Читать книгу Hoë hakke met hoogwater - Jacolet van den Berg - Страница 7

Maggie

Оглавление

Hoofstuk 3

Maggie dwaal deur die huis soos ’n lewende dooie. So dit is hoe dit voel om regtig alleen te wees. Sy gaan sit in die son op die breë vensterbank van die studeerkamer. Gewoonlik smiddae haar gunstelingplek met haar neus in ’n dekortydskrif. Sy was dankbaar toe haar ouers vra dat Annemarie en Bianca die naweek by hulle in Somerset-Wes kuier. Hulle is bekommerd, sy kan hulle seker nie kwalik neem nie, haarself nie eens verontskuldig toe haar ma sê dis vir die kinders nodig om weg te kom uit die swaar, depressiewe atmosfeer wat die afgelope drie maande oor hierdie huis hang nie. Was eerder verlig, want dit beteken daar is niemand wat by die kamerdeur kom inloer oor sy nie lus het om op te staan nie. Niemand wat die koskasdeur oopmaak en teleurgesteld is omdat sy nie by die winkel was nie. Niemand om die stoof voor aan te sit nie. Sy kan heeldag net hier sit, maar nou is die son skaars op en haar gedagtes jaag haar reeds. Die stilte bring nie soos voorheen kalmte en vredigheid in haar binneste nie, eerder paniek. Dit druk haar vas, maak haar so bang dat sy opspring en by die stoepdeur uitstap tuin toe.

Vader van genade, ek wil nie alleen wees nie. Sy smeek met alles in haar, kyk op in die lug, verwag amper om antwoord daar te kry, maar daar is niks nie. Nie eens ’n voëltjie wat verbyvlieg sodat sy dit in haar desperaatheid as ’n teken van Bo kan sien nie. Dis blerriewil doodstil, selfs daarbo.

Haar bene knak onder haar en sy gaan sit sommer net daar op die gras langs die yesterday-today-and-tomorrow. Twaalf jaar gelede toe hulle van Johannesburg af hierheen getrek het, het sy dit uit sentiment laat plant, maar nie gedink dit sal ooit tot sy volle potensiaal groei nie. Tog het dit ’n pragtige struik geword. Die trots van haar tuin wanneer dit blomtyd is en die soet geur tot in die voorhuis hang. Nou voel alles so sinneloos; haar obsessie met die tuin en huis se mooimaak, haar beeld as voorbeeldvrou, voorvatter by al wat ’n liefdadigheidsorganisasie is. Haar tyd het sy so versigtig verdeel tussen haar gesin en haar uitreik na ander. Sy het so seker gemaak Jannie en die kinders word nie ingedoen nie. Elke oomblik van haar dag was sy toegewyd. Elke dag perfek beplan. Altyd het sy vir Jannie en die kinders ondersteun, versorg, gekarwei, alles gegee. Nou is Jannie dood en bly sy soos ’n bedremmelde, verdwaalde brakkie in die middel van ’n besige straat staan. Sy weet nie watter kant toe nie en dit terwyl die lewe vir almal om haar voortspoed. Dié wete druk so swaar op haar dat dit voel sy wil gaan lê en nooit weer opstaan nie.

Sy bly sit so met haar kop op haar knieë tot die eerste motor voor in die straat verbyry. Met moeite kry sy haar ledemate in werking. Sy staan op. Haar rug is styf en sy strek dit effens.

Vandag is die dag dat sy Jannie se rekenaar sal aanskakel sodat sy die los drade kan begin saamvat. Die rekenaar lê al die afgelope maande onaangeraak op die lessenaar. Dis iets wat sy nie eens aan Wynand kon toevertrou nie, al was hy Jannie se vennoot en vriend. Sy waardeer Wynand se hulp met die finansiële administratiewe werk wat hy sover moontlik namens haar hanteer, maar al het hy by meer as een geleentheid gevra om Jannie se rekenaar te kry sodat hy sommer alles kan afsluit, is dit iets wat so deel was van Jannie dat sy net ’n rukkie langer daaraan wil vashou. Boonop is daar dalk persoonlike sake waarna sy self moet omsien, dinge wat sy nie net aan ’n vreemdeling kan oorlaat nie. Ja, Wynand het die afgelope sewe jaar gereeld by hulle aan huis gekom maar hy en hulle as gesin het selde gekuier.

