Читать книгу Kronkelpad - Irma Joubert - Страница 7
Hoofstuk 3
ОглавлениеToe Rialien die volgende dag net ná tien aan die deur klop, het Lettie reeds haar feite agtermekaar. “Ek gaan vir jou ’n ware storie vertel, maar nie my eie storie nie,” sê sy.
Die jong meisie lyk ’n bietjie teleurgesteld. “Ons moet eintlik ’n primêre bron hê, soos … emm … iemand wat dit self beleef het,” beduie sy met haar rustelose hande. Sy het weer dieselfde stywe jean en tweet-tweet-sandale aan, maar daarby ’n oorgoot, donkerblou hemp.
“Luister maar eers na die storie, dan besluit jy,” sê Lettie rustig. “Die tee is pas gemaak, kan ek vir jou ook ’n koppie skink?”
“Ja, asseblief, Tannie, baie melk en twee lepels suiker.”
Lettie glimlag effens en skink die twee koppies tee. Toe begin sy vertel:
* * *
Marco Romanelli is die oudste van drie seuns. Hy en sy pa en ma en sy twee broers woon in ’n klein dorpie hoog op teen die Alpe. Dis in die noorde van Italië, naby die grens van Frankryk en Switserland.
Die dorpie is afgesonderd, die kronkelpad na die dorpie is steil met skerp draaie, daar kom selde vreemdelinge aan.
Die Romanelli’s se huisie staan in die hart van die dorp, net oorkant die dorpsplein. Marco se pa en ma, Giuseppe en Maria Romanelli, slaap in die slaapkamer, Marco en sy broers, Antonio en Lorenzo, deel die klein kamertjie agter die huis. Verder bestaan die huis uit nog net een ander vertrek, ’n groot een, dis waar die houttafel met sy ses stoele en die oop vuurherd is, ook die stoof en die klein oond. Buite is ’n groot bakoond, maar in die winter, wanneer die sneeu hoog teen die huise ophoop en ’n mens soms jou pad soos ’n mol uit die huis moet tonnel, gebruik Maria net die binneoond.
Voor die huisie is die patio, dis waar Giuseppe Romanelli en sy vriende Saterdagmiddae sit en skaak speel. En praat. En wyn skink uit die kruik, hulle drink dit slukkie vir slukkie uit hulle kleikelkies.
Maria Romanelli werskaf heeldag in en om die huis: Sy kook en bak en skrop, sy skoffel en plant en vee, sy brei truie en lap broeke en stop sokkies. Sy sing terwyl sy werk en gesels met almal om haar.
Giuseppe Romanelli is ’n beeldhouer, hy kap beeldjies uit die wit marmer wat hy uit die steengroewe om die dorpie haal. Hy is ’n stil man en wanneer hy wel praat, neem dit lank. Want Giuseppe Romanelli het van speenoud af al ’n moeilikheid met woorde – dit steek in sy kop vas en stotter dan moeisaam by sy onwillige tong verby. Maar hy luister goed en hy weet presies wat aangaan.
Marco Romanelli ken net die mense van die dorp: Vader Enrico wat ook die skoolmeester is, Baron van Veneto, wat in ’n klipvilla hoog op teen die hang bokant die dorpie woon, en die dokter, die slimste man in die dorp.
Daar is ook baie ooms en tantes, soos tia Sofia en ou Luigi met hulle skande-kleinkind, tia Anna met haar skerp neus, die ooms in die wingerde en die boorde en die klipgroewe, die tantes by die kospotte en in die groentetuine, by die wasbalies en voor die naaimasjiene.
En dan is daar natuurlik Gina Veneto, die baron se baie bedorwe en lastige dogtertjie. Sy lyk wel bietjie soos ’n pop met haar krulle en blou oë, maar as die Romanelli-seuns nie presies speel soos sy wil nie, gaan kla sy baie gou by haar pa. Sy is gelukkig heelwat jonger as Marco, omtrent so oud soos Lorenzo, so hy hoef nie te veel van haar stories op te eet nie.
Soms, net soms op ’n Saterdagmiddag, bring die dokter van die dorp sy grammofoon en sy plate saam na die patio voor Maria en Giuseppe Romanelli se huisie. Hy sit een van die plate op die draaitafel, draai die wye bek van die luidspreker só dat almal dit kan hoor, wen die grammofoon versigtig op en sit die naald baie stadig bo-op die rand van die plaat neer.
So hoor Marco Romanelli vir die eerste keer vir Enrico Caruso sing, en vir Tito Schipa, Beniamino Gigli, die bas Ezio Pinza, die kanariestem van die sopraan Amelita Galli-Curci.
En Marco Romanelli weet dit is hemelse musiek.
