Читать книгу Helene de Kock Keur 3 - Helene de Kock - Страница 5

2

Оглавление

Die nuus dat Alfons terug is in Die Vallei maak almal bly. Oor die jare heen het daar ’n eiesoortige verbondenheid tussen die gereelde vakansiegangers ontstaan. Gedurende die kwartaal is elk met sy eie bedryf besig en dink hulle skaars aan mekaar, maar vakansietye soek hulle mekaar op, heg weer ou bande met ’n entoesiasme wat aan ouwêreldse familiefeeste herinner. Want hier in Die Vallei, beskut tussen berg en see, is hul belange dieselfde. Hulle het die plek lief, en dié gedeelde droom snoer gemoedere saam. Hulle loer by Vuurvliegie in om koffie te drink, om alles te hoor wat in die twee jaar sedert tant Fienie se afsterwe gebeur het, en hulle nooi Alfons om op sy beurt te kom kuier. Oplaas besluit ’n paar van die vroue om ’n laataand-strandpiekniek te reël om Alfons se ‘tuiskoms’ amptelik te vier. Fienie sou dit gedoen het, reken hulle moederlik.

“Lyk my hulle het die regte aand gekies,” meen Karel Fouché. “Nie ’n luggie wat roer nie.”

“Wat gaan jy aantrek?” wil Jacomien by haar dogter weet.

“Ek het nie lus om te gaan nie,” sê Danien bedaard, waar sy met ’n tydskrif in ’n diep leunstoel sit.

Karel en Jacomien kyk veelseggend na mekaar. Hulle is nie gister gebore nie, en vandat Alfons Minnaar weer sy verskyning gemaak het, is Danien swygsaam en buierig. Nes toe sy ’n tiener was en haar oë nie van dié frisgeboude regstudent kon afhou nie. Maar tóé het hy nog haar hare deurmekaar gevryf en haar soms spelenderwys by sy en Frans se gesprekke ingesluit. Die afgelope week kom hy wel ook hier, maar dan is dit net om byna dadelik diep aan die gesels te raak en net soms afwesig in haar en Anel se rigting te glimlag. Dis asof hy haar bestudeerd probeer miskyk.

Dalk is dit omdat hy sien hoe baie Paul Hough hier kom, en hoe besitlik hy sorg dat sy net langs hom sit, langs hom stap en met hom praat. Dat daar ’n soort angstigheid in Paul se hou­ding ingesluip het, kan ’n mens nie miskyk nie. Paul is ’n aansienlike man, maar Alfons is ’n man wat selfs die ouer vroue hul jare laat wegwens. Beskeie, maar tog met ’n skoon, oop selfvertroue, maak sy sjarme en treffende voorkoms skoonskip onder Die Vallei se vroueharte. Selfs die mans hou van hom en sorg dat hulle net liggies spot met hul vroumense omdat hulle so op loop gaan oor dié seun.

Ook Karel benader sy dogter met die nodige takt, só dink hy.

“Luister, Danientjie, is jy nou doodseker dat jy nie piekniek toe wil gaan nie?”

Sy kyk skuinsweg op en ’n laggie pluk aan haar mond.

“Is my wynmakerpa doodseker dat hy hierdie jaar die ou Shiraz­stokke gaan vervang deur Cabernet Sauvignon, hm?”

Karel hap na sy asem, staar verstom na haar.

“Ek weet nog nie, maar wat het dit met …”

“Wel, ek weet ook nog nie, Pa!” val sy hom glimlaggend in die rede.

“Kom tog!” por Jacomien haar man aan en hy wil-wil nog met sy koppige dogter argumenteer, toe trek Jacomien hom al aan die arm die huis uit. En toe hulle buite in die straat is, waar daar al klompies-klompies mense aanstap strand toe, sê sy: “Los haar uit, Karel, my man! Sy weet self nog nie wat in haar binneste aangaan nie, maar laat ek jou vertel, sy is doodverlief op Alfons. Was nog altyd …”

“Wel,” sê Karel prosaïes, “hy is ’n doodgawe kêrel. Ek het niks teen hom nie!”