In die kombuis skakel sy die ketel aan. Goed, nou weet sy ten minste wat sy vandag gaan doen. Om ’n plan te hê is ’n begin. Sy gaan Jannie se persoonlike sake takel. Dalk is daar e-posse wat sy moet beantwoord. En sy moet seker maak sy het al die inligting van beleggings in haar en die kinders se name. Wynand sal haar seker kan help waar sy vashaak.

Sy skink die tee. Om iets te hê om te doen is ’n vooruitsig wat sy nie die afgelope maande gehad het nie omdat sy haar aan alles en almal onttrek het. Gelukkig kan Annemarie al bestuur en het sy haar suster rondgery wanneer dit nodig was.

Haar selfoon piep waar dit op die kombuiseiland lê en sy leun outomaties nader om te lees wat op die skermpie staan.

Alles reg daar? Dis Wynand. Hy beskou dit blykbaar as sy verantwoordelikheid om elke dag of twee sedert die begrafnis seker te maak sy kom reg en hou kop bo water.

Dankie. Ek gaan vandag Jannie se rekenaar takel.

Asof hy gewag het vir haar antwoord kom die boodskap byna onmiddellik. Is jy seker ek kan jou nie daarmee help nie? Het tyd vandag.

Wat is dit met die man en Jannie se rekenaar? Sy het hom mos al by meer as een geleentheid verseker dis iets wat sy graag self wil doen. Dis ’n laaste oomblik in Jannie se wêreld voor sy finaal die werklikheid moet aanvaar.

Doodseker. Sy aarsel nie voor sy dit stuur nie.

Koppie in die hand stap sy studeerkamer toe. In die deur haal sy diep asem en gaan sit op die deurleefde leerstoel agter die lessenaar. Saggies streel sy al om die rand van die rekenaar. Dit is die laaste ding waaraan Jannie gevat het. Wat het hy gedink voor die hartaanval? Wat wou hy nog alles doen?

Haar vingers begin bewe en sy trek dit terug tot op haar skoot. Help nie sy werk haar nou op oor dinge wat sy nie weet nie. Wat maak dit nou saak? Niks kan meer verander nie. Sy is ’n weduwee. Die bekende steekpyn in haar hart bring haar net ’n oomblik lank van stryk. Dis nodig dat sy nou prakties raak. Dalk is daar onafgehandelde sake waarmee sy Jannie kan help.

Sy maak die rekenaarskerm oop. Huiwer eers, maar druk toe die knoppie om dit aan te skakel. ’n Gewigtigheid kom lê in haar en sy sukkel om die wagwoord korrek te tik. Sy het nie geweet wat dit is nie, maar Jannie se assistent kon dit vir haar gee.

Die blou Windows-skerm flikker oop en sy soek tussen die onbekende lêers. Die foto’s vang haar oog en sy maak dit oop, meer om die gesif deur die lêers uit te stel as nuuskierigheid. Die eerste groep wat sy oopmaak, is van hulle laaste vakansie op Bettysbaai. Annemarie en Bianca wat vrolik voor ’n brekende brander lag. ’n Foto waarna sy lank bly staar, is een van Jannie met die dogters. Hulle lyk gelukkig, laggend met hulle voete in die water. Ineens tref dit haar dat haar dogters dalk net so swaar soos sy kry. Hulle verlies is so groot soos hare. Hulle mis ook hul pa. Die afgelope drie maande het sy net op haarself gefokus. Selfsugtig, maar om te oorleef was al waartoe sy in staat was. Annemarie aard na haar pa; diepdenkend maar o, so presies. Tog is daar ’n vuur in Annemarie waarvan syself nog nie bewus is nie. En Bianca. Die verstrooide een wat nou eers haar tienerskap begin vier. So lief vir mooimaakgoed. So absoluut vrou, al is sy ’n skamele vyftien jaar oud.

Nostalgie kry haar in ’n stewige greep toe sy laas jaar se Kersfeesfoto’s oopmaak. Sy huil so dat sy nie meer die skerm kan sien nie en sy gee haar oor aan die emosie wat dreig om haar te oorweldig sedert sy wakker geword het. Hier is nou niemand wat kan hoor nie. Niemand wat kan sien hoe sy haar waardigheid verloor nie. Daarom sak sy sommer net daar op die mat neer. Bly lê in ’n hopie soos ’n moeë kleuter aan die einde van ’n vloermoer.

