Читать книгу Hermann Giliomee: Historikus - Hermann Giliomee - Страница 13

Leerling-historikus

Оглавление

Prof. HB Thom was die rektor toe ek in 1956 ’n eerstejaar was. Sy skaduwee het steeds oor die departement geskiedenis gehang waarvan hy van 1937 tot 1954 hoof was. Sy werke was nie die populêre geskiedenis wat Gustav Preller aan die begin van die eeu geskryf het nie, maar ’n vorm van akademiese geskied­skrywing met ’n duidelike nasionalistiese agenda. In sy dokumenteversameling is daar ’n brief van ’n student wat hom bedank omdat sy klasse hom van “louwarm tot vuurwarm” Afrikaner omvorm het.29

Thom was by uitstek die Afrikaner-nasionaliste van die 1940’s en 1950’s se “geskiedenis-man”. In toesprake en artikels in dié tyd het hy historici opgeroep om aan die vereistes van hul dissipline getrou te wees. Hulle moes die feite deeglik navors en terselfdertyd Afrikaner-geskiedenis benader op ’n wyse wat die geestelike welsyn van die volk sou dien.

Vir Thom moes die lig wat Afrikaner-historici op die verlede gooi die Afrikaners help om hul politieke uitdagings te verstaan. Die belangrikste kenmerk was die geweldige stryd wat Afrikaners vir ’n groot deel van hul geskiedenis gevoer het om, ondanks onsimpatieke regerings en groot isolasie, hul geloof te behou dat hulle in hul gemeenskap kon ontwikkel. Sodoende het hulle ’n sin van eiewaarde ontwikkel.

’n Ander aspek was rassebeleid. Volgens Thom sou ’n studie van die verlede wys hoe diep die beginsel van rasseskeiding in die Afrikaner-verlede gewortel was en hoe volhardend die Voortrekkers ’n “eg Afrikaanse” beleid van “differensiasie” voorgestaan het. In sy biografie van die Voortrekkerleier Gert Maritz skryf hy oor “die moedige geslag van onvergeetlike Afrikaners wat … met hul primitiewe voorlaaiers die grootste deel van Suid-Afrika aan barbarisme ontruk en vir die wit beskawing gewen het”.30

Van die laat 1940’s af het Thom help beplan aan die eerste volledige akademiese geskiedenis van die land, beskou vanuit die perspektief van Afrikaner-­nasionalisme. In 1955 het die werk, getitel Geskiedenis van Suid-Afrika, verskyn. Dit beslaan meer as 1 400 bladsye in twee bande. Twee van die drie redakteurs en verskeie van die 23 medewerkers het ’n band met Stellenbosch gehad en veral met die geskiedenis-departement. Toe ek in 1956 op Stellenbosch aankom, is aan studente gesê dat diegene wat geskiedenis ’n hoofvak wil maak, die twee bande moes aanskaf.

Dit is aangebied as die eerste wetenskaplike geskiedenis in Afrikaans, maar die verlede is steeds beskou as ’n stryd tussen “beskawing” en “barbaredom”. Sommige skrywers gebruik nog neerhalende terme vir swart mense. Die eerste band van Geskiedenis van Suid-Afrika bied ’n kronologiese oorsig van die wit vestiging. Dit begin met ’n hoofstuk getitel “Die ontdekking van Suid-Afrika”, asof niemand voor 1652 aan die suidpunt van Afrika geleef het nie. In die eerste derde van die boek word die San (Boesmans) of Khoikhoi (Hottentotte) feitlik nie vermeld nie, behalwe vir ’n terloopse verwysings na die “roofsug” van die Hottentotte en die “hindernis” wat die Boesmans verteenwoordig het.

Die Xhosa op die kolonie se oosgrens word vir die eerste keer op bladsy 178 gemeld, waar daar verwys word na “die verskriklike verwoestinge” deur die Xhosa, wat in “groot hordes” oor die Groot Visrivier-grens getrek het. Daar is geen verwysing na die “verwoestinge” wat die boere se kommando’s aangerig het nie.

In die tweede band van Geskiedenis van Suid-Afrika is daar ’n hoofstuk getitel “Die Suid-Afrikaanse inboorlinge”. Dit verklaar dat “die Boesmans” hulle rol “gou uitgespeel het” en dat die “Hottentotte” hul beesrykdom “verkwan­sel” het. Oor waar die swart mense voor 1652 gewoon het, word net gesê dat die bestaande kennis baie beperk is.

Die beste hoofstuk van die twee bande is PJ van der Merwe se vertolking van die Kompanjiesbewind se inboorlingbeleid. Hy wys goed daarop hoe die Kompanjie met sy blik na die see en die skepe daarop min aandag of geld aan die grenskonflikte bestee het. Sonder enige troepe of polisiemag was die grensboere op hulself aangewese om hul familie en besittings te verdedig. Maar ook Van der Merwe het gefouteer deur te argumenteer dat die Visrivier, wat goewerneur Joachim van Plettenberg in 1778 ná gesprekke met enkele mindere Xhosa-kapteins as grens neergelê het, ook vir alle ander Xhosas in die gebied moes geld.

Die twee bande aanvaar sonder enige argument dat die wit mense die reg tot politieke beheer oor die grootste deel van Suid-Afrika het. Hierdie beskouing van die geskiedenis is gedurende die 1960’s radikaal hersien. Radio­koolstofdatering van artefakte het getoon dat Bantoesprekers die streek tussen die Limpopo en die Vaal reeds teen die 11de eeu beset het. Latere vondste het die eerste swart besetting suid van die Limpopo ’n hele paar eeue vroeër geplaas. Teen die 1750’s het van die westelike Xhosa hulle reeds wes van die Visrivier gevestig. Dit was 25 tot 30 jaar voordat Van Plettenberg sy grenslyn getrek en die eerste trekboere daar aangekom het.

Die eerste band van Oxford History of South Africa (1969), geredigeer deur Monica Wilson en Leonard Thompson, het die nuwe navorsing goed saamgevat. Dit was wel so dat groot dele van die binneland ontvolk was weens die Mfecane toe die Voortrekkers die Oranjerivier oorgesteek het. (Die Mfecane verwys na ’n tydperk van verwoestende konflikte onder die swart gemeenskappe wat tot groot lewensverliese gelei het.) Nietemin is dit onweerlegbaar dat swart en bruin mense groot dele beset het lank voordat wit mense in Tafel­baai voet aan wal gesit het. Die NP-regering en baie van die Afrikaner-­historici het hulle oë hiervoor gesluit en gemaak of hierdie kennis weggedink kon word.

Daar was ’n rede daarvoor: vir die NP van die 1960’s het die historiese reg tot die grond die hoeksteen van die ideologie van apartheid geword. Apartheid het nie meer berus op wit meerderwaardigheid nie maar op die gewaande historiese reg van wittes op meer as 80% van die land wat op historiese gronde aan hulle sou “behoort”.

Sendingwetenskaplikes, volkekundiges en sosioloë was aan die voorpunt van die akademici wat die ideologie van apartheid help ontwikkel het. Daar was min historici onder hulle.

Hulle het egter geen probleem gehad met die beskouing van Suid-Afrika as ’n oorwegend wit land nie. Dit het ook in die Afrikaanse pers neerslag gevind. Schalk Pienaar, een van die mees gerespekteerde Afrikaanse joernaliste, het geskryf:

Suid-Afrika is in geen opsig ’n gebied waar die wit man grond afgevat het van die regmatige besitters nie. Daar was geen gevestigde Bantoe-­tuislande in Suid-Afrika toe Van Riebeeck in 1652 hier aan land gestap het nie. Die wittes wat noordwaarts getrek het en die Bantoe, wat suid­waarts beweeg het, het mekaar eers ’n eeu later ontmoet. As ons praat van nuwe aankomelinge is die Bantoe net soseer nuwe aankomelinge as die wittes.31

In 1968 het die eerste minister, John Vorster, verklaar: “Ons het ons grond en ons alleen sal seggenskap daaroor hê.”32 Die grond wat Vorster in gedagte gehad het, was die hele grondgebied van Suid-Afrika behalwe die 13% wat as swart gebiede geklassifiseer is.

Toe ek my nagraadse studie in 1960 begin, het NP-politici opgehou om kru en kwetsende woorde in die openbaar te gebruik om nie-wit mense te beskryf. Die belangrikste oorsaak was die Britse beleid om aan sy kolonies in Afrika onafhanklikheid toe te staan, wat begin het met Ghana se “vrymaking” in 1957. Die NP-regering sou spoedig die nuwe terminologie omhels. Nou was alle volke gelykwaardig, al was alle individue in Suid-Afrika definitief nie gelyk nie.

Met die hoë ekonomiese groei in die 1960’s het die swart arbeidsmag en verbruikersmark al groter geraak. Swart mense het ondanks instromings­beheer vinnig verstedelik en al minder mense het nog geglo dat hierdie stroom na die stede omgedraai kon word. ’n Behoefte het ontstaan aan ’n soort geskie­denis wat insluitend eerder as eksklusief was.

Toe ek in 1967 by Stellenbosch se geskiedenis-departement aansluit, was die Geskiedenis van Suid-Afrika nie meer die verwysingsraamwerk nie. Geskiedenis-­dosente aan die Universiteit van Suid-Afrika het ’n jaar later ’n nuwe versamelwerk, Vyfhonderd jaar Suid-Afrikaanse geskiedenis, gepubliseer. Dit behandel die geskiedenis van die swart etniese groepe voor 1652 in ’n bylae agter in die boek. In die boek is dit hoofsaaklik wit mense wat die inisiatief geneem het om die land op te bou.