“Ek het ook nie. Maar só eenvoudig is dit nie. Alfons is ook ’n ietwat geheimsinnige soort mens en buitendien dink ek nie hy is juis gaande oor haar nie!”

Karel gaap haar aan en tas in sy baadjiesakke na sy pyp.

“Maar hoe kan hy dan nie?” begin hy vervaard, besef betyds dat hy ietwat belaglik klink, maar sien die res van sy woorde in sy vrou se sagte oë: Hoe kan ’n man nie verlief wees op ons Danien nie? Sy is dan so mooi … so dierbaar … so alles. Vir ons … “Kom,” sê hy, en dié slag is dit hy wat haar arm neem en styf ingehaak met haar strand toe loop, ’n vae beklemming in sy hart.

By die huis maak Danien haar oë toe en leun agteroor in die stoel. Die stilte vou krakerig om haar toe. Die dak kraak en die mure en deure en alles. ’n Houthuis leef, sê haar pa altyd met genoeë. Maar vanaand wens sy die huis wil stilbly. Doodstil. Want elke geluidjie maak ’n gedagte in haar los, en sy wil so graag net vrede hê. Maar verniet.

Sal ek gaan? wonder sy vir die soveelste maal. Sal ek my mooi aantrek en glimlaggend loop beaam hoe gaaf dit is dat Alfons terug is? Dit sal tog nie net ek wees wat so ingenome is nie. Daar is die mooie Fenella Bezuidenhout wat gedurig om hom draai as ons klomp soggens op die strand is, en die fraai tweeling van die Greunens wat hul eenderse pare blou oë nie van hom kan afhou nie. Waarom sal ek nou juis die moeite doen?

Maar sy kom ook later agter dat sy so gespanne soos ’n snaar bly sit en haar oë draai kort-kort in die rigting van die muurhorlosie wat haar ma juis van die plaas af hierheen gebring het omdat dit so hard tik en luid elke kwartier uitbeier soos ’n wafferse kate­draalklok. Sy wip soos sy skrik toe die eerste bong-bong opklink en vlieg sommer op. Toe sy haar weer kom kry, spring sy die trappe drie-drie boontoe en sonder om ’n tweede gedagte aan die impli­kasie daarvan te gee, stort sy en trek ’n goudgeel sonrok aan wat haar hare soos gesponne koper laat lyk en lig soos ’n made­liefblaar aan haar sit.

Toe sy die voordeur agter haar toetrek, hang die son net agter die berg en die vakansiehuise lê gebaai in ’n rosige nagloed. Dit gaan nog lank lig wees en voordat dit heeltemal donker is, gaan almal nog die heerlike aand ten volle benut. Daarom, dink sy vroom, kan ek mos nou nie tuis sit nie.

Sy voeg haar by twee matriekseuns wat ook ’n draai op die strand gaan gooi. Sommerso vir die wis en die onwis, sê hulle laggend. ’n Mens weet nooit wie loop jy raak nie. Dalk is die ou­like Blignautdogters daar, en wie weet wie nog?

Paul kom hulle tegemoet toe hulle die duinpaadjie oorsteek.

“Ek moes jou eerder kom haal het,” sê hy met spyt toe hy haar sien, “maar ek was gou Plettenbergbaai toe saam met my pa-hulle en ons het laat teruggekom. Ek het gedink jy is al op die strand.”

“Dis niks.” Sy vermy sy soekende oë. “Ek was nie baie lus om te kom nie, maar bly ek weg, dink Alfons dalk ek is snaaks.”

“Nee wat, hy sal nie so dink nie,” sê hy, en laat die twee seuns toe om vooruit te loop met die smal paadjie. Toe hulle buite sig is, hou hy haar aan die arm teë. “Ons twee hoef nie te gaan as jy nie regtig lus het nie. Kom ons gaan stap sommer net ’n ent, toe wat.”

