Sy groot bruin oë gaan tastend oor haar mooi gevormde liggaam in die kort strandjurkie, die blink rooibruin hare wat los om haar kop lê en die sagte, weerlose mond.

“Danien …” sê hy, maar dis klankloos asof sy keel toegetrek het.

Hy bly besluiteloos staan, maar sy oë bly op haar. Later sug hy en kyk op in die boom-boom se swartgroen donkerte en ’n frons trek op sy voorkop saam. En dit bly daar asof ’n diep kommer hom gepak het.

Só sien Danien hom toe haar oë oopgaan en sy vir ’n oomblik verlore om haar rondkyk – ’n kort oomblik waarin sy tot haar sinne geskok word. Want sy herken hom oombliklik: Alfons. Net so effentjies vreemd lyk hy in die langbroek en wit hemp. Hier het sy hom nog altyd net in stranddrag gesien. Selfs na die houtkerk toe, Sondae, dra die jong klomp langbroek en dagrokkies, en laas was hy ewe sedig langs tant Fienie en het hy nie gelyk soos nóú nie.

Wat is anders aan hom? vliet dit deur haar kop. Niks tasbaars nie. Niks sigbaars nie. Net ’n vreemd-volwasse aura wat haar be­koor en bang maak. Sy moet ’n roerinkie gemaak het, want hy kyk skerp af en sy mond trek in die óú bekende, effense laggie.

“Hallo,” sê hy in sy diep, mooi stem.

“Hallo, Alfons,” groet sy nietemin bedaard, self verbaas om te hoor dat haar stem funksioneer. En toe beduie sy met ’n skraal hand om haar rond: “Ek het net kom kyk hoe dit nog hier lyk en toe vee ek sommer ’n bietjie … dit … dit was so vol dooie naalde … enne …”

“Toe word jy moeg en raak aan die slaap?” Hy lag sag en hou ’n hand na haar uit. Só natuurlik doen hy dit dat sy sonder aarse­ling haar vingers daarom vou, en sy skrik eers toe hul palms styf teen mekaar druk en hy haar nader trek om haar ligweg op haar voorkop te soen.

“Hallo, Danien Fouché,” sê hy formeel, en toe sy nie ’n woord uitkry nie: “Om te dink ek het al ophou glo in ’n goeie fee, en kyk nou net, my stoep is skoon.”

My kop kom tot net onder sy ken, dink sy, maar sy sê koelweg: “O, maar dit is ’n verligte fee dié, want ek reken ek het my kwota vir vandag gedoen.”

Hy buig sy kop effens om haar reg in die oë te kyk, en die frons is terug op sy voorkop toe hy sê: “Ek wonder … Hoe verlig is jy werklik, mooi Danien?”

Sy lig haar ken. Daar was ’n uitdaging in sy stem. Meer as dit: ’n oproep. Tot wat? wonder sy. Maar sy glimlag.

“Verlig genoeg om my eie kop te volg, Alfons.”

“Tot jy hom stamp?”

Sy wil haar vererg, maar daar is iets in sy direkte blik, in sy hele houding wat gespanne wag op haar antwoord, en sy sê sag: “Nee, ek is verby die storm-en-drang, Alfons. En ek is nie meer ’n kind nie.”

“Ek weet dit,” val hy haar amper ongeduldig in die rede. “En ek sien dit. Jy het ’n vrou geword, Danien. Maar dis nie wat ek jou gevra het nie.”

Dit kan tog nie wees nie, dink sy verstom. Ons het so pas weer ontmoet ná jare se skeiding, en binne minute het ons gesprek verdiep tot dié tussen twee mense wat mekaar intiem ken. Maar was dit dan nie altyd so nie? Sy en hierdie man het ’n woordelose verstandhouding gehad sedert die dag dat hy haar bewend van vrees by die rotspunt kom haal het en op sy rug verder gedra het.

