Читать книгу Kronkelpad - Irma Joubert - Страница 5
Hoofstuk1
ОглавлениеDie jong meisie voor haar het ’n dik bos rooibruin hare en bruin oë. Haar hare is in ’n bol om haar kop ge-tease en stokstyf gespuit. Sy het egalige, wit tande en ’n mooi vel – die meeste jongmense het deesdae mooi velle en tande, dink Lettie. Die meisie het ’n te groot, swart hemp aan met dik skouerstukke en ’n stywe jean. Aan haar voete het sy plat plastieksandale – “jellies”, noem die jongmense dit. ’n Moderne jong meisie, dink Lettie vlugtig.
“My naam is Rialien Naudé,” sê die meisie effens ongemaklik. “Ek het gehoop … Dokter … kan my help?”
Modern, miskien, maar tog ’n ietwat onseker, besluit Lettie. “Jong, ek praktiseer eintlik nie meer nie, net so nou en dan, los ek af,” sê sy vriendelik.
“Nee, nee, dis nie … dokter-goed nie,” sê Rialien half apologeties. “Dis … ek is ’n tweedejaar-geskiedenisstudent en ons moet ’n taak uitwerk. Ek het gehoop Tannie … Dokter kan my help.”
Lettie glimlag stadig. “Jy kan my maar tannie Lettie noem, Rialien. Maar van geskiedenis …” sy skud haar kop, “van geskiedenis weet ek nie veel nie.”
“My ma het gesê … Tannie is ’n bekende dokter?”
Lettie lag saggies. “Wel, ek glo darem regtig nie ek is ’n bekénde geneesheer nie,” sê sy.
“My ma en my pa sê dokter Louw … Tannie is ’n legende in hierdie kontrei,” sê Rialien versigtig.
Nou lag Lettie en skud haar kop. “Verduidelik maar eers vir my waaroor jou taak moet gaan.”
“Dis eintlik nie regtig ’n geskiedenistaak nie, dis soort van …” Rialien lyk bietjie onbeholpe, sy beduie met haar hande. “Dis meer soos … e … om te wys ons kan navorsing doen, soos … emm …”
“Soos … historiografie?” vra Lettie bietjie geamuseerd.
Die jong meisie se mond val ’n oomblik oop, dan verhelder haar bruin oë. “Tannie weet van historiografie?”
Lettie glimlag steeds en knik. “Hoe moet jy jou navorsing doen?” vra sy.
“Ons moet eerstens iemand in ons gemeenskap kry met ’n storie,” begin Rialien entoesiasties, “soos, ja … iets uit die geskiedenis, en dan moet ons die storie opteken. Maar ons tegnieke en navorsingsbronne is die belangrikste, ons moet … emm … primêre en sekondêre bronne gebruik.”
Haar hande bly besig, byna senuweeagtig besig – dit beduie, vee oor haar gesig, rus ’n oomblik op haar skoot, beduie dan weer. “Dit beteken ons moet ’n onderhoud voer, dis ’n primêre bron, en dan moet ons probeer ander primêre bronne kry, soos briewe of foto’s of iets. So as Tannie so iets het, sal ek dit versigtig gebruik en vir Tannie later weer teruggee, Tannie hoef nie te worry … te bekommer nie. En die sekondêre bronne sal ek self kry, dis geskiedenisboeke, of as Tannie dalk iets soos … emmm … koerantknipsels het, kan ek daarvan ook gebruik en teruggee, ons prof het gesê ons kry die take net so terug, ongeskonde …”
“En jy glo ek het ’n storie?” vra Lettie en staan op. “Ek gaan vir ons bietjie tee maak, of verkies jy koffie?”
“Tee sal lekker wees, dankie, Tannie,” sê Rialien en drentel met haar tweet-tweet-sandale agter Lettie aan kombuis toe. “Tannie het regtig ’n baie mooi huis.”
Lettie glimlag. “Dankie,” sê sy.
In die kombuis kyk die jong meisie ’n oomblik rond en gaan dan voort met gesels: “Ek weet Tannie het ’n storie, eintlik baie stories, want Tannie het in sulke interessante tye gelewe, oorloë en goed.”
Lettie stap wasbak toe en tap die ketel vol water. “Eintlik is alle tye spesiaal op hulle eie manier,” sê sy. “Die 1980’s, waarin ons nou leef, is ook baie interessante tye. Dink byvoorbeeld maar aan die bosoorlog aan die grens. Jy ken tog sekerlik baie jong manne wat grens toe is, hoekom skryf jy nie daaroor nie?”
Die kind trek haar fyn neusie effens op. “My broer was grens toe,” sê sy, “maar dis nie geskiedenis nie, dis sommer net soos wat nóú gebeur. Ek soek iets wat lank terug gebeur het, iets wat ander mense nie weet nie, of al van vergeet het.” Sy byt ’n oomblik aan haar onderlip voordat sy aangaan. “My ma het gesê ek moet eintlik by Dokter … by tannie Lettie hoor van die polio-epidemie, my ma sê julle het dit kinderverlamming genoem?”
Lettie se hande verstil ’n oomblik, haar oë versluier deur haar ooglede wat sy afgewend hou. Dan haal sy twee koppies en pierings uit die rak bo haar kop. “Kom ons dink eerder aan ’n ander storie,” sê sy.
“O,” sê die jong meisie effens teleurgesteld. “Wel, ons het geleer van die rebellie …” Sy bly onseker stil. “Dit was … seker voor Tannie se tyd, nè?” glimlag sy verleë.
Lettie onderdruk ’n glimlag. “ ’n Klompie jare voor my tyd, ja.”
“En toe het ons geleer van die Groot Depressie en die armblankes.” Haar gesig bly onseker. “Kan Tannie dalk vir my persoonlike ervarings vertel oor die depressie? Of die armblankes?”
Lettie skud haar kop effens. “In ’33 was ek nog ’n laerskooldogter. En ek was ’n bevoorregte kind, my pa was die dorp se geneesheer, ons het nie werklik gebrek geken nie. Nee, die depressie gaan ook nie werk nie. Ek kan dalk vir jou die storie vertel van ’n armblanke-seun wat saam met my in die klas was, Gerbrand Pieterse, sy pa was ’n bywoner op een van my vriendinne se pa se plaas. Gerbrand is later Tweede Wêreldoorlog toe, Noorde toe, maar ek ken nie regtig sy storie so goed nie.” Sy tel die skinkbord met teegoed op. “Kom, ons gaan drink ons tee op die sonstoep.”
Rialien tweet-tweet weer agter haar aan, gesels sommer so in die loop. “Wel, miskien kan Tannie vir my iets anders vertel uit die tyd van die Tweede Wêreldoorlog? Tannie was mos toe al groter?” por sy.
“Ja-a, ek was in matriek toe die oorlog uitgebreek het in ’39, ek onthou nog daardie dag.” Lettie dink ’n rukkie. “Ek kan jou vertel van die oorlog, of miskien van die Groot Trek- Eeufees van 1938, ek dink ek het nog ’n feesprogram en ek het beslis enkele uitgawes van Die Jongspan wat alles oor die fees bevat het, ek sal dit net moet soek. Kom ons drink rustig ons tee, dan sal ons mos baie lekkerder kan gesels, dink jy nie?”
Rialien glimlag verleë. “Tannie, dit sal lekker wees,” sê sy, “maar ek sal nie vandag lank kan bly nie, my broer kom my oor tien minute weer oplaai. Ek wou eintlik net kom hoor het of ek dalk môre kan kom gesels? As dit … emm … reg is met Tannie?”
“Goed,” knik Lettie, “laat my bietjie dink, dan gesels ons môre. Hoe hou jy van jou tee?”
“Baie melk en twee lepels suiker, dankie, Tannie.”
Nadat die jong meisie weg is, gaan sit Lettie op haar gunstelingstoel voor die venster, waar sy oor haar mooi tuin uitkyk. Ek kan seker vir haar vertel van die Groot Trek-Eeufees in 1938, dink sy, van die tien ossewaens wat deur die land getrek het, en die Voortrekkers van regoor die land wat Pretoria toe gehardloop het met brandende fakkels. Sy glimlag stadig: Sy was daardie tyd in vorm IV. Hulle het die res van die jaar op Vrydae lang Voortrekkerrokke met ’n kantnekdoek en ’n kappie skool toe gedra, en die seuns het velbroeke en onderbaadjies gedra.
Sy onthou die rye en rye wit tente teen Robert’s Heights, en die optog met die vlae en hoe vreeslik warm dit was. Sy onthou veral die aand met die brandende fakkels, toe Christine omgekyk het en amper haarself aan die brand gesteek het.
Maar hoe sal sy vir die meisie wat eintlik nog kind is, kan vertel van die trots in haar daardie nag toe al die vreugdevure reg rondom Pretoria begin brand het? Van die opwinding in haar toe die kanonskote met sonsopkoms van die sestiende die slapende aarde wakker ruk, hoe die kranse daardie vroeg-oggend antwoord gegee het – die kind wat miskien nie eens meer die volksliedere van daardie tyd ken nie?
Hoe kan sy, ná meer as vier dekades, vir hierdie kind uit ’n nuwe geslag Afrikaners die emosie rondom daardie spesiale tyd in die Afrikaner se geskiedenis laat verstaan?
En dan, dit wat sy die duidelikste onthou van die hele tyd rondom die eeufees, dink Lettie waar sy voor die venster sit, is nie die feite en gebeure nie – nie eens die trots nie.
Wat sy die felste onthou, is die seer.
* * *
Lettie en Annabel is van altyd af maats. Lettie se pa is die enigste dokter op die dorp, Annabel se pa die enigste prokureur. Annabel se ma het kleintyd reeds besluit dat Lettie daarom goed genoeg is vir haar dogtertjie om mee te speel.
Lettie woon saam met haar ma en pa in hulle huis in Voortrekkerstraat. Die voorkamer is vir wanneer die dominee kom. Wintertye kuier hulle saans en Sondae in die groot kombuis met die tafel in die middel en die Aga-stoof waar haar ma gedurig skarrel en werskaf. Somertye, as die Bosveld warm en droog is, sit hulle op die agterstoep. Die gaas hou die vlieë en muskiete uit – behalwe as iemand vergeet om die klapdeur stewig toe te trek. Hulle huis ruik altyd lekker, want Lettie se ma maak vir haar en haar pa verrassinkies as hulle huis toe kom.
Annabel woon in die groot huis hoër op in hulle straat. Voor is ’n halfmaanstoep met pilare en vier trappies, by die swaar voordeur is ’n klokkie wat Lettie moet lui as sy daar gaan speel. Dan maak ’n swart vrou met ’n netjiese uniform vir haar die deur oop. Binne is blink vloere en dik matte. Sy en Annabel mag net op die sonstoep speel, anders maak hulle die huis deurmekaar. Annabel se ma is ’n lang, maer vrou met pikswart hare, sy is baie kwaai. Annabel se pa is ’n groot oom, bietjie rooi in die gesig, met min hare en ’n bril. Maar hy is nooit by die huis nie, hy werk baie hard. Lettie sien hom net soms in die kerk.
Dis nie regtig lekker om by Annabel te gaan speel nie. Daarom speel hulle meestal by Lettie se huis.
In vorm II kom al die plaasskole van die omgewing se kinders ook dorpskool toe, hulle woon in die koshuis. Dis hoe Lettie vir Klara en Christine leer ken.
Annabel ken reeds vir Christine, want hulle ouers is vriende. Christine se pa is die LPR, die Lid van die Provinsiale Raad vir hierdie kiesafdeling, so hy is nogal belangrik. Maar Christine is nie belangrik nie, sy is net ’n maatjie.
Lettie hou dadelik van Klara en Christine, sy wens eintlik sy kan Klara se beste maat word. Maar Klara en Christine is beste maats. Lettie het nie ’n beste maat nie, sy en Annabel sal ook nooit béste maats word nie.
Lettie was nog altyd haar pa se mooiste, mooiste dogtertjie en haar ma se allerliefste poppie. Lettie se pa en ma is albei kort en vriendelik en baie, baie rond. Lettie lyk na haar pa én na haar ma en sy is gelukkig.
Maar halfpad deur vorm II sien sy vir die eerste keer werklik hoe lyk haar maats.
Klara het goudbruin, effens krullerige hare wat gedurig uit haar vlegsels kom, dan druk sy dit agter haar ore in. Sy het rooi wange en baie mooi, groen oë. Sy doen nogal goed in sport en sy sing régtig mooi. Sy is niks vet nie.
Christine is klein, sy het blonde krulhare en blou oë. Sy lyk altyd bietjie bang – of miskien nie bang nie, dalk net onseker – en sy sukkel bietjie met haar skoolwerk, Klara help haar gereeld. Christine is soos ’n porseleinpoppie, popmooi.
Annabel is lank en skraal, met goedgevormde bene en ’n sonbruin vel. Sy presteer baie goed in sport en sy is slim. Sy het lang, donker hare wat gewoonlik gevleg is, maar as sy kan, laat sy dit blink en syglad lank teen haar rug afhang. Sy het donker oë met wenkbroue in ’n netjiese boog gepluk, net soos die filmsterre, en ’n vol mond met pêrelwit tande.
Annabel is beeldskoon, besef Lettie in vorm II.
En die seuns hou van Annabel.
Saam met Christine en Klara kom ’n seun van die plaasskool af, Gerbrand Pieterse. Hy kom met ’n armsorgbeurs, die goewerment betaal vir behoeftige kinders. Hy is groot en sterk met rooi hare en sproete. Hy is baie wild, Lettie is bietjie versigtig vir hom.
Klara het ’n broer wat net een jaar ouer is as hulle – De Wet.
Ál die meisies in die skool is verlief op De Wet, selfs die matriekmeisies, al is hy jonger as hulle.
De Wet kan alles doen: hy is die beste atleet, hy speel in die eerste rugbyspan, al is hy net in vorm III, hy staan elke jaar eerste in sy klas, hy sing die hoofrol in die operette. En hy is vriendelik, met álmal, ook met Lettie.
Hy onthou selfs haar naam.
“Hallo, Lettie,” sê hy die oggend by die kermis, “ek het nie geweet ’n slimkop soos jy kan pannekoek bak nie?”
“Nee, ek verkoop net,” sê sy verleë. Hy is lank, sy moet opkyk na hom, sy oë is groen en vol lag.
“Wel, dan het hulle beslis die regte persoon ingespan om die geldsake dop te hou. Dis darem ’n lieflike dag, nè?” gesels hy en leun sy lang seunslyf gemaklik oor die verkooptafel. “Hoe lyk dit, is daar nie dalk ’n floppie of twee daar agter vir ’n bankrot man nie?”
Sy vind drie floppies, gooi ekstra baie kaneelsuiker oor.
“Dankie, jong, jy is ’n doring,” sê hy vrolik.
Daardie aand staan sy lank voor die spieël in haar ma se kamer. Sy is kort en rond. “Dis net babavet, jy sal dit ontgroei,” troos haar pa altyd – maar sy is al byna vyftien jaar oud.
Sy leun nader aan die spieël, beskou haar gesig krities – haar vel lyk nie soos Klara of Annabel s’n nie. “Dis net omdat jou vel bietjie vetterig is, maar dit beteken dat jy eendag nie so gou plooie sal kry nie,” troos haar ma. Maar sy is byna vyftien – eendag is nie nou belangrik nie.
En sy dra ’n bril.
Sy het die bril gekry toe sy in standerd drie was.
Annabel het kliphard gelag. “Jy lyk soos ’n uil, met jou ronde gesig en daardie koeëlronde bril, dit laat jou oë nog groter lyk,” het sy gesê.
Die ander kinders het saamgelag. Almal het altyd gedoen wat Annabel sê. Sy wat Lettie is, het daardie dag besluit sy sal nooit weer met Annabel maats wees nie.
Maar daardie selfde aand bring Annabel se pa vir haar en haar klein boetie, Reinier, na Lettie-hulle se huis, hulle gaan die nag daar slaap. En Lettie se pa ry weg saam met Annabel se pa.
Eers in vorm I vind Lettie uit van die groot probleem in Annabel-hulle se huis, die probleem wat maak dat Annabel en haar boetie elke nou en dan by Lettie-hulle oornag – die drankduiwel, noem Lettie se ma dit.
Daardie aand in vorm II, voor die spieël in haar ma se kamer, besluit Lettie om nóóit weer koek of poeding of lekkers te eet nie.
Haar voorneme hou nie lank nie.
Die vlinders in haar maag elke keer as De Wet naby kom, daardie vlinders bly. En dit is droomlekker.
* * *
Toe, in vorm IV, kom die Voortrekkerkamp.
Lettie se pa laai haar voor die skoolhek af met haar koffer en haar koekblik en haar rol komberse. “Hier! Lettie!” waai Klara van waar sy en Christine naby die vragmotor staan.
De Wet en sy maat, Braam, is besig om al die koffers en sakke op oom Klasie se vragmotor te laai. De Wet spring van die bak af en loop met lang treë na waar sy staan. “Hallo, Lettie, kan ek maar jou koffer laai?” vra hy.
“Ek … kon dit maar gebring het,” stotter sy onbeholpe.
“Nog nooit gesien!” lag hy gemaklik. Sy oë blink, sy vaal kuif val oor sy voorkop.
Die vlinders fladder amper by Lettie se rooi ore uit.
Annabel kom eers daar aan toe hulle al byna gereed is om te vertrek. Haar Voortrekkeruniform se romp is te kort en haar hare is nie vasgemaak nie. Maar sy lyk mooi – sy lyk mooi in enige iets. “De Wet! Braam!” roep sy en wys na haar groot koffer en rol komberse.
Sy is ’n regte flerrie, dink Lettie en stoot haar dik bril terug op haar neus. Maar sy kan nie help om Annabel se lang bene onder die kort rok te sien nie, om ’n tikkie bewondering te voel vir haar waagmoed nie.
Daardie aand maak hulle ’n groot kampvuur. Hulle sit plat op die grond rondom die groot vuur, Lettie sit aan Klara se een kant, Christine aan die ander kant.
Toe Lettie opkyk, sien sy hoe Annabel oorstap na die oorkant van die vuur. Sy sien hoe Annabel afbuk en met De Wet praat. Sy sien hoe De Wet oplag na Annabel en dan opskuif, sy sien hoe Annabel haar tussen De Wet en Braam inwurm.
Die seerkry begin in haar keel opstoot.
Hulle sing Voortrekkerliedjies, Lettie sing verby die knop in haar keel.
Oom Jan Kommandant vertel vir hulle van die Voortrekker-Eeufees, van die simboliese Ossewatrek en die fakkelloop.
Lettie hoor nie wat hy sê nie. Die rook van die vuur brand haar oë, sodat sy moet wegkyk.
Dit word die aakligste, die ongelukkigste naweek in haar hele lewe. Sy ontdek in haar ’n groen jaloesie wat sy nie ken nie, wat sy nie wil hê nie.
Want die hele naweek lank tert Annabel agter De Wet aan.
En die hele naweek lank lyk De Wet soos ’n kat wat room gekry het.
* * *
Die laaste kwartaal leer sy harder as ooit, sy lees haar voorgeskrewe boeke weer almal deur, sy begin selfs die koerante lees sodat sy darem kan saampraat as Klara en Annabel gesels oor die politiek.
Sy begin vergeet van die kamp-naweek.
Op die laaste dag van die kwartaal kry sy die prys vir die beste leerling in vorm IV. Maar sy word nie aangewys as prefek nie, Christine ook nie. Toe Klara en Annabel opstap verhoog toe, skuif Christine een sitplek op om langs haar te kom sit.
En toe Klara aangewys word as hoofmeisie, tree De Wet, wat ook op die verhoog is as die vorige jaar se hoofseun, onmiddellik vorentoe, sit sy arm om haar skouers en gee haar net daar, voor die hele skool, haar eerste soen van gelukwensing.
“O!” sug Christine hier langs haar, “watter ander seun in die hele skool sal sy suster so voor almal soen? Lettie, is hy nie net die wonderlikste mens in die wêreld nie?”
Lettie knik stil. Maar sy vóél elke woord, en haar hart groei groter as haar lyf, sodat daar nie genoeg plek vir haar asem is nie.
* * *
Die Maandag vertrek hulle met die trein na die Eeufeesterrein. Vanaf die Pretoria-stasie neem groot busse die kinders na die kampterrein. “My bene is lam gery, ek staan sommer,” sê Annabel, want daar is meer kinders as sitplekke in die bus. Maar toe twee seuns van Louis Trichardt af opskuif en vir haar plek maak, skuif sy tog tussen hulle in.
Hoe kry sy dit rég? wonder Lettie.
En toe hulle hul bagasie tent toe moet dra, tel Annabel nie haar koffer op nie, sy staan en rondkyk. “Ek vind net gou ’n paar sterk manne om ons te help dra.”
“Ek sal self my koffer dra,” keer Lettie benoud.
“Nooit gesien nie!” sê Annabel. “Jy sal sien hoe gretig is die galante here om ons te help.”
En dit is ook so. Annabel draai haar kop effens skuins, haal haar skouers kamma moedeloos op en gee so ’n arme-klein-ek glimlaggie. Drie seuns staan dadelik nader. “Kan ons help?” vra die een vir Annabel.
Sy kyk totaal verras op. “Regtig? Maar … die koffers is vreeslik swaar!”
Die een ou tree vorentoe en tel die grootste koffer op. “Og, nee, dis sommer niks,” sê hy.
“Sjoe,” sê Annabel, “jy moet regtig sterk wees.”
Die drie seuns val langs Annabel en Lettie in. Annabel loop die hele pad tot by die tent met hulle en skerts en lag, Lettie loop stil en ongemaklik saam.
Alleen in die tent draai Annabel na haar. “Jy sien, Lettie,” sê sy en gooi haar Voortrekkerhoed argeloos op haar bondel komberse neer, “dis hoe ’n mens met seuns, met mansmense moet werk. Hulle is soos ’n trop boerbokke, as ’n mens hulle net manlik laat voel, eet hulle uit jou hand uit.”
* * *
Die volgende dag wag hulle vir meer as twee ure in die bloedige warm son vir die waens wat agtuur al moes gekom het, die kinders raak later kriewelrig.
“Een het seker ’n pap wiel gekry,” sê een van die seuns.
“Of iemand het probeer om die wa voor die osse te span,” sê ’n ander.
“Ag, wel, agteros kom ook mettertyd in die kraal,” sê ’n derde een.
“Julle is lekker voor-op-die-wa, nè?” speel Annabel saam.
Toe lag al die seuns en gesels met haar.
“Die seuns hou altyd van haar,” sê Lettie saggies en probeer ongemerk die sweet van haar neus afvee.
“Sy’s slim, dis hoekom,” sê Christine.
Slim is nie genoeg nie, dis by verre nie genoeg nie, weet Lettie. Maar sy sê niks.
* * *
Donderdag, 15 Desember is weer ’n warm, warm dag. “Ons gaan vandag na die skyngeveg tussen die twee groepe perde-ruiters kyk,” sê Klara opgewonde. “Boelie en De Wet neem deel, ek dink dit gaan heerlike pret wees.” Boelie is Klara se oudste broer.
De Wet neem deel, op sy perd. Lettie trek haar asem diep in.
Ná oggendkos stap hulle teen die Lyttelton-heuwel uit om mooi te kan sien. “Sjoe, ons moes sambrele gebring het, vandag brand ons dood,” sê Lettie. Sy vóél behoorlik hoe rooi die son haar brand.
“Ag, moenie so ’n ouvrou wees nie, Lettie,” sug Annabel. “ ’n Bietjie son sal jou baie goed doen, jy is reeds so bleek soos ’n witmuis.”
Die fees waarna sy soveel uitgesien het, word minder en minder lekker.
Presies halftien kom die bevel: “Storm!”
Kleingeweervuur begin om hulle knetter. Van oraloor begin die perderuiters tussen bosse en bome deur beweeg, skuil-skuil beweeg hulle vorentoe. Bomme begin ontplof, die geraas is oorverdowend. Hier en daar spring ’n ruiter van sy perd af, probeer sy pad oopskiet.
Christine se twee hande is teen haar gesiggie vasgedruk. “Sê nou hulle skiet mekaar dood?” vra sy benoud.
“Ag, hemel, Christine,” sê Annabel ongeduldig, “glo jy nou sowaar hulle gebruik regte koeëls en bomme? Jy sal wragtie ook enige iets glo!”
Dan sien Lettie hom. Hy lê vooroor op sy perd, sy lang lyf plat teen die perd se lyf vasgedruk, die toom kortgevat in sy twee hande. Hy jaag reg op die vyand af.
“Daar’s De Wet!” roep Klara skielik opgewonde. “Kyk, dáár op die oopte! Kyk hoe jaag hy!”
Lettie bly kyk, tot hy agter ’n groepie bome verdwyn.
Toe blaas sy haar asem stadig uit. Daar kan op hierdie aarde nie ’n meer perfekte man wees nie – daar kan nie.
En niks wat verder gaan gebeur, geen vertoning of emosionele toespraak of vuurwerke wat verder in hierdie wonderlike dae plaasvind, kan ooit hierdie paar oomblikke oorskadu nie.
Vroegaand, toe hulle tussen die tente deur na die kampvuur stap, sê Klara: “Weet julle, ek is so trots om ’n Afrikaner te wees.”
“Ek ook, Klara,” sê Christine. “Ek sal hierdie week nooit vergeet nie.”
Ek sal hierdie week ook nooit vergeet nie, dink Lettie stil. Want ek is verlief, ek is vreeslik verlief – miskien het ek dalk lief, vir ewig – en dis die wonderlikste gevoel in die wêreld.
* * *
“Waar is Annabel?” vra Christine skielik toe hulle langs die vuur sit.
“O, sy is wel hier êrens,” sê Klara vaag.
“Moet ons haar nie gaan soek nie?” vra Christine.
“Nee wat, los haar maar,” sê Klara.
Iemand begin pensklavier speel, hulle sing: “Die sweep het geklap en die wawiele draai …”
Lettie se oë soek stadig tussen die mense deur.
Nou kom die konsertina by. “Aanstap, rooies, die pad is lank en swaar …”
Daar is te veel mense om die kampvuur, haar oë vind hom nie.
“Daar kom die wa …” en “Hoe ry die Boere sit-sit so …”
Sy kan nie sien waar hy sit nie.
“O, boereplaas, geboortegrond, jou het ek lief bo alles!”
Darem nie bo álles nie, dink sy lui-gelukkig. Miskien is die fees tog nie so sleg soos wat sy vanoggend gedink het nie.
’n Heerlike loomte begin oor haar toesak. “Ek is baie vaak, ek gaan inkruip,” sê sy vir die ander twee.
“Ons kom ook nou-nou,” sê Klara. “Môre is die heel belangrikste dag, dan wil ons nie moeg wees nie.”
Lettie stap stadig tussen die tente deur, sy hoor hoe die mense agter die trekklavier aansleep: “Liewe maan, jy seil so langsaam …” Voor haar lê die koppie onverstoord, rotsvas geplant in sy eeue-oue klipfondament, bo haar span die sterrehemel wyd en helder.
In haar is ’n geluk, ’n vreugde so diep dat woorde dit nie kan beskryf nie. Miskien is dit selfs ’n wonderlike, wónderlike kamp.
Sy gaan staan teen ’n boom, sy voel die harde, growwe stam onder haar hande.
Ek is deel van die beste volk op aarde, weet sy, ek is ook tróts om ’n Afrikaner te wees.
Sy maak haar oë toe. Haar hart klop warm deur haar.
En ek is verlief, dink sy, en dis … wonderlik. En ek is váák, glimlag sy vir haarself, ek wil gaan slaap.
Sy stap in die helder maanlignag tussen die tente deur.
Dan sien sy hulle. Die meisie is in die man se arms, die man se hande gly teen haar rug af, druk haar lyf stywer teen syne vas. Die man se kop is afgebuig, sy mond gesluit oor hare.
Dis ’n lang meisie, en ’n langer man.
Dis Annabel.
En De Wet.
Die oomblik stol. Vries vas.
Toe draai Lettie saggies weg en loop met ’n ompad tent toe.
Haar hart pomp swaar en yskoud. Sy trek haar nagrok aan, sy rol haar komberse oop.
Die ys om haar hart begin smelt, sy rol in ’n bondeltjie en druk haar gesig in haar kussing.
Sy lê doodstil, die hartseer soos ’n harde kors om haar hart. Sy moet net nie huil nie, sy moet net asseblief nie nou begin huil nie.
Sy verlang na haar ma.
Kort daarna hoor sy hoe Christine en Klara saggies inkom.
Dan fluister Christine in ’n dik stemmetjie: “Klara, hy hét haar gesoen, ek het dit self gesien.”
“Ag, dis sommer niks,” fluister Klara terug. “Seuns is maar so, hulle sal enige meisie soen wat in hulle skote val. En jy weet hoe is Annabel …”
Maar … De Wet is tog nie soos alle seuns nie, huil Lettie se hart, haar hele wese. Hy is …
Sy lê doodstil op haar klein eiland komberse, sy hoor hoe haar twee maats saggies hulle komberse ooprol en hulle kussings uitskud.
Sy hoor veral vir Christine.
Christine is ook verlief op De Wet, weet sy met die yshand om haar seer hart, pragtige klein Christine is ook verlief. En sy is ook seer vanaand, hart-huil-seer.
Net Klara haal na ’n rukkie diep en rustig asem.
En laatnag, toe Annabel terugkom en raserig regmaak om in die kooi te klim, lê Lettie steeds doodstil. “Slaap jy al?” vra Annabel toe sy haar komberse langs Lettie ooprol.
Nee, dink Lettie. Ek lê al ure, doodstil, maar die slaap bly weg.
Want ek weet nou: ek is my dierbare ouers se kind, gene van hulle gene. Ek is Lettie Louw. En iemand soos De Wet Fourie sal nooit vir my beskore wees nie.