Читать книгу Die een oplossing vir die lewe - Henry Cloud - Страница 7
ОглавлениеHoofstuk 3
3
Struktuur en grense
Heinings is fisiese strukture. Jy kan in hulle vasloop. As jy hulle ignoreer, veral die doringdraadsoort, voel jy die gevolge. Nou wat is die strukture van die persoonlike en interpersoonlike wêreld? Waarvan is jou heinings gemaak? Wat gebeur as iemand hulle ignoreer? Kan hulle ooit die heinings sien?
Jy weet waarskynlik hoe dit voel om by iemand te wees waar jy ’n duidelik aanvoeling kry van waar die persoon begin en eindig, wie hulle is en wie hulle nie is nie. As jy met hulle bots, voel dit asof jy werklik in iemand vasgeloop het. Hulle is goed gedefinieer. Jy kan hul heinings voel.
Net so weet jy ook hoe dit voel in die teenwoordigheid van die soort persoon wat baie sag en ongedefinieerd voorkom. Jy wonder waar hulle regtig is en wat hul werklike standpunte is. Ek het onlangs met die visepresident van ’n maatskappy gesels wat die volgende van sy baas gesê het: “Ek wens partykeer hy wil net opstaan en sê: ‘Dis hoe dit gaan wees en as julle nie daarvan hou nie, is dit tot daarnatoe.’ Hy probeer te hard om met almal oor die weg te kom en almal gelukkig te hou. Dit maak dinge te onvas. Ek wens hy wil beheer neem en hom nie bekommer oor hoe enigiemand anders daaroor voel nie. Dan sou dit baie beter gaan.” Hy het van sy baas presies verwag wat grense verskaf: die struktuur wat sekerheid skep. Ons moet persoonlik, binne onsself, en ook tot voordeel van ander, die sekerheid van duidelike grense hê.
Die belangrikheid van struktuur
Waaraan dink jy wanneer jy die woord “struktuur” hoor? Vir party mense klink dit na hul ergste nagmerrie. Hul eerste gedagte, waarskynlik met goeie rede, is: “Ek wil nie in ’n omgewing met te veel struktuur wees nie.” Almal het iewers ervaar hoe dit voel wanneer reëls, beleidsvoorskrifte en ander strukture almal wat daarin vasgevang is, byna versmoor. As die strukture te versmorend is, kan hulle ons so aan bande lê dat dit voel asof ons nie kan beweeg nie. Vra enige tiener met ’n streng of heerssugtige ouer hoe dit voel om na meer beweegruimte te smag.
Maar hoewel te veel struktuur en te min beweegruimte ’n probleem is, is die gebrek aan struktuur ’n nog groter probleem. Ons kan net so min daarsonder leef as wat ons sonder ’n dak oor ons kop kan leef. Dit voorsien die grondslag vir ons om te weet wie ons is, wat ons wil hê, wat ons voel en dink en wat ons vermoë is om keuses te maak en iets omtrent daardie dinge te doen.
Mense sê soms “dit begin vorm aanneem” wanneer hulle van ’n projek of ’n droom praat, en bedoel daarmee dat dit struktuur begin kry. Jy kan werklik sien hoe die stukke bymekaarkom en die vorm sigbaar word.
Dit werk net so met mense, verhoudings en sakeondernemings. Die woord “struktuur” is letterlik afgelei van die Latynse woord vir “om te bou”. Dink aan die woord “konstruksie” wanneer iets gebou word. Dit dui aan dat die dele saamgevoeg word tot ’n samehangende geheel. En wanneer die geheel klaar gebou is, vorm die dele ’n eenheid wat werk. As die dele egter oral versprei lê en daar geen struktuur is wat hulle saamvoeg nie, of as hulle te swak en buigsaam is, werk hulle nie.
Jou grense is die struktuur van jou persoonlikheid en wanneer jy hulle uitleef, vorm hulle die struktuur van jou as mens, jou verhoudings, jou werk en jou lewe. As hulle stewig is, werk alles. As hulle egter te yl versprei, te swak en buigsaam is, sal jy ook so wees. Ons kyk nou eers na die sielkunde van hoe dit alles gebeur en waarom jy die struktuur het wat jy vandag het of nie het nie.
Hoe struktuur ontwikkel
As jy kinders het of met hulle te doen gehad het, het jy gesien hoe ’n universele vorderingsproses plaasvind. Hulle begin met persoonlikhede byna sonder struktuur. Hoewel ons in hul babadae sekere kenmerke kan waarneem, byvoorbeeld ’n neiging tot aggressie of passiwiteit of ’n neiging tot prikkelbaarheid of tevredenheid, is hul persoonlikhede baie vaag. Ons weet nie watter vorm dit gaan aanneem of hoe dit later tot uiting gaan kom nie. As jy na pasgebore babas in ’n hospitaal se babakamer kyk, kan jy die toekomstige prokureurs sien protesteer en baklei of die passiewe gedrag van die moontlike medeafhanklikes van die toekoms. Maar jy weet nog nie hoe hulle regtig gaan wees nie.
Mettertyd begin hulle vorm aanneem. Hulle raak meer beweeglik, hulle raak taalvaardig en begin die buitewêreld verken. Hulle raak bewus van hul belangstellings en begeertes. Hulle poog om uitdrukking daaraan te gee en van buite bevrediging daarvoor te kry. Maar hulle is steeds chaoties en raak maklik ontsteld. En as hulle iets wil hê, wil hulle dit dadelik hê.
Ouers en versorgers omring hulle met die struktuur wat hulle self nie het nie. Die mense wat hulle liefhet begin vir hulle grense en perke stel, aanvanklik om hulle te beskerm en te beheer. Sommer gou leer ken hulle die woord “nee”. Trouens, hulle leer nie net om dit te herken nie, maar ook om dit te sê. Kleuters is bekend daarvoor dat hulle ’n kwaai gesig sal trek, gesagsfigure stip in die oë sal kyk en met groot beslistheid sal sê: “Nee!” Dis ’n vertoning van hul mag en wil.
