Читать книгу Helene de Kock Keur 3 - Helene de Kock - Страница 7

4

Оглавление

“Wat is jy so stil?” wil Frans reguit weet. “Jy praat deesdae minder as niks.”

Hy en Anel en Danien is besig om die Kersboom te tooi, en sy hang nog eers twee silwer klokkies op en staan tru om dit te be­wonder voordat sy antwoord: “Ag man, ek is sommer net lui.”

“Jy was nog altyd te lui om te dink, maar nog nooit te lui om te praat nie,” meen Frans onbewoë en gaan sit langbeen op die sitkamermat om die twee meisies dop te hou. En toe, asof dit hom pas bygeval het: “En vir wat laat jy ou Paul so swaarkry? Die man se hart sit oop en bloot elke keer dat jy naby is en jy maak asof hy nie bestaan nie.”

“Jy oordryf,” antwoord Danien koel en klim op ’n klein trap­leertjie om die groot ster wat sy en Anel uit foelie geknip het, aan die top van die boom vas te steek.

“Danien,” sê haar broer fronsend, “ons is nie meer kinders nie. Ek staan op trou en jy moet begin besef dat jy nie allerlei spele­tjies meer kan speel nie. Die man is ernstig oor jou.”

Sy kyk van bo af op hom neer en sy druk haar bos blink hare terug oor haar skouer met ’n ooglopend ergerlike gebaar. Frans is in een van sy knaende buie. En dat hy hom voorgeneem het om met mag en mening Paul se saak te bepleit, is baie duidelik.

“Kyk,” sê sy koel, “ek hou van Paul. Maar hy maak nie my bene lam nie. Hy doen met ander woorde, my liewe broer, nie aan my wat Anel aan jou doen nie.”

“Wat bedoel jy?” wil hy koppig weet, maar knipoog verskonend na Anel se kant toe.

Danien klim af en kom staan hand in die sy voor hom. “Man,” sê sy, en haar stem klim, “ek sien nie kans om soos jy in ’n saal vol mense op ’n stoel te klim en ’n gek van myself te maak net om Paul se aandag te kry nie. Hy … hy dryf my nie tot allerhande dinge nie.”

“Nou wie dryf jou dan wel?” vra hy onverstoord.

“Ag staak dit, Frans,” laat Anel hoor en druk-druk nog hier en daar aan die blinkgetooide boom. “Kom help ons liewer om die geskenke hier onder te pak.”

“Niemand dryf my nie,” antwoord Danien koud en mik om verby te stap. Maar Frans se hand skiet uit en kry haar aan die enkel beet sodat sy so amper-amper haar balans verloor.

“Danien,” sê hy baie sag, maar afgemete, sodat ook Anel om­draai en luister, “jy is ’n Fouché. En ek en jy is van die warmbloedige Fouchés. Ons gaan nie onaangeraak deur die lewe nie. Jy lieg sommer as jy sê daar’s niemand wat jou hart vinniger laat klop nie. En jy’s nie verniet so stil nie. Ek het my eie idees om­trent jou swyes.”

“Nou hê hulle dan maar,” sê sy opeens kwaad en pluk haar enkel los. “Dink op dees aarde net wat jy wil!”

Maar hy trek haar met ’n vinnige haal van sy arm tot langs hom op die mat neer sodat hul oë vierkant ontmoet. Anel los die boom en stap stilweg uit kombuis toe. Toe sug Frans en druk sy suster se kop teen sy skouer vas. Vassit kon hulle twee nog altyd, maar verstaan ook.

“Luister,” begin hy, “ek weet nie mooi wat is wat nie, maar ek dink jy is ongelukkig oor Alfons.”

Sy druk hom weg, kyk hom vererg aan.

“Waar kom jy dááraan?”

“Ek sien dit met my oë,” sê hy, “en ek voel dit ook. Jy moenie dink dis net vroumense wat intuïsie het nie. Ek is ’n regsman en wetlike feite is vir my baie belangrik, maar dit het my regtig nog nie laat afstomp nie. Buitendien, ek weet lankal dat jy ’n ogie op Alfons het. Ek sien dit aan die manier waarop jy na hom kyk as hy nog af en toe hier kom.”

Sy oordink dit ’n rukkie, toe skud sy haar kop en glimlag lief met hom.

