Читать книгу Hermann Giliomee: Historikus - Hermann Giliomee - Страница 7

Oorspronge

Оглавление

Dit was godsdiensvervolging wat die familie Guillaumé uit Frankryk laat vlug het. Tussen 1670 en 1700 het ongeveer 300 000 Hugenote ná langdurige dis­kriminasie en dodelike aanvalle hul moederland vaarwel gesê. Hulle het hulle in Nederland, Duitse state, Engeland, Skotland, Ierland, Skandinawiese lande, Amerikaanse kolonies en ander oorwegend Protestantse lande gevestig. In 1688 het ongeveer 200 Hugenote van Nederland af in die Kaap die Goeie Hoop aangekom.

Die Hugenote se vlug was een van die grootste migrasiegolwe wat Europa tot op daardie tydstip gesien het. Vir Frankryk het dit ’n enorme verlies aan menslike kapitaal beteken. “Le grand catastrophe,” was pres. Charles de Gaulle se reaksie toe die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Parys hom van sy stamvader se vlug vertel.

Francois Guillaumé was die familie Guillaumé se stamvader in Suid-Afrika – in die primêre bronne is die van ook Guilliaume en Guilliaumeth gespel. Hy is in 1680 in Aimargues of in die naburige dorpie Saint Laurent d’Aigouze, suidwes van die stad Nîmes, gebore. Die dorpies was deel van Languedoc, ’n sterk Protestantse streek tussen Nîmes en Montpellier, waar die synywerheid gefloreer het.

Francois Guillaumé het Languedoc as ’n kind verlaat en het later met Claudine Cloy getrou. Teen 1700 het die paar in Berlyn gewoon waar Francois waarskynlik syklere vir ’n bestaan gemaak het. Die Hugenote-gemeenskap in Berlyn was ongeveer 50 000 sterk, met hul eie kerk en gemeente en het ’n kwart van die stad se bevolking gevorm. In 1711 is die Guillaumé-paartjie se seun, Mathieu (later genoem Matthias) gebore. Nog drie kinders is later in Berlyn gebore.

In 1726 het Guillaumé en sy gesin van Berlyn na Amsterdam gereis en enkele maande later het hulle van Texel na die Kaap die Goeie Hoop gevaar. In sy sak was twee kontrakte. Een was ’n volmag om te onderhandel namens Jacob Labat, ’n Hugenoot in Londen met ’n aanspraak op die boedel van ’n broer wat kort tevore aan die Kaap gesterf het. Guillaumé was dus waarskynlik geletterd.2

Die ander kontrak was een wat hy met die Vereenigde Oostindische Compagnie (die Kompanjie in die omgang) aangegaan het om ’n synywerheid aan die Kaap te begin. Hy moes sywurmteelt en syspinnery as ’n nywerheid op die been bring. Dit het deel gevorm van die Kompanjie se poging om ’n uitvoerbedryf te begin wat die Kaap finansieel selfversorgend sou maak. Pogings onder twee vorige goewerneurs, Willem Adriaan van der Stel en Maurits Pasques de Chavonnes, om ’n synywerheid te begin, het misluk.

Van sywurms tot St. Helena

In Oktober 1726 het Guillaumé en sy gesin aan boord die Berbices in Tafelbaai aangekom. In sy bagasie was ’n paar sywurms, maar dit wil lyk of hy te hoog oor sy bekwaamhede opgegee het. OF Mentzel, outeur van een van die beste beskrywings van die Kaap in die eerste helfte van die agttiende eeu, het later met ’n tikkie leedvermaak geskryf dat die sogenaamde “kundige” nie so vaardig was as wat hy voorgegee het nie.

Guillaumé het gou agtergekom dat groot probleme hom in die gesig staar. Sy fabriek was aan die bopunt van die Heerengracht in die klein hawedorpie, maar die moerbeibome was in Rondebosch. Slawe moes elke dag die tog onderneem om blare te gaan pluk. Maar daar was ’n veel ernstiger probleem: die wurms wat Guillaumé uit Europa gebring het, het hulle swak by die Kaapse klimaat aangepas.

Die Politieke Raad, die liggaam wat die Kaap bestuur het, is nie hierdeur afgeskrik nie. Die Raad het ’n gebou van drie verdiepings agter die slawelosie aan die bopunt van die Heerengracht opgerig en dit die deftige naam De Oude Spinnery gegee. Die gebou is later afgebreek, maar die naam Spinstraat, waar dit gestaan het, leef voort as ’n herinnering aan dié onderneming.