Sy kyk op in sy besorgde, gawe oë en ’n toegeneentheid roer skigtig in haar. Dit is ook so dat Paul nie mooi weet hoe hy dit met haar het nie. Die afgelope tyd vermy sy hom, of probeer dit ten minste so onopsigtelik moontlik doen.

“Nou goed,” sy glimlag toeskietlik, “kom ons stap eers ’n entjie en dan gaan eet ons saam met die ander op die strand.”

“Reg,” antwoord hy ingenome, en neem haar hand styf in syne toe hulle omdraai in die smal paadjie en weer die dorp in stap. Ouder gewoonte loop hulle luilekker en verkyk hulle aan die huise, waai vir al die bekendes en hoef maar net hul oë te lig om die beboste berg wat Die Vallei omsluit, te sien. Alles hier is altyd opnuut mooi.

In ’n ruie laan wat reghoekig met die berg loop, hou hy haar in die lang skadu van ’n digte struik terug.

“Is dit vir jou ook so onbeskryflik mooi hier in Die Vallei?” vra hy sag.

“Dit is, ja. Dis of dit selfs mooier word namate ’n mens ouer word en besef hoe ongerep die plek eintlik nog is.”

“Hm … En ek word liewer vir die mense ook.”

’n Skielike skuheid laat haar stilbly sodat hy angstig sê: “Danien? … Hoor jy my?”

“Ek hoor, Paul. En dit is ook so. Mense aan wie ’n mens in die kwartaal nooit dink nie, is vakansies so na aan jou dat jy wil huil as jy dink jy moet weer groet.”

“Juis, maar dis nie van almal ewe waar nie. Ek het die laaste tyd spesifiek aan jou gedink. Selfs meer as gewoonlik.”

“O?” Haar asem raak vlak. Sy wens sy kan voorgee dat sy nie gehoor het wat hy sê nie. En sy is hoegenaamd nie voorbereid daarop toe hy sy hande op haar skouers sit en haar sagkens nader trek nie.

Sy raak slap van skrik toe sy volgende woorde gesmoord kom: “Danien, ek is soveel jare al verlief op jou. Maar jy is so mooi … Só mooi … ek het gedink daar sal duisende op jou spoor wees.”

“Jy oordryf mos nou,” sê sy met ’n kalm glimlag, maar haar oë is wydgesper.

Hy skud sy kop heftig. “Nee. Ek oordryf glad nie. Trouens, ek het al begin dink dat alle mans in jou onmiddellike omgewing blind moet wees. Later het ek begin dink dat dit jy is wat nie kan besluit wie die naaste aan jou is nie, want jy’t dan nooit iemand hierheen saamgebring nie. Byna al die ander meisies het in die een of ander stadium ’n studentevriend saamgebring.” Hy buig sy kop effens om haar speurend aan te kyk.

“Ek … nee, ek het nooit nie, dis waar. Want daar was nie juis iemand wat só spesiaal was nie …” stamel sy. En toe met ’n skie­like drif: “Ek glo nie daaraan om ’n man aan ’n lyntjie te hou nie, Paul.”

Daar sak ’n stilte waarin sy vingers stywer om haar skouers klem. Toe sê hy: “Jy is reg. So hoort dit ook. Maar, Danien, ek wil jou bitter graag beter leer ken. Of liewer, anders leer ken. Mag ek?” Voordat sy ’n woord kan sê, kom sy lippe op hare neer en sy arms skuif om haar.

Ons ken mekaar so goed, dink sy in haar agterkop, dat ek hom nooit willens en wetens wil seermaak nie. Hy is seker die gaafste man wat ek ken. ’n Meisie behoort baie gevlei te voel oor sulke attensies, komende van ’n aantreklike man soos Paul Hough. En – met hom is ’n mens nooit oneerlik nie.

