Читать книгу Kronkelpad - Irma Joubert - Страница 8
Hoofstuk 4
Оглавление“In ’n grót?” vra Rialien bekommerd en sit haar pen vir ’n oomblik neer. “Tannie Lettie, dis … erg. Wou hulle regtig in ’n grot gaan bly, so saam met … vlermuise en goed?”
Lettie lag. “Wel, ek weet nou nie of daar vlermuise in die grotte bo in die Alpe is nie. Maar ja, hulle het die grot seker met ‘en goed’ gedeel, hulle het nie vele keuses gehad nie, dit was ’n goeie wegkruipplek. Maar eers moes hulle daar kom, teen die steil kranse uit.”
* * *
Die klim gaan bitter stadig, voel-voel, voetjie vir voetjie. Dis ’n donker nag, net die sterre blink hoog bo in die swart hemelruim.
Marco loop voor, hy ondersteun missus Rozenfeld stewig onder haar arm – eintlik sleep hy haar bergop. Die bergpaadjie kronkel smal boontoe, die helling is steil, hulle moet kort-kort rus. Soms klouter hulle meer hande-viervoet as wat hulle stap.
Die ronde vroutjie langs Marco hyg en struikel, leun swaar op hom, klou sy hand beangs vas. “Ek kan nie meer nie,” snik sy later.
“Ons moet in die donker vorder tot by die eerste grot,” sê Marco. “Daar sal ons die dag deurbring en rus.”
Om Marco se lyf is ’n tou gebind, dit rem kort-kort wanneer iemand agter hom struikel. “Ek kan níks sien nie,” kla Ester. “Ek sweer dis lewensgevaarlik om teen hierdie kranse op te klouter in die pikdonker.”
“Dis die enigste veilige tyd, ons kan dit nie waag dat een van die garnisoen se manne ons sien nie,” sê Rachel agter haar. Ook sy hyg reeds na haar asem. “Die maan sal later opkom, dan sal dit helderder wees.”
“Ook maar seker net ’n halwe maan,” bly Ester ontevrede.
Wanneer hulle rus, gee Marco vir almal stukkies kaas en blokkies sjokolade om te eet, soms ’n paar rosyntjies. “Drink genoeg water, al is julle nie dors nie,” sê hy.
Die maan kom in die nanag skugter oor die bergtoppe, die yl lig troos meer as wat dit werklik verlig. Hulle sukkel voort.
Net ná sonsopkoms bereik hulle die eerste grot. Hulle het vir byna tien ure gestap – dit neem vir Marco en sy pa heelwat minder as vier ure, selfs in die nag. “Ons bring net die dag hier deur, vannag gaan ons verder,” maan Marco.
“Is ons nie veilig genoeg hier nie?” vra mister Rozenfeld. Sy gesig lyk bleek, hy vee sweet af hoewel ’n koel briesie waai. “My vrou … ek glo nie sy sal nog ’n nag kan stap nie.”
“Hierdie grot is nie regtig veilig nie, die dorp se bokwagters kom soms tot hier,” sê Marco. “En die jong seuns wat die berg verken, weet van hierdie grot. Maar ons kan vir twee dae hier rus en dan aangaan.”
Byna ’n week nadat hulle vertrek het, bereik hulle eers die grot wat Marco uitgesoek het. Hy was nog net een maal hier – die dag, seker goed vyf jaar gelede, toe hy en Antonio die grot ontdek het. “Ek dink ons is die heel eerste mense wat in hierdie grot ingaan,” het Antonio nog opgewonde gesê.
Die laaste dag is die moeilikste. Dit is die enigste dag wat hulle in daglig geklim het – teen hierdie steil kranse af sal selfs die ervare bergklimmers dit nie ná donker waag nie.
Marco neem eerste vir Ester ondertoe, stewig vasgemaak aan ’n tou. “Ons gaan dan nou weer af, al die pad wat ons opgeklim het!” kla sy.
“Ons het vir lang tye dwars gestap, ooswaarts, hoewel dit baie op en af was,” sê Marco. “Nou gaan ons af in hierdie kloof in, die grot is nie veel hoër as ons dorpie nie, wat beteken dat dit nie so erg koud sal word soos hoër op nie.”
Toe gaan haal Marco vir mister Rozenfeld. “My vrou gaan dit nie maak nie,” sê hy bleek om die kiewe, sopnat gesweet. “Sy ly erg aan hoogtevrees.”
“Ek sal haar oë toebind,” sê Marco.
Maar toe hy weer bo kom, weier missus Rozenfeld volstrek om teen die steil kranse af te klim. “Ek sterf eerder hier bo, dan val ek jou nie ook die ewigheid in nie,” sê sy.
Dit kos kwaai praat van Rachel en baie gerusstellende geluide van Marco om haar eindelik onder te kry. “Hier moet julle my maar begrawe,” sê sy toe almal weer bymekaar is, “want teen daardie kranse gaan ek waaragtig nie weer uit nie.”
“Dis juis hierdie diep, byna onbegaanbare skeur wat ons redding is,” sê Marco. “Die grot wat ek in gedagte het, is net hier voor, half agter nog ’n skeur wat die bek totaal versteek. Hier sal geen mens ons kry nie.”
En dit is ook so. Eers toe hulle reg voor die grot staan, roep Ester verras uit: “Hier is sowaar ’n grot! ’n Mens sal dit nooit raai nie!”
Die bek van die grot is ’n lae spleet in die rotse, nie meer as drie voet hoog nie. Ester buk en kruip hande-viervoet eerste in.
Binne is die grot half skemer, selfs al skyn die son helder buite. Die vloer van die grot loop effens skuins na bo. Die voorste gedeelte is grond, verder na agter is ’n redelik gelyke klipplaat. Die dak is laag, sodat Marco nie regop kan staan nie. Maar die Rozenfelds is kort, dit pla hulle nie.
Die grot is nie baie diep nie, maar diep genoeg dat hulle ’n soort privaatheid sal kan skep. “Ek dink ons moet ’n skerm bou om die grot in twee dele te verdeel,” stel Marco voor toe almal klaar rondgekyk het. “Julle kan dan almal agter slaap. Die voorste gedeelte rig ons in as kombuis- en woonvertrek. Ek sal ook sommer voor slaap.”
“Dan kan jy die wolwe keer wat ons in die nag wil kom opvreet,” lag Rachel.
“Jy moenie spot nie, hier is nog ongediertes in die berg,” waarsku Marco. “Dis hoekom die bokwagters se bokke soms wegraak.”
“Ek is banger vir die Nazi’s as vir die wolwe,” sê Ester beslis.
Die volgende drie weke loop Marco, Rachel en Ester nog vyf maal om al die voorrade wat Marco en sy pa in die eerste twee grotte opgegaar het, te gaan haal: warm klere, komberse, potte en eetgerei, lampe en kerse, die medisynekassie vol kruie en salfies en strope. Ook die kos: sakke polenta en gedroogde pasta en meel, bottels olie en konfyt, ingelegde vrugte en groente, gepekelde vleis en gestolde vet, sout en suiker en koffie, selfs ’n bietjie wyn – die dorp het sy hart en sy hande oopgemaak. Laaste bring hulle Marco se boeke en sy viool.