Kort voor Marco se sestiende verjaarsdag gaan hy kosskool toe, na die senior skool in die groot dorp, want hy is slim – al drie die Romanelli-seuns is slim. Dis depressietyd, die vroeë dertigs, maar die dokter help betaal, ook ’n oom van Marco wat in Florence woon en selfs die baron. Twee jaar later gaan sy broer Antonio ook dorpskool toe, en Marco na die universiteit in Turyn. Een naweek per kwartaal en elke vakansie kom Marco en Antonio met die spoorwegbus huis toe.
In Turyn studeer Marco tale: Italiaans en natuurlik Latyn, ook Frans en Duits en Engels. Daarby studeer hy musiek en musiekgeskiedenis. Hy is baie lief vir musiek, maar die lekkerste van alles is die letterkunde, hy verloor homself daarin.
In die politiek stel hy geensins belang nie. Selfs toe Italië op 3 Oktober van die jaar 1935 Abessinië binneval, slaan hy geen ag daarop nie. Hy hoor nie eens van die mosterdgas wat die vliegtuie oor die klein dorpies in daardie verre Afrika-land laat neersif nie, hy luister nie wanneer die studente rondom hom oor politiek praat nie. “Marco leef in ’n wêreld van sy eie,” sê die studente.
Wat wel in die jaar 1935 met Marco gebeur, eintlik vir Marco reg van voor tref en totaal wakker ruk uit sy droomwêreld van ou boeke, is Rachel Rozenfeld.
Die jaar tevore het mister Rozenfeld ’n winkel op die tuisdorp kom oopmaak. Die dorpsmense is baie bly, want hulle het nie ’n winkel gehad nie – die spoorwegbus het een maal per week proviand van die groot dorp af gebring.
Mister Rozenfeld en sy mollige vroutjie en sy twee dogters het van Litaue af hierheen gekom. Toestande daar is onuithoudbaar, gesels missus Rozenfeld met haar vreemde tongval. Die Jode het geen regte nie, net soos in Rusland waar hulle eers was, die Jode word om elke hoek en draai vervolg.
Rachel is die oudste dogter, sy is omtrent so oud soos Gina, haar sustertjie se naam is Ester. Rachel werk bedags in haar pa se winkel, Ester is nog in Vader Enrico se skooltjie.
En toe Marco weer vir ’n lang vakansie huis toe kom, sien hy Rachel Rozenfeld se blinkswart hare en blinkswart oë wat lag raak. Hy sien haar fluweelsagte vel en haar appelrooi wange. Wanneer sy lag, blink haar tande wit en haar stem klink soos bergklokkies.
Geen Dante of Janvier, geen Rainer Rilke of William Shakespeare – geen stuk van die wêreldpoësie kan haar skoonheid beskryf nie.
Hy sien ook die sagte rondings van haar jong lyf.
Daardie vakansie verloor Marco Romanelli sy hart aan Rachel Rozenfeld.
* * *
Skemertyd op warm somersaande stap die jongmense van die dorp met die paadjie op, oor die Ponte Bartolini, oor die plato waar die seuns Saterdae sokker speel, verby die eeue-oue kloktoring sonder klok na die oorblyfsels van die kasteel. Die kasteel is lankal reeds onbewoon, vervalle al, net die dik klipmure staan rotsvas waar hulle eeue gelede geplant is.
Marco loop met rustige treë langs Rachel Rozenfeld. Hy kyk nie na haar nie, hy raak nie aan haar nie, hy is net intens bewus van haar langs hom. Die kasteel toring donker bo hulle uit.
Hy luister na haar stem, hy knik as sy hom vertel van tia Sofia se gekerm oor die pryse van elke ding wat sy koop. “Maar ’n mens moet haar aanvaar soos sy is, sy is eintlik ’n baie goeie mens, weet jy, Marco?”
“Ja,” sê Marco en lek oor sy droë lippe. Hoe sê ’n man nou vir ’n beeldskone meisie …
“Ek is nogal jammer vir hulle kleinkind, hy lyk alewig asof hy bang is iemand skop hom,” sê Rachel. “Weet jy hoe lyk hy?”
“Ja,” sê Marco. Hoe gaan hy vir haar sê hy hou van haar? Sou dit nie dalk makliker gewees het om dit op papier neer te skryf nie?
“En ou Luigi is snááks,” gesels Rachel voort. “Weet jy wat doen hy anderdag?”
Maar dis nie iets wat ’n man op papier kan neerskryf nie. Dis iets wat jy self vir die meisie moet sê – ’n man moet versigtig wees, haar reaksies takseer, aanpas by die situasie. Dis net dat hy geen ondervinding het met dié klas dinge nie, hy ken nie eintlik vrouens nie, net sy ma, hy weet nie eintlik hoe vroumense dink nie.
“Marco?”
“Ja, nee, nee, ek weet nie,” tas hy verward in die donker rond.
Rachel gaan staan botstil en draai na hom. “Marco, luister jy ooit wat ek vertel?” vra sy met ’n fyn glimlaggie. Haar mond is effens oop, haar lippe vol en blink.