“Kyk, broer, dis baie gaaf van jou. Ek waardeer jou besorgd­heid. Maar ten spyte van my sogenaamde warmbloedigheid het ek gelukkig ook ’n koel kop. Ek hou van Alfons, ja. Hy het sekerlik baie wat ’n vrou kan begeer. Hy is baie aantreklik en hy is … gaaf en so aan. Maar ek en hy sit nie juis langs een vuur nie.”

“So? En wanneer het julle dit nogal uitgevind?” vra hy op sy ou, skerpsinnige manier.

“Ons … het een aand gesels,” sê sy aarselend en jok ’n stukkie by: “Sommerso op die strand, weet jy. En dit het my laat besluit dat hy sedert ons prille jeug baie verander het, te veel om my mee te versoen.”

“Hm.”

“Wat hm jy?” vra sy kriewelrig. “Dink jy nie ook hy het verander nie?”

“Moenie dig wees nie,” praat hy asof hulle nog op skool is, maar vervolg in alle erns: “Alfons Minnaar mag bolangs ’n bietjie blink geraak het, maar in sy hart der harte is hy nog dieselfde ou Alfons met wie ek kopstukke kon gesels.”

“O ja? En waarom kom hy nie meer so dikwels hier nie? Waarom maak hy asof ek en jy en ook Paul byna nie bestaan nie?”

Hy pers sy mond peinsend saam.

“Hm … ek wonder ook daaroor, maar nie te veel nie. Miskien gaan hy deur ’n fase. So ’n liberale een. Sommige wetstudente kry so ’n gier. Maar in Alfons se geval sal dit oorwaai. Nou nie dat ek dink dat hy ooit kliphard konserwatief was nie, maar iemand soos hy sal nooit heeltemal die kluts kwytraak nie. Sy lewenswaardes was nog altyd reg. So van gesels gepraat … ek en hy het ook nou die dag so ’n bietjie gesels. Sommer in die water toe ons geswem het. Enne … laat ek jou nou maar vertel: Alfons is nóg Alfons.”

Sy sit ’n oomblik doodstil, toe glimlag sy en gee sy bruin krul­kuif ’n plukkie. “Nou ja, sien, dan is jy mos verniet bekommerd. Jou vriend Alfons sal weer na jou terugkeer!”

Maar hy kyk haar streng aan. En sy oë het dieselfde sware kyk as wat haar pa s’n soms dra as hy haar betig: “Moenie hiermee spot nie, Danien. Alfons is ’n mens om mee rekening te hou. As hy jou vriend is, het jy baie; as jy die risiko loop om hom te verloor, kan jou verlies onmeetlik wees.”

Haar mond word kurkdroog. Hou op, wil sy sê. Hou op, of ek huil my hart net hier uit. Weet ek dit dan nie?

En sy ken Frans ook. Hy is iemand wat ’n goeie vriendskap koester soos wat die wynboere in hul kontrei met hul erfgrond maak. Dis net iets wat ’n mens nooit, ooit uit jou hande laat gaan as jy dit enigsins kan verhelp nie.

“Ek spot g’n,” sê sy kortweg, en toe met ’n ligte laggie: “Kom ons praat liewer oor jou en Anel. Sien jy uit na die troue, boet?”

Sy mond roer verleë en toe glimlag hy sy breë, seunsagtige glimlag, en sy gesig kry ’n kleurtjie. “Ja …” hy sug effens, “laat ek dit nou maar erken. Ek is mal oor Anel, was nog altyd. Ek weet nie mooi wat dit aan haar is wat my hou vir hou so bewerig maak nie, maar ek soek nie meer na redes daarvoor nie. Sy’s my meisie, ou sus, en elke liewe keer as ek haar sien, wens ek ek kan die dae een vir een op my kalender omblaai tot by die vierde April, sjoe, dit gaan ’n groot dag wees!”

“Wat is dit nou?” vra Anel nuuskierig, toe sy met ’n skinkbord met koffie inkom.

Danien staan op van die mat af en neem haar beker koffie sommerso in die verbygaan.

“Ek gaan boontoe om nog geskenkies toe te draai. Laat hy jou vertel!”

Frans is nie links nie en neem die skinkbord by ’n verbaasde Anel om dit op die koffietafel neer te sit en haar net daar in sy arms toe te vou en haar te soen totdat sy snakkend na asem begin lag. By die voet van die houttrap staan Danien hulle onbeskaamd en dophou, en voel hoe die verlange na Alfons in haar saam­kramp.