Toe begin hulle lewe in die grot.
Rachel neem die huishouding oor, sy rangskik en sy organiseer. Daar moet daagliks water gehaal word en soveel moontlik hout – ook om te bêre vir die lang wintermaande wat net om die draai wag.
Snags is dit reeds baie koud. Marco is bly vir die warm jasse en musse wat die Rozenfelds nog van Litaue af saamgebring het. As die winter regtig toeslaan, gaan hulle dit baie nodig hê.
Hulle bou ’n skerm van takke en woel dit vas om die agterste gedeelte af te skort. Hulle bou ook ’n tweede skerm wat hulle met fyn dennetakkies en -naalde so dig moontlik maak. Hulle gebruik dit as ’n soort deur voor die bek van die grot om die koue snags uit te hou.
“Ons moet ’n vuurherd prakseer om ons kos gaar te kry,” sê Rachel.
“Miskien hier net buite die bek van die grot, hier in die hoek van die skeur,” sê Marco. “Dit sal goed hier beskerm wees teen die wind en dan kan die rook na buite gaan. Ons moet maar net ná donker vuur maak, sodat die rook nie dalk van êrens af opgemerk kan word nie. Die mense in die dorpies teen die berghange is so ingestel op ’n brand in die berg, as iemand ’n rokie sien, sal hulle beslis ’n soekgeselskap uitstuur om die vuur te vind.”
Die lewe in die grot begin in ’n sekere ritme val – rustig, byna huislik.
Bedags doen hulle die gewone huistakies: vee, gaan haal hout en water, was, maak kos. Hulle lees baie. Missus Rozenfeld het nooit geleer lees nie, Marco of Rachel of soms mister Rozenfeld lees vir haar voor uit Marco se boeke. “Ons het nie baie interessante boeke saamgebring nie,” sê Rachel.
Elke oggend merk mister Rozenfeld getrou die dag op die kalender af, só weet hulle altyd watter dag dit is, wat die datum is. “Hoekom is dit belangrik?” vra Ester.
“Ons moet weet,” sê haar pa.
Hulle maak byna elke dag musiek. Mister Rozenfeld kan self ook viool speel en Marco leer die twee Rozenfeld-dogters die fyner kunsies van die instrument waarvoor hy so lief is.
Eendag, terwyl hulle besig is met wat die meisies spottenderwys hulle “musieklesse” noem, wil hy hulle vertel van die opera. “Toe ek in Turyn op universiteit was, het ’n groep van ons eendag per trein na Milaan gereis, na die La Scala-operahuis daar,” onthou hy met ’n glimlag. “Dit was ’n … wonderlike ervaring. Ons het La Traviata gesien, met Tito Schipa in die rol van Alfredo.”
“La Traviata – die gevalle vrou?” vra Ester geamuseerd. “Waaroor gaan die storie?”
“Dit speel af in Parys, rondom die begin van die agtiende eeu …” begin Marco.
“Ester, jy wil nie hierdie operastories hoor nie!” sê Rachel beslis. “Marco het al vir my een of twee vertel, en dis die onnoselste stories waaraan jy kan dink. En die musiek is aaklig – dis daardie goed wat die dokter soms oor die grammofoon gespeel het.”
Saans is dit moeiliker, hulle wil nie die lampolie en kerse onnodig gebruik nie – die winter lê voor. Dan lok Marco vir mister en missus Rozenfeld uit om stories te vertel: Russiese volksverhale waarmee hulle grootgeword het, staaltjies uit die tyd toe Rusland nog ’n tsaar gehad het, soms staaltjies wat hulle nog by hulle oumas en oupas gehoor het. Hulle vertel ook van die pogroms in Rusland, hoe die Jode daar al in die vorige eeu vervolg is, hoe hulle ouers na Litaue verhuis het.
Rachel en Ester vertel van hulle skool in Litaue, van dinge wat hulle kleintyd aangevang het. “O, ek het nooit geweet dís wat julle gedoen het nie!” sê missus Rozenfeld geskok. “Dis mos gevaarlik!”
So word ook die nagte ’n bietjie korter.
Maar ná ’n ruk begin Ester geïrriteerd raak, sy loop rond soos ’n dier wat vasgekeer is, haar frustrasies begin net onder die oppervlak broei. En toe Rachel weer vir haar vra om iets te doen, bars die vulkaan oop. “Jy’s g’n my baas nie!” skree sy. “Doen jou eie vuilwerk!”
Daardie selfde aand, toe Rachel vir hulle plat, ongesuurde roosterkoeke en bietjie konfyt gee vir aandete, roep Ester uit: “Ek sal waaragtig nie wéér hierdie goed eet nie! Dis die vierde keer hierdie week wat ons hierdie klippe kry om te eet! Daar is mos baie ander kos.”
“Estertjie, ons moet almal saamwerk,” probeer mister Rozenfeld vure doodslaan. “Racheltjie tref net voorsorg vir die winter.”
Maar Ester ruk haarself op en gaan lê dikmond in die donker agtervertrek op haar skaapvel.
* * *
Een aand ná ete sit Marco en Rachel alleen buite. Dis ’n helder, ysige nag, die maan is nog nie op nie, die hemelruim is swart fluweel, die sterre is helder en ongelooflik naby. Hulle het hulle jasse aan en hulle musse op, hulle lywe styf toegewikkel in een kombers.
“Dis … eintlik wonderlik hier,” sê Rachel dromerig. “Dis nie so koud soos wat ek gevrees het nie, net half byterig.”
“Wag maar, as die winter regtig toeslaan, gaan ons elke bietjie energie nodig hê om te oorleef,” waarsku Marco.
“Dis jammer almal kan dit nie ewe veel geniet nie,” peins Rachel. “My ma … ek is bekommerd oor haar, sy is so lusteloos, sy stel in niks regtig belang nie. Sy help nie eens kos maak nie – sy het altyd kos gemaak.”
“Dit moet vir haar baie swaar wees, ongemaklik,” sê Marco.
“En Ester is regtig onmoontlik, ek weet nie hoe ons die winter gaan deursien met haar nie.”
“Ester is pas veertien jaar oud,” sê Marco rustig, “sy is maar net ’n tipiese tiener.”
“Maar sy is so selfsugtig, Marco, en so ondankbaar,” frons Rachel.
Marco glimlag. “Veertien,” sê hy weer. “Een van ons grootste gevare is verveling, ons het min om ons te stimuleer. Ek dink dis ook deel van Ester se probleem.”
“Daar is genoeg takies waarmee sy my kan help,” sê Rachel. “En jy probeer haar nog onderrig ook, selfs daarmee is sy maar goed steeks.”
Marco lag. “Dis beslis nie wat ’n tiener in gedagte het nie,” sê hy. “Maar genoeg van Ester. Ons is vir ’n oomblik alleen hier bymekaar, ons gaan beslis nie nou oor ander mense praat nie.”