Sy kyk op na hom en weet: Ek het ’n grondelose vertroue in hom. Ongegrond dalk ook, want veel meer as ’n paar insidente en ’n diepgesetelde intuïsie het ek nie. Ek weet met my hart dat ek hom kan vertrou …

“Danien?” por hy dringend, asof hy bang is die oomblik sal vergaan voordat hulle klaar gepraat het. En hul gesigte is dig by mekaar toe sy hom antwoord.

“Ek is nie onbesonne nie, Alfons. Ek volg my kop solank as wat ek weet dis reg so.”

“En as jy nie vir seker weet nie?”

Sy staar hom aan. Dis of die hele dag, die hele vakansie afge­stuur het op hierdie oomblik en hierdie vraag. Dit verwar haar, maak haar opnuut bang. Dis asof Alfons al die óú, ingewikkelde kwessies van die lewe in hierdie enkele vraag bewoord het en by haar, Danien Fouché, die antwoord wil hê. Een magtige antwoord wat rus en vrede sal bring.

“Ek kan nie sê nie!” roep sy onthuts uit. “Ek was nog nooit in ’n situasie wat ek nie geweet het nie!”

’n Sekonde nog bly sy gesig so intens gekweld, en toe versag sy mond, en hy raak ligweg aan haar wang.

“Toe maar, dalk word dit nooit nodig vir jou om te weet nie. Sommige mense is so gelukkig. Die lewe loop vir hulle in gladde, gebaande weë …”

“Is daar fout mee?” vra sy halfkwaad, halfontsteld.

“Nee,” sê hy dadelik, “gebaande weë moet daar ook wees. En dis wat ek vir jou toewens, Danien!”

Sy kyk hom takserend aan. En vir die eerste maal dring dit tot haar deur: Alfons het ’n probleem. Wat weet sy nie, maar die tekens is onmiskenbaar. Die skadu’s in sy oë, selfs al lag hy. Die effense stroefheid om sy mond wat hom ouer as sy jare laat lyk. En sy waag dit om te sê: “Dis ’n baie vreemde gesprek, Alfons.”

Dis of daar ’n waaksaamheid oor hom kom, maar hy staan weg en lag skielik, maak haar woorde met ’n handgebaar af.

“Ag wat, jong, ek het vandag te ver en te vinnig gery. Dit maak my praterig. Dit en slapende meisies op stoepdekke.”

Tot haar ergernis begin haar hart bons, want hy byt lig op sy onderlip en sy oë gaan dralend en met uitgesproke waardering oor haar.

“Ek moet nou gaan,” sê sy. “Niemand weet waar ek is nie … enne … hulle soek seker al.”

“En jy wil nie hê hulle moet weet dat jy stoepslaap nie?” terg hy.

Dis weer die óú Alfons, wat haar nog al die jare so stilweg be­koor het, en sonder dat sy in die minste iets daaraan kan doen, bloos sy tot in haar hare. Sy kan die gloed behoorlik voel en sy vlieg vervaard om om die eerste trappie mis te trap sodat sy na die reling moet gryp. Sy spring-spring tot onder, vies vir haarself en vir hom wat haar glimlaggend bo van die dek af staan en bekyk.

“Wanneer kom jy weer vee, Goeie Fee?” roep hy agterna.

“Wanneer ek betaal word!” roep sy oor haar skouer terug en slaan oor op ’n draffie.

Haar ma se oë rek toe sy by die kombuis instap.

“Ons wou-wou net bekommerd raak. As dit enige ander plek as Die Vallei was, was ek nou al rasend. Waar was jy?”

“Ek …” begin Danien, maar besef in ’n oogwink dat sy nie lus het om enigiemand te vertel waar sy die middag deurgebring het nie. “Ag, ek was nie lus om saam met die ander te loop nie en toe gaan stap ek sommer net. Later het ek vaak geword en gaan sit. Toe slaap ek.”