Toe hy sy kop lig, is daar ’n hartseer laggie om sy mond.

“Nie juis rasend entoesiasties nie, nè?”

Sy skud haar kop ontstemd. “Nee … ek bedoel … ek weet nog nie. Veral nie nou nie. Miskien glad nie dié vakansie nie, Paul. Daar is te veel nuwe dinge wat op my wag en waarvan ek bitter onseker is.”

’n Klein fronsie vorm tussen sy wenkbroue, maar daar is skamper huiwering in sy oë toe hy vra: “Is dit nie dalk Alfons nie? Sy skielike verskyning hier het almal aan die fladder, weet jy.”

Dis of haar keel wil toesnoer.

“Haai,” begin sy onbeholpe, maar slaan gou oor na ’n nonchalante, “… en ek dag nogal julle twee is sulke goeie vriende, Paul. Is jy nie bly hy’s terug in Die Vallei nie?”

Sy mond klamp toe en hy kyk ver oor haar kop berg se kant toe sodat sy onwillekeurig diep asem intrek. Hou op, maan sy haarself. Hou tog op om aanhoudend onkant gevang te word as iemand net Alfons se naam noem.

“Ek is bly hy is terug,” sê hy skielik asof hy dit so gou moontlik van sy hart af moet kry. “Alfons is die één vriend wat oor die jare heen altyd dieselfde gebly het. Van hom kan ’n mens seker wees, het ek gedink. Want, Danien, ek plaas ’n hoë premie op egt­heid. My vriende kan eksentriek wees, hulle kan soms verkeerd wees soos wat ek ook maar is, maar hemel tog,” sy stem het ge­klim, “hulle moet eg wees!”

Sy voel hoe droog haar mond is toe sy vra: “Wat laat jou twyfel aan Alfons se egtheid?”

“Ek weet nie mooi nie. Hy is nog Alfons. Ek voel dit in my murg. En tog is hy anders.”

“Hoe anders?” por sy angstig.

Hy sug en haak by haar in om weer aan te stap.

“Kyk, Danien, ek kan nie my vinger daarop lê nie. Ek hou van die man, maar dit lyk nie vir my asof hy juis ons vriendskap meer wil hê nie. Hy was nog nooit by ons vandat hy hier aangeland het nie. Hy praat skaars met my.”

“Hy’t dan altyd daar by julle geboer!” sê sy verstom en verswyg net betyds dat hy wel nog soms by hulle aan huis kom. Al is dit nou om met Frans indringend te gesels en haar skaars ’n blik te verwerdig.

“Ja …” sê hy ingedagte, “ek en hy het baie nagte omgesels. Veral hier in ons tienerjare. Hy’t tóé al ’n oog op jou gehad, hoor. Maar ons het albei tóé besluit dat jy nie die tipe is met wie ’n man ’n vakansieromanse aanknoop nie.”

Opwinding gly veerlig langs haar rug af. “Het julle my dan bespreek?” vra sy geskok, half oorstelp.

“Maar natuurlik!” Hy lag en gee haar arm ’n drukkie. “Jy’s tog ’n grootmens, Danien. En jy gaan onderwys gee. Weet jy dan nie hoe sulke opgeskote seuns praat nie? Natuurlik het ons oor jou gepraat. Vuriglik voor mekaar ontken dat ons op jou verlief is en jou met kamma objektiewe oorgawe bespreek. Van jou pragtige rooi hare tot jou fyn enkels, en so aan.”

“Wel!” is al wat sy kan uitkry, en sy weet sy gaap hom on­ver­bloemd nuuskierig aan. Sy sou haar nuwe onderwyspos wou gee net om presies, elke woord, te weet wat hulle destyds oor haar gesê het. Maar vra, sal sy nie.

“Miskien,” sê hy sag, “is dit juis waarom daar nooit iets gebeur het nie. Dit was ’n soort uithouwedren tussen my en Alfons. Sou een van ons jou in alle erns nader, sou die ander mos weet van die groot liefde.”

