Читать книгу Die een oplossing vir die lewe - Henry Cloud - Страница 6
ОглавлениеHoofstuk 2
2
Jou visie en jou grense
Wat probeer ons doen? Soos Steven Covey gesê het: dis belangrik om die einde in gedagte te hou wanneer jy begin. Ons moet duidelikheid daaroor kry. Wat probeer ons in Die een oplossing vir die lewe doen? Die eenvoudige antwoord is:
Beheer verkry.
Ons probeer nie om beheer oor ander mense of al die omstandighede of selfs al die resultate te kry nie. Daardie dinge sal vanself volg namate jy beheer kry oor die enigste ding wat jy ooit kan beheer – jouself. As jy dit doen, sal jy die dinge ervaar wat ons almal in die integrasie van ons werk en lewe wil hê.
Die ironie is dat die meeste mense so besig is om goed te probeer beheer wat hulle nie kan beheer nie – ander mense, omstandighede of resultate – dat hulle in die proses beheer oor hulself verloor. Hierin lê die ware paradoks. Eers wanneer jy beheer oor jouself kry, kan jy begin om ’n betekenisvolle invloed op ander dinge uit te oefen: mense, omstandighede en resultate. Mense wat in beheer van hulself is, oefen die grootste invloed op alles en almal om hulle uit om goeie gevolge, resultate en winste te verkry. Maar hulle begin by hulself en dit is die wese van grense.
Om nie die storie vooruit te loop nie, moet ons teruggaan na daardie gewenste uitkoms, die visie. Hoe lyk dit? Wat probeer ons bereik deur goeie grense op te rig? Wat hiervan? Sê nou …
Elke dag wanneer jy opstaan, weet jy jy sal jouself daardie dag heelhartig toewy aan die dinge wat vir jou belangrik is. Sê nou jy weet jy sal jou werk goed doen, wonderlike resultate behaal, die proses en die gepaardgaande verhoudings geniet? Gevolglik laat die gedagte aan wat jy daardie dag gaan doen jou versterk en energiek voel. Al kom daar uitdagings, probleme en selfs probleemmense, voel jy dwarsdeur die dag bekwaam en vol vertroue dat jy alles kan doen wat nodig is. Hoewel jy moeg word, soms selfs uitgeput, sal jy nie afgetakel, uitgebrand of innerlik leweloos voel nie.
Wanneer jy daardie aand jou kop op die kussing sit, weet jy jy het daardie dag vordering gemaak op die regte gebied en in opsigte wat vir jou belangrik is. Jy is waar jy veronderstel is om te wees, doen wat jy geskep is om te doen en bereik alles waartoe jy in staat is. Jy voel deurgaans tevrede in die wete dat jou beroepslewe goed inskakel by ander dinge wat vir jou belangrik is: jou gesin, jou vriende, jou roeping, jou waardes, jou hartstogte, jou gesondheid en jou geestelike lewe. Die twee lewens, werk en die persoonlike dinge wat vir jou waardevol is, bots nie en voel nie eens soos twee lewens nie. Jy voel eerder soos een persoon wat verskillende dele van jouself op ’n geïntegreerde manier uitleef sonder dat een deel die geheel word of in die ander se pad kom. Dit is hoe dit lyk om ten volle mens te wees en ten volle te leef.
Dit klink natuurlik wonderlik. Maar dink jy dis regtig moontlik? Dink goed daaroor na voor jy dit as onmoontlik idealisties afmaak. Dit moet liewer moontlik wees. Die alternatief klink glad nie goed nie: Wanneer jy wakker word, sien jy op teen nog ’n dag waarin jy afsydig sal voel terwyl jy jou tyd en krag bestee aan dinge wat vir jou van geen belang is nie. Jy kan dalk resultate kry of nie, maar die proses en die meeste van die verhoudings sal jou ongelukkig laat voel. Jy sal ontmoedig en beswaard voel wanneer jy dink aan wat daardie dag vir jou voorlê. Die uitdagings, probleme en struikelblokke voel oorweldigend en jy weet hulle sal jou onderkry, maak nie saak wat jy doen nie. Jy weet jy sal uitgemergel, uitgebrand, magteloos en leweloos voel wanneer jy klaar is.