Frans lig sy kop en maak groot oë. “Loop! Dis nie vir kinders nie!” sê hy, en Anel laat haar kop laggend teen sy skouer sak.

“Ag wel,” sê Danien koeltjies, “ek moet ook iewers leer, nè?”

Toe eers stap sy ewe waardig die trap op en hoor hoe die twee daar onder gedemp lag en gesels, volslae opgeneem in hul eie vooruitsigte.

Bo in haar kamer maak sy die kas oop. Agterin die boonste laai het sy Alfons se geskenk versteek. Sy en Anel en haar ma was weer eendag Plett toe om nog laaste inkopies voor Kersfees te doen. En sy was weer by die leerwinkeltjie in. Sommer maar net in die hoop. Die repiesgordyntjie het nie geroer nie, al het sy lank daarvoor bly talm. Hy het tog gehoor toe sy hardop op die strand aan Anel gesê het dat hulle maar wéér sal moet Plett toe, want haar ma se goedjies is nog nie alles gekoop nie. Of het hy? Sy oë was toe, waar hy op sy handdoek daar naby gelê het, maar of hy ooit na hul gesprekke geluister het, bly ’n vraag. Hy het in elk ge­val skaars daaraan deelgeneem. Byna asof hy hulle ander kwalik neem dat hulle ook daar is.

Sy het haar weggedraai van die stil gordyntjie en onsiende na al die leerware gestaar. Dis soos ’n spieëlgeveg, of ’n spel met die wind, het sy gedink. Of dalk hou ek my op met ’n vuurvliegie. ’n Aan-en-af-mens. Ek is nooit mooi seker of hy gaan kom of nie; of wat hy gesê het, nie dalk klaar vergete is nie.

Sy was só bedruk dat sy gewens het sy kon heeldag net daar in die skemerige ou winkeltjie bly, waar ’n mens met die instap al die leergoed kan ruik.

“Gaan u iets neem?” het ’n ouerige vrou haar oplaas kom vra.

“Ja,” het sy asemrig geantwoord. “Net ’n oomblik, asseblief.”

Sy het immers nog nie vir haar pa en Frans iets gekoop nie, en het lusteloos begin rondkyk. Maar sy was gou geïnteresseerd. ’n Notebeurs van buffelvel vir Frans en ’n mooi een van volstruis­vel vir haar pa. ’n Oomblik het sy geaarsel, en toe ’n breë gordel van die rak gehaal. Vir Alfons. ’n Soort manifestasie dat daar iets tussen ons is, het sy gedink, en ’n bietjie lag vir haarself gekry. Waarom laat ek my so kasty? Hy het my lief. Al is dit nou nog so ’n wegkruipspeletjie.

Meer opgeruimd as in dae het sy haar by Anel en haar ma ge­voeg, waar hulle in die Beacon Isle Hotel gesit en tee drink het, die gordel soos ’n kosbare pand in haar sak.

Ook nou beskou sy dit fyn voordat sy dit eers in sneespapier en toe in ’n blinkgestreepte papier toedraai. Sy oordink die woor­de van die bygaande briefie ’n volle tien minute lank voordat sy eindelik net skryf: Vir Jou. Wanneer sy dit vir hom gaan gee, weet sy nie. Die geleentheid moet hom net voordoen!

Maar Kersaand daag op sonder dat Alfons naby die Fouchés kom. En dis ’n bedeesde Danien wat saam met haar familie om die Kersboom sit terwyl haar pa vir hulle uit Lukas 2 voorlees. Gaan­de­­weg sypel die stille vrede van dié woorde ook deur na haar wankele gemoed en toe almal saamsing, doen sy dit met oor­tuigde oorgawe. Dis toe hulle begin presente uitdeel dat sy weer skrynend eensaam begin voel. En toe Paul Hough onverwags op­daag met ’n geskenkie vir haar, voel sy amper nog meer alleen.

“Jy moes dit nie gedoen het nie,” sê sy die geykte woorde en hy glimlag effens.

“Maar nou het ek, en ek hoop jy hou daarvan.”