Vader, hoe kom ek hierdeur? Sy wou dit hard sê, maar haar keel is te stram en haar lippe te droog. Die mat smoor die hortende geluid wat oor haar lippe kom.

Sy bly so lê tot sy heeltemal bedaar het. Toe staan sy maar weer op en gaan sit agter die rekenaar. Die skerm het intussen doodgegaan en sy moet weer die wagwoord intik.

Die foto’s trek haar soos ’n magneet en sy kan nie help om dit weer oop te maak nie. Sy begin by van die ouer datums en werk terug na die mees onlangses. Dis meestal gesinsfoto’s. Hier en daar is foto’s van boupersele of eiendomme wat aan die maatskappy behoort. Seker foto’s wat Jannie met sy selfoon geneem het. Sy flits vinnig verby dit, maar kom tot stilstand by ’n foto van die drie vennote saam met ’n jongerige blondekopvrou wat sy nie ken nie. Die vrou se wynglas is triomfantlik gelig. Dit lyk soos ’n viering, dalk die beklinking van ’n groot transaksie. Die vrou het ’n Julia Roberts-mond. Wyd, die glimlag gul. Wat haar oog vang, is Jannie se arm wat losweg om die vrou se skouers rus asof hulle gemaklik met mekaar is. Dalk ’n kliënt wat al ’n pad saam met hulle gestap het. Sy bestudeer die foto nog ’n rukkie. Die blondekop is jonk vir ’n kliënt met geld, dalk uit ’n welgestelde familie. Wynand se aantreklike glimlag is geplooi in ’n amperse geamuseerdheid. Op hierdie foto is die jare wat hy jonger as sy twee vennote is baie duidelik. Vroeër vanjaar was dit haar taak om ’n veertigste verjaardaggeskenk vir hom namens die vennote uit te soek. Anders as die ander twee is sy hare nog donker met net ’n effense grysheid langs die slape.

Jannie lyk joviaal. Hy lag selfversekerd en Maggie glimlag effens asof hy haar kan sien. Jannie se lyf is nie ongehoord na aan die aantreklike blondekop nie, maar iets in die samesyn raak haar tog. Gerhard is aan die ander kant van die spektrum. Die oudste vennoot. Hy glimlag ook effens, hou sy glas op. Daar is ’n wysheid in hom, weet sy. Iets te danke aan die ervaringe van sy vyf-en-sestig jaar. Hy is naby aftree, dalk in die volgende jaar of drie. Met Jannie nou weg, is daar seker wanorde in die kantoor. Dis nogal snaaks dat die drie vennote amper drie generasies verteenwoordig het. Dalk was dit met opset so deur hulle beplan. Slim, sou sy dink.

Sy maak haar oë toe. Haar keel trek styf en droog saam teen die fisieke pyn in haar hart omdat sy Jannie se naam aan verlede tyd moet koppel.

Sy skuif aan na die volgende foto’s. Jannie was lief daarvoor om die kinders af te neem. Dis ’n goeie ding, besef sy nou. Want nou het sy foto’s van byna elke moontlike geleentheid van hulle as gesin. Dis iets waaroor die dogters later bly sal wees.

Haar oë begin brand en sy knip dit ’n paar keer. Dit was al middagete en sy het nog nie van die stoel voor die rekenaar opgestaan nie. Miskien is dit genoeg herinneringe vir een dag. Sy maak die foto’s toe en staan op. Al het sy nie juis ’n aptyt nie, sal ’n koppie koffie nou lekker smaak.

Sy loop ’n draai deur die stil huis. Nie man, kind of dier nie. Dis hartseer dat so ’n mooi ruimte nou so leeg is. Maar haar ouers bring die kinders môreaand terug, want Maandagoggend is skool. Mita, die huishulp, het darem die skooluniforms Vrydagmiddag, voor sy huis toe is, reeds netjies in die kaste gehang. Nog iets waaroor sy haar nie hoef te bekommer nie. Sy weet nie wat sy sonder die vrou sou doen nie. Mita is vyf dae per week haar regterhand en hou agter die skerms dinge aan die gang.