Saans kyk jy terug en besef jy het nog ’n dag verloor waarin jy nie gedoen het wat jy wou nie en jy het niks bereik wat regtig vir jou van belang is nie. Deur dit alles het jy vasgekeer en desperaat gevoel oor die keuses wat jy tussen jou werk en jou persoonlike lewe moes maak. Jy besef jou werk weerhou jou daarvan om te kry wat jy moet en wil hê in persoonlike areas wat vir jou baie belangrik is. Dit is asof jou werk, wat veronderstel is om net ’n deel van die lewe te wees, jou hele lewe oorweldig het en jy is nie seker wat gebeur het of wat jy daaraan kan doen nie. Daarom lyk môre nie juis anders as vandag nie.
Oorsaak of gevolg?
Hierdie twee scenario’s is natuurlik uiterstes. Die lewe is nie net wit of net swart met alles wonderlik of alles ellendig nie. Ons kan nie kies of ons die persoon in die eerste scenario met ’n byna volmaakte lewe of die een in die tweede scenario met ’n rampspoedige lewe wil wees nie. In verskillende stadiums van die lewe is daar gewoonlik elemente van albei scenario’s teenwoordig. Ek probeer nie ’n beeld van ’n volmaakte lewe sonder probleme voorhou nie. Ons ervaar almal goeie en slegte tye en die lewe gaan nie daaroor om óf goeie óf slegte tye te ervaar nie. Hulle sal altyd by ons wees. Daar is egter ’n ander óf-óf-keuse wat ons kan maak ten opsigte van hoe ons die tye wat ons wel het, goed of sleg, wil leef.
Die eerste scenario beskryf ’n proaktiewe, doelgerigte lewe. Hoewel daar swaarkry, verliese en selfs tye met swak resultate in verskillende areas kan wees, sal hierdie soort lewe ’n doelbewuste rigting hê, al gebeur slegte dinge. Hierdie persoon voel bemagtig om te leef en positiewe energie aan te wend om resultate te verkry wat ooreenstem met wie hy is en wat hy wil hê. Die tweede scenario beskryf ’n lewe wat deur ander voorgeskryf word, waar die persoon wat dit leef min keuses en nog minder beheer oor die omstandighede van sy bestaan het. Kortom, hy voel meer soos ’n resultaat as ’n oorsaak – soos ’n slagoffer, kan mens sê. Dit bring ons by die wese van die visie van wat ons hier probeer verrig:
Jy is ’n oorsaak, nie ’n resultaat nie.
Met ander woorde, jy sal bemagtig word deur jou keuses en jou optredes om die resultate te verkry wat jy in jou werk en lewe wil hê, in teenstelling met iemand wie se werk en lewe hul resultate op hom afdwing. Wanneer jy dink aan die gevalle aan die begin van die vorige hoofstuk, beskryf elkeen ’n persoon wat hom- of haarself beskou as die “resultaat” van die een of ander mag wat op hom of haar inwerk:
• Die hoof- uitvoerende beampte se onvermoë om ’n onbevoegde werknemer af te dank is die gevolg van hoe sy meen die werknemer sal voel as sy hom afdank.
• Die bestuurder se emosionele welstand is die gevolg van ’n baas met boelieagtige gedrag.
• Die MBA-gegradueerde se gevoelens van verskeurdheid en gebrek aan ’n lewe is die gevolg van die werklading wat op hom afgeskuif word.
• Die skeppende direkteur se wanorganisasie en gebrek aan deurvoering is die gevolg van te veel idees, rigtings en kreatiwiteit as sodanig.
• Die assistent se gevoelens van naarheid, ongemak en vrees is die gevolg van haar baas se seksuele toenadering.
• Die verkoopspersoon se gebrek aan vordering is die gevolg van te min verkope en transaksies wat nie beklink word nie.