Die stryd tussen liberale en nasionalistiese historici het die geskiedskrywing in Suid-Afrika 40 jaar lank, tussen 1930 en 1970, oorheers. In die jaarlikse Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse geskiedenis, wat in 1938 vir die eerste keer verskyn het, is talle proefskrifte in Afrikaans gepubliseer. Nadat die NP die bewind in 1948 oorgeneem het, het al meer Afrikaner-historici universiteits­opleiding ontvang. Die ideaal was wetenskaplike geskiedskrywing, maar die vraag was: Uit watter perspektief?

Lede van my geslag het geweet dat ons nie liberale historici was of wou wees nie. Terselfdertyd wou ons nie, soos die vorige geslag, ’n nasionalistiese “volksgeskiedenis” skryf nie. Selfs tot 1966 het prof. Thom die Universiteit van Stellenbosch nog as ’n “volksuniversiteit” bestempel. Implisiet hierin was die beskouing dat ’n volksgeskiedenis hier gedoseer sou word. Dit het van die standpunt uitgegaan dat die Afrikaners in die eerste instansie die mense was wat in die geskiedenis die verantwoordelikheid geneem het vir, wat Thom genoem het, “die Christendom en beskawing en by name wet en orde en vooruitgang in die geskiedenis”.

Daar was egter al meer ’n skuif weg van “volksgeskiedenis” na wat op Stellenbosch genoem is “wetenskaplik-objektiewe” geskiedskrywing. Piet van der Merwe was die verpersoonliking van dié benadering. Teen 1944, toe hy nog maar 32 oud jaar was, het hy reeds drie uitstaande wetenskaplike werke agter sy naam gehad. (Daar was ook ’n vierde een, Die Kafferoorlog van 1793, wat, behalwe die titel, ook ander groot gebreke het.)

Sy fokus was die trekboere, wat daardie veeboere was wat om nie-politieke redes weggetrek het uit die suidwestelike deel van die land wat vandag Suid-­Afrika is. Maar sy groot werke is geskryf toe wit oorheersing nog onaantasbaar gelyk het.

Van der Merwe het geweier om enige selfsensuur toe te pas. Hy het my op ’n keer vertel dat hy in sy navorsing oor die Voortrekkers en Ndebeles op iets verskrikliks afgekom het, maar wou nie daaroor uitwei nie. Ek het soms gewonder of dit hierdie insident was wat hom tot sy dood daarvan weerhou het om die manuskrip oor dié onderwerp vir die drukkers te gee. ’n Omvattende manuskrip wat handel oor die Voortrekkers en die Ndebeles is ná sy dood in ’n Argiefjaarboek gepubliseer. Dit bevat ’n omvattende beskrywing van ’n massamoord op ’n swart stat wat ’n Voortrekker-kommando onder Hendrik Potgieter gepleeg het.33

Ek het veral gesoek na ’n wyse waarop ek die interaksie tussen wit en swart op die koloniale grense kon beskryf en ontleed in ’n tyd waarin die wit mense nog nie hul beheer oor swart mense gevestig het nie. Onder my tydgenote as nagraadse studente op Stellenbosch was Henning van Aswegen en Ernst Stals, wat onderskeidelik oor verhoudinge tussen wit en swart gedurende die vorige eeu in die gebied tussen die Vaal- en Oranjerivier en in Ovamboland nagevors het, en Pieter Kapp, wat krities die liberale beskouinge van die sendeling dr. John Philip op die Kaapkolonie se oosgrens ontleed het.

Van Aswegen het die groot probleem aangestip waarmee ons almal gekonfronteer was: “die weinig beskikbare ‘nie-blanke’ bronne en die massa beskikbare wit bronne [moes] voortdurend geïnterpreteer en herinterpreteer word om tot ’n beter begrip van die nie-wittes se houding te kon kom”.34 In my werk oor verhoudinge op die Kaapse oosgrens het ek al meer tot die oortuiging gekom dat die konflikte aan koloniale grense ontleed moes word as ’n stryd gekenmerk deur botsende aansprake op ’n omstrede gebied waar daar geen algemeen aanvaarde gesag aanwesig was nie omdat nóg die wit mense nóg die swart mense die oorhand kon kry.

Ranke, die grondlegger

Piet van der Merwe was grootliks verantwoordelik vir die aansien wat die departement in sowel Afrikaanse as Engelse geledere geniet het. Hy het die benadering van “wetenskaplik-objektiewe” geskiedskrywing op die departement afgedruk. Die Duitse historikus Leopold von Ranke (1795-1886) word algemeen in die Weste beskou as die grondlegger van die wetenskaplike geskied­skrywing. Hy het die standpunt ingeneem dat die historikus die geskiedenis moet opteken soos wat dit eintlik gebeur het: “wie es eigentlich gewesen”, soos hy dit gestel het. Hy was nie onder die waan dat die historikus ooit waarde-vry kon wees of volkome objektief nie, maar het daarop gestaan dat die historikus so goed moontlik moes vasstel wat presies gebeur het en nie eensydig in sy hantering van konflikte mag wees nie.

Hieruit is die vernaamste beginsels afgelei van “wetenskaplik-objektiewe geskiedenis”, soos wat ek met die konsep kennis gemaak het. Eerstens moet daar verifikasie wees, iets waarvoor die primêre bronne gewoonlik die beste is. Tweedens staan elke periode in die geskiedenis op sy eie, met mense wat hul tydgebonde morele oortuigings, waardes en denkraamwerke gehad het. Vandag se opvattings mag nie daarop afgedwing word nie. Terselfdertyd is dit so dat elke era sy eie vrae oor die geskiedenis stel. Die historikus wat nie antikwaries wil wees nie, moet geskiedenis as realisties en relevant vir sy lesers voorstel.

Van der Merwe was ’n formidabele leermeester. Hy het alle tesisse en proefskrifte met ’n fynkam deurgegaan. ’n Mens kon nie anders nie as om sy deeglikheid en toewyding aan die vak te bewonder. Hy het swak klas gegee en kon dodelik vervelig wees wanneer hy die geskiedenis van sy spesialiteitsgebied, die trekbeweging, in die fynste besonderhede probeer uitpluis het. Ons het soms gespot dat die geskiedenis eintlik daaroor gegaan het of die Voortrekkers links of regs om ’n bepaalde koppie getrek het.

Van der Merwe het die klem gelê op wat en hoe dinge gebeur het en al minder op waarom dinge op ’n bepaalde manier gebeur het en nie op ’n ander manier nie. Sy kritiek op proefskrifte, waaronder my eie, was soms uitstekend, maar hy kon ook so afbrekend wees dat die hele proses om ’n tesis aanvaar te kry ’n suur smaak en ’n wrang glimlag gelaat het.

Wat skreiend in die departement afwesig was, was enige fokus op die teorie of filosofie van die vak geskiedenis. Prof. Dirk Kotzé het weliswaar entoesiasties oor die nasionalisme en kommunisme as historiese verskynsels in Europa klas gegee maar ooreenkomstig sy opdrag kon hy nie enige kursusse in die teorie of die Suid-Afrikaanse geskiedenis aanbied nie. In die geval van Van der Merwe se aanbod was daar weinig besinning oor teorie of filosofie. Ek dink hy het besef dat sy lesings swak was, maar hy wou dit nie erken nie. Ek het ’n slag dit teenoor hom genoem dat ’n dosent aan ’n ander universiteit my gevra het om my notas van sy lesings aan hom te stuur. Hy het gesê hy dink beslis nie dit is ’n goeie idee nie.

Ons het feitlik geen leiding gekry oor waar ons verder oor ons vak kon oplees nie en veral van watter boeke of tydskrifte ons as aspirant-historici op hoogte moes kom nie. Daar was ’n kursus in vroeë historiografie, maar daar is nooit verduidelik hoe dit ons perspektief sou verbreed nie.

Van der Merwe het ook nie probeer om sy studente in die gedagtewêreld van die vernaamste historiese figure te probeer inlei nie. Daar was nie enige ruimte vir studente om met verbeeldingryke insigte te kom nie, om kreatief te spekuleer en om die historiese karakters en hul geesteswêreld te laat herleef nie. As ’n gedugte eksaminator het hy ’n groot bydrae in die opleiding van toekomstige historici gemaak, maar dit was ook hy wat verantwoordelik was vir die verstarring in die departement.35

Die ergste was dat die swak aanbod wat ons gekry het, gepaardgegaan het met wat Van Aswegen tereg genoem het “die selfingenome Stellenbosse tradisie”.36 St. Elmo Pretorius was al dosent wat ons aangemoedig het om boeke en artikels te lees en om dit krities te doen. Dit was sekerlik nie toevallig dat hy die enigste dosent was wat nie ’n Stellenbosse opleiding gehad het nie.

“’n Ander manier van dink”

Ek is bly dat ek die tegniese sy van my vakleerlingskap as historikus in die Ranke-metodologie ontvang het. Min kwaliteite in ’n historikus is belangriker as ’n heilige respek vir feite gekoppel aan ’n voortdurende waaksaamheid teen ’n anachronistiese omgaan met die geskiedenis. ’n Historikus wil betrokke wees by die verlede as iets wat wel gebeur het, nie die verlede as verdigsel nie.