Toe sy weer agter die rekenaar inskuif, maak sy die e-posse oop. Sy begin sommer heel bo. Daar is bitter min sakeverwante e-posse. Om die waarheid te sê, dit lyk asof dit reeds in die week ná Jannie se hartaanval opgedroog het. Familie en vriende het natuurlik ook nie meer e-posse gestuur nie. Die pos wat daar is, is ouer en reeds oopgemaak. Dit wat wel nog deurkom, lyk vir haar na ’n klomp gemorspos. Sy sif redelik vinnig daardeur. Eintlik doen sy dit net om nog ’n rukkie langer op Jannie se rekenaar te werk. Wynand het reeds soveel gehelp dat daar werklik nie baie vir haar oorbly om te doen nie. Eers toe sy by die ouer pos kom, begin sy met meer aandag lees.

Karen Loock. Sy lees die naam in die naamboksie. In die onderwerpboksie is daar ’n enkele sin, maar daar is geen brief onderaan nie. Wat doen jy? Dis al. Vreemd. Maggie kyk na die datum van die e-pos. Dis ongeveer vyf weke voor Jannie se hartaanval gestuur, agtuur die aand. Sy soek by dieselfde datum na Jannie se antwoord, maar daar is niks. Lyk nie of hy ooit geantwoord het nie. Dit moet spam wees. Sy glimlag strammerig. ’n Vrou is ’n nuuskierige ding. Al is dit nou in die naskok van die dood.

Sy lees verder. Daar is ’n onoopgemaakte e-pos van die mediese fonds, maar dit lyk nie belangrik nie. Sy stoor ’n e-pos van ’n beleggingsmaatskappy om later meer aandagtig te lees. Wynand sal haar beslis raad moet gee oor hoe sy in die toekoms met die persoonlike beleggings te werk moet gaan. Met die finansiële sake tas sy in die donker. Dit was Jannie se afdeling. Hare was die huis en die kinders. Nou besef sy hoe dom sy was, sy moes aangedring het om meer te weet, maar tot drie maande gelede was dit onnodig. Gelukkig het hy haar redelik onlangs herinner aan die lys in die kluis met die beleggingsbesonderhede. Sy is dus nie net met los drade gelos nie. Jannie het voorsien.

Die hare in haar nek kriewel liggies toe sy weer ’n e-pos van Karen Loock raaklees. Dankie xxx, in die onderwerpboksie. Net dit. Weer kyk sy na die datum. Net twee dae ná die eerste een.

Toe registreer sy wat haar dié keer pla. Dis die drie x’e. Doen mens nie die kruisie-ding as jy soentjies en drukkies stuur nie? Nogal drie. Sy sou dink een x is vir erkenning, dalk ’n dankie. Twee miskien vir toegeneentheid, ’n “ek like jou”. Drie vir “ek soek jou”.

As sy nie so depressief was nie sou sy nou gelag het. Genade, maar mens se kop kan raas as daar soveel stilte om jou is. Te veel tyd vir dink is nie goed vir haar nie. Sy was nog nooit iemand wat stil kon sit nie.

“Jammer, Jannie.” Haar stem is hees en krakerig omdat sy heeldag nog geen woord geuiter het nie. Sy kyk op haar horlosie. Skuins voor drie en sy het nog nie boe of ba gesê nie.

Sy lees verder. Daar is name wat sy herken, heelwat van wie sy nog nooit gehoor het nie. Nog ’n e-pos van Karen Loock. Sy kyk eerste na die datum. Dis bietjie meer as drie maande gelede. Waar kry ek jou? Net dit in die onderwerpboks. Maggie gaan na die soekfunksie en druk Karen Loock se naam in die soekboksie sodat al die e-posse wat sy al gestuur het op die skerm verskyn. ’n Hele bladsy daarvan. Die laaste skaars ’n week voor Jannie se hartaanval. Nie een van die e-posse het meer as ’n enkele sin in die onderwerpboksie nie. Dis duidelik dat Jannie vir Karen Loock geken het. Meer as een keer vra sy: Waar, my of jou? En nêrens is daar ’n antwoord van Jannie nie. Dit op sigself maak die hele eenrigtingboodskapstuurdery vreemd.

Sy trek haar selfoon nader, soek Wynand se naam, huiwer net ’n oomblik voor sy tik. Wie is Karen Loock???