Maar al voel hulle magtig, kom hulle gou agter dat daar perke aan hul ontluikende gevoel van almag is. Hulle kom grense en perke – heinings – teë wat werklik bestaan. “Nee, jy mag dit nie doen nie.” “Nee, jy kan nie meer speel nie. Dis slaaptyd.” “As jy dit gooi, gaan jy kamer toe.” Dit is vir hulle ’n sleutel om grense te ontwikkel wat hulle hul lewe lank nodig sal hê. Namate struktuur by hul ervaring gevoeg word, gebeur iets. Hulle internaliseer daardie struktuur.
Wanneer grense op hulle afgewing word, vind ’n grondwaarheid van menslike ontwikkeling plaas. Mens kan dit ’n wet noem:
Wat eers buite was, is nou binne.
Die perke wat van buite op hulle afgedwing word, word deel van hul innerlike samestelling. Daardie perke vorm die innerlike struktuur wat hulle sekerheid gee, hulle veilig laat voel en hulle ook in staat stel om iets te verkry wat ons “selfbeheersing” noem. Namate hulle perke en die gevolge van hul optrede ervaar, leer hulle dat hulle keuses kan maak wat hul welstand beïnvloed. “As jy A doen, sal B gebeur, en as jy C doen, sal D gebeur.” Die kombinasie van belonings en negatiewe gevolge gee hulle die struktuur en selfdissipline wat die grondslag sal vorm van die soort selfbeheersing wat hulle in staat sal stel om later in hul lewe hul potensiaal te verwesenlik – of nie. Hulle leer wat die woord “nee” beteken en ontwikkel die vermoë om vir hulself en ander nee te sê en ander se “nee” aan hulle te respekteer. Hulle het die vermoë geïnternaliseer. Dié wat nie hierdie soort perke of dissipline het nie, sal sukkel. (Het jy al gesien hoe ’n hopeloos bedorwe kind probeer om die wêreld op haar eie aan te durf?)
Geleidelik, deur talle ervarings, raak kinders se interne programmatuur ingestel om iets te doen wat hulle lewenslank sal bemagtig. Dit voorsien ’n formule met tydvolgorde vir gevolge en lewensgehalte. As klein Suzy leer “as ek A doen, sal B gebeur”, vorder sy verby die stadium van die impulsiewe persoon wat doen wat op hierdie oomblik lekker lyk. Sy ontwikkel ’n lineêre denkwyse wat rekening hou met oorsaak en gevolg. Sy raak bewus van tydvolgorde en verstaan “as ek dit nou doen, sal daar later ’n gevolg wees”. Sy begin koppel haar keuses aan latere gevolge. Aan die begin lei haar keuses tot gevolge soos ’n roomys of om kamer toe gestuur te word. Later besef sy dat die keuse om hard te leer en haar huiswerk te doen, haar beloon met toelating tot ’n universiteit. Nog later ontdek sy dat sy ’n huis sal kan bekostig as sy genoeg goeie kliënte kan werf. Of dat die aandeleprys sal styg indien sy as leier bepaalde besluite neem. Die kern van die saak is dat programmatuur geskryf word waardeur sy tydverloop kan benut op grond van keuses wat sy maak. Sy sal ’n formule hê wat baie van haar optredes bepaal.
“As ek hierdie keuse maak, sal goeie dinge gebeur” word ’n ordeningsbeginsel in haar verstand, en dit is een van die sleutelkomponente van grense en struktuur. Die teenoorgestelde geld ook, en dit sal haar keer om ander keuses te maak wat haar begeerde doelwit sal kelder. As sy byvoorbeeld Maria uit Hoofstuk 1 se posisie beklee het, sou sy geweet het dat versuim om Stan af te dank toekomstige teenspoed vir almal waarborg. Die gedagte aan die gevolge wat dit môre en die dag daarna sou oplewer, sou haar gemotiveer het om die sneller te trek. As sy dus daardie soort struktuur in haar verstand het en nie die vrese en botsende oorwegings het wat haar keer om tot optrede oor te gaan nie, sal sy doen wat nodig is. Dit beteken nie dat sy harteloos sou wees of nie met Stan sou saamwerk om te kyk of hy beter kan presteer nie en nie empatie met sy situasie sou hê as sy hom wel afdank nie. Dit beteken wel dat sy in staat sou wees om te doen wat nodig is.
Die gevolg van ’n omgewing met grense, aanspreeklikheid, gevolge en belonings is dat kinders ’n gevoel vir struktuur internaliseer wat hulle goed te staan sal kom. Hulle leer om ja te sê vir goeie dinge en nee vir slegte dinge en om die selfbeheersing te ontwikkel wat hulle lewenslank nodig sal hê. Dit alles vorm ’n blywende struktuur in hul hart, verstand en selfs die neurale apparatuur van hul brein – vir die res van hul lewe. Hul vroeë ervarings van struktuur het letterlik deel van hul persoonlikheid geword, deel van hul karakter.
Wat struktuur vir ons doen
Struktuur verrig ses sleutelfunksies: differensiasie en afsonderlikheid; inperking; definisie; perke; waardes; selfbeheersing, vryheid en selfstandigheid. Ons beskou elke funksie nou van nader.
1. Differensiasie en afsonderlikheid
’n Sleutelkomponent vir die ontwikkeling van karakterstrukture is iets wat “differensiasie” genoem word. Dit is die proses waarvolgens kinders uitvind wie hulle is as afsonderlike mense wat van ander verskil. Onthou jy die grenslyn? Dit bepaal nie net waar jou eiendom begin en eindig nie, maar ook waar jy eindig en iemand anders begin. Dit wys waar die twee eiendomme verskillend en afsonderlik is. Hierdie kant is joune en daardie kant is nie. Dit is die grondslag van persoonlike identiteit: die wete dat jy jy is en nie iemand anders nie.
Die kind begin dus daardie afsonderlikheid uitleef. Hy kry keuses en hy kies rooi as sy gunstelingkleur of hierdie aktiwiteit as sy gunstelingspeletjie in teenstelling met daardie een. Al hou Ma of Pa van ’n ander kleur of speelgoedkeuse vir ’n seun, sal hy hom laat geld. So begin hy om eienaarskap van sy begeertes, gedagtes en afsonderlikheid te aanvaar.