Ons swak teoretiese opleiding het ons verplig om self te begin dink en lees oor die waarde van geskiedenis as dissipline. Daar is natuurlik baie aforismes oor die studie van geskiedenis, maar die een wat my die meeste getref het, is die uitspraak van GJ Renier, ’n Nederlandse historikus wat tussen die twee wêreldoorloë invloedryk was. Hy het gesê: “Die studie van geskiedenis is nie net nog ’n vakgebied nie; dis ’n besondere manier van dink.”

Die essensie van historiese verstaan is ’n aanvoeling vir kompleksiteit, konteks en kousaliteit en van verandering wat oor tyd plaasvind. Historiese besinning hou die verpligting in om alle kante van ’n saak in ag te neem, maar dit veronderstel ook dat ’n bepaalde standpunt ingeneem word. Net soos ’n romanskrywer moet die geskiedskrywer hom verbeel dat die karakters in die verhaal nie die toekoms en die uitkoms van hul dade kan voorsien nie. Die Nederlandse historikus Johan Huizinga raai historici aan om hulself gedurig op ’n punt in die verlede te posisioneer waar die bekende faktore oënskynlik die moontlikheid van verskillende uitkomstes ingehou het.37

Die historikus moet hom afvra waarom daar uiteindelik ’n bepaalde uitkoms was en nie ’n ander een nie en watter faktore deurslaggewend was. As hy dit doen, sal hy gou leer dat die beste planne skeef loop, die onverwagte die norm is en min dinge so belangrik is as die karakter van leiers. Daar is iets soos histories dink, wat jou help om ook die huidige beter te verstaan. Geskiedenis bied ’n bepaalde perspektief wat afwesig is in ander dissiplines.

In die tweede helfte van my loopbaan, toe ek politieke studies aan die Universiteit van Kaapstad gedoseer het, het ek die verskil tussen politieke wetenskap en geskiedenis as dissiplines sterk aangevoel. In politieke wetenskap kyk ’n mens van die hede na die verlede; by geskiedenis is dit net mooi andersom – en daar is ’n reuse-verskil in die maniere van kyk.

Die verskil gaan verder. By politieke wetenskaplikes en sosioloë is daar ’n neiging om te redeneer dat wat gebeur het, moes gebeur het en dat die geskie­denis nie op enige ander manier kon gebeur het nie. Die geskiedskrywers daarenteen probeer om hulle in ’n ander era en plek te plaas. Hulle probeer om hulle te verbeel dat verskeie moontlikhede nog oop is en dat hulle nie weet hoe die historiese verhaal hom sal uitspeel nie. Hul waarnemings is induktief en tentatief.

Die belangrikste les wat ek op Stellenbosch geleer het, is dat die skryf van die geskiedenis waardevol is net as ’n mens alles probeer om die waarheid vas stel en nie probeer om hierdie waarheid in diens van ’n bepaalde politieke saak te stel nie. Ek het nietemin gevoel dat op Stellenbosch die metode van “wetenskaplik-objektief” ’n fetisj geword het wat by sommige die illusie geskep het dat hulle besig was om die geskiedenis onpartydig op te skryf. Die briljante Britse historikus AJP Taylor het gesê dat die historikus wat glo dat hy onpartydig is ’n groter gevaar loop om bevooroordeeld te wees as ander historici.38

Om te waak teen ’n mens se eie vooroordele en te sorg dat jou feite korrek is, is noodsaaklik, maar dit is onmoontlik om by die volle waarheid uit te kom of die laaste woord te spreek. Pieter Geyl, ’n uitstaande Nederlandse historikus, het gepraat van geskiedskrywing as “’n debat sonder einde”. Dit is onvermydelik dat ’n mens die geskiedenis vanuit ’n bepaalde ideologiese perspektief sal skryf. Dit is nie ’n buitengewone deug om feite te verifieer om akkuraat te wees nie, maar enige historikus, van watter “skool” ook al, se plig.

Ek het my al meer begin afvra vir wie ek wil skryf en hoe ek my teikengroep moet benader. In 1943 het Thom geskryf dat die historikus vanuit die “midde van die volk” die historiese waarheid moet soek met die doel om “die geestelike welsyn van die volk te dien”. Die probleem daarmee is dat dit die poging om ’n simpatieke vertolking van die Afrikaners se geskiedenis te gee deurmekaar laat loop het met verdediging van wit baasskap, segregasie en apartheid. In my geslag was daar verskeie historici soos Ernst Stals, Henning van Aswegen, Pieter Kapp en Johan Bergh wat nie hul geskiedskrywing in diens van die bestaande orde wou inspan nie, maar eerder wou probeer aantoon hoe wit, bruin en swart mekaar gevorm het. Soos hulle was ek nie ’n liberale historikus nie, maar eerder ’n pluralis wat die geskiedenis vertolk het as een van strydende gemeenskappe waarin groepsbelang eerder as individuele gesindhede deurslaggewend was.

Tot die vroeë sewentigerjare was alles wat ek geskryf het in Afrikaans en het ek my in die eerste plek tot die Afrikaners gerig. Ek het egter al minder begin glo dat afsonderlike ontwikkeling ’n antwoord vir Suid-Afrika se pro­bleme gebied het. Van 1970 het ek vir die Progressiewe Party en sy opvolgers gestem, hoewel ek sterk daaraan getwyfel het of die klassieke liberale oplossings vir Suid-Afrika geskik is.

Ek het besluit om te skryf as iemand wat aan die rand van die Afrikaner-­gemeenskap staan. Ek sou veral die Afrikaners probeer begryp en aan ander mense probeer verduidelik, maar waar nodig sou ek skerp kritiek uitspreek.

Ek het my vereenselwig met NP van Wyk Louw se uitspraak dat ’n mens ’n volk lief het vir sy “ellende”, en so ook met die woorde van William Faulkner, die groot skrywer van die Amerikaanse Suide, wat gesê het dat mens nie lief het “omdat” nie, maar “ten spyte van”; nie op grond van die deugde nie, maar ten spyte van die foute.

’n Liberale uitkyk

Gedurende die 1960’s het die Afrikaner- en Engelse historici, wat lank afgesonder van mekaar gewerk het, nader aan mekaar begin kom, veral in die Suid-Afrikaanse Historiese Vereniging en in die redaksie van die South African Historical Journal/Suid-Afrikaanse historiese joernaal. Op Stellenbosch het die departement egter nog grootliks die gepubliseerde werk geïgnoreer van liberale historici, wat almal in Engels geskryf het.

Dit was amper asof Van der Merwe gedink het dat die Ranke-skool, wat hy aangehang het, in opposisie met die liberale skool was. Anders as in die Ranke-benadering staan die liberale benadering waardes soos individuele vryheid en gelykheid voor. Daar was ’n neiging om die verlede op grond van hierdie waardes te interpreteer.

Dit was egter in ons navorsing onmoontlik om koud gelaat te word deur drie uitstaande liberale historici wat belangrike werk oor Suid-Afrikaanse geskiedenis gelewer het. Hulle was CW de Kiewiet, Leonard Thompson en Rodney Davenport. Hul werke het sekere sentrale beskouings van Afrikaner-­historici uitgedaag.

Waar Afrikaner-historici lank segregasie as al oplossing beskou het, het De Kiewiet geskryf dat die geskiedenis bewys dat segregasie geen oplossing vir Suid-Afrika se rasseprobleem bied nie en dat enige hernieude poging om dit te verskerp, sou faal.39 Thompson het die belangrikste bydrae tot die geskie­denis van konstitusionele ontwikkeling van Suid-Afrika gemaak. Waar die NP-rege­ring in die 1950’s aangevoer het dat die soewereiniteit van die parlement die enigste Afrikaner-tradisie was, het hy daarop gewys dat die grondwet in die Republiek van die Oranje-Vrystaat soewerein was, soos in die geval van die VSA. Konstitusionalisme was nie iets vreemds nie, maar deel van die Afrikaner-tradisie.40

Davenport het aangetoon dat die Afrikanerbond, die eerste politieke party in die land, tussen 1880 en 1910 nie op segregasie gestaan het nie, maar die term Afrikaner inklusief gedefinieer het en gretig na bondgenote, ook oor die kleurskeidslyn, gesoek het.41

Aan die ander kant was Engelse historici geneig om die Engelse chauvinisme en die sterk konserwatiewe inslag van die Engelse gemeenskap te ignoreer. ’n Seksie van die Engelssprekende elite het Afrikaners vir allerlei vorms van rassisme verdoem, insluitende hul aandrang op Afrikaans binne die konteks van die amptelike beleid van tweetaligheid. Dit was so erg in die eerste twee dekades van die Unie van Suid-Afrika dat CJ Langenhoven in ’n toespraak voor ’n Engelse gehoor gesê het: “Why do you always call our politics racialism, but your racialism you call politics?”42

Teen hierdie agtergrond sou ’n debat tussen geskiedenisstudente van Stellenbosch en Kaapstad stimulerend wees. Op ’n keer het Davenport, toe ’n dosent aan die Universiteit van Kaapstad, voorgestel dat een oor genl. JBM Hertzog se politieke denke gehou word. Die Stellenbosse professore was afwysend; “Davenport wil net politiek van die geskiedenis maak,” was hul reaksie. Asof Stellenbosch nie politiek van die geskiedenis gemaak het nie.

“Onoorkoomlike besware”

Die departement op Stellenbosch waarvan ek lid geword het, het twee professore en vier lektore gehad. Daar was min sprake van enige kollegialiteit. Die model was klaarblyklik die hiërargiese universiteit in Nederland en Duitsland tussen die wêreldoorloë. As lektore was ons status nie veel hoër as dié van senior studente nie. Daar was geen departementele vergaderings of sosiale geleenthede soos gesamentlik tee drink waar ons oor geskiedenis as dissipline kon gesels nie. Die professore het al die senior werk gedoen. Ons is later aangesê om die derdejaars se opstelle na te sien, maar die professore wou self oor die onderwerpe besluit.

Ek het die wens uitgespreek om ook in Suid-Afrikaanse geskiedenis klas te gee, maar dit is geweier. Ek moes voortgaan met kursusse in die Amerikaanse en Europese geskiedenis. In 1976 het ek voorgestel dat die departement Henry (Jatti) Bredekamp, ’n bruin dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland wat ek leer ken het, vir die doktorsgraad toelaat. Van der Merwe se antwoord was dat ons ons hande nie met dié ding moes “vuilmaak” nie.

Ek wou vir my doktorstesis ’n taamlik resente onderwerp aanpak, maar het my teen ’n muur vasgeloop. Veral Van der Merwe was onverbiddelik. Dit is onmoontlik, het hy verklaar, om “wetenskaplik-objektief” te wees wanneer ’n mens oor die onlangse verlede skryf. Ek het hom probeer oortuig, maar hy was onwrikbaar en het my nie juis veel kans gegee om my saak te stel nie.

Sy standpunt was heeltemal in lyn met die amptelike houding van die tyd. In die Argiefbewaarplekke was die staat se dokumente vir die voorafgaande vyftig jaar gesluit. In 1965 het die Gemeenskaplike Matrikulasieraad se geskie­denis-leerplanne die politieke gebeurtenisse in Suid-Afrika tussen 1910 en 1965 uitgesluit. Daar was, in Van der Merwe se woorde teenoor my, “onoorkomelike besware teen kontemporêre geskiedenis”.

Gefrustreerd het ek gaan sit en ’n akademiese artikel oor Van der Merwe se “onoorkomelike besware” geskryf. Dit is in Februarie 1969 gepubliseer in Standpunte, ’n tydskrif wat aan sowel die lettere as geesteswetenskappe aandag gegee het. Ek het heelwat ammunisie gehad. In 1966, toe ek in Amsterdam gestudeer het, het ek ’n krediet verwerf in die vak kontemporêre geskiedenis aan die Gemeentelike Universiteit. Die grootste deel van die kursus is in beslag geneem deur ’n gevallestudie van die magsgreep van Adolf Hitler in Duitsland gedurende die jare 1933 tot 1934, net meer as dertig jaar tevore.

Ek het geskryf dat daar ’n groot drang by die voorste historici in Europa ontstaan het om die geskiedenis van hul tyd te skryf weens die afgryse wat die menseslagting in die twee wêreldoorloë gewek het en veral die uitwissing van die Jode en ander minderheidsgroepe. Dit was nie meer gerade om te wag totdat die tyd ryp was voordat die pen opgeneem word om ’n bepaalde historiese gebeure aan te pak nie. Die groot ontnugtering van veral Westerse mense en die ontreddering van die tyd het gevra dat historici antwoord gee op die vraag hoekom die beskawing die pad so byster geraak het.

Oor die Afrikaners het ek geskryf: “Was daar al ooit, met die uitsondering van Duitsland, vir ’n volk ’n groter impuls of ’n sterker dryfveer om aan homself en vir die wêreld rekenskap te gee van sy geskiedenis en veral van sy resente geskiedenis.” Ek het ook gevra: “Het die Afrikaner met al die aantygings oor die aard en wese van sy karakter nie ’n plig en roeping om die antwoorde te gaan soek ook in die afgelope eeu nie?”43

Ek het ook geargumenteer dat die skryf van kontemporêre geskiedenis geen nuwe vaardighede vereis nie; dit bring wel die groot uitdagings in skerp fokus wat geskiedskrywing inhou. Niemand in die departement het op my artikel gereageer nie. Waarskynlik het my opstandjie nooit onder die aandag van my professore gekom nie. Ek wonder of Van der Merwe hom sou verwerdig het om dit met my te bespreek indien hy dit wel gelees het.

In stormagtige tye

Met geen moontlikheid om oor ’n eietydse onderwerp te skryf nie, het ek gevat wat die professore voorgestel het. My magister-verhandeling het gegaan oor die eerste jare nadat Brittanje die Kaap in 1806 vir ’n tweede keer beset het. Die professore het voorgestel dat ek vir my doktorstesis oor die tydperk van 1795 tot 1803 skryf toe die Kaap deur Brittanje beset is nadat dit 143 jaar deur die Kompanjie geregeer is.

Dit was op die ou end vir my ’n baie goeie oefening om oor ’n hele samele­wing in ’n tyd van krisis te skryf. In werklikheid was die Britse bewinds­oorname in 1795 nie ’n blote verandering van bewind nie, maar ’n regime-verandering wat gepaard gegaan het met ingrypende veranderings in die regeringsvorm, ekonomiese stelsel en maatskaplike waardes. Ek het met verbasing en plesier agtergekom hoe uitdagend die geskiedenis van stormagtige tye is.

Ná 1795 – soos ook ná 1994 – moes die mense binne die koloniale grense – amptenare, burgers, slawe en Khoisan en Xhosa – hulle aanpas by ingry­pende veranderinge en nuwe idees. Vir hulle het dit gelyk of die wêreld op sy kop gekeer is. Waar daar voor 1795 ’n hiërargie was van groepe bestaande uit amptenare, burgers en slawe wat deur die wet gedefinieer was en wat elk­een hul onderskeie status met verskillende regte gehad het, was daar nou net “British subjects”, wat mettertyd op gelyke voet voor die wet geplaas moes word.

In baie opsigte was die geestesklimaat in die kolonie in die vroeë 1790’s en die vroeë 1990’s dieselfde. In die vroeë 1790’s het die burger JF Kirsten die tydsgees goed vasgevat: “Die regering het die mense se respek verloor; elkeen wil beveel en niemand wil gehoorsaam nie.”44

Ek het in 1972 my doktorsgraad op grond van die proefskrif ontvang. Hiermee het ek formeel my vakleerlingskap in geskiedskrywing voltooi. Maar dit was nie die tyd om terug te sit nie. Stellenbosch was beslis nie op die voorpunt van ontwikkelinge in die Westerse historiografie nie.

’n Gewigtige ontmoeting

Terwyl ek in 1968 in die Kaapse Argiefbewaarplek navorsing vir my doktorstesis gedoen het, het ek Rick Elphick toevallig ontmoet, wat besig was met sy doktorale studie oor die Khoikhoi. Hy was ’n Kanadese burger en ’n doktorale student van Leonard Thompson aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles. Thompson het in 1969 professor in Afrika-studies aan die Yale-­Universiteit geword en het gereël dat Elphick se inskrywing daarheen oorgeplaas word.

My ontmoeting met Elphick was beslissend vir my loopbaan. Elphick is een van die subtielste en innoverendste historici wat oor Suid-Afrika werk. My vriendskap met hom en ons professionele samewerking was een van die grootste vormende invloede op my loopbaan.

Terwyl Elphick argiefnavorsing gedoen het, het hy ook Stellenbosch besoek. Ek het hom aan verskeie Stellenbosse akademici voorgestel. Hy onthou dat ek optimisties oor ingrypende hervorming was. Die Afrikaners was nie monolities nie, het ek gesê, en daar was ’n jonger geslag wat besig was om die pilare van Afrikaner-mag te begin skud. Hy skryf dat ek hom verseker het dat ek nie van plan was om ’n verengelsde Afrikaner of volksvreemd te word nie.45

Elphick het ná sy navorsing in Kaapstad na Maseru gereis waar hy hom by Thompson aangesluit het wat met ’n biografie van Moshweshwe besig was. Toe hy Thompson vertel van die goeie gesprekke wat hy met my en ander Afrikaners op Stellenbosch gehad het, het hy negatief gereageer. Hy het geskimp dat Elphick dalk met rassisme besmet geraak het. Dit was absurd. Elphick se betrekkinge met Thompson het nietemin sodanig verbeter dat hy hom kon oorreed om my as nagraadse genoot na Yale te nooi.

Thompson sou ’n groot rol in my loopbaan speel. Hy is in 1916 in Brittanje gebore en het eers daar skool gegaan en toe in Suid-Afrika waarheen sy ouers geëmigreer het. Hy het in die Tweede Wêreldoorlog geveg en daarna as ’n Rhodes-student aan die Universiteit van Oxford gestudeer. Ná sy studies was hy net langer as tien jaar lektor in geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad. As ’n lid van die Liberale Party was hy aktief betrokke in die stryd teen die verwydering van die bruin mense van die kieserslys.

Hy en Monica Wilson, ’n antropoloog verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, was die redakteurs van Oxford History of South Africa waarvan die eerste band in 1969 verskyn het en die tweede in 1971. Die boek kon amper rewolusionêr genoem word. Vir die eerste keer het gerekende akademici in verskeie dissiplines saamgewerk aan ’n boek wat die Suid-Afrikaanse geskiedenis as Afrika-geskiedenis uitgebeeld het met swartes in die hoofrol eerder as ’n deel van ’n wit-sentriese geskiedenis. Waar vorige historici, soos Eric Walker, die Groot Trek as die sentrale gebeurtenis in die geskiedenis beskou het, beeld die werk die trek uit as ’n indringing waarop die Zoeloes in Natal en die swart nasies op die Hoëveld moes reageer.

Die tweede band van Oxford History of South Africa, wat in 1971 verskyn het, was minder kontroversieel. Veral die hoofstukke oor mynbou en landbou, deur Francis Wilson en David Welsh onderskeidelik, benader die ges­kiedenis op ’n vars manier. Daar is ook hoofstukke oor Afrikaner-nasionalisme en Afrika-nasionalisme onderskeidelik deur René de Villiers, ’n joernalis, en Leo Kuper, ’n antropoloog, wat minder geslaagd is. Dit bevestig die ou reël dat liberale sukkel om met insig en begrip oor nasionalisme te skryf.

Die verwagting was dat die twee volumes, wat saam duisend bladsye be­slaan, as die nuwe ortodoksie aanvaar sou word. In stede daarvan het dit die teiken geword van ’n vurige aanslag deur radikale geleerdes, wat meestal mense van my geslag was. Hulle het aangevoer dat die liberale benadering, soos vervat in Oxford History, verouderd was, al is dit skerp krities oor wit heerskappy. Volgens hulle moes die klem val op strukturele ontleding en veral op kapita­listiese uitbuiting, wat volgens hulle die eintlike bewegende krag in die ge­skiedenis is.

Ek het nie met die liberale of radikale saamgestem nie. Wat ek egter nie geweet het nie, was dat sekere Afrikaner-historici, veral Floors van Jaarsveld, met misnoeë sou reageer op my besluit om aan Yale post-doktorale studies onder Thompson te gaan doen. Vir hom was dit ’n bevestiging van die vermoede dat ek na die liberale kant oorgeloop het.

’n Besondere jaar

Die jaar wat ek saam met Annette en ons twee dogters, Francine (5) en Adrienne (2), in New Haven, Connecticut deurgebring het, was ’n verrykende ervaring. Vir my as historikus was dit ’n groot stimulus. Van al die top Ameri­kaanse universiteite was Yale die een waar die grootste proporsie studente geskiedenis as ’n hoofvak geneem het.

Ek het ’n ruim kantoor in die departement gehad en het ook lang ure in die wonderlike biblioteek deurgebring. Vir Annette en die kinders was dit soms moeilik. Ons het in ’n piepklein woonstelletjie in die Divinity School tuisgegaan. Ons geld was skraps en daar was min kans vir uitstappies en toere. Op sy beste was ons deel van die “Greyhound-set”.

By Yale het ek gou agtergekom dat daar by Thompson agterdog teenoor my as ’n Afrikaner was. Ek dink hy het verwag dat ek openlik baie meer krities oor die NP-regering en NP-ondersteuners sou wees. Ek was egter nie van plan om my as ’n “detribalised Afrikaner” voor te doen nie. Dit was duidelik dat Thompson, wat hom met die saak van swart bevryding onder ’n liberale orde vereenselwig het, hom die kritiek aangetrek het en bondgenote gesoek het.

Thompson het ’n hoë dink van Van der Merwe as historikus gehad, maar sy oordeel oor die Afrikaners was negatief. Hy het geskryf dat van die eerste vryburgers tot die Voortrekkers net een maatskaplike orde geheers het, een waarin die Afrikaners en hul voorsate mense wat van Afrika of Asië afkoms­tig was, of van gemengde afkoms was, as ’n sub-spesie, as “skepsels” eerder as “mense” beskou het. Hierdie beskouing was, volgens hom, ingeprent in die gees van die Voortrekkers, wat dit in wetgewing beslag gegee het. Thompson besluit dan: “That was what custom prescribed, self-interest demanded, and God ordained. That was how it always has been and always must be in South Africa.”46

Ek was verbaas dat so ’n gesofistikeerde historikus soos Thompson so ’n on­historiese stelling kon maak, amper of hy eenvoudig moes uiting gee aan ’n gevoel van wrewel teenoor die Afrikaners. Dit was heeltemal in stryd met die positiewe kommentaar wat hy vyftien jaar tevore in ’n wetenskaplike artikel uitgespreek het oor die Republiek van die Oranje-Vrystaat waarvan die grond­wet op dié van die Verenigde State geskoei was.47 Hy ignoreer die geskiedenis van die Afrikanerbond in die Kaapkolonie en dié van die vroeë Nasionale Party, tussen 1915 en 1929, wat ten gunste van die politieke en ekonomiese integrasie van die bruin mense was en ywerig om hul stem meegeding het.

Op ’n keer het Thompson my direk gevra wat ek van die twee volumes dink. Ek het geantwoord dat die boek se klem op die interaksie tussen mense van verskillende rasse en kulture ’n belangrike korrektief is op die ortodoksie dat wit mense heeltyd net op segregasie aangedring het, maar dat ek probleme het met die boek se beskouing dat die Afrikaners en hul voorsate verstokte rassiste is. Hy het dit stilswyend aangehoor.

Thompson was ’n persoon met ’n groot ego en ’n dun vel. Ek sal hom egter altyd dankbaar bly vir die deure wat hy vir my oopgemaak het. Ons het op die ou end wel ’n verhouding gegrond op wedersydse respek opgebou. In 1975 was hy een van my referente in my aansoek om die vakante King George V-leerstoel in geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad. (Hy het voorheen die leerstoel beklee.) Toe Colin Webb, ’n Engelssprekende historikus, aangestel word, het hy geskryf hy wonder of Webb se lang verblyf in Natal hom sou help om die Afrikaners te verstaan.

Mense met invloed

In 1973 en daarna weer van 1977 tot 1978, het ek met verskeie van die ander professors in die geskiedenis-departement kennis gemaak. Ek het altyd ’n punt daarvan gemaak om historici te vra watter boek buite hul besondere navorsingsveld hulle die meeste beïnvloed het. ’n Naam wat dikwels genoem is, was dié van Reinhold Niebuhr, ’n Amerikaanse skrywer oor Christelike etiek. Sy invloedryke werk Moral Man and Immoral Society het in 1932 verskyn toe die stelsel van segregasie in die suidelike state van die VSA op sy ergste was.48

Niebuhr het nie geglo dat ’n onderdrukkende stelsel soos segregasie in die Amerikaanse Suide in die eerste plek die gevolg van onkunde of foutiewe leerstellings of irrasionaliteit was nie. Mense organiseer hulle in gemeenskappe om hul bepaalde politieke identiteit, belange en maatskaplike waardes te beskerm. Anders as wat die liberale geloof dit wil hê, ontbind sulke groepe nie maklik nie. As lede van ’n gemeenskap sal hulle veel meer ongenaakbaar teenoor ander groepe wees as wat die geval is in hul persoonlike verhoudinge met individue van ander gemeenskappe. Vir my het dit na ’n goeie beskrywing van die Afrikaners geklink.

Niebuhr het nie geglo dat oplossings gevind sal word deur “redelike leiers” te vind wat bereid is om met die leiers van mededingende partye of gemeenskappe te praat en ’n slim oplossing te vind nie. ’n Volk, etniese gemeenskap of klas glo aan die regverdigheid van sy saak. Enige verwagting dat mense gehoor sal gee aan oproepe tot “redelikheid” en “billikheid” sal op klipperige grond val totdat die magsbalans voldoende gekantel het om ’n gemeenskap van koers te laat verander. Eers wanneer mense se vrese oor veiligheid en hul gevoel van eiewaarde in ’n nuwe bestel besweer word, raak ’n demokrasie moontlik.

Ek het natuurlik ook vir Thompson gevra van watter historici ek ’n studie moes doen. Hy het De Kiewiet en WM Macmillan genoem en bygevoeg dat ek my min hoef te steur aan Lewis Gann se artikel oor die liberale geskiedskrywing in Suid-Afrika wat kort tevore gepubliseer is. Vanselfsprekend het ek dadelik die betrokke artikel in die Rhodes-Livingstone Journal van 1959 gaan lees.

Gann was ’n historikus van Joods-Duitse agtergrond, wat sy universiteits­opleiding in Brittanje ontvang het en in die Britse koloniale diens gewerk het voordat hy ’n universiteitspos in die destydse Rhodesië (vandag Zimbabwe) aanvaar het. Hy het boeke oor die geskiedenis van Rhodesië en oor die Afrika-­kontinent geskryf.

Sy argument was dat die liberale ’n ontoepaslike model op Suid-Afrika probeer afdwing. Dit was ’n model van die Britse samelewing wat eers aan sy middestand en daarna sy werkerstand die stemreg toegeken het. Hierdie model was kwalik geskik om op Suid-Afrika toe te pas. Anders as Suid-Afrika was Brittanje, wat ras en kultuur betref, ’n homogene samelewing en boonop ’n ryk en welvarende land.

Gann het tereg daarop gewys dat as die historici ’n model wou kies hulle veel eerder die geskiedenis van etniese konflikte in Oos-Europa moet be­studeer. Hier val etniese en klasseverskille saam, soos in Suid-Afrika, en ook hier het etniese groepe oor ’n lang tydperk ’n verbete stryd om mag gevoer.

Die groep wat bo is, sorg dat hulle die ander onder hou. Gann beklemtoon die punt dat die weiering van die NP-regering ná 1948 om aan swartes enige verteenwoordiging in die parlement te gee as selfsugtig bestempel kon word, maar dat dit, beskou vanuit ’n perspektief op kort tot mediumtermyn, nie irrasioneel is nie.

