Читать книгу Hermann Giliomee: Historikus - Hermann Giliomee - Страница 11
Universiteit met ’n houding
ОглавлениеEk is in 1956 as student by die Universiteit van Stellenbosch (US) ingeskryf sonder enige verwagting om ’n akademikus te word. Sonder veel aanleg vir wiskunde het ek nie besonder goed in die matriek-eindeksamen gevaar nie en Jan, my broer, en Hester, my suster, sou my later graag daaraan herinner dat hulle albei ’n beter simbool as ek in die matriek-eindeksamen gekry het. My pa het die storie in die geskiedenis goed vertel en is deur sy vriende vir sy politieke oordeel gerespekteer. Ek het besluit om geskiedenis een van my hoofvakke op universiteit te maak.
My studentejare was grootliks kommerlose jare. Ek het die lewe in Simonsberg-koshuis en veral die interkoshuis-sport, baie geniet. In 1958 was ek in Simonsberg se rugbyspan wat die Sauer-beker vir die eerste koshuisliga verower het. Ek was op die redaksie van die studentekoerant Die Matie, maar het verkies om oor sport eerder as die studentepolitiek te skryf. Die vurige nasionaliste op die kampus het my afgeskrik.
Tot my verbasing is ek in 1960 tot die studenteraad verkies, hoewel ek nie my beleid in Die Matie gepubliseer het nie, soos wat al die kandidate vrywillig gedoen het. Toe ek op “Die Sirkus”, die massavergadering voor die verkiesing, daaroor uitgevra is, het ek my antwoord gereed gehad. Die ervaring leer dat die kandidate se beloftes selde uitgevoer word, het ek gesê, en dat al wat ek beloof, was om my bes te doen soos my insigte my lei. Dit klink beginselvas, maar die eintlike rede was dat ek só laat besluit het om te staan dat die geleentheid verstreke was om my beleid te publiseer.
In 1960 is ek ook tot primarius van Simonsberg verkies, ’n koshuis met 280 inwoners. Dit was in ’n tyd toe studente begin het om die amptelike verbod op drank en dames in die kamers te bevraagteken. Tot die ontstigting van prof. Chris Gunter, die inwonende hoof, was my standpunt dat dit nie die huiskomitee se plig is om sedebewaarders te wees nie, maar net om teen studente op te tree wat die reëls openlik uitdaag.
Ek het aan die einde van my termyn as primarius my eerste les geleer oor hoe mag werk. ’n Stuk of twintig Simonsbergers het laat een aand ’n dameskoshuis binnegedring en die beddens van die slapendes omgekeer. Die universiteitsowerhede het dit as ’n ernstige oortreding beskou en wou dadelik die name van die oortreders by die huiskomitee hê. Sonder die komitee se medewerking was hulle magteloos.
Ek het aangevoer dat die huiskomitee nie enige sê het oor oortredings waaraan sy inwoners buite die koshuis skuldig is nie en was net bereid om aan die versoek te voldoen indien die owerheid onderneem om nie die oortreders te straf nie. Die onderneming is mondelings gegee. Die huiskomitee het toe die sondebokke oorreed om hul name te verskaf met die versekering dat hulle nie gestraf sou word nie.
’n Paar dae later het ek tot my ontsteltenis verneem die universiteitsowerheid het aan die onderskeie ouers geskryf dat hul seun hom aan ’n ernstige oortreding in ’n dameskoshuis skuldig gemaak het. Enige verdere oortredings sou swaar gestraf word. Die owerheid het klaarblyklik gevoel dat omdat niemand gestraf is nie hy by sy onderneming gebly het. Ek het gemeen dat die universiteit se optrede indruis teen die ondernemings wat gegee is, maar die koeël was deur die kerk.
Aan die ander kant was daar ook kere wat die universiteit besluit het om nie op te tree nie. “Vloog” Theron, ’n woelige tweedejaar, het op ’n dag verlof gevra om twee olifante te bring om op die grasperk voor die koshuis te kom wei. Ek het gedog hy skeer gek en het niks gedoen om hom te keer nie. ’n Dag of wat later daag hy toe wel op met twee sirkusolifante. Die volgende dag het Die Burger ’n foto geplaas waar ek en ’n paar ander inwoners laggend toekyk terwyl Vloog en die twee reuse-diere hulle op die gras tuismaak.
Daar was geen reaksie van die administrasie nie. Klaarblyklik was olifante los op Simonsberg se grasperk veel minder gevaarlik as manstudente elfuur in die aand in die slaapkamers van ’n dameskoshuis.
In my eerste jaar aan die Universiteit van Stellenbosch het die “Era van Thom” reeds aangebreek. Prof. HB Thom, rektor van 1954 tot 1969, was ook al persoon van die suide wat ooit as voorsitter van die Afrikaner-Broederbond se Uitvoerende Raad gedien het. Hy het dié pos van 1952 tot 1960 beklee. Dit het klaarblyklik die Bond se lidmaatskap op die Matie-kampus laat blom.