As alles goed verloop, sal hy later die vryheid en differensiasie hê om ’n musikant te word as dit is wat hy wil doen, al kom hy uit ’n familie van bankiers. Hy het geleer dat hy nie ’n atleet hoef te wees net omdat sy broer een is nie, en volg sy eie belangstellings. Hy weet wat hy wil hê, voel, van hou en waarvan nie. Hy is anders as sy familielede, nie op ’n eienaardige manier nie, maar as afsonderlike persoon. Al het hy van dieselfde goed as sy broer of sy pa of ma gehou, sou hy steeds geweet het hy hou uit eie keuse daarvan, nie omdat hulle dit wil hê nie.
Ek onthou ’n wonderlike ondervinding toe ek gesien het hoe ’n ouer ’n voorbeeld van hierdie soort ervaring vir sy jong tienerseun stel. Ek het ’n vriend wat ’n beroemde voetbalspeler was, ’n regte man onder die manne. Ons sou een Saterdag saam gholf speel en hy het gebel om te hoor of ek sou omgee as sy jong seun, wat ek nog nooit ontmoet het nie, saamkom. Ek het gesê: “Natuurlik nie, bring hom saam.” In my gedagtes het ek die outjie voorgestel as ’n jonger weergawe van hierdie Goliatfiguur en gewonder in watter posisie hy voetbal speel en hoe duiselingwekkend ver hy ’n gholfbal kan slaan.
Toe ek op die baan kom, was ek verbaas. My vriend se seun het glad nie na hom gelyk of geaard nie. Hy was nie sterk en gespierd nie en het nie besonders manlik gelyk nie. Inteendeel, hy was nader aan die ander uiterste; hy het ietwat kunssinnig en baie sagter gelyk. Ek onthou hoe die kontras my opgeval het toe ek hom ontmoet.
Terwyl ons na die oefenbof loop, het ek hom gevra of hy dikwels gholf speel en watter ander sportsoorte hy van hou. Voor hy kon antwoord, het sy pa se gesig gegloei van trots. “Mark, vertel hom van jou musiek! Henry, dis ongelooflik!”
Mark het my begin vertel van sy musiekbedrywighede, die orkes waarvan hy lid was, die geleenthede wat hy kry, en in dieselfde asem het hy, terwyl albei lekker lag, gesê:“Ek is nie juis ’n sportman nie, dis Pa se afdeling.” Sy pa het verder gespog oor alles wat sy seun doen en jy kon sy entoesiasme en vreugde oor sy seun aanvoel. Ek moes letterlik my emosies oor die wonderlike oomblik in toom hou. Ek het gesien hoe ’n pa met ’n seun wie se belangstellings soveel van sy gevierde sportloopbaan verskil, hom verlustig in sy seun se individualiteit, afsonderlikheid en verskille van hom. Hy het sy seun liefgehad en ondersteun presies nes hy is. Dit was een van die pragtigste vader-seun-oomblikke wat ek nog ooit gesien het. Sy seun was ten volle gedifferensieerd, sy eie mens, met vaste identiteitsgrense, ’n goed gestruktureerde beskouing van wie hy is en waarvan hy hou en die algehele vryheid om keuses te maak wat uiting gee aan daardie identiteit.
Met differensiasie kan jy sien hoe die konsepte wat ons in Hoofstuk 2 bespreek het – eienaarskap, vryheid, keuse en verantwoordelikheid – op die sakewêreld betrekking het. As Mark later in sy lewe ’n leier of bestuurder word, sal hierdie differensiasie hom goed te staan kom. Hy sal dalk eienaarskap moet aanvaar vir die deurvoer van sy visie wanneer baie stemme hom aanraai om ’n ander weg te volg. Sy duidelike wete dat dit aanvaarbaar is om ’n afsonderlike pad te volg wat van ander s’n verskil, sal hom egter bemagtig om die druk te weerstaan. Dink maar aan die vroeë rekenaar-entrepreneurs wat moes luister na hoe niemand ’n persoonlike rekenaar sal wil hê. Gelukkig was hulle gedifferensieerd genoeg om hul eie kop te volg en hulle nie te steur aan die druk om soos almal anders te dink nie.
As Mark hom in die posisie van Hoofstuk 1 se Maria bevind het, sou hy afsonderlik en gedifferensieerd kon bly van Stan se besware en ongelukkigheid oor die verlies van sy werk. Op grond van sy gedifferensieerde instelling sou hy voet by stuk kon hou, maak nie saak hoe Stan reageer het nie. As hy David was, sou hy hom ook kon afsonder van sy baas met boelieagtige gedrag se opinie van hom deur dit nie te aanvaar en deel van hom te maak nie. Dit sou buite sy heining gebly het.
As hy later ’n spanleier word wat die atmosfeer en kultuur van ’n organisasie bepaal, sal hy differensiasie as ’n goeie ding vir die span beskou en die soort spanatmosfeer bevorder waarin mense verskillende idees kan hê, dit kan opper en die vryheid het om hulself te wees. Hulle sou nie soos hy – of al die ander – hoef te dink nie. Die span sou dus die vryheid hê om groot dinge te vermag.
Dink aan nabetragtings in die Wall Street Journal of ander sakepublikasies oor hoof- uitvoerende beamptes of leiers wat afgedank is, organisasies vernietig het of dinge op die een of ander manier oor die afgrond gestuur het. Jy sal dikwels afkom op uitdrukkings soos “het afwykende opinies ontmoedig”, of “het meningsverskille as verraad beskou” of “het bedreig gevoel deur en vyandig opgetree teenoor dié wat nie saamgestem het nie”. Uiteindelik verloor ’n leier wat nie sterk en gedifferensieerde spanlede kan waardeer nie, die voordeel van hul teenwoordigheid en ontwikkel eerder ’n span wat bloot ’n verlenging van homself is en wat onderworpe is aan al die kwale en tekortkomings in sy eie kop.
Dink aan nog ’n aanleg wat Mark sal hê. Hy sal optree volgens die navorsingsbevindings wat betref sterk punte, talente, gawes en suksesvolle prestasie. Hy sal werk kies wat pas by sy aanleg en passie en sal dan sy tyd gebruik om te fokus op daardie take eerder as om hom te laat betrek by rigtings wat nie by hom pas nie. Sy identiteit sal altyd ’n interne GPS wees wat hom lei na die “ek” wat hy bedoel is om te wees en nie na die vervulling van iemand anders se missie op aarde nie. Hy sal na daardie ander areas kyk en in sy verstand die ekwivalent van “Ek is nie ’n voetbalspeler nie. Ek is ___” sê. Hy sal afsonderlik genoeg wees om sy aanlegte en gawes uit te leef. Differensiasie en afsonderlikheid is allerbelangrik.