Die vooruitsigte was van die begin af somber, maar die Politieke Raad was vasbeslote om te volhard. In Desember 1727, net meer as ’n jaar ná sy aankoms, het Guillaumé ’n verslag met slegte nuus aan die regering gestuur. In die afgelope jaar het hy net ses pond sy versamel. Die waarde was ver minder as sy salaris van 20 floryne per maand plus lewenskoste. Elke jaar was die onderneming se verlies groter.

Einde 1729 het al die lede van die Politieke Raad Guillaumé se spinbedryf besoek en hul teleurstelling oor die swak vordering uitgespreek. Hul bui het versleg toe hulle hoor hy verwag ook in die daaropvolgende jare swak resultate aangesien min van die eiers uitgebroei het.

In 1732 het Guillaumé tou opgegooi. Die probleme met arbeid, wurms en die moerbeibome was net te veel. Hy het geen vooruitsig op ’n wins gesien nie en het verlof van die regering gevra om die onderneming aan sy seun, Matthias, oor te dra. In 1735 het hy die regering in kennis gestel dat hy as vryburger in die Kaap wou aanbly. Die naam Francois Guillaumé verskyn daardie jaar vir die eerste keer op die lys van burgers van die distrik Stellenbosch.

Matthias het ook geen vooruitsigte in die synywerheid gesien nie en het ’n grofsmid geword. Tien jaar later het hy ook dié bedryf laat vaar. In 1743 het hy op die plaas Vlottenburg (ook Vredenburg genoem) begin boer en dit in 1756 verkoop. In die laaste jaar het hy die volgende inligting oor sy eiendom vir die Opgaafrol (die inventaris van boerderybedrywighede) verskaf: 5 slawe, 13 perde, 10 beeste en 200 skape. Hy het ook op klein skaal gesaai.

Matthias het enkele jare later die plaas Afdak naby die huidige Onrus gekoop en daarheen verhuis. Sy afstammelinge sou pioniers van die Overberg en spesifiek van die Bredasdorp- en die Napier-omgewing word.3 In die laaste jare van die Kompanjiesbewind is die naam Guillaumé in die Kompanjie se Opgaafrol tot Giliomee vereenvoudig.

My oupa Johannes Human Giliomee is in 1867 gebore. Hy was die seun van ’n arm bywoner wat op verskeie plase in die Bredasdorp-distrik gewerk het. Hy het met sy niggie Elizabeth Catharina Giliomee getrou en die paartjie het teen 1890 na die Republiek van die Oranje Vrystaat verhuis. Hulle het hulle op die suidelike wal van die Vaalrivier by die dorpie Villiers gevestig. Volgens familie-oorlewering was die egpaar so arm soos kerkmuise toe hulle daar aangekom het. Daar was wel ’n ligstraal: my ouma was van ’n welvarende familie in die Bredasdorp-distrik.

Met sy skoonfamilie se finansiële hulp het my oupa gou sy voete gevind. Villiers was op die hoofpad na die Johannesburgse goudvelde en hy het die kontrak gekry om die pont oor die Vaalrivier te bedryf. Later het hy ook die kontrak vir die poskoets tussen Villiers en Johannesburg gekry.

Toe oorlog teen Brittanje in 1899 uitbreek, het hy by die Vrystaatse magte aangesluit en lid van die Wilgerivier-veldkornetskap geword. Die Britte het hom en sy broer, Jurie, op 21 Oktober 1900 op Groenplaats gevang. Hulle is as krygsgevangenes na die Deadwood-kamp op St. Helena gestuur. Daar het hy ’n baie mooi kassie gemaak, wat hy na Villiers teruggebring het.

My ouma was vasbeslote dat die Britse troepe haar met haar twee kinders, albei jonger as tien, nie moes vang en na ’n konsentrasiekamp stuur nie. Hulle het oor die veld geswerf en weggekruip wanneer ’n Britse patrollie naby was. Die feit dat sy sestig pond in haar gordel weggesteek het, het haar baie in die oorlewingstryd gehelp.4

Daar is bereken dat 2 000 Boervroue en kinders in die Vrystaat en 10 000 in die Transvaal teen die einde van die oorlog rondgeswerf het om die konsentrasiekampe te vermy.

