Читать книгу Hermann Giliomee: Historikus - Hermann Giliomee - Страница 9

“En hoor jy die magtige dreuning …?”

Оглавление

My ouers was Gerhardus Adriaan Giliomee (1905-1986), gebore op Villiers in die Vrystaat, en Catharina Gesa Giliomee (1903-2001), wat haar eerste lig op die plaas Grasberg, naby Nieuwoudtville op die Bokveld, gesien het. My oupa aan vaderskant het aan sowel die Anglo-Boereoorlog as die Rebellie van 1914 tot 1915 deelgeneem en dit het my pa polities gevorm. My ma is polities veral beïnvloed deur haar Duitse pa, Hermann Buhr, en die koloniale patriotisme wat in die negentiende eeu by Kaapse Afrikaners gekweek is.

Met my ouers se geboorte vroeg in die twintigste eeu het die Afrikaners ’n groot agterstand by die Engelssprekende gemeenskap gehad. Aan die wortel hiervan was die gebrekkige opvoedkundige en kulturele grondslae wat die Nederlands Oos-Indiese Kompanjie in die eerste 150 jaar van die nedersetting gelê het. Toe die Britte in 1795 die Kaap vir die eerste keer verower het, was daar geen koerante, tydskrifte, of boeke wat plaaslik uitgegee is nie. Die burgergemeenskap was geïsoleerd, swak opgevoed en ver agter ontwikkelinge in Europa.

Die Britse bewindhebbers het besluit om Engels die enigste amptelike taal en die taal van onderrig in die skole te maak. Die afsondering op plase en ’n groot tekort aan skole op die platteland het dit vir die Afrikaners moeilik gemaak om ’n kultuurbewuste middestand te vorm.

Teen 1930, toe my ouers die universiteit verlaat het, het ’n kommissie bevind dat ’n kwart van die Afrikaners as armblankes gereken moes word – so behoeftig dat hulle ver benede die peil geleef het wat beskou is as geskik vir ’n wit mens. In die groter dorpe en stede het talle in haglike omstandighede geleef. Engels was hier die oorheersende taal en kultuur. Die Engelse gemeenskap het die toon aangegee op die gebied van kleredrag, argitektuur, taal, goeie maniere en beleefde gesprekvoering.9

My pa en ma het op Stellenbosch gestudeer. Albei het hulle vir die onderwysberoep bekwaam met die voorneme om hul lewe aan die opbou van die Afrikaner-gemeenskap te wy. Hulle het in 1933 getrou. In 1935 het my pa sy eerste vaste aanstelling aan die hoërskool op Ugie, Griekwaland-Oos, gekry.

Groot nood het op Ugie geheers. Dit was die jare van die Depressie en groot droogte. Baie boere moes tou opgooi en dorp toe trek. Benewens al die arm plaaskinders was daar ook ’n groot weeshuis met plek vir 400 kinders. Dit is deur die NG Kerk in die Kaapprovinsie opgerig nadat die griepepidemie van 1918 talle kinders wees gelaat het. Oor die volgende veertig jaar sou die inrigting meer as 4 000 kinders ná goeie onderrig die lewe instuur.

Ugie het my ouers se uitkyk veral op twee maniere gevorm. Hulle het bewus geword van die groot belangrikheid van onderwys vir die opheffing van arm Afrikaners en hulle het ook sterk gereageer op die neiging van sommige Engelssprekendes om op die weeskinders en ander arm Afrikaners neer te sien. My ouers het besluit om onbeskroomd Afrikaans te wees. Pleks van ons ouers “daddy” en “mommy” te noem, is ons geleer om “vader” en “moeder” te sê.

My ouers het van Ugie na Sterkstroom verhuis waar ek in 1938 gebore is. Ses maande ná my geboorte het my pa die pos van geskiedenis-onderwyser op Porterville in die Wes-Kaap aanvaar. Porterville het ’n veel sagter en vriendeliker omgewing as die Oos-Kaapse dorpe gebied.

Porterville se geskiedenis strek terug na 1863 toe die eerste dorpserwe op die plaas Pomona uitgelê is. Die dorpie is na William Porter, ’n gewilde prokureur-generaal van die kolonie, genoem. In 1870 is die eerste skool ge­open. In 1876 is die kerk ingewy en in 1880 is die eerste predikant beroep.10

Toe die skooltjie sy deure in 1870 oopmaak, was daar 82 ingeskrewe leerlinge en een Engelstalige onderwyser. Die gemiddelde bywoningsyfer was slegs 43. Daar was ’n groot skroef los: die onderwyser het heeltemal beheer oor die kinders verloor. ’n Ander onderwyser moes gevind word en die skool is eers ’n jaar later heropen.

Die Kaapkolonie het eers in 1905 verpligte onderwys vir wit kinders ingestel. Porterville se skool was vanaf 1917 ’n sekondêre skool en eers drie jaar later het ’n hoërskool vir wit kinders in ’n behoorlike gebou tot stand gekom. Dit was ’n volle tweehonderd jaar nadat die eerste burgers hulle hier gevestig het en minder as twee geslagte voordat ek in die vroeë 1950’s hoërskool toe is. Bruin kinders het eers ná 1994 toegang tot ’n hoërskool gekry toe die wit skool geïntegreer is.

By Portervillers het daar nog iets van die selfstandige gees van die dorpsmense se vryburger-voorsate oorgebly. Baie het nog hul eie melkkoeie aangehou wat soggens na die lande suid van die dorp geneem is om te wei en saans gaan haal is om gemelk te word. Die munisipaliteit het ’n bul in ’n kraal op die dorp aangehou om die koeie te dek. Hy is gou “Die Bul van Porterville” gedoop. Dit is vandag nog oor die hele land ’n bynaam vir Portervillers.

Die dorp en distrik was kultureel een van die mees homogene gemeenskappe in die land. Feitlik almal was óf wit óf bruin, het die Christelike geloof aangehang en Afrikaans gepraat. Met enkele uitsonderings was die bruin Afrikaanssprekendes veel armer. Daar was net twee swart mense op die dorp.

Die mense op die dorp wat Engels as hooftaal gepraat het, kon letterlik op die vingers van een hand getel word. Die groot gros Afrikaanssprekendes se beheer van Engels was óf nie-bestaande óf gebrekkig. Engels was vir alle praktiese doeleindes ’n vreemde taal.

’n Bolandse jeug

Porterville lê aan die voet van die Olifantsrvierberge, sowat 150 km noord van Kaapstad. Dit is ’n rustige, boom- en waterryke dorpie met ’n gematigde klimaat behalwe vir ’n kwota van snikhete somerdae. Die Olifantsrivierberge, wat die kusvlakte van die binneland skei, waak oor die dorp sonder om dit te oorheers.

Vir Jan Smuts, wat in Riebeeck-Wes gebore is, was die uitsig vanaf Riebeeckberg oor die kusvlakte na Kaapstad die mooiste punt ter wêreld. Vir my was dit Porterville se dorpsdam waarvandaan ’n mens ooswaarts oor die water na die Olifantsrivierberge kan opkyk en weswaarts na die dorp afkyk. Die dam was die plek waar ons gesin op talle soel someraande aandete gaan eet het wat my ma ingepak het. Porterville was ’n dorp waar kinders veilig en geborge gevoel het. Jy het geweet wie jy was en wie jou mense was. Porterville was my plek.

