Читать книгу Helene de Kock Keur 3 - Helene de Kock - Страница 9

6

Оглавление

Die dag ná Paul se onverwagte besoek kom Danien moeg tuis. Dit was ’n vermoeiende dag en sy het tennis afgerig en na ’n klomp voornemende sprekers vir die graadagts se debat geluister. Sy het skaars klaar gestort en ’n geel langbroek en bloes aan­ge­trek, of sowel Henk as Hilda maak hul verskyning. Sy moet lag kry, want hulle lyk so openlik nuuskierig en sy weet mos hulle wonder oor haar besoeker van die vorige aand.

“Is jy lus vir slap skyfies?” wil Henk luiters weet, maar sy wakker grys oë bly ondersoekend op haar.

“Ek het hom opgesteek,” sê Hilda, “want ek kan doodgaan van lus vir iets lekkers!”

“Oor my dooie liggaam,” sê Danien kwaai. “As julle twee dan nou weer te lui is om vir julle self kos te maak, laat dit aan my oor. Loop doen solank iets anders, dan kom julle weer oor sowat ’n halfuur. Ek gaan paella maak. En daar’s nog sjerrie van gisteraand oor.”

Hulle bly staan asof hulle geplant is.

“Sjerrie?” sê Hilda. “Dit klink mos lekker! Wie’t dit vir jou ge­gee! Jou broer …? Was dit hy wat gisteraand hier was?”

“My broer is op die plaas besig om my pa met parstyd te help. Soos julle seker weet, is dit nou tyd daarvoor. En hy het nie die sjerrie gegee nie. My pa het. En hy het dit gemaak ook. Of liewer, hy het gesorg dat die mos in die vate kom. Die res het die tyd en genade gedoen.”

Hilda kyk haar fronsend aan. “Goed, goed. Maar wil jy nou hê ons moet glo dit was jou pa wat gisteraand hier was?”

Danien draai haar om om ’n vrolike voorskootjie van ’n hakie aan die muur af te haal, en buk by ’n rooigeverfde kas om die pak met rys te kry.

“Dit was dokter Paul Hough,” sê sy styf. “En loop nou. Ek kook nooit voor ’n gehoor nie.”

Toe hulle byna ’n uur later terugkom, is dit half bedees en elkeen met ’n klein bossie rosies wat hulle ongetwyfeld van die ry miniatuurboompies in mevrou Breda se tuin gegaps het. Hulle loer na mekaar en sê gelyktydig asof hulle iets voordra: “Ons is jammer dat ons te veel vrae vra.”

Danien pers haar mond saam, maar neem die rosies uit hul uitgestrekte hande.

“Dankie, maar skaam julle. Nou voel ek sleg.”

“Moenie,” sê Hilda gemaklik, toe hulle instap. “As jy ons niks wil vertel nie, moet dan nie. Maar as jy natuurlik wil, sal ons dit op prys stel.”

“Hilda,” maan Henk, “moet nou nie weer alles bederf nie. Jy sien mos Danien het nie lus vir ons nie. Netnou weier sy nog om vir ons kos te gee ook.”

Oplaas kan sy dit tog nie hou nie, en begin lag. “Ek gee op. Julle is eens te veel vir my. Sit tog, dan vertel ek julle van die man.”

Sy skink van die sjerrie in Paul se silwerkelkies, en Hilda maak haar tuis op die bank voor die venster. En byna sonder dat sy dit besef, beslis sonder dat sy dit vooraf so gewil het, vertel Danien hulle van Die Vallei. Haar stem word dromerig, huiwer soms tussen woorde, raak selfs heeltemal weg, sodat sy doodstil voor haar sit en kyk en hulle onderlangs veelseggend na mekaar loer.

“Dit moet voorwaar ’n wonderlike plek wees,” sê Henk. “Ek het nie geweet daar is nog sulke plekke in ons land nie.”

“En het jy dié … dié Paul dáár ontmoet?” vra Hilda, soos gewoonlik op die man af.