Die US was ’n universiteit met ’n houding: alle studente en dosente was veronderstel om baie dankbaar te wees dat hulle so bevoorreg was om deel van die US se trotse erfenis te wees. Tussen 1919 en 1978 was al die premiers US-alumni. Daar was ’n simbiotiese band tussen die universiteit en Afrikaans as amptelike taal. Dit was die eerste volwaardige universiteit in die land wat oorwegend in Afrikaans as medium klas gegee het. Die kantore van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal was op die kampus. En dan het Stellenbosch natuurlik ook vir Danie Craven gehad, aan wie Suid-Afrikaanse rugby feitlik behoort het.
Die US as instelling wat onmiskenbaar Afrikaans was, is gebou op dr. DF Malan se gevleuelde woorde in 1913: “Stellenbosch staan vir ’n idee”. Daarmee het hy bedoel dat Stellenbosch die plek wil wees waar die Afrikaner-volk sy ideale die beste kan verwesenlik. Die US het ’n paar jaar later tot stand gekom met ’n ruim erflating van die weldoener Jannie Marais, ’n Stellenbosse sakeman en later politikus, wat bepaal het dat Nederlands of Afrikaans as voertaal nie ’n mindere plek as Engels in die instelling mag hê nie. Amper honderd jaar later het niemand meer geweet wat die befaamde Stellenbosse “idee” was nie. Die universiteit het sonder veel wroeging toegelaat dat Engelsmedium meedoënloos Afrikaansmedium uitskuif.
In 1956 was daar sekere afdelings en dosente wat tereg hoog aangeslaan is. Die fakulteit regte is allerweë as uitstaande beskou en die studente het die hoogste bewondering vir die dekaan, prof. JC de Wet, gekoester. Prof. PJ van der Merwe by geskiedenis was die mees gerekende Afrikaanse historikus.
’n Ontmoeting met Verwoerd
Ek was ’n student in ’n tyd toe dit gelyk het of wit beheer nog vir baie dekades ongeskonde sou bly. Behalwe vir drie of vier maande ná die Sharpeville-tragedie in 1960 – die polisie het 69 swart mense doodgeskiet toe ’n groot skare by Sharpeville se polisiekantoor teen die destydse paswette betoog het – het ons nie werklik enige vrese oor veiligheid gehad nie. My geslag was die laaste voordat diensplig in die weermag ingestel is en ons was ook die geslag wat die opwinding van die finale opmars na ’n republiek beleef het. Ek het in die referendum van 1960 ja gestem vir die republiek. In die algemene verkiesing van 1961 het ek vir die eerste en die laaste keer gedurende die era van die NP-bewind vir die party gestem.
In 1958, toe ek in my derde jaar was, het dr. Hendrik Verwoerd leier van die Nasionale Party en eerste minister geword. Ek het twee persoonlike herinneringe aan Verwoerd, wat niks met sy politieke idees te doen gehad het nie. As ’n seun van 12 of 13 het ek handtekeninge bymekaar gemaak. Die meeste ministers het geantwoord met ’n kort briefie deur hul private sekretaris waarby die handtekening gevoeg is.
Verwoerd was al een wat op my versoek geantwoord het met ’n brief in sy eie handskrif. Hy het geskryf dat hy ’n kind het wat nes ek links is en ’n ander een wat net so oud is. Ek het later gelees dat ’n dogtertjie hom verlof gevra het om haar hasie Hendrik Verwoerd te noem. Hy het geantwoord dat hy nie dink dit is ’n geskikte naam vir ’n hasie nie, maar hy was bereid om sy verlof te gee. Dit sê iets van die man dat hy hierdie moeite met kinders gedoen het.
My ander kontak dateer terug van Junie 1960 toe ek en ’n paar ander studente die wintervakansie by ons koshuismaat, Siebert Wiid, op sy pa se plaas, Welgevonden, naby Groblersdal, deurgebring het. Kort ná ons aankoms het die Verwoerd-egpaar opgedaag. Hy sou die volgende dag ’n groot skare op Groblersdal toespreek in wat een van sy eerste openbare optredes was ná die aanslag op sy lewe drie maande vroeër. (David Pratt, ’n boer van die Magaliesburg-distrik, het Verwoerd in die gesig geskiet terwyl hy ’n toespraak tydens die Randse Paasskou gelewer het.) Ons studente het saam met die belangrike gaste etes in die hoofhuis geniet. Ek het langs Verwoerd gesit en onthou hoe hy rustig en oortuigend sy standpunt geformuleer het op ’n manier wat volkome sin gemaak het.
Die Sondagoggend het die plaaslike NP-tak ’n skildery van Verwoerd aan hom oorhandig. Hy het dit vriendelik ontvang, maar gesê daar is ’n klein foutjie: iets is weggelaat. Daar was vir ’n oomblik ontsteltenis. “My ‘beauty’ spots,” het hy glimlaggend gesê en gewys na die koeëlletsels op sy gesig. Vir my as leek was dit duidelik dat die aanslag op sy lewe geen sielkundige skade gedoen het nie. Ek het my daarna min gesteur aan bewerings dat Verwoerd sy oorlewing beskou het as ’n tasbare bewys van God se spesiale ingryping en van die besondere seën wat nou op hom sou gerus het.