“Dit klink asof julle buitendien weet.”

Dis uit voordat sy ’n wag voor haar mond kon plaas, en sy kyk verleë weg, baie bewus van sy tergende blik op haar. Hulle is al byna oor die duinepaadjie en op die strand voordat hy glimlag­gend sê: “Ja, ons weet en het geweet – tóé intuïtief en nou in re­trospeksie.”

Maar verder sê sy niks, sodat sy benoud sy arm vasklem toe hulle skielik op ’n klompie piekniekgangers op die eerste duine afkom en Alfons tussen hulle opmerk. Hy staan langs Fenella Bezuidenhout, sy arm argeloos om haar skouers en sy kop agter­oor soos wat hy vir die een of ander grappie lag.

Na die duiwel! dink sy en sluk ’n verskriklike teleurstelling weg. Wat het jy verwag? wil haar verstand weet. Fenella is ’n mooi meisie en Alfons is ’n man. ’n Man wat sappige gesprekke oor meisies se enkels voer. En as jy nie byderhand is nie, sal daar wel iewers ’n Fenella opduik.

“Dit wys op jou gesig,” sê Paul lakoniek.

“Wat?”

“Jou misnoeë met Fenella.”

“Jy jok,” sê sy impulsief, maar hy skud van die lag. Tog, toe sy opkyk na hom, is sy oë grimmig en kyk hy anderpad sodat sy aan hom moet pluk toe sy fluisterend sê: “Luister, man, wat Alfons doen, gaan my nie aan nie. Buitendien, ek het nog nie kans gehad om vir jou te sê dat hy hom ook nie aan my steur nie. Niks nie. En dit traak my ook niks nie.”

Hy skud sy kop ongelowig, maar slaan ’n arm om haar toe hulle by die kring geselsendes inskuif. En hy buig sy kop om by haar wang te sê: “Jou woorde verlei my amper, Danien. Maar ont­hou jou voorneme om niemand aan ’n lyntjie te hou nie.”

En sy lag op in sy gesig toe sy antwoord: “Dit maak my kwaad as jy so daarop hamer. Ek speel nie met jou nie. Maar ek het jou wel nodig.”

Sy sien die skielike verligting en hoop in sy oë, en bid sonder woorde. Here, sê sy stilweg, en weet dat Hy hoor en begryp, help my om niemand willens en wetens seer te maak nie, en help my om die regte besluite te neem.

Sy weet ook, terwyl sy om haar rondkyk en kopknikkend van die ander bekendes groet, dat vanaand ’n besondere aand is. Be­slissend in haar lewe. Sy wonder nie waarom sy so dink nie. Hulle is lank nie meer kinders nie en hierdie man weet so presies wat hy van haar verlang: algehele betrokkenheid. Oorgawe. Sy het dit netnou in sy omhelsing ook gevoel.

“Ek het dit al gesê,” sê Paul met ’n sug langs haar, toe hulle op ’n reiskombers by haar ma-hulle gaan sit, “maar dis ’n wondermooie aand.”

Karel Fouché beaam dit laggend, trek genoeglik aan sy pyp en Danien volg sy blik toe hy strandop en strandaf kyk. Die see roer lui soos ’n dam in die laatlig. Dis laagwater en die rosige golfies skuim spelerig op die sand. Dis ’n uitnodiging soos min, en die paar laatswemmers het klaar baie ander lus gemaak. Hier en daar begin die jonges al die piekniekgoed toemaak en rompe en hemde wat bo-oor swemdrag aangetrek is, losknoop. Vanaand gaan daar geswem word tot die maan opkom.

