Читать книгу Gesprekke oor die lewe - Izak de Villiers - Страница 4

IL DE VILLIERS AS PREDIKER

Оглавление

Izak de Villiers was een van die mees begaafde predikante waarmee die NG Kerk in die laaste aantal dekades geseën was. Sy skerp intellek, sy besondere leierseienskappe en sy vermoë om mense en situasies op te som het ’n diep indruk gemaak op almal wat sy lewenspad gekruis het.

Dit is veral as woordkunstenaar wat hy onthou sal word. Sy bydrae tot die Afrikaanse Gesangeboek van 1978 en die Liedboek van die Kerk van 2001 is nie net omvangryk nie, maar ook van so ’n aard dat die meeste van sy liedtekste ’n spesiale plek in die hart van derduisende lidmate van die kerk verower het.

Naas die bydrae tot hierdie sangbundels het hy natuurlik verdere bekendheid verwerf vir sy werk as digter met ’n hele aantal digbundels waarin nie net religieuse temas nie, maar ook temas van die universele kwessies van menswees aan die orde gestel word.

Sy woordkuns het ook in sy prediking neerslag gevind. Keurige taalgebruik, treffende woordkeuse en helder formulering het van sy preke onvergeetlike geleenthede gemaak. Soos in sy poësie, het die volheid van die lewe en die wye omvang van lewensvrae ook in sy prediking aandag geniet.

Sy prediking was soos sy persoonlikheid eiesoortig van aard en nie gebonde aan een of ander konvensionele patroon nie. Filosofiese en literêre verwysings is met anekdotes uit sy eie lewenservaring en vertellings uit die geskiedenis van die mensdom afgewissel. Beskrywende beelde het moeilike konsepte op ’n eenvoudig verstaanbare manier aan sy luisteraars oorgedra. Al hierdie verskillende fasette van sy prediking is deur ’n deurleefde insig in die grondverhaal van die Bybel en ’n onwrikbare liefde vir God gedra. In hierdie publikasie word dit aan die woord gestel.

Die laaste paar jaar van sy lewe was dit my voorreg om ten nouste met hom te kon saamwerk en ook gereeld na sy preke te kon luister. Tot kort voor sy dood het hy gereeld as prediker in sy laaste tuisgemeente, die Aasvoëlkop-gemeente in Johannesburg, opgetree. Ook daar het sy prediking mense geboei en ’n diep indruk gelaat – nie omdat hy ooit probeer het om mense te beïndruk nie, maar omdat hy oor die vermoë beskik het om die evangelie op ’n oorspronklike manier vir mense toeganklik te maak.

Dit is met groot dankbaarheid dat hierdie bundel wat die preke van daardie laaste fase van sy bediening bevat, aan ’n wyer leserspubliek beskikbaar gestel word. Dit word met die oortuiging gedoen dat sy unieke spreek- en preekwyse nog talle mense kan help om tot ’n dieper verstaan te kom van die veelkleurige genade van die God in wie se diens hy gestaan het.

Dr André Bartlet

Hoof: Sentrum vir Bedieningsontwikkeling (SBO/Excelsus) Universiteit van Pretoria

Gesprekke oor die lewe

Подняться наверх