Ek het jare later in my boek Die laaste Afrikanerleiers (2012) ’n gunstiger oordeel oor Verwoerd uitgespreek as wat die norm is. Ek dink dit het baie te doen met die persoonlike kontak wat ek daardie naweek in 1960 met hom gehad het. Ek kon die krag van sy persoonlikheid en sy oorredingsvermoë eerstehands ervaar.
Dieselfde ervaring het die uitgewer Koos Human te beurt geval. Hy het saam met José Burman, die skrywer van ’n manuskrip oor Bolandse bergpasse, Verwoerd gevra om ’n voorwoord te skryf omdat dit bekend was dat hy en sy vrou as studente geesdriftige bergklimmers was. Verwoerd het Human en Burman na sy kantoor genooi en vertel dat hy die hele manuskrip gelees en die voorwoord self geskryf het. In ’n monoloog van tien minute het hy kundig oor die onderwerp uitgewei. Human maak ’n opmerking wat ek ná die naweek op Welgevonden heelhartig kan onderskryf: “Ek was nog nooit tevore (of daarna) in die teenwoordigheid van so ’n haas ongelooflike oorheersende persoonlikheid nie. Ná hierdie kortstondige ontmoeting het ek geen twyfel gehad dat hy sy kabinet, koukus en party volkome onder beheer gehad het nie.”20
Stryd met Engelse
Die politieke stryd in die jare vyftig het twee fasette gehad: die een was die openlike kompetisie tussen die NP en die Verenigde Party (VP) om die mag; die ander was die versluierde wedywering om status tussen die Afrikaner- en die Engelse gemeenskap. Die Engelssprekendes het teen 1955 begin besef dat die VP in alle waarskynlikheid nooit die politieke mag gaan herwin nie. Soos die Afrikaners ná hul magsverlies in 1994, was hulle wrokkig oor hul verlaagde status en politieke marginalisering.
Die politieke aktivis en skrywer Patrick Duncan het die gevoel van Engelse onthutsing so uitgedruk: “Engelssprekende Suid-Afrikaners bevind hulle vandag in die magsgreep van hul teenstanders. Hulle ondervind nou wat die meeste Suid-Afrikaners al lank ervaar – hoe dit voel om tweedeklasburgers in hul geboorteland te wees.”21
Engelse kommentators het die Afrikaners ná 1948 vir vreemde diplomate en buitelandse joernaliste “vertolk” en, deur hulle, aan die hele wêreld. Sommige kommentators en historici het verklaar dat die Afrikaners enkel en alleen deur apartheid en ander obsessies met ras gedrewe was.
Die Engelse teenstand teen apartheid en hul misnoeë oor die feit dat die Afrikaners aan die bewind was, was dikwels nie onderskeibaar nie. David Yudelman, ’n hoogaangeskrewe historikus, het Engelssprekende meningsvormers gekritiseer oor die verwronge beeld wat hulle van die Afrikaners aan die wêreld deurgegee het. Engelssprekendes was nie beduidend meer liberaal oor rassekwessies as die Afrikaners nie, maar hulle was geneig om die Afrikaner voor te stel as “die skurk, die fanatikus wat geïnstitusionaliseerde rassediskriminasie geskep het of minstens op ’n perfekte wyse beslag gegee het”, het hy geskryf. “Diegene van Britse afkoms daarenteen het segregasie vermoedelik bloot passief aanvaar.”
Yudelman het bygevoeg dat die Engelssprekendes heeltemal bereid was “om apartheid te gebruik as voorwendsel om indirek uiting te gee aan hul kulturele misnoeë met die Afrikaners terwyl hulle terselfdertyd die voordele van wit baasskap geniet”.22
Die persoon wat tot die middel 1960’s die grootste politieke invloed op my gehad het, was Piet Cillié, wat in 1954 redakteur van Die Burger geword het. Hy het dieselfde mening lank voor Yudelman uitgespreek. Hy was ’n vlymskerp politieke kommentator en saam met NP van Wyk Louw die beste politieke essayis in Afrikaans. Hy het aan die hoof gestaan van ’n briljante span, wat drie uitstekende joernaliste, Schalk Pienaar, JJJ Scholtz en Rykie van Reenen, ingesluit het.
Ek het van my hoërskooldae elke dag die hoofartikel in Die Burger gelees en ook die politieke rubriek “Dawie” wat Woensdae en Saterdae verskyn het. Die bundel Dawie, 1946 tot 1964 (Tafelberg, 1966), gee meer as enige ander boek ’n blik op die bruisende Afrikaner-nasionalisme van die vyftigerjare. Dit was nog voor die dogma van apartheid die Afrikaners se kulturele nasionalisme begin versmoor het.