“O ja, maar baie lank gelede al. Ons ken mekaar sedert ons kindertyd. Elke vakansie gaan ons soontoe. Ons en hulle, en nog baie ander gesinne wat oor jare heen hegte vriendskappe gesmee het.”

Sy vertel nog, sien hoe die verwondering en ’n soort verlange op hul gesigte groei. Maar oor Alfons sê sy niks. Sy vertel van die breë wit strand, waar ’n mens soms só vry voel asof jy die hele wêreld in jou hand het; van die bosbedekte berge en die strandmeer, waar die wind so lekker saamspeel as ’n mens wil seil. Sy beskryf hul houthuis, Meeue, en die houtkerk en ook vir Vuur­vliegie, waar daar eens op ’n tyd ’n baie liewe ou dame gewoon het. Maar oor Alfons swyg sy asof hy nooit ’n spoor op die duine gelaat het nie.

“Ek dink julle twee moet Aprilmaand saam met ons gaan vakansie hou,” sê sy eindelik. “Dan sal Frans en Anel al weg wees en dit sal bra alleen wees daar sonder hulle. Ja, tóé,” raak sy eens­klaps entoesiasties. “Kom saam met ons. My ouers sal net so bly wees as die huis nie leeg is nie!”

Hilda se gesig straal.

“O, ek sal beslis gaan, al moet ek heeltyd skottelgoed was!”

Henk glimlag toegeeflik na haar kant toe, maar skud sy kop. “Baie dankie vir die uitnodiging. Dit klink te wonderlik om waar te wees, maar ek …”

“Het Hantie Louw jou Gauteng toe genooi?” vra Danien be­grypend.

Hy knik net, maar sy sien dat hy wegkyk en ’n stroefheid het om sy mond gekom.

Wat sou dit wees? Wonder sy onwillekeurig. ’n Brief wat nie opgedaag het nie? Of dalk ’n selfoonoproep waarin nie een van dié twee hul ware gevoelens kon uitdruk nie? ’n Jammerte kom in haar op vir dié stil, besadigde man wat sy nog maar net ’n paar weke lank ken en tog goed mee bevriend is. Maar nog voordat sy verder kan uitvra, kyk hy glimlaggend op.

“Wel, ons weet nog nie juis wie jou kuiergas van gisteraand is nie. Is dié Paul Hough dus die man oor wie jy saans so diep dink daar in die tuin?”

Die vraag vang haar onkant. Hoe gekgraag wil sy hulle nie van Alfons vertel nie! Hoe verskriklik verlang sy nie daarna om dood­gewoon verlief te wees en dit vir die wêreld te wys nie. Sy het nie lus om oor Paul Hough te praat nie. Maar sy skud net haar kop.

“Nee,” sê sy reguit. “Dis nie hy nie. En moet my asseblief niks verder uitvra nie. Dis ’n baie delikate saak.”

“Og, liefde is altyd,” sê Hilda met ’n waai van haar hand, maar haar andersins gemoedelike uitdrukking is baie ernstig toe sy weer praat. “Tog kan riviere dit nie oorstroom nie. So staan dit geskrywe.”

Daar sak ’n swaar stilte. Danien en Henk kyk haar ietwat verstom aan, sodat sy half ergerlik sê: “Nou toe! Julle het gedink ou vet Hilda kan nie ook voel nie, nè? Wel, dis juis omdat daar so baie van my is, dat ek so baie kan voel!” En sy lag lekker oor haar eie grappie.

Maar Danien staan stil op om die kos in te skep en ook Henk kyk swygend by die venster uit.

“Ek het nog nooit gedink dat jy ’n ongevoelige mens is nie, Hilda,” sê Henk sag, toe hulle by die klein etenstafel in die hoek van die woonvertrek aansit. “Ek dink wel jy steek net so baie weg soos elkeen van ons. Wys my die mens wat nie vol geheime is nie, en ek sal bewys dat dit ’n standbeeld is.”