Sy soen hom skrams op die mond en pluk lomp aan die pakkie om dit oop te kry. Dit voel vir haar asof almal se oë op haar hande is, maar ook sy snak na haar asem toe sy die inhoud sien. Dit is bepaald ’n peperduur silwerkraffie en ses kelkies, en toe sy stom-vraend na Paul kyk, sê hy glimlaggend: “Jy gaan verlang na Fleur du Vin as jy eers begin skoolhou. Toe dink ek om solank vir jou ’n kraffie te gee. Die wyn kan jy van die huis af bring en dan kan ons soms so teen skemer iets op die verlange drink.”

Daar sak ’n bedugte swye waarop Paul onverstoord voortgaan: “Noudat jy in Kaapstad gaan wees, sal ek en van my vriende mos soms vir jou kom kuier. ’n Mens kan nie so ’n mooi meisie laat vereensaam nie. Veral nie as ’n mens weet dat haar pa mos nie ’n kind wat hy op wyn grootgemaak het, dors sal laat ly nie!”

Almal lag en Danien sug verlig. Paul moet tog nou nie lol nie. Die geskenk is juis te gewigtig vir hul effense verhouding.

“Dis baie duur,” sê sy skamper. “Jy laat my skuldig voel.”

“Kom nou, Danien,” keer haar ma verleë, “’n mens ontvang ’n geskenk mos met meer grasie!”

Maar Paul lag hartlik nog voordat Danien ’n woord verder kan sê.

“Toe maar, tant Jacomien, ek ken Danien as iemand wat eers die kat uit die boom kyk. Sy vrees dis ’n aanloop tot groter dinge, maar eintlik is dit mos nou ’n goeie basis vir vriendskap as ek die kelkies gee en sy die wyn!”

“Man,” kom oom Karel tussenbeide, “jy laat my nou baie gevlei voel. Oor my mooi dogter en my lekker wyne. Wag, ek gee jou sommer nou al ’n botteltjie van Fleur du Vin se Chenin Blanc saam. Jy sal dit mos nie hou tot die skole begin nie!”

Frans beluister die gesprek met stipte aandag. Sy skerp blik gaan van Danien se angsvallige, blosend-verleë gesig na Paul se kalme onverstoorbaarheid. Toe tik hy hom kameraadskaplik op die skouer.

“Ja, nè? Danien gaan vriende nodig hê as ek en Anel eers weg is Leiden toe. Sy’s gewoond aan ’n ouer broer wat ’n ogie hou.”

Dit lyk asof Paul baie daarop sal wil sê, maar hy glimlag net stilweg instemmend.

“Drink saam met ons koffie,” sê tant Jacomien haastig, altyd gou om ’n atmosfeertjie te wil teëwerk. En met die kinders weet ’n mens deesdae nooit, sê haar effens gekwelde uitdrukking. Een oomblik is hulle kalm en volwasse soos hul jare, en net die volgende is daar onderstrominge wat ’n mens verontrus.

Paul bly nog lank sit en toe hy eindelik loop, wink hy vir Da­nien om saam te kom. Sy trek teësinnig die voordeur agter hulle toe. Vir die eerste maal is hulle alleen en sy voel geheel en al oorstuur. Sy hou van hierdie man. Baie ook. Hy is en bly een van die gaafste, mees gebalanseerde mense wat sy ken. Dis net dat sy wens dat hy liewer op ’n ander planeet gewoon het. Sy kyk hom sprakeloos aan waar hy onder die flou stoeplamp staan, maar toe sy haar asem intrek om te praat, sit hy gou ’n vinger op haar lippe.

“Sjuut. Moet jou nie ontstel oor my geskenk nie. Dis bloot bedoel om jou plesier te verskaf. Niks meer nie.”

“Dankie. Dis baie mooi … en … jy is welkom om te kom saamdrink!”

“Sjoe!” hy lag, “dis nou vir jou ’n manier om ’n ding te sê!”

Maar dit raak eensklaps stil tussen hulle en sy skrik haar lam toe hy met sy hand sag oor haar wang vee.

“Nag, mooiste Danien. Droom so ’n bietjie van my.”

Daarmee draai hy om en binne ’n paar tree het Die Vallei se gitdonker nag hom ingesluk.

Danien slaak ’n suggie van suiwer verligting en wil net weer in­gaan toe sy ’n sagte fluistering regs van die dik stoeppilaar in die struike hoor: “Haai, kom hier!”

Sou dit hy wees? Sy tuur stip die donkerte in, maar sien net die flitsliggies van ’n paar vuurvliegies dieper die bosse in.

“Kom tog nou!”