Cillié het dikwels gewys op die ingrypende manier waarop die kiesstelsel van “eerste-verby-die-wenpaal” die politiek en veral die rassebeleid beïnvloed het. Eerstens maak die stelsel dit moontlik dat ’n party wat die minderheid aan die stemme gewen het, die regering kan vorm – wat inderdaad tussen 1948 en 1958 in Suid-Afrika gebeur het. Tweedens is daar ’n sterk tendens dat die mag in lande wat dié kiesstelsel gebruik uiteindelik in die hande van die grootste etniese groep in die kieserskorps beland. Hul houvas op die groep verstewig dan deur ’n vorm van etniese mobilisasie wat die politieke stelsel radikaliseer. Tussen 1948 en 1994 het die Afrikaners konstant meer as 50% van die kiesers verteenwoordig.
Dan is daar ook ’n derde tendens. Kwesbare rasse- of etniese groepe wat die magsbalans tussen twee groot partye hou, word dikwels uitgeskakel. Dit het in die 1890’s in die VSA se suidelike state gebeur toe die Demokratiese Party die leiding geneem het in die grootskaalse ontkiesering van swart mense. Gedurende die 1960’s sou dit al pres. Lyndon Johnson se legendariese vernuf kos om swartes op die kieserslys terug te kry. Hy het dit gedoen al het hy geweet dat sy party vir ’n generasie of twee ’n hoë prys in die Suide sou betaal.
In die algemene verkiesings van 1948 en 1953 het die Engelse kiesers bankvas teen die NP gestem, terwyl sowat 20% van die Afrikaner-stemme na die VP gegaan het. In die 1948 was daar net 130 000 meer potensiële Afrikaner-stemme as potensiële Engelse stemme. Dat die VP met behulp van bruin mense se stemme ’n verkiesing kon wen, was tot die middel 1950’s nie ’n onrealistiese NP-vrees nie. Hierdie vrese word soms afgemaak met die stelling dat bruin stemme in net agt kiesafdelings die deurslag kon gee. Dit mis die punt dat die NP se effektiewe meerderheid in 1948 net vyf was.
Piet Cillié was by uitstek die persoon wat die strydbyl opgetel het teen die houding dat die Engelse gemeenskap bo rassediskriminasie en rassisme verhewe is. In verkiesingstyd het hy selde apartheid op eie voorwaardes verdedig, maar het die stryd tussen Engelse en Afrikaners en die een tussen wit en nie-wit bestempel as konflikte wat onlosmaakbaar met mekaar verweef was. Hy het die liberale se aandrang verwerp dat hulle geen bymotief in die bevordering van gelyke regte vir alle mense het nie. Die Engelse liberale het vir die Afrikaner-nasionaliste altyd meer Engels as liberaal gelyk en meer geïnteresseerd in mag vir die Engelssprekendes as in mag vir swart of bruin mense, het hy geskryf.
’n Onlangse biografie van Jaap Steyn het dit vir my duidelik gemaak waarom ek soveel aanklank by Cillié gevind het. Hy het in 1952 aan ds. Ben Marais, wie se omvattende Die kleur-krisis en die Weste toe pas verskyn het, geskryf: “Ek stem volkome met jou saam dat die pogings om Skriftuurlike stutte vir apartheid te vind, in die naïewe vorm wat hierdie soektog meestal aanneem, tot mislukking gedoem is … Ek ken maar net een oubaas wat glo dat gekleurde mense Gamskinders is en ewig vervloek is en geen samehangende pseudo-wetenskaplike mites oor ras word doelbewus in Suid-Afrika gepropageer nie.”
Hy spreek dan sy twyfel uit of die statistieke wat Marais aanhaal om te bewys dat rasse en etniese groepe inherent weinig van mekaar verskil enige praktiese waarde vir die probleem in Suid-Afrika het – hoe help dit byvoorbeeld Jode en Arabiere in Palestina om te weet dat mense meer eenders is as anders?23
Volgens Cillié was kleur in Suid-Afrika se politiek net belangrik in die mate dat dit die grens tussen “volke” of “nasies” verteenwoordig. Hy het die Afrikaners se reaksie op die oormag van swart getalle “nasionale instinkte” genoem. Hy het Ben Marais gekritiseer omdat hy nie die kwessie van “politieke mag wat ten grondslag lê aan die rasseverhoudinge” hanteer nie. Vir Cillié moes apartheid sorg dat die Afrikaners en die groter wit gemeenskap mag oor hulself behou terwyl hulle die staat en die ekonomie in die uiteindelike belang van almal opgebou het.
Cillié het in hom iets gehad van Niccolò Machiavelli in wie se denke ek van vroeg af belang gestel het. Dié Florentyn word dikwels verkeerdelik bestempel as ’n denker wat bereid was om mag met die mees immorele metodes te verwerf of te behou. Machiavelli het wel geglo dat die staat se taak nie in die eerste plek is om regverdig teenoor almal te wees nie, maar om sy burgers se veiligheid te verseker. Dit was egter nie ’n doel op sigself nie. Die einddoel was ’n sterk, doeltreffende staat waaruit al sy burgers voordeel trek. Ek glo dat Cillié ook hierna gestreef het.24
Arnold Toynbee se waarskuwing
’n Belangrike element in die Afrikaner-nasionaliste se denke was die opvatting dat die NP-regering slegs ’n doeltreffende staat en ’n geordende samelewing sou kon opbou op die basis van ’n verenigde Afrikaner-volk. Die groeiende Afrikaner-eenheid was ’n nuwe verskynsel. Mondelinge oorlewering wil dit hê dat universiteitsdosente in 1938 se verkiesing in die setel van Stellenbosch reg in die middel af verdeel was.