Danien hap aan haar toebroodjie en kyk luiters om, maar haar oë fynkam die strand agter haar waar sy laas vir Alfons gewaar het. Sy skrik haar boeglam toe hy en Fenella vlak by hulle verbystap. Alfons se hand rus liggies op Fenella se skouer, maar sy oë is op haar wat Danien is. ’n Oomblik lank, net voordat hulle wegstap, kyk hy na haar, en dra sy gesig dieselfde gekwelde, intense uit­druk­king soos tydens hul vreemde gesprek op die stoepdek. Dis kompleet of hy iets wil oordra waarvoor daar nog nie woorde is nie. En dis net ’n stonde, sodat Danien nie mooi weet of dit só was nie. Maar toe hulle naby die water kom en hul oorklere afstroop, tik Alfons spelenderwys op Fenella se netjiese agterstewetjie en spring die golwe in om onder die agterstes in te duik.

“Het jy ook lus?” vra Paul stilweg.

“Om te swem?” hou sy haar dom. “Nee, niks nie. Kom ons drink net koffie en dan loop ons weer.”

’n Ruk lank sit hulle nog en gesels en drink saam met die ouer mense koffie, maar Danien se gedagtes is in die water en sy het moeite om haar oë op haar ma se vriendelik besorgde gesig te hou en haar pa se kwinkslae gevat te beantwoord.

Toe sy en Paul eindelik help oppak, sak daar ’n loodsware ge­voel in haar af. Sy is niks lus om ’n oomblik langer hier op die vrolike strand te wees nie. En sy wens sy kon haar soos ’n skulp­dier iewers terugtrek. Waarom het ’n mens nie so iets nie? wonder sy opstandig. ’n Skulp wat saamgedra word en as pantser dien, ’n dop waarin gekruip kan word as die son steek. ’n Mens leef so oop en bloot onder die oog van almal wat wil kyk.

“Wat dink jy?” vra Paul skerpsinnig.

“Gaan julle dan al terug?” vra haar ma voordat sy aan iets kan dink om te antwoord.

“Ons stap sommer ’n entjie,” sê Paul en trek Danien se hand deur sy arm. Sy hou dankbaar aan hom vas toe hulle deur die mense terug duine toe loop, om met die paadjie langs dorp toe te gaan.

“Luister,” sê Paul toe sy besluiteloos in die voorste straat vas­steek, “ek dink nie jy wil regtig nog ’n ent loop nie. Ek het ’n nuwe Franse CD van Mireille Matthieu gekoop. Miskien wil jy daarna luister?”

“Ek wil, ja.” Sy glimlag berouvol. Dis immers nie Paul se skuld dat sy voel soos wat sy voel nie.

Dit word tog ’n genoeglike aand. En sy kom nie agter dat Paul alles in sy vermoë doen om hom na háár gemoedstemming te skik nie. Hy dra tee aan, maan sy twee tienersussies tot stilte en laat Danien toe om swygend en versonke in haar eie gedagtes na die Franse sangeressie se meesleurende musiek te luister.

Dis al laat toe hy eindelik saam met haar terugstap huis toe, en hy hou haar sagkens op die skemerdonker stoep teë. Sy lig haar gesig woordeloos na hom en hy soen haar eers op haar voorkop en toe op haar mond. Sag en amper terloops asof daar ’n ou ver­troudheid tussen hulle is, maar toe hy hom omdraai en wegstap die donkerte in, hoor sy hom fluit. En sy herken die melodie. Dis een van die Franse liedjies waarna hulle geluister het. Maintenant ou jamais. Nou of nooit …

Die huis is al stil. Haar ma-hulle moet al gaan slaap het. Frans en Anel ook, want dis donker in hul kamers. Seker gedaan ge­swem so in die maanlig, dink sy jaloers, en loop katvoet verby.

Maar sy is skaars in haar kamer, of daar kom ’n luide tikge­luid van die venster af. ’n Klippie, besef sy dadelik. Sou Paul weer teruggedraai het en nou wil hy liewer nie die voordeurklokkie lui nie? Sy maak die balkondeur oop en stap uit.

“Wat is dit?” roep sy fluisterend.