* * *
Toe breek die winter aan. Die winde loei in die kloof af, huil dag en nag soos honger wolwe om die grot, ruk soms woedend aan die karige takskerm voor die bek van die grot.
“Daar is voordele aan die wind,” sê Marco filosofies. “As dit so waai, sal dit al die rook wegwaai voordat iemand dit kan opmerk. Ons hoef nie nou meer net saans vuur te maak nie.”
“Ek is net bang die hout raak op,” twyfel Rachel.
“Kom ons verdeel die hout by voorbaat in ses hope vir die ses wintermaande,” stel Marco voor. “Teen einde Maart behoort ons beslis weer te kan gaan hout soek. Waarskynlik vroeër, maar dan is ons baie veilig.”
“Einde Máárt!” kreun Ester. “Ons gaan nog vrek hier binne.”
“Dit is nou genoeg, Ester,” sê mister Rozenfeld beslis. “Dink aan die alternatief en hou op kla.”
Hulle begin dadelik die hout uitsoek, selfs missus Rozenfeld kom ná ’n rukkie help. Sommige van die hout wat hulle gekry het, is nog nat binne. Mister Rozenfeld soek die hout so versigtig moontlik uit, hy pak die natter hout oop teen die wand van die grot sodat dit kan uitdroog.
Soms draai die wind skielik en stoot ’n vlaag rook in die grot in. Hulle oë traan van rook, alles ruik later na rook.
Saans neem hulle ’n blik waarin Marco ’n paar gate langs die kante gemaak het, en pak warm kole uit die vuurherd daarin. Dit hou die grot redelik warm deur die koue nag.
Aan die begin van Oktober kom die eerste sneeu. Party dae sif yl sneeuvlokkies sag neer, ander dae stort sluise ysreën en sneeukristalle in die klowe neer.
Net soms breek die flou winterson deur die grys wolkemassa.
Hulle wêreld verklein tot die grot en onmiddellike, wit omgewing net buite die grot.
En soos die lang, eenselwige dae mekaar dag vir dag opvolg, en die yskoue, donker nagte langer en eindeloos langer word, word Ester moeiliker en moeiliker, word missus Rozenfeld al meer tranerig, word mister Rozenfeld al stiller en meer ingetoë.
Net Rachel bly blymoedig. Maar wanneer hulle alleen is, sê sy: “Marco, sê asseblief vir my die winter sal verbygaan?”
Marco glimlag moeg en streel oor haar gesig. “Dit word altyd weer somer, ek belowe,” sê hy. Dan word sy gesig ernstig, sy stem is baie diep wanneer hy sê: “Rachel, ek kan dit nie genoeg vir jou sê nie: ek het jou so oneindig lief.”
“Vertel vir my hoekom, toe?” flikvlooi sy en nestel teen hom aan.
“Omdat jy dapper is, en fluks en slim en … net pragtig. Omdat jy Rachel is, daar is nie nog iemand soos jy in die ganse wêreld nie. Ek is net …” hy haal sy skouers op, “lief vir jou.”
“En ek vir jou, Marco. Jy is die wonderlikste mens wat ek nog ooit ontmoet het. Ek … kan nie glo wat jy alles vir my en my familie doen nie, ek weet nie hoe om dankie te sê nie. Alleen sou ons …”
Hy smoor haar woorde met sy mond en vou haar toe in sy arms. “Dit is vir my genoeg om jou elke dag by my te hê,” sê hy eenvoudig.
* * *
Die eerste lentedae van 1941, toe die sneeu in dun straaltjies teen die berg begin afdrup en die stroompies sku bergaf begin rol, gaan Marco vir die eerste keer weer af dorp toe.
Die sonstrale is nog flou, maar die ysige winde het kalmeer. Rachel en Ester hang die velle en komberse uit oor die klippe buite die grot, alles ruik na rook en muf.
Toe Marco vier dae later van die dorp af terugkom, kry hulle vir die eerste keer in maande weer nuus van die buitewêreld. “Italië veg nou in Noord-Afrika, hulle wil Egipte en ander gebiede aan die Middellandse See inneem,” vertel hy.
“Wat wil hulle dáármee maak?” vra Ester skepties.
“Dit het maar te doen met die Italiaanse handelsvloot en militêre veiligheid in die Middellandse See,” verduidelik hy. “Op die oomblik beheer Brittanje albei uitgange uit die see, die Suez-kanaal en Gibraltar.”
“Jy klink al weer soos skool,” kla Ester.
Marco lag. “Jý het gevra,” herinner hy. Dan kyk hy na mister Rozenfeld. “Maar die mense meen die oorlog in Afrika sal gou verby wees, Italië sal nie opgewasse wees teen die Britse magte nie.”
“As Hitler net nie besluit om die Italianers in Afrika te gaan help nie,” sug mister Rozenfeld. “Dan kan dit neuk.”
“Die Deutsche Wehrmacht is klaar in Noord-Afrika,” sê Marco versigtig.
Mister Rozenfeld skud sy kop stadig. “Dan gaan dit ’n lang stryd wees,” sê hy gelate. “Het jy vir ons ’n nuwe kalender gebring?”
Marco knik. “Dis in my sak, hier,” sê hy en gee die netjiese koevert vir mister Rozenfeld. Dan voeg hy by: “My twee broers is ook weg oorlogsfront toe, na Noord-Afrika.”
“Ag nee, Marco!” roep Rachel uit en slaan haar hande verslae om haar gesig.
“Lorenzo is ook weg oorlog toe?” roep Ester ontsteld uit.
Marco knik. “Die bevelvoerder van die garnisoen het skynbaar een oggend met groot vertoon ’n lywige kennisgewing afgerol en teen die deur van die kerk gaan vasspyker. Die mense van die dorp was glo omtrent ontsteld, hoor – hulle sê dit grens aan kettery!”
Maar die Rozenfelds is nie Katolieke nie, hulle verstaan nie heeltemal die strekking van sy woorde nie. “Nou, wat staan toe in die kennisgewing?” vra mister Rozenfeld.
“Dat alle mans tussen die ouderdom van agtien en dertig jaar opgeroep word vir verpligte militêre diensplig,” antwoord Marco.
Rachel trek haar asem skerp in, haar donker oë rek groot oop. “Marco, dit sluit jou mos in?”
“Ja, dit sluit my in. Die kennisgewing sê verder dat Mussolini garnisoene gewapende soldate na elke uithoek van Italië sal stuur om te sorg dat elke weerbare Italiaanse burger aansluit.”
“As jy nie aanmeld nie, Marco, is dit dienspligontduiking, dis ’n kriminele oortreding,” sê mister Rozenfeld swaar.
“Ja, ek weet,” sê Marco.
Toe begin Ester huil. “Gaan hierdie oorlog dan nóóit einde kry nie?” snik sy.
Net missus Rozenfeld sit hulle die hele tyd emosieloos en aankyk.
Skemeraand, toe Marco en Rachel vir ’n oomblik alleen buite sit, sê hy: “Hulle verwag groot veldslae in die woestyn, albei kante het blykbaar derduisende troepe daar.”