Gann het die stelling gemaak dat die lot van politieke minderhede sonder enige mag selde aangenaam is en dat dit goed moontlik is dat die verlies van politieke mag deur die NP ook die einde van die Afrikaners as ’n nasionale minderheid kan beteken.49

Ek het tydens die jaar by Yale na ’n treffende openbare lesing deur die skrywer Alan Paton geluister. Hy was in baie opsigte ’n “Christen-realis”, soos Niebuhr. Hy was ook een van die sterkste stemme wat in Suid-Afrika opgegaan het vir ’n liberale alternatief vir apartheid. Hy het vas geglo dat as die buiteland die Afrikaners sou dwing om ’n meerderheidsregering in ’n eenheidstaat te aanvaar, hulle sou verkies om in trane en bloed onder te gaan eerder as om voor dwang te swig.

Maar hy het nie die moontlikheid uitgesluit nie dat die Afrikaners eendag wel kon besluit om die mag oor te dra voordat hulle verslaan word. Paton het die sleutelvraag gestel: “Wat sal die Afrikaner-intellektuele en -kerkleiers doen as totale apartheid onmoontlik blyk te wees? Sal hulle wit oorheersing kies of die oop samelewing?” In hierdie toespraak en in verskeie artikels het hy self die vraag beantwoord: “Met hul intellektuele kwalifikasies en morele oortuigings sal die Afrikaners nie anders kan as om die oop samelewing te kies nie.” Paton het gemeen die Afrikaners kon nie uit hul magsposisie gedwing word nie. Die inisiatief, het hy geglo, sou by die Afrikaner berus totdat hy self besluit om die mag prys te gee.50

Historikus van die Suide

Ek was besonder gelukkig om C Vann Woodward, die toonaangewende historikus van die Amerikaanse Suide, te leer ken. Sy werk The Strange Career of Jim Crow (1955) wat oor die evolusie van rasseverhouding in Amerika handel, is in ’n stadium beskou as die bekendste historiese werk in die VSA. Martin Luther King het dit as “die historiese Bybel van die burgerregtebeweging” bestempel.

Woodward was, soos die latere pres. Bill Clinton, van die suidelike staat Arkansas, maar was nietemin onverskrokke in sy aandrang op liberale waardes. Woodward se studies oor die ontstaan en mutasie van segregasie in Amerika se suidelike state nadat slawerny afgeskaf is, het my baie gehelp om rasseverhoudinge in Suid-Afrika te verstaan. In albei gevalle het ons te doen met ’n dominante wit gemeenskap wat verseg om swart mense in hul politieke stelsel en hul gemeenskap op te neem.

Ek het verskeie kere met Woodward oor middagete by Mory’s, die gewilde fakulteitsklub, gesels. Hy kon hom bitterlik vererg vir die noordooste se elite (veral dié van New England) wat na sy mening skynheilig oor die rassekwessie was en die Suide as agterlik, dom en stiksienig bestempel het sonder dat hulle van hul eie rassisme bewus was.

Woodward het vertel watter vormende invloed Niebuhr se werke op hom gehad het. Self ’n Suiderling, het Woodward die kontras tussen die mense van New England en dié van die Suide op so wyse uitgelig dat ek dadelik aan die verskille tussen Afrikaners en die Engelssprekende wittes in Suid-Afrika herinner is. Soos die “New Englanders” in die noordooste van die VSA het die Engelse gemeenskap in Suid-Afrika ’n gemeenskaplike ervaring van ekonomiese welvaart gehad. Saam hiermee het gegaan die betuiging van hul onskuld op enige aanklag van swart uitbuiting en onderdrukking.

Die geskiedenis van die Afrikaners stem daarenteen grootliks ooreen met dié van die Amerikaanse Suide. Eers was daar slawerny en daarna ’n verpletterende nederlaag in ’n oorlog (die Amerikaanse Burgeroorlog en die Anglo-­Boereoorlog) en daarna nog amper ’n eeu van segregasie. (Suid-Afrika het sowel die term “poor white” as “segregation” van die Suide oorgeneem.) Soos die wit Suiderlinge is die Afrikaner se hande vuil ten opsigte van slawerny sowel as apartheid – die twee groot morele kwessies waaroor die Weste ’n obsessie ontwikkel het. Maar Woodward het nie gevoel dat wittes die plig het om vir ewig hul skuld af te betaal nie.

In 1976 het Thompson en Woodward saam na Suid-Afrika gereis om ’n konferensie op die kampus van die Universiteit van Kaapstad oor apartheid in die Suid-Afrikaanse universiteite by te woon. Dit was net ná die eerste vlaag van opstande in Soweto en ander swart gebiede. Soos baie ander het ek gewonder of ’n volle burgeroorlog oor die rassekwessie vir ons wag. Ek was Woodward se gasheer op Stellenbosch, waar ek hom aparte ingange, aparte woonbuurte en skole en die ander manifestasies van apartheid gewys het.

Ons het daarna verskeie kere briewe gewissel. In 1998 het hy verwys na die “black carpetbaggers” in die hedendaagse Verenigde State. Hulle was swartes wat persoonlik wou voordeel trek uit regstellende aksie al het hulle nie self daaronder gely nie. Vir hom was dit ’n bewys dat die voorstanders van wit baasskap reg was in hul aanname dat velkleur in die konflik tussen wit en swart die allesoorheersende faktor is. Op 15 Junie 1998 skryf hy dat dit vir hom lyk of die retoriek van rassisme veel erger in Amerika as in Suid-Afrika was. Hy skryf op 15 Junie 1998:

The racial rhetoric here [in America] was framed in terms of hatred, bitterness, contempt, and personal violence. It appeared in these forms among the courts, the police, the militia, prisons and mobs. Was there anything in South Africa comparable with the Ku Klux Klan, the lynching mobs, the mass brutality in the South?

By een geleentheid het ek Woodward ’n vraag gevra wat al lank by my gespook het. Sou die wit mense in die Amerikaanse Suide segregasie kon afskaf as hierdie state onafhanklik was? Hy het lank nagedink en toe gesê: “Nee, ons sou nie dit kon doen nie.”

Onbedoelde gevolge

In die loop van 1973 het ek en Rick Elphick besluit om ’n boek saam te stel oor die vroeë vorming van die Kaapse samelewing waaroor daar so baie botsende teorieë bestaan het. Ons wou bydraes kry van historici wat oor die vroeë koloniale geskiedenis van die Kaap hul onderskeie doktorstesisse voltooi het. Rick self het oor die Khoikhoi aan die begin van die Kompanjiestyd geskryf, terwyl ek oor die laaste dekades van die agttiende eeu geskryf het waarvan die eerste konflikte tussen wit en swart op die Kaapse oosgrens so ’n belangrike faset was.

Dan was daar ook die volgende: Leonard Guelke oor die burgers, Gerrit Schutte oor die Kaapse Patriotte, Robert Shell en James Armstrong oor die slawe en vryswartes, Martin Legassick oor die Griekwas en Suid-Sotho aan die noordgrens en William Freund oor die tussentydse regerings van 1795 tot 1806. Almal het die uitnodiging aanvaar om tot die boek by te dra. Ek was op die ou end die enigste medewerker wat in Suid-Afrika werksaam was. Dit was ’n treffende illustrasie van die verskuiwing na die buiteland van historici wat besig was met ’n radikale hervertolking van ons vroeë geskiedenis.

Ons het die boek aangepak in die tyd voor elektroniese kommunikasie. Met die beplanning en redigering van die manuskrip het strome briewe hul weg oor die oseaan gevind. Rick het nou nog ’n stapel van 30 cm van korrespondensie tussen ons twee en van ons as redakteurs met die skrywers.

Ons het algaande besef dat ons boek die potensiaal het om fundamenteel die beskouinge van historici oor die vroeë geskiedenis uit te daag. Met ’n vriend, Mike Peacock, aan die hoof van Maskew Miller-Longman, was ons verseker van ’n simpatieke uitgewer en ’n doeltreffende bemarker. Die boek het in 1979 as The Shaping of South African Society, 1652-1820 verskyn. ’n Afrikaanse vertaling, met Karel Schoeman wat ’n groot deel vertaal het, is in 1982 as ’n Samelewing in wording: Suid-Afrika, 1652 tot 1820 gepubliseer.

Die resensies was oor die algemeen positief, maar Anna Böeseken, wat my in 1968 in die Kaapse Argiefbewaarplek aan Elphick voorgestel het, het dit in Die Burger ’n “voorbarige boek” genoem. Sy verklaar dat die werk ’n weerspieëling is van die moderne mens wat so behep is met rasseverskille dat weinig aandag gegee word aan verskille van mens tot mens. Sy het bygevoeg: “So word teorieë opgebou en gevolgtrekkings gemaak op onvoldoende gegewens.”

Böeseken was ’n gesaghebbende oor die sewentiende en agttiende eeu en het klaarblyklik gevoel dat ons as jong historici nog te nat agter die ore was vir die ingrypende hervertolking waarop die boek aanspraak gemaak het. Die boek het nogtans baie goed verkoop. Die Universiteit van Suid-Afrika het die boek voorgeskryf en binne enkele jare het verskeie ander universiteite gevolg. Teen die einde van die 1980’s was die totale verkope al oor die 50 000.

Ons het toe begin werk aan ’n tweede, uitgebreide uitgawe wat die verhaal tot 1840 gevat het. Die tweede uitgawe, wat in 1989 verskyn het, was ’n boek van oor die 600 bladsye met nuwe medewerkers in die persone van Candy Malherbe, Nigel Worden, Robert Ross en Jeffrey Peires. Die boek het ook goed verkoop, maar het uit druk geraak toe die firma Pearsons tien jaar later ons uitgewer oorgeneem het. Wesleyan University Press het dit in 2015 as ’n elektroniese boek beskikbaar gestel.

