Читать книгу Gesprekke oor die lewe - Izak de Villiers - Страница 7

U PRAAT ... HELP MY LUISTER!

Оглавление

Die stem van die Here weerklink oor die waters. Die God van heerlikheid donder. Die Here is op die magtige waters.

Psalm 29:3 (NLV)

Ewige God

Van voor die begin is U, ewig en almagtig.

U skeppende Gees het in die begin oor die waters gesweef,

oor die duistere en chaotiese vloed.

U het u stem oor die waters verhef en gesê:

Laat daar lig wees!

En daar was lig.

U het ook met u volk gepraat by die heilige berg

in die donderdslae en blitsstrale

en in donkerte – ’n donkerte waarin net Moses dit

kon waag.

Op soveel maniere praat U.

U praat hard met die mens van ons dag.

U praat hard met ons.

U roep ons in die natuurdinge.

U stem is in ons ruimtes en op die waters van ons lewe,

waters waar ons soms hulpeloos voel

soos ’n klein bootjie sonder ’n hawe,

soos ’n skip sonder ’n stuur al dobberend,

soos ’n drenkeling wat gryp na stompe wat verbydryf,

soos ’n ou seilskip wat deur die storms rondgeslaan word

met die maste wat kraak en die dekke wat oorspoel word.

Ek roep na U oor die waters wat ons bedreig.

Ek roep na U terwyl blitse rondom my slaan.

Ek roep na U in die donker en voel dikwels

dat U my nie sal hoor nie en dat ek sal ondergaan.

Kom na my soos Jesus, oor die waters,

toe u dissipels geskreeu het van vrees,

en spreek u woorde van kalmte

en wees met my in my skuit, en in die skuit van my geliefdes.

Wees in my hart en fluister vir my woorde van wysheid

deur u Heilige Gees wat troos en onderrig.

Leer my om die onrustige waters te hanteer,

soos ’n skipper wat die see en die wind ken,

en bo-al U ken

en weet dat u stem oor die waters

vertel van u Teenwoordigheid,

en dat U skeppend in my lewe is

en in die lewens van almal vir wie ek bid,

soos wat dit was in die begin, soos dit nou is en ewig

sal wees,

wêreld sonder einde.

Amen

(Uit: Manna oor die duine – Izak de Villiers, Christelike Uitgewersmaatskappy, 2008)

Gesprekke oor die lewe

Подняться наверх