Читать книгу Kronkelpad - Irma Joubert - Страница 6

Hoofstuk 2

Оглавление

Nee, besluit Lettie op haar gemakstoel voor die venster, die Eeufees gaan nie werk vir die student se taak nie.

Rialien het wel gepraat van die Tweede Wêreldoorlog, daaroor kan sy baie ander inligting ook kry, het sy gesê.

Maar dan weer, dink Lettie, sal sy nie veel kan vertel nie – die oorlog het hulle mos nie eintlik geraak nie.

Sy onthou vaagweg die gesprekke oor die politiek in die maande voor die oorlog uitgebreek het: Sal Chamberlain se mooipraatjies genoeg wees om vir Hitler in toom te hou? Of is ’n oorlog in Europa onvermydelik? En indien ’n oorlog uitbreek, waar gaan die Hertzog/Smuts-regering staan? Sal die klomp Smelters van Hertzogiete en Bloedsappe weer uitmekaar bars?

Toe, op 1 September 1939, hoor hulle die aand oor die draadloos dat Duitsland Pole binnegeval het. In Die Transvaler lees hulle die volgende dag dat daar ’n breuk kan kom tussen Hertzog en Smuts.

Maar eintlik raak die oorlog hulle nie werklik nie. Hertzog word verslaan, Smuts word die nuwe eerste minister. Diegene wat wil gaan veg, sluit aan en vertrek noorde toe – hulle word Rooilussies genoem, omdat hulle so ’n dieprooi lussie aan hulle epoulette moet dra. Maar dit was nie die Bosveld se mense nie. Die oorlog is ver, in Noord-Afrika, in Duitsland en Frankryk en Engeland, in Italië en in Pole, aan die ander kant van die wêreld.

Baie belangriker in 1939, in haar matriekjaar, is die gesprekke wat sy voer met haar maats.

* * *

“Ek wil ’n joernalis word, ek het besluit,” sê Annabel een oggend voor skool. “My pa het gesê dis reg so, ek gaan volgende jaar Tukkies toe.”

“ ’n Joernalis?” vra Christine onseker.

“Ja, Christine, wat in die koerante skryf, jy weet?” sê Annabel en rol haar oë boontoe. Dan draai sy na Lettie. “Wat gaan jy volgende jaar doen?”

“Medies,” antwoord Lettie dadelik, “seker maar by Wits, dis waar my pa ook geswôt het.”

“Wits! Dis ’n Engelse universiteit!” roep Annabel uit. “En ek weet nie of dit ’n goeie beroep is vir ’n vrou nie, dis so … mannetjiesrig.” Annabel haal haar skouers op. “Alhoewel, dit sal seker by jou pas.”

“Ek dink Lettie sal ’n puik dokter wees, sy is slim genoeg en sal haar pasiënte liefdevol hanteer,” troef Klara beslis.

Annabel trek haar booggeplukte wenkbroue skepties op en draai na Christine. “En jy, Christine, wat gaan jy swôt?”

“Ek weet nie.” Christine bly ’n oomblik stil. “Ek wil eintlik ook met siek mense werk, hulle help.”

“Moenie laf wees nie,” sê Annabel dadelik, “jy kon nie eens die Voortrekkers se noodhulpkursus doen nie!”

Toe hulle klas toe stap, sien Lettie hoe sit Klara haar hand ’n oomblik lank op Christine se skouer. Ek wens so Klara kon ook my beste maat wees, dink Lettie stil. En ek wens ek kon ook Pretoria Universiteit toe gaan, ook omdat … ja, De Wet daar is. Maar haar pa glo dat Wits die beste mediese fakulteit het, en Lettie glo haar pa weet die beste.

In die volgende jaar, 1940, word die oorlog totaal oorskadu deur haar nuwe leefruimte: die stad, die universiteit, die koshuislewe, die Engelse kultuur en sienswyses wat aan alles kleef. Lettie voel ontuis, heeltemal uit plek – maar dan weer, sy weet nie of sy al ooit werklik êrens ingepas het nie.

Die klasse geniet sy wel, dis interessant, stimulerend, sy vind die werk maklik om te verstaan en te leer. “Maar ons het nog niks geleer wat direk op medies van toepassing is nie,” sê Lettie toe sy die Paasvakansie vir die eerste keer huis toe gaan.

“Dit sal nog kom, wag maar,” lag haar pa.

“Het jy al die aandrok gedra wat ons gekoop het?” vra haar ma gretig.

“Nee, Mamma, die eerstejaars kon nog nie eintlik na funksies toe gaan nie,” vind Lettie ’n verskoning.

Later in die jaar hoor Lettie dat Gerbrand weg is noorde toe, Oos-Afrika toe. Sy is nie baie verbaas om dit te hoor nie – Gerbrand was altyd vreemd en baie wild. Dit is die eerste mens wat sy ken wat ’n Rooilussie geword het. O ja, en mister Ismail, die ou Indiër met die lang, wit baard en lang, wit oorrok, se oudste kleinseun is ook weg oorlog toe – maar dit tel nie, hulle is Mohammedane, hulle is ’n ander dam se ganse. Die oorlog raak haar steeds nie.

Die draadloos is wel vol oorlogspraatjies, ook die koerante, die lamppale, selfs die bioskope. In die koshuisgange en tussen klasse deur word die oorlog druk bespreek – byna almal op Wits het ’n pa of ’n broer of ’n kêrel wat weg is noorde toe.

“Hier is waaragtig seker twee maal soveel girls as guys op varsity,” sê Carol-Ann, Lettie se kamermaat. “Ek weet nie waar ons partners moet kry vir die spring ball nie.”

Ek wens daar was nie so iets soos ’n end-term ball of ’n spring ball nie, dink Lettie stil.

Daardie nag droom sy dat De Wet haar kom haal vir die lentebal. Droomvaag sweef sy oor die dansbaan met haar blinknuwe aandrok aan, die droom los op in die donker nagure.

Die aand van die spring ball sit Lettie in haar kamer en studeer. Haar blink aandrok wat haar ma aan die begin van die jaar vir haar by miss Pronk se winkel gekoop het, hang steeds onaangeraak in die kas.

* * *

Gedurende die Oktobervakansie van haar eerste jaar ontmoet Lettie die eerste keer vir Henk. Klara het hom saamgebring van universiteit af.

“Is hy jou kêrel?” vra Lettie toe sy en Klara ’n rukkie alleen in die kombuis is. Annabel het op die stoep by die mansmense bly sit, sy is nie ’n koffiemaker nie.

“Ja, wel, seker, ja,” sê Klara effens vaag.

“Maar … is jy verlief op hom?” vra Lettie. Henk is ’n aantreklike man, lank – maar nie heeltemal so lank soos De Wet nie – met ligte hare en grysblou oë. Hy dra ’n bril en hy praat met ’n bekoorlike Kaapse uitspraak.

“Ek weet nie, ek dink so,” antwoord Klara en gooi die kookwater oor die koffiemoer in die koffiesak. “Lettie, ek weet nie regtig hoe voel verlief wees nie.”

“Maak hy sulke vlinders op jou maag?” vra Lettie. Want, ten spyte van alles, bly die vlinders opfladder elke keer as De Wet met haar praat.

“Vlinders?” Klara dink ernstig. “Nee, nie eintlik nie. Net … so half … warm, in my hart.”

“O, goed,” weifel Lettie, “dit kan dalk ook werk.”

Maar die vakansie bestaan nie werklik uit Henk of Klara en Christine of die aande om die eettafel saam met haar ouers nie. Die vakansie bestaan uit daardie een aand se kuier op die Fouries se plaas, almal om die groot etenstafel, speelkaarte in die hand, koffie en beskuit op Klara se ma se witgestyfde tafeldoek. Sy en Henk en De Wet trek die lootjies vir die A-span.

“A-span, my voet!” roep Annabel uit. “Ons speel julle in een ronde onder die tafel in!”

“Nooit gesien nie, juffrou Grootmond,” lag De Wet gemaklik. “Lettie is in ons span, daar’s nie een van julle meisietjies wat eers amper kan kers vashou by haar nie. En dan is ons nog twéé mansmense ook in die span – arme ou Boelie sit alleen opgeskeep met jou en Klara én Christine!” De Wet se lyf straal die prettigheid uit, sy groen oë dans van plesier.

“En ek is klaar so sleg met kaartspeel,” sê Christine effens benoud.

“Ons gaan julle eet soos ’n mielie,” poets De Wet hulle span se ego skitterblink. “Lettie, jy is ons spankaptein, speel die eerste kaart!”

Hoe verder hulle voorloop, hoe meer uitgelate raak De Wet – hy knipoog vir Lettie as sy ’n slim kaart speel en fluit deur sy tande as sy die ander span troef. En hoe verder hulle span voorloop, hoe kwater raak Annabel. Tot Klara water op die dreigende vuur gooi: “Nee wag, julle is die wenners,” sê sy. “Ons span sal sorg vir vars koffie, dan maak ons eerder bietjie musiek.”

Êrens gedurende die aand, toe die mansmense buite gaan kyk het waarom die honde so blaf, vertel Klara en Christine dat hulle vir Gerbrand skryf.

“Vir Gerbrand?” vra Lettie verbaas. “Gerbrand Pieterse, wat saam met ons in vorm III was?”

“Ek het nie geweet hy kán skryf nie,” sê Annabel skepties.

“Natuurlik kan hy skryf,” sê Klara byna geïrriteerd. “Hy vertel interessante goed, hulle is nou in Abessinië, hy vertel …”

“Gerbrand is ’n Rooilussie,” val Annabel haar in die rede. “Weet Boelie dat julle vir hom skryf?”

“Nee, en moet ook nie vir hom sê nie,” sê Klara beslis. “Dit sal hom net onnodig kwaad maak.”

“Is Boelie teen die Rooilussies?” vra Lettie.

“En hoe!” sê Klara, maar sy brei nie verder uit nie.

Aan die einde van die vakansie neem Lettie drie goed saam met haar terug Johannesburg toe: ’n reuseblik vol koekies en beskuit – ten spyte van haar vaste voorneme om dringend op ’n eetstaking te gaan – nog ’n nuwe aandrok – sy hét vir haar ma gesê sy het die vorige een nog nie eens gedra nie – en die herinnering aan een van die wonderlikste aande in haar lewe.

Want hoewel sy oor en oor vir haarself sê dat De Wet net gewoon vriendelik was, dat dit deel van sy spanpret was, wil haar vlinderhart nie luister nie.

* * *

In die Oktobervakansie van haar tweede jaar, in 1941, hoor Lettie dat Boelie geïnterneer is. “Dit moet vir Neels Fourie ’n swaar slag wees,” sê Lettie se pa. “Hy was sy lewe deur ’n sterk Hertzog-man.”

“Ek dink dis dalk nog swaarder vir Boelie se oupa, ou oom Cornelius,” sê Lettie se ma. “Hy is een van die kontrei se grootste Bloedsappe.”

“Ja, ek is bekommerd oor sy hart, hy’s nie sterk nie,” beaam haar pa.

Ek hoop net nie De Wet word ook geïnterneer nie, dink Lettie toe sy die aand in die bed lê. Sy wens Klara wil haar weer oornooi vir ’n aand, maar sy het nie die vrymoedigheid om te vra nie. Een maal sien sy wel vir De Wet in die straat af ry, maar hy bestuur – linkerhand op die stuurwiel, regterelmboog gemaklik op die oop venster gestut – en hy sien haar nie raak nie.

En die Kersvakansie van daardie jaar hoor sy dat Christine ook aangesluit het en weg is Kaïro toe. “Van Gerbrand kon ek dit nog glo,” sê sy toe Klara een oggend by haar kom kuier, “maar Christine!”

Klara skud net haar kop. “Hierdie Kersfees is regtig ’n trietsige affêre,” sê Klara. “Met Boelie in die kamp en Christine in Noord-Afrika, voel dit omtrent of ons begrafnis hou.”

“Hoe gaan dit met De Wet?” vra Lettie so terloops moontlik.

“Goed,” sê Klara half belangeloos. “Hy karring maar rond op die plaas, maar hy is beslis nie so handig soos Boelie nie. Ons gaan darem so dan en wan bioskoop toe, Annabel kom gewoonlik saam. Ek sal jou regtig laat weet as ons weer gaan, dan kom jy ook, dit sal lekker wees.”

Daardie nag beland Lettie in ’n diep, donker draaikolk wat teen die oggendure haar hele lyf vaswurg in haar warm laken. Ek weet, weet, weet, sê sy oor en oor vir haarself, dat De Wet nooit ooit in der ewigheid na my sal kyk nie. Ek wéét dit, en ek beland elke keer in die valstrik van sy sjarme – sommer net natuurlike sjarme wat hy teenoor almal rondom hom uitleef. Ek is nie al een wat verstrik raak in sy sjarme nie, weet sy, beeldskone meisies soos Annabel en popmooi meisies soos Christine is ook nie bestand daarteen nie.

En toe Lettie die volgende oggend vir die eerste keer haar hart by haar ma uitstort, verstaan haar ma alles. “De Wet is ’n pragtige mens, my kind,” stem haar ma saam, “maar daar is ook ander pragtige jong mans van jou ouderdom, duisende van hulle. Almal is miskien nie so lank en atleties gebou en aantreklik soos De Wet nie, maar die regte man sal kom. Die lewe loop soms vreemde kronkelpaaie met ’n mens, maar elke pot kry op die ou end sy eie deksel.”

Dan soek ek maar vir Meneer Persoonlikheid, dink Lettie effens skepties – al is hy nou bietjie kort en rond en bles soos haar dierbare pa.

* * *

Lettie staan op en gaan skakel weer haar ketel aan. Terwyl sy wag vir die water om te kook, skud sy weer haar kop stadig. Die enigste kontak wat sy eintlik met die oorlog gehad het, was die enkele kort briefies van Christine uit Kaïro. Net een onthou sy nog goed – die laaste briefie van Christine af, het sy eers jare later besef.

* * *

WAAS-kamp,

Kaïro.

24 Desember 1942.

Liewe Lettie,

Vanaand is Oukersaand. Dis nogal vreemd om Oukersaand so ver van die huis af te wees, ’n mens verlang huis toe. Maar eintlik gaan dit goed met my, baie goed.

Lettie, jy is al amper ’n dokter, so ek wil vir jou iets vra. Dis eintlik namens ’n vriendin van my wat ek dit vra, want sy ken niemand vir wie sy kan vra nie, toe sê ek dat ek vir jou sal skryf.

Jy sien, die vriendin van my het ’n kêrel wat ’n soldaat is hier, sy is ook hier in Kaïro. Sy werk nie saam met my nie, maar ek sien haar soms by etenstye. En sy wil graag weet hoe word ’n mens verwagtend. Dis seker vir jou snaaks dat ons nou so ’n vraag vra, maar jou pa het altyd vir jou alles vertel en nou swôt jy vir ’n dokter en alles, so jy sal seker weet.

Lettie laat die brief ’n oomblik sak. Dis byna ongelooflik, dink sy, dat twee meisies van ouer as een-en-twintig, wat albei daagliks midde-in ’n wêreldoorlog sit, sulke elementêre feite nie ken nie. Maar dan onthou sy hoe al haar maats – Annabel ingesluit – op skool regtig nie geweet het nie en altyd meer by haar wou uitvind.

Sy tel die brief op en lees verder:

Dan wil my vriendin nog iets weet. Sy vra of daar ’n manier is wat ’n mens, as jy nou verwagtend is, nie meer verwagtend kan wees nie. Of is die babatjie klaar lewendig? Sy bedoel nie sy wil die babatjie doodmaak as hy klaar lewendig is nie, sy wonder net wanneer is die babatjie nou regtig in ’n mens se maag.

Jy dink seker dis snaakse vrae, Lettie, maar my vriendin wil regtig graag weet. Ek dink sy vra miskien namens ’n ander vriendin van haar, wat ek nie ken nie. Ons het nie geweet vir wie om te vra nie, toe vra ons maar vir jou.

Ek hoop julle het ’n lekker Kersfees. Jy en jou ma en jou pa.

Groete,

Jou vriendin,

Christine.

Lank nadat Lettie die brief klaar gelees het, sit sy nog steeds en dink. Is daar enige moontlikheid dat hierdie “vriendin” dalk Christine self is, wonder sy. Maar sy besluit dadelik dat dit onmoontlik is, heeltemal onmoontlik. Sy ken vir Christine goed genoeg om te weet sy sal nooit dít saam met ’n seun doen nie.

En Lettie weet presies hoe verlief Christine op De Wet is. Eintlik vermoed Lettie van die begin af reeds dat De Wet een van die hoofredes is waarom Christine weggegaan het oorlog toe.

Of kan dit juis wees dat die verlange huis toe en spesifiek na De Wet vir Christine in ’n ander man se arms ingedryf het?

Nee, onmoontlik, besluit sy weer. Buitendien, as dit so was, sou Christine reguit vir haar gesê het wat aangaan. Of sy sou minstens vir Klara gesê het, hulle is van altyd af baie, baie groot maats. En Klara weet beslis niks van enige so ’n moontlike verwikkeling nie.

Lettie staan op, haal die skryfblok uit haar lessenaar se boonste laai, en begin Christine se brief beantwoord. Sy doen dit so goed sy kan, hoewel dit beslis nie maklik is om so iets op papier neer te skryf nie. Sy kan net dink hoe Christine gaan bloos as sy die brief lees – dit sal seker vir Christine soos sonde klink, glimlag Lettie by haarself.

Sy plak die brief toe, adresseer dit en skryf groot agterop: PRIVAAT. Toe sit sy die brief by haar pa se tassie sodat hy dit die volgende dag kan gaan pos.

* * *

In April van Lettie se finale jaar is die oorlog in Europa eindelik verby. Twee van die mense uit hulle kontrei wat by die oorlog aangesluit het, die bywonerseun Gerbrand Pieterse en ou mister Ismail van die winkel se oudste kleinseun, sal nie terugkom huis toe nie. Vir Christine verwag hulle nou enige oomblik terug.

En die Italianer wat ’n ruk lank by Klara-hulle gebly het om die brug te bou en later in die dorp gehelp het met die bou van die nuwe kerk, is terug Italië toe. Mooie man, het Lettie gedink elke keer as sy hom ontmoet, mooi naam en van – Antonio Romanelli – en hy kon baie mooi sing ook, maar régtig ander dam se ganse.

Oral oor die land is feeste om die soldate terug te verwelkom. Ook Lettie se universiteitsmaats en kollegas in die hospitaal waar sy haar prakties doen, is in ’n feestelike stemming – die broer of pa of kêrel kom eindelik permanent terug huis toe.

Meneer Persoonlikheid (seker maar skewe deksel, dink sy soms) het nog nie aangemeld in Lettie se lewe nie. Maar hy sal kom, sê haar ma, sy moet net wag. Intussen werk sy hard om die beste student in haar klasgroep te bly – êrens moet ’n mens tog darem kan uitstyg.

* * *

Gedurende die Julievakansie van die laaste jaar van die oorlog kom Klara onverwags vir haar kuier. Lettie moet die hele vakansie lank prakties doen in die hospitaal, sy het ’n klein, koue kamertjie aan die suidekant van die personeelkwartiere. Klara slaap snags op ’n hospitaalmatras wat hulle bedags onder Lettie se katel inskuif.

Lettie sien nie veel van Klara nie. Klara het eintlik vir Henk kom kuier, hulle is verloof, hulle moet die reëlings vir die troue finaliseer. Maar laatnag as Klara terugkom van haar kuiers saam met Henk, of vroegoggende voor Lettie moet begin werk, lê hulle heerlik en gesels. Klara is regtig die beste vriendin wat ek het, dink Lettie. As ek eers ’n dokter op die dorp is en Klara is onderwyseres daar, kan ons weer lekker kuier.

Dinsdagaand nooi Henk vir Klara en Lettie om te kom musiek luister in sy woonstel. Hy koop vis en skyfies, wat hulle sommer uit die koerantpapier eet.

“Dis eintlik baie onhigiënies,” sê Lettie, “die koerantpapier, bedoel ek.”

“Moet dan nie die koerantpapier eet nie,” sê Henk. Hy het vrolike oë wat maklik lag.

Die aand in die bed toe die lig al uitgedoof is, sê sy vir Klara: “Jy weet, Klara, Henk is een van die aangenaamste ouens wat ek ken.”

“Ja-a, hy is nogal, nè?” antwoord Klara vakerig. “Dit was ’n lekker aand, maar nou is ek doodmoeg. Lekker slaap.”

Klara is só gelukkig, dink Lettie net voordat sy aan die slaap raak. Henk is regtig die perfekte man vir haar.

* * *

Donderdagaand vra Klara: “Lets, het jy ’n aandrok?”

“Ja, meer as een.” Sy voeg nie by dat hulle nog splinternuut is nie. “Hoekom?”

“Ons gaan môreaand dans.”

Lettie begin lag. “Jy kan met plesier een van my rokke leen, maar dit sal hopeloos te groot wees vir jou, en te kort.”

“Nee man,” keer Klara, “jy gaan dit aantrek, jy kom saam.”

Lettie is ’n oomblik stil. “Saam met jou en Henk?”

“En ’n kollega van Henk. Ek het hom nog nie ontmoet nie, maar Henk sê dis ’n gawe ou.”

“Klara …?” vra sy onseker. Kan dit werklik waar wees?

“Ag toe, Lettie,” por Klara, “ons gaan al vier saam, ons maak dit sommer net ’n lekker aand. Jy kán nie nee sê nie!”

Klara verstaan glad nie, dink Lettie. Klara weet nie eens dat sy eintlik die goeie fee is wat by Aspoestertjie opgedaag het nie.

“Goed,” stem Lettie stil in, maar haar hart begin vinniger klop. Gaan sy régtig dans – in een van haar aandrokke?

Die volgende middag, terwyl Klara solank gaan bad, sprei Lettie haar drie blinknuwe aandrokke op die bed oop. Watter een sal sy vanaand aantrek? Sy streel die sagte blou rok van haar eerste jaar – dan glimlag sy effens. In haar gedagtes hoor sy vir Annabel: “Lettie, dis só uit die mode! Dis só … 1940!” Maar dan weer, al haar rokke kom uit haar eerste drie jaar, daarna het haar ma begin aanvaar dat Lettie nie nuwe aandrokke nodig het nie. Of dalk het dit net te moeilik geword om materiaal vir aandrokke in die hande te kry.

“Watter een gaan jy aantrek?” vra Klara agter haar. “O, trek daardie donkergroene aan, dis pragtig!”

Die aand word ’n sprokie, Lettie word deel van die seepbel-bal wat oor die stadsaal se vloer gly, deel van die orkesmusiek wat deur haar lyf vloei. Haar maat vir die aand is bietjie lomp, later raak hy effens verspot en lag lekker vir sy eie grappies, maar hulle dans lekker saam.

Die lekkerste is die twee danse wat sy met Henk dans – hy dans goed en is heerlike, prettige geselskap.

Terug by die dokterskwartiere gesels sy en Klara tot in die vroeë oggendure. “Wanneer beplan julle om te trou?” vra Lettie. “Desember?”

“Ek weet nie, seker maar,” sê Klara.

“Jy klink nie baie opgewonde nie?” vra Lettie versigtig.

“Ek het net nog nie veel daaroor gedink nie,” sê Klara. “Ek dink ons moet nou gaan slaap, jy is môre op roep.”

“Henk is régtig ’n smart ou, Klara,” sê Lettie ná ’n rukkie.

“Mm,” sê Klara vaag, asof sy te vaak is om te antwoord.

Maar voordat Lettie aan die slaap raak, hoor sy hoe Klara rondrol, hoor sy hoe haar vriendin in ’n bondeltjie op die matras langs haar opkrul, hoor sy die gesmoorde sug.

Iets pla vir Klara, weet Lettie net voordat sy in ’n salige donkerte wegsink.

* * *

Die volgende oggend word Lettie wakker geruk deur haar skril wekker. Sy staan op, skakel die ketel aan en stap badkamer toe. Haar voete is seer van die ongewone oefening, haar oë brand van te min slaap. Dit gaan ’n lang dag word, dink sy.

Toe sy weer in die kamer kom, sê Klara: “Ek gaan vanaand my verlowing aan Henk verbreek.”

Lettie skrik haarself nugter wakker, haar hande vlieg na haar gesig. “Klara? Is jy seker?” vra sy verskrik. “Het jy baie goed nagedink?”

“Ja, ek is seker,” antwoord Klara. “Ek dink ek weet lankal ek moet, maar ek het net nog nie die moed gehad om dit te doen nie. Ons kom al so ’n lang pad saam. En ek is tog lief vir hom, Lettie. Maar ek weet nou dat ek nie met hom kan trou nie. Ek weet dit.”

Lettie haal die koffiepot en twee koppies van die rak af en gooi twee lepels koffiemoer in die koffiesak. “Is daar iemand anders, Klara?” Sy skink die kookwater oor die moer. “Die … Italianer? Antonio?” onthou sy haar vermoedens.

Klara haal haar skouers op.

“Ek het so gedink,” knik Lettie.

“Daar is niks tussen ons nie, Lettie. Hy is terug Italië toe, na sy verloofde toe. Hulle sal sekerlik binnekort trou, hulle het voor die oorlog al verloof geraak. En hy het baie gereeld vir haar geskryf en briewe van haar ontvang.” Klara gee ’n vreugdelose laggie. “Ek weet presies wat haar naam is, en hoe haar handskrif lyk.”

Lettie skink die koffie in die twee koppies. “Maar hy het jou laat besef dat Henk nie die regte man is vir jou nie? Jammer, die melk is gedaan, ek het vergeet om te koop.”

“Jy weet, Lettie,” sê Klara somber, “ek dink as Antonio vir my gevra het om saam met hom Italië toe te gaan, sou ek my tasse gepak het en gegaan het. Ek weet nie of ek eers Johannesburg toe wil trek agter Henk aan nie. Ek weet wel dat ek hom nie lief genoeg het om te trou nie.”

Lettie is lank stil, dan vra sy: “Wanneer gaan jy vir hom sê?”

“Vanaand,” antwoord Klara dadelik. “Ek moet vanaand praat, môre gaan ek huis toe.”

Arme Henk, dink Lettie. Arme Henk.

En toe Klara daardie aand laat inkom en op haar matrassie kom lê, maak Lettie asof sy slaap. Sy wil nie Klara se stories hoor nie.

Want sy kan nie help om aan Henk te dink nie – sy weet hoe dit voel as ’n mens se allesoorheersende liefde net nie genoeg is vir die ander persoon nie.

* * *

Die volgende oggend help sy vir Klara om haar goed af te dra na die parkeerterrein. “Dankie, Lettie, ons het lekker gesels,” sê Klara half ongemaklik. Die hartseer lê vlak in haar oë.

“Jy kan enige tyd weer kom kuier, as jy weer kans sien vir die harde hospitaalmatrassie,” probeer Lettie die effense ongemak oorbrug.

“Dankie,” knik Klara. “Maar … jy kom oor ’n jaar of twee buitendien terug dorp toe, na jou pa se praktyk, nè?”

“Ja,” gryp Lettie die stukkie gesprek aan, “my pa wil hê ek moet die praktyk heeltemal kom oorneem. Hy is ook al in die sewentig, jy weet.”

“Dis … vreeslik oud,” sê Klara verbaas.

Lettie glimlag toegeeflik. “My ouers was baie oud toe ek gebore is, my pa was toe al amper vyftig en my ma vyf-en-veertig. Hier kom Henk nou aan.”

Net voordat Henk by hulle stilhou, vra Lettie vir oulaas, dringend: “Klara, is jy seker jy doen die regte ding?”

“Ja, ek is seker.”

Toe klim Henk uit die motor. Hy lyk effens bleek, sien Lettie, en sy oë kyk net vlugtig na hulle. “Kan ek maar laai, is dit alles?” probeer hy vriendelik wees.

“Dis alles, dankie, Henk,” sê Klara. Ook sy kyk nie reguit na hom nie.

Net voordat hulle ry, draai Lettie reguit na Henk en sê op ’n ingewing: “Kom drink koffie as jy lus het. Enige tyd.”

Sy grysblou oë agter die brillense kyk ’n oomblik lank reguit na haar. Hy glimlag effens. “Dankie, ek sal beslis,” belowe hy.

Dan kyk hy vinnig weg. Maar sy het reeds die hartseer in sy oë gesien.