Hilda se oë rek asof sy geskrik het, maar sy knipoog vir Danien. “Hoor net daar, nè? Die arme ding moes ’n harde dag in die hof gehad het. Sien en hoor te veel gruwelike dinge. Kom ons praat liewer oor jou broer se troue. Gaan daar baie mense wees? En is die trourok al klaar?”

“Kant en klaar,” sê Danien, en toe sy elkeen se bord met paella voor hom neersit, sê sy half skuldig: “Ek moes julle al oorgevra het vir ’n naweek, maar dit het tot dusver net te dol gegaan. Die onthaal word juis op Fleur du Vin gegee omdat Anel se mense in die Karoo woon en al hul eie vriende en familie hier in die Kaap is. Sy en haar ouers sal sowat ’n week voor die tyd na ons toe kom.”

Henk vra die seën soos altyd in die laaste tyd wanneer hulle so saam eet, en toe sê Danien: “Luister, ek wil hê julle twee moet dié naweek saam met my na Fleur du Vin gaan. Dis hoog tyd dat my ouers darem sien saam met wie ek woon, of hoe?”

“Oe, ek wil graag saamgaan!” sê Hilda spontaan, maar Henk glimlag net effentjies sodat sy op die daad vererg opmerk: “Nou wil jy seker nie gaan nie omdat jy meen dat die liewe Hantie jou kwalik sal neem as jy saam met twee sulke mooi vriendinne soos ons op ’n wynplaas gaan kuier!”

Henk se mond gaan in protes oop, maar hy maak dit weer toe, tuur fronsend na die laaste bietjie paella op sy bord. “Sy … e … Hantie is nie die besitlike tipe nie,” antwoord hy botweg.

“O, nou maar gaaf.” Hilda knipoog vir Danien, wat die ge­sprek gespanne sit en beluister. “Dan gaan jy saam en jy kan later aan die liewe Hantie verslag doen van elke heerlike oomblik. Miskien leer sy iets daaruit.”

Danien frons kwaai na Hilda se kant toe en staan gou op om ’n bietjie roomys wat van ’n vorige saametery oorgebly het, in te skep. Tot haar verbasing bly Hilda veelseggend stil, rol net haar oë oor Henk se ewe dikke swye. Dat iets dié man pla, word al hoe duideliker. En toe hy oplaas bedees dankie sê vir die lekker ete en loop, sê Hilda half stug: “Ek word sommer kwaad vir hom, weet jy. ’n Mens laat nie so met jou mors nie.”

“Hoe so?” vra Danien verbaas.

“Wel, dié Hantie van hom is ’n baie mooi klein feeks. Sy het een kort vakansie hier by hom kom kuier en ek en mevrou Breda kon haar nie veel nie. Die ene ogies en heupies, hoor. Soggens kry ’n mens haar nie met ’n bom uit die bed nie, maar glo my, hoe later dit word hoe kwater word die katjie. Saans sit sy smeulend in die sitkamer en rooi wyn drink, en sy rook totdat ’n mens begin vermoed dat jy dalk bysiende is. En dan raak sy die grootste klomp snert kwyt en verwag dat ’n mens daarmee moet saamstem. Nee wat, Danien, hoe gouer Henk van haar afsien, hoe beter.”

Haar stem het driftig geklim en Danien sit haar enigsins verstom en aanhoor.

“Maar as Henk nou lief is vir haar?” waag sy dit.

“Lief? Og, ek twyfel. Verslaaf aan haar, ja. ’n Jare lange verhouding wat so af en toe gevoed word deur sy besoeke, wanneer sy hom net genoeg gee om hom te laat uitsien na die volgende besoek. As sy hom regtig wou gehad het, sê ek jou, was sy nou al met hom getroud. Ek dink sy hou hom vir die gek.”

“Hoe vreeslik,” sug Danien beswaard. “Dit verdien Henk darem nou nie.”

“Wat wou,” sê Hilda ergerlik en staan op om te help afdek. “Vir jou eie stiksienigheid moet jy maar betaal.”