Ons was drie kinders in ’n gelukkige gesin: Jan, die oudste, is in 1936 gebore; ek in 1938 en Hester in 1940. Ons drie het almal dieselfde paadjie deur die skool en die kerk op die dorp geloop. As oudste kind was Jan die natuurlike leier onder die kinders en iemand wat vroeg reeds belangstelling in sy omgewing, die landbou en die studie van insekte ontwikkel het. Hy het professor in insektekunde op Stellenbosch geword, ’n voortreflike beyweraar vir omgewingsbewaring en ’n knap kunsversamelaar.

Ek is na Hermann Buhr, my oupa aan moederskant, genoem. Hy was ’n ondernemende en vernuwende mens, ’n groot individualis en ’n sterk familieman, ’n Duitser en ’n Afrikaner. Ek het nooit werklik daarin geslaag om met hom kontak te maak nie. Toe ek ’n tiener word, was hy reeds in sy middel sewentigerjare en hy was nooit geneig tot kletspraatjies nie.

My suster Hester, ’n sprankelende en energieke kind, het ’n onderwyseres geword. Baie jare later, toe Herman Binge, Kaapse televisievervaardiger en -regisseur, die dokumentêre program Stroom-op gemaak het, het Hester op verrassende wyse ontpop as iemand met ’n natuurlike gawe om voor die televisiekamera op te tree.

Op Porterville het ek aan die tipiese “tweede kind-sindroom” gely en gereeld gerebelleer teen Jan se gesag en teen sommige ouerlike besluite. “Against the government,” het my ma dikwels oor my proteste gesê.

My pa was ’n goed ingeligte, nugter en positiewe mens, wat sy lewe aan sy gesin en die onderwys gewy het. My ma was ’n sterk vrou en iemand met groot toewyding aan haar gesin en ’n verantwoordelikheidsbesef teenoor die arm Afrikaners op die dorp.

My liefde vir die geskiedenis het ek by my pa gekry. In sy geskiedenisklas het hy veral die storie in die geskiedenis en die rol van prominente figure soos Napoleon en presidente Kruger en Steyn beklemtoon. Soms het hy sover gegaan om in sy klas oor die Franse rewolusie die opruiende lied “La Marseillaise” te sing, wat Claude Joseph Rouget de Lisle gekomponeer het.

Ná sy aftrede het my pa hierdie boodskap aan die skool geskryf: “Hou vorentoe in gedagte dat alle kennis en elke ervaring vir ’n mens waardevol is en jou ’n ryker en beter mens maak.” Hy het bygevoeg dat sy loopbaan, ondanks tydelike teleurstellings en terugslae, “gelukkige en vrugbare jare” was.

Een van die teleurstellings was ’n mislukte aansoek vir die hoofskap. Hy het nooit vir ’n hoofskap elders aansoek gedoen nie. Hy het nie die sin daarvan ingesien nie omdat hy hom met die gemeenskap vereenselwig het en hom goed op die dorp kon uitleef. Geldelik was dit vir hom onnodig om ’n senior pos te soek. Hy het goed gevaar met sy beleggings op die aandelebeurs, veral in goudaandele, en kon drie kinders na die Universiteit van Stelllenbosch stuur sonder om ’n lening aan te gaan.

Hy het hom besonder goed op skrif uitgedruk en hy het my gehelp om die boek The Rise and Crisis of Afrikaner Power (Yale University Press, 1979), wat ek saam met Heribert Adam geskryf het, te vertaal. Hy sou ’n voortreflike historikus kon word as hy die kans gekry het.

Oorlog en sy naweë

Albei my ouers het die NP ondersteun behalwe in die dertigerjare toe my pa hom agter genl. JBM Hertzog, leier van die Verenigde Party, geskaar het. Die oorlogsverklaring in 1939, nadat genl. Smuts die oorhand in die party gekry het, het hom na die NP laat terugkeer. My ouers het die NP-regering deur dik en dun ondersteun. Hulle sou NP bly stem selfs al het die spreekwoordelike besemstok in hul kiesafdeling gestaan.

Gedurende die oorlogsjare was ek vaagweg bewus daarvan dat my ouers, soos die meeste Afrikaners, teen Suid-Afrika se deelname as lid van die Geallieerde Magte gekant was. Die parlement het dié besluit in 1939 met ’n skraal meerderheid van dertien stemme geneem, wat hoofsaaklik die Afrikaans-­Engelse verdeling weerspieël het.

Dit was nie net Afrikaner-nasionaliste wat gemeen het dat die land nie op grond van ’n baie klein minderheid kon besluit om tot die oorlog toe te tree nie. In haar lewensverhaal Reverberations: A Memoir (1996) vertel die historikus Phyllis Lewsen van JS Marais, ’n gerespekteerde liberale historikus, wat aan haar gesê het: “Geen land behoort oorlog te maak nie behalwe met veelparty-steun … Die meeste Afrikaners, ek ingesluit, het Hertzog gesteun in sy aandrang dat Suid-Afrika neutraal bly.” 11

Die stories wat ek van my ouers gehoor het dat Afrikaners gedurende die oorlog geviktimiseer is, het later geblyk waar te wees. Die Smuts-regering het die beleid van ’n professionele staatsdiens gedurende die oorlog geskrap omdat hy, verstaanbaar genoeg, dit nie wou waag om Afrikaner-nasionaliste wat teen die oorlog was, in strategiese poste aan te stel nie. Daar was talle verhale van Afrikaners op die spoorweë wat onwillig verplaas is of verplig is om vroeg af te tree. ’n Ander groot grief was dat eentalige Engelse amptenare in senior poste aangestel is in die plek van amptenare wat by die gewapende magte aangesluit het.

Rob Davies, wat later ’n ANC-minister sou word, skryf in sy boek Capital, State and White Labour (1979) dat die ontevredenheid onder spoorwegamptenare só groot was dat Paul Sauer, wat ná 1948 minister van spoorweë geword, het, ’n griewe-kommissie aangestel het. Altesame 2 875 Afrikaanse spoorweg­amptenare het klagtes ingedien.

Ná 1948 se verkiesing het die NP-regering in die geval van twee poste met ’n hoë profiel skuiwe gemaak wat ’n opskudding veroorsaak het: W Marshall Clark, wat tydens die oorlog oor die koppe van twee Afrikaners as hoofbestuurder van die spoorweë aangestel is, is ’n aantreklike skeidingspakket aangebied en genl. Evered Poole, wat eerste in die ry was om hoof van die generale staf te word, is sywaarts geskuif. Daar is aanduidings dat die bewindsverwisseling nog vyftig offisiere, Engels- sowel as Afrikaanssprekend, nadelig getref het.

Leo Marquard, ’n gerespekteerde liberale kommentator, verklaar onomwonde in sy The Peoples and Policies of South Africa (1969) dat die NP-regering die beleid van ’n professionele staatsdiens teruggebring het. Die NP-regering het wel daarop aangedring dat alle staatsamptenare tweetalig moes wees en dat diegene wat onbillik gedurende die oorlog ontslaan is of verhoging geweier is, vergoed moes word. Dit was eers in die vroeë 1960’s, meer as vyftig jaar ná Uniewording, dat die hoër range van die staatsdiens die wit bevolkingsamestelling weerspieël het.12

Toe ek in die 1980’s oor die politiek begin skryf, het ek dikwels argumente met Engelse kommentators, veral Ken Owen, gehad wat geskryf het dat die NP-regering ná 1948 die staatsdiens verpolitiseer het deur op groot skaal van Engelse amptenare ontslae te raak. Daar is nooit enige bewyse hiervan verskaf nie. Dit was meer die geval dat daar ná die oorlog by Engelssprekendes en Afrikaners wat pro-oorlog was die persepsie was dat daar teen hulle gediskrimi­neer sou word. Die Staatskommissie sou egter teen blatante onreg optree.