As jy met elkeen sou praat, sou jy hoor hulle voel asof hulle vasgekeer en magteloos is teenoor hierdie magte of omstandighede wat op hulle inwerk. Ons visie is dat jy nooit weer so sal voel nadat jy hierdie boek gelees het nie. En dat wanneer jy situasies en mense teëkom wat jou beproef, jy in staat sal wees om daadwerklik en doeltreffend met hulle af te reken. Kortom, as jy ’n oorsaak en nie ’n resultaat is nie, sal jy in beheer van jouself wees en dit beteken jy kan die verlangde resultate verkry in die areas wat ons in hoofstuk een bespreek het:
• Hoe jy in jou werk en lewe voel.
• Hoe jou verhoudings werk.
• Hoe jy presteer en daarby baat.
• Hoe jy alles met jou voortreflike of geestelike waardes integreer.
Daar sal altyd base met boelieagtige gedrag of kwaadwillige kollegas met hul eie agendas wees. Swak marktoestande is deel van die sakewêreld en ook druk wat van alle kante op jou uitgeoefen word. As jy suksesvol genoeg is om ’n betrekking te hê en besorg is oor die onderwerp van hierdie boek, beteken dit dat jy beslis ook meer moet doen as waarvoor jy die tyd kan maak.
Jy het ook meer dinge in jou persoonlike lewe wat op jou tyd aanspraak maak as waarvoor jy tyd en energie het. Jou gesin, stokperdjies, vriende en nog meer vereis jou tyd en energie. Dit is goeie probleme om te hê en alomteenwoordig vir mense met vol lewens. Hoewel druk kom en gaan, is jy egter die een wat regdeur alles daar is en bepaal hoe jy elke uitdaging gaan hanteer. Jy en jou karakter is die konstantes in die vergelyking. Ons kyk nou hoe grense hierdie visie om jou weer in beheer te kry, gaan verwesenlik.
Wat is ’n grens?
Eenvoudig gestel: ’n grens is ’n skeidslyn. Dit bepaal waar jy ophou en iemand anders begin of waar jy ophou en iets anders begin. Dit is ’n struktuur wat orde handhaaf, ’n konsep waarna ons later sal terugkeer. Vir eers praat ons nou daarvan as ’n grenslyn en gebruik ’n beeld uit die fisiese wêreld.
In die fisiese wêreld is grenslyne taamlik maklik om te sien of af te lei. ’n Grenslyn bepaal byvoorbeeld waar jou erf ophou en die buurman s’n begin. Daar is dikwels ’n fisiese struktuur soos ’n heining of muur wat wys waar die grenslyn is. Jou huis het ook ’n fisiese struktuur as grens. Dit het mure wat dit definieer en omsluit. Jy weet wat in die huis en wat buite die huis is en dit is maklik om te weet presies waar die huis is.
In die fisiese wêreld is dit maklik om grense, soos heinings, te sien en te verstaan. Maar wat van die persoonlike en interpersoonlike wêreld? Hoe werk dit daar? Ons kyk nou na ses sleutelareas en ’n paar voorbeelde wat op werk betrekking het.
1. Eienaarskap
Grense omskryf eienaarskap. Ons weet dat enigiets binne ’n grenslyn aan die eienaar behoort en alles buite die grenslyn aan iemand anders.
Mense met goeie grense voel asof hul lewens aan hulle, en niemand anders nie, behoort. Hul gevoelens, gedagtes, keuses, begeertes, opinies, optrede, talente en enigiets anders in hul lewe bestaan op hul eiendom – hul gedagtes, hart en siel. Hulle “onteien” nie hier die dinge deur te dink dat dit iemand anders se probleem is nie. Hulle gee nie ander mense die skuld as hulle sleg voel nie. Hulle maak nie keuses en tree dan op asof die gevolge van daardie keuses iemand anders se verantwoordelikheid is nie.