Rachel draai haar kop na hom. Sy neem sy hand in hare en vra sag: “Marco, is dit waar Antonio en Lorenzo ook nou is?”
Hy knik stadig. “Ja, in die woestyn, in Noord-Afrika.”
* * *
Een helder somersdag hoor hulle vir Ester buite die bek van die grot roep. Marco vlieg vinnig op. Sou iets met haar gebeur het? Sou sy dalk iemand gesien het? Hy en Rachel storm gelyk na buite, mister Rozenfeld ’n kort treetjie agter hulle.
“Kyk wat het ek gevind,” lag Ester toe hulle buite kom.
Hulle kyk na waar sy wys.
’n Hanetreetjie van die bek van die grot staan twee boerbokke, hulle skerp pootjies op die los klippers, hulle bokbaardjies beweeg ritmies op en af, hulle groot oë kyk die grotbewoners rustig aan.
* * *
“’n Bok!” roep Rialien ontsteld uit. “Ag nee, tannie Lettie, hulle kan nie nog ’n bok ook in die grot inneem nie. Die goed stink, ek weet, op my oupa se plaas …” maar sy gril so, sy kan nie eens haar sin voltooi nie.
“Die bok het darem nie in die grot ingekom nie,” glimlag Lettie gerusstellend. “En dit was nie net een bok nie, onthou, daar was twee bokke. Maar kan jy dink hoe bly hulle was om die twee te kry?”
* * *
“Ester, waar kry jy die bokke?” en: “Waar op aarde kom húlle vandaan?” vra Rachel en Marco gelyk.
Ester beduie opgewonde met haar arms. “Ek het gaan hout soek, toe stap ek so af met die kranse, diékant toe. En toe sit ek eers bietjie en rus en kyk in die vallei af, en toe hoor ek iets. Eers dog ek dis ’n baba of iets, soos huil. Maar toe hoor ek dis ’n bok. En toe dog ek dit sal lekker wees om ’n bok te hê, want dan kan ons melk kry en botter maak en kaas en alles! En toe gaan soek ek die bok en toe kry ek haar en nog een, ek dink dis seker haar kleintjie maar hy is al groterig.” Sy hou uitasem op met praat.
“En hoe kry jy hulle toe hier?” vra Rachel steeds verstom.
“Eers het ek die tou wat ek gebruik om die bondel hout vas te maak, om die bok se nek geknoop, maar sy het nie daarvan gehou nie en raak toe skoon steeks. Toe loop ek maar net vooruit en roep: ‘Kom, bokkies, kom,’ en toe kom hulle. En nou is hulle hier!”
“Dis regtig baie goed, Ester,” sê Marco met ’n halwe glimlag.
“Dis fantasties!” sê Rachel ingenome. “Wel gedaan, sustertjie.”
“Dis nou my bokke,” sê Ester beslis.
So kom dit dus dat Ester elke oggend haar bok melk, die melk inbring grot toe en dan saam met die bokke na groen weiveld gaan soek. “Moet net nie te ver gaan nie,” waarsku Marco byna elke dag, “en wees baie versigtig vir die steil kranse – vir jouself en vir die bokke.”
Rachel karring botter met ’n houtspaan wat haar pa vir haar gekerf het. “Wat moet ek doen om kaas te maak, Mama?” vra sy.
Missus Rozenfeld beduie lusteloos hoe sy te werk moet gaan. “Maar ek weet nie of dit sal werk nie, ons het nie ’n plantjie nie,” sê sy. “Ek gaan lê, ek voel nie goed nie.”
Rachel gooi dikmelk in ’n dungewaste lap, bind die hoeke bymekaar en hang dit op om uit te drup.
Die hele somer lank het die grotbewoners melk by hulle polenta, botter en ’n soort geprakseerde kaas by hulle plat brode.
Maar dan begin die dae kouer word, die winter is aan die kom, die groen weiding hoër op teen die berg verdwyn onder ’n sneeukombers. “Ons sal die bokke moet slag,” sê Marco een laatmiddag.
“Julle slag nié my bokke nie!” skree Ester wild en vou haar maer arms om die bokke se nekke. “Dis mý bokke, julle los hulle uit!”
Selfs nadat mister Rozenfeld lank met haar gepraat het, bly sy woedend kwaad en bitter ongelukkig. “Moordenaars!” snou sy vir Rachel en Marco toe.
Toe die eerste sneeu ’n week later by hulle val, neem Marco die bokke ’n ent weg van die grot, sny hulle keelaf, slag die vel af en sny die vleis in stukke. In die grot vryf Rachel en mister Rozenfeld die kleiner stukke vleis deeglik in met sout, laat dit ’n dag lank in die vars geslagte vel pekel en hang dit dan op om winddroog te word. Marco grawe ’n vlak gat in die hard gevriesde grond ’n entjie buite die bek van die grot, draai die meeste van die gepekelde vleis in doeke toe, pak dit in die gat en bedek dit met sneeu. Toe merk hy die plek baie deeglik. “Dit behoort dwarsdeur die winter te hou,” sê hy. “Hier is dertien stukke vleis, wat beteken ons kan elke week ’n stuk uithaal en gaarmaak.”
Mister Rozenfeld werk dae lank om die velle te sout en in die yl sonnetjie wat sommige dae nog deurbreek, te droog. Toe brei hy die velle so sag moontlik. Hulle gebruik die twee velle om hulle skerm by die bek van die grot verder te verdig.
Aan die begin weier Ester volstrek om van die vleis te eet. Maar ná ’n paar weke skep sy tog ook van die sous oor haar pasta. “Jig, dis vreeslik sout!” ril sy.
“Ja, ons het miskien bietjie te rojaal met die sout gewerk, maar dit beteken minstens dat die vleis se kanse om sleg te word, min of meer nul is,” sê Marco filosofies.
* * *
Dit word dag sonder dat ’n mens kan sien of die son opgekom het – dis net jou eie bioritme wat jou laat besef dit moet reeds dag wees.
Marco staan op van sy skaapvel en skuif die skerm voor die bek van die grot effens weg. Die sneeu lê opgehoop voor die hele bek van die grot – dit maak minstens die grot warmer binne, dink hy. Hy tel die graaf op en begin die sneeu na buite wegwerk sodat hulle by die vuurherd kan kom. Nou is hulle met ’n smal gang verbind aan die buitewêreld. Marco vou sy baadjie stywer om hom vas en stap na buite.
Die dag buite is grou en donker, die wolke laag en vuil, die kranse bo hom en die klowe na onder is bedek onder ’n dik laag sneeu. Hy skep ’n emmer skoon sneeu, kruip weer na binne en skuif dan die skerm voor die opening terug. Die lig sypel tog flou na binne. Hy is bly, dit spaar die kerse.
“Ons kan maar ’n klein vuurtjie maak,” sê hy. “Dis bewolk en mistig buite, niemand sal die rokie opmerk nie.”