Ek onthou vaagweg hoe die oorlog ons huis geraak het. Daar was ’n gebrek aan witmeel en ’n tekort aan rys. My pa wou nie, soos wat die regering beveel het, sy rewolwer by ’n polisiekantoor inlewer nie, maar het dit in die tuin begrawe. Hy het waarskynlik die bevel dat staatsamptenare uit die Broederbond moes bedank, gehoorsaam. Die brandstoftekort het beteken dat hulle soms van hul plan moes afsien om Grasberg of ander plekke te besoek.

Ek het Anton Rupert, bekende Suid-Afrikaanse sakereus en filantroop, in 1999 gevra wat die deurslaggewende faktor in 1948 se NP-oorwinning was. Hy was onomwonde: “Dit was die oorlog wat die verkiesing in 1948 vir die NP beklink het, nie apartheid nie.”

Ek kan nog die groot vreugde onthou waarmee my ouers die nuus van die NP-sege in 1948 ontvang het. Dit was nie in die eerste plek apartheid wat hulle gemotiveer het nie, maar hul vereenselwiging met die Afrikaner-volksbeweging.

Die NP het 1948 se verkiesing met verskeie planke in sy platform geveg. Daar was:

 ’n nasionalistiese een wat daarop aangedring het dat die staat so onafhanklik as moontlik van Brittanje moes wees;

 ’n kulturele een, wat groot waarde geheg het aan moedertaalonderrig en aktiewe betrokkenheid by die Afrikaanse taal- en kulturele beweging;

 ’n republikeinse een, wat verlang het dat sowel die staat as die wit gemeenskap verantwoordelikheid vir die arm wittes moes aanvaar;

 ’n populistiese een, wat gemik was teen die groot Engelse korporasies, veral die Anglo-American Corporation, wat oor die ekonomie uitgetroon het. Die doel was om ’n Afrikaanse korporatiewe sektor te vestig (in 1945 is die eerste Afrikaanse maatskappy op die Johannesburgse aandelebeurs genoteer); en

 ’n rassistiese een, wat wit oorheersing en omvattende diskriminasie teen bruin en swart mense voorgestaan het.

Die Afrikaners van my jeugjare was baie kleurbewus en sommige was openlik rassisties. Tog was daar tussen die “baas” en sy “volk” en die “miesies” en haar “bediende” dikwels ’n paternalistiese verhouding wat wedersydse pligte en verpligtinge ingesluit het. ’n Boer is gereken as hy iemand was wat vir “sy mense” gesorg het.

Dit was wanneer die Afrikaners as groep of party opgetree het dat hulle ’n veel meer ongenaakbare gesig gewys het. Die Ontugwet, die paswette en groepsgebiede was hard en onverbiddelik. Jan Smuts het laat in sy lewe hierdie waar woord gespreek: “Ek dink nie die mense bedoel om boos te wees nie, maar onnadenkend doen hulle bose dinge. In die openbare lewe doen hulle dinge waartoe hulle nie in staat sou wees in hul private lewe nie.”13

Die verstedelikte Afrikaner van vandag is al ’n generasie of twee verwyder van die lewe op ’n plaas of klein plattelandse dorpie. Tog is daar baie dinge wat die Afrikaners steeds gemeen het: die plaaslewe, belangstelling in die natuur en ’n liefde vir braaivleis. Dit het onder dorpenaars en stedelinge posgevat tydens 1938 se herdenking van die Groot Trek.

Skool en kerk

As kinders op skool het ons gou gehoor dat ons ons moet voorberei vir ’n toekoms wat nie altyd maklik sou wees nie. Implisiet was die boodskap dat onbetwiste wit baasskap nie vir ewig sou duur nie en dat ’n goeie opleiding al waardevoller sou word.

As staatskool het Porterville die hele spektrum gehad van ouers wat welgesteld was tot dié wat arm was en van kinders wat begaaf was tot dié wat gesukkel het om by te bly. Onder laasgenoemde was twee seuns, Org en Gys, wat in my klas was. Op ’n keer het ek ’n swak eksamenpunt probeer goedpraat met die woorde: “Org en Gys het nog swakker gevaar.”

My ma het my goed laat verstaan dat “Org en Gys” se gebrekkige prestasies nie my maatstaf kon wees nie. Sy het vas geglo dat ek tot groter dinge in staat is. “Org en Gys” het ’n spreekwoord geword wanneer een van ons kinders ’n flou verskoning vir ’n middelmatige prestasie voorgehou het. Aan die ander kant het ons nooit die idee gekry dat prestasie ’n voorvereiste vir ouerliefde was nie. ’n Mens kry die idee dat dit soms die geval is in vandag se ambisieuse middelklas.

Die skool op Porterville was relatief klein en in 1955, toe ek matriek gemaak het, was ons net sestien in die klas. Die onderwysers was oor die algemeen toegewyd aan hul werk en die welsyn van die kinders. Die een swak plek was die onderrig in Engels. Saam met die eentalige aard van die dorp was dit beslis nie ’n goeie voorbereiding vir die universiteit nie.

Op universiteit het ek ingeskryf vir die vak Engels Spesiaal, wat op ’n heelwat laer standaard as die vak Engels was. Selfs die “Engels Spes” moes ek later weens my swak punte laat vaar. Ek was deel van die groep na wie die gedugte lektrise Patricia McMagh verwys het as die “Kakamasians” of “Members of the Kakamas club” – studente wie se beheer van Engels bedenklik was. Toe sy my in 2003 gelukwens met die verskyning van my boek The Afrikaners het ek haar vriendelik daarop gewys dat ek in ’n stadium een van haar “Kakamasians” was.

Kerk en katkisasie was ’n verpligte deel van ons opvoeding. Behalwe vir die groot klem op die preke en die dogma van uitverkorenheid – dit is iets wat ek nou nog nie verstaan nie – kan ek nie veel van my Christelike onderrig onthou nie. Min kerke het so ’n moeilike taak as dié van die NG Kerk gehad, wat apartheid met die Christendom se beklemtoning van die gelykheid van alle mense moes probeer versoen.

Ben Marais, wie se omvattende werk Die Kleur-krisis en die Weste in 1952 verskyn het, was een van die predikante wat die pogings verwerp het om te bewys dat apartheid skriftuurlike gronde het. Toe ek van 1963 tot 1965 in Pretoria gewerk het, was ek gelukkig om hom te leer ken. In 1965 het hy my en my aanstaande, Annette van Coller, in die huwelik bevestig.

“Oom Ben” was ’n gerespekteerde en geliefde predikant wat nooit gekla het oor die teenstand teen sy standpunt wat hy ondervind het nie. Hy het graag vertel van ’n sinodesitting wat in 1953 plaasgevind het kort nadat hy hom in sy boek uitgespreek het teen die poging om apartheid op Christelike gronde te regverdig. ’n Ouderling het hom bygedam: “Ai, dominee, jy het nou vir ons vanjaar se wonderlike verkiesingsuitslag heeltemal bederf.”

