Читать книгу Kronkelpad - Irma Joubert - Страница 9

Hoofstuk 5

Оглавление

Die jong meisie in die oorgroot, donkerblou hemp oorkant Lettie blaas haar asem stadig uit en laat sak haar pen. “Ek was bang hulle raak eindelik gevang,” knik sy ernstig. “Dit voel vir my al die Jode wat tydens die oorlog probeer wegkruip het, is uiteindelik aangekeer.”

“Nog ’n koppie tee vir jou?” vra Lettie.

Rialien knik. “Met baie melk en twee lepels suiker, dankie, Tannie.”

Lettie glimlag effens en skink die tee.

“En … die kampe was erg, nè, Tannie?”

Lettie se hande verstil. “Baie erg,” sê sy sag.

“Soos ons eie konsentrasiekampe ook maar was,” sê die kind.

Lettie kyk op. Miskien verstaan hierdie jongmensie tog meer as wat sy na buite wys. “Die mense wat in die kampe was,” sê Lettie peinsend, “het later jare nie weer daarvan gepraat nie. Dit was asof die herinneringe net te pynlik was, asof hulle dit totaal uit hulle geheue en hulle lewens moes sny om te kan oorleef.”

“Maar … Tannie weet tog wat met Marco en Rachel-hulle gebeur het?” vra Rialien angstig.

“Gedeeltelik, net maar die bolangse feite,” antwoord Lettie. “Die volle waarheid lê elders, êrens dieper, hopelik in die vergetelheid.”

Rialien kyk haar effens verward aan. Dan glimlag Lettie gerusstellend. “Ek sal vertel wat ek weet,” sê sy.

* * *

“Kan ons net ons goed gaan haal? Ons jasse en … goed?” vra Marco toe hulle by die soldate kom. Dis drie bloedjong seuns, sien hy, dit lyk of hulle nog op die skoolbanke moet sit.

Die soldaat met die yl Hitler-snorretjie druk sy geweerloop teen Marco se bors, die tweede een met die rooi gesig steek sy geweer in die waai van Rachel se rug in. “Hou julle hande in die lug!” bulder hy senuweeagtig.

“Ons hande bly in die lug,” sê Marco so rustig moontlik in Duits. “Laat een van die meisies net ons goed gaan haal. Of die ou man. Ons sal nie oorleef sonder ons jasse nie.”

Die soldate kyk effens onseker na mekaar. Dan beduie een van hulle met die kop na Ester. “Loop haal julle jasse!” beveel hy. “Net julle jasse!”

“Bring ons jasse, ons musse ook, en handskoene en truie,” sê Marco vir Ester in Italiaans.

“Wat sê jy daar?” brul die een soldaat. “Praat Duits!”

“Sy verstaan nie Duits nie,” sê Marco. “Ek het gesê sy moet ons jasse en musse bring.”

“Julle moenie iets probeer nie. As daardie een iets probeer, skiet ons julle ander drie vrek, op die plek. Sê vir haar!” skree snormannetjie.

“Sy sal nie iets probeer nie,” sê Marco kalm.

Ester hardloop soos ’n verskrikte wildsbok op haar brandmaer bene teen die rant op. Toe sy weer oorhaastig, gly-gly teen die rant afkom, is sy gepak met jasse. “Ek het vir ons die twee roosterkoeke gebring wat Rachel gisteraand gemaak het,” sê sy sag toe hulle begin stap. “En ons bekers en borde. Ek het nie geweet wat nog nie.”

“Dit was slim gedink,” sê Marco.

Hulle sukkel vir twee dae bergaf. Die tweede dag kan mister Rozenfeld nie meer nie. “Laat my maar hier, Marco,” sê hy doods.

“Ons is amper onder,” sê Marco en neem die ou man stewig onder die arm.

“En as ons onder is?” vra die ou man.

Marco antwoord nie. Wat kan hy sê?

By die naaste dorp word hulle agterin ’n weermagtrok geboender. Toe rammel hulle verder bergaf. “Waarheen neem hulle ons?” vra Rachel in ’n klein stemmetjie.

“Ek weet nie,” antwoord Marco. “Waarskynlik na die een of ander … kamp.”

Mister Rozenfeld sit in ’n klein bondeltjie, sy nek diep ingetrek in die kraag van sy jas, sy kop en skouers hang. Ester sit styf teen Rachel, haar een hand klou aan haar suster se arm vas, met die ander hand is sy besig om die laaste stukkie van die roosterkoek te eet. Haar tande byt in die klipharde, droë koek vas, dan pluk sy met haar kop heen en weer om iets af te kry.

Kyk hoe lyk ons, dink Marco: gehawend, vuil, maer. Kyk hoe eet ons. Die genadeloos stryd om oorlewing het van ons diere gemaak.

* * *

Hulle bly tydelik in ’n weermagtent saam met ’n Joodse gesin uit Milaan. Daagliks kom nog Jode vanuit die noordelike en noordwestelike streke van Italië aan.

In die kamp kry hulle vir die eerste keer in baie maande weer nuus van die buitewêreld. Dis einde Oktober, vind hulle uit. Mussolini het reeds aan die begin van Augustus tot ’n val gekom.

Marco kyk die man wat vertel verstom aan. “Mussolini is nie meer in beheer nie?” maak hy seker.

“Wel, in die grootste deel van Italië nie,” antwoord die man. “Weet jy dat die Noord-Afrika-front in Mei al oorgegee het?”

“Ons weet van niks wat ná April vanjaar gebeur het nie,” sê Marco.

“Ja-nee, die Duitsers moes ook maar terugtrek, hulle het goed op hulle herrie gekry daar in die woestyn,” vertel die man tevrede. “En toe seil die Geallieerdes sommer van daar af oor en kom land in Sisilië.”

“Die Engelse magte? Op Italiaanse grondgebied?” herhaal Marco.

“Engelse én Amerikaners,” beaam die man. “En toe dank die regering vir Mussolini af en hier teen einde Julie êrens smyt koning Victor Emmanuel vir Mussolini in die tronk en hy stel maarskalk Badoglio aan as eerste minister.”

“Badoglio? Wie’s dit?” frons Marco.

“Die nuwe eerste minister, mos,” snip Ester.

“Hy was eers in die weermag, ook maar ’n opregte ou fascis,” antwoord ’n jong man wat ook sit en luister. Marco het hom al ontmoet, sy naam is Josef.

“Ewenwel,” gaan die ouer man voort, “Badoglio onderhandel toe in die geheim met die Geallieerdes en op … e … êrens in September gee Italië oor …”

“8 September gee ons onvoorwaardelik oor …” verbeter Josef.

“… en nou is die Geallieerdes al in Suid-Italië,” voltooi die ouer man.

“Oorgegee?” vra Marco. “Maar dan’s dit mos nou vrede?”

“Dis wat jy dink,” gaan Josef beterweterig voort. “Toe die Engelse in Suid-Italië land, beset die Duitsers blitsvinnig van bo af die noordelike streke en van die SS-valskermsoldate bevry vir Mussolini uit die tronk en maak hom hoof van die pro-Duitse Repubblica Sociale Italiana.”

Marco skud sy kop. “So, ons is hier in Noord-Italië in ’n sosialistiese republiek steeds onder Mussolini?” maak hy seker.

“Eintlik onder Duitse beheer, Mussolini is net ’n marionet,” antwoord Josef.

“Dit was hy eintlik maar altyd,” sê Marco.

“Dit het ons Jode se lot radikaal verander,” neem die ouer man weer oor. “Geen Jode is na kampe gestuur voor die Duitse besetting so ’n maand of wat gelede nie. Maar daarna is die SS en die Nazi-honde losgelaat om ons uit te ruik en vas te keer. Dis toe eers dat ons soos rotte in gate moes begin wegkruip.”

“Dan was ons jare van wegkruip in die grot onnodig?” sê Marco verslae.

“En Mama is onnodig dood?” sê Ester onseker.

“Nee,” sê mister Rozenfeld sag, “julle Mama is hierdie vernedering gespaar, sy sou dit nooit oorleef het nie. Sy rus waar daar vrede is.”

Die aand, toe Rachel styf in sy arms op die dun matrassie onder die growwe komberse lê, sê sy sag: “Ons jare in die grot was nie onnodig nie, Marco. Ek was by jou, elke dag. Dit was swaar, ja, maar dit was ook van die gelukkigste tye in my lewe.”

* * *

Daagliks sluit meer en meer Jode by hulle aan. Ná ’n week in die tentekamp neem volgepakte trokke almal stasie toe. Hulle klim in die wagtende trein, tot twintig mense in ’n kompartement vir ses.

“Ek hoor ons gaan na Triëst, die meerderheid van Noord-Italië se Jode woon daar,” sê een van die mans.

“Waar is dit?” fluister Rachel.

“Dis ’n hawestad in die verre noordooste,” antwoord Marco en vou sy arm om haar skraal skouers.

“Ek dink hulle stuur ons na La Risiera di San Sabba, dis naby Triëst,” vertel een van die ander mans.

“Is dit ook ’n weermagkamp?” vra Marco.

“Dit is oorspronklik gebou as ’n soort fabriek, voor die Groot Oorlog al,” antwoord Josef van die kant af. “Met die begin van die oorlog het die Deutsche Wehrmacht dit skynbaar ingerig as ’n kamp, eintlik ’n soort Polizeihaftlager – polisie-detensiebarakke.”

“Waar hoor jy dit alles?” frons een van die ouer vrouens skerp.

“ ’n Vriend van my woon in Triëst, hy werk in die industriële gebied, dis waar die kamp is,” antwoord Josef half ongeduldig.

“Daardie jong man hou homself darem maar vreeslik vernaam,” sê Rachel saggies vir Marco.

“Oppas wat jy sê,” antwoord hy met ’n glimlag. “Het jy gesien hoe loer hy en Ester vir mekaar?”

“Ag nee, Marco!” sê Rachel ontsteld.

Maar hy lag saggies. “Jou sustertjie word groot, sy is lankal nie meer ’n klein dogtertjie nie.”

Maar Rachel frons en skud steeds haar kop. “Sy is sestien, sy is nog te jonk,” hou sy vol.

“Ek hoor drieduisend Italiaanse soldate is kort gelede daar vermoor deur SS-offisiere en die Oekrainse bewaarders,” vul ’n derde man aan.

Marco voel hoe Rachel haar asem skerp intrek. Hy streel oor haar arms en sê hard: “Ek dink ons moet ons nie aan stories steur nie en maar self sien wat daar aangaan.”

“Ek stem saam,” sê die ouer vrou met die skerp stem. “Stories jaag net nagmerries op – daarvan het ons reeds genoeg, dankie.”

* * *

La Risiera di San Sabba is ’n onopvallende gebou op die dokke in die middel van ’n industriële gebied. Hulle loop soos ’n trop skape in die lang gang af en beland skielik in ’n groot binnehof. “Tree aan!” bulder ’n swaar man, “families bymekaar.”

“Tree aan, families bly bymekaar,” vertaal Marco vinnig in Italiaans.

Die verskrikte bondels mense probeer hulleself organiseer. Mans trap onseker rond, vrouens gryp en los, kinders begin huil, êrens gaan ’n hond histeries aan die blaf.

“Waar is die man wat kan tolk?” vra die offisier oor die megafoon.

“Dis jy,” stamp Josef aan Marco, “loop praat.”

Eindelik kry Marco en die Rozenfelds ’n kamernommer.

Dis ’n klein, donker kamertjie met geen venster nie. In die een hoek is vyf beddens en dun matrasse op mekaar gestapel. Teen die growwe mure is vae sketse – oorblyfsels van mense wat ook hier gewoon het.

Hulle rig die piepklein kamertjie so goed moontlik in. “Ons kan die ekstra bed as ’n soort pakplek gebruik,” sê Rachel.

“Nie dat ons veel het om daarop te pak nie,” sê Ester en haal hulle vier borde en bekers uit die sak.

Toe trek ’n jong man en vrou en hulle baba ook by hulle in. Hulle herorganiseer: die Rozenfelds stoot vir hulle drie beddens teen een muur, die nuwe aankomelinge kry twee beddens teen die oorkantste muur. Tussen hulle is ’n smal gangetjie.

’n Uur later tree hulle weer aan, hulle staan ure lank in die bittere koue. Mister Rozenfeld se bene begin later knak, Marco en Rachel hou hom regop. “Ek kan nie meer nie,” fluister hy skor deur droë lippe.

Eindelik kry hulle oorpakke van harde, gestreepte materiaal met ’n groot, geel Dawidster op die mou. “Dit is ons uniforms waarin ons sal werk,” tolk Marco vir die verslae bondel mense. Selfs die kinders kry oorpakke.

“Dit lyk soos die mansnagklere in die bioskoopprente,” giggel Ester toe hulle weer in die kamer terug is. “En dis vreeslik krapperig. Ek is bly Papa slaap met ’n nagjurk en slaapmus.”

“Nou is dit ook maar al wat ek het,” sê mister Rozenfeld gelate.

Hulle word ingedeel in werkspanne. Die mans werk in die rubberfabriek daar naby, Rachel moet by die kleremakers inval en Ester werk in die kampkombuis. Die kampwagte, vind hulle baie gou uit, is gewone misdadigers wat brutaal optree teenoor die prisoniers.

In die kamp is nie net Jode nie, saam met hulle is ook ’n groepie kommuniste, ’n hele paar sigeuners en inwoners van Slowakye en Slowenië.

* * *

Die lewe binne die hoë mure rondom Risiera di San Sabba begin sy eie ritme kry. Soggens douvoordag blaas die beuel, dan skuif die prisoniers stil in hulle reguit rye in vir die oggendparade. Die lyste name word baie presies afgemerk, dié wat die vorige dag of deur die nag siek geword het, word van die lys geskrap en die res kry hulle skep slap pap vir die oggend.

Soggens en saans is dit reeds bitter koud. Die mans vryf hulle hande vinnig teen mekaar om bietjie hitte op te werk, die vrouens vou hulle jasse stywer toe. Marco is baie dankbaar vir die warm Russiese jasse en musse wat die Rozenfelds nog uit Litaue saamgebring het.

Die kos is min. Maar ná die jare in die grot, is hulle buitendien nie gewoond aan veel nie. Hulle werk lang en harde ure, maar saans lê hulle op hulle drie smal bedjies en gesels saggies met mekaar. Net sommige nagte kerm die baba, dan bly die slaap weg.

En Ester se oë blink weer. Sy sit vroegoggende langs Josef teen die muurtjie in die binnehof en eet haar pap, saans verdwyn sy tot die beuel blaas, dan hardloop sy vinnig kamer toe. Vyf minute nadat die beuel geblaas het, soek die wagte met skerp ligte na enigiemand wat nog roer – hulle word gestraf.

Een aand kom Ester nie terug kamer toe nie. Rachel slaap die ganse nag nie, Marco moet haar fisiek terughou toe sy die deur wil oopmaak – sy wil met alle geweld haar sustertjie gaan soek. “Sy is by Josef,” probeer hy haar kalmeer.

“Maar … sy sal nie so iets doen nie!” sê sy ontsteld. “Ons is nie so grootgemaak nie, ons …”

Marco streel in die donker met sy vinger oor haar wang. “Dis maar dieselfde as ons, Rachel,” sê hy sag.

Hy voel hoe sy verstyf. “Nee, dit is nie!” sê sy ferm. “Ons is volwassenes, ons is verloof, ons ken mekaar al jare lank. Sy het die man minder as ’n maand gelede ontmoet, sy …”

“Laat haar begaan,” sê mister Rozenfeld vanuit die bedjie langs hulle. “Dis miskien die laaste bietjie vreugde in haar jong lewe, môre sterf ons almal.”

Rachel trek haar asem skerp in. “Papa kan nie so iets sê nie!” fluister sy ontsteld.

“Die dood hou vir my geen verskrikking meer in nie, net verlossing,” sê mister Rozenfeld stadig. “En dan is ek weer by julle Mama.”

Hulle lê doodstil op hulle katels, die woorde soos te swaar komberse versmorend oor hulle.

“Ek wens Ester was hier, ek is so bekommerd oor haar,” fluiter Rachel later naby Marco se kop. “En ek is so bekommerd oor Papa, dit lyk asof hy ook nou moed verloor het.”

Marco vou haar toe in sy arms. “Ester sal niks oorkom nie,” fluister hy terug. “Gun haar die geluk.”

Sy eie bekommernis strek verder as mister Rozenfeld, maar dit sê hy nie vir Rachel nie. Want Josef het ’n vinnige humeur en ’n vinniger mond aan hom.

En vandag het die wagte een van die ander astrante jong kapokhaantjies eenkant toe geneem. Die mannetjie was nie vanaand by parade nie, Marco weet: Sy naam sal ook nie meer môre op die kontrolelyste wees nie.

* * *

Al meer mense kom in die kamp aan, hulle word in enige beskikbare gate ingedruk. San Sabba kan ’n absolute maksimum van drieduisend gevangenes huisves – daar is nou reeds meer as vyfduisend.

Toe begin die kampowerhede groepe Jode met die treine wegstuur. “Na Pole,” vertel een van die mans terwyl hulle in ’n kringetjie sit en hulle aandsop met klein suigbewegings opslurp. As ’n mens baie stadig eet, hou die kos ’n bietjie langer.

“Ek het gehoor een van die wagte praat van Auschwitz,” sê ’n tweede.

“Auschwitz? Het jy al van so ’n plek gehoor?” vra Josef skepties en kyk na Marco.

Marco skud sy kop. “Auschwitz? Nee, ek twyfel of dit ’n plek se naam is, dis seker net wat die kamp genoem word.”

“Wat maak dit saak wat ’n kamp se naam is,” sê Rachel. “Alle kampe is seker maar dieselfde.”

Josef haal sy skouer op. “Dit kan nie erger wees as hier nie,” sê hy.

“Nee, dit ís erger, ek hoor hulle maak die Jode dood op groot skaal,” sê die eerste man. “Hulle laai hulle glo agterin lorries en dan vergas die Nazi’s hulle met uitlaatgasse, sommer lorrievragte vol.”

“En dan word hulle in massagrafte toegegooi, ek het dit ook gehoor,” beaam die tweede man.

“Ek dink dit is absolute onsin,” sê Marco beslis. “Ná die Groot Oorlog is die Volkerebond juis deur al die Westerse lande gevorm om ’n mate van orde, van … beskaafdheid te handhaaf, selfs in oorlogtyd. Nie eens die Nazi’s kan dit ignoreer nie.”

“Of anders verklaar die res van die wêreld oorlog teen hulle?” vra Josef smalend.

“Ek glo elke woord wat ek hoor van daardie varke,” sê die eerste man. “Laat ek jou bietjie vertel: Net toe die Italiaanse oorgawe bekend geword het in September,” en hy buk dieper in die kring in en laat sy stem effens sak, “toe stuur die Nazi’s ’n hele kommando SS-honde na die Maggiore-meer en arresteer ’n klomp van ons mense in Licino, Stresa, Baveno en Pallanza. Hierdie mense het heeltemal verdwyn, sommer net so poef, van die aarde af verdwyn. Maar, en hoor nou hier, toe ontdek die vissermanne ’n klomp lyke in die meer. Iets ruik na vrot vis, sou julle nie sê nie?”

Die mense in die klein sirkeltjie kyk nie op nie. Hulle slurp die laaste bietjie sop uit die borde en begin stil na hulle kamers beweeg.

Toe staan Josef ook op en knik met sy kop in die rigting van sy kamer. “Kom,” sê hy kortaf vir Ester en begin stap.

Rachel kyk hulle bekommerd agterna. Dan draai sy na Marco. “Ek hou nie van daardie vent nie,” sê sy sag.

Marco skud sy kop, maar bly haar ’n antwoord skuldig.

* * *

Vroeg in 1944 word Sturmbannführer Christian Wirth die kampkommandant by San Sabba. Hy is ’n genadelose man met ’n bulderende stem – sy bynaam is baie gou “Krisjan Die Verskriklike”.

Die wagte, sien Marco dadelik, is net so bang vir hom soos die kampbewoners. “Julle moet in julle spoor trap,” sê die een wag wat moet toesig hou oor die ry mans wat vroegoggend deur die digte mis fabriek toe kronkel. “Hy was in beheer van Operasie Oesfees by Lublin in November verlede jaar. Daar het hy binne twee dae meer as veertigduisend Jode laat afmaai – net omdat een van hulle skeef getrap het.”

“Ek dink hy praat onsin,” sê Josef kliphard vir Marco.

“Ek sou maar versigtig wees,” sê Marco sag. “Hy lyk vir my na die tipe mens wat so iets sal kan doen.”

Van die gedurige stroom nuwe aankomelinge in die kamp hoor hulle dat die Geallieerdes al meer veld wen regoor Europa – eers in Rusland, nou is daar selfs sprake dat Engeland en Amerika vir Frankryk wil inval en bevry.

“Maar Italië word platgeskiet, vernietig, van onder af deur die Geallieerdes, van bo af deur die Nazi’s,” vertel die mense in donker stemme. “Ons woongebiede is ruïnes, ons sinagoges is afgebrande murasies, die eeu-oue katedrale is flenters geskiet,” vertel hulle.

Al meer treine vertrek weekliks – steeds na Pole, hoor hulle. Die mense tree vroegoggend aan, sekere name word uitgelees, hulle stap deur die lang gang uit die binnehof na buite en verdwyn.

En een oggend naby die einde van die winter van 1944 word ook hulle name gelees: Marco Romanelli, Rachel Rozenfeld, Ester Rozenfeld …

Josef se naam word nie gelees nie.

Ook nie mister Rozenfeld s’n nie.

Uit die hoek van sy oog sien Marco hoe Ester begin beweeg. Met een beweging gryp hy haar ferm vas en druk haar mond toe. “Staan stil en bly stil!” fluister hy dringend. “Werk saam. Hulle skiet jou dood sonder om twee maal te dink.”

So stap Marco en Rachel en Ester, sonder tyd om te groet, sonder reisdokumente of identiteit – drie nommers op ’n getikte lys – na die stasie, na ’n vae bestemming, moontlik Pole.

* * *

Op die perron wag sterk manne met breë skouers in Nazi-uniforms, blaffende honde remmend aan hulle leibande. “Tree aan!” bulder die bevelvoerder.

Marco hoef nie meer te vertaal nie, die mense ken die bevele. “Waar julle heen gaan,” bulder die man, “sal julle uitstekend behandel word, dis ’n goeie werkskamp, een van die bestes. Daar is selfs baie ontspanningsgeriewe, julle is van die gelukkiges.”

“Dit klink goed,” fluister Rachel. “Marco, wat dink jy … Papa …?”

Hy skud sy kop. “Ek weet nie, Rachel. Hy … doen goeie werk daar in die kantore by die fabriek …” Maar hy glo homself nie. Hy glo ook geen woord wat die Nazi-offisier van die kamp gesê het nie.

Met absolute presiesheid lees die offisier die rol name af. Toe kyk hy op en vra: “Wieviel Stück?”

Die korporaal antwoord flink: “Fünfhundert und zwölf Stück! Alles ist in Ordnung!”

Tien goederewaens wag vir hulle, hulle bondel oorhaastig in die trokke in. Agter hulle word die deure toegedruk en van buite gegrendel, die mense is binne styf teen mekaar ingedruk.

Die trein staan botstil. Ná ’n paar minute fluister iemand: “Wat gaan aan?”

Niks gebeur nie.

Byna geluidloos begin mense in die oorvol goederetrok ’n eie plekkie oopskarrel – muise vasgekeer tussen sporte planke met smal gleufies as enigste uitsig.

Eers teen die aand begin die lokomotief blaas en pomp, toe begin hulle langsaam vorentoe kruip. Die trein ry stadig, dwarsdeur die nag.

Buite skyn die maan helder. Marco sit vasgedruk teen die growwe houtsporte, Rachel en Ester sit-lê styf teen mekaar half oor hom. Hulle raak tog later aan die slaap, maar vir hom wil die slaap nie kom nie.

Buite in die maanskyn sien hy die silwer veld stadig na agter skuif. Wat wag vir ons aan die einde van hierdie pad, wonder hy.

Soms stop die trein vir lang tye in die veld, selde op ’n stasie. Hy sien deur dwars gleuwe tussen die sporte van die goederetrok die hoë, donker kranse. Waar sal my hulp vandaan kom, onthou Marco onverwags. Hy kyk af in die donker dale van die Adige-vallei – oral is my God …

Die name van die laaste Italiaanse stede verdwyn na agter soos hulle verby verligte stasie ná stasie ry. “Ek is so dors,” prewel Ester. “Marco, is hier nie êrens nog water nie?”

Marco streel oor haar kop. “Probeer slaap, Ester,” sê hy sag.

Sy trek haar lyf in ’n klein bondeltjie en begin saggies huil. Sy vra nie weer nie.

Toe die son op die tweede dag begin opkom, stoom en blaas die trein oor die kronkelende Passo del Brennero, die eeu-oue pas deur die Alpe op die grens tussen Italië en Oostenryk. “Ek moet water kry,” fluister Rachel.

Marco haal sy skouers op. “Kyk na buite,” sê hy en wys met sy vinger deur die gleuf. “Dis die Brenner-pas, dis al gebou deur die Romeine in die tweede eeu na Christus.” Hy moet hulle aandag aflei – Ester het die ganse nag deur gehuil, Rachel het met amperse desperaatheid aan hom geklou. “Dit was natuurlik eers net ’n pad vir perde en muile, later muilekarre. En hier teen die 1860’s is die spoorlyn gebou.”

“O,” sê Rachel.

Onder hulle lê groen heuwels met beeste wat wei – rustig. Na groen weivelde … na waters waar rus is …

“Dis ook hier waar Mussolini en Hitler ontmoet het aan die begin van 1940 om die ‘Verdrag van Staal’ te vier,” vertel Marco doelgerig voort.

“Wat maak dit tog alles saak?” vra Ester opstandig. “Is hier dan nêrens water nie?”

Maar die enkele emmer water wat aan die begin van die reis in die trok was, is binne die eerste uur al opgedrink.

“Hulle sal wel vir ons nog water bring, mettertyd,” sê Marco.

“Wie? Die wágte?” vra Ester bitter.

En sy is reg. Waar die ysige koue deur die eerste lang nag hulle grootste vyand was, sak die dors nou oor die waens uit. Wanneer hulle stop, smeek die mense vir water, die vrouens en kinders sukkel hulle hande deur die sporte en smeek vir ’n hand vol sneeu, maar niemand hoor nie. Die soldate op die perronne verjaag enige mens wat naby die trein probeer kom.

Kinders kerm, oumense gee oor, die swakstes bly in verslane hopies lê. Die waens word leër.

Teen die tweede nag word dit stil. Net soms steun iemand, of huil sag, traanloos. Die kommer oor wat wag, knaag aan dié wat oorbly se denke, honger stoot op in hulle kele, die dors swel hulle lywe vol, maak hulle tonge dik. Die slaap bly weg.

Deur die spleet sien hulle Oostenrykse name: Salzburg, Wene. Dan Tsjeggiese stede, eindelik die vreemde speltekens van Poolse plekke. Op die vierde nag word die koue ondraaglik, buite is die wêreld toe onder bleekwit sneeu.

Hulle probeer lankal nie meer kommunikeer na buite nie. Hulle het nie meer die krag nie. Vir vier dae en vier nagte het hulle geen kos of water gehad nie.

“Ons gaan moontlik geskei raak, die mans en vroue,” probeer Marco vir Rachel voorberei op wat wag. “Sorg net dat jy oorleef, dis die belangrikste.”

Sy kyk ernstig na hom. “Jy ook, Marco Romanelli,” fluister sy verby haar kurkdroë tong.

“Ek sal,” belowe hy. “Ek wag vir jou, Rachel. Wanneer die oorlog verby is – en ek weet dit kan nie meer lank wees nie, die Geallieerdes is oral besig om die oorhand te kry – wanneer die oorlog verby is, word jy my vrou.”

Sy knik stadig. Dan wys sy na bo, deur die spleet bo hulle koppe. “Marco, kyk die sterre.”

Hy kyk op. Die lug is swart fluweel, die sterre skitterende diamante – onveranderd, soos eeue reeds. “Koning Dawid het gesê: ‘As ek U hemel aanskou, die maan en die sterre wat U toeberei het, wat is die mens dat U aan hom dink?’ En tog is God altyd naby.” Hy bly ’n oomblik stil. Dan voeg hy by: “Dit staan seker so in julle Bybel ook?”

Rachel knik weer. “Ek … dink so,” sê sy effens onseker. “Dis óns sterre, Marco, hulle kom al die pad saam met ons, dit maak nie saak hoeveel kronkels ons gooi nie.”

Hulle sit doodstil, genestel in mekaar se nabyheid.

Teen die vroeë oggendure ry die trein al stadiger en stadiger, dan stop hulle. Marco kyk na buite, hulle staan in die oop veld, die sneeu enkeldiep so ver soos die oog in die flou maanlig kan sien, enkele yl bome soos donker geraamtes doodstil om hulle.

Ná ’n lang ruk begin die trein stadig weer blaas en trek, niemand kyk meer op nie.

Met eerste lig blaas die trein stoom af en kom met ’n ruk tot stilstand. Hulle het deur groot hekke gery tot in die middel van ’n plein – Birkenau, staan op die bord geskryf.

“Ek dink dis die einde van ons reis,” sê Marco stil.

Kronkelpad

Подняться наверх