Читать книгу Gesprekke oor die lewe - Izak de Villiers - Страница 6

1

Оглавление

DIE STEM VAN DIE HERE IS SAG SOOS DIE WIND

GEBED

Onse Heer, ons is hier omdat ons U nodig het. Ons is hier omdat ons ’n behoefte het aan U en u teenwoordigheid. Ons het U so nodig. Ons kan in hierdie gevaarlike wêreld nie sonder U lewe nie. Ons het nodig dat u hand ons hand kom vat. Ons het nodig, Here, dat U ons seën in wat ons doen, want as die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk dié wat daaraan bou. Ons kom om u stem te hoor. Ons kom vir ’n versekering dat U ons Vader is, deur die Seun in die Gees. Ons kom, Here, vir lering, vir ’n boodskap; boweal kom ons vir aanbidding, om te sing tot u eer en te bid in u heilige Naam. Ons bid Here, maak u Woord vir ons oop, beweeg hier tussen ons met u Gees, raak ons hart aan, skenk ons u vrede. Amen.

ONS LEES SAAM UIT PSALM 29:1-11

’n Psalm van Dawid.

1Prys die Here, julle hemelinge! Prys die Here om sy eer en mag! 2Prys die Here om die eer van sy Naam! Buig voor die Here by sy heilige verskyning! 3Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters! 4Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit. 5Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop. 6Hy laat die Libanon bokspring soos ’n kalf en die Sirjon soos ’n jong bees. 7Die stem van die Here laat weerlig uitslaan. 8Die stem van die Here laat die woestyn bewe. Die Here laat die Kadeswoestyn bewe. 9Die stem van die Here laat die wildsbokke ruk van skrik; dit stroop die bosse kaal. In sy paleis roep almal uit: “Hoe geweldig!” 10Die Here heers oor die watermassas, Hy heers vir altyd as koning. 11Die Here gee krag aan sy volk ...

Die groot skrywer van wetenskapfiksie, HG Wells, het ’n kortverhaal geskrywe oor ’n sekere Anglikaanse biskop wat ’n groot probleem gehad het. Die biskop staan toe in die middel van die nag op om daaroor te bid. Hy trek sy kamerjas aan en is toe na sy private kapel waar hy gaan bid het. Toe hy voor die altaar kom, kniel hy en sê: “Oh God, Oh God, Oh God.” En toe kom daar ’n stem: “I am listening. What can I do for you?” Die volgende oggend het hulle die biskop daar in sy kapel dood gekry. Die les van die storie is, die biskop het hom doodgeskrik toe God hom antwoord. Nou wonder ek net, as jy eendag moet bid en jy sê, “Ag, Here,” en die stem kom na jou en die stem sê, “Praat maar, ek hoor,” wat sal jy doen?

Wanneer ons bid, gee ons die Here kans om te praat? Of praat ons so baie dat ons nie luister wat Hy vir ons sê nie; dat Hy geen kans kry om iets tussen-in te sê nie? Want God is ’n God wat praat – dit sê hierdie psalm. Die stem van die Here weerklink oor die waters. Hy laat die weer dreun. Sy stem is vol majesteit. Hy praat met ’n magtige stem. Hy praat in die natuur – hier staan dit: Hy laat die Libanon bokspring soos ’n kalf. Die stem van die Here laat die weerlig uitslaan.

Die stem van die Here is ook sag, soos die wind van Elia daar by die berg Horeb. Na die beroemde of berugte Slag van Somme in die Eerste Wêreldoorlog was daar, nadat die kanonne stil geword het, derduisende soldate aan albei kante dood. In daardie lente op daardie Vlaamse velde het die papawers weer opgekom, bloedrooi papawers. Jy kon nie die merktekens van die oorlog meer sien nie, want die papawers het in die Vlaamse wind gewuif, pragtig rooi!

God het gepraat en gesê: Ek gee julle die vrede van ’n blom. Kyk na my blomme. Jesus het gesê: Kyk na die lelies van die veld; leer van die lelies van die veld. Ek praat. God praat, die Vader praat deur die blomme. Hy praat in die natuur; Hy praat as die son opkom en Hy praat as die son ondergaan; Hy praat tot in alle ewigheid. Hy is die skeppende Gees wat alles nuut maak met dit wat Hy sê. Hy praat in die geskiedenis.

Die psalms vertel gedurig vir jou hoe God in die geskiedenis ingegryp het – ook in jou eie geskiedenis. Dink ’n bietjie na, wanneer en waar het Hy nie orals met jou gepraat nie? Het jy toe geluister? Hy praat vandag ook. Luister jy?