’n Sin van gemeenskap

Daar was geen opvallende ryk of arm buurt op Porterville nie. In verskeie strate het daar ryk én arm mense gewoon. Die meer welgesteldes se huise was gerieflik maar daar was nie uitspattige huise nie. Erfgrootte was die grootste verskil. Sommige het nie net ’n blomtuin gehad nie, maar ook ’n vrugteboord, groentetuin en selfs ’n wingerd. Water van ’n kloof in die berg het in die groot munisipale dam gevloei. Die weeklikse waterleibeurt was vir die dorpenaars ’n belangrike gebeurtenis. My pa was nie ’n entoesiastiese tuinier nie, maar het sy leibeurt nie maklik gemis nie.

Koringbou was die distrik se vernaamste ekonomiese aktiwiteit, maar teen die 1950’s was daar al aansienlike diversifikasie. Op die berg was daar vrugte, bessies en disas en op die plase onder die berg vrugte, wingerd en gemengde boerdery. In die Vier-en-Twintig-riviere-gebied, suid van die dorp, is uitvoerdruiwe en parsdruiwe geproduseer, terwyl koringboerdery in die Rooi Karoo, noordwes van die dorp, oorheers het.

Tot ongeveer 2000 was die meeste plase tussen 300 en 500 morg groot. Dit is heelwat kleiner as die plase in Swartland-distrikte soos Malmesbury en Moorreesburg. Dit was die vernaamste rede waarom daar in die Porterville-­distrik se wit gemeenskap geen noemenswaardige standverskille ontwikkel het nie. Daar was geen sprake daarvan dat armer Afrikaners tot ’n laer klas behoort nie. Wit mense het mekaar as gelykes geag, ondanks inkomsteverskille.

Portervillers het gou skuins gekyk na diegene wat oor hul rykdom of geleerdheid gepraat het. Mense het selfs gehuiwer om van ’n oorsese reis te vertel uit vrees dat dit windmakerig sou klink. Toe my ma in die vroeë 1960’s teenoor ’n kennis, oom Dais Toerien, meld dat sy en my pa kort tevore in Londen en Parys was, het hy haar gou getroef met die verhaal van sy onlangse besoek aan Oudtshoorn.

My herinnering is dat die Afrikaanse gemeenskap, wat om die kerk en skool gewentel het, taamlik gelukkig was, veral omdat daar nie groot standverskille was nie, maar ook omdat daar nie televisie was wat beelde kon uitsaai van hoe die rykes in die land leef nie.

’n Wetenskaplike studie wat gedurende die 1950’s in ’n dosyn Europese lande onderneem is, het getoon dat mense in arm lande ongeveer net so tevrede met hul lewe was as dié in ryk lande. Toe dieselfde studie in die middel 1980’s gedoen is, was die resultate dramaties anders. Mense in ryker lande was veel gelukkiger as dié in armer lande. Die kritieke verskil is televisie. Omtrent almal kon sien hoe die middelklas leef en omtrent almal het nou daardie lewenstyl begeer en terselfdertyd die rykes verpes.14

Die wit mense se sterk sin vir gemeenskap het my ouers van die staanspoor af getref. Die skool en kerk het albei ’n sentrale plek ingeneem en daar was ’n gesindheid van omgee vir mekaar. Daarmee saam het ’n aantreklike onpretensieusheid gegaan. Mense het respek betoon teenoor die predikant en die onderwysers maar kritiek het nie uitgebly as hulle hul werk verwaarloos het nie. Die skool het deur die jare heen akademies goed gevaar.

In ’n jaarblad het drie skoolinspekteurs die groot waarde van “plattelandse skole vir plattelandse kinders” onderstreep. My impressionistiese indruk op Stellenbosch, as student sowel as dosent, was dat uitstaande studente wat op onbekende plattelandse skole gematrikuleer het, omtrent altyd beter vaar as goeie studente van topskole.15 Malcolm Gladwell het hierdie stelling onlangs in sy David and Goliath: Underdogs, Misfits and the Art of Battling Giants (2013) statisties bewys in die konteks van Amerikaanse skole.

’n Volksbeweging

Deelname aan die volksbeweging was ’n vormende invloed op my. Dit het ’n gevoel gevestig van betrokkenheid by die Afrikaners as ’n gemeenskap wat getalsgewys klein was en nog in ’n vroeë stadium van kulturele ontwikkeling gestaan het. Snaaks soos dit vandag mag klink, het die volksbeweging nie ontstaan in reaksie op enige bedreiging van die kant van bruin of swart mense nie.

Die volksbeweging was veral daarop gerig om die Afrikaners te bevry van minderwaardigheidsgevoelens teenoor Engelssprekendes. Daar was ander be­langrike doelstellings benewens die opheffing van die sogenaamde armblankes, soos die opbou van Afrikaner-ondernemings wat op hul beurt Afrikaners in diens sou neem en die uitbou van die Afrikaanse taal en kultuur.

My ma was veral betrokke by die opheffing van die armes op die dorp. Sy was lid en later voorsitster van die Porterville-tak van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV). Die vereniging, wat oor die hele Kaapprovinsie versprei was, het net ná die Anglo-Boereoorlog in Kaapstad tot stand gekom om die nood van brandarm Afrikaners te verlig.

My ma het dikwels die armes self besoek om kos, klere of leesstof uit te deel en soms vir Jan gestuur. Haar grootste frustrasie was dat die armes nie wou lees nie. Sy wou help om hulle geestelik op te hef sodat hulle ten volle deel van die Afrikaner-gemeenskap kon word en nie net kandidate vir liefdadigheid nie. Dit was ’n boodskap wat veral dr. DF Malan, redakteur van Die Burger en NP-leier, en die predikante uitgestuur het.

Die Stellenbosse ekonoom prof. Jan Sadie wys daarop dat die pogings van middelklas-Afrikaners om hul eie armes op te hef buitengewoon is. Dit het baie daarmee te doen gehad dat die Engelssprekende elite geneig was om op die Afrikaners as ’n mindere “ras” of gemeenskap neer te sien. Sommige het die standpunt probeer staaf deur daarop te wys dat meer as 80% van die armblankes Afrikaners was.

MER (ME Rothmann), ’n Afrikaanse skrywer wat ’n groot deel van haar lewe voltyds vir die ACVV gewerk het, het as ’n jong verslaggewer ’n toespraak gehoor van sir Carruthers Beattie, rektor van die Universiteit van Kaapstad, wat haar baie ontstig het. Hy het verklaar dat die armblankes “oor die algemeen verstandelik verswak is” en dat iets “inherents” in die Afrikaners die verskynsel so ’n onrusbarende omvang laat aanneem het. MER het geskryf: “Sy gehoor het geen beswaar teen hierdie stelling gemaak nie.” Soos Sadie dit uitdruk, het die Afrikaners van alle klasse besluit om ’n verenigde front te vorm teen Engelse mense wat op hulle, en veral hul armes, neergekyk het.

Die meeste bruin mense was natuurlik nog armer as die arm wit mense. Ek het my ma op ’n keer gevra of sy nie ook die arm bruines moes probeer help nie. Haar antwoord was dat ’n mens net een groot maatskaplike taak in jou lewe kan aanpak en die opheffing van die arm Afrikaners was haar groot taak.