Hy gaan staan ook stil en kyk af na haar, sy is beeldskoon. “Jy is pragtig, Rachel Rozenfeld,” sê hy.
Haar glimlag verstar, die skrik kom lê in haar oë.
Hy vee met sy hand oor sy hare. Wat doen hy?
Haar donker oë begin lewe. “Marco?” fluister sy onseker.
Hy voel hoe die deernis in hom opwel, hom byna oorweldig. Hy kan homself nie meer keer nie, hy steek sy hand uit en raak liggies aan haar wang. “Ek … jy is mooi, Rachel.”
Sy skud haar kop onbegrypend. “Marco?” vra sy in ’n sterker stem.
Ek het gek geword, dink hy vlugtig, ek is besig om alles op te mors. Nou moet ek maar deurdruk, besef hy, dis nou of nooit. En nooit sal nie werk nie. “Ek hou van jou, Rachel,” sê hy eenvoudig en skud sy kop effens. “Ek hou van jou soos … ’n man van ’n vrou hou. Jy is vir my …” hy haal sy skouers op, “… pragtig.”
Sy frons effentjies, haar gesiggie ernstig, haar oë byna waaksaam: “Ek is ’n Jodin, Marco.”
Vir ’n oomblik weet hy nie wat om te sê nie, hy het nooit verwag sy gaan só reageer nie. Maar dan sien hy haar fluweelgladde vel, die laaste strale van die son baai haar gesig in goud. “Ja, Rachel, ek weet,” sê hy.
Sy byt saggies op haar onderlip, haar tande blink. “En jy is Rooms-Katoliek.”
Hy knik en kyk weg, af oor die vallei wat ver onder hulle blouerig oopvou uit die skeure tussen die berg se tone. Waarheen sou sy mik?
“Marco, kyk vir my.”
Hy kyk stadig terug. Haar oë dra ’n ou weemoed diep binne, die lot van die uitverkore volk wat die uitgestote volk geword het in die nuwe Europa. “Ek weet ons godsdienste verskil, Rachel, maar dis nou te laat om daaraan te dink. Ek het jou gevind, ek wil jou beter leer ken,” sê hy.
Sy skud haar kop. “My ouers … jou ouers? Marco, dit … vriendskap kan mos nie werk op … daardie vlak nie.”
Hy knik. Sy is soveel ouer as haar vyftien jaar, dink hy, soveel meer volwasse as die giggelende meisies by die universiteit. “Jy is moontlik reg, Rachel,” gee hy rustig toe. “Maar hoeveel ek ook al ons ouers se wense respekteer, is dit ons lewens wat ons moet lei. Ek het oor die afgelope maande … nou ja, ek het lief geword vir jou. Dis nie iets wat ek kan keer nie. Of … wíl keer nie. Ek wil hê ons moet probeer, net … probeer.”
Haar hande gaan na haar gesig, sy druk hulle teen haar rooi wange aan, haar oë is groot en donker op hom.
“Jy hoef nie nou iets te sê nie,” sê hy sag. “Ek wou net hê jy moet weet hoe ek voel. Kom, ons moet begin terugstap, dis nou-nou donker.”
Hulle stap stil terug na die dorp, die wete van hulle woorde onseker tussen hulle.
Die vakansie is amper verby. Nog twee maal gaan stap hulle oor die bruggie en halfpad op na die kasteel. Nou is Rachel die stil een, Marco probeer die ongemak tussen hulle oorbrug met klein geselsies.
Ek was dom, dink hy in die nagte, elke nag, ek het my kanse verspeel, ek het te gou gepraat, sy het geskrik vir my. Sy is te jonk.
Maar op die laaste dag voordat hy weer moet teruggaan universiteit toe, staan Rachel skemeraand in die tuintjie agter die Romanelli’s se huis. “Kan ons gaan stap, vir oulaas?” vra sy skugter.
Marco se hart klop swaar deur sy lyf. Die vreugde wil-wil deurbreek, maar die onsekerheid oor wat sy wil sê, demp enige moontlike opwinding.
Hulle stap tot by die antieke bruggie oor die Bartolini-rivier. Daar steek sy vas. Sy kyk in die smal poort af na onder, na waar die smeltende sneeu en reënwater oor eeue en eeue heen ’n diep ravyn in die kranse oopgekloof het.
“Rachel?” vra Marco sag.
Sy tuur steeds in die kloof af. Die paadjie op na die dorp is net plek-plek te sien. “Die pad na ons dorpie is maar baie vol kronkels,” sê sy asof terloops.
“Selfs ’n kronkelpad lei altyd iewers heen, Rachel,” sê hy ernstig.
Dan draai sy na hom, haar oë groot en baie donker. “Ek wens dit kon werk, Marco,” sê sy swaar, “maar …”
Sy sug diep.
Hy gryp die strooihalm aan. “Want … jy voel ook soos ek?” vra hy.
Sy aarsel eers, knik dan. “Ja, Marco, ek voel ook so.”
