Читать книгу Gesprekke oor die lewe - Izak de Villiers - Страница 5

VERANTWOORDING

Оглавление

Hierdie bundel bevat die laaste preke wat ds IL (Izak) de Villiers tussen 2007 en 2009 by die NG gemeente Aasvoëlkop in Johannesburg gelewer het. Die preke is op band opgeneem en getranskribeer.

In hierdie reeks preke is daar ’n goue draad wat getuig van ds Izak se viering van God se teenwoordigheid, maar ook sy voortdurende soeke na die groter wysheid wat lewenspatrone sinvol orden. Hy was wyd belese en het intiem met die Woord omgegaan. Vir hom was die soeke na ’n vollediger begrip van God ’n lewensreis. Hy kon met die Woord worstel en ook kinderlik daarmee omgaan. Hy het verstaan dat menslike denke die grootheid van God nie kon omvou nie. Hy was dus altyd oop vir insig – om weer te dink, maar ook om verras te word.

Met die redigering van die preke is verwysings en spesifiek-gebonde anekdotes en stories weggelaat met die doel om die essensie van sy oordenking aan die leser te bied. Hy was ’n onkonvensionele prediker, vlymskerp kritikus en realistiese denker.

Twee maande na sy laaste preek by die gemeente Aasvoëlkop is hy in 2009 oorlede nadat hy met motorneuronsiekte gediagnoseer is.

Die jaar voor sy dood het hy my as letterkundige eksekuteur aangewys en dit is vir my ’n voorreg om in hierdie hoedanigheid hierdie laaste reeks preke te redigeer. Ek erken ook graag insette van sy vriend, ds Marius Greeff.

Amanda Botha

Gesprekke oor die lewe

Подняться наверх