Vir die eerste keer moet sy wag vir Wynand om te antwoord. Ongeduld wel in haar op soos ’n verstopte drein, dit wel op en daar is geen manier om dit te keer nie. Sy bly staar net na die foon. Dié gevoel is so intens, dit betrap haar onkant. Dan is daar tog meer in haar oor as hierdie doodsheid wat so swaar in haar kom lê het.

’n Koue gevoel vat haar hart in ’n stywe greep vas. Dis ’n ander kilheid as die pyn en verlatenheid wat sy tot dusver met Jannie se dood ervaar het, dis eerder soos vrees. As dit enigsins stiller in haar kan word, het dit nou terwyl sy vir Wynand se antwoord wag.

Sy is op die punt om Wynand se nommer te bel toe die foon ’n geluid maak en sy wip van die skrik. Haar vingers bewe toe sy die boodskap oopmaak.

Die bemarkingskonsultant wat ons in Johannesburg gebruik het.

Net dit. Geen verduideliking of die natuurlike vraag van hoekom vra jy nie. So asof hy weet hoekom sy vra en terughoudend is.

???? Sy kyk na die vraagtekens wat sy getik het. Dit behoort hom te laat weet sy is nie tevrede met sy antwoord nie.

?? Kom sy antwoord ná enkele oomblikke terug. Die foon val uit haar vingers. Wynand antwoord nie haar boodskappe só nie. Hy het die afgelope weke uit sy pad gegaan om ’n absolute gentleman teenoor haar te wees. Was nog altyd sedert hy sewe jaar gelede, ná die dood van sy oom, by Mirc Investments aangesluit het. Nou het hy skielik nie woorde nie. Eintlik het sy en Wynand in al die jare nog net oppervlakkig gesels. Hy was die vennoot en sy die vrou. Meer as besigheidspraatjies was daar nooit nie. Hulle was selde alleen, want Jannie was altyd daar. Tog het sy die afgelope maande gevoel Wynand is haar kameraad. Skielik was hy haar bekende in die onbekende.

Sy loop uit op die stoep. Die wind het opgekom en die briesie lig haar hare. Waai teen haar warm gesig. Sy haal diep asem. Nog ’n keer. Daar moet êrens ’n antwoord van Jannie wees op die vrou se boodskappe, veral as sy hulle bemarkingskonsultant was. Wynand hoef haar nie te help nie, sy sal dit kry. Sy swaai om en stap doelgerig terug na die rekenaar. Eerste keer in drie maande dat sy iets doelgerigs doen, net jammer dat dit nou hiervoor moet wees.

Recycle bin. Daar is al menigmaal iemand so uitgevang, dan nie? Sy sif deur die dokumente wat uitgevee is, maar daar is niks nie. So asof alle spore uitgewis is. Sy sit so lank doodstil voor die skerm dat dit begin voel sy kyk dubbel. Hoekom sou Jannie Karen Loock se boodskappe op sy rekenaar los? ’n Logiese antwoord sou wees omdat dit niks beteken het nie. Of was hy gerus omdat sy nooit op sy rekenaar gekyk het nie?

Die gedagte tref haar soos ’n weerligstraal – Jannie se selfoon.

Sy val byna oor haar voete so vinnig spring sy op. Sy foon lê in sy kas. Maar in die slaapkamer huiwer sy voor die kasdeur. Dié deur het sy nie weer oopgemaak sedert sy Jannie se trouring, horlosie en selfoon gebêre het nie. Sy wou alles hou net soos dit is. Te bang iets van Jannie gaan verlore. Maar nou? Sy pluk die kasdeur oop.

Die verdomde foon is morsdood. Die ironie dwing ’n droë lag oor haar lippe. Dis ’n aaklige klank. Asemrig en rou, maar dit bring effense verligting in haar gespanne kake. Dis darem te wagte dat die battery pap sal wees ná drie maande, maar sy is nie lus om redelik te wees nie. Sonder sukses grawe sy in Jannie se bedkassielaai vir ’n laaier. Hy het altyd sy goed so saam met hom rondkarwei.