“Kom af hierheen. Ek wil met jou praat.”

Dis nie Paul nie. Onder op die maanwit grasperk staan Alfons.

“Kom nou!” sê hy weer, dié slag effens harder, sodat sy skielik bang is dat die ander sou kon hoor.

Ek sal nie gaan nie, dink sy paniekerig en sien voor haar gees­tesoog Fenella se heupies soos wat sy aanwikkel water toe.

“Wat’s dit?” vra sy koppig, en leun oor die reling om hom beter te kan sien.

“Is jy doof, Danien? Kom tog nou af!”

“Nee. Dis laat en ek gaan nou slaap.”

“Goed, dan kom ek boontoe.”

“Dapper woorde!”

“Wil jy wed?”

“Nee, ek wil gaan slaap. Buitendien, ek is ’n goeie fee; ek wed nie.”

Daarmee draai sy haar om en maak die deur na haar kamer ferm agter haar toe. Maar sy het skaars die beddeken afgehaal en wou dit net op die stoel langs die bed neersit, of die deur gaan sag oop en Alfons kom luiters binne. Skrik slaan haar reg op die maag sodat sy hom sprakeloos aankyk.

“Ek het met die stoeppaal opgeklouter,” sê hy gewoonweg, en gaan sit op die leunstoel by die venster. Hy strek sy lang bene voor hom uit en vou sy bruingebrande arms agter sy kop. Sy ooglede sak lui oor sy oë en hy beskou haar met ’n fyn glimlaggie. Dit bring haar tot haar sinne.

“Wat makeer jou?” vra sy kwaad. “Dis my slaapkamer dié.”

“Ek weet,” sê hy met spyt, sodat sy hom verbaas aanstaar. “En ek sou dit nie normaalweg vir ’n rendezvous gekies het nie, maar nou ja, jy wou nie afkom ondertoe nie.”

“Rendezvous?”

“Ja. Met my Goeie Fee, sien.”

“Loop soek vir jou ’n ander een om jou stoep te vee, Alfons. Ek is doodseker daar loop baie beskikbare en gewillige feetjies rond op soek na ’n geleentheid om goeie werkies te doen.”

Hy lag sag en staan op, kom tot by haar en neem die deken uit haar hande. Hy sit dit ewe netjies op die voetenent van haar bed neer en toe hy weer na haar kyk, is sy oë vol erns en kommer. Maar sy lig haar ken.

“Ek verstaan jou nie,” sê sy met ’n sug. “Maar jy moet nou loop …”

“Eintlik moet ek, ja, maar nou is dit ook so dat jou slaapkamer die perfekte plek is om met jou te gesels. Niemand sal ooit vermoed dat ek hier is nie.”

“Hoe bedoel jy nou?” vra sy, en voel hoe ’n bewing in haar bene begin en boontoe sprei, sodat sy haar hande styf voor haar vasklem. Sy wens hy wil tog nou loop. Behalwe die vrees dat haar ouers sal hoor hoe fluisterpraat sy met iemand, of dat Anel dalk nog sal kom kyk, kan sy hom nie langer hanteer nie. Want sy wil huil. On­bedaarlik en vir altyd huil omdat daar meteens weer ’n onbetwisbare, droewe erns tussen hulle is. Sy donker oë lyk swaar van ’n soort dowwe smart en hy frons kwaai asof hy trane wil keer.

“Wat is dit?” vra sy weer, en hierdie keer kyk hulle oop na mekaar; daar is geen voorgee tussen hulle nie. Dis asof hulle mekaar nog altyd só intiem geken het dat hulle hul gedagtes woor­deloos vir mekaar kan aangee, wel wetende dat dit sonder kritiek ontvang en bewaar sal word.

“Danien,” sê hy baie sag, “ek weet nou dat ek dalk nie hierheen moes gekom het nie. Ek moes gebly het waar ek was tot alles verby is …”

“Tot wat verby is?” vorm haar lippe bang die woorde.