Dan maak hy sy dagboek oop. Dit is 25 Desember 1941. Maar die Rozenfelds gaan voort met die klein lewe in die ingewande van die berg, soos elke dag die afgelope twee maande, soos elke dag vir die twee maande wat nog kom.
Net Marco besef dit is Kersfees.
* * *
Vroeg in die lente stap Marco weer bergaf na die dorp. “Ons moet net eers jou hare sny,” sê Rachel. “Die mense in die dorp skrik hulle lam as jy so daar aankom, jy lyk soos ’n grotbewoner met jou woeste kop en donker baard.”
“Dis mos presies wat ek is,” glimlag Marco en streel oor haar lang, donker hare.
“Bring asseblief vir my ’n appel saam?” vra Ester. “Ek is só lus vir ’n appel.”
Laataand die tweede dag kom Marco by sy ouerhuis aan. Giuseppe steek dadelik ’n lamp op, Maria val hom om die hals. “Jy moet versigtig wees as jy so in die donker afkom dorp toe,” sê sy en skep sy bord hoogvol polenta en varkkneukels. “As jy in die donker gly en iets breek, vind niemand jou in die berg nie.”
“Ek is versigtig, Mama. Hierdie kos is héérlik.” Hy voeg nie by dat dit die eerste ordentlike maaltyd is wat hy eet vir byna twee maande nie. Want die voorrade in die grot is boomskraap, baie goed was voor Kersfees al gedaan. En nadat die wolwe so twee maande gelede hulle ysgat met vleis ontdek het, het hy nog nie weer enige vleis geëet nie.
“Papa het reeds die voorrade reg, baie daarvan is al by die eerste grot,” sê Maria.
“Ek het gesien toe ek daar verby is, dankie, Papa.”
Giuseppe knik stil.
Dis ’n rukkie stil, dan vra sy ma: “Marco, hoe gaan dit regtig daar in die berg met julle? Jy is brandmaer. Het julle ooit genoeg kos?” Haar stem klink moeg, die lyne op haar gesig wys haar bekommernis oor al drie haar seuns.
“Dit gaan goed,” sê Marco stadig. Want as ’n mens na die alternatiewe kyk, gaan dit goed. “Ons voorrade is baie laag, maar ons het darem deur die winter gekom. Dis nou amper somer, dit sal beter gaan. Dis net … missus Rozenfeld bly siek, knieserig, sy het ’n nare hoes. En sy is baie neerslagtig.”
“Ek het bietjie borsdruppels ingesit,” sê Maria. “En julle moet probeer van daardie kruie in die hande kry wat ons vir ou tia Anna gebruik het vir haar bors, onthou jy? ’n Mens kan dit gebruik vir koors ook. Dan stook julle dit soos ’n mens tee kook, prut dit net baie stadig.”
“Ek onthou,” knik Marco.
“En Rachel?” vra Maria.
“Dit gaan baie goed met Rachel, Mama. Sy is sterk. En baie, baie pragtig.”
Voor die son opkom, verdwyn hy weer in die donker maag van die berg.
* * *
Ons is brandmaer, dink Marco waar hy na Rachel en Ester sit en kyk. Hulle het hulle rokke hoog opgetrek bo hulle knieë, hulle arms is kaal – hulle wil soveel van die somerson indrink as wat hulle kan kry. Maar hulle skouers steek benerig by die moulose frokkies uit, hulle kniekoppe is groot teen die maer, wit bene.
Hoe lank kan ons nog uithou, wonder hy stil. Want die voorrade wat hy van die dorp af kan bring, bly skraps – Rachel kry bitter min gespaar vir die volgende winter. Ek is verantwoordelik vir hierdie mense, dink hy, vir die twee oumense agter hom in die grot vir wie die lewe al te veel keer platgeslaan het, vir die twee jong meisies wie se lewens nog voorlê.
En in die somer van 1942 verskyn geen bok op die horison nie.
Marco kom agter dat hulle gesprekke verander. Dit word … hy dink ’n oomblik, ja … die gesprekke word kleiner, minder intens, gestroop tot net die essensiële: wat eet ons, probeer droër hout kry, vee uit die vuurherd, gaan haal water, moenie die kers aansteek nie. Maar veral: Wat Eet Ons?
Selfs hulle gespreksonderwerpe het verander, dink hy. Vroeër, toe hulle gehoor het dat die Jode regoor Europa aangekeer en soos slagdiere na kampe gejaag word, het hulle gewonder hoeveel ander mense ook, soos hulle, wegkruip vir die soldate. “Ek dink hulle kruip weg in agterkamertjies en op solders en agter geheime mure,” het Rachel gesê.
“Of in grafkelders,” het Ester dramaties bygevoeg. “Niemand sal mense in grafkelders gaan soek nie.”
“Ons is geseënd in die grot,” het mister Rozenfeld gesê. “Hier het ons ’n mate van vryheid.”
En nou praat ons net oor kos, dink Marco. Ons raak al meer geïsoleer.
Vroeër het ons gehoop op vrede, het ons gewonder: sal die mensdom nooit leer nie? Nou leef ons van dag tot dag. Tot honger dag. Ons lewe primitief.
Ek het te veel tyd om te dink en te broei, besef Marco. Dis my, dis óns grootste bedreiging, te veel tyd. Ek moet iets doen.
Hy kan met die beste wil in die wêreld net nie dink wat nie.
* * *
“Ek moet vir die laaste keer voor die winter weer afgaan dorp toe,” sê Marco een koue aand aan die begin van Oktober. “Ek hoop net ek kan voorrade kry, die oorlog … Die mense in die dorp kry nie eens kos vir hulleself nie.”
“Ek is bekommerd oor die winter wat voorlê,” sê Rachel. “Mama het ’n nare hoes, dit word nie beter nie.”
“Ek sal probeer ander medisyne ook in die hande kry,” sê Marco. “Ek hoop net die dokter het voorrade, dat die weermag dit nie ook alles opgeëis het nie.”
“En wol, dan kan ons truie brei. As jy kan kry.”
Toe hy vier dae later terugkom, skud hy sy kop stadig. “Daar is byna niks meer oor in die winkels in Turyn nie,” sê hy. “En dit wat die mense nog kan koop, moet hulle self die dertig myl terug na ons dorp karwei, die spoorwegbus loop nie meer nie.”
“Marco?” sê Rachel verslae.
“Het jy weer vir my ’n appel gebring?” vra Ester angstig.
Marco skud sy kop. “Daar’s nie appels nie, Ester. Wat nog in die dorp se boorde en landerye en tuine groei, konfiskeer die soldate. Die dorpsmense steel snags hulle eie appels en tamaties en die laaste bietjie groente om kos op hulle eie tafels te hê.”
“Ek was so lus vir ’n appel,” sê Ester stil.
Die aand toe hulle alleen is, sê Rachel: “Marco, hoe gaan ons deur die winter kom? Ons het nie genoeg kos nie.”
“Ons moet net meer spaarsamig werk,” sê hy.