Die vreugde breek deur sy lyf, dit maak sy kop veerlig, dit lig sy voete tot bo die donker mure van die kasteel, tot bo die Alpe-kranse wat majestueus bo hulle uittoring. “Dan is dit genoeg, Rachel,” sê sy stem gerusstellend. “Vir eers is dit genoeg.”
* * *
In die jaar 1938 begin Marco onderwys gee in Vader Enrico se skooltjie op die dorp. Hy neem die senior klasse, hy leer vir die kinders Latyn en matesis, Engelse letterkunde en musiek, sodat hulle nie meer na die groot dorp moet gaan vir senior skool nie. Nou kan soveel meer van die dorp se kinders geleerd wees, sê die mense tevrede.
En hy en Rachel gaan stap, byna elke skemertyd.
Die mense van die dorp sien hulle en praat saggies. Twee sulke mooi jongmense, twee mense van onse dorp. Maar ai, hoe nou gemaak met … Dan haal hulle die skouers op.
1938 word ook die jaar van die Anschluss, die jaar toe Hitler vir Oostenryk sonder omhaal by Duitsland inlyf.
“Dis net die begin,” juig Lorenzo, Marco se jongste broer wat ook nou op universiteit is. “Duitsland en Italië gaan die hele wêreld wys, julle sal sien.”
Marco frons. “Jy praat asof jy Hitler se optrede goedkeur?” vra hy ernstig.
“Natuurlik dink ek dit is reg, Duitsland is stelselmatig besig om terug te neem wat ná die Groot Oorlog by hulle gesteel is. Hitler is die sterk man van Europa en Mussolini die slim man. Saam is hulle onoorwinlik,” sê Lorenzo entoesiasties.
Daardie nag kan Marco nie slaap nie.
Want Lorenzo se woorde bly hang soos ’n swaard bo Marco se kop. Mussolini volg slaafs in Hitler se spoor, Hitler is ’n halwe tree voor, Mussolini soos ’n bok wat ter slagting gelei word, agterna.
En daar is niemand op aarde méér anti-semities as Hitler nie.
In die laaste dae van 1938 word Marco Romanelli se gesig ernstig. En Rachel Rozenfeld se lag word stil.
Want Mussolini se rassewette word al meer radikaal.
Die nuutste een verbied enige Jood om met ’n Italianer te trou.
“Marco?” Haar stem pleit.
“Ons sal ’n plan maak, ek belowe,” sê hy en streel die donker hare uit haar gesig.
* * *
“Tannie, was daar régtig so ’n wet?” vra Rialien. “Dis … hulle kan mos nie so ’n wet maak nie?”
“Hulle kan,” antwoord Lettie. “Dink ’n bietjie aan ons eie land – hier is ook sulke wette.”
Rialien skud haar kop. “Nee, ons kan mos met Jode trou. Nie dat ons sal nie,” voeg sy vinnig by, “maar ons kan as ons wil.”
“Maar jy kan nie met byvoorbeeld ’n Indiër gaan trou nie,” troef Lettie. “Of met ’n Kleurling nie, selfs al is hy Afrikaanssprekend én van ons kerk.”
“Ek … het nog nooit só daaraan gedink nie,” sê Rialien met ’n frons.
“Eintlik is die wêreld maar oraloor dieselfde, omdat die mense dieselfde is. Die mens is magsbehep, oor eeue heen al, dit loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis,” sê Lettie. “Maar dit daar gelaat, kom ons gaan voort met ons storie.”
* * *
Toe Duitsland vir Pole binneval op 1 September 1939, het die huise in die dorp stil geword. Want die mense van die dorp het geweet. Hulle het die Groot Oorlog beleef, oorleef. Baie van hulle geliefdes het nié.
Die huisie van die Rozenfelds het selfs stiller geword, want hulle het anti-Semitisme beleef – eers in Rusland, later in Litaue. Mister Rozenfeld se skouers het skraal geword.
Rachel Rozenfeld het steeds klokslag die winkel se deur gaan oopsluit. Maar wanneer sy ’n vreemde geluid hoor, kyk sy dadelik op.
Dit was stil, soos voor ’n storm. Die mense het gewag.
Die donderstorm breek ses maande later oor Europa oop, Duitsland begin met sy Blitzkrieg, die Deutsche Wehrmacht storm in. Op 9 April ontvang Denemarke en Noorweë ’n ultimatum om onmiddellik die beskerming van die Deutsches Reich te aanvaar. Denemarke gee oor, Noorweë word oorstroom en platgevee deur die Nazi-tenks.
En die oorlog sypel in die huise in – die loeiende winde waai dit by die deur in wanneer iemand van buite inkom, dit syfer in deur die vloerplanke en die toe luike. Saans by die skoongeskropte tafels en die potte stomende polenta en spezzatino en die bottels tuisgestookte wyn, spoel die oorlog tussendeur die woorde van elke gesin se aandgesels in, dit stroom in die huise se harte in.