Maar sy plak die leë borde rinkelend op die skinkbord neer en toe sy uitstap na die kombuisie aan die onderpunt van die gang om solank te begin opwas, is haar stappie só driftig dat Danien die breekgoed hoor rinkel lank nadat sy uit is. Nou toe nou, dink sy verwonderd, maar sit haar haastig agterna om te gaan help.

Net toe die groot, krakende ou huis weer effens tot bedaring gekom het en net mevrou Breda en haar brugvriendinne se ge­dempte gepraat onder in die sitkamer hoorbaar is, lui die voor­deurklokkie. Enkele minute later kom roep sy vir Danien.

“Weer die mooi man van nou die aand,” kondig sy skalks aan.

“Paul Hough,” sê Danien en verduidelik gelate: “Hy is ’n nuwe dokter hier in Kaapstad.”

“Dan moet jy hom laat tuis voel,” meen mevrou Breda moe­derlik. “Nooi hom volgende keer saam as ons vier gaan uiteet.”

“Ek sal, ja,” sê Danien en stap saam met haar af ondertoe.

Paul se gesig helder dadelik op toe hy haar sien. “Jy lyk fraai,” sê hy sonder om te groet. “Die geel laat jou soos ’n botterblommetjie of so iets lyk.”

Danien lag. Sy het al vergeet dat geel haar goed laat lyk. Maar dis so lekker om dit te hoor.

“Dankie, hoor. Ek het so baie nasienwerk dat ek ’n kompliment nodig het!”

Paul vang haar hande vas voordat sy weet wat sy bedoeling is, en trek haar nader. “Ek het ’n hele sak vol komplimente,” sê hy en glimlag in haar oë. “Jy moet net die woord spreek.”

“Ek …” begin sy stamelend, maar kom nie verder nie.

“Toe maar,” sê hy en laat haar hande los. “Ek wil net hê jy moet opnuut weet dat ek daar is, Danien.”

“Dankie,” sê sy, opeens stom-ongelukkig. Hierdie man is iemand wat nooit mislei mag word nie. En sy wil hom graag sien, besef sy nou. Baie graag. Hy is gaaf en interessant en slaag daarin om haar soos ’n mooi vrou te laat voel. Maar hy is nie Alfons nie. Dié gedagte kom só skerp en seer by haar op dat sy instinktief haar kop skud.

“Wat is dit, Danien?” vra hy stil. “Moet ek liewer nie kom nie?”

“Nee, dis nie dit nie. Ek wil jou sien. Regtig. Dis net dat ek nie …”

“’n Verhouding met my wil aanknoop nie?”

Sy knik swygend. En sy wens skielik brandend om hom alles te kon vertel. Van haar en Alfons. En van die verskriklike onse­kerheid. Waar is Alfons Minnaar op hierdie oomblik? Wat doen hy? Die gevoel pak haar met sóveel drif dat haar mond begin bewe en sy ontstemd haar vingers op haar lippe druk.

“Ag nee … nee, tog! Ek wil tog nie só ’n reaksie by jou ontlok nie, Danien.” Hy neem haar sonder meer aan die arm en loop met haar na buite.

Die aand lê loom in die tuin. Bokant hul koppe roer voëls in die bome en ’n tortel bly verskrik stil toe hulle by die visdam­me­tjie op die bankie gaan sit. Sy laat toe dat hy haar hand versigtig in syne toevou en kyk stom na hom toe hy begin praat. Sag en doelgerig, maar met ’n radeloosheid in sy stem wat haar net nog droewiger stem.

“Ek weet nie wat dit is wat jou so ry nie, maar die hemel weet, ek gee genoeg vir jou om om dit my besigheid ook te maak. Wil jy my nie asseblief … asseblief vertel nie?”

“Ek kan nie,” fluister sy tussen stywe lippe deur.

Maar hy skud sy kop verbete. “Ek aanvaar dit nie, Danien. Die hele Desembervakansie was jy soos ’n seediertjie op ’n rots. By die geringste beweging na jou kant toe, het jy laat spaander. En ek weet genoeg van mense om iets in jou te herken.”

“Wat?” fluister sy betraand.

