Читать книгу Gesprekke oor die lewe - Izak de Villiers - Страница 8

2

Оглавление

DIT IS GOED OM NABY GOD TE WEES

GEBED

Onse Heer, ons vra u teenwoordigheid. U is hier en ons is hier en ons vra ’n ontmoeting, ’n gesprek met U. Ons vra stilte en ons vra woorde – stilte van luister, woorde van U en ons woorde aan U, wat ons in ons hart uitspreek in stilte, maar wat U hoor. Ons bring vir U al ons bekommernis. Ons bring vir U al ons donkerte. Ons bring vir U al ons hartseer. Ons bring vir U al ons irritasies met wat ook al elke dag gebeur. Ons bring vir U ons blydskap. Ons bring vir U ons suksesse. Ons bring vir U die klein, onvolmaakte geloof wat in ons hart is. Ons bring vir U ons hart as ’n mosterdsaad. Seën ons as ons u Woord oopmaak en leer ons. Amen.

ONS LEES SAAM UIT PSALM 73:25-28

25Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. 26Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd. 27Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is. 28Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel.

ONS LEES OOK UIT MATTEUS 6:7-9

7Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. 9So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word ...

Ons kyk na Matteus 6:9: “So moet julle bid” en Psalm 73:28: “Wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.” Ons lees die twee verse saam.

Het dit jou al getref hoe min ons van gebed weet? Al word so baie daaroor geskryf? Jesus het nooit sy dissipels geleer preek nie. Jy lees nêrens: “So moet julle dan preek” nie. Jy lees ook nêrens: “So moet julle aalmoese uitdeel” nie of “So moet julle die armes versorg” nie. Hy sê ook nêrens, “So moet julle dan luister” nie en “So moet julle alle sielkundige reëls toepas as julle met jul medemense of met jul kinders omgaan” nie. Wat Hy hulle wel leer, is om te bid. Dit is ’n sleutel tot die hele Nuwe Testament – gebed is die sleutel.

Ons dink gebed is ’n lys van versoeke wat ons voor God lê. Ja, dit ís ook en jy kan vir enige situasie bid. Ja, daar is party simpel dinge waarvoor mense ook bid, soos vir ’n rugby-oorwinning, of wat ook al. Dit is regtig, ag, ek sal nie sê buite orde nie, bid maar waarvoor jy wil, maar onthou net jy praat met die grote God en ek dink nie Hy luister baie graag na versoeke wat nou nie eintlik van wesenlike waarde is nie.

Waarvoor bid ’n mens? Gebed is: Dit is vir my goed om naby God te wees. Ons een groot gebed is om bewus te wees van die nabyheid van God. “Wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.” Dít is gebed. As ons bid, lê ons ons lysie aan God voor – ek en jy doen dit elke dag. Dit is goed so, maar dit is nie die eerste punt van gebed nie. Gebed is om naby God te wees. Vir ’n oomblik, Here, vergeet ek van die wêreld daar buite. Vir ’n oomblik, Here, vergeet ek van my eie probleme. Vir ‘’n oomblik wil ek net sê, U is my Vader. Jesus sê: “So moet julle dan bid: Ons Vader …” Here, ek erken U as my Vader. ’n Goeie Vader, nie ’n slegte vader nie. U is my Vader. U sorg vir my.

God sal sorg. Hy is ons Vader – en dan is dit ’n eenvoudige gebed verder. Jesus sê: “Ons Vader wat in die hemel is”. Ek plaas Hom dadelik daar waar Hy is – Hy is verhewe, maar Hy is ook by my. “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word.” Laat ek U heilig.

Dit gaan nie om God te probeer vlei nie. God wil nie eintlik gevlei wees nie. Somerset Maugham, die Britse dramaturg en kortverhaalskrywer, het gesê God is te veel van ’n gentleman om gevlei te word. Ek stem nogal daarmee saam. “Laat u Naam geheilig word.” U is heilig en laat ek, met ander woorde, u Naam heilig. “Laat u koninkryk kom,” – met ander woorde, ek is deel van u koninkryk, maar Here, ek, as deel van u koninkryk moet help om hierdie koninkryk uit te brei. “Laat u wil geskied” – Here ek is deel van u wil, laat u wil geskied ook in my lewe. Eers dan kom die versoek: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.”

Gee ons vandag ons daaglikse broodjie. Nie gee vir ons tien brode, of gee vir ons ’n huis vol brood, of gee vir ons ’n huis vol geld nie – gee ons net vandag se snytjie. Gee ons net genoeg vir vandag, en “verlos ons van die Bose” en dies meer.

God laat Hom nie manipuleer nie. Ons kan nie vir Hom voorskryf nie. Ons kan nie vir Hom sê: “Here, ek soek brood, maar ek soek hierdie soet brood wat rosyntjies in het; en ek soek hierdie gesondheidsbrood en daarmee saam soek ek whole wheat, en ek soek dit en ek soek dat.” Hier staan duidelik. Gee my die brood wat ek nodig het ... vir vandag – môre laat ek in u hande.