Vroeg in Mei begin Hitler se pantserdivisies weswaarts oor die Noord-Duitse vlaktes aankruip. ’n See Duitse tenks rol in, vloedgolf ná vloedgolf tref die Hollandse dorpies, hulle weermag-dyke breek, Holland verkrummel voor die aanslag. Die Blitzkrieg rol deur Gelderland, bo-oor Utrecht tot binne-in Amsterdam en verder aan, België toe.
Op 15 Mei gee Nederland oor, op 28 Mei tuimel België.
Britse, Franse en Belgiese troepe sit vasgekeer teenaan die see by Duinkerken, hulle word gered deur ’n see vol vissersbootjies.
Die gerugte oor die vervolging van die Jode in Duitsland en Oostenryk word erger, daagliks. En al is die mense van die dorp hoe lief ook al vir mister en missus Rozenfeld en hulle twee dogters, is Italië – en die dorp – nie meer veilig nie.
En toe die dokter van die dorp – die slim man van die dorp – saam met Marco die kronkelpaadjie bergop stap en hulle skemertyd eers weer terugkom, het die ooms van die dorp diep gesug, het die tantes geprewel, kralekranse tussen die vingers.
* * *
Dis Saterdagmiddag. Giuseppe Romanelli en Baron Veneto en Vader Enrico en die dokter van die dorp is by hulle skaakborde, die jonger manne speel bocchi op die dorpsplein, die seuns skop die sokkerballe op die plato sonsakkant bo die dorp.
Die son skyn, dit is somer. Maria skud die matte uit en hang dit oop in die son, tia Sofia pak die dun tamatieskyfies op die draadrakkie oop, die tantes van die dorp kook vrugte en groente en verseël dit versigtig in warm flesse. ’n Mens weet nie wat wag nie.
Twee figure stap teen die berg op. Die man dra ’n mandjie in sy een hand. Op hierdie sonskyn-Saterdagmiddag loop hulle hand aan hand, want almal weet nou: Marco Romanelli en Rachel Rozenfeld is lief vir mekaar – mag die Heilige Moeder van God hulle bewaar.
Naby die kasteel gooi Marco die lappieskombers op die kweek oop, Rachel pak die mandjie uit: brood met bokmelkkaas en soetkonfyt, biscotti en appels, ’n kraffie wyn. Dan sak sy langs hom op die kombers neer. “Die son bak so lekker, nè, Marco,” sê sy en leun terug, haar oë is toe, haar gesig na die son gedraai.
“Ons het nou lieflike dae,” sê hy. “Ons moet elke oomblik daarvan geniet.”
“Want die winter kom weer,” sê sy met haar oë steeds toe.
“Ja,” peins hy, “die winter kom.”
Dan draai sy op haar sy, stut haar kop op haar arm. “Vertel vir my iets interessants – miskien ’n storie? Toe, asseblief?”
Marco kyk af in haar donker oë. Vandag móét hy praat, hy weet hy moet. Die stories van kastele en prinsesse is net sprokies, hulle moet vandag ’n plan van aksie bespreek.
Hy weet net nie hoe om dit te doen nie.
Hy trek haar nader aan hom, die luggie begin effens opsteek. “Die interessantste stories is ware stories, dinge wat werklik gebeur het,” sê hy half afwesig.
“O ja, vertel,” dring sy aan en skuif in die waai van sy arm in.
Hy haal sy skouers op, maar begin dan tog praat. “Het jy geweet die unifikasie van Italië het reg hier in ons provinsie begin, in Piedmont? Italië was eers nege los state, maar toe kom Cavour, hy is hier in Piedmont gebore, en … ”
Sy begin lag. “Marco! Ons hou ’n piekniek, moenie skoolmeneer wees en die geskiedenis bysleep nie. Vertel ’n regte storie.” Sy skuif dieper teen sy lyf vas.
“Rachel, dis nie maklik om ’n storie vir jou te vertel as jy so naby my is nie!”
Sy lag saggies. “Jou probleem,” terg sy gemaak onsimpatiek.
Hy sug. Hy moet verby die storie-vertel kom, hy móét met haar praat. Maar ’n storie sal hy eers moet vertel, hy ken haar. “Goed dan,” begin hy. “ ’n Graaf en gravin het twee seuns gehad. En toe …”
“Sê eers waar hulle gewoon het?”
“In ’n kasteel, ’n baie mooi, groot kasteel hoog op teen ’n berg. Die kasteel was in Spanje, maar ek dink dit het ook gelyk soos hier, soos by ons kasteel.”
“ ’n Klipkasteel, goed,” knik sy tevrede. “Maar dan was dit lank, lank gelede?”
“O ja, ons kasteel kom ook mos uit die Middeleeue. Ewenwel, die graaf en gravin se oudste seuntjie, wat later die graaf Di Luna sou word, was sterk en gesond. Maar toe die jongste seuntjie nog ’n babatjie was, het ’n sigeuner gekom en hom getoor, sodat hy baie swak en sieklik was.”
“Nou hoekom sal sy so ’n nare ding doen?”
“Sy het seker maar edie en of ander grief teen die koning gehad, ek weet nie,” sê hy. Sy voorvinger volg die lyne van haar gesig. “Jy is baie pragtig, weet jy?”
“Marco! Die storie!”
“Goed. Die ou graaf laat vang toe die sigeuner en stuur haar om op ’n brandstapel te brand.”
“Soos ’n heks?” frons Rachel.
“Hulle het seker geglo sy is ’n heks. Maar net voordat sy sterf, het sy vir haar dogter, Azucena, laat belowe dat sy haar dood sou wreek. En daarom steel Azucena daardie nag die klein broertjie. In die woud buite die kasteel maak Azucena toe ’n groot vuur. Toe die wagte later gaan kyk, vind hulle die beendere van ’n kind in die as. Maar die ou graaf het geweier om te glo dat dit sy seuntjie was. En toe hy baie jare later op sy sterfbed lê, gee hy opdrag aan sy oudste seun, die graaf Di Luna, om Azucena te vind.
“Nou, hierdie graaf Di Luna was verlief op Leonora, een van die Spaanse prinses se vriendinne. Maar sy was weer verlief op …”
“Nee, nee! Jy moet eers volledig sê hoe sy gelyk het.”
Hy kyk af na haar, hy vee die donker krulle uit haar gesig. “Ek dink sy het rooi wange gehad, en swart krulle al om haar gesiggie, en die mooiste swart ogies in die wye wêreld. Sy was regtig baie, baie pragtig.”
Sy lag gelukkig. “Goed, en nou die storie. Sy was verlief op …?”
“Leonora was nie verlief op die graaf nie, sy was verlief op die troebadoer Manrico. En eendag toe die graaf sien hoe sy in Manrico se arms inhardloop, daag hy die troebadoer uit tot ’n tweegeveg. Leonora probeer nog keer, maar verniet, die geveg gaan voort. Want die vuur van jaloerse liefde is ’n dodelike vuur.”
Sy frons onbegrypend, toe sit sy skielik regop. “Ag, néé, Marco, nou gaan die graaf seker die troebadoer doodmaak. Ek het gesê ek wil nie weer so ’n hartseer storie hoor soos die storie van die prinses wat in hierdie kasteel opgesluit was nie … wat was haar naam nou weer?”
“Clotilde, sy was die dogter van koning Victor Emmanuel, wat toe die koning van Piedmont was.”
“Ek wil nie weer so ’n hartseer storie soos die storie van Clotilde hoor nie.”
“Nee, hierdie een is … anders. Luister nou eers. Dis buitendien die storie van ’n bekende opera, ek wil graag hê jy moet die storie ken.”
Sy gaan lê weer terug in sy arm. “Goed, maar ek weet nie wat ’n troebadoer is nie.”
“Rachel, geen mens kan ’n storie vertel as jy so baie vrae tussenin vra nie!”
“ ’n Troebadoer?” dring sy aan.
“ ’n Troebadoer is ’n minnesanger. Onthou, die storie speel af in die Middeleeue, toe het minnesangers van kasteel tot kasteel beweeg en …”
“Manrico die minnesanger?” wonder sy ’n oomblik. “Dit klink goed. Gaan nou aan met die storie. Het die troebadoer gewen?”
“Wel, albei is gewond in die tweegeveg, maar Manrico het gevoel hy het gewen. Maar, ’n feit wat ons nie vooraf weet nie, is dat Manrico eintlik Azucena se seun was.”
“Dis mos nou die sigeuner wat verbrand is, se dogter, wat gesweer het sy sal haar ma se dood wreek, nè?” maak Rachel seker.
“Dis reg, ja. En hoewel Azucena al oud was, haat sy steeds die graaf wie se pa haar ma verbrand het. Nou eers vertel sy die hele storie vir haar seun, Manrico. Sy vertel ook vir hom dat sy van plan was om die ou graaf se seuntjie wat sy gesteel het, te verbrand, maar sy het toe haar eie kind in die vuur gegooi …”
“Ag nee, so ’n nare ou vrou! Marco, is hierdie ’n mooi storie?”
“Rachel!” sê hy moedeloos.
“Goed, ek luister. Gaan aan.”
“En sy vertel toe ook vir hom dat sy die ou graaf se seuntjie as haar eie seuntjie grootgemaak het.”
“So: Manrico is eintlik die ou graaf se siek seuntjie, hy is eintlik graaf Di Luna se boetie?” vra Rachel. “Dis ’n baie moeilike storie!”
“Ja, dit is. En net toe arriveer ’n boodskapper om te sê dat Leonora, wat geglo het dat Manrico in die tweegeveg dood is, besluit het om vir die res van haar lewe ’n non in ’n klooster te word. Sy sou daardie nag nog die eed gaan neem. Manrico haas hom toe om vir Leonora te keer.
“Intussen beplan graaf Di Luna en sy helpers om Leonora te ontvoer uit die klooster. Maar toe Leonora en die ander nonne daar verbyloop, ontvoer Manrico vir Leonora en neem haar weg saam met hom.”
“En toe lewe hulle vir altyd gelukkig saam?” vra Rachel.
“Nie eintlik nie,” antwoord Marco.
“Wel, dan wil ek nie die einde van die storie hoor nie,” sê sy beslis. “Dis soos daardie storie van Romeo en Juliet wat jy anderdag vir my vertel het. Dit maak my sommer kwaad. Marco, hoekom is verliefdes in stories heeltyd so dom? Dis nie logies nie.”
Marco sug. “Dis die storie, Rachel. Stories is nie altyd logies nie. Dis hoekom ware verhale altyd beter is, soos die verhaal van prinses Clotilde.”
“Nee, die waarheid het te veel hartseer.”
“Soms moet ’n mens maar die waarheid in die oë kyk,” sê hy ernstig.
“Soos … nou?” vra sy sag, skielik ernstig.
“Ja Rachel, soos nou. Ons móét praat,” sê hy dringend. Hy pleit byna.
“Ek weet.” Haar stem klink ver, yl. Gelate. “Ons moet weg, nè, Marco? Ons moet nou weg.”
Marco knik stadig. “Dit sal beter wees, net vir ’n rukkie. Miskien Switserland, dis tog naby. Ek sal julle help, Rachel, ek sal …”
“Ons … kan alleen regkom.”
“Nee, Rachel, ons het dit al bespreek. Ek gaan saam, ek gaan sorg dat julle ’n veilige plek het vir die duur van die oorlog.”
“Kan ons nie maar net in ons huisie wegkruip nie? Nooit die deure oopsluit nie, die vensters dig hou? Dan bring jy net vir ons kos, in die nagte?”
“Nee, dit gaan nie werk nie, jy weet dit.”
Sy sug diep. “Ek weet. Ek is net so moeg van … weggaan.” Dan skud sy haar donker krulle uit haar gesig en glimlag dapper op na hom. “Jy moet maar eendag vir my die storie van Leonora en Manrico klaar vertel, Marco. Dis nie nou … storietyd nie.”
Hy vou sy arms stywer om haar.
“Ek sal, ek belowe,” sê hy. Dan soen hy haar op haar voorkop en sê gemaak vrolik: “Ek dink dis nou etenstyd, wat dink jy? ’n Piekniek sonder ’n ete is mos nie ’n regte piekniek nie?”
Toe hulle teen skemeraand terugstap dorp toe, haar handjie veilig in syne toegevou, sê hy: “Hierdie oorlog gaan ook nie vir ewig aanhou nie, Rachel. Hitler sal verslaan word, dit weet ek. En dan kom julle terug na ons dorp en ons vind iemand wat ons kan trou, sommer die priester én die rabbi, wat dink jy?”
“Dink jy regtig dit gaan eendag gebeur?”
“Ja Rachel, ek wéét dit gaan gebeur,” sê hy beslis.
Maar ’n koue hand vou om sy hart.
* * *
Die gerugte neem toe, lélike stories oor hoe die Jode in Duitsland en Oostenryk vervolg word, ook in Pole en Tsjeggo-Slowakye en Hongarye.
“Ek gaan weg saam met julle,” sê Marco die aand vir mister Rozenfeld. “Ons gaan kyk of ons êrens in Switserland of in Frankryk ’n blyplek vir julle kan vind.”
“Jou plek is hier, Marco,” sê mister Rozenfeld moeg. “Ons sal regkom.”
“Ek gaan saam,” sê Marco beslis. “Wanneer ek weet julle het ’n veilige woonplek, sal ek terugkom na die dorp en na die kinders in my klas. As die oorlog verby is, en ek is seker dit sal gou wees, kom haal ek julle weer.”
“Dan is dit goed,” sê mister Rozenfeld.
Die volgende week vertrek die Rozenfelds met hulle ganse pakkasie op die spoorwegbus, Marco saam met net sy rugsak oor sy skouer geswaai.
Maar toe die spoorwegbus ’n week later bultop beur tot by die dorpsplein, is hulle almal terug, sak en pak.
“Frankryk is nie ’n opsie nie, die Jode vlug strepe uit Frankryk. En Switserland het sy grense gesluit,” sê Marco en vee moeg oor sy swart hare. “ ’n Vloedgolf vlugtelinge het hulle oorstroom, vanuit Frankryk en Italië, Duitsland en Oostenryk en lande so ver as Pole en Rusland. Net die rykstes kan nog hulle pad inkoop.”
Die kommer het dieper lyne in mister Rozenfeld se rooi gesig ingesny, missus Rozenfeld staan verwese kop en skud, Rachel se appelrooi wange het bleek geword.