Die waarheid, al is dit nou nie die volle waarheid nie. Sy sien haar ma se worsteling om dit te glo, en spring haar voor. “Ek sal later alles vertel, maar nou wil ek eers gaan stort.”

Toe sy onder die spuitende water staan, kom daar ’n koele be­sinning oor haar. Wat het my besiel, wonder sy verstom, om Vuur­vliegie se stoep te gaan vee? Maar sy keer die gedagte weg, want dis ’n groot gedagte. Te groot om nóú te oordink. Die gesprek ook. Vannag, as sy alleen in die donker is, sal sy dit met haarself aanroer. Want waarom het sy niks, maar niks uitgevra na die jare tussenin nie? Waarom het hy niks laat val nie? En hoekom voel dit skielik asof Alfons eintlik nooit weg was nie?

Sy vryf haar hare droog en trek gou aan. ’n Ligblou rok en wit sandale. En sy grimeer met sorg, tik reukwater met ’n fris jasmyn­geur aan. Toe sy onder in die ruim woonvertrek kom, sit almal al aan tafel. Haar ma en pa, Frans en Anel wat saam met hulle vakansie hou.

En Alfons.

Skrik spring in haar op, maar die gesig wat hy na haar draai, is die ene verrassing.

“Nou toe nou, Danien!” Hy glimlag toe hy opstaan en ’n hand na haar uitsteek. “Lanklaas gesien, nè?”

Haar keel voel stram van spanning, maar sy beantwoord sy glimlag ewe lief, skud sy hand.

“Waar was jy al die tyd, jong?” vra sy en gaan sit op haar plek tussen hom en Frans.

“Laat ons eers die seën vra,” sê haar pa, en almal buig die hoof en hou hande. Ook Alfons vou sy hand oor hare, wat langs haar bord lê. Die aanraking ontstig haar só dat sy niks van die tafelgebed hoor nie. Daar is ’n druising in haar ore en ’n bewerigheid in die vingerpunte wat Alfons al stywer vasdruk. Toe haar pa amen sê, kyk sy verskrik op, maar almal vou ewe kalm hul ser­vette oop en haar ma trek die bak bredie nader om in te skep.

“Gee julle borde aan!” sê sy vrolik. “Mooi op die ry af. Alfons, vertel jy solank alles! Maar alles, hoor!”

“Goed, tant Jacomien,” sê Alfons met ’n guitige inskiklikheid. “Maar daar is in der waarheid nie veel te sê nie. Ek het geswot en geswot totdat ek klaar was.”

“So alleen in jou tant Fienie se huis in Pretoria?” vra tant Jacomien simpatiek, en gee sy bord ’n ekstra skeppie.

“Ag ja, wat. Die huis is mos nou myne en dis so gerieflik na aan die universiteit dat dit dwaas sou gewees het om dit te ver­koop. Buitendien, daar lê mooi herinneringe aan haar.”

“Jou tante was ’n baie mooi mens,” sê oom Karel peinsend. “Dit was swaar vir ons Valleiers om Vuurvliegie so dig toe te sien staan. Hoe vele male het ek en Jacomien nie daar ingeval vir ’n koppie koffie nie …”

“Ja …” antwoord Alfons sag, en Danien sien dat hy sy vingers plat druk op die tafel langs sy bord, só asof hy bang is dat hulle aan die bewe sal gaan.

“Ons het jou gemis hier,” sê Frans reguit. “Die vakansiejollery is net nie dieselfde sonder jou nie.”

“Dankie.” Alfons glimlag. “Dis goed om dit te hoor.” Maar hy begin ietwat haastig te eet, asof die woorde hom bewoë stem.

“Waarom het jy nooit kom vakansie hou nie?” wil Frans on­verstoorbaar weet.

Alfons kou stadig klaar, kyk stilweg na Frans toe hy sê: “Ná tant Fienie se dood het ek vir ’n jaar lank in Europa en Amerika rondgeloop …”

“O, hoe lekker!” laat Anel hoor, en tant Jacomien beaam dit kopknikkend. Dat hy een en almal se volle aandag het, is nie altemit nie.