“Méér spaarsamig?” vra sy en skud haar kop. Die implikasie in haar woorde is duidelik: kyk hoe lyk ons al. “En die oorlog, Marco? Dink jy dit gaan nog lank aanhou?”
Marco sug. “Niemand sal kan weet nie,” sê hy, “en die koerante en draadloos kan ’n mens ook nie glo nie, hulle vertel net hoe goed dit met die Italiaanse magte gaan. Maar die dokter se seun, Pietro, wat ’n joernalis in Rome is, vertel blykbaar totaal ’n ander storie – wat hy natuurlik nie mag skryf nie.”
Hulle sit lank stil, die sterre bo hulle half verskuil agter yl wolke, die nag om hulle doodstil en ysig koud. Hulle sit warm by mekaar, styf teen mekaar, geskans teen die koue wêreld.
Dan sê Marco: “Net voordat ek weg is, het die baron kom sê hy het oor die draadloos gehoor die groot veldslag in die woestyn gaan nou enige dag begin, die twee kante het hulleself in die sand ingegrawe en is gereed vir mekaar. Hulle verwag een van die hewigste artillerie-spervuur-aanvalle in die geskiedenis van oorlogvoering, so sê die draadloos glo. By ’n plek met die naam El Alamein.”
“El Alamein. Is … jou broers nog steeds daar?” vra Rachel huiwerig en streel met haar hand oor sy seer skouers.
“Ja,” sê hy, “dis waar Antonio en Lorenzo is.”
* * *
Die derde winter in die grot word die hewigste. Die dae is kort en donker en ysig koud, die nagte is lank en vol vreesdrome. Buite loei en pluk die wind kwaad, dit sneeu vir dae aaneen, die son het verdwyn.
Die wêreld verklein tot die donker wande van die grot. Daagliks breek hulle die opening oop en skuif dan weer die skerm voor die klein opening. Hulle werk uiters versigtig met die lampolie en die kerse.
Maar hierdie derde winter in die grot is dit nie die koue of die donker of die effens bedompige lug wat dag en nag aan hulle knaag nie. Dis nie missus Rozenfeld se nag lange gehoes of grudrome wat hulle uit die slaap hou nie. Dis die honger.
Honger word hulle getrouste huisgenoot, slaapgenoot.
En toe ontwikkel missus Rozenfeld ’n hoë koors. Die een oomblik is sy vuurwarm en dan weer yskoud. Haar eens mollige lyf, wat nou maer en benerig is, rittel en bewe in die dik jas, onder die warm verekombers. En dan slaan die sweet weer uit. Sy hyg na asem, vlieg benoud regop en kyk na hulle met wilde, bang oë.
Hulle gee medisyne, sy hou niks binne nie.
Mister Rozenfeld sit verslae eenkant in die halfdonker.
Daardie nag slaap nie een van hulle nie, ook nie die volgende dag en die nag wat volg nie.
Vroeg die volgende oggend kry Marco vir Rachel net buite die bek van die grot. Sy sit in die ysige koue voor die dooie vuurherd in ’n bondeltjie, haar kop in haar jas ingetrek. Hy sak op sy knieë langs haar neer en sit sy arm om haar skouers. “Racheltjie?”
Toe begin sy onbedaarlik huil.
Hy vou sy te groot jas oop en vou haar toe teenaan hom, hy streel oor haar rug en haar kop – sy het nie eens haar mussie op nie.
“Ek dink Mama het longontsteking, Marco. Sy gaan doodgaan, ek kan niks doen nie,” snik sy.
“Jy doen wat jy kan,” probeer hy. Maar hy weet reeds dat woorde nie kan troos nie.
Toe die snikke effens bedaar, tel sy haar kop op en kyk reguit na hom. “Ek kan nie meer nie, Marco.”
Hy streel versigtig die trane uit haar gesiggie. Hoe vreeslik maer het haar gesig nie geword nie. “Jy kan nog, Rachel, ’n mens kan altyd nog. Jy is net oormoeg, jy moet probeer rus. Ek sal by jou mammie sit.”
“Ons gaan almal doodgaan in hierdie grot,” sê sy moedeloos. “Ons het nie genoeg kos vir die winter nie.”
“Ons sal regkom, Rachel, ek belowe.”
“Dink jy … regtig so?” vra sy.
“Ek weet ons sal,” sê hy teen sy beterwete in. “Gaan probeer nou slaap, jy het jou kragte nodig. Slaap sommer hier voor op my skaapvel.”
Maar van slaap daardie dag is daar geen sprake nie. Want missus Rozenfeld se toestand verswak vinnig. Teen elfuur die oggend roggel sy weer benoud, vlieg half regop, kyk hulle met nikssiende oë aan en sak dan met ’n diep sug leweloos op haar deurmekaar hopie beddegoed terug.
“Mama?” sê Ester onseker en steek haar hand uit. Maar sy raak nie aan haar ma nie.
Marco tel missus Rozenfeld se hand op en sluit sy vingers om haar pols. Dan kyk hy op na Rachel en skud sy kop baie effens.
Rachel buk vooroor, weifel ’n oomblik en maak dan haar ma se oë versigtig toe.
Mister Rozenfeld sak op sy knieë langs sy vrou neer, sy kop buig af tot op haar maer lyf. Hy bly doodstil so sit.
Toe vlieg Ester op. “Nee! Nee!” skree sy en storm by die bek van die grot uit. Hulle laat haar gaan, sy het tyd alleen nodig.
Later gaan soek Marco haar, dis gevaarlik so alleen in die yswêreld buite die grot. Hy vind haar in die volgende skeur, daar waar sy haar bokke twee somers gelede snags toegemaak het om te slaap. Hy gaan sit langs haar en sit sy arm versigtig om haar skouers. Sy draai dadelik om en klou aan hom vas. “Nou het ek niemand meer nie,” snik sy.
“Jy het nog jou pa en vir Rachel, julle het mekaar nog,” sê hy sag. “En ek is ook hier, jy het vir my.”
Maar sy bly haar kop skud. “Jy en Rachel is saam en my pa is … weg.”
“Jy is Rachel se enigste sustertjie, niemand kan jou plek in haar hart of haar lewe inneem nie,” sê Marco. “En jy weet, ek het nie ’n suster nie. Ná die oorlog gaan jy amptelik my suster ook word, wanneer Rachel en ek trou. Maar ek sien jou nou reeds as my sussie – as jy dit sal toelaat?”
Sy dink ’n oomblik ernstig na. “Dis goed,” sê sy. “Jy moet net nie my plek in Rachel se hart ook vat nie.”
Marco glimlag. “Ek kan nie, Ester. Niemand kan jou plek vat nie, jy is uniek.”
Hy voel hoe sy knik. “Goed,” sê sy. “En my pa, Marco?”
“Jou pa het sy vrou verloor, sy lewensmaat. Dis … baie, baie erg. Ek dink ons moet hom net tyd gee, hy moet ook alles verwerk. Ek dink hy het verwag dat sy miskien sal sterf, daarom is hy in die laaste weke so stil. Jy moet net lief wees vir hom, én vir Rachel, julle het mekaar nou nodig.”