Hy gee ’n blaaslaggie, skud sy kop weer. “Ag, Danien, jy is ’n vrou en iewers is daar ’n man wat jou omkrap. Ongelukkig begin ek nou besef dat dit nie ek is nie. En meer nog, ek het ’n sterk vermoede dat dit ons vriend Alfons is. Terloops, het jy geweet dat hy sy plek in Pretoria so pas verkoop het?”

Haar kop ruk op en sy weet dat sy niks daaraan kan doen nie. Alles staan op haar gesig: skrik, ontsteltenis en verlange. Maar ook ’n fyn, soet glimlaggie wat trek aan haar mondhoeke by dié paar druppeltjies nuus oor hom.

“Hoe … hoe weet jy?” kry sy eindelik uit, en sien hoe sy gesig geslote raak.

Hy sê stug: “Dan is dit so. Moet dit nie eens probeer ontken nie. Jy is verlief op Alfons. En hy op jou.”

Maar sy herwin tóg iets van haar selfbeheersing. “Dis veel meer verwikkeld as dit, Paul. En ek wil werklik nie daaroor praat nie. Miskien ook omdat dit dalk niks is nie.” Hy kyk haar stip aan en toe hy sy mond oopmaak om weer te praat, hou sy haar hand op. “Nee wag, vertel my liewer waar jy gehoor het dat Alfons tant Fienie se huis verkoop het.”

Hy glimlag skewerig. “Ek en Alfons het ’n gesamentlike vriend, ene Riaan Meyer. Hy is nou finale jaar medies en woon daar naby Alfons. Maar, Danien … Hy het ook veel méér te sê gehad oor hom. Hy sê Alfons het hom in die laaste jaar of wat feitlik heeltemal geïgnoreer. En dat dit met méér van sy ou vriende so gaan. Hulle soek hom glo op net om ’n baie koel ontvangs te kry, en Alfons self nader glo niemand meer nie. Trouens, hy het ’n heeltemal nuwe vriendekring. Mense met wie ek en jy nie elke dag mee gesien sal wil wees nie.”

“Hoe so?” vra sy en ’n naarheid kol oop in haar.

Hy kyk af na haar hand in syne en vryf sag oor die rugkant.

“Danien, ek en jy is lede van die stille meerderheid. Ons is gematigde mense met hopelik ook ’n gebalanseerde uitkyk. Ek en jy kom uit sulke huise. Daarmee sê ek nie dat ons altyd reg is nie, net dat ons ’n balans wil handhaaf wat ons denke en dade betref. En, Danien, die mense met wie Alfons Minnaar hom deesdae op­hou, is nie net ongebalanseerd nie, hulle is so deurmekaar dat sommige van hulle as anargiste bestempel word.”

“Anargiste?” vra sy verbysterd. “Maar dis mos mense wat die owerheid wil omverwerp!”

“Jy praat so uit die boek,” sê hy droog en bitter. “Want wat mens ook al van die regering dink, niemand het die reg om die land se sake só om te krap dat chaos uitbreek nie!”

“Nou … doen hulle dit dan?”

“Wel … daar was ’n paar voorvalle op kampusse wat met Alfons en sy pêlle in verband gebring kon word. Hulle stook op … en het glo al ’n paar naelskraap onderonsies met die polisie gehad.”

“Ek glo dit nie!”

Maar hy vat haar skouers opeens styf vas. Sy voel sy vingers op haar brand.

“Luister, Danien, jy is tog verstandig. Alfons is by lelike dinge betrokke. Lelike mense, as jy dit so wil stel. Die Veiligheids­polisie hou glo selfs sommige van hulle dop. En dis nie net praatjies nie. Riaan Meyer is nie die tipe wat loop en liegstories vertel om elke hoek en draai nie. Hy was ’n baie goeie vriend van Alfons en betreur dit dat hy hom klaarblyklik verloor het.”

Sy hande word sagter op haar en hy vryf ingedagte oor haar skouerknoppe voordat hy laat los en weer haar hand in syne vasvat.

Sy voel hoe haar asem vinnig oor haar lippe begin stoot en haar hart klop wild in haar keel.