Sy kry ’n laaier in sy rekenaarsak. Ongeduldig druk sy dit by die muurprop in en wag dat die appel in die middel van die skerm verskyn. Die ritmiese getrommel van haar vingers op die lessenaarblad ewenaar die ritme van haar hart. Hoe lank vat dit vir ’n selfoon om genoeg te laai voordat dit aangaan? Dalk is daar iets fout met die foon. Toe flikker die skerm.

Uiteindelik! Sy gryp na die foon en tik die wagwoord met bewende vingers in. Dit ken sy darem, sy het die foon soms gebruik om te bel of ’n foto te neem wanneer haar foon se battery pap was.

Daar is ’n magdom sms’e maar niks wat lyk asof dit na Karen Loock toe gestuur is nie. Miskien het hy eerder gebel. Of dalk glad nie kontak met die vrou gehad nie. Sy wil-wil verlig voel. Miskien beteken Karen Loock se e-posse absoluut niks nie en was sy maar net ’n teisteraar wat die baas in die bed probeer kry het.

“Jammer, Jan.” Genade, maar haar emosies ry wipplank vandag.

Tog maak sy die e-posse oop wat na sy selfoon toe deurgekom het. Laat haar vinger oor die skerm gly tot sy by die datum van Karen Loock se laaste e-pos kom. Daar is niks. Sy druk op die vullisblikkie se ikoon. As hier niks is nie, gee sy Jannie die voordeel van die twyfel. Dan is dit duidelik hy het die vrou nooit geantwoord nie.

Daar is heelwat e-posse. Toe sien sy Jannie se antwoord en sy raak koud. Die swart lettertjies spring voor haar en sy staar lank voor dit werklik sin maak. In die bed. Dink aan jou. Ek lees. Jy? Wat doen jy? Dis mos wat die vrou gevra het. Hy dink aan haar? Aan Karen Loock? Maggie se brein sukkel om die inligting te verwerk. Hoekom? Dis asof sy met stomheid en domheid gelyk geslaan word. Hulle het gereeld ná ’n lang dag vroeg in die bed geklim om te lees. Sy sou ’n laaste koppie tee vir hulle maak en dan sou hulle hul leesstof kry. Dink aan jou? Haar lyf begin bewe, letterlik van kop tot toon.

Sy soek verder. Daar is nog ’n antwoord van hom. By jou. Sewe-uur. Bliksem! Die woord slaan in haar lyf vas sonder dat sy dit hardop hoef te sê. Wat het hy sewe-uur in die aand by Karen Loock gaan soek? Sy is groot genoeg om te weet wat. Maar nie háár Jannie nie. Hulle was dan gelukkig. So tevrede. Hulle lewe was in die meeste opsigte perfek. Sonder rimpelings op die water. Sy en Jannie het daarvoor gesorg. Hy het sy deel gedoen, sy hare. Miskien was hulle te versigtig, te gemaklik. Dalk was dit juis rimpelings wat hy gesoek het. Nie ontrimpelings by die salon sodat sy altyd op haar beste vir hom kon lyk nie. Nie iemand wat elke persoonlike opskuddinkie gou uitstryk sodat sy lewe seepglad kan verloop nie. Hulle was ’n span. “Bliksem!” Genoeg van ordentlik wees. Kyk wat het ordentlikheid haar in die sak gebring.

Haar selfoon gee ’n piep. Dis Wynand. Sy lees die boodskap sonder om aan die foon te raak. Is jy ok? Waarmee is jy besig? Moet ek oorkom?

Hoekom wil hy nou skielik na haar toe kom? Sy het net gevra wie Karen Loock is. Hy sit en broei seker met ’n skuldige gewete.

Sy ignoreer die boodskap. Soek eerder met ’n koorsigheid verder deur die gestuurde e-posse. Is Karen Loock die vrou op die foto of is dit bloot toevallig?

Daar is nog ’n e-pos van Jannie aan Karen Loock. Nou? My vrou in die tuin besig. Gaan probeer uitglip. Sien jou oor vyftig.

Dis asof die binnekant van haar lyf ’n bodemlose put word, want dit voel asof sy niks oorhet daarbinne nie. Letterlik niks nie. Sy is lus om elke kru woord wat sy ken uit te skree.

Met haar hand oor haar mond bly sit sy soos ’n koudbloedige in die son.