Die Afrikaner-eenheid wat in die 1950’s ontwikkel het, het berus op die besit van staatsmag en die strewe na ’n republiek. Baie historici het in die Afrikaners se verlede ’n eenheid gaan soek wat nie daar was nie. ’n Vraag wat ons as studente dikwels bespreek het: Was Afrikaner-eenheid noodwendig ’n goeie ding, ook vir die voortbestaan van die Afrikaners? Sou ’n Afrikaner-eenheid wat alle faksies probeer inbind nie tot ’n politieke verlamming lei wat dringende hervormings sou kortwiek nie?
Ek is geprikkel deur ’n artikel van Arnold Toynbee, ’n Britse historikus wat die opkoms en ondergang van twee dosyn beskawings sedert die vroegste tye bestudeer het. Die artikel het in 1959 in die meningsblad Optima verskyn en is deur die Anglo-American Corporation aan sy aandeelhouers gestuur.
My pa het die blad as ’n aandeelhouer ontvang en ek het die artikel uitgeskeur en al die jare gehou in ’n lêer waarin ek die mees prikkelende artikels bewaar het wat ek teëgekom het. Toynbee is nie meer die internasionale ster wat hy was toe hy in 1949 op die tydskrif Time se buiteblad verskyn het nie, maar hy het in hierdie artikel die Afrikaners se onvermoë om betyds te hervorm, vooruitgeloop.
Hy het in sy artikel eers na die Spaanse kolonies in Suid-Amerika gekyk. Die Spanjaarde het ook die inheemse mense uitgebuit, maar hier was dit nie ras wat bepaal het of mense eersteklas- of tweedeklasburgers was nie. Die versperrings boontoe was oorwegend op klas, en nie ras nie, gegrond en was nie ondeurdringbaar nie. Spanjaarde het gevolglik die botoon gevoer, selfs nadat hul kolonies in Latyns-Amerika onafhanklik geword het. Dit geld ook vir die mense van Europese afkoms (of hoofsaaklik Europese afkoms) in die voormalige Portugese kolonie Brasilië, waar hulle net meer as die helfte van die bevolking uitmaak. Vandag gee hulle nog op feitlik elke vlak van die samelewing die toon aan.
Die kolonies wat die Hollanders en die Britte in Afrika gestig het, staan in skerp teenstelling hiermee. Opwaartse mobiliteit vir bruin of swart mense in die politieke en ekonomiese instellings was beperk en ondertrouery met wit mense feitlik ongehoord. Toynbee het gewaarsku dat daar in Suid-Afrika geen maklike toegang tot die dominante kaste vir “bekwame en aanpasbare Bantoes” was nie en het vervolg: “Die Grieks-Romeinse presedent wys dat die wortels van oorheersing selfs ná duisend jaar nog net so vlak is as wat hulle in die eerste geslag was.”25
Demografie was belangrik, het Toynbee voortgegaan. Wanneer die dominante minderheid se mag op tegnologie en kultuur berus, soos wat in Suid-Afrika die geval was, sal die stryd langer uitgerek en moreel meer kompleks wees as in die geval van ’n duidelik omlynde militêre stryd, maar, het Toynbee beklemtoon, “die dénouement kan tragieser wees”.
Toynbee het gewaarsku dat dit noodlottig vir die minderheid is om teen die gety uit te hou. Selfs wanneer ’n minderheid se geloof in sy eie kulturele meerderwaardigheid geregverdig is, “sal getalle uiteindelik die deurslag gee”. Hy het simpatie gehad met die dilemma van die minderhede: Vrywillige abdikasie ten gunste van ’n meerderheid wat deur die voormalige heersersgroep as sy mindere beskou word, is ’n baie moeilike alternatief vir trotse mense om te aanvaar, het Toynbee geskryf.26 As ’n profeet van wat dertig jaar later in Suid-Afrika sou gebeur toe die Afrikaners onoorwonne die mag afgestaan het, het Toynbee geen gelyke nie.
Afrikaner-waarskuwings
GD Scholtz, destydse redakteur van Die Transvaler, het tot dieselfde gevolgtrekking gekom in sy boek Het die Afrikaanse volk ’n toekoms? Ek het die boek in my vierde jaar gekoop en te oordeel na die onderstreepte sinne deeglik gelees. Indien die wit mense nie betyds wat Scholtz “volkome skeiding” noem afdwing nie, sal die swartes se getalsoorwig en die wete dat hulle suksesvol in opstand sou kon kom, deurslaggewend wees. Ongelukkig verduidelik die boek nie hoe “volkome skeiding” moet lyk nie.
Reeds teen die einde van die 1950’s was dit duidelik dat groot spanning onder die Afrikaners bestaan tussen diegene wat aan wit mag wou vasklou en dié wat vroegtydig radikale aanpassings wou maak om die lot vry te spring wat Toynbee voorspel het. Onder die Stellenbosse studente van my tyd het ’n verdeling sigbaar begin raak tussen die ideoloë en die pragmatiste.