“Paul Hough,” sê sy afgemete, “kan jy sweer dat Alfons Minnaar ’n opstoker en ’n … ’n anargis is? Iemand wat sommer sal doodmaak?”

“Ek weet nie,” sê hy reguit. “Ek weet waarlik nie meer nie. Al wat ek wel weet, is dat mens nie op hierdie oomblik nóg moeilik­heid in hierdie land nodig het nie. Misdaad en korrupsie is só ’n groot kwelling dat enigiets anders wat ons bos wil laat brand, regtig geblus moet word …” En toe sy hom nog ongelowig aankyk: “’n Mens kan tog nie ál die stories ignoreer nie, Danien. En jy kan ook nie ontken dat hy hom dié vakansie in Die Vallei soos ’n vreemdeling gedra het nie. Ek sê jou, Alfons het op die een of ander manier verander. Van oortuiging dalk. Dit gebeur tog. Mense swaai na links of na regs en sommige raak die spoor totaal byster.”

“Nie Alfons nie,” sê sy wild. “Nie hy nie!”

“Dink jy ek wou dit sommer net glo? O nee. Hy was my vriend ook, Danien. ’n Baie goeie vriend. Maar nou verskil ons waardes in die lewe só dat ek my van hom losmaak. As Alfons Minnaar hom by bandelose onrusstokers skaar, is hy, wat my betref, ’n terroris en wil ek met hom niks te make hê nie. En ek sê jou weer: mense verander. Alfons het verander. Aan die ander kant is daar ook die moontlikheid dat hy nog altyd dié streep had …”

Sy pluk haar hand uit syne. Haar asem stok in haar keel en sy moet haar hand op haar bors druk voordat sy uitkry: “Ek glo jou nie! Ek glo jou net nie! Jy … jy wil hom net beswadder omdat …”

Toe vlieg sy om en hardloop deur die bome huis toe. Sy hardloop soos ’n kind. Haar bene stamp op die grond en haar asem ruk deur haar. Sy storm die huis in, die trap op en kom eers tot stilstand toe sy voor haar bed staan. Sy slaan daarop neer soos ’n willose ding wat gegooi word. En sy huil. Sy druk haar gesig in die kussing en huil dat die snikke in seer spasmas deur haar ruk. En sy kom nie agter dat Hilda en Henk en Paul haar verskrik staan en aankyk in die deur nie.

“Dis my skuld,” sê Paul, en Hilda sien dat hy spierwit om sy mond is.

“Nou wat het jy haar aangedoen?” vra Henk vies en ontaktvol.

Hilda haal ’n bietjie brandewyn uit en gooi dit sommer in een van die silwerkelkies.

Toe sy dit nader bring, sê Paul: “Nee wag, laat haar huil. Sy het dit nodig. Jy kan dit later vir haar gee.”

“Wat het gebeur?” vra Henk weer kwaai.

“Ek het slegte nuus vir haar gebring,” sê Paul en kyk hom vierkant aan. “Iemand van wie sy … e … baie hou, gaan haar bitter teleurstel.”

“Hoe weet jy?” wil Henk skerp weet.

“Ek het dit uit ’n baie betroubare bron gehoor en jy dink ver­niet dat ek hier is om eie gewin. Danien stel nie in my belang nie. Ongelukkig nie. Maar ek is die laaste een wat haar enige smart wil aandoen. Ek gaan in elk geval nou. En ek sal haar nie weer lastig val nie. Tot siens.”

Daarmee draai hy hom om en voordat Henk of Hilda ’n spier kan verroer, is hy weg.

“Nou toe nou,” sê Hilda luiters, maar daar is ’n bekommerde trek om haar mond toe sy na die bed toe loop.

“Sê maar as ek iets kan doen,” sê Henk en bly talm in die deur.

Toe Danien se snikke begin bedaar, vat Hilda haar stewig aan die skouers vas. “Kom nou,” sê sy streng. “Sit en drink dié.”

Danien lig haar nat gesig uit die kussing en skud haar kop. “Nee dankie … los my liewer.”