Hierdie mense “besit” hul lewens, hul geleenthede, suksesse, mislukkings, vrese of wat ook al aan hul kant van die grenslyn bestaan. As ’n baas of kollega of marktoestande hulle omgekrap laat voel, aanvaar hulle dat dit hul probleem is. Dit behoort aan hulle. Dit is hul probleem, maak nie saak wie aan die ander kant daarvan is of wat die oorsaak daarvan is nie. As die kommer in hul siel is, aanvaar hulle eienaarskap daarvan al het hulle dit nie veroorsaak nie.
Vraag: Watter terrein van jou lewe – jou tyd, energie, passie en gedagtes – behoort aan jou en in watter mate? Behoort hulle regtig aan jou of aan iemand anders?
2. Beheer
As ons weet aan wie iets behoort, weet ons wie dit beheer. Eienaars kan doen wat hulle wil met hul eiendom (mits dit wettig is). As ons weet dat dit jou eiendom is, weet ons jy kan beheer wat daarmee gebeur en niemand anders nie. Niemand kan byvoorbeeld skielik besluit dat jou huis pers geverf moet word, eenvoudig jou heining – jou grenslyn – oorsteek en dit verf nie. Hulle het jou toestemming nodig om dit te doen omdat jou eiendom onder jou beheer is. Net so kan jy ook nie jou grens oorsteek en dinge begin verf wat nie aan jou behoort nie. Jy het net beheer oor jou eiendom, nie oor iemand anders s’n nie.
By die werk besef mense met grense dat hulle beheer het oor die dinge wat uitsluitlik binne hul beheer is – die dinge in hul eie hart, gedagtes en siel. Hoewel hulle dikwels nie beheer het oor die uitwendige werklikheid waarin hulle hulle bevind nie, kan hulle wel hul reaksie op daardie werklikhede beheer. As hulle ’n baas met boelieagtige gedrag het wat hulle ongelukkig maak, besef hulle dat die baas nie kan beheer hoe hulle voel nie. Hulle besef ook hulle kan nie die baas se optrede beheer nie. Daarom begin hulle beheer neem van wat hulle kan beheer, naamlik hulself. Hulle begin insien dat hulle nie magtelose slagoffers van hul baas is nie. Hulle kan ’n mate van beheer oor hulself uitoefen en doen wat nodig is om hulle beter te laat voel, ongeag hul baas se voortgaande gedrag.
Hulle besef ook dat hulle nie beheer het oor uitwendige sakekragte nie, maar wel oor hul reaksie daarop. Swak marktoestande, ’n veeleisende klant of ander uitwendige gebeure is nie onder hul beheer nie. Hulle besef hulle het beheer oor hul reaksie op sulke uitdagings. Hulle rig dus altyd hul fokus en aandag op wat hulle kan doen, nie op die negatiewe aspekte van die situasie en die dinge wat hulle nie kan beheer nie. Hul leuse is: “Wat kan ek doen?”
Vraag: Hoeveel beheer het jy oor wat in jou lewe gebeur? In jou hart? In jou verstand? In jou siel? Het jy genoeg beheer oor jou tyd? Oor hoe jy jou energie gebruik? Oor jou keuses? Oor jou emosionele welstand?
3. Vryheid
Hierdie eie beheer oor jou eiendom gee aanleiding tot die konsep van vryheid. Dit is uitsluitlik jou keuse wat jy met jou eiendom doen. Jy is nie net die een wat dit beheer en die mag het om te doen wat jy wil nie, jy het ook die vryheid om te kies wat dit sal wees. Niemand kan dit aan jou voorskryf nie. Net jy kan daardie keuse maak, onderworpe aan enige beperkings op die eiendom, byvoorbeeld die reëls van ’n huiseienaarsvereniging of munisipale regulasies.