* * *

Toe begin sy wag.

Sy weet Henk gaan kom koffie drink, sy kon in sy oë sien dat hy bly was sy het hom genooi. Een aand gaan hy sommer net daar uitslaan en sê: “Kom Lettie, ons gaan drink daardie beloofde koppie koffie.”

Miskien sal hulle oor Klara praat – ja, hulle sal sekerlik, want dis waarvan sy gemoed steeds vol is. En sy sal luister – sy kan goed luister.

En later sal hulle minder oor Klara praat, hulle sal hulle eie gesprekke begin maak. Hulle kan praat oor sy werk, of oor waar sy volgende jaar haar hospitaaljaar gaan doen.

Miskien sal hulle bioskoop toe gaan.

Of weer gaan dans.

Later is die vakansie verby, sy trek terug na haar koshuiskamer.

Henk sal haar hier kan vind, weet sy. Hy het een maal gevra in watter koshuis sy is.

Maar geen eerstejaar kom roep haar vir telefoon of voordeur nie.

* * *

Net voor hulle finale eksamen sê Carol-Ann: “Kom ons gaan drink for old times’ sake koffie in die stad, êrens smart, by John Orr’s of êrens.”

Hulle trek hulle Sunday bests aan, hoede, handskoene, the whole lot, en ratel met die trem in middestad toe. Hulle bestel twee koppies black English tea en eet die roomkoek met klein koekvurkies, hulle vee hulle mondhoeke versigtig af met die fyn teeservetjies en lag vir mekaar. “It was good to have you as a roommate, Boertjie,” lag Carol-Ann.

“Ja, Rooinek, ons het lekker tye saam gehad,” sê Lettie meer ernstig. “As dit nie vir jou was nie, het ek seker geen studentelewe gehad nie.”

“That’s a fact,” stem Carol-Ann saam. “Nou ja, dan moet ons seker maar weer agter die boeke gaan inskuif.”

Hulle klim by die halte weer op ’n trem, loop vorentoe na waar daar twee plekke oop is en val met ’n ruk van die trem in die sitplekke neer.

“Hallo Lettie,” groet ’n stem net toe sy sit.

Sy draai haar kop skerp links, sy kyk vas in sy twee vriendelike, grysblou oë net oorkant die paadjie. Haar hart ruk. “Hallo, Henk,” sê sy en voel hoe die bloed na haar wange begin opstoot.

“Dis gaaf om jou weer te sien, gaan dit goed?” vra hy vriendelik.

Sy knik vinnig. “Ja, goed, dankie.” Sy sluk. “En met jou?”

Maar sy hoef nie te vra nie. Langs hom, half onder sy arm in en met haar skraal hand vertroulik op sy linkerbeen, sit ’n fyngeboude brunet. Sy glimlag ook vriendelik vir Lettie, haar lippe volrooi, haar vel syglad, haar hare sagte krulle om haar gesig.

* * *

Daardie nag besluit Lettie vas en seker: van Henk moet ek vergeet, hy sal net so min na my kyk as wat De Wet ooit aandag aan my sou gegee het. Van nou af, besluit sy finaal, sal mans net kollegas van my wees, vriende miskien. Verder niks. Want mans maak seer, baie seer – veral mooi, vriendelike mans.

Van nou af, besluit sy daardie warm, windstil nag op haar koshuisbed net voor haar finale eksamen, sal ek my toelê op my roeping. Ek sal die beste dokter word wat ek kan, besluit sy toe sy later voor die oop venster gaan staan, ek sal teruggaan Bosveld toe en my mense gaan help, sodat almal later praat van Lettie Louw, die Bosveld-dokter.

Só sal ek onthou word, besluit sy toe ’n effense luggie teen nanag die gordyne begin beweeg. Sy voel die briesie teen haar liggaam roer, haar sagte nagrok streel oor die vol rondings van haar lyf.

Want sy weet: Géén man sal regtig ooit na haar kyk nie.

Sy voel sterk toe sy terugklim in haar bed, haar besluit is geneem, sy gaan ’n verskil maak.

Maar teen die oggendure huil sy haarself aan die slaap.

Kronkelpad

Подняться наверх