Op ekonomiese gebied was die Afrikaners nog ver agter die Engelsspre­kendes. In 1938, toe ek gebore is, het die Afrikaners ’n aandeel van minder as 10% in die private sektor (landbou uitgesluit) in die entrepreneursfunksie gehad. Met verwysing na die aanvaarde korrelasie tussen Protestantisme en kapitalisme, het ’n gerekende ontleder onlangs opgemerk dat dit vreemd is dat die Calvinistiese Afrikaners “eers teen 1975 werklik ’n kapitalistiese kultuur ontwikkel het”.16

In 1939 het Sanlam en die Afrikaner-Broederbond (AB) ’n ekonomiese volkskongres in Bloemfontein georganiseer om die stigting van Afrikaner-­maatskappye te bevorder. Van hul kant moes die maatskappye onderneem om Afrikaners werk te gee en diegene wat uitgeblink het in bestuursposisies te plaas. Die sentrale idee was om die Afrikaner-aandeel in die ekonomie te vergroot op ’n wyse wat respek sou afdwing.

Ná die kongres het TE Dönges, die latere minister, die posisie uiteengesit op ’n manier wat ook my ouers volmondig onderskryf het. Die Afrikaners, het hy gesê, wil hul aandeel in die ekonomie uitbrei. Hulle meen dat hulle geen reg het om van ander te verwag om hulle te help nie en was te trots om ander te vra om hulle te help om hul ekonomiese redding te bewerkstellig. Dönges het dit beklemtoon dat die Afrikaners geen planne gehad het om ’n boikot van Engelse ondernemings te begin nie. Al wat hulle gevra het, was dat die Engelssprekende gemeenskap “welwillend neutraal” bly terwyl die Afrikaners hul “ekonomiese voete” vind.

Dit was die idealistiese kant, maar daar was sekerlik ook die donker sy. Nadat die NP in 1948 aan die bewind gekom het, is Indiërs gedwing om uit die sakedeel na die buitewyke te skuif. My ouers het ons beveel om nie by die Indiër Hassim, wat ’n winkel in die hoofstraat gehad het, te koop nie. Bruin mense het min ondernemings besit en tot die laaste dekade of twee van die NP-bewind het die regering of plaaslike owerhede feitlik geen poging aan­gewend om bruin ondernemers te help om op die been te kom nie.

Toe ek in 1948 die ouderdom van tien bereik, was daar nog min sakeonder­nemings in Afrikaner-besit wat groter as die dorpskafee of dorpswinkel was. Eers in 1945 is die eerste Afrikaner-maatskappy op die aandelebeurs genoteer, te wete Anton Rupert se Distillers Corporation. Bonuskor (in die Sanlam-stal) het ’n paar jaar daarna gevolg.

Gelukkig was daar by die Engelse maatskappye geen sprake daarvan dat hulle die Afrikaners ekonomies op die voete moes help nie. Die Afrikaners moes hul respek verdien deur self suksesvolle ondernemings op te rig. Ek het Anton Rupert in 1999 gevra of hy kon dink aan enige Afrikaanse maatskappy wat deur ’n Engelse maatskappy “bemagtig” is. Hy het nagedink en toe gesê: “Nie een nie en ek is baie dankbaar daaroor.”

My pa het kort ná sy aankoms op Porterville lid van die Afrikaner-Broeder­bond (AB), geword. Die organisasie het ná 1939 se kongres sy lede aan­ge­moe­dig om in Afrikaanse maatskappye te belê. My pa het van ’n vroeë stadium geld op die Johannesburgse aandelebeurs belê, veral in goudaandele, maar ook in Rembrandt, Federale Volksbeleggings en Federale Mynbou.

Dit het my pa gepla dat Die Burger se sakebladsy so swak was. In 1959 het hy in ’n brief aan Die Burger se hoofbestuurder gevra dat die koerant “net so gesaghebbend op ekonomiese gebied moes word as wat dit reeds op ander gebiede is”. Hy het heeltemal tereg Die Burger se finansiële beriggewing as “formeel, tegnies, stroef en kleurloos” bestempel. Daarteenoor was Engelse koerante propvol ontledings van die waarde van sekere aandele.

Om sy punt te belig, het my pa gewys op die aandeel Federale Mynbou (later Fedmyn), ’n Sanlam-filiaal wat in 1953 tot stand gekom en vinnig opgang gemaak het. In 1958 het dit beurs toe gegaan met Bonuskor en Federale Volksbeleggings as die vernaamste aandeelhouers.

My pa was gretig om aandele in Fedmyn te koop, maar kon nie inligting in Die Burger kry nie. Hy het by die koerant gekla oor hoe moeilik dit vir beleggers is om die transaksies van die opkomende Fedmyn te evalueer. Hy het geskryf dat “inligting en nogmaals inligting” nodig was. Daarvoor “moet ons tans oral in die Engelse tydskrifte rondsnuffel”.

Phil Weber, hoofbestuurder van Die Burger, het die brief aan die redakteur, Piet Cillié, deurgestuur met dié opmerking: “Die man bedoel dit blykbaar goed.” Dit sou egter nog amper tien jaar duur voordat die koerant se sakeblad sou verbeter.

Die Broederbond-“bende”

My pa se Broederbond-lidmaatskap het aan hom ’n gevoel van deelname aan die Afrikaner-nasionaliste se debat oor beleidskwessies gegee. Saam met ander afdelings oor die hele land het die Porterville-afdeling die studiestukke gelees wat die Johannesburgse hoofkantoor vir kommentaar uitgestuur het. Ek het somtyds op sommige stukke, soos ’n ontleding van die Tomlinson-kommissie se verslag, afgekom. As kinders het ons graag saamgespeel om die geheim te bewaar wanneer die plaaslike afdeling van die AB by ons aan huis vergader het. Ek het natuurlik nooit met my maats oor die AB gepraat nie. Af en toe het ek my pa ligweg gespot oor sy “geheime bende”, maar ek kon gou sien ek is op gevaarlike terrein.

In die middel 1950’s het die Porterville-afdeling beswaar aangeteken dat iemand uit ’n ander afdeling ’n onderwyser wat as lid voorgestel is, afgewys het. In daardie stadium was die Stellenbosse rektor, prof. HB Thom, voorsitter van die AB se uitvoerende raad, en die AB-bestuur het die klag na hom verwys. Thom en pa was klasmaats op Stellenbosch.

Dit het later aan die lig gekom dat die beswaar van iemand was wat die genomineerde daarvan verdink het dat hy as skeidsregter in ’n skolerugbywedstryd gekul het. Die persoon het toe nooit lid geword nie. Miskien wou die AB dit nie waag met iemand met ’n reputasie as ’n skelm skeidsregter nie.

My pa het nooit persoonlike voordeel uit sy AB-lidmaatskap getrek nie. Hy was geskok oor bewerings in latere jare dat die AB toutjies getrek het om ’n lid te bevoordeel en dat sommige mense lid geword het om voordeel te kry. “Dit was nooit die Bond se bedoeling nie,” het hy dikwels gesê.

My pa het egter nie enige eerstehandse ervaring van die werking van die Bond buite Porterville gehad nie. Nico Smith vertel in sy boek Die Afrikaner-­Broederbond: Belewinge van die binnekant (2009) hoe hy as Broederbonder aangestel is by die Kweekskool op Stellenbosch oor die koppe van twee persone wat veel meer bekwaam was.

Ernst Stals, in ’n indringende studie van die Bond, skryf dat dit van vroeg af die AB se doelstelling was “om nie net die belange van die Afrikaners in die algemeen te bevorder nie, maar ook om die lede te help om in hul beroepe vooruit te kom”.

Ek sou later rede hê om te wonder of die AB iets te doen gehad het met die skynbare doodloopstraat waarin my loopbaan op Stellenbosch teen die einde van die 1970’s beland het.