Nee! Dis nie wie sy is nie. Sy sal nie haar waardigheid agter Jannie aangooi omdat sy kwaad en ontredder is en hom die woorde toevoeg wat hom toekom nie. Maar dis te veel gevra. Toe sy die volgende boodskap lees, gooi sy die selfoon dat dit die muur in die gang met ’n slag tref. Hy gaan dit in elk geval nie weer nodig kry nie. Vasgekeer draai sy in die rondte. Sy kan nie helder dink nie. Om die waarheid te sê, sy kan nou aan niks dink nie. Sy moet vars lug kry.

Blindelings soek sy die stoep op. Maar sy voel so verskriklik alleen. In ’n dwaal loop sy terug kombuis toe en haal haar motorsleutels van die sleutelhakie af. Sy het nêrens om te gaan nie, maar sy wil hier wegkom, dalk net ’n draai ry. Al is dit net om die blok.

Haar hande bewe toe sy agter die stuurwiel inskuif. Die elektriese motorhuisdeure gly sag oop. Sy sit haar motor in trurat en trap die versneller. Die motor skiet vinniger agtertoe as wat sy bedoel het.

Daar is ’n dringende getoet regs van haar, gevolg deur skreeuende remme. Vervaard trap sy die rem en haar motor ruk dood. ’n Turkoois kombi kom net etlike meters van haar af tot stilstand. Sy knip haar oë om te fokus. Pleks die ding haar gestamp en klaargekry het. Sy doen nie moeite om die onredelike gedagtes te keer nie, sy is lankal verby redelikheid. Die afgelope drie maande was hel. Hoe moet sy nou met ’n verneukery en hoereerdery agter haar rug ook maak? Was ’n begrafnis nie genoeg nie? Wat haar die seerste maak, is dat sy hom nie eens daaroor kan konfronteer nie. Sy sal nooit weet wat hy gedink en gevoel het nie. Nooit weet of dit net ’n flirtasie was en of hy haar afgeskryf het nie. Was hy van plan om haar te los? Was hy nog lief vir haar? Hy het belowe. Negentien jaar gelede het hy voor God en hulle familie en vriende belowe dat hy haar as sy vrou vat. Net vir haar. Nie vir Karen Loock ook nie. Sy staar na die bussie, maar sien dit nie werklik raak nie.

Twee vroue kyk na haar asof sy van êrens ontsnap het en hulle nie seker is of dit uit ’n rioolpyp of ’n psigiatriese eenheid is nie. Nie een van die twee roer nie. Sy het nie krag in haar lyf nie en bly sit ook net. Lamheid lê tot in haar been, maar sy moet die mense verskoning vra. Met moeite stoot sy die deur oop. Die bestuurder draai haar ruit af toe Maggie stadig naderloop.

“Jammer, jammer, ek is verskriklik jammer.” Maggie se lippe is droog en haar stem krakerig. “Ek wou net wegkom.”

“O, donner, hier kom moeilikheid.” Dis die rooikop in die passasiersitplek wat hard genoeg praat dat sy kan hoor. “Trap die petrol dat ons kan ry. Lyk of die vroumens ’n spook gesien het. Ek het nie nou lus vir sulke drama nie.”

“Het jy moeilikheid?” Die blonde vrou lyk vriendeliker. Sy rek haar nek om verby haar te kyk. “Het jy ’n panic button?”

“Nee.” Maggie skud haar kop stadig. As iemand op haar hakke maar die oorsaak van die paniek in haar was. Dit sou sy kon hanteer. “Hier is niemand nie.”

“Jy is wit geskrik. Kan ons jou help? Wil jy inklim? Ek kan jou iewers gaan aflaai. Jy lyk nie in ’n toestand om te kan bestuur nie.”

Maggie sien hoe die blonde vrou aan die rooikop se been tik. Amper asof sy haar aanmoedig om ook iets te sê. Dalk vriendeliker te wees.

Die rooikop haal net haar skouers op. “Dis jou kar. Lyk my die hele Paarl is mal vandag.”

Albei die vroue staar vraend na haar.

Wil sy inklim? Sy kyk dom na die rooikop. Beslis nie! Veral nie saam met iemand wat praat asof sy nie hier staan nie. Tog wil haar bene nie wegdraai nie. Sy kan nie hier bly nie, nie vandag nie. In hierdie huis is sy gekul. Omdat haar man haar nie waardig genoeg geag het om haar die waarheid te vertel nie.