Vir die ideoloë was apartheid ’n doel op sigself en was rasseskeiding die antwoord op feitlik enige vorm van maatskaplike verkeer. Teoloë, of tokkelokke soos hulle in die wandel genoem is, was volop in hierdie kamp. Manie van der Spuy, ’n tydgenoot op Stellenbosch wat sielkunde gestudeer het, het onlangs tereg gesê daar was in ons tyd op Stellenbosch twee verlossingsevangelies: “die Christendom as persoonlike verlossing” en “apartheid as Afrikaners se verlossingsevangelie”. In albei gevalle moet die mens net glo en word hy nie getoets aan sy dade nie maar aan sy geloof. Diegene wat enigsins van die voorgeskrewe dogma afgewyk het, is maklik as ’n “ketter” gebrandmerk.
Ek het my by die pragmatiste geskaar, wat uit sowel Nat-huise as Sap-huise gekom het. Ons het geglo dat daar geen skerp skeiding tussen veral wit en bruin moes wees nie en dat strakke apartheid gou moes oorgaan in ’n stelsel waar leiers van die verskillende gemeenskappe menings wissel en in projekte saamwerk. Universiteite was juis die plekke waar mense oor die kleurlyn kontak moes maak. Die wet op aparte universiteite wat in 1959 aanvaar is, het die moontlikheid vernietig dat die leiers van die toekoms mekaar kon leer ken en hul gedagtes in debatte slyp. In my koshuis was daar heelwat simpatie vir Bertie van der Merwe en ’n ander Simonsberger in die studenteraad wat in 1959 gedwing is om te bedank omdat hulle die wet teengestaan het.
Stellenbosch het ’n tradisie van verdraagsaamheid teenoor andersdenkendes gehad. My pa was in sy studentedae ’n ondersteuner van prof. Johannes du Plessis, hoogleraar aan die Kweekskool, wat in die twintigerjare ’n leidende rol gespeel het om leiers uit die wit en swart kerke byeen te bring en segregasie te temper. Hy is om dogmatiese redes uit sy amp geskors. My pa het dikwels skertsend verwys na Du Plessis se opponente, wat die bynaam “oupajane” gehad het. (Een van die leiers het ’n boek met die titel Op die ou paaie geskryf.)
In my tyd was al oorblyfsel van dié stryd ’n standbeeld wat Du Plessis se aanhangers vir hom opgerig het. Vanweë die standbeeld se kleur was dit algemeen as Pienk Piet bekend. Dit is dikwels laataand deur aangeklamde studente in allerlei kleure, veral pienk, geverf. Ons dosente het nie daaraan gedink om ons in te lig oor die wegbereidende rol van Du Plessis op die gebiede van teologie en rasseverhoudinge nie.
’n Ander belangrike andersdenkende was Bennie Keet, ook hoogleraar aan die Kweekskool. In my derde jaar het ek sy boek Suid-Afrika waarheen? ’n Bydrae tot die bespreking van die rasseprobleem (Stellenbosch: Universiteitsuitgewers, 1956) gekoop en gelees. Hy het onomwonde enige Bybelse regverdiging vir apartheid verwerp. Al groter skeiding het vir hom na “’n vlug vir die werklikheid” gelyk. Die uitdaging vir elke Christen was: Wat sê die Skrif?
Die volgende jaar het ek Henry Fagan se boekie Ons verantwoordelikheid (1959) aangeskaf en gelees. Dit het my opvattings in ’n belangrike mate gevorm. Fagan was ’n oud-Matie en ’n voormalige redaksielid van Die Burger. As voorsitter van ’n kommissie wat in 1947 oor swart verstedeliking verslag gedoen het, het hy ’n veel groter begrip as feitlik enigiemand anders gehad van die politieke implikasies wat hierdie proses gehad het.
Ek kon sien dat Fagan se argument baie met dié van Toynbee ooreengekom het: namate die ekonomie meer gesofistikeerd raak, sou die behoefte aan kommunikasie tussen die groepe al dringender word. Fagan het gewaarsku dat die wittes as dominante groep baie meer as swartes mense kon verloor weens ’n gebrek aan kontak. Die tuislande was slegs ’n beperkte oplossing, want hulle kon net ’n klein deel van die swart mense akkommodeer.
In 1956 het ’n kommissie onder voorsitterskap van prof. FR Tomlinson voorgestel dat die staat £104 miljoen (vandag sowat R45 miljard as inflasie in ag geneem word) oor tien jaar aan die ontwikkeling van die tuislande bestee. As minister van naturellesake het dr. Verwoerd van die vernaamste aanbevelings verwerp en vir ’n veel kleiner bedrag begroot. Hy het ook ’n voorstel gekelder dat private kapitaal toegelaat word vir die ontwikkeling van die tuislande. Dit het die vraag laat ontstaan wat later by my gespook het: Was die regering werklik ernstig oor sy beleid van lewensvatbare tuislande?