In die tyd van die rigters, voordat Samuel ’n profeet geword het, was Eli die hoëpriester. Die Bybel vertel dat daar in daardie dae min gesigte of drome of profesieë was. Die woord van God was skaars. Tragiese tyd, is dit nie? Ek wonder soms of dit nie ook van toepassing op vandag is nie, dat die woord van God, die ware Woord van God, die evangeliese Woord van God, skaars geword het nie? Maar, God praat ook van hoop. Die profeet kom en sê, gaan troos my volk. Sê vir hulle dat hulle stryd verby is. Droog hulle trane af. Sê dit vir hulle.

Charles Beard, ’n baie invloedryke Amerikaanse geskiedkundige, het geskryf dat hy vier lesse uit die geskiedenis geleer het. Hy sê: “Firstly, whom the gods wish to destroy, they first make mad. Secondly, the mills of God grind slowly, yet they grind exceedingly small. Thirdly (en dit is ’n baie belangrike een) the bee fertilises the flower it robs. Fourthly, when it is dark enough, you see the stars.”

Dit is lesse wat ’n mens uit die geskiedenis en die natuur kan onthou. Dit is soos wat hierdie psalmis sê: Die stem van die Here laat die woestyn bewe. Die stem van die Here stroop die bosse kaal. Somtyds stroop die stem van die Here ons kaal dat ons nakend staan, en dat ons dan sê: Here, wat nou? Wat nou?

Luister ons wat Hy vir ons sê? Hy praat deur sy Woord. As jy die Bybel lees, sal jy God daarin hoor praat, en as jy Hom nie dadelik hoor praat nie, hou maar net aan met lees, Hy sál praat, iewers sal Hy begin praat. Iewers gaan jy ’n teks kry, iewers gaan iets, net iets, aan die brand steek hier in jou hart en gaan God met jou praat, maar dan moet jy stil word voor Hom.

Biskop Bergraf van Noorweë was lank in die tronk – die Nazi’s het hom daar gesit. Hulle het darem vir hom gesê hy kan sy Bybel hou. Om sy eensaamheid te verdryf en te voorkom dat hy nie van sy verstand af raak nie, het hy die Bybel hardop geloop en lees – op en af in sy klein sel. Ja, op en af in sy klein sel, sodat hy die woorde van God kon hoor en hy nie so alleen voel nie. Dit is nogal ’n les. Ons bid somtyds saggies. Ons moet maar somtyds kliphard bid en tot die Here roep en sê: Here, dít is die saak met my. Dit is die saak met my geliefdes; dit is die saak met my kinders; dit is die saak met my ouers; dit is die saak met my kerk; dit is die saak met my mense. Want God praat in ons gemoed.

Hier is ’n ruimte hierbinne en dit is God se ruimte. Ons is elkeen God se heelal en God praat in sy heelal. Dit staan in hierdie psalm. Daar kom tye, en ons het dit al beleef, dat ’n mens die nabyheid van God nogal sterk ervaar. Dan kom daar weer tye wat ’n mens voel, maar nou is ek baie, baie ver weg van Hom. Dan raak dit tyd om weer die Woord van God op te soek en hardop te lees en vir jouself te sê: Maar God praat met my. Luister ek? Luister ek? Wat sê Hy vir my? Wat is sy boodskap vir my? Dit is die tye dat Hy ons ruimte en leë hart vul.

Die laaste groot woord wat God spreek is in Jesus Christus. Jesus Christus is die Woord. Die Woord het gekom as ’n mens en die Woord het geleef as ’n mens; en die Woord het gepraat as ’n mens, en die Woord het gesterf as ’n mens; en die Woord het opgestaan as God.

Jesus het in baie toonlere gepraat. Hy het na die Fariseërs gekyk en Hy het vir hulle gesê: Julle spul adders. ’n Bestraffende woord. Hy het vir ’n lam persoon gesê: Staan op en loop. Hy het vir ’n vrou gesê: Groot is jou geloof. Hy het vir sy dissipels gesê: Ek bid dat my blydskap in julle sal bly en Ek is met julle tot aan die einde van die wêreld. Dit is alles wat Jesus gesê het. Gaan lees dit in sy Woord.

Een van die mooi dinge wat in die Bybel gebeur het, is toe die dissipels in die voornag op die skuit op die meer was en die storm opgekom het. Hulle het verskriklik bang geword en begin roei. Toe kom Jesus oor die waters aangestap. Die dissipels het geskree, want hulle het gedink dit is ’n spook. En toe skree Petrus: “Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” Jesus sê toe vir hom: “Kom!” Toe klim Petrus uit sy skuit en hy begin loop. Maar toe hy die storm, die wind en die branders sien, toe begin sink hy. Jesus gryp hom toe en sê: “Kleingelowige, waarom het jy begin getwyfel?” (Matt 14:22-32).

Naas Jesus, was Petrus die enigste mens wat ooit op water geloop het. Hy het daardie stukkie op die water in die geloof geloop. Jesus gryp sy hand en Hy red hom. En dan praat Jesus weer – en wat maak Hy? Hy kalmeer die storm, soos Hy ook die storm vir jou en vir my kalmeer. Soos Hy beheer gehad het oor die storm jare gelede, so het Hy nog beheer oor die storms wat jou en my tref. As ons roep en sê: Here, maak stil hierdie storm – sal Hy dit op sy manier doen. Hy sál, want die Woord van die Here, sê die psalmis, kloof die seders van die Libanon oop.

Een van die mooi stories, en daarmee sluit ek, speel af in die tempel. Klein Samuel lê en slaap. Kan jy hom sien? Die seuntjie is daar op sy bedjie. Sy ma het hom afgestaan aan die Here. Dit is vir my so ’n pragtige ding – sy ma het hom vir die Here gegee. Daar slaap die seuntjie en dan hoor hy ’n stem: Samuel, Samuel ... Samuel. Hy verstaan nie en gaan dan na Eli. Eli sê, nee, hy moet maar weer gaan lê. Dan hoor hy weer die stem: Samuel ... Samuel. Hy gaan weer na Eli toe en vra of Eli hom geroep het. Dan gaan lê hy weer, en hoor dan weer die stem: Samuel, Samuel ... Samuel. As hy dan weer na Eli gaan, gee Eli hom die raad dat as hy weer die stem hoor, dan moet hy sê: “Praat, Here, u dienaar luister!” ’n Ou seuntjie ... u dienaar. God gebruik ’n seuntjie en Hy roep sy naam. Hy sê vir hom: Ek sal van jou ’n profeet maak voor die nasies. Jy is my uitverkore kneg. Ek is met jou. Gaan sê vir die huis van Eli die volgende ... Dan gee die Here ’n verskriklike boodskap.

Ek wens ek kan een nag op my bed lê dat God my naam roep. Tog doen Hy dit in soveel dinge wat Hy in my en jou lewe doen.

My tant Tita het ’n geliefde lied gehad, ’n ou Halleluja-lied (lied 287). Dit is nêrens meer in ons bundels nie. Die lied gaan so:

1. Ek kan hoor my Heiland roep my,

ek kan hoor my Heiland roep my,

ek kan hoor my Heiland roep my;

“Neem u kruis en volg My, volg My na!”

koor:

waar Hy lei, daar sal ek meegaan,

waar Hy lei, daar sal ek meegaan,

waar Hy lei, daar sal ek meegaan,

gaan ek met Hom, met Hom tot die end.

2. Lei Hy my soms deur beproewing,

lei Hy my soms deur beproewing,

lei Hy my soms deur beproewing,

gaan ek met Hom, met Hom tot die end.

3. Op my pelgrimsreis op aarde,

op my pelgrimsreis op aarde,

op my pelgrimsreis op aarde,

gaan Hy met my, met my tot die end.

Onthou jy dit? Amen.

GEBED

Onse Heer, ons bid dat U met ons sal wees en dat U ons sal seën. Op soveel maniere praat U met ons. U praat hard met die mens van die dag. U praat hard met ons. U roep ons in die natuurdinge; u stem is in ons ruimtes en op die waters van ons lewe, waters waar ons soms hopeloos voel soos ’n bootjie sonder ’n hawe; soos ’n skip sonder ’n stuur, al dobberend; soos ’n drenkeling wat gryp na stompe wat verby dryf; soos ’n ou seilskip wat deur die storms rondgeslaan word, met die maste wat kraak en die dekke wat oorspoel word. Ek roep na U oor die waters wat my bedreig. Ek roep na U terwyl die blitse rondom my slaan. Ek roep na U in die donker. Kom na my, soos Jesus oor die waters; spreek u woorde van kalmte; wees in my skuit en in die skuit van my geliefdes.

Amen.

Gesprekke oor die lewe

Подняться наверх