Vraag: Waar is dit vir jou moeilik om apart en gedifferensieerd te bly van ander se druk om te wees wat hulle wil hê jy moet wees?
2. Inperking
’n Verdere belangrik funksie wat ’n grensstruktuur verskaf, is inperking. Dit beteken om letterlik iets wat vernietigend of skadelik is binne perke of onder beheer te hou. Wesenlik verhoed dit dat iets wat sleg is, uitbrei. Dit het enorme implikasies vir die sakewêreld en jou lewe.
Wanneer ’n kind verkeerd optree of oorweldig word deur negatiewe emosies of selfs impulse en gedrag, stel ’n liefdevolle persoon ’n perk vir hom of haar. Hulle gryp in en “beperk” die gedrag sagkens maar ferm, en sonder om self aanvallend te wees, sodat dit nie vererger nie. “Ek laat nie so ’n geskree toe nie. Jy moet na jou kamer gaan en daar bly tot jy bedaar het en saggies met my kan kom praat.” Die emosie en onvanpaste uiting daarvan word beperk. Dieselfde gebeur met die kind se impulsiewe gedrag. Hy word nie toegelaat om vrylik daaraan uiting te gee nie. Dit word beheer en beperk.
Onlangs was my vyfjarige dogtertjie baie omgekrap omdat sy iets nie kon doen nie en het aanhou kerm en al meer ontsteld geraak. Toe ek vir haar sê die antwoord bly “nee”, het sy nog meer ontsteld geraak. Ek het na haar gegaan, afgebuk sodat ek op haar vlak was en gesê: “Ek wil hê jy moet in die ander kamer gaan sit tot jy bedaar het en wanneer ek hoor dat jy twee minute lank stil is, sal ek met jou kom praat, maar nie voor jy kan stilbly nie.” Sy was eers omgekrap, maar na ’n paar minute het sy bedaar en na ’n rukkie geroep: “Pappa, ek kan nou praat.” Die struktuur en perke het haar gehelp om haar emosies te beperk en te kalmeer. Deur baie sulke ervarings leer kinders om hulself te beheer en binne perke te bly sodat hulle nie heeltemal oorstuur raak wanneer hulle radeloos voel nie. Later in hul lewe kan hulle self in hoogs plofbare situasies hul emosies in toom hou.
Net so belangrik is dat hulle deur inperking ook die vermoë internaliseer om perke vir ander te stel. My dogtertjie was by toe ’n maat se kat bietjie wild tekere gegaan het. Sy het gesê: “Snowball, jy lawaai te veel. Jy moet kamer toe gaan!” Sy het toe die kat in sy bed gesit en bygestaan om seker te maak die kat bly daar tot hy bedaar het. Sy was besig om die vermoë te internaliseer om nie net vir haarself nie, maar ook vir ander perke te stel.
Hierdie vermoë is later baie belangrik, veral vir leiers. Wanneer daar chaos in die span of die organisasie is, of venynige gesindhede, of die een of ander soort krisis, moet die leier ingryp en dit beperk. Sy moet seker maak dat dit nie versprei nie en eerder die orde herstel. Wanneer sy dan die skip weer op koers het, kom die mense tot bedaring. Wanneer ’n klant fout vind met alles en die verhouding wil verbreek, reageer die persoon wat perke kan stel nie op die krisis nie, maar tree eerder proaktief op om die klant se chaos te beperk en die verhouding te verbeter.
Terwyl ek aan hierdie boek gewerk het, het ’n reeks brande Suid-Kalifornië getref. In nuusberigte oor die ramp is gereeld genoem hoe kalm die mense in San Diego – die middelpunt van die krisis – gebly het. Nuuslesers het hierdie verskynsel toegeskryf aan plaaslike leiers wat orde geskep het en sodoende almal se vrees beperk het. Hulle het dit vergelyk met die gebrek aan beperking wat opvallend was na die ramp van orkaan Katrina. Die brande het gewoed, maar die struktuur wat die leiers voorsien het, het almal te midde van die krisis kalmeer.
Is jy daardie soort baas? Projekbestuurder? Leier, ouer of huweliksmaat? Kan jy iets beperk wat nie moet versprei of vererger nie? Dit is wat goeie grensstrukture doen.
Wanneer daar veranderings is of moeilike tye ’n organisasie tref, voer vrees en onsekerheid hoogty en verswak werkprestasie dikwels as die leier nie die nodige beperking kan voorsien nie. Hy kan self oorweldig voel weens die verandering en onsekerheid – of bloot nie die soort interne struktuur hê wat ons bespreek het nie – sodat hy dit nie aan ander kan voorsien nie. In ieder geval skep die onvermoë van ’n leier om beperking te voorsien ’n groot probleem.
Een van die ongelukkigste situasies wat ek al gesien het, was ’n maatskappy waar ’n wonderlik begaafde bestuurspan tot niet gegaan het weens die hoof- uitvoerende beampte se onvermoë om een visepresident se venynige interpersoonlike optrede te beperk. Die visepresident was hooghartig met ’n houding dat sy beter as ander is, en het groot verdeeldheid gesaai. Sy het mense se idees afgeskiet as hulle van haar verskil het en altyd die slegste van ander geglo eerder as om vir die ware feite omtrent ’n persoon of situasie te wag. Mettertyd het sy die span se eertydse eenheid vernietig en veral sekere mense erg benadeel.
Ek is ingeroep omdat verskeie mense wou bedank aangesien sy soveel verdeeldheid veroorsaak het dat selfs die direksie verdeeld was oor hul vertroue in die hoof- uitvoerende beampte. Hy het die pos vyf jaar lank beklee en tot in daardie stadium ’n goeie verhouding met die direksie en die span gehad. Die visepresident se gekonkel en rugstekery het hom egter ondergekry.
’n Leier met goeie grense sou ’n heining opgerig het om haar vernietiging te beperk sodat dit nie versprei nie. My eerste taak was om hom te vind, die dele van hom wat haar op bogenoemde maniere moes beperk het. Waarom het hy nie nee gesê nie? Waar was sy vermoë om hom van haar te differensieer, afstand te kry, te sien wat aangaan en dan standpunt in te neem en dit te beperk? Waar was sy mag? Op die een of ander manier het hy in die proses sy slag verloor. Toe hy dit uiteindelik teruggekry het, het hy opgestaan en weer begin lei deur eerstens vir die span te sê dat hy die probleem raakgesien het, hulp ingeroep het om dit op te los en dat hulle hulle almal saam in ’n vertrek gaan toesluit en daar gaan bly tot hulle weer ’n span is. Daardeur het hy vir hulle gesê: “Dis nou genoeg! Hierdie kwessie gaan nie alles wat ons bereik het, vernietig nie en ons gaan weer ’n span word. Ek gaan ons weer op die regte koers kry.” Toe hy dit gedoen het, het hy ’n duidelike sein uitgestuur dat die chaos verby was en dinge het begin verbeter. Natuurlik was dit nie so eenvoudig nie, soos ons later in die boek sal sien. Maar besef intussen dat beperking altyd ’n sleutelelement van enige sukses is.
Vraag: Watter vernietigende dinge gebeur om jou wat jy behoort te beperk sodat dit nie verder versprei nie? Toe jy in die verlede met sulke probleme te doen gekry het, hoe het jy (of het jy nie) te werk gegaan om die skade te beperk?
3. Definisie
Wie is jy? Het jy al ooit daaroor gedink? Baie mense beantwoord daardie vraag met die definisie van ’n rol. Hulle sê dalk: “Ek is ’n visepresident” – of projekbestuurder of ’n ma of ’n verkoopspersoon. Maar identiteit spruit nie uit ’n rol nie. Rolle is strukture wat geskep word as konteks waarin jy ’n identiteit kan uitleef lank voor die rol (ouerskap, pos as visepresident, ensovoorts) ooit ontstaan het. Jou identiteit berus daarop dat jy ’n goed gedefinieerde persoon is voordat jy ’n rol aanvaar. Hierdie blywende identiteitstruktuur, wat mettertyd ook verander, bestaan uit talle verskillende elemente van menswees, wat alle mense inherent het. Dit is die skatte wat binne die heinings van jou grense lê en terselfdertyd ook die grense as sodanig vorm namate jy eienaarskap van hulle aanvaar en hulle aan die buitewêreld bekend maak.
Jy definieer jouself deur eers die volgende elemente van menswees te ken en eienaarskap daarvan te aanvaar:
• Jou gevoelens
• Jou gesindhede
• Jou gedragswyses
• Jou keuses
• Jou perke
• Jou gedagtes
• Jou talente
• Jou begeertes of behoeftes
• Jou waardes
• Jou voorliefdes
As jy weet wat jy voel, wat jy wil hê, wat jou talente is en watter keuses jy op ’n bepaalde oomblik maak, het jy ’n goeie idee van wie jy is. Dit is die eerste stap, dit wil sê om eienaarskap van hierdie dele van jou te aanvaar. Maar jy voel nie werklik veilig in daardie identiteit tot jy tot die volgende stap kan oorgaan en jou teenoor die buitewêreld kan definieer deur daardie aspekte van jou persoonlikheid te toon nie.
Jou heinings is ondergronds as niemand anders weet wat jy voel of dink nie. Hulle kan nie gedwing word om teenoor jou op te tree soos jy wil hê as jou individualiteit nie duidelik teenoor die buitewêreld gedefinieer is nie. Hulle hoef beslis nie met jou rekening te hou of in enige opsig by jou aan te pas nie, wat die wese van ’n ware verhouding is.
In ware verhoudings beïnvloed ons mekaar. Die mag van jou identiteit beïnvloed ander mense. En hulle beïnvloed jou. Vandat die baba ontsteld raak, dit aan die ma oordra en sy die manier waarop sy hom vashou, aanpas om hom gelukkiger te maak, tot wanneer die huweliksmaat sê: “Jou werkprogram eis sy tol op die gesin en jy sal dit moet verander,” beïnvloed ons mekaar. Ons pas aan by mekaar se gevoelens, perke, begeertes en die res van bogenoemde lys. As jy egter nie hierdie aspekte aan ander mense kan oordra nie, bly jy ’n nonentiteit en natuurlik ’n “nonmag”. Die mag van verhoudings word nie ervaar nie en jy en ander loop dit mis.
Definisie het drie komponente:
• Jy weet wat jy voel, dink, begeer, ens.
• Jy maak hierdie aspekte van jou aan ander bekend.
• Jy leef hulle uit.
As jy al drie doen, leef jy ten volle as ’n gedefinieerde persoon. Indien nie, wag die wêreld dat jy moet opdaag.
Vraag: Laat jy jouself toe om werklik bewus te wees van jou ware gevoelens, gedagtes, begeertes, ensovoorts? Hoe goed dra jy hulle aan ander oor as jy bewus is van hulle? Dra jy hulle duidelik oor wanneer jy bewus is van hulle?
4. Perke
Inperking is die toepassing van ’n perk, maar persoonlike perke omvat meer as die funksie van inperking. Hulle is die wese van jou grenslyn as persoon. Hulle toon hoe ver jy bereid is om te gaan en waar jy die streep trek.
Ons ontwikkel perke omdat hulle aanvanklik op ons afgedwing word. Wanneer ouers en versorgers vir ons perke en gevolge stel, leer ons dat ons net so ver kan gaan. Daarna internaliseer ons daardie perke en begin hulle uit ons eie gehoorsaam. Die belangrike ding is nie die inhoud van die perke nie, maar dat die inhoud mettertyd verander. (Die eerste was “Moenie in die straat loop nie.” Later word dit “Moenie ongemagtigde transaksies aangaan nie.”) Al verander die inhoud is dit belangrik dat daar ’n perk op ’n deel van jou is, ’n innerlike streep wat sê: “Moenie hierdie punt verbysteek nie.” As jy daardie streep oorsteek, word jy iemand wat nie binne die belangrike perke vir die beskerming van jou lewe bly nie. Jy kan vernietigende middels gebruik, jou belangrikste verhoudings op die een of ander manier misbruik, jou kollegas benadeel, jouself benadeel of selfs die wet oortree. Glad nie goed nie. Die vermoë om interne perke te gehoorsaam, is die sleutel tot welstand.
Ook gee hierdie persoonlikheidstrukture jou die vermoë om ander se perke te eerbiedig. Wanneer iemand sê: “Dit is nie toelaatbaar nie” of “Ek wil nie hê jy moet dit doen nie,” luister jy en eerbiedig dit. Jy kan onderhandel of die ander persoon probeer oorreed om daardie perk te verander (soms ’n baie goeie ding), maar uiteindelik eerbiedig jy daardie persoon se “nee”. Hierdie vermoë is die wese van liefde, eerbied en verhoudings – om ander mense toe te laat om te wees wat hulle is en hulle nie te probeer definieer of beheer nie. Kollegas en spanlede waardeer dit werklik. As jy al disfunksionele spanne in ’n maatskappy teëgekom het, sou jy maklik minstens een persoon se onvermoë om ander se gedagtes of perke te eerbiedig, raakgesien het.
Dit is net so belangrik om perke vir ander te stel – om vir hulle te sê: “Nee, ek sal dit nie doen nie” of “Nee, ek sal nie toelaat dat dit met my gebeur nie.” As jy nie ’n goeie begrip van persoonlike perke het nie, is dit onvermydelik dat jou maatskappy, jou klante, jou vriende, jou take, jou missie, die mense wat jy liefhet en die mense wat jy “nie behoort lief te hê nie” jou begin definieer. Jy sal uiteindelik nie wees wat jy is nie, maar wat hulle besluit jy gaan wees. Jy sal beheer oor jouself verloor.
Jou vermoë om perke te stel is allerbelangrik vir goeie grense en om as persoon suksesvol te wees. Dit is deurslaggewend om die streep te kan trek en te sê: “Ek gaan tot hiertoe en nie verder nie.” Dit is ’n groot deel van hierdie boek se boodskap. As jy dink aan die scenario’s in die eerste hoofstuk, is ontbrekende perke van die een of ander aard ’n faktor in elke situasie. As elkeen ’n streep kon trek en sê: “Tot hier toe en nie verder nie,” sou elke uitslag anders gewees het. In hierdie boek gaan ons noukeurig kyk na jou perke, hoe goed hulle werk en hoe om hulle te verbeter. Maar het jy al gedink aan wat sal gebeur as jy nie perke het nie of hulle oorskry word?
• Wanneer iemand jou verdryf, swig jy en beland jy op ’n plek waar jy nie wou wees nie.
• Wanneer ander meer eis as waarvoor jy tyd het, stel jy nie die perk nie en beheer hulle jou tyd en lewe.
• Wanneer ander se disfunksie of probleme vir jou probleme en meer werk veroorsaak, skop jy nie vas en weier dat hulle jou verder beïnvloed nie.
• Wanneer daar ’n morele of etiese dilemma opduik en iemand druk op jou plaas om iets te doen waaroor jy nie gemaklik voel nie, doen jy dit nogtans en voel teleurgesteld in jouself of beland in die moeilikheid.
Ek kan eerlik sê dat ek nog nooit iemand teëgekom het wat op lang termyn suksesvol was wat nie sterk persoonlike grense gehad het nie. Dit is deurslaggewend. Iemand het gesê mense se sukses is direk eweredig aan hul vermoë om te konfronteer. As jy nie ’n probleem kan konfronteer en dit beperk nie, sal dit jou uiteraard inhaal. Perke red jou lewe. Die probleem in ons individuele ontwikkeling is dat ons perke tot niet gaan of betwis word of glad nie gestel word nie. As volwassenes, wanneer daar baie meer op die spel is, moet ons die wolwe dan sonder enige beskerming aandurf. Dan kry ons seer en word soms vernietig.
In die volgende hoofstuk kyk ons na hoe jou grense afgebreek word of kragteloos raak. Vrees speel ’n belangrike rol, en ons sal sien hoe. Begryp vir eers net die konsep. Jou perke help om jou te definieer en bepaal die struktuur, vorm en uitslag van jou lewe. Hulle is die rede waarom maatskappye ’n missiestelling het om die identiteit en perke van wat die maatskappy is en nie is nie, te omskryf. “Ons doen dit nie” is een van die belangrikste dinge wat ’n maatskappy kan sê. Dit hou die aandag van sy belanghebbendes gefokus op wat hulle behoort te doen. Dit is ook van die belangrikste dinge wat ’n individu kan sê.
Vraag: Waar word jy verby jou perk gedryf en laat jy toe dat iets gebeur wat jy nie wil hê moet gebeur nie, hetsy jy dit doen of ander dit aan jou doen? Watter grense van ander eerbiedig jy nie hoewel dit beter sou wees as jy dit doen?
5. Waardes
Ons waardes is nog ’n belangrike aspek van ons karakter se struktuur. Dit is die dinge wat vir ons waardevol is wat ons uiteindelik in stand hou en afdwing. Ons beskou dinge wat vir ons waardevol is as kosbaar en die moeite werd om voor te veg. Hulle is ook die strukture wat ons pogings orden tot gefokusde optrede om meer te lewer van dit wat vir ons waardevol is.
As ’n gesin byvoorbeeld opvoeding as waardevol beskou, sal hulle werk om geld daarvoor te spaar en dan hul geld aan opvoedkundige aktiwiteite, ondernemings en ervarings bestee. Dit is gefokusde optrede. Hulle sê ja vir sekere dinge en nee vir ander. Daardie waarde definieer en organiseer hul hulpbronne in ’n gefokusde rigting. Die waardes vorm hul identiteit in hierdie opsig.
As ’n maatskappy byvoorbeeld waarde heg aan uitnemendheid, fokus hy sy hulpbronne, stelsels en pogings op die bereiking daarvan. Hy dwing ook sy waardes af en sê nee vir gedrag, gesindhede of werk wat nie aan die waarde van uitnemendheid voldoen nie of dit weerspreek. Onbevredigende werk word verwerp of teruggestuur vir verbetering. Deurlopend onbevredigende werk word nie geduld nie. Dit word uitgesonder, beperk en afgekeur. Die waardes vorm die identiteit van ’n maatskappy.
Dieselfde geld ook vir jou persoonlike identiteit en karakter. Jou waardes vorm jou gedrag, fokus en rigting. In sekere sin word jy uiteindelik wat vir jou waardevol is. Dit sal jou ware noord wees, die kompasstelling wat jou in ’n bepaalde rigting laat gaan. Dit is waarom dit so belangrik is om sekere waardes by kinders in te skerp. Daardie waardes sal hulle lewenslank lei. Hulle sal uitdrukking daaraan wil gee en geleenthede soek om die waardes uit te leef sodat dit hul gedrag en keuses sal rig.
Later, in Hoofstuk 5, waar ons die “oudit” bespreek, sal ons meer oor waardes en hul rol in die struktuur van jou grense praat. Onthou intussen net dat jy hulle op die een of ander manier uitleef. Jy bestee jou tyd, energie en hulpbronne aan wat vir jou belangrik is. As jy nie die gewenste resultate kry nie, is party van die dinge wat jy as waardevol beskou nie besonder nuttig of voortreflik nie. Dalk heg jy byvoorbeeld meer waarde aan mense se toegeneentheid as aan jou eie oortuigings sodat jy toegewings maak en word wat hulle op enige bepaalde oomblik wil hê jy moet wees. Gevolglik kry jy dit waarop jou waardes jou laat fokus: die onmiddellike vreedsame saambestaan met verskeie mense ten koste van wie jy as persoon is of van die verwesenliking van jou visie. Of dalk is dit vir jou belangriker om foute te vermy as om innoverend te wees (en moontlik foute maak voor jy dit regkry). Aangesien dwaalspore ’n noodsaaklik deel van die innoveringpad is, kom jy nooit buite die veilige gebied nie en bly dus getrou aan jou werklike waarde: geen mislukkings nie.
In elk geval is ’n besluit oor jou waardes ’n belangrike deel daarvan om ’n ongeskonde, gedifferensieerde en versekerde mens te wees, asook die vermoë om daardie waardes in moeilike omstandighede uit te leef. Die oudit sal jou help om jou waardes te bepaal, en die res van die boek sal jou help om hulle te verwesenlik.
Vraag: Watter dinge in die lewe beskou jy as die waardevolste? Sal jy weens jou optrede op grond van hierdie opvattings in ’n hof veroordeel kan word?
6. Selfbeheersing, vryheid, selfstandigheid
Woordeboeke definieer “selfbeheersing” as die vermoë om jou gevoelens, begeertes, gedrag en impulse te beheer. Party betrek konteks, byvoorbeeld om dit in moeilike situasies te kan doen. Hoe jy dit ook al definieer, selfbeheersing is die vrug van die soort struktuur wat ons reeds bespreek het. Per slot van sake plaas goeie grense jou in beheer van die enigste persoon wat jy kan beheer, naamlik jouself. Dus, selfbeheersing. Jy is vry van ander, ’n onafhanklike, selfstandige persoon.
Selfbeheersing is die wese van ware mag. Die paradoks is dat mense in hul pogings om ander te beheer, wat hulle nooit kan doen nie, beheer verloor oor hulself, die enigste persoon wat hulle kan beheer. In die volgende hoofstuk sal ons kyk na hoe mag werk en, ewe belangrik, hoe dit in duie stort. Uiteindelik spruit dit uit beheer oor jouself.
Ons konsentreer nou op die rol wat struktuur in selfbeheersing speel. As jy nie ’n stop-of-gaan-skakelaar in jou kop het nie, is jy nie in beheer van jouself nie. As daar vrese of konflikte is wat inmeng – of jy nooit met enige van bogenoemde strukture geprogrammeer is nie – sal jou selfbeheersing voor magte van buite of van binne swig. Jy sal dit onvermydelik verloor en die gevolge moet dra. Jy wil ’n stem in jou kop hê wat jou in die regte rigting stuur en op die regte oomblik kan sê: “Ja, doen dit,” of ander kere: “Nee! Bly weg daarvan.”
Mense beland in die moeilikheid as die ja-en-nee-stem hulle in die verkeerde rigting stuur. Weens druk van buite of innerlike impulse of behoeftes sê hulle ja vir dinge wat hulle van koers af stuur of hulle in die moeilikheid laat beland. En om soortgelyke redes, gewoonlik vrese of behoeftes, sê hulle nee vir die keuses wat hulle behoort te maak. Ons besef dikwels nie dat hierdie vermoëns ook van buite geïnternaliseer word nie, nes al die ander strukture wat ons bespreek het.
Jare gelede het ek by vriende gekuier en toe ’n wonderlike voorbeeld van hierdie soort ontluikende struktuur in die verstand van hul driejarige gesien. Ons het almal een aand televisie gekyk, ’n DVD van die beste jare van Saturday Night Live. Net omtrent toe die “Weekend Update” sou begin, het Billy besluit hy wil aandag hê en voor die TV begin rondloop sodat ons nie die skerm kon sien nie. Sy pa het gesê hy moet padgee en hy het, maar teruggekom en dit weer gedoen. Sy pa het hom weer vermaan, maar die drang na aandag het weer die oorhand gekry. Billy het weer voor die TV begin inloop, maar net voor hy weer die skerm sou versper, het sy pa hom gewaarsku. Billy het gaan staan, gehuiwer, weer vorentoe begin gaan en weer gaan staan. Jy kon die stryd in sy kop sien. Toe sê hy met ’n groot frons: “Ek moet in die rooi stoel gaan sit!” Hy het dadelik gehardloop na die stoel waar hy altyd moes sit as hy in die moeilikheid beland. Hy het geweet hy moet homself beheer en het daardie eksterne struktuur nodig gehad om dit te doen.
Die punt is dat hy besig was om die ouers se dissipline van buite te internaliseer. Hulle het nie op daardie oomblik gesê: “Gaan sit in die stoel nie.” Billy het dit gesê. Hy het dit vir homself gesê. Hy het die impuls wat hom in die moeilikheid sou laat beland, beheer. Hy het self sy nee-spier in werking gestel. Ons was glad nie verbaas toe hy jare later allerhande beurse verwerf het, by Princeton aanvaar is en ’n goeie pos in Wall Street gekry het nie. Hy het die vermoë om vir homself nee te sê – ’n sleutelelement van selfbeheersing – geïnternaliseer.
Die vermoë om ja te sê en selfbeheersing te gebruik om uit jou eie die sneller vir optrede te trek, is net so belangrik. Ek dink aan ’n hoof- uitvoerende beampte met wie ek gewerk het. Hy was een van die skeppendste beklinkers van transaksies wat ek nog ooit gesien het. Hy kon na ’n heeltemal onmoontlike situasie kyk waarvoor baie ander nie kans gesien het nie en nuwe maniere vind om dit te herstruktureer sodat “buite die boks” te flou was om dit te beskryf. Hy sou dinge aanpak en afsetgebiede en transaksies aandurf waarvoor ander te bang was. Hy kon die sneller trek.
Wat my veral beïndruk het, was dat sy vermoë om “Ja, ons doen dit” te sê gegrond was; dit was nie impulsief nie. Daar is talle sakeleiers wat ja sê vir baie dinge wat hulle moes laat staan het en later spyt kry daaroor. Hulle is impulsief, buite beheer, word verlei deur die opwinding van die transaksies en ontken die negatiewe werklikhede wat ander duidelik insien. Hy was nie so nie. Sy ja-besluite was realisties en nie impulsief nie.
Ek het die bewys daarvan gesien toe ons eendag na sy bedrywighede van die afgelope jaar gekyk het. Sy aantal oënskynlik riskante transaksies vir die jaar? Net een. Hy het baie ander oorweeg en almal verwerp. Hy het vir net een ja gesê. Ek het later daaroor gedink en dit het baie verklaar oor hoe hy sy multimiljarddollarmaatskappy opgebou het. Hy het beskik oor die wese van selfbeheersing met die vermoë om ja te sê in dieselfde gereedskapkis as die vermoë om nee te sê. Die een sonder die ander is nie selfbeheersing nie. ’n Voertuig moet ’n versneller en ’n rem hê.
As iemand gryp na alles wat lekker ruik, is hy buite beheer, en as iemand nooit iets wat werklik goed is kan aangryp nie, is hy ook buite beheer. Hy is nie vry om selfstandig te wees, homself te beheer en te doen wat reg, slim en in ooreenstemming met sy begeertes is nie. Hy verloor beheer weens sy vrese. Ware selfbeheersing beteken ’n balans tussen ja en nee. Dit spruit uit innerlike strukture wat daardie keuses kan maak. Een van daardie strukture het oorspronklik van buite gekom, van mense wat gesê het: “Moenie dit doen nie anders gaan sit jy in die rooi stoel,” en mense wat gesê het: “Doen dit. Probeer die fiets sonder die oefenwieletjies ry. Jy kan dit doen.” Later beland wat oorspronklik buite was, binne – die stem wat soms ja en soms nee sê.
As jy drie jaar oud is, is dit stoelsittyd en fietse. As volwassene is die gevolge en waagstuk baie groter, maar die strukture is dieselfde. Jy is in beheer.
As dit die geval is, is jy waarlik vry, waarlik selfstandig. Jy besluit oor wat jy doen, nie ’n ander mag nie. En uiteindelik is vryheid die grond waarin die een lewe wat jy begeer, gekweek word. Op enige ander manier is jy óf ’n slaaf óf ’n kind onder die beheer van volwassenes. Die een lewe moet jou lewe wees, en daarvoor moet jy in beheer van jouself wees.
Vraag: Kan jy ja en nee sê wanneer dit nodig is of laat magte van binne of buite jou beheer oor jouself verloor? Is dit vir jou moeiliker om ja te sê of om nee te sê?
As alles goed verloop
As alles dan goed verloop met iemand se ontwikkeling, is daar strukture in posisie wat sorg vir die vermoë om die volgende te doen:
• Jouself te ervaar as afsonderlik en gedifferensieerd van ander.
• Vernietiging te beperk en te keer dat dit versprei.
• Jouself te definieer en te weet wie jy is.
• Perke te stel waar nodig.
• Waardes te hê en hulle uit te leef.
• Selfbeheersing te hê en dus vry en selfstandig te wees.
As jy na jouself kyk en jou ten opsigte van daardie aspekte beoordeel, sal jy waarskynlik vind dat twee dinge waar is. Die eerste is dat jy oor baie van daardie eienskappe beskik. Die tweede is dat party of al daardie vermoëns in sekere situasies, bepaalde kontekste of by sommige mense bedreig kan wees of jou in die steek kan laat. Jy laat soms toe dat iemand jou as ’n verlenging van hom- of haarself gebruik sodat jy nie meer waarlik afsonderlik voel nie. Hul mag of pyn kan jou te veel beïnvloed. Of jy laat toe dat pynlike of vernietigende dinge ’n te groot houvas op jou kry. Dit is verbasend hoe sekere verhoudings aan jou kan rem om dit te laat gebeur.
Ander kere kom jy agter dat jy jou gevoel van wie jy regtig is en wat vir jou belangrik is, verloor omdat jy op een of ander manier gedefinieer word deur mense of verhoudings wat vir jou belangrik – soms te belangrik – is. Of jou perke begin wankel en jy trek nie die streep nie. Jy het dalk nie die tyd afgestaan of toestemming gehad om jou eie waardes te bepaal en jou deur hulle te laat lei nie. Inteendeel het magte veroorsaak dat jy jou kosbaarste besitting – jou vryheid – verloor het. As jy menslik is, sal minstens een van hierdie dinge en waarskynlik meer gebeur het gegewe die regte storm of die regte persoon of die regte tyd. Dalk het dit nie eers ’n storm geverg nie, maar net ’n motreëntjie. In elk geval staan dit vas dat jy menslik is en jou ontwikkeling, nes dié van alle mense, nie volmaak verloop het nie. Dit is nie net ’n feit nie, dit is ook in die haak.
Gelukkig weet ons ook wat om daaromtrent te doen, omdat ons weet watter soort strukture nodig is vir hierdie vermoëns en waarom hulle afgebreek, weggekalwe en soms nooit opgerig word nie. Dit is waaroor die res van hierdie boek gaan en waarmee dit jou sal help. Van nou af gaan ons praat oor hoe hierdie strukture breek en hoe hulle reggemaak word. Ons gaan ook uitvind watter soort grense jou sal help om weer in beheer te kom en die soort vryheid te ervaar wat lei tot een lewe wat reg werk – in die sakewêreld en die lewe. Jy sal uitvind dat dit dieselfde jy is wat in albei resultate verkry.