In ’n werksituasie besef ’n persoon wat in beheer is dat niemand haar kan dwing om ’n slagoffer te bly nie. Sy het die vryheid om enige keuse te maak wat sy wil en gevolglik begin sy keuses maak op grond van besluite wat aan haar behoort en waarvoor sy die verantwoordelikheid aanvaar, eerder as om ’n passiewe slagoffer te wees en gegrief te voel oor haar situasie. Wanneer sy dit besef, gaan ’n nuwe wêreld van keuses voor haar oop. Sy verstaan sy is heeltemal vry om haar keuse te maak. Dit kan wees om haar reaksie op haar aanstootlike baas te verander, op ’n ander manier aan hom te dink, anders teenoor hom te reageer, hom te konfronteer, hom te vermy of selfs om van die maatskappy weg te gaan. Sy kan doen wat sy wil.
Vraag: In watter mate voel jy vry om te doen wat jy ook al wil doen? Of voel jy dat jou vryheid weens magte van buite beperk is?
4. Verantwoordelikheid, toerekenbaarheid en gevolge
As ons weet aan wie die eiendom behoort en wie in beheer daarvan is, weet ons ook wie verantwoordelik is vir wat daar gebeur. Eienaarskap, beheer en vryheid gaan altyd gepaard met verantwoordelikheid, toerekenbaarheid en gevolge. Jy kan doen wat jy wil, maar jy sal ook die gevolge van jou besluit moet dra, of dit goed of sleg is. Daar is werklike gevolge – goed en sleg – soos om ’n gerieflike huis te hê as jy dit versorg of dat die dak ineenstort as jy die termiete ignoreer. Verder is daar interpersoonlike en wetlike gevolge, soos om uitgesit te word as jy toelaat dat dit ’n brandgevaar word, of dat jou buurman ’n saak teen jou maak as jy sy eiendom in gevaar stel deur keuses wat jy op jou eiendom maak. Die gevolge, goed of sleg, is elke keer onder jou beheer en jy is daarvoor verantwoordelik.
Iemand met grense weet die gevolge van sy keuses, wat dit ook al is, is sy verantwoordelikheid en hy aanvaar dit so. As hy gekies het om sy betrekking te aanvaar, aanvaar hy die verantwoordelikheid daarvoor. As hy sy baas konfronteer, aanvaar hy verantwoordelikheid vir die gevolge. Of as hy stilbly, besef hy dat dit sy keuse is en aanvaar verantwoordelikheid vir die posisie waarin dit hom plaas, ongeag of die keuse goed of sleg, slim of dom was. Hy is nie ’n slagoffer nie. Hy is verantwoordelik en hou daarvan. Hy besef hy is verantwoordelik vir die gevolge van sy besluite en optredes, wat dit ook al mag wees.
Vraag: Aanvaar jy verantwoordelikheid vir die gevolge van jou keuses? Jou gesindhede? Jou oortuigings? Jou gevoelens? En hou jy ander verantwoordelik vir die gevolge van hul gesindhede, oortuigings, gevoelens, keuses of optrede?
5. Perke
As jy jou eiendom besit en vry is om te bepaal wat daar gebeur, het jy ook die vryheid om perke te stel aan wat daar gebeur. As mense op jou eiendom oortree of iets daar doen wat jy nie wil hê nie, kan jy hulle vra om dit te verlaat. As hulle weier, kan jy verdere perke afdwing soos om die polisie te ontbied. Uiteindelik kan jy hulle van jou eiendom laat verwyder en hulle aanspreeklik hou vir die skade wat hulle aangerig het. Dit is egter jy wat beheer moet neem en die perke moet bepaal van wat jy wil en nie wil toelaat nie.
Of as daar iets by die werk gebeur, dalk weens ander se keuses, of as iemand onverantwoordelik optree, besef die persoon wat in beheer is dat sy perke kan stel aan die uitwerking van daardie optrede of gesindhede op haar. Sy is nie bang om beswaar aan te teken en te sê dat daar ’n perk is aan waarvan sy bereid is om deel te wees, waaraan sy haar sal laat blootstel of waardeur sy beïnvloed wil word nie. Perke geld ook vir dinge waarvoor sy vir haarself moet nee sê deur seker te maak dat sy nie instem om dinge te doen wat haar persoonlike perke ten opsigte van tyd en energie oorskry of teen haar waardes indruis nie.