Die volgende oggend sluit Rachel maar weer die winkel oop, asof hulle nooit weg was nie. Die tantes gaan koop hulle meel en koffie en stopgare, want die voorrade tuis het laag geraak.
Die lewe gaan voort, soos eeue al.
Op 10 Junie 1940 verklaar Mussolini oorlog teen Engeland en Frankryk.
En toe die Franse ook kapituleer, slaan die mense van die dorp hulle hande verslae saam. Dit is goed die Rozenfelds het nie Frankryk toe gegaan nie, sê hulle vir mekaar. Want waar die hakekruis triomfantlik rooi en swart hoog bo die koppe wapper …
Die stories oor die Jode groei in omvang, nou ook stories oor die Jode in Frankryk, in Holland en België. Oral is die Jode nou slagvee agter doringdraad in hulle ghetto-kampe.
“Ons móét julle versteek,” sê Marco dringend vir mister Rozenfeld. “As een van die huise net ’n geheime kamer gehad het, ’n kelder selfs …”
Maar die huise op die dorp is klein en eenvoudig, net die baron se villa het ’n wynkelder. En almal weet van die kelder.
* * *
Toe trek ’n garnisoen soldate, van Mussolini se Swart Hemde, neffens die dorpie in, hulle slaan hulle kamp op sonsakkant styf teenaan die dorp, in die skadu van die ou Romeinse kloktoring.
Daardie aand sê Maria: “Marco, Papa en ek het gepraat. Die Rozenfelds moet dadelik wegkom hier, dit het nou te gevaarlik geword.”
“Ek weet.” Marco sug diep en stoot die vingers van albei hande deur sy dik hare. “Ek weet net nie waarheen ons moet gaan nie.”
Toe kyk sy ma ernstig na hom. “Jy moet besef, Marco, as jy met hulle geassosieer word, is dit lewensgevaarlik vir jou.”
Marco Romanelli kyk net so ernstig terug. “Ek weet, Mama, ek weet.” Hy draai na sy pa. “Maar ek weet ook dat ek nie anders kan nie.”
Giuseppe Romanelli knik ernstig. Hy verstaan.
“Ek is al suf gedink,” sê Marco. “Ek het gewonder …” Maar hy sê nie wat hy gewonder het nie.
“D-d-die b-b-berg,” stamel Giuseppe.
Maria draai haar kop skerp in sy rigting. “Giuseppe?”
“Dis waaraan ek ook gedink het,” knik Marco, “maar ek is nie seker nie.”
“Dis koud daar bo, die winter kom aan,” gooi Maria wal. “Julle kan nie …”
“N-n-nie ander p-p-plek,” sê Giuseppe.
“Papa is reg,” sê Marco, “dit bly die enigste oplossing.”
“Maar, dis geváárlik, en …” begin Maria.
“Mama, ek ken die berg soos die palm van my hand, ek het in hierdie berg grootgeword, Papa het ons geleer. Daar is baie grotte waar ’n mens deur die koue winter heen kan oorleef, as jy weet wat jy doen. Papa is reg: ’n mens, ’n hele gesin kan hierbo verdwyn en wag.”
Maria Romanelli druk albei haar hande teen haar gesig vas. “O! Hierdie oorlog!”
“Dit sal nie lank wees nie,” troos Marco en slaan sy arm om sy ma se skouers. “Dis net tydelik, totdat alles weer normaal word.”
Giuseppe knik. “G-g-gaan,” sê hy.
Toe buk Marco af en gee sy ma ’n soen op die wang. “Ek gaan met die Rozenfelds praat,” sê hy en stap by die deur uit.
En vir die eerste keer vandat die Rozenfelds teruggekom het dorp toe met die spoorwegbus, sluit Rachel die volgende oggend nie die winkel oop nie. Ook hulle huis se vensters en deure bly toe, die hele week lank.
En Marco gaan stil-stil Turyn toe en kom terug met sakke vol voorrade. Die tantes dra in die nag gepekelde groente en gedroogde tamaties aan, olyfolie en polenta-meel en ’n bottel wyn. In die nagte dra Marco en Giuseppe swaar sakke na êrens bergop.
Op die laaste aand sê Marco: “Ek is net hier bo, Mama,” en hy druk sy ma styf teen hom vas. “En ek sal van tyd tot tyd steeds dorp toe kom om proviand te kom haal, seker minstens een maal per maand.”
“Papa sal ekstra komberse bring, sodra ons dit kry,” praat Maria verby haar trane. “Hy sê hy sal dit in die tweede grot laat, jy sal weet waar dit is. Hy sê … julle sal regkom.”
“Ja,” sê Marco. “Papa ken die berg beter as enige iemand anders.”
“Gaan veilig, kom veilig terug,” sê Maria en slaan die kruisteken voor haar bors.
Daardie nag verdwyn die hele Rozenfeld-gesin. En Marco Romanelli. Die donker sluk hulle in, die volgende oggend het die berg hulle reeds toegevou.