Maar hy skud sy kop ferm. “Nee, moet nooit vra nie. Hoor jy my, Danien?”

In sy dodelike erns het hy haar skouers pynlik vasgevat en sy voel die bewing van sy hande in haar eie liggaam afsak. Maar hy pluk hulle gou weer weg asof hy die gebaar berou. En sy staan morsdoodstil. Sy vra nie waarom sy nie moet vra nie. Want sy sien in sy oë ’n stugge, somber vrees, en dit keer haar meer om sy ontwil as haar eie.

“Luister,” sê hy radeloos voor haar stil gesig, “ek vermy jou nie omdat ek jou nie wil sien nie. Ek wil gekgraag met jou praat. En jou vashou. Maar, Danien, dis beter dat nie een van my ou vriende nóú te veel met my geassosieer word nie. Nie Paul nie en veral nie jy nie. Almal sal begryp dat ek soms met Frans kom gesels, want hy en ek het altyd oor alles geargumenteer. Maar miskien moet ek hom ook nie weer besoek nie. Ek wil selfs nie met julle op die strand praat nie.”

Vashou, dink sy, en die begin van ’n laggie roer om haar mond sodat hy haar vervaard aankyk. Hy wil my vashou. En sy is nie seker of sy enige ander woorde gehoor het nie.

“Ek verstaan jou nie,” sê sy rustig. “Maar dis alles reg, Al­fons.”

Hy staan ’n oomblik stom met sy hande op sy heupe, skud toe sy kop heftig.

“Nee, dis alles verkeerd, glo my! Maar dit kan nou werklik nie anders nie. Sê my net, is daar iets tussen jou en Paul?”

“Het jy ons afgeloer?” vra sy, en loer van onder haar wimpers na hom, sien met tevredenheid die ergerlikheid om sy mond.

“Ek het natuurlik gesien hoe hy jou probeer soen het,” sê hy styf.

“Wel,” sê sy met ’n breë glimlag, “dan kan jy mos jou eie afleidings maak. Jy as regsgeleerde moet al gekonfyt wees daarin. En jy was nogal ooggetuie ook …”

“Asseblief, Danien!” sê hy skaars hoorbaar, en sy oë smeek openlik dat sy dié speletjie moet staak. Tussen hulle twee is dit oorbodig, weet sy eensklaps helder.

Sy raak baie lig aan sy skouer.

“Daar’s niks tussen my en Paul nie, Alfons. Niks nie.”

Hy staan dit fronsend en oordink.

“Moenie dat hy jou weer soen nie,” sê hy kortweg. “Ek hou nie daarvan nie.”

Daarmee draai hy hom om en loop terug balkon toe. “Nag,” fluister hy net voordat die donker hom insluk en sy sy sagte skuifelgeluide hoor, soos wat hy weer met die stoeppaal afgly ondertoe. Tóé eers loop sy op die balkon uit om turend die nag in te kyk. Maar sy hoor en sien niks. Net toe sy wil terugdraai, merk sy die vuurvliegiespel skuins onder in die struike. Af en aan, af en aan. Hier, daar, hier, daar …

Dis soos hy, dink sy toe sy weer terug is in die kamer en die deur styf toemaak. Verskyn en verdwyn. Die aan-en-af-goggie …

En eers toe sy stil onder die laken lê en wag dat die slaap moet kom, dink sy weer aan Fenella. Maar dit pla haar nie meer nie. Want dis reg tussen haar en Alfons. Al is alles anders verkeerd. Een ding weet sy nou: sy wil Alfons hê. En dié keuse gaan sy kwota aan verdriet bring. Sy weet dit so seker as wat sy leef, en tog wil sy dit nie anders hê nie. Maar sy bly nog lank wakker en wonder oor sy woorde. En oor die vreemde, wonderlike verbondenheid wat daar nog altyd tussen hulle was.

Helene de Kock Keur 3

Подняться наверх