Sy sug diep. Saam met die sug kom ’n verlore snik, maar sy huil nie regtig meer nie. “Weet jy, Marco, ek het eintlik ook geweet my ma gaan doodgaan, lankal al. Ek dink sy wou nie meer lewe nie. Sy het nie eens meer met ons gepraat nie.”
Hy antwoord nie, hy wil haar laat praat.
“Sy het mos gesê ons moet haar maar hier begrawe, onthou jy?”
Hy onthou. ’n Leeftyd gelede. Kan dit net meer as twee jaar wees?
Sy sit lank doodstil voor sy vra: “Dink jy ons gaan almal doodgaan?”
“Nee Ester, ek dink vir geen oomblik so nie. Ons gaan oorleef. Die oorlog gaan eindig, alle oorloë eindig vroeër of later. En dan tel ons die stukke op en ons gaan voort met ons lewens.”
“Jy het in geskiedenis vir ons geleer van ’n oorlog wat tagtig jaar aangehou het – dan is ek vyf-en-negentig!”
Hy lag saggies. “Kan jy nog onthou watter oorlog dit was?”
“Nee man, ek het nooit geluister nie. Jy wéét mos ek haat geskiedenis.”
“Mm,” sê hy. “Dit was die Nederlandse Vryheidsoorlog, 1568 tot 1648. Dit was darem eeue gelede, geen oorlog hou nou meer so lank aan nie.”
“Ja Meester, as jy so sê.” Ná ’n rukkie sê sy: “Marco?”
“Ja?”
Sy trek haar asem diep in. “Ek is jammer as ek partykeer ’n bietjie … dwars is. Ek wil nie eintlik so wees nie.”
“Jy is nie partykeer ’n biétjie dwars nie, Ester, jy is met tye onmoontlik. Maar nou ja, ons oorleef dit ook.”
“Ag, Marco, ek is g’n so erg nie!”
Hy glimlag effens en staan op. “Kom, ons moet teruggaan na jou pa en Rachel toe,” sê hy en hou sy hand uit om haar op te trek.
* * *
“Dit … moes vreeslik gewees het, om ’n mens se mammie te verloor,” sê Rialien sag. “Arme Rachel, en arme Ester.”
Lettie knik en gaan dan aan met vertel:
* * *
Die grond is klipsteenhard gevries onder die sneeu, hy het geen graaf nie. Die wind is ysig koud, die kragte in sy maer lyf min. Hy staan later terug en skud sy kop – hier gaan hy nie ’n graf gegrawe kry nie.
Hy gaan haal die handsagie en saag ’n paar takke van die naaste dennebome af. As hy dit bo-oor pak, sal dit hopelik die wolwe snags weghou.
Hulle draai missus Rozenfeld toe in die vleislappe. “Kan ons nie net Mama se jas vir haar aantrek nie?” huil Ester. “Dis so koud.”
“Jou Mama voel nie meer nie, Ester,” sê Marco sag. “En ek dink sy sal wil hê jy moet haar jas neem, joune is heeltemal te klein. Ja, ek wéét as sy nou hier was, sou sy gesê het: ‘Estertjie, trek aan daardie jas.’”
Ester draai weg en klou aan Rachel vas.
Mister Rozenfeld lê self sy vrou in haar vlak graf neer. “Haar lyding is verby,” sê hy gesmoord. “Marco, bid asseblief.”
Moeder van God, help my! dink Marco. Hoe bid … Jode?
Maar hy bid, uit sy hart uit, tot God in die wye hemel bo hulle. Hulle staan stil om die oop graf, verwese, moeg, onwillig om finaal afskeid te neem.
Toe pak hulle die takke oor en gooi die graf toe met ’n dik laag sneeu.
Daardie nag slaap Rachel vir die eerste keer in Marco se arms, die hele nag lank onder sy komberse, styf teen hom aan.
* * *
“Miskien sou dit beter gewees het as hulle ons na ’n Jodekamp geneem het,” sê Rachel een aand in die nuwe jaar. Hulle het elkeen net ’n skeppie slapperige pap gekry wat sy van meel gemaak het. “In die kampe is daar minstens kos.”
“Ons weet nie wat die toestande in die kampe is nie,” sê Marco ernstig.
“Kos is nie die belangrikste nie. Hier het ons minstens mekaar, ek dink in die kampe sal hulle mans en vrouens skei,” sê mister Rozenfeld sag.
“Ek wil hê ons moet almal saam wees, ek wil by Papa bly,” sê Ester.
“Net sodra die sneeu ophou, sal ek afgaan dorp toe,” sê Marco. “Ek kan net nie nou al gaan nie, my spore sal te duidelik in die sneeu lê.”
Later die aand, toe Rachel in sy arm lê, fluister sy: “Ek het nie regtig bedoel ek wil na ’n kamp gaan nie. Die tyd hier in die grot is vir my baie kosbaar. Marco, dis iets wat ons altyd sal hê, die wete van hierdie tyd. En … selfs al gebeur iets met een van ons …”
“Niks gaan met ons gebeur nie, Racheltjie,” sê hy en hou haar stywer teen hom vas. Sy is so bitter, bitter maer.
“… selfs al gebeur iets met een van ons,” gaan sy onversteurd voort, “dan sal die ander een hierdie tyd altyd met hom kan saamdra.”
* * *
Selfs voordat hy voel dit is veilig, gaan Marco een nag af dorp toe. Hulle voorrade is nou heeltemal klaar, Rachel het die oggend die laaste meel gebruik om pap te maak. “Ons sal dit kan rek vir drie dae,” het sy gesê met oë wat onnatuurlik blink, wat diep in haar oogkasse sit.
In die laer rante om die dorp sien Marco twee soldate stap, hulle patrolleer duidelik die area. Hy wag tot laatnag voordat hy afsluip dorp toe.
Dit is Lorenzo wat vir hom die agterdeur oopmaak toe hy saggies klop. “Marco!” roep hy uit en roep na agter: “Mama! Papa! Kom, Marco is hier!”
Dan stoot hy die deur wyer oop en Marco sien dadelik: Lorenzo hang gekruisig tussen twee krukke, sy regterbeen is weg. “Lorenzo? Jy is hier?” sê hy en steek sy hand uit.
“Ja, wel, helfte van my het nou wel op die slagveld agtergebly, soos jy kan sien, maar my kop is darem nog op sy plek. Kom in.”
Hy kyk op en sien sy ouers se gesigte, hy sien die skok in sy ma se oë. Hy weet: Hy is brandmaer, sy baadjie hang sakkerig aan sy lyf, sy gesig is bleek, gryserig, sy hare is lank en onversorg. Hy het net huis toe gekom, honger.
Hy eet. Hy sluk die kos gulsig in, sluk dit af met warm koffie. “Ons het nie meer kos gehad nie,” sê hy. “Ek weet nie of dit nie beter sou wees as hulle in ’n Jodekamp was nie.”
“Nee,” sê Lorenzo beslis. “Pietro vertel daar loop vreeslike stories oor die toestande in die Jodekampe.”