Toe eers gewaar sy die wasige wit van ’n figuur net langs die groot struik.

“Alfons?”

“Wie anders, my lief?” fluister hy terug.

Sy weet nie of sy die “my lief” is nie, maar haar bene dra haar geluidloos oor die houtstoep en sy steek haar arms uit toe sy by hom kom. Sy hoor die lae lag in sy keel toe hy haar vasgryp en dieper agter die struik intrek. En die skerp intrek van sy asem net voordat sy mond op hare neerkom en haar kop agteroor knak onder die drif daarvan. Sy skuif haar arms onder sy sterk skouers deur en klem hom vas asof sy hom nooit weer wil laat gaan nie. Hy soen haar wange, weer haar mond en steek sy gesig in die sagte warmte van haar nek.

“Vier dae,” sê hy gesmoord, “en tien ure, ses minute … Die hemel weet hoeveel eindelose sekondes …”

“Dit was te lank,” fluister sy.

“Veels te lank. En ek dag ek moor ou Paul toe hy aan jou wang vat! Moet jy hom so baie sien?” Hy lig sy kop en sy kan net die effense blink van sy oë uitmaak.

Sy druk haar kop teen sy borskas vas en sug. “Ek nooi hom nie, Alfons. Maar waarom … kom jy nie?”

Hy raak beeldstil, toe sê hy hees: “Ek kan nie … mag nie … Nie nou al nie.”

“Wanneer dan?”

’n Vensterraam net bo hul koppe skuif oop en hulle versteen. Dis Anel en sy staan ’n oomblik afgeteken teen die lamplig en uitkyk op die nag. Toe draai sy haar stadig om en loop dieper die kamer in.

“Kom,” sê Alfons vinnig. “Kom ons gaan strand toe dan sit ons op die sand en gesels. Hulle sal dink jy het saam met Paul ge­loop.”

Hulle loop katvoet oor die klam gras tot in die straat, en sy ril liggies.

“Ons het nie ’n flits nie. Ek verstom my dat julle ouens so ge­mak­lik in die donker loop. Paul het ook sonder een hier aangekom.”

“Vergeet Paul,” brom hy, maar druk haar styf teen hom vas.

“Wat van die nagadders?” wil sy nietemin weet. “Hier’s mos baie!”

“Ag wag, ons stamp maar net ons voete, dan hoor hulle ons en seil weg!”

Maar tog, toe haar oë eers die nag gewoond is, kan sy heel goed sien, en hulle stap met gemaklike tred tot by die duinepaadjie wat see toe lei. Alfons loop voor met haar aan die hand, en toe hulle bo-op die duin kom en die strand onder hulle oopgesprei lê in die wit sterlig, voel sy lighoofdig van geluk en skoon betower deur die skoonheid van die aand.

Teenaan die duin, en naby die swart skadu’s van die bosse, gaan hulle sit. Sy kan sy gesig net uitmaak soos wat hy na haar kyk, en sy lig haar hand om met haar vinger oor sy glimlaggende mond te trek. Maar dis genoeg om hom dadelik na haar te laat reik. Met een haal trek hy haar teen hom vas, maar toe hy haar wil soen, sê sy hard: “Wanneer, Alfons? Wanneer gaan ons ophou om in die bosse skuil te hou uit vrees dat mense ons saam sal sien?”

“Jy laat dit baie lelik klink,” sê hy stug, maar sy lippe rus lig op haar voorkop.

“Dit lyk lelik,” antwoord sy sag. “En ek wil nie hê dat dit lelik moet lyk tussen ons nie. Vir my is dit so mooi.”

Haar stem het hortend en bewoë geklink, en hy druk haar spon­taan teen hom aan, soen haar tóg totdat sy sag en gewillig teen hom leun.

“Vir my ook,” kry hy oplaas uit. “Dis die heel mooiste ding in my lewe. En, Danien … ek voel vir jou wat ek nog nooit in my bestaan vir enige mens gevoel het nie. Nie vir my ma nie, want ek het haar te kort geken, nie eens vir my tant Fienie vir wie ek bitter baie lief was nie. En … ek onthou die oomblik toe ek dit die eerste maal besef het. Jy was in matriek. Beeldskoon en skugter in jou eerste bikini. Ek kon my oë om die dood nie van jou afhou nie. So erg was dit dat tant Fienie my later daaroor aangespreek het. Kyk in jou gedagtes, Alfons, het sy gesê. Maar nie so oop en bloot nie. Jy sal die arme Danien skoon verskrik.”