“Kom nou, moenie smartvraterig wees nie. Drink die goed en dan kan jy alleen verder snik, want ons raak nou moeg daarvoor.”

Danien snak kwaad na haar asem, maar neem tog die brandewyn by Hilda, drink dit só gedwee dat Henk ’n glimlag moet wegsluk. Dit moet ’n mens Hilda ter ere nagee. Onhebbelik is sy wel, maar effektief ook.

“Wel, gaan jy ons vertel of moet ons loop?” wil Hilda onverstoord weet en gee ’n paar snesies uit die pak voor die bed aan.

Danien vee haar gesig swygend af, maar kyk tog oplaas skigtig op. “Later …” sê sy hees. “Ek weet nog nie mooi nie.” En toe. “Waar is Paul?”

“Weg. Vir goed ook, sê hy.”

Dit laat haar oë verskrik rek, maar sy skud net haar kop en druk ’n skoon snesie teen haar neus.

“Ek sal hom maar later bel,” sê sy sag. “En ek is jammer dat ek so ’n spektakel van myself gemaak het. Ek gee nie gewoonlik só ’n vertoning nie. Nie die huilerige tipe nie, sien.”

“Toe maar,” sê Henk paaiend. “Ons … e … dis nou ek en Hilda, het hierdie huil lankal sien kom.”

“O ja,” beaam Hilda kopknikkend. “Dit was in jou oë en in jou stem. Dalk sal jy nou beter voel.”

“Nee … Nee, ek sal nou nog baie slegter voel. Maar dis miskien beter so.”

“Raaisels,” brom Hilda vererg. “Jy kan ons net sowel sê en dit van jou hart af kry.”

“Los haar, Hilda,” sê Henk bedaard. “Sy sal praat as sy lus het.”

Toe hulle uit is, staan Danien op om haar gesig te gaan was en sommer in die bed te klim ook. Van nasienwerk het sy vergeet. Sy lê doodstil in die donker kamer. Iewers in die huis hoor sy die ander twee beweeg. ’n Stoel skraap. ’n Deur swaai krakend toe. En verder ondertoe lag ’n vrou fyn en gedemp.

Stadigaan begin haar gedagtes georden raak. Sy voel nie meer so ontsettend ontsteld nie. Een vir een haal sy die woorde uit haar en Paul se gesprek op. Versigtig soos iemand wat op gehoor en reuksin alleen moet voortbeweeg. En is dit nie presies só nie? wonder sy wrang. Wat weet ek van Alfons? Net dat ek hom lief­het. En dit terwyl ander mense hom as ’n anargis bestempel. Erger. Leier van ’n klomp aweregse moeilikheidmakers. Regte gomtorre, so klink dit. En dit kwansuis in die geheim. Hoorsê is dit wel ook. Want Paul kan nie sy kop op ’n blok sit dat dit die waarheid en net die waarheid is nie. Tog, iewers is daar ’n slang in die gras. En iewers trek daar lankal ’n rokie. Wat is die feite? Almal sê dat Alfons onherkenbaar verander het. Hy het slu ge­word, het Paul gesê. Hy vermy sy óú vriende en hy hou hom op met persone wat deur die veiligheidspolisie as verdag beskou word. En nou het hy sy en tant Fienie se huis in Pretoria ver­koop …

Haar vingers skuif stadig van onder die laken na haar hals en sy voel-voel oor die fyn silwerkettinkie om haar nek, vat aan die ringetjie wat al ’n bleek bandjie op haar sonbruin vinger gelaat het. En sy ervaar weer die ou opwelling van gevoel vir Alfons. Sy hoef maar net effens haar verbeelding in te span om sy mond op hare te voel brand.

En sy hoor sy woorde: “Eendag sal ek jou alles vertel. Maar dit sal my verpletter as jy ophou om vir my lief te wees.”

Om alles te weet, dink sy, en warm trane loop opnuut langs haar gesig af. Sal dit dan alles regmaak?

Helene de Kock Keur 3

Подняться наверх