Ek en Rick beskou as ons belangrikste bydrae die oorsigtelike slothoofstuk waar ons die vraag stel: Hoe is wit beheer en swart uitsluiting bewerkstellig terwyl daar terselfdertyd grootskaalse bloedvermenging buite die huwelik was?

Die regering en die burgers het tot omstreeks 1775 feitlik nooit die woorde “ras” of “wit mense” gebruik nie. Wette het nie op grond van ras of kleur onderskei of gediskrimineer nie. ’n Rassistiese ideologie het nie bestaan nie. Die woord “swart” is baie selde gebruik behalwe in die formele term vryswartes, wat voormalige slawe was wat deur hul eienaar vrygestel is. Die polisiemag bestaande uit swart mans is “kaffers” genoem. Hulle was kleurblind in hul optrede en het mense in hegtenis geneem sonder om enige onderskeid op grond van kleur te maak.

Hoe kon die Afrikaners uit so ’n pioniersgeskiedenis die stelsel van apartheid ontwikkel? ’n Mens kan jou inderdaad die vraag afvra. Liberale historici en sosiale wetenskaplikes het geesdriftig verklarings aangebied. Volgens sommige moes die skuld vir wit rassisme gesoek word by die burgers se “primitiewe” Calvinisme met sy uitverkiesingsleer. Die probleem met hierdie vertolking was dat die burgers tot die einde van die agttiende eeu glad nie besonder godsdienstig was nie.

Ander historici het weer die ontstaan van rassisme gaan soek by die konflik aan die oosgrens waar die burgers en Xhosas tussen 1780 en 1836 in ses grensoorloë betrokke was. Wat nooit verduidelik is nie, is hoe grensboere, wat baie min opvoeding gehad het, die veel meer ontwikkelde mense in Kaapstad en omgewing kon beïnvloed.

Ná talle gesprekke op Lanzerac se stoep en baie briewe het ek en Rick ’n argument met vyf bene gehad. Die eerste been was die administratiewe raamwerk wat die Kompanjie neergelê het. Dit het onderskei tussen drie statutêre groepe, te wete amptenare, vryburgers en slawe. As arbeiders het die regering slawe (wat net swart of bruin was) uit Afrika en Oos-Indië ingevoer. Die vryburgers was amper uitsluitlik mense wat uit Europa gekom het.

Oor die eerste 150 jaar van die nedersetting het die administratiewe statusgroep en ras/kleur al meer saamgeval. Die burgers was wit mense en die slawe was swart mense; die wat grond besit het, was wit en die mense sonder grond was swart of bruin. Daar was baie wit mense wat nie grond gehad het, maar hulle het die status van burgers gehad. Hulle het onder meer die grondbesitters se plase en vee help verdedig.

Burgerstatus het met bepaalde regte, verpligtinge (byvoorbeeld kommandodiens) en status gepaard gegaan. So byvoorbeeld het die Kompanjie net burgers as heemrade en veldkornette aangestel. Tot diep in die negentiende eeu het lede van die burgergemeenskap hulle nie as ’n ras beskou nie, maar van hulself as burgers of “ingesetenes” gepraat.

Die tweede element was demografie. ’n Aanvanklike wanbalans tussen mans en vroue in die Europese gemeenskap wat tot verskeie gemengde huwe­like gelei het, het teen 1725 grootliks verdwyn. Die Europese mans wat ’n Europese vrou kon kry, het getrou en ’n groot gros van die ander mans het ’n swart of bruin houvrou gevat. Die kinders uit laasgenoemde verbintenis is as ’n reël nie in die Europese gemeenskap opgeneem nie.

In die derde plek was daar die rol van die kerk. Die predikante was amptenare van ’n handelsmaatskappy, te wete die Kompanjie, wat geen profyt daarin gesien het om swart of bruin mense te kersten nie. Wat die doop betref, het sommige predikante ’n onderskeid getref tussen gebore Christene (suigelinge wie se ouers Christene was en dadelik gedoop is) en gedoopte Christene wie se ouers nie Christene was nie. Hierdie mense moes dikwels eers bewys dat hulle die basiese dogma van die Christelike leer verstaan voordat hulle die doop kon ontvang.

Nadat Shaping reeds gepubliseer was, het ek afgekom op die woorde van PB Borcherds, predikant op Stellenbosch. Hy moes aan die Britse goewerneur verduidelik waarom daar in so ’n groot distrik soos Stellenbosch so min slawe gedoop is. Borcherds het geantwoord dat hy die slawe nie kon doop voordat hulle sy vrae oor die Christelike leer bevredigend beantwoord het nie. Hy het verwag dat hulle die antwoorde uit hul kop moes ken. Volgens hom het hulle wel die “vreeze Gods” in hul harte gehad, maar was te “stomp” om die vrae te beantwoord.51

In die vierde plek was daar die Romeins-Hollandse reg wat aan vroue in Nederland en Nederlandse kolonies meer regte as in enige ander regstelsel gegee het. In geval van owerspel kon die vrou skei en het sy die helfte van die boedel gekry. ’n Patroon het gedurende die agttiende eeu ontvou dat vroue voor mans lidmate van die kerk geword het en dat hulle daarop aangedring het dat mans wat ’n dogter die hof maak eers ’n lidmaat moes word.52

Laastens was die ekonomie so eenvoudig dat daar nie ’n behoefte ontstaan het om ’n beperkte getal slawe hul vryheid te gee om poste te vul (byvoorbeeld dié van handelaars en soldate) waarvoor daar nie genoeg Europeërs was nie en waarvoor slawe nie geskik was nie. In sekere dele van Brasilië het daar om hierdie rede ’n tussenklas van mulatto’s ontstaan. ’n Bestel sonder ’n skerp rasseonderskeid het ontwikkel wat heeltemal anders was as dié van die Kaap.

Cillié de Bruyn het gedurende die tyd dat ek en Rick aan ons slothoofstuk gewerk het, genealogiese navorsing in die argief gedoen waaruit ons kon aanhaal. Hy het gevind dat in ’n monster van die jaar 1807 net 5% van meer as duisend kinders ’n grootouer gehad het wat genealoë aandui as ’n nie-­Europeër. Ons slotsom was dat ’n gemeenskap teen 1800 ontwikkel het wat ondertrou het en wat ’n hoë mate van endogamie ontwikkel het. ’n Wit “nasie” het in Suid-Afrika ontstaan sonder dat daar in die begin enige plan was om een te “stig”. Die Kompanjie is opgevolg deur ’n Britse bewind wat op ’n ander manier maar ewe doelgerig wit mag en wit status verskans het.

My werk saam met Elphick was die beste blootstelling wat ek kon kry aan die kompleksiteit van geskiedenis en die onbedoelde gevolge van historiese prosesse. Dit was ’n les wat my sou bybly en wat ek baie nuttig gevind het in die laaste kwart van die twintigste eeu toe die politieke orde weer wesenlik verander het.

’n Soms venynige debat

In die laaste drie dekades van die twintigste eeu het ’n vurige debat op akademiese vlak gewoed tussen sogenaamde radikale en liberale. Dit is ontketen deur die verskyning in 1969 en 1971 van die twee bande van Oxford History of South Africa.

Die debat het gegaan oor die vraag of die faktor van ras (wit versus swart) of klas (die besitters van grond en ander vaste goedere versus die besitloses) deurslaggewend in die evolusie van menseverhoudinge was. Liberale historici was geneig om te argumenteer dat bepaalde mites en bygelowe oor afkoms of ras (byvoorbeeld “Gam se geslag”, die Calvinistiese idee van uitverkorenheid en opvattings oor wit “genetiese” meerderwaardigheid) daarvoor verantwoordelik was dat wit mense swart mense onderwerp en uitgebuit het. Radikale historici (ook genoem Marxiste), aan die ander kant, het van die standpunt uitgegaan dat die dominante klas mense uitgebuit het, byvoorbeeld deur slawerny in die agttiende eeu of deur baie goedkoop arbeid in die twintigste eeu. Hulle het dit deur ’n rassistiese ideologie probeer regverdig.

’n Variant van hierdie vraag was die volgende: Was die Afrikaners, met bepaalde idees gevorm deur Calvinisme, slawerny, grenskonflikte en apartheid, die eintlike sondebokke in die politieke krisis van die land wat in die 1970’s begin oplaai het? Of was die eintlike skuldiges die kapitaliste met hul uitbuiting van veral swart werkers?

Ek het van die begin af my voorbehoude oor die manier waarop die debat oor ras teenoor klas gevoer is. Daar was ’n neiging onder sommige liberale historici om rustig die Afrikaners te blameer vir rassekonflik in die geskie­de­nis terwyl hulle die Engelse gemeenskap al die krediet vir ekonomiese groei gegee het sonder om die groot ontwrigting en uitbuiting van die kapitalistiese stelsel raak te sien. Radikale historici soos Martin Legassick het hierdeur gesien en die liberale historici gedwing om selfondersoek te doen. Op hul beurt het die Marxiste nasionalistiese bewegings beskou as die werk van ’n “petty bourgeoisie” wat mense met praatjies oor kultuur gemobiliseer het om self die grootste voordeel uit die beweging te trek.

Wat my verbaas het, was die arrogansie en venyn waarmee veral sommige radikale teen die liberale geveg het. Die antwoord was natuurlik dat dit nie net ’n akademiese debat was nie, maar ’n burgeroorlog onder die Engels­sprekende intelligentsia. As iemand geglo het klas is deurslaggewend was dit omtrent outomaties dat hy of sy ook geglo het dat kapitalisme die wortel van Suid-Afrika se probleem is en dat die antwoord in sanksies, boikotte en, vir sommige, rewolusie gelê het. Diegene wat ras (of idees) aan­gehang het, het geglo kapitalisme is die antwoord. Indien dit vrye teuels gegee word, sal apartheid deur ekonomiese groei weggevee word soos ’n sandkasteel in die pad van die inkomende see. Daarom moes sanksies met alle mag beveg word.