Vraag: Stel jy perke vir mense of situasies sodat hul uitwerking op jou ’n duidelike afsnypunt het? Trek jy die streep?
6. Beskerming
As jy weet waar jou grense en perke is, en jy in beheer van daardie eiendom is, kan jy iets baie belangriks doen. Jy kan die goeie goed binne jou eiendom hou en die slegte goed buite. Jou grense beskerm die dinge wat vir jou waardevol is – jou skatte – en jy wil hê hulle moet binne bly, veilig teen die magte wat hulle dalk wil steel of vernietig. Daarom sluit jy jou deur of maak die hek toe in die heining om jou huis. Jou grense beskerm die goeie dinge binne die grenslyne. Hulle beskerm jou ook teen slegte goed soos diewe en aanvallers van buite.
Mense wat in beheer van hulself is, kan weerstand bied teen mense of omstandighede wat dreig om hulle of hul organisasie kwaad aan te doen. Hulle het die grense om hulself, ander, hul organisasie en sy missie te beskerm teen magte en mense wat dit wil benadeel.
Vraag: Laat jy toe dat slegte goed op jou eiendom afgelaai word of dat slegte mense die heinings van jou hart, verstand en siel binnedring? Of het jy ’n duidelike heining met ’n “Geen oortreders”-waarskuwing aan mense en gedrag waarvan jy nie hou nie? Kan die wolwe in die tuin kom of slegte mense enige gemors na hartelus in jou siel stort?
Die funksies van grense is om te sorg vir: eienaarskap, vryheid, verantwoordelikheid, perke en beskerming. Soos jy kan sien, geld hulle van die raadskamer regdeur tot by die persoon in ontvangs wat die telefoon beantwoord. ’n Vinnige voorbeeld: As Maria, die huiwerige hoof- uitvoerende beampte van Hoofstuk 1 hierdie soort grense gehad het, sou haar situasie baie anders gewees het. Sy sou die gevoelens van ongemak en beskroomheid om die swak presteerder in die pad te steek, as haar eiendom aanvaar het. Sy sou besef het dat haar gevoelens haar probleem is en Stan se moontlike gevoelens sy probleem en eiendom is. Sy sou eienaarskap aanvaar het vir die gevolge van sy swak prestasie. Sy sou ook verantwoordelikheid aanvaar het vir die feit dat solank sy kies om niks te doen nie, sy ook die keuse maak om die prestasie van die hele organisasie te benadeel en baie mense se ontevredenheid op die hals te haal.
Grense is taamlik eenvoudig as jy in fisiese terme daaraan dink, byvoorbeeld ’n erf of huis, heinings, mure en hekke. Ons kan na iemand se huis of tuin kyk en sien hoeveel passie, sorg en verantwoordelikheid hulle daarin steek. ’n Vinnige blik in die verbygaan vertel ons reeds baie omtrent die eienaar.
In interpersoonlike situasies is daar egter geen heinings, mure of hekke nie. Jy kan nie agter ’n fisiese heining wegkruip om te keer dat nare kollegas, kliënte of base hul werk of kwessies op die “werf” van jou hart en siel stort nie.
Die werklikheid is dat dit presies is wat sal gebeur as jy nie goeie persoonlike en interpersoonlike grense het nie. Jy sal agterkom dat jou “werf” die opgaarplek word vir al die gemors wat om jou gebeur of eenvoudig vol raak van baie meer werkopdragte as waarvoor jy kans sien. Jou lewe raak vol rommel en binnekort geniet jy dit nie om daarin te leef nie. Ongelukkig kan jy dit nie verkoop of wegtrek na ’n ander eiendom as jy self die eiendom is nie. Die enigste oplossing is om heinings op te rig, eienaarskap te aanvaar en beheer oor jou lewe te herwin.
In hierdie boek gaan ons uitvind hoe hierdie “heinings” dalk kan lyk. Ons begin met ’n bietjie sielkunde.