Sy sit doodstil en luister na hom, hoor sy stem vlak teen haar oor, en sy wens met haar hele wese dat alles in ’n oogwink reg wil kom. Dat hierdie … hierdie ding wat hulle twee van mekaar weghou, so seker as wat die strand die skeiding tussen land en see is, wil verdwyn.

“Alfons,” sy sug, “vir my was jy altyd die een wat my beskerm het. Vreemd genoeg het ek dit dwarsdeur die jare met jou bly assosieer. Dié gevoel van totale geborgenheid. En dit net omdat jy my daardie dag op pad Klippiesbaai toe van die rots afgehaal het. Selfs honderde kilometers weg van jou af, kon ek my dáármee troos as iemand my selfvertroue wou aantas.”

Met die kort intrek van sy asem wat sy nou al leer ken het, draai hy haar om in sy arms en sy lig haar gesig met ’n glimlag na hom. Hy soen haar met ’n warme besitlikheid en groeiende drif en sy gee gewillig mee onder sy sterk hande wat haar vasvat asof hy ’n skielike skrik met fisieke aanraking wil besweer.

“Jy sê sulke mooi dinge,” praat hy oplaas teen haar mond, maar die bewing van sy liggaam teen hare en sy styf geklemde vingers om haar boarms, praat ’n ander taal.

“Wat is dit, Alfons?” Dit voel asof dié vraag uit haar binneste skeur, en sy moet op haar lippe byt om die trane te keer. “Wat is dit wat jou só maak?”

“Hoe?” kry hy dit skor uit.

“Bang … Jy is bang vir iets.”

“Wat ons van mekaar kan wegneem, ja. Ek sal sterf as ek jou nou moet verloor, Danien. Só lankal koester ek hierdie droom. En ek het altyd geweet dat as ek eenmaal toenadering soek en dit by jou vind, dit vir my onherroeplik sal wees. Tog het ek nooit besef dit sal so heeltemal wonderbaarlik wees nie. Dit sal my heeltemal verpletter as … as daar iets moet gebeur.”

“Soos wat?” vra sy, en haar stem klink skerp bó die suising van die see.

Hy los haar stadig, sit terug teen die koud geworde duin. “Soos dat jy sal ophou om vir my lief te wees.”

“Ek sal nooit!” roep sy gedemp-driftig uit. “Nooit, hoor jy?” Met dié dat sy vooroor leun om hom aan te raak, verloor sy haar balans in die los sand van die skuinste en tuimel vooroor bo-op hom. Hy gryp haar vas en lag, en toe sy weer voel, rol hulle al twee met die duin af tot onder. Toe hulle tot stilstand kom, hou hy haar nog ’n oomblik hartstogtelik teen hom aan, toe trek hy haar orent en vee met sy hande haar hare en los sandkorrels uit haar gesig.

“Kom,” sê hy sag, “kom ons gaan loop in die vlak brander­tjies.”

“Om af te koel?” spot sy.

“Beslis, ja,” antwoord hy amper bedees. “Jy gaan vreeslik gou na my kop toe.”

Hulle draf ligvoets oor die breë strand en sy sien dat die maan in die loop van hul gesprek teen die duin uit die see geklim het. Die water en die sand is koel en silwerig. Hand aan hand staan hulle ’n ruk met hul voete in die skuimerige soom van die see. Toe sê sy: “Vertel my, Alfons?”

“Ek kan werklik nie, my liefste.”

“Waarom nie? Vertrou jy my dan glad nie? Dink jy dat ek nie jou probleme saam met jou sal kan hanteer nie?”

“Dis nie dit nie. Maar soms is die lewe te gewigtig vir ’n mens. Dan moet jy stilbly en verduur en jou verpligting so goed moontlik nakom. En as dié verpligting jou absolute swye eis, dan moet jy dit gee. Al is dit ook hóé moeilik.”

Sy stem het streng geword, en hy het haar hand laat los.

Moenie, dink sy paniekerig, moenie van my af weggaan nie. En sy draai haar na hom, skuif haar arms om sy lyf en druk haar kop soos ’n kind teen hom aan. Sy voel hoe hy haar dadelik vas­hou, sy mond op haar hare druk en prewel: “Vertrou my in hemels­naam net.”