“Die man wat sy deelname weier”

“Wees trots op jou eie” was woorde wat ek en ander kinders van my geslag dikwels gehoor het wanneer taal en kultuur ter sprake gekom het. Ons het volkspele in die kerksaal gedoen en dit geniet. Ds. Theron, wat die gemeente gedurende my jeugjare bedien het, het dans vuriglik teengestaan. Eers toe ek op universiteit kom, het ek ontdek dat dans ’n normale vorm van sosiale verkeer was. Ek was toe nogal jammer dat ek nie op skool leer dans het nie.

Die volksbeweging het groot klem daarop gelê dat elke persoon se bydrae belangrik is. Dit was veral waar wat betref die bevordering en ondersteuning van Afrikaans as openbare taal, wat volgens die grondwet gelyke status met Engels geniet het. Op skool is ek getref deur ID du Plessis se gedig “Soet is die stryd” uit sy bundel Land van die vaders (1945):

Jy sê die stryd is verlore

Ons nasie te arm en klein

Ons taal uit drang gebore

Wat een van die dae verdwyn? …

Dis tog die probeerslag wat tel!

Nee, soet is die stryd van die stryer,

Al moet hy uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

Is die MAN wat sy Nasie VERMOOR!!!

Toe ek jare later in ’n taalstryd aan die Universiteit van Stellenbosch betrokke raak, het hierdie woorde my steeds geïnspireer.

Die volksbeweging se oproep in die 1950’s was om nooit jou mense en jou taal as minderwaardig te beskou nie. Ons gesin op Porterville was goed bewus daarvan dat die Afrikaanse letterkunde, veral op die gebied van prosa, nog baie ver agter was by dié van die groot Europese tale. Vir ons was ’n groot gebeurtenis die verskyning van Die Afrikaanse Kinderensiklopedie, waarvan die eerste band in 1948 uitgekom het. In die inleiding skryf die redakteur dat “kindervriende” die boek geskryf het. Onder hulle was NP van Wyk Louw, wie se beskouings oor “lojale verset” en “liberale nasionalisme” my later baie sou beïnvloed.

Ons was gretige lesers van die jeugtydskrif Die Jongspan, wat, soos die ensiklo­pedie, onder redaksie van dr. CF Albertyn gestaan het. Hy het ná sy uittrede by die Nasionale Pers op sy plaas in die Porterville-distrik kom woon. My pa sou ná sy aftrede as onderwyser hom amper voltyds help met sy groot projek om met sy eie maatskappy ’n verwerking van die Winkler Prins-ensiklopedie uit te gee. Dit het die vertaal van artikels van Hollands na Afrikaans behels en die bywerk van Suid-Afrikaanse materiaal deur plaaslike gesaghebbendes. Die projek was ongelukkig nie ’n finansiële sukses nie.

Gedurende die eerste helfte van die 1950’s, toe ek in my hoërskooljare was, het dit gelyk of die groot ideaal van ’n republiek al nader aan verwesenliking kom. Daar was ’n bruisende optimisme. Vir my word die tydsgees verteenwoordig deur die eerste strofes van Die Lied van Jong Suid-Afrika, wat ons soms in sangklasse op skool gesing het:

“En hoor jy die magtige dreuning?

Oor die veld kom dit wyd gesweef:

die lied van ’n volk se ontwaking

wat harte laat sidder en beef …”

Vir my sê die lied steeds iets oor die optimisme waarmee die Afrikaners van my geslag die toekoms tegemoet gegaan het. ’n “Volk se ontwaking” het min of niks met apartheid te doen gehad nie. As kinders het ons deel van ’n be­weging gevoel wat ons op ’n gelyke voet met die Engelse gemeenskap sou plaas, wat ’n republiek gaan uitroep, wat Afrikaans gaan uitbou en wat ekonomiese en kulturele wêrelde gaan verower. Om die volksbeweging en apartheid as een en dieselfde te beskou, is gewoon vals.

Nadat die NP in 1948 die verkiesing gewen het, is Afrikaans vir die eerste keer in die praktyk as ampstaal op gelyke voet met Engels behandel. Vir die volgende veertig jaar het Afrikaans sterk as openbare taal gegroei, veral omdat dit so stewig ingebed was in skole en universiteite. Afrikaans het my in staat gestel om universele kennis in my eie taal baas te raak en my op die beste manier uit te druk. Dit het ’n onlosmaaklike deel van my maatskaplike identi­teit geword. Nadat my boek oor die Afrikaners, The Afrikaners: Biography of a People, in 2003 verskyn het, is ek dikwels gevra wat deurslaggewend in die Afrikaners se opkoms in die twintigste eeu was. My antwoord was altyd: moe­dertaalonderwys en toegewyde onderwysers.

Jean Laponce, ’n Frans-Kanadese kenner van die oorlewing van kleiner tale, het my later meegedeel dat Afrikaans een van net vier tale ter wêreld is – Hebreeus, Hindi en Indonesies-Maleis was die ander – wat in die loop van die twintigste eeu ontwikkel het van ’n gewone spreektaal met lae status tot een wat gestandaardiseer en op alle terreine van die lewe gebruik is, insluitende in nagraadse studies, die wetenskap en tegnologie. Hebreeus en Afrikaans was die enigste twee tale gebesig deur ’n baie klein spraakgemeenskap wat hierdie vordering gemaak het.

Hoe het Afrikaans dit reggekry om die amper ondenkbare te bereik? ’n E-posboodskap wat ek ná die verskyning van The Afrikaners ontvang het, het die wanopvatting wat in sommige kringe hieroor bestaan, uitgedruk. My korrespondent het die vraag gestel: “Hoe het Afrikaans sy vlak bereik?” Hy het self die vraag só beantwoord: “Dit is in die skole se leerplanne en as ’n sogenaamde ampstaal op die staatsdiens afgedwing.”

Die feite lyk nogal anders. Die grondwet van die Unie van Suid-Afrika, wat in 1909 aanvaar is, het Hollands, saam met Engels, as amptelike taal aanvaar. Geen taal is “afgedwing” of “bevoorreg” nie; die tweetalige karakter van die staat was die belangrikste simbool van versoening tussen die twee wit gemeenskappe.

In ’n artikel in The State indertyd het Gustav Preller die Unie se belofte om die twee ampstale op ’n grondslag van die “mees volkome gelykheid” te plaas, as noodsaaklik vir die verkryging van Afrikaner-steun vir die Unie bestempel.17 Dit is goed moontlik dat sonder die handhawing in die praktyk van gelyke status tussen Engels en Afrikaans daar in alle waarskynlikheid ’n slopende stryd tussen die twee wit gemeenskappe sou ontwikkel het, wat die ekonomie ernstig sou geknou het.

Maar misverstande oor wat by die Nasionale Konvensie besluit is, het lank die verhoudinge tussen die twee wit gemeenskappe beduiwel. FV Engelenburg, Louis Botha se biograaf en stoere ondersteuner van die Suid-Afrikaanse Party se ideaal van Engels-Afrikaanse samewerking, sou later skryf dat terwyl die vaders van die Grondwet die absolute gelykheid van albei tale te goeder trou aanvaar het, Engelssprekende Suid-Afrika die saak nooit ernstig opgeneem het nie. Tweetaligheid is beskou as ’n blote beleefdheidsgebaar teenoor die ander kant – niks meer of minder nie. Die gemiddelde Engelssprekende Suid-Afrikaner was, volgens Engelenburg, geneig om elke vorm van politieke erkenning van die Hollandse taal as ’n bedreiging van die belange van sy eie ras te beskou.

Van 1910 tot 1948 het die regering van die dag konsekwente afdwinging van artikel 137 etlike male uitgestel. Die gebrek aan geskikte kandidate in die staatsdiens wat in albei tale vaardig is, was een van die redes wat aangevoer is waarom so min vordering gemaak is. Teen 1948 was dit egter nie meer ’n geldige verskoning nie. Ná sy oorwinning daardie jaar het die NP besluit om die gebruik van Engels én Afrikaans as ampstale in die staatsdiens sistematies af te dwing.

Die Afrikaners se geskiedenis en hul bydrae tot die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse staat is saam met die ekonomiese mobilisasie en die ontwikkeling van Afrikaans as openbare taal gehuldig. In 1952 het ek as ’n opgeskote lid van die Voortrekker-beweging die Drie Eeue-viering van blanke vesti­ging in Kaapstad bygewoon. ’n Herinnering het my bygebly. As deel van ’n fakkeloptog van duisende Voortrekkers wat van Seinheuwel na die stadion in die Strandgebied beweeg het, tref ’n ramp my. Reeds op die berg is my flammetjie gedoof en ek moes bekaf met ’n gebluste fakkel die optog voltooi. Ek sou dikwels in die jare daarna wonder wat my gebluste fakkel simbolies beteken het.

Dit sal verkeerd wees om die volksbeweging en die Nasionale Party (NP) gelyk te stel, of die NP te beskou as die instelling wat vir die volksbeweging voorgeskryf het. In die eerste dekade van die NP-bewind was daar nog 10% tot 20% van die Afrikaners wat ondersteuners van die Verenigde Party was. Baie van hulle het ook sterk gevoel oor Afrikaans en die opheffing van die arm wittes. Die groot verskil was hul steun vir die deelname van Suid-Afrika aan die Tweede Wêreldoorlog en hul verering van die reusefiguur van Jan Smuts. Ek het op ’n keer vir Christo Wiese, ’n seun in ’n SAP-gesin op Upington en later ’n briljante entrepreneur, gevra wat die verskil tussen die Natte en die Sappe gedurende ons jeugjare was. Sy antwoord was eenvoudig, maar baie waar: Jan Smuts.

Bruin Portervillers

Porterville se bruin mense het Afrikaans gepraat maar hulle is nie as deel van die volksbeweging beskou nie. Die wet het wit en bruin se lot van die wieg tot die graf bepaal. Almal het dieselfde geloof gehad, maar wit en bruin het nie na dieselfde kerk gegaan nie; almal het dieselfde taal gepraat, maar wit en bruin het nie saam skool toe of konsert toe gegaan nie. Almal het dieselfde sport gespeel, maar wit en bruin het nooit georganiseerd saamgespeel nie. Daar was sekerlik geheime verhoudings oor die kleurlyn. Die baie kinders in die bruin woonbuurte Pella en Monte Bertha met rooierige hare en ligte vel getuig daarvan.

Die bruin gemeenskap op Porterville het bestaan uit mense wat nie meer op die plase kon of wou bly nie. Enkeles kon ’n bestaan maak as vakmanne soos bouers en skrynwerkers, maar die meeste het as bediendes of tuinwerkers vir wit mense gewerk. Toe ek ’n kind was, het dit gelyk of feitlik elke wit huis sy bediende gehad het.

Vir ’n tydjie was daar in ons huishouding ook Japie, ’n bruin seun van my ouderdom, wat los werkies in die tuin gedoen het. Hy was buitengewoon sterk gebou en selfversekerd. Hy het saam met my en my wit maats krieket en rugby in die agterplaas of in die straat voor die huis gespeel. Ons kon hom letterlik en figuurlik nie onderkry nie en dit het sy selfvertroue net verder laat groei.

Op ’n dag was daar ’n konfrontasie tussen ons twee en ek het hom in die gesig gespoeg. Hy het woedend op my afgestorm en ek het die huis in ge­vlug. Net indoktrinasie het verhinder dat Japie my die huis in volg en met my afreken. Ek was bitter skaam oor die insident en het vir niemand daarvan vertel nie totdat Athol Fugard my jare later meegedeel het dat hy in sy jeugjare by ’n soortgelyke insident betrokke was. Dit was die inspirasie vir sy toneelstuk “Master Harold” and the Boys (1982).

Plaasarbeiders was slegter af as die meeste bruin mense van die dorp. Toe ek op skool was, het ek soms op die plase gekuier. Die dopstelsel, gekoppel aan rantsoene, was nog in swang en daar was geen druk op boere om daarvan af te sien nie. Tog was daar ook boere wat besef het dat dit ’n onding was en onthouding aangemoedig het. Hulle was ook baie krities oor die hardvogtige praktyk van sommige boere om hul werkers ná die oestyd te laat loop en eers teen einde Maart weer lone te betaal.

Saterdagoggende het baie boere hul “volk” dorp toe gebring en teen twaalfuur was dit geen ongewone gesig om beskonke mense op die sypaadjies naby die twee kroeë in die hoofstraat te sien nie. Barend Toerien, wat op ’n plaas naby die dorp grootgeword het, dig in sy bundel 39 Gedigte (1963) treffend oor “Dorp Saterdag”:

Die week is lank en stowwerig

Nou by die stowwerige dorpsbrug

versamel hul, vergesel

van vaaljapie van die hotel

Hulle is plaaswerkers

die slonsige komiese karakters.

Moenie die plaasvolk vra

om hul Saterdagmiddag te gedra.

Die bruin mense in die dorp

met reg trek hul neuse op

want om weekliks so te ondervind

katarsis is vernederend

Hoewel bruin mense wat aan die kwalifikasies voldoen het tot die 1950’s kon stem, het ek nooit gehoor van enigeen op die dorp wat stemgeregtig was nie. Die Burger het nie geskryf oor die sterk kompetisie vir die bruin stem gedurende die 1920’s waaraan die Nasionale Party ook deelgeneem het nie. Die koerant het dikwels die aantyging gemaak dat bruin kiesers “omkoopbaar” was en by implikasie eintlik nie die stem verdien het nie.

My ouers het die apartheidsbeleid gesteun. Hul standpunt was dat die beleid nie net skeiding tussen wit en bruin moet bewerkstellig nie, maar ook gehelp het om die bruin gemeenskap te ontwikkel deur aan hulle beter massa-­onderwys en maatskaplike dienste te verskaf. Hulle het ongetwyfeld die stelling onderskryf wat PW Botha teenoor sy biograwe gemaak het: “Die kleurlinge moet eers opgehef word en die konsekwensies daarvan moet aanvaar word.”18

Die uitgawe op bruin onderwys in die Kaapkolonie het van 1935 snel begin toeneem. In 1953 was die uitgawe amper tien keer meer as in 1935. Tussen 1948 en 1951 het dit met 41% toegeneem en dit het nie ná 1948 verlangsaam nie. In 1953 is in ’n studie gevra of die “finansiële laste” nie “buite verhouding tot die provinsie se drakrag” is nie.”19 Die besteding op wit kinders was natuurlik veel hoër, maar niemand het gevra of dit buite verhouding met die land se “drakrag” was nie.

Maar daar was ook ’n ander probleem wat die NP-ondersteuners eers later besef het. Om ’n gemeenskap se onderwys te verbeter sonder om aan hulle betekenisvolle regte te gee, is ’n resep vir politieke vervreemding en opstand.

Die Groepsgebiedewet was die sentrale aspek van die politieke debat in die vroeë vyftigerjare, toe ek my politieke verstand begin kry het. Ingevolge die wet moes bruin mense van die “wit dorp” na aparte bruin “dorpe” op die rand of ’n entjie weg van die dorp geskuif word. Daar is gesê dat die mense hier hul eie huise en winkels sou kry.

Op Porterville is ’n betreklike klein proporsie van die bruin mense tydens die NP-bewind na Monte Berta geskuif, ’n bruin buurt wat reeds in 1937 tot stand gekom het. Daar was egter verskeie dorpe in die Boland, onder meer Stellenbosch, Paarl en Wellington, waar daar groot bruin of gemengde buurte in die hartjie van die dorp was. Hierdie buurte is in die eerste twee dekades van die NP-bewind almal wit verklaar en die bruin mense is verplig om te skuif. Die belangrikste gemengde buurt was Distrik Ses in Kaapstad waar ongeveer 65 000 mense gebly het. Die meeste was bruin mense, maar daar het ook swart mense, Indiërs en wit mense, onder wie Afrikaners, gebly. Die NP-propaganda het Distrik Ses voorgestel as “’n nes van onheil”.

Ek was van vroeg ’n ywerige koerantleser en was sekerlik blootgestel aan hierdie propaganda in Die Burger. Dit blyk uit die eerste artikel van my wat ooit in druk verskyn het. Dit is geskryf in 1951, toe ek in st. 6 (vandag graad 8) was, en het drie jaar later in die skool se jaarblad verskyn.

In die artikel vertel ek van my eerste besoek aan Kaapstad en hoe ek in die middestad verdwaal het en later op ’n plek uitgekom het waar ek rondom my net krotte gesien het. Ek het geskryf dat ek geen benul gehad het van hoe ek my pad terug moes vind nie, maar gelukkig ’n polisieman raakgeloop het. Hy het my meegedeel dat hulle my orals soek en dat ek in die hartjie van Distrik Ses beland het. Ek het die storie vertel asof my afdwaal na Distrik Ses my lewe in gevaar gestel het.

Die gedwonge verskuiwings en die opbreek van gemeenskappe was vir bruin mense ’n groot hartseerstorie. Ek sou dit eers jare later ten volle besef toe ek oor die gedwonge verskuiwing van die bruin gemeenskap uit die middedorp van Stellenbosch in die laat 1960’s geskryf het. Hierdie verhaal het hom op talle dorpe afgespeel sonder enige protes van Afrikaner-kant.

Die enigste ernstige gesprek wat ek destyds met ’n wel opgevoede bruin mens gehad het, was in 1966 aan boord van ’n skip na Europa. Hy was ’n onderwyser op pad na Kanada om daar ’n nuwe lewe te begin en ek was onderweg na Amsterdam om daar aan die Stedelike Universiteit te gaan studeer. Die hartseer in sy stem toe hy oor sy vernedering praat, het ’n blywende indruk op my gemaak.

Op Porterville was daar feitlik geen swart mense nie. Wanneer die tuislandbeleid bespreek is, was dit asof ’n mens praat van ’n ongewone eksperiment in ’n verre land. Op Stellenbosch was die kelners in die koshuis al swart mense met wie ons te doen gehad het. Daar was ’n aandklok wat elke aand om tien-uur gelui het, wat beteken het dat geen swarte meer buite Kayamandi, die dorp se swart woonbuurt, mag wees nie. Ons het nie gedink aan die flagrante ontkenning van ’n persoon se burgerskap wat dit verteenwoordig het nie.

“Die oop gesprek”

Ons gesin was ingeteken op Die Huisgenoot, waarin die rubriek “Die oop gesprek” van NP van Wyk Louw, een van die voorste Afrikaner-intellektuele, verskyn het. Op 8 Augustus 1952 het Louw sy rubriek die vorm laat aanneem van ’n brief wat hy aan “My liewe jong vriend” gerig het. Die aanleiding tot Van Wyk Louw se artikel was die NP-regering se poging om bruin kiesers van die kieserslys af te haal.

Louw was in daardie stadium professor in Amsterdam en het in die algemeen geskryf eerder as om die besluit te kritiseer om bruin kiesers op ’n aparte lys te plaas. Hy skryf in ’n brief aan ’n vriend aan die Universiteit van Kaapstad dat wetgewing “nie nodig is vir ons behoud as volk nie”. Dit sou beter wees om die bruin mense “weer nasionaliste te maak as om hulle op aparte lyste te plaas”.

Louw het na die 1920’s verwys toe bruin kiesers ongeveer ’n kwart van die getal kiesers in kiesafdelings soos Stellenbosch en die Paarl verteenwordig het. Die NP het saam met die ander partye hard om hul stem meegeding. In 1929 het bruin kiesers vir Bruckner de Villiers, die seëvierende NP-kandidaat op Stellenbosch, skouerhoog die parlement ingedra. Ná die 1938-verkiesing, waarin hy die Stellenbosse setel met 30 stemme teen die VP se Henry Fagan verloor het, het hy hom krities uitgelaat oor die “slim jong manne”, wie se planne die party verskeie Kaapse setels gekos het, terwyl hulle net een setel in Transvaal gewen het.

In die geveg van die 1950’s om die bruin kiesers van die kieserslys af te haal, het die NP-leiers en Die Burger hierdie geskiedenis verswyg, of wanneer dit wel genoem is, afgemaak met die woorde dat die bruin kiesers omkoopbaar was.

In sy artikel van 1952 het Van Wyk Louw geskryf dat ’n volk voor verskillende bestaanskrisisse te staan kan kom: Een geval is militêre oorrompeling en ’n ander geval is wanneer ’n kritiese getal mense besluit dit is nie wenslik om as ’n aparte volk voort te gaan nie. Dan is daar die derde geval: wanneer die volk, nadat hy alles ingespan het om te oorleef, voor die laaste versoeking kom, naamlik “om te glo dat die blote voortbestaan verkieslik is bo die voortbestaan in geregtigheid” (Louw se kursivering).

Louw het besef dat mense sou vra hoe so ’n krisis die voortbestaan van ’n hele volk kon bedreig. Hy het geantwoord met ’n wedervraag: “Hoe kan ’n klein volk bly voortbestaan as hy iets haatliks en iets boos is vir die beste binne – of buite – hom?” Hy het bygevoeg: “Ek glo dat dit op ’n vreemde manier die krisis is waaruit ’n volk herbore, jonk, skeppend, te voorskyn kom, hierdie ‘donker nag van die siel’ waarin hy gesê het: ek sal liewer ondergaan as deur ongeregtigheid bly voortbestaan.”

Ek het geen herinnering dat ek dit destyds gelees het nie en Jaap Steyn skryf in sy biografie van Louw dat Die Huisgenoot nie enige lesersbriewe oor die betrokke rubriek ontvang het nie. Die artikel is weer in 1958 in Louw se bundel Liberale nasionalisme gepubliseer toe ek in my derde jaar in die vak Afrikaans-Nederlands was. Daar was in die klasse geen verwysing daarna nie.

Piet Cillié, redakteur van Die Burger, het egter in ’n besonder positiewe resensie geskryf dat Louw as ’n intellektuele vroedvrou optree. “Hy was vaardiger en subtieler as baie ander denkers maar sonder die pretensies van absolute sekerheid.” Sulke mense was gedurende my studentejare aan die Afrikaanse universiteite bitter skaars.

Hermann Giliomee: Historikus

Подняться наверх