“Dit was lekker … en insiggewend,” sê hy stadig, en vir ’n kort oomblik het sy gesig weer die intense, gekwelde uitdrukking soos tydens hul stoepgesprek van vroeër. Maar toe glimlag hy en sy oë soek Danien s’n sodat sy spontaan terugglimlag en wonder of sy haar dit nie maar verbeel het dat hy so flus weer bekommerd gelyk het nie.

“Nou ja,” gaan hy rustig voort, “toe ek terugkom, was dit moei­lik om weer te begin studeer. Ek moes vakansies ook maar studeer om weer by te kom, en toe ek eers aan die gang was met die studie het ek maar aan die gang gebly. Ek moet sê, ek is bly dat ek eindelik sover gekom het om hierheen te kom. Ek is doodmoeg en sien uit na my vakansie.”

“En het jy toe LLB klaargemaak?” por Frans geïnteresseerd.

“So pas, ja. En jy?”

“Maar dis gaaf!” roep Frans hartlik uit. “Ja, ek ook, ou maat, en laat ek jou sê, dis ’n allemintige gevoel! Nou’t ek nog planne om Leiden toe te gaan vir verdere studie. Ek het bitter lus vir ’n pos aan ’n universiteit. Wat gaan jy maak?”

Alfons se gesig verstil, toe skud hy sy kop.

“Weet nie mooi nie. Dalk swot ek ook verder. Miskien aan ’n ander universiteit. Ek wil eers dink daaroor.”

Daar is ’n klank in sy stem wat verdere vrae verbied, en Frans kyk ondersoekend na hom, reg om hom te peper met allerlei in­dringende vrae. Maar hy vang Danien se oog toe dié hom kwaai aankyk, en hy swyg.

Later skuif almal stoep toe om verder te gesels, tot Anel en tant Jacomien koffie bring. Dis ’n breë houtstoep wat al om die huis loop, en Alfons kom sit op die houtreling langs Danien. Daar sak ’n stilte wat haar pa behaaglik na sy pyp laat reik. Dis soos altyd, dink Danien verstom. Asof Alfons net nooit weg was nie.

“Kyk net,” sê Alfons sag langs haar, “vuurvliegies … Tant Fienie het hulle mos die aan-en-af-goggies genoem!”

“Ja!” Sy gee ’n laggie. “Ek onthou!” En sy kyk gefassineerd hoe ’n hand vol vuurvliegies, so eie aan die aande in Die Vallei, verskyn en verdwyn in die ruigte wat vlak by die kant van die stoep begin. Verskyn en verdwyn, dink sy onwillekeurig. Dan hier, dan daar. Die aan-en-af-goggies …

Anel en tant Jacomien kom met die koffie en beskuit, en almal sit skaars met hul koppies of Paul Hough en ’n paar van hul ander vriende daag op.

“Ons het gewonder wat van jou geword het,” sê Paul geselse­rig, en steek vas toe hy Alfons sien.

“Kyk wie het teruggekom,” sê Danien bedaard, en daar is ’n oor-en-weer-groetery waarin Alfons oor en oor moet vertel van die twee jaar toe hy nooit hierheen gekom het nie.

In die halflig van die stoeplantern kyk Danien na die gesigte van die twee mans wat die meeste praatwerk doen: Paul en Al­fons. Hulle gesels land en sand, maar Paul se gesig bly vol onuitgesproke vrae. Alfons kry soms midde-in die gesprek die vreem­de, waaksame kyk in sy oë, en partymaal dink hy lank voordat hy antwoord.

En meteens weet Danien: Die vreemde gevoel wat haar heel vakansie nog vir haarself laat vlug, is ’n sekere voorwete. Van wat weet sy nie, net dat dit soet en bitter gaan wees. Want Alfons het teruggekom. En saam met hom – konflik.

Helene de Kock Keur 3

Подняться наверх