Wat die radikale goed reggekry het, was om die aandag op die illusies van dele van die Engelssprekende gemeenskap en op die ideologie van liberalisme in Suid-Afrika te vestig. Dit is moeilik om te aanvaar dat hierdie gemeenskap, wat die ekonomie oorheers, net ’n geringe rol in die ontwikkeling van rassisme as dominante ideologie sou gespeel het. Die veel laer lone wat Engelse werkgewers aan hul swart werkers betaal het, is waarskynlik gerugsteun deur ’n beskouing van swart mense wat weinig van rassisme verskil het. Aan die begin van die 1970’s was die verhouding van wit tot swart lone in die private sektor ’n skokkende 21:1 in die mynbedryf en 6:1 in die vervaardigingsektor. Verreweg die meeste van hierdie werkgewers was Engelssprekendes, wat tot 1987 getrou vir die opposisiepartye gestem het.

Oor die algemeen was sowel liberale as radikale nie baie geïnteresseerd in die vertolkings van die Afrikaanse historici nie. Christopher Saunders stel dit kategories in sy boek oor die debat (The Making of the South African Past: Major Historians on Race and Class, 1988) dat Afrikaanse historici nie enige bydrae tot die debat tussen liberale en radikale gemaak het nie. Hy skryf dit daaraan toe dat Afrikaner-historici geneig is om meer onkrities oor wit baasskap te wees as Engelse historici.53

Saunders slaan die bal mis. Dit is ’n mite dat die Engelssprekendes as gemeenskap betekenisvol meer liberaal as die Afrikaners was. In 1988, toe die Progressiewe Federale Party vir die eerste keer doelgerig ’n nie-rassige vorm van meerderheidsregering gepropageer het, het omtrent al die Engelse koe­rante dit ondersteun. Daar was egter ’n groot kloof tussen die redakteurs en hul lesers. In ’n meningspeiling wat dieselfde jaar gedoen is, het net 10% van die Engels­sprekendes meerderheidsregering ondersteun teenoor 3% van die Afrikaners.54

Afrikaner-historici was oor die algemeen nie daarin geïnteresseerd om aan ’n debat deel te neem nie omdat die basiese voorwaardes deur akademici buite die groep geformuleer is. Pierre Kapp maak die geldige punt dat die Afrikaner-­historici die vrae probeer beantwoord het wat hul Afrikaanse lesers aan hulle gestel het.55 Tot omstreeks 1960 het die belangrikste vrae van Afrikaanse lesers gegaan oor die vestiging van wit beheer en, wat genoem is die “Boer-Brit-stryd”, wat net ná republiekwording in 1960 begin vervaag het.

Die impak van vernedering

In die plek van die ou nasionalistiese geskiedskrywing het ek my vereenselwig met die benadering wat pluralisme genoem word. Dit probeer diep-verdeelde samelewings, waar daar ’n gebrek aan ’n gemeenskaplike sosiale wil en gedeelde waardes bestaan, op ’n besondere manier verstaan. Dit beklemtoon sowel die kulturele as materiële invloede wat die Afrikaners gevorm het. Kultuur verteenwoordig ’n krag uit eie reg en is nie bloot deel van die ideologiese superstruktuur wat bepaalde belange moet legitimeer nie, soos wat die radikale historici dit wil hê.

Pluraliste besef ook in watter groot mate die politiek gedryf word deur nasionale of kulturele vernedering.56 My werk oor die Kaapse samelewing gedurende die eerste dekades van Britse heerskappy het dit vir my duidelik gemaak dat die burgers as ’n gemeenskap meer saamgesnoer was deur hul kultuur en die dikwels minagtende wyse waarop die Britse amptenareklas hulle behandel het, as deur hul materiële belange.

Nadat die Britte die Kaap verower het, was daar ’n klein groepie, die sogenaamde “Cape Dutch”, wat hul dienste vir die nuwe regering aangebied het, Engelse gewoontes aangeleer het, onvoorwaardelike trou aan die nuwe regering gesweer het – en gou verengels het. Hulle was egter onverteenwoordigend. Die meeste burgers het voortgegaan om hulle te vereenselwig met die kultuur en instellings waaraan hulle gewoond was – die landdros en heemrade en hul kerk en gemeente. Hulle was wel bewus van die minagting waarmee leidende figure in die Engelse gemeenskap “the Dutch” en hul kultuur bejeën het.

In Britse oë het die meeste burgers niks meer as Hollanders gebly nie – met die implikasie dat dit ’n minderwaardige status was. Dertig jaar nadat Brittanje die Kaap vir ’n tweede keer verower het, het Christoffel Brand, ’n leidende Afrikaner in Kaapstad, geskryf: “Die veroweraars het alles ingespan om hulle daaraan te herinner dat hulle Hollanders is.”57

Geskiedeniswerke in Engels is geneig om die Groot Trek grootliks op grond van materiële belange te beoordeel, soos die vrystellig van slawe en die sug na grond anderkant die koloniale grense. Wat hulle egter oor die hoof sien, is die minagting van baie regeringsamptenare en die groot gebrek aan verteenwoor­digende instellings waardeur die burgers hul menings kon lug.

Olive Schreiner, wat ’n paar dekades ná die Groot Trek as ’n goewernante van boerekinders in Cradock en ander oostelike distrikte gewerk het, het die volgende kommentaar op die trek gelewer:

Wat die koloniste se harte die meeste verbitter het, was die koue onverskilligheid waarmee hulle behandel is en die bewustheid dat hulle as ’n onderworpe en minderwaardige ras beskou is. Die verbittering het so intens geraak dat groot getalle individue omstreeks 1836 be­sluit het om die kolonie vir altyd te verlaat en ook die tuistes wat hul geskep het.58

Ná 1994, tweehonderd jaar ná die regimeverandering van 1795, was dit weer die vernedering wat die swart nasie die vorige twee eeue aangedoen is wat die nuwe regering se politiek bepaal het.

Die sentrale vraag

Die groot vraag wat ek aan die begin van my loopbaan aan myself gestel het, was: Vanuit watter perspektief gaan ek my storie vertel? Tony Judt was een van die gerespekteerde historici van ons tyd. Hy is van Joodse ouers in Londen gebore en het daar grootgeword. Hy het hom nooit spesifiek Joods of Engels gevoel nie, maar op verskillende tye het hy hom met albei identiteite vereenselwig. Hy was nie ’n radikaal nie en ook nie ’n konvensionele liberaal nie.

Judt het daarop gewys dat mense in die gewone lewe eerder die persoon vertrou wat openlik sê: “Dis die hoek van waar ek kom en waaruit ek my storie vertel,” as die een wat hom probeer voordoen as iemand wat heeltemal objektief is.59 ’n Mens verwerp natuurlik nie die noodsaak om partydigheid te vermy nie, maar gee op stuk van sake jou eie persoonlike vertolking.

Ek het ook geleer dat ’n mens goed lig kan opsteek by ’n historikus met ’n ander ideologiese perspektief as jou eie. Ek en Rick Elphick het saam in die slothoofstuk van The Shaping of South African Society die vorming van die vroeë Kaapse samelewing ontleed. Ek het in hierdie samewerking meer oor geskied­skrywing geleer as in al die klasse op Stellenbosch.

’n Fokus op sowel die globale prentjie as die detail is belangrik. Sonder my detailstudie van die Kaap tussen 1780 en 1812 sou ek nooit die groter prentjie van die vorming van ’n bepaalde samelewing gesnap het nie. Dieselfde was waar van die oorgang van wit na swart beheer in die jare tussen 1960 en 1994. Miskien was Piet van der Merwe reg dat elke voornemende historikus eers ’n vakleerlingskap moet aflê met die skryf van ’n konvensionele proefskrif oor ’n afgebakende tydperk lank gelede voordat hy ’n onderwerp in die kontemporêre geskiedenis aanpak.

Ode aan geskiedskrywing

’n Vraag wat ek my dikwels in die jaar aan die Yale-Universiteit afgevra het, was: hoe kan die studie van die geskiedenis mense, en veral die Afrikaners, bewus maak van die wyse waarop hulle van Engelse politieke, ekonomiese en kulturele oorheersing bevry is en andersyds hulle inspireer om vir vryheid vir almal in Suid-Afrika te veg? Ek het in een van De Kiewiet se boeke op hierdie insig afgekom:

Die funksie van geskiedenis is om wysheid en ervaring tot elke geslag se beskikking te stel. ’n Lewenskragtige en onafhanklike geskiedskrywing is meer as ’n kulturele ornament.

Dit is ’n onmisbare agent vir wyse en suksesvolle aksie in alle menslike probleme. In die akademiese wêreld kom die geskiedskrywer se kuns naaste aan staatsmanskap. Sonder historici kan ’n samelewing nie ryp word en kan dit ook nie op ’n wyse manier besluite neem nie. Daar is ’n reële verband tussen demokrasie en ’n vrye, geïnspireerde geskied­skrywing …

Op sy beste is geskiedenis die plek waar alle kennis ontmoet.60

Hierdie ode aan geskiedskrywing het vir my ’n bron van inspirasie gebly.

Hermann Giliomee: Historikus

Подняться наверх