Verwoerd se slim planne
En toe word Verwoerd in 1958 eerste minister. Binne die eerste jaar of twee het hy apartheid omvorm van ’n onverbloemde wit baasskap tot ’n “statebond”, wat uiteindelik sou bestaan uit ’n wit staat of twee en ’n aantal vooruitstrewende swart state. NP-aanhangers het met toenemende oortuiging hieraan begin glo.
Frederik van Zyl Slabbert, wat in 1960 op Stellenbosch aangekom het om teologie te studeer, het later vertel van “die opwinding, die tinteling” wanneer akademici en studente die ideologie bespreek het. “Die beleid,” het Slabbert vervolg, “het ’n samehang en sistematiese kwaliteit gehad wat nie sommer net as rassisme afgemaak kon word nie. Dit het logiese sin gemaak en sommige baie stekelrige kwessies hanteer.”27 Die tuislande was destyds nog net ’n abstraksie en soos baie tydgenote het ek die beleid aanvanklik beskou as een wat onder ’n dinamiese leier nuwe moontlikhede kon oopmaak.
Verwoerd se beleid oor die bruin mense was ’n groot teleurstelling. In 1960 het hy Cillié se voorstel in Die Burger dat bruin verteenwoordigers in die parlement die bruin gemeenskap moes verteenwoordig, skerp afgewys. Cillié het ook instemmende geluide gemaak oor die besluite van kerkleiers op die Cottesloe-kerkeberaad dat sekere aspekte van apartheid nie aan die eise van die Christelike boodskap voldoen nie. Verwoerd het egter krities gereageer en die sinodes van die verskillende Gereformeerde Kerke gevra om hul stem te laat hoor. Piet Cillié het later aan my gesê: “Toe Verwoerd die sweep klap, kon ’n mens net die manelpunte sien waai soos die predikante om die hoek weghardloop.”
My simpatie was by Cillié, maar die meeste studente het Verwoerd as ’n politieke reus beskou wat nie kon fouteer nie. Verwoerd het nie net NP-ondersteuners beïndruk nie. Allister Sparks het my vertel hoe hy as ’n jong verslaggewer by die Rand Daily Mail vasgenael gesit en luister het toe Verwoerd in ’n hotelkamer sy beleid aan hom verduidelik het.
In 1964 het CW de Kiewiet, die liberale historikus wat ek later die meeste sou bewonder, in die invloedryke Amerikaanse blad Foreign Affairs geskryf dat Verwoerd die land se probleme met “vernuf en selfs verbeelding” aangepak het en dat dit geensins absurd was nie om ’n ooreenkoms te sien tussen Verwoerd en Charles de Gaulle, “die streng, hardkoppige, maar baie verbeeldingryke leier van Frankryk”. In Augustus 1966 het die tydskrif Time ’n kritiese artikel oor apartheid geplaas, maar Verwoerd bestempel as “one of the ablest white leaders Africa has ever produced”.28
Op soek na werk
Dit het taamlik voorspoedig gegaan met my studie as voltydse student. Ek het in 1958 my BA-graad ontvang met geskiedenis en Afrikaans as hoofvakke. Aan die einde van 1960 het ek my honneurs-graad in geskiedenis met lof behaal en in die jaar daarna my magistertesis begin. Ek was egter baie bewus van my beperkings, onder meer ’n swak beheer van Engels. Ek het deur al my jare as student ’n “Kakamasian” gebly en het besluit dat net ’n drastiese maatreël dié probleem kon oplos. Toe ek uitvind dat Graeme College, ’n Engels-medium staatskool in Grahamstad, ’n onderwyser vir sosiale studies nodig het, het ek die hoof laat weet dat ek beskikbaar is.
Ek het in 1962 ’n produktiewe jaar in die Britse setlaars se hoofdorp deurgebring. My gesproke Engels het met die hulp van my kollegas, en veral ’n musiekonderwyseres, verbeter. Die gemaklike verkeer met kollegas en spanmaats in die Albany-rugbyspan het my die Engelse gemeenskap heelwat beter laat verstaan.
Nadat ek my MA-tesis middel 1963 afgehandel het, het ek ’n pos as kadet in die departement van buitelandse sake in Pretoria aanvaar. Apartheid was toe nog nie so gediskrediteer soos ’n paar jaar later nie. De Kiewiet se artikel het die hoop gebied dat daar ten minste in sommige lande ’n sinvolle gesprek oor Suid-Afrika sou kon wees. Daar is in elk geval nie van diplomate verwag om apartheid in al sy fasette te verdedig nie, maar eerder die standpunt dat vreedsame verandering in die land moontlik is.
Ek het op 1 Julie 1964 in die Uniegebou in Pretoria in die departement begin werk. Ek was gelukkig om direk onder Donald Sole te werk met wie ek vroeër in Kaapstad my onderhoud gehad het. Hy was een van die mees gerespekteerde persone daar.
Eric Louw was nog tot einde 1963 die verantwoordelike minister en GP Jooste die departement se sekretaris. Pik Botha het egter in die gange met ’n frons op sy gesig rondgeloop op ’n manier wat oningeligtes sou laat dink dat al Suid-Afrika se diplomatieke probleme op sy skouers rus, iets wat mettertyd waar sou word. Hy was toe hoofregsadviseur belas met die koördinering van Suid-Afrika se verweer in die Wêreldhof teen die aanklag dat hy sy mandaat oor Suidwes-Afrika geskend het.