“Goed,” sug sy swaar. “Goed dan.”

Die nag het ’n blinkblou glans gekry. Die maan sweef hoog bo die berg en ’n koel windjie waai ’n mistigheid van die kim af aan toe hulle eindelik stadigaan terugstap. Maar bo-op die duin hou hy haar terug.

“Danien, as ek dalk nie kans kry om jou te kom groet voordat ek weer teruggaan nie, moet jy net weet dat ek elke oomblik wat ek nie by jou is nie, aan jou sal dink.”

“Teruggaan?” fluister sy. “Wanneer dan?”

“Weet nie,” sê hy kortaf. “Dalk sommer gou. Nog voor Nuwe­jaar. Maar, my lief, ek het nie vergeet dat dit Kersfees is nie.” Hy klink opeens verleë en vroetel in sy broeksak om ’n klein pakkie, in silwer papier, uit te haal. “Dis joune. Ek wil hê jy moet dit dra om jou aan my te laat dink. Sal jy?”

Sy neem dit sprakeloos by hom, hou dit naby haar gesig om mooi te sien toe sy dit oopmaak. En haar asem dam in haar keel. Op haar hand lê daar ’n ragfyn kettinkie. Dit glim blink in die maanskyn. Byna soos silwer sandkorreltjies aan ’n spindraadjie. En daar is ook ’n dun silwerringetjie met ’n fraai krulpatroon wat dit antiek laat lyk. Hy vat dit uit haar palm en neem haar regterhand om dit aan haar vierde vinger te steek. Die kettinkie kry hy met ’n bietjie sukkel om haar nek vasgemaak.

“Nou’s jy myne,” sê hy tevrede. En toe eensklaps: “Wat het Paul vir jou gegee? As dit iets persoonliks is, moet jy dit terug­gee.”

Sy lag. “Niks persoonliks nie. Net ’n silwerkraffie en ses kel­kies vir wyn.”

“Hm …” sê hy nadenkend. “Jy kan dit as ons eerste trou­geskenk beskou. En soen my nou.”

Sy doen dit met sóveel oorgawe dat hy behaaglik sug toe hulle weer aanstaltes maak om te loop. Maar dis tog of daar ’n be­swaardheid aan hom kleef, want hy praat niks verder nie.

Net voordat sy wil indraai na hulle huis toe, sê hy weer: “Ek weet nie wanneer dinge sal regkom nie. Dis nie in my hande nie. En ek weet nie wanneer ek jou weer ná die vakansie sal kan kom sien in die Kaap nie. Sal jy moed hou en uithou?”

’n Rilling glip by haar ruggraat af toe sy antwoord: “Ek sal … Jy moet ook.” Maar net toe sy wil nagsê, onthou sy van die gordel wat sy vir hom gekoop het. “Wag onder die stoeppaal,” sê sy opgewonde, “ek gooi vir jou ’n presentjie af! Ek hoop jy hou daar­van!”

“Ek sal.” Hy glimlag en soen haar nag. Hy bly doodstil in die donkerte staan totdat haar kamerlig aangaan en sy op die balkon uitkom, toe vang hy die pakkie wat sy afgooi rats.

“Geseënde Kersfees,” fluister sy. “Dis al ná twaalf, weet jy?”

“Geseënde Kersfees, Danien,” fluister hy terug en blaas vir haar ’n soen.

“Sien jou môre,” sê sy eufories van geluk, en wag totdat sy gestalte weggesmelt het in die donkerte.

Maar toe sy saam met haar mense in die houtkerk sit, sien sy hom nêrens nie. Hy is nie by die vroeë diens nie, en toe sy saam met Frans en Anel ná die tweede diens daar verbystap op pad strand toe, sien sy hom ook nie. Hy was dus nie een keer in die kerk by hierdie diens wat so getrou deur Die Vallei se inwoners bygewoon word nie.

Dis feitlik ongehoord dat die óú ingesetenes daarvan wegbly, en ook Frans merk fronsend op: “Ek sien nie vir Alfons nie. En ek moet jou sê, Danien, ek probeer hom met moeite begryp.”

Toe weet Danien met beklemming dat ook Frans opgemerk het dat Alfons nog nie een maal in die kerk was dié vakansie nie. En vir ’n óú Valleier is dit vreemd.

Helene de Kock Keur 3

Подняться наверх