“Ek kan nie vertoef nie, ek moet dadelik weer terug,” sê Marco. “Dis te gevaarlik. Oral is daar nou verspieders. Selfs as julle net voorrade van ’n ander huis hierheen dra, sal hulle lont ruik.”
“Ons het jou nie nou al verwag nie,” sê Maria onseker. “Ons het nie veel nie, maar ek sal vir jou alles gee wat ons het. Die tuine het nog nie begin dra ná die winter nie en van Turyn af kry ons selde enige voorraad. Ons het nog van die ham wat Papa verlede week gerook het, en ek het twee dae terug kaas gemaak. Ons het darem nog meel en olie en sout. Die suiker is klaar, maar daarsonder kan ’n mens doen,” sê sy terwyl sy senuweeagtig rondskarrel. “Papa sal so gou moontlik voorrade na die tweede grot neem, kom kyk oor so ’n week. Marco, ek is so bly om jou te sien!”
Sy haal die laaste sakkie gedroogde tamaties en die laaste twee bottels ingelegde olywe agter uit die kas. “Die vitamines en olie sal goed wees vir julle,” sê sy.
Binne ’n uur vertrek hy weer bergop. Hy behoort die eerste grot voor ligdag te haal. Hy het geëet, hy het nou meer krag.
* * *
Hulle eet eers, versigtig, met hande wat bewe. Toe begin Rachel die kos in klein hopies pak.
“Volgende week gaan ek weer, net tot by die tweede grot, my pa sal daar vir ons kos los. Lorenzo gaan ’n bok slag en die vleis pekel en dit laat droog word. Ons sal genoeg kos hê.”
“Ek hoop net hy gooi minder sout op as toe julle my twee bokke gesout het,” merk Ester op. Dan kyk sy vinnig op. “Hoekom is Lorenzo by die huis?”
“Lorenzo was by El Alamein, hy sê dis ’n helgat van sand en son in Noord-Afrika waar die generaals hulle skaakspel speel, en agter elke sandduin wag die vyand. Hy is daar gewond, in sy been.” Hy vertel nie dat Lorenzo sy been verloor het nie.
“Gewond!” roep Ester ontsteld uit. “Ernstig?”
“Ernstig, ja, maar hy is by die huis, hy word beter. Die slag by El Alamein was ses maande gelede al,” sê Marco.
“En Antonio?” vra Rachel sag.
“Tonio is daar gevange geneem. Hy is nou êrens in die suide van Afrika, ’n krygsgevangene, maar nie in ’n kamp nie. Hy bou ’n brug. Maar hy skryf glo dit gaan goed met hom, hy woon by goeie mense.”
“Kry hy genoeg kos?” vra Ester.
“Ja, hy kry goeie kos. En … onthou jy vir ou Luigi-hulle se kleinkind?” vra hy vir Rachel.
“Die skande-kleinkind, ja?”
“Hy is daar doodgeskiet, by El Alamein.”
Dis ’n oomblik stil, dan sê Ester: “Hy was in my klas. Nou is hy ook dood.”
“Dit gaan sleg met Italië, die weermag is besig om terug te trek uit Noord-Afrika,” vertel Marco. “Stories loop dat die Geallieerdes Italië wil binneval. Ek weet waaragtig nie hoe lank ons weermag nog wil uithou nie, dis so dwaas, die oorlog wurg ons land dood. Die slagveld skeur ons manne uitmekaar, die hongersnood laat duisende vrouens en kinders in die dorpe op hope sterf. En as die Geallieerdes ook nog Italië moet binneval …”
Mister Rozenfeld sug diep. “Ons is baie ver verwyderd van die oorlog, die berge vou ons hier toe. Daar buite probeer die soldate oorleef in die loopgrawe, ek weet, ek was self in die loopgrawe in die Groot Oorlog. Die mensdom wil mekaar vernietig, maar eintlik vernietig hulle net hulleself.” Hy dink ’n oomblik en voeg dan by: “Dit lyk my eeue se ontwikkeling lei net tot groter selfvernietiging.”
“Dit is beslis beter hier bo in die berge, al is ons altyd honger,” knik Ester ernstig.
“Ja, dis beter hier,” sê Marco, maar die kommer bly aan hom knaag.
Hy het nie vir hulle vertel dat hy twee maal vreemde soldate in die berg gesien het toe hy teruggestap het nie – selfs so ver as die tweede grot.
* * *
Daardie somer verloor hulle alle begrip van tyd. Hulle het nie ’n 1943-kalender nie, dis nie meer belangrik nie. Hulle weet nie hoe laat dit is nie, hulle het lankal opgehou om hulle horlosies op te wen. Hulle weet nie watter dag dit is nie, nie eens watter maand nie. Hulle meet tyd aan die son: Soms is dit warm, soms koud, soms bewolk en donker, dan eet hulle vroeër.
Hulle moet al verder soek vir hout, hulle moet al meer vindingryk wees in die vind van veldkos.
Marco kan nie meer afgaan dorp toe nie, dis te gevaarlik, net soms nog na die tweede grot vir meel en sout. Hulle vang hase en voëls in wippe, hulle grawe knolle en kook aftreksels van blare.
Hulle oorleef, dag en datum is nie belangrik nie.
“Ons kronkelpad loop nou in ’n sirkel,” sê Rachel een laatnag vir Marco.
Hy trek haar kuikenmaer lyfie stywer teen hom aan, so bly albei warmer – nie net hulle lywe nie. “Maar dis ’n goeie sirkel?” vra hy.
“Dit is,” sê sy. “As ’n mens mooi dink, is ons tog gelukkig.”
* * *
Een oggend, dit het al goed koud begin word, selfs bedags – die winter moet naby wees – hoor hulle vir Ester duidelik en lank gil. Die gil weergalm teen die kloof op, slaan teen die kranse vas, eggo terug kloofaf.
Marco word yskoud. Ester het gaan hout soek in die kloof, hy het haar oor en oor gemaan om stil te wees, om versigtig te wees, daar kan soldate selfs tot hier kom. Daardie gil …
Hulle storm al drie na buite. “Kruip weg! Kruip weg!” skree Ester – en die berge antwoord: kruip weg, kruip weg …
Maar Rachel hardloop reeds bergaf. “Rachel, stadig!” roep Marco. Maar sy hardloop.
Dan sien Marco hulle. Drie soldate in Nazi-uniforms kom tussen die bome uit, die een het vir Ester stewig in sy greep beet. ’n Tweede lig sy geweer en mik dit op Rachel. “Halt! Onmiddellik!” skree hy.
Rachel vries.
“Julle twee daar bo, kom stadig af, hande in die lug!” brul hy. Toe Marco en mister Rozenfeld nog twyfel, lig hy sy geweer hoër. “Dadelik! Ek het die twee meisies onder skoot. Ek sal nie huiwer om die Joodse varke te skiet nie.”
Marco lig sy hande stadig. “Kom,” sê hy vir mister Rozenfeld, “ons tyd in die berg is verby.”