Ná net langer as ’n jaar het ek die idee van ’n loopbaan in die diplomatieke diens laat vaar. Daar was sekerlik mense soos Neil van Heerden, ’n kollega in die departement, wat sou voortgaan om die land en die saak van hervorming met groot onderskeiding te dien, maar my hart was nie in so ’n loopbaan nie.
Pleks van meningsvormers in die buiteland te probeer beïnvloed, wou ek liewer klas gee en aan die debat tussen Afrikaners oor apartheid en ’n alternatiewe vorm van oorlewing deelneem. Ek was lus om veel dieper in kwessies in te grawe as wat ek kon doen in die kort stukkies wat ek in die loop van my pligte in die departement geskryf het. Ek het ook besluit om so spoedig moontlik die doktorsgraad in geskiedenis aan te pak.
Pretoria van die middel 1960’s was ’n ideale plek vir pas gegradueerdes, wat in groot getalle in Arcadia en Sunnyside gebly en vir die staat- of semi-staatsdiens of vir professionele firmas gewerk het. Ek het my hart en siel in die rugbywêreld begeef en een seisoen vir die klub Pretoria se eerste span in die gedugte Carlton-liga uitgedraf.
In Pretoria het ek Annette van Coller ontmoet. Sy sou kort ná ons troue as ’n argitek aan die Universiteit van die Vrystaat kwalifiseer en het in 1963 vir ’n argitekfirma in Pretoria gewerk. Ons familie-agtergrond was baie dieselfde: ons oupas aan vaderskant het albei in die Anglo-Boereoorlog geveg, ons ouers was almal onderwysers in Afrikaanse skole en ek en sy het ons albei met die Afrikaner-volksbeweging vereenselwig. Vir my was sy van die begin af die ideale lewensmaat. Vandag, meer as vyftig jaar later, is sy steeds my grootste bron van inspirasie, krag en aanmoediging.
Ons is op 3 April 1965 in Pretoria-Oos se NG Kerk getroud, wat net langs die Loftus Versfeld-rugbyveld is. Dit was die dag waarop die rugbyseisoen begin het. Ek het geweet as ek daardie dag om 15:00 nie vir Pretoria se span op Loftus uitdraf nie, ek my plek in die eerste span sou verloor. Die diens in die kerk sou om 17:30 begin en ek het dit oorweeg om ’n rugbywedstryd en ’n huwelik op een middag te kombineer. My ma het gemeen dis hoogs onverantwoordelik en ek moes van die plan afsien. Dit was ook die einde van my rugbyloopbaan, wat in elk geval nie groot hoogtes sou bereik het nie.
In 1966 het ek verlof by Unisa geneem en vir ’n jaar nagraads in geskiedenis in Nederland gaan studeer. Ek en Annette het ’n onvergeetlike jaar in Amsterdam deurgebring. Ek het ’n vak aan die Stedelike Universiteit van Amsterdam voltooi wat op Hitler se magsoorname gefokus het, maar die ander kursusse het oor temas soos die “Middeleeuse Dagboek” gegaan, wat my nie geïnteresseer het nie. Daar was ’n lewendige groepie Suid-Afrikaanse studente in Amsterdam wat een maal per maand vir ’n “koffietafel” byeengekom het.
Eendag uit die bloute kry ek ’n brief van prof. Dirk Kotzé, professor in algemene geskiedenis aan die Universiteit van Stellenbosch, waarin hy my vra om aansoek te doen vir ’n pos in die departement. Die aansoek het geslaag en ek het met die aanvang van die akademiese jaar van 1967 ingeval. Ek was terug by die “universiteit met ’n houding” en op die dorp Stellenbosch. Francine, ons oudste dogter, is daardie jaar gebore en Adrienne net meer as drie jaar later. Hulle besorg ons steeds groot vreugde in die lewe.
In 1970 het ek en Annette besluit om in die algemene verkiesing die Progressiewe Party met sy beleid van gekwalifiseerde stemreg te steun. My ouers was geswore nasionaliste, maar ek was nie bekommerd dat ons besluit ’n familie-uitval tot gevolg sou hê nie. Ek het nogtans besluit om my ouers daarvan in kennis stel by wyse van ’n dubbelsinnige brief. Dit het ongeveer so gelui:
Ter wille van die kinders het ons besluit dat ons weë moet skei en dat ons ’n verhouding moet verbreek wat eens mooi en kosbaar was, hoe moeilik dit ook al is. Ons weet julle sal geskok wees, maar dis beter dat ons paaie nou skei as later.
Ek het op hierdie tema voortgeborduur en reg teen die einde geskryf: “Wat ons eintlik vir julle wil sê, is dat ons besluit het ons gaan Progressief stem.” My ma het aan my pa gesê: “Hulle gaan nie skei nie, hulle gaan Prog stem,” en toe verlig bygevoeg: “Die bloomin’ fools.”