My oupa is ná die vredesluiting nog drie maande op St. Helena aangehou. Op 19 Augustus 1902, toe hy op die punt was om te vertrek, het hy aan my ouma ’n brief in ’n mengsel van Hollands en Afrikaans geskryf. Dit is ’n eenvoudige dog roerende brief. Die stuk hieronder word woordeliks aangehaal:

Dit is een bitter kelk om te drink en zoo ver van elkander te zyn en nout van mekaar te hoor. Ik het al geskryf maar kry geen aan word [antwoord] … Nuwes [nuus] is veel om te vertel maar wynig om te skryf. Achat [skat] my vrouw wat my te harte gaan, is ons lant en ook ons vee maar ons het arm begen [begin], zoo zal ik niet bekommer want die Heer heft gegeven [en] de Heer heef genomen. Zo lang als wy maar gespaar bly zulle wy gode de lof toebring … Lieve vrou as daar een kans is om voor ons in paar paarde of muyle te koop, zal ik bly wees. Ik het borsspel gemaak in ik het ook in paar pond ver deze [verdien] wand ik kry van een en zes pennies tot 3/-. Met ons vrankforters gaan dit goed …

Ten slotte het hy sy vrou gevra om vir hul twee seuns, Jan en Jurie, te sê hulle moet hul “pappe kom haal by die staazee”.

My oupa en ouma het ná die oorlog weer finansieel op die been gekom. Twaalf jaar ná die Vrede van Vereeniging het my oupa saam met talle ander boere in die Noord-Vrystaat aan die Rebellie van 1914-’15 deelgeneem. Hy is ná ’n skermutseling by Mushroom Valley gevang. Groot skadevergoedingseise het die rebelle in die gesig gestaar nadat die regering die opstand onderdruk het. Net in die Noord-Vrystaat was daar eise van meer as £200 000 (vandag sowat R240 miljoen as inflasie in ag geneem word). Om al die rebelle te help, is die Helpmekaar-beweging met takke oor die hele land gestig om geld in te samel. Dit was hoogs suksesvol en einde 1917 is al die skadevergoedingseise uit die fonds betaal.

Die Nasionale Party, wat in 1914 deur genl. JBM Hertzog gestig is, het groot baat gevind by hierdie vroeë vorm van nasionalistiese mobilisasie. Sonder die Helpmekaar sou my oupa en die ander rebelle waarskynlik finansieel geknak word. Hy en my ouma was lewenslank sterk Hertzog-ondersteuners. Hul boerdery op hul plase Wolwepoort en Prospect in die Villiers-distrik het gefloreer. Hulle kon hul oudste en derde oudste seun (my vader) na Stellenbosch stuur om verder te gaan leer.

Bokveldse “Blommebuhr”

Ek is genoem na my ander oupa, Hermann Henry Buhr (1876-1966), die seun van Johann Jacob Buhr en Catharina Gesa Riege. Sy ouerhuis was op ’n hoewe in die distrik Ochsenwerder net buite Hamburg. Verskeie geslagte Buhrs het daar groente vir die Hamburgse mark geproduseer en met die Elberivier stad toe vervoer.

Johann Buhr was ’n welvarende bankier en lid van die senaat, wat die stadstaat van Hamburg geregeer het. Volgens familietradisie was hy ’n “harde, onredelike en liefdelose mens met ’n abnormale obsessie dat mens vir geen oomblik mag sit en niks doen nie”.

Hoewel die jonger Hermann teen sy pa gerebelleer het, sou hy in sy volwasse jare self min geduld hê met kinders of kleinkinders wat sit en niksdoen. Hy het ’n skoonseun wat soggens lank godsdiens gehou het, gevra om dit sommer onder ’n vyeboom te doen en terselfdertyd die muisvoëls weg te jaag.

My oupa het ná ’n paar jaar op skool weggeloop. Sy pa sou eers later uitvind dat hy in ’n skoenwinkel in Berlyn gewerk het. Hy het weer verdwyn met die doel om ’n nuwe lewe in Duits-Suidwes-Afrika te begin. Volgens navorsing van my kleinniggie, Riëtte Ruthven, verskyn sy naam nie op die passasierslyste van enige van die paar bote wat in daardie tyd na Afrika gevaar het nie. Die moontlikheid dat hy ’n verstekeling was, kan nie uitgesluit word nie.

Hy het in 1895, op negentienjarige leeftyd, in Tafelbaai aangekom. Die skeepskaptein was nie bereid om hom aan land te laat gaan nie, moontlik omdat hy nie die nodige reisdokumente of finansiële middele gehad het nie. Gelukkig het die handelaar Wm. Spilhaus opgedaag en hom ’n voorskot gegee. Hermann Buhr se familie het eers gehoor dat hy in Suid-Afrika is toe sy suster, Martha, ’n brief van hom uit Kaapstad ontvang.5

Hy het ’n paar maande vir Spilhaus gewerk om sy skuld af te betaal. Sy plan was steeds om sy geluk in Duits-Suidwes-Afrika te gaan soek, maar hy kon nie die rit daarheen bekostig nie. Hy het suksesvol aansoek gedoen vir die pos van winkelbestuurder op die plaas Grasberg, 15 km van die dorp Nieuwoudtville in die Bokveld. So het my Duitse oupa op die plaas beland waar hy sy hele lewe sou deurbring.

Grasberg het aan Elias Albertus Nel behoort, ’n welvarende boer wat 40 000 morg besit het. Hy en sy vrou het twee dogters gehad. Hulle was aanvanklik sterk gekant teen die verhouding van hul oudste dogter, Hester Christina, met die jong Duitser. Maar my oupa was vasberade en ondernemend.

Toe my ouma in 1898 van Grasberg vertrek vir ’n besoek van drie weke aan ’n onbekende plek, het hy ’n gedig laat druk, wat bewaar gebly het. Dat hy dit laat druk het, toon dat sy geldsake beslis verbeter het. Die eerste en laaste strofes gee die indruk van ’n geestige en geletterde minnaar.

Geleentheidsgediggie 1898

Hermann Henry Buhr – Hester Christina Nel

Gij gaat weer weg van ’t oudershuis

Waar Gij ons allen tot blijdschap geweest

Hoe ligt is het huis, hoe duister en stil

Zoo treurig verlaten, te groot is ’t verschil

Men hoort geen muziek meer, geen vrolijke lied

Als ik een avond bij de harp gaan zit.

Voor drie lange weeken zien ik U niet

Ik kan mos nie daar kom tot mij verdriet …

Toch wat zal ik kla, ik moet maar hou

En op een betere toekoms vertrouw.

En nu goede reis, vergeet mij niet

Leert vleitig en geeft niet uw leeraar verdriet.

En heb Gij lust, kunt Gij mij schrijf

En heb Gij niet, dan kan het blijf

HB

Verskeie konstruksies en die woordjie “mos” in die gediggie gee blyke van Afrikaans wat begin kop uitsteek.

Dit was nie digkuns met veel meriete nie, maar miskien het dit die knoop deurgehak. Hermann Buhr se lewensomstandighede het dramaties verbeter nadat Hester en haar ouers die jawoord vir die huwelik gegee het. Hulle het in 1899 getrou. Hermann se broer, Henry Buhr, het vir die geleentheid opgedaag en sy vader se erfporsie vir Hermann saamgebring.

Boere op die Bokveldberg-plato, met sy wisselvallige reënval, swak grond en groot afstand van die mark, het gesukkel om vooruit te kom. My oupa se erfporsie het hom in staat gestel om die plaas Grasberg te koop. ’n Aantal jare later het hy nog ’n plaas en ’n winkel op Brandkop, op die pad tussen Nieuwoudtville en Loeriesfontein, aangeskaf.

Sy plaaswinkels het heelwat klandisie van die omliggende plase getrek en het aan hom en sy gesin ’n goeie inkomste vir die res van sy lewe verskaf. Sy broer, Henry, het hom in 1903 in Suid-Afrika gevestig en ’n winkel op Loeriesfontein gekoop.

My oupa het nooit sy skoolloopbaan voltooi nie, maar hy was ’n intelligente en belese man. Hy het later op Die Burger en ’n Engelse koerant in Kaapstad ingeteken, asook op twee invloedryke Amerikaanse tydskrifte The Saturday Evening Post en Life. My neef, Constand Wahl, wat dikwels met hom gesels het, skryf: “Oupa Buhr se bydrae om die Buhr-familie ’n tikkie andersheid te gee as die normale Noord-Bokveldse families, is enorm … Sy beleid was om sy kinders goeie geleerdheid te gee, ongeag die koste. Dit was beslis vir die Noord-Bokveld iets nuuts.”

My oupa het nie dadelik ’n Suid-Afrikaanse burger geword nie, wat hom waarskynlik kwesbaar genoeg gemaak het om gedurende die Eerste Wêreld­oorlog geïnterneer te word. Miskien was die eintlike rede die bittere vyand­skap met sy swaer, wat ook op Grasberg gewoon het en wat waarskynlik stories by die owerhede aangedra het. Die feit dat hy reeds in 1909 ’n Suid-Afrikaanse burger geword het, het hom nie beskerm nie.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was die hele familie pro-Duits. Op Grasberg het bure saamgetrek om na die uitsendings van Zeesen, die pro-­Duitse kortgolfstasie, te luister. Een van my eerste politieke herinneringe is my teleurstelling toe ek in 1945 in die koerant lees dat Duitsland oorgegee het. Ek kan egter nie onthou dat die Nazi-ideologie of selfs Adolf Hitler ooit bespreek is nie. Toe die gruwels van die menseslagting van die Jode later bekend raak, was dit ’n groot skok vir die familie.

My oupa het hom sterk met die Afrikaner-gemeenskap vereenselwig en was ’n lidmaat van die NG Kerk. Hy en my ouma het Sondae Niewoudtville toe gery om die kerkdiens by te woon. Hy was bekend as iemand wat reguit gepraat het en het by een geleentheid dié gewoonte tot die uiterste geneem. Net voor die diens het hy van sy sitplek na die preekstoel geloop om die dominee mee te deel dat hy die kerkraad se besluit om ’n nuwe pastorie te bou, afkeur.

My oupa het sy lewe lank ’n andersheid behou. Johan Steyn, wat in sy kinderdae dikwels op Grasberg gekom het, het hom so beskryf: “Hy was ’n fyn, ontwikkelde mens, afsydig van die destyds minder ontwikkelde boere van sy omgewing – ek meen dat die brein van Johann (sy seun) en sy broer en susters van daardie kant gekom het.”

My ouma Hester was algemeen bekend vir haar takt, meelewendheid en gawe om mense met mekaar te versoen. Haar amper eindelose geduld met my oupa het egter ook perke gehad. By een geleentheid het sy uitgebars: “Nou kan ek sien hoekom jy met almal haaks is.” My oupa se antwoord was: “Wel, óns het ten minste meer as vyftig jaar met mekaar klaargekom.”

Die egpaar het nege kinders gehad. Die oudste, Johann, is in 1900 gebore en my moeder, Rina, die derde kind, in 1903. Elias, die enigste ander seun, het ’n graad in landbou behaal en daarna die boerdery op Brandkop en Grasberg oorgeneem.

Deesdae bemark die toerismenywerheid die Bokveldberg-plato, met Nieuwoudtville as die kommersiële sentrum, as die “bolle-hoofstad van die wêreld”. My oupa was die eerste persoon wat die potensiaal van bolle as ’n produk vir die Kaapse mark besef het. Hy was immers ’n kind van Ochsenwerder, waar die familie geslagte lank groente vir die mark gelewer het.

My oupa was bekend vanweë die Hollandse tulpe wat hy gekweek het en sy lewendige belangstelling in die kontrei se veldblomme. Een van die bolplante is na hom genoem, naamlik Hesperantha buhrii (nou beter bekend as Hesperantha cucullata).

Hy het ook plate Sparaxis elegans geplant en die bolle bemark. ’n Artikel in die destydse Sarie Marais het hom as die “Blommebuhr van die Bokveld” beskryf. Sy seun, Elias, het sy belangstelling in veldplante geërf. ’n Aalwynsoort wat hy eerste versamel het, Aloe buhrii, is na hom genoem.6

Vir my en al die ander Buhr-kleinkinders was Grasberg ’n wonderwêreld waarvan ons nooit genoeg kon kry nie. Oupa het ’n lushof van blom- en groente­tuine en vrugteboorde geskep en alles in stand gehou ondanks periodieke droogtes. Ek en my gesin het elke jaar een of twee keer op Grasberg gaan kuier waar ons hartlik ontvang is.

’n Studenteprins

Johann Buhr, die oudste kind in die Buhr-gesin, is in 1900 gebore.7 Ek het grootgeword met herinneringe aan “Oom Johann”, soos die Buhr-klein­kinders hom bly noem het. Dit was of hy steeds geleef het hoewel hy reeds in 1940, twee jaar ná my geboorte, dood is. Op Grasberg het feitlik elke mens ’n staal­tjie oor hom vertel. My neef, Hermann Spangenberg, later professor in sielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland, onthou dit so: “Sy geni­aliteit en nederigheid was so oorweldigend dat hy die lieflingseun van die omgewing was: hy het die natuurlike skranderheid en nederigheid van die mense vergestalt.”

Oom Johann is Stellenbosch toe gestuur om hoërskool te voltooi en in 1918 het hy hom laat inskryf by die Universiteit van Stellenbosch, wat in daardie jaar ’n volwaardige universiteit geword het. Reeds vroeg het hy bekend geword as iemand met ’n skerp intellek en unieke humorsin. In haar My beskeie deel skryf MER (die skrywer ME Rothmann) dat hy ’n student was van wie almal ’n briljante loopbaan verwag het aangesien hy reeds in sy studentedae as ’n leier beskou is.

Sy studie was egter nie dadelik suksesvol nie. Hy het eers landbou gestudeer, ná ’n jaar of twee opgeskop en na BA en later regte oorgeslaan. Hy het so min klasse bygewoon dat hy nie toegelaat is om die finale eksamen te skryf nie. Hy het sy ouers telegrafies in kennis gestel met drie woorde: “Eksamens ’n fiasko”.

Hy het ’n paar jaar by Die Burger gaan werk om geld te verdien. Dit was die begin van ’n verbintenis van amper twintig jaar met die koerant en met Die Huisgenoot. Selfs ná hy in 1930 met tering siek geword het en nie meer ’n voltydse pos kon vul nie, het hy bydraes in die vorm van berigte, artikels en kortverhale gelewer. Danie Hugo verwys in ’n voorwoord by ’n bundel van vroeë Afrikaanse kortverhale na “Johann Buhr se skalkse styl” waarmee hy meer ongenadiglik as voorgangers sy wêreld beskryf.

Hy het in 1923 na Stellenbosch teruggekeer en gou as ’n uitstaande debatteerder bekend geword. Hy was die inleier van die universiteit se span in die debat met die Oxford Union, die oudste debatsvereniging ter wêreld. In 1925 het hy ’n debatstoer deur die land onderneem saam met Hendrik Verwoerd, wat toe 23 jaar oud was, en LC Steyn, ’n toekomstige hoofregter van Suid-Afrika.

Hulle het op dertien dorpe in al vier provinsies teen mekaar gedebatteer. Met die uitsondering van Middelburg, Kaap, en Springs was die sale stampvol. Op Kroonstad het 700 mense opgedaag.

In 1924 is hy tot studenteraadsvoorsitter verkies. Op Maandag 4 Mei 1925 het Edward Windsor, die Prins van Wallis en aangewese Britse troonopvolger, op Stellenbosch aangekom as deel van sy amptelike besoek aan Suid-Afrika. Oom Johann moes die prins namens die studente verwelkom. Voor die studenteraad finaal die studente se program goedgekeur het, was daar ’n warm debat oor die manier waarop die prins ontvang moes word.

In ’n brief aan oupa het oom Johann die twee weke voor die prins se besoek so beskryf:

Hulle wou eenvoudig haarfyn weet net wat ons gaan doen en net hoe ons dit gaan doen … Net voor die besoek het die eerste minister die studenteraad se program goedgekeur.

Op die dag van die besoek het groot opgewondenheid geheers, maar een persoon was afwesig toe die geleentheid begin: Johann Buhr. Sy vriende het hom vas aan die slaap gevind in sy kamer in Wilgenhof. Hulle het hom inderhaas na die plek gebring waar die ontvangs was. Die Cape Times het die volgende dag berig:

Daar was ’n briljante toespraak deur die jong student wat gekies is om die woord namens hulle te doen. Dit was so goed dat ’n mens die voorspelling kan waag dat Suid-Afrika nog baie sal hoor van mnr. J Buhr, wat aangewys is om die taak te verrig.

Die toespraak moet gelees word teen die agtergrond van die bykans histeriese wyse waarop oor die prins se toer berig is. Die hinderniswedren waaraan die prins, ’n geesdriftige perderuiter, deelgeneem het, het ’n opspraakwekkende gebeurtenis geword. Hy het van sy perd geval en sy sleutelbeen beseer. (Op ’n koerantfoto staan hy saam met oom Johann met sy arm in ’n verband.) Ná die prins se ongeluk het die regering hom gelas om nie verder aan “so ’n gevaarlike sport” deel te neem nie.

In Ralph Deakin se Southward Ho!, wat die koningshuis oor die toer uitgereik het, word hierdie beskrywing van die ontvangs op Stellenbosch gegee:

’n Pragtige uitvoering van Die Stem van Suid-Afrika, met woorde wat aangepas is vir die geleentheid, is gevolg deur die geestige toespraak van mnr. Johann Buhr, voorsitter van die studenteraad. Sy grappe het die prins en sy gevolg en die studente wat die pawiljoen gepak het, laat lê van die lag.

Die prins het die toespraak aan sy vader gekabel en dit is woordeliks in die boek opgeneem. Dit lui:

We have come here today because we like to see a man and we cheered because we know a man when we see one. Our presence here is intended as a tribute to your manliness, which the most persistent attempts of the whole world have not been able to spoil. This is, however, not the only reason for our enthusiasm over your visit. Next to a real man there is nothing we love better than a real sportsman, no matter for what side he happens to be playing, and it is a special pleasure to us to welcome here, today, one of the finest and most daring sportsmen of the British Isles.

I am afraid your Highness will find that all our most popular heroes are people who have either been in gaol for political crimes or in hospital for fractured bones. I must admit that the fact that your Highness has never been in gaol is a serious disqualification, which I sincerely trust your Highness will manage to get remedied before leaving the country. On the other hand, your Highness has fortunately, on several occasions managed to get yourself into hospital and I can assure you that on that count alone your visit would give us great pleasure.

As regards our lady students, I would very much have liked to interpret their feelings also, but I am afraid their sentiments on this occasion are far too delicate for masculine interpretation, and for further information on the subject, I shall have to refer your Highness to the way they are looking at you. I trust that the mere fact that they have put me here will abundantly show just how enthusiastic they can be over good-looking young fellows with pleasant smiles.8

Markus Viljoen, gevierde redakteur van Die Huisgenoot, het oor die toespraak geskryf: “Ná al die formele, dooierige, bykans stroperige lojaliteitsbetuigings was die jong student se toespraak soos ’n frisse lentewind in ’n bedompige vertrek en dit was weke lank ’n onderwerp van gesprekke.” Oom Johann was nie baie beïndruk deur die prins nie. Hy beskryf hom so:

Die prins, tussen ons gesê, is ’n taamlik hopelose “specimen of humanity”. Hy is uiters senuagtig, lyk taamlik “dissipated” en boesem jou nie die minste ontsag in nie. Hy begin ’n sin en as jy hom dan ’n bietjie vas in sy oë kyk, “titter” hy en begin ’n splinternuwe sin.

Ek het dan ook gou maar die etiket oorboord gegooi en daarvandaan was hy klaarblyklik makliker en ons het nogal lekker gesels, oor die universiteit en oor sport. Hy het een goeie karaktertrek en dit is hy probeer aangenaam te wees … Hy doen klaarblyklik sy bes in baie moei­like omstandighede en die gevoel waarmee hy my die sterkste inspireer, was een van baie diep simpatie. Hy is deur en deur ’n “nice” seun, met geen sweem van trots nie; mis egter al die eienskappe van iemand in sy posisie.

Hierdie oordeel was nie ver van die kol nie. Twaalf jaar later het die prins die troon as Edward die Agtste bestyg. Enkele maande later het hy geabdikeer nadat hy die doodsonde begaan het om te weier om af te sien van sy plan om met ’n geskeide vrou te trou. Hy het toe die titel van die Hertog van Windsor geneem. Winston Churchill het hom afgemaak as “a little man, dressed up to the nines”.

Oom Johann het in 1925 ’n BA-graad verwerf en toe twee jaar lank in Pietermaritzburg as redakteur van The Times of Natal gaan werk. Hy het in 1928 teruggekeer Stellenbosch toe en sy studies in die regte voltooi.

Die senaat het besluit om ’n student te vra om op gradedag die gehoor toe te spreek. Oom Johann is aangewys. Ná die toesprake van die rektor, vise-­kanselier en nog een of twee ander amspdraers het hy uiteindelik aan die beurt gekom. “Dames en here”, het hy gesê, “u het geluister na woorde van wysheid. Nou kan u luister na woorde van gesonde verstand.” Hy het vervolg:

Ek is nou tien jaar op Stellenbosch. In hierdie tien jaar het daar al baie veranderings plaasgevind. Hier is nuwe universiteitsgeboue opgerig … En nou weet ek nie of dit waar is nie, maar daar is sommige studente wat beweer dat daar in hierdie tien jaar selfs in sommige professore se aantekeninge ook verandering gekom het.

Die studente het hom toegejuig maar die vise-kanselier, prof. Adriaan Moorrees, was nie geamuseerd nie.

“Skrander skrywer”

Markus Viljoen het Buhr beskou as een van die veelsydigste en begaafste joernaliste met wie hy ooit in aanraking gekom het. “Hy was ’n gebore humoris wat snaaks kon wees sonder om dit selfs te bedoel.” Omdat die koerantredaksie so klein was, kon hy selde sy aanleg as humoris vrye spel gee. Die pers het Buhr selfs die pos van sportredakteur aangebied.

Van sy bekendste berigte is sy verslag van Malcolm Campbell se aanslag in 1929 op Verneukpan op die wêreld-snelheidsrekord op land. Hy het ook as verslaggewer saam met die eerste Afrikaanse toneelgeselskappe op toer gegaan en in sy reeks artikels “Agter die sterre” oor akteurs soos Paul de Groot en Wena Naudé geskryf. André Huguenet bestempel Buhr as ’n “skrander en geniale skrywer”, wat baie gedoen het om die publiek se belangstelling in teater te prikkel.

In 1930 het hy op dertigjarige ouderdom weens gesondheidsredes bedank nadat hy tering opgedoen het. Hy het in sy hele lewe minder as ses jaar ’n heeltydse pos beklee.

Hy het nietemin gedurende die 1930’s verskeie kortverhale en artikels van besondere gehalte vir Die Burger en Die Huisgenoot gelewer.

’n Jaar of twee voor sy dood in 1940 op die ouderdom van 40 het ’n paar van sy studentevriende hom besoek by sy eenvoudige huisie op die veepos, waar hy weens sy siekte in die winter gebly het, om afskeid te neem. ID du Plessis, latere Hertzog-pryswenner vir digkuns, het hierdie treffende huldeblyk gelewer:

Ná die uiterlike geoordeel was Johann Buhr nie imponerend nie. Maar dit was net swak gesondheid wat verhinder het dat hy veel bereik het, as joernalis en ook as letterkundige met ’n ligte satiriese aanslag; want agter daardie uiterlike het ’n merkwaardige gees geskuil: ’n sprankelende intelligensie, fyn humorsin, kwiksilwer-talent wat die Afrikaanse joernalistiek ’n nuwe dimensie kon gegee het.

As hy van die begin af sy talent aan rubriekwerk kon bestee, dan was ons vandag stellig ’n bydrae van blywende waarde ryker op sy besondere gebied.

In die laaste jare van sy siekte moes hy wintermaande op ’n eensame veepos deurbring. Deur bemiddeling van sy vriend Recht Malan het hy van Kaapse kant leesstof gekry: ’n gebaar waarvoor hy aandoenlik dankbaar was; want vir dié beminlike mens was dit altyd ’n verrassing dat ander mense so goed vir hom kon wees.

My laaste indruk van hom was by Nieuwoudtville toe ’n paar van ons hom in die laaste jaar van die sonsverduistering besoek het. Daardie dag het hy vir my gesê: “Wat ’n heerlike voorreg moet dit wees om jou in verse te kan uitlewe.”

Wat sou in hom omgegaan het toe hy ons agterna staan en kyk: ons wat op pad was na ’n lewe met al die moontlikhede wat hom met sy blink talent nie beskore was nie?

Ná sy dood in 1940 het Die Burger geskryf: “So opreg en trou soos hy altyd teenoor sy vriende was, was hy teenoor die Afrikaner-saak, wat hy na sy beste vermoë bevorder het.” Die Cape Times het geskryf: “Sy vriende het verwag dat hy ’n bydrae sou maak tot die viriele Afrikaanse letterkunde, maar ongelukkig is ’n baie goeie brein in ’n swak liggaam geplaas.” In sy werk Spykers met koppe (1946) bestempel Johannes Steinmeyer Johann Buhr as een van sy kollegas in die joernalistiek wat “manne van groot reputasie was”.

My ma het die tragedie van die vroeë heengaan van haar broer sterk aangevoel. Daar was waarskynlik ’n sterk band tussen hulle, want hy het haar benoem as eksekutrise van sy boedel. Ek het altyd gevoel my ma was ekstra ontsteld as ek onderpresteer omdat sy gemeen het ek het my geleenthede verspeel.

In 1980, veertig jaar ná oom Johann se dood, het Anthony Heard, redakteur van die Cape Times, en Gerald Shaw, assistent-redakteur, my genooi om ’n rubriek in die koerant te skryf. Dit was op aanbeveling van die bekende joernalis Anthony Delius, wat ek gedurende die akademiese jaar 1977-’78 aan die Yale-universiteit leer ken het. Ek het gewonder wat oom Johann sou gemaak het van ’n geleentheid om sy eie rubriek te skryf – iets waarvoor hy by uitnemendheid toegerus was.

Hermann Giliomee: Historikus

Подняться наверх