Jy kan vir die Here enigiets vra – Hy is die Vader, maar die Vader het die reg om te gee, en die Vader het die reg om te weier. “Laat U wil geskied” – dit is wat ons mos sê; “Laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied.”

Joni Eareckson Tada, ’n merkwaardige vrou en ’n kwadrupleeg, is na ’n ongeluk verlam. Sy het gebid: “Here, ek is bly dat my kop werk, my liggaam werk nie meer nie, maar my kop werk.” Sy het heelwat boeke geskrywe. “Here, ek is bly dat ek kan asemhaal”; “Here, ek is bly vir die dag”; “Here, ek is bly vir vriende”; “Here, ek is bly vir die mense wat my versorg”; “Here, ek is bly dat ek U kan dien.” En sy het in ’n rolstoel gesit.

Lofprysing is nie om God te vlei nie, maar danksegging is nodig. “Ek is bly, Here, vir wat U vir my gee – dankbaar, met al die beperkings – is ek bly, Here.” Wanneer ons bid, die oomblik as ons ons oë sluit – of selfs nie sluit nie, al sit ons agter die stuur van ons motor – en ons bid, dan weet ons ons is nie alleen op hierdie aarde nie. God het ons nie hier gesit en ons laat vaar nie. God het ons elkeen lief en Hy is by ons. Ons is nie alleen nie. Ons is nóóit alleen nie.

Wanneer ons bid, dan leer ons ook ons beperkings ken, soos jy jou versoeke aan die Here rig: “Here, maak my gesond”; “Here, sorg vir my kind wat in die moeilikheid is”; “Here, help my kleinkind”; “Here, help my met ’n verskriklike probleem by my werk”; “Here, help my met my huwelik”; “Here, help my met ’n onvrede wat hier in my hart opgekom het”; “Here help my met die donkerheid wat bo-oor my kop saampak.” Eintlik sê ons dan – en ons sê dit ook vir onsself, van ons eie beperkings – ek is nie ’n baie grand mens nie, ek het verskriklike beperkings, Here, ek leer my beperkings ken; U sorg vir my, U gee my my daaglikse brood. U gee dit vir my.

Selfgenoegsaamheid en Christenskap gaan nie saam nie. Christenskap is ’n besef van afhanklikheid van God, afhanklikheid van die sorgsame Vader. Die besef dat Hy ’n Vader is, dat jy Hom alles kan vra; dat Hy ook die reg het om te weier omdat Hy weet wat vir jou goed is en wat nie.

Ek het eendag by ’n sake-seminaar gesit en daar was ’n Amerikaanse spreker uit Texas – ’n vrou wat ’n baie, baie groot sakeryk beheer. Met vraetyd vra iemand: “Wat is jou sukses?” Sy antwoord: “I believe in God. I pray every morning before I go to my office, I pray in my office and when I leave my office, I pray and I thank God for the day. And when I go to bed I pray, I say thank you, Lord, for everything.”

Hierop was daar in die gehoor ’n onderlangse pratery. Sy reageer toe deur te sê: “If you don’t agree with me, feel free not to agree with me, but I believe in God.” Sy is uiters suksesvol, maar sy prys sy Naam voor hierdie harde sakemanne en sy sê gebed is haar geheim.

Wat my aangaan ... dis vir my goed om naby God te wees. Of ek in my kantoor, of ek in die stad se verkeer is, of ek in my huis is, of ek alleen is, wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Laat die rykes nog ryker word, sê Psalm 73, laat die goddeloses maar floreer, dit gaan my nie aan nie, want wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.

Wat ook al gebeur, God weet die beste. God weet wanneer om sy blom te pluk. God weet wanneer om die oes in te samel. God weet wanneer om ons te seën. God weet ook wanneer om somtyds vir ons ’n goeie taai klap te gee. God weet. God weet ons behoeftes en, boweal, God weet dat ons mense is, eenvoudige, nietige mense. “Wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees.”

“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

GEBED

Ek bid om wysheid, dat ek meer sal begryp, dat my denke oor U, my gedagtes, elke dag na ’n hoër vlak sal beweeg. Dat ek elke dag beter ingestel sal wees op die wêreld wat kom, maar reeds buite tyd en ruimte bestaan. Ek kry soms seine van hierdie wêreld, soos ’n flitsende lig ver oor die waters, wat wink dat ek welkom is en ten minste op die regte koers.

Want U het my regterhand gevat, Here. U het my gekla en gemor gehoor en my oornag weer vreugde gegee. Die vreugde van te mag lewe in ’n gevaarlike wêreld met die wete dat U tree vir tree saamloop, en dat u Woord vol vertroosting is. Ek bid dat daardie flitse van bewustheid van U wat soos ligseine oor ver waters kom, dat daardie ligseine elke dag wat ek lewe, meer en meer sal word. Mag Jesus Christus voor my uitgaan. Mag u Gees my leer en vertroos. Mag u krag my versterk. En mag ek voel hoe U my regterhand vashou.

Amen.

Gesprekke oor die lewe

Подняться наверх