Sy steek haar hand na die deurhandvatsel toe uit, maar trek dit terug toe die blondekop weer praat.

“Jou motor. Jy kan dit nie sommer net in die pad los nie.”

Maggie kyk stom na haar motor. Sy kan nie glo sy het gedink sy is in ’n toestand om te bestuur nie. Waarskynlik sou sy net ’n gevaar op die pad wees.

Die blondekop se mondhoeke trek simpatiek. “Ek trek dit vir jou terug in die motorhuis. My ma het ook ’n Merc. Ek weet hoe dit werk.”

Maggie hou die sleutel uit en kyk willoos hoe die vreemdeling in haar motor klim en weer tot in die oprit ry. Sy sluit die deur en hou die sleutel weer na Maggie uit toe sy by die kombi kom.

Met die sleutel in haar hand geklem, beur en trek Maggie aan die stram deur van die kombi.

“Jammer, dis oud.” Die blondine lyk verskonend.

“Dis oukei.” Ja, sy is luukser voertuie gewoond. Was eintlik nog altyd in watte toegedraai, sy weet dit, maar tot dusver het sy dit gerieflikheidshalwe ontken. Sy kry die deur oop en skuif in op die ou kunsleersitplek.

“Ek is Simoné, dis Andrea.” Simoné, die jonger een, klink bemoedigend.

“En ons is op ’n welfare campaign. Wêreldvrede, kos, boeke en lifts vir almal.” Die rooikop grens aan geïrriteerd.

Maggie antwoord nie. Bloot omdat sy te tam is. As sy beter gevoel het, het sy Andrea dalk op haar onvriendelike gedrag attent gemaak. Sy is gesteld op etiket en reëls.

“My naam is Maggie.”

“Waarheen vat ek jou, Maggie? Ek is nie haastig om by my bestemming uit te kom nie.” Die ligte toon in Simoné se stem klink geforseerd.

Snaaks dat dié nuanses haar opval. Al is sy buite haarself op die oomblik, is sy baie bewus van die ander twee se emosies.

Simoné kyk afwagtend na Andrea. Dié skud net haar kop.

“Oukei, ek is seker ook nie haastig nie,” antwoord Andrea toe tog.

“Ek het eintlik nie ’n plan nie.” Maggie voel pateties toe sy dit sê. “Ek wou sommer net ’n ent ry.”

Andrea sug, maar Maggie ignoreer dit.

Hulle sit ’n rukkie. Dit wil voorkom asof sy nie die enigste een sonder ’n plan is nie.

Toe draai Simoné na haar en ’n glimlag verlig haar gesig. Die skoonheid in die jonger vrou se mond val haar op. “Is julle lus vir ’n joyride?”

“Nee,” keer Maggie flouerig.

Simoné draai na Andrea en dié haal haar skouers op. “Oukei, ek sal saamgaan. Ek het nou niks om by die huis te gaan doen nie.”

Toe Maggie haar kom kry, maak die bussie ’n U-draai en is hulle na wie weet waar op pad. Die stukkende kunsleersitplek sny in haar boud deur die dun materiaal van haar rok, maar sy skuif nie, staar net lusteloos na buite.

Dis warm in die bussie. Daar is nie lugreëling nie. Toe hulle weer om ’n draai gaan en die sitplek haar krap, skuif sy effens na links.

Soos sy, sit Andrea ook net woordeloos en staar by die venster uit.

Niemand sê iets nie en ongemak roer in haar terwyl hulle in die eienaardige bussie na die noordekant van die dorp ry.

Dis bisar. Sy hou die mense by die winkel links van haar dop toe hulle by die rooi lig stop. Inkopies, so ’n normale ding om op ’n Saterdagmiddag te doen. Sy wens sy was een van hulle. Hoe verlang sy nie nou na ’n tyd toe sy ook gou winkel toe moes jaag om ’n slaaikop of ’n blikkie room te kry vir hulle Saterdagmiddagbraai nie.

Hulle ry by die dorp uit en sy wonder of sy die plek weer lewend sal binnery, sy weet niks van die twee voor haar nie. Paniek wel in haar op, maar sy onderdruk dit met mening. Andrea kyk steeds by haar ruit uit en die bos hare verbloem haar gesig. Simoné lyk bietjie meer ontspanne, hoewