Читать книгу Hermann Giliomee: Historikus - Hermann Giliomee - Страница 5
Voorwoord
ОглавлениеHistorici wat oor Suid-Afrika werk, skryf nie normaalweg ’n outobiografie nie. Selfs CW de Kiewiet, die enigste Suid-Afrikaanse historikus wat myns insiens naby die ontwykende klas van ’n genie gekom het, het nooit oor sy eie lewe geskryf nie. WM Macmillan, wat saam met De Kiewiet die liberale vlag in die 1930’s en 1940’s gedra het, het wel geskryf oor sy Suid-Afrikaanse jare, maar hy is nie hier gebore nie en het ook nie hier gesterf nie. In 1996 het Phyllis Lewsen se outobiografie, Reverberations: A Memoir, verskyn. Arthur Keppel-Jones se A Patriot in Search of a Country is in 2003 ná sy dood gepubliseer. Die enigste outobiografie deur ’n Afrikaanse historikus is AJ van Wyk se The Birth of a New Afrikaner (1991).
Die twee pilare van apartheid was die teologie en die geskiedenis. Jaap Durand het onlangs in sy Protesstem: Oomblikke van herinnering (2016) vertel hoe hy dit in sy teologiese proefskrif duidelik gemaak het dat ’n kerk wat op rassegrondslag verdeeld was nie die toets van die Christelike evangelie kan deurstaan nie. Dié standpunt sou sy hele loopbaan en lewe ingrypend beïnvloed.
Die geskiedenis het net so ’n belangrike rol gespeel. Die belangrikste mites was dié van ’n “onbesette land” teen 1652 (behalwe vir klein getalle “Boesmans” en “Hottentotte”) en dié van “Bantoe-aggressie” en “roofsugtigheid” waaronder boere sedert die eerste kontak in die 1770’s gely het. Dit sou dan die noodsaak vir grensbakens geskep het.
Ek het as doktorale student baie werk oor die konflikte aan die grens gedoen. Ek het agtergekom dat die konflik oor skaars hulpbronne gegaan het waar arbitrêre mag, eerder as algemeen aanvaarde reëls bepalend was. Boere se eerste prioriteit was nie partisie nie, maar swart arbeid.
Van vroeg af het die wit owerhede in die waan geleef dat hulle ’n verdrag met ’n kaptein of ’n opperhoof kon sluit wat die hele stam bind. Dit was ook die basiese denkfout in die Bantoestan-beleid van die tweede helfte van die twintigste eeu.
My belangrikste verskil met ander historici en sosiale wetenskaplikes was oor die grondslae van konflik in die samelewing. Dit gaan nie in die eerste plek oor die individu en sy belange nie – soos wat die liberale glo – of oor botsing tussen klasse nie – soos wat die radikale dit wil hê – maar wel oor die wesenlike wedywering tussen wat nasies genoem kan word omdat hulle op verskillende kulture berus.
In Suid-Afrika was daar tot omstreeks 1990 ’n konflik tussen swart groepe wat hulle met Afrika vereenselwig het en ’n versameling van etniese minderhede wat Europa eerder as Afrika hul verwysingspunt gemaak het. In 2016 se verkiesing het daar vir die eerste keer ’n strategies belangrike segment in die kieserskorps na vore getree wat ’n hoë premie op korrupsievrye en bekwame regering plaas.
Ek het geen illusie daaroor gehad dat die NP-bewind alles sou doen om solank moontlik alleenbeheer te behou nie, maar het tog verskil met sommige van my Engelssprekende kollegas wat gemeen het die NP-bewind sou allles moontlik doen om swartes in die grond te boor. Ek dink byvoorbeeld dat Hendrik Verwoerd se beleid van Bantoe-onderwys ’n rasionele poging was om massa-onderwys aan ’n snelgroeiende inheemse bevolking te verskaf in ’n politieke raamwerk waarin daar by sowel Afrikaans- as Engelssprekende kiesers geen geesdrif was vir die aanwending van staatsgeld vir swart onderwys nie.
Wat my effens anders as die gewone akademikus maak, is dat ek die eerste helfte van my loopbaan aan ’n Afrikaanse universiteit (Stellenbosch) deurgebring het en die tweede helfte aan ’n Engelse een (Kaapstad). Ek het boeke, akademiese artikels en koerantrubrieke in sowel Afrikaans as Engels geskryf.
As historikus was ek gelukkig dat ek oor verskeie “rewolusies” geskryf het en sommige selfs ervaar het. Die eerste was die Britse bewind aan die Kaap (1795-1803), waaroor ek my eerste boek geskryf het. Ek kon sien hoe feitlik die hele samelewingsbestel radikaal verander het met paternalisme, merkantilisme en ongelykheid wat vervang is deur liberale beginsels, ’n markekonomie en gelykheid voor die wet. Amper net soos vandag was daar in leiersposisies die “Anglomanne” (soms ook genoem Anglomane), wat die Hollands-Afrikaanse kultuur deur die Engelse kultuur wou vervang.
Die tweede “rewolusie” het ek as kind en student beleef. Dit was die opkoms van die Afrikaner-volksbeweging. In 1938, my geboortejaar, het dit een van sy hoogtepunte bereik met die ossewatrek wat die Groot Trek herdenk het. Dit is gevolg deur ’n kulturele opbloei oor die volgende 20 tot 25 jaar van Afrikaans as literêre en wetenskapstaal, en uiteindelik ’n republiek buite die Statebond. Baie Afrikaners het die dankwoorde “vry einde ten laaste” geuiter.
Die derde “rewolusie” was apartheid, wat in my studentejare ’n mate van respektabelheid geniet het. Van Zyl Slabbert, ’n tydgenoot op Stellenbosch in die sestigerjare, sou later vertel van “die opwinding, die tinteling” onder akademici en studente wanneer hulle die ideologie bespreek het. Hy het bygevoeg dat apartheid ’n “samehang en sistematiese kwaliteit gehad het wat nie sommer net as rassisme afgemaak kon word nie”. Dit het “logiese sin gemaak en sommige baie stekelrige kwessies goed gehanteer”.1
En dan was daar die vierde rewolusie met die ANC aan die spits, ’n stryd teen die staat wat in intensiteit toegeneem het. Ek het reeds in die middel-sestigerjare as ’n jong kadet in die diplomatieke diens gesien dat daar min hoop was dat apartheid die steun van die Weste sou verower. Reeds vroeg in die 1970’s was apartheid buite wit en veral Afrikanergeledere reeds grootliks gediskrediteer. Die debat oor die volgende twintig jaar het gegaan oor hoe Suid-Afrika ’n meer inklusiewe samelewing kon word sonder om bestendige ekonomiese groei en politieke stabiliteit prys te gee.
Ek het al meer tot die oortuiging gekom dat magsbehoud en partyeenheid vir die NP-leiers die hoogste goed was. In rubrieke was ek toenemend krities daaroor en het my gou die onguns op die hals gehaal van NP-gesinde akademici wat teen die getuienis in bly vasklou het aan die geloof dat hulle invloed binne regeringskringe geniet.
Teen die laat 1980’s, met die stryd in Suid-Afrika op sy felste, het ek begin besef dat koerantrubrieke en selfs boeke oor die politiek en geskiedenis ’n kort rakleeftyd het. Ek het besluit om ’n boek te skryf wat inhoudelik, en ook wat toeganklikheid betref, hopelik ’n blywende trefkrag sou hê. Daar was eintlik net een groot onderwerp wat my geïnteresseer het en dit was die hele verhaal van die Afrikaners van die begin in die 1650’s tot op die punt waar ons vandag staan. Ek het die Engelse weergawe van The Afrikaners in 1992 begin skryf en in 2002 voltooi. My Afrikaanse verwerking het in 2004 verskyn.
My volgende boek, Nog altyd hier gewees (2007), het oor die geskiedenis van ’n bruin gemeenskap in Stellenbosch se middedorp gegaan. Dit het vir my ’n perspektief op die Afrikaners gegee wat heelwat minder gunstig was as die een in my boek oor die Afrikaners. In Die laaste Afrikanerleiers: ’n Opperste toets van mag (2012) het ek gepoog om die vyf Afrikaners te probeer verstaan wat polities gesproke ons lewe tussen 1958 en 1994 oorheers het: Hendrik Verwoerd, John Vorster, PW Botha, Van Zyl Slabbert en FW de Klerk. Ek het gesprekke met almal behalwe PW Botha gevoer. Hy het glo in die laat 1980’s op ’n keer die NP-koukus teen my en ’n mede-skrywer, Lawrence Schlemmer, as slange in die gras gewaarsku.
Daar was iets besonders aan die tye waarin ek geleef het en waaroor ek geskryf het. In Suid-Afrika, anders as in baie ander lande, is die geskiedskrywing sentraal tot ons hedendaagse politiek. Die stryd oor apartheid in die 1980’s en 1990’s was in ’n belangrike mate ’n propagandastryd waarin verskillende interpretasies van die geskiedenis ’n deurslaggewende rol gespeek het. Hierdie uitsonderlike verweefdheid van geskiedskrywing, persoonlike ervaring van ingrypende veranderinge tesame met my veranderende verstaan van Suid-Afrika en die Afrikaners het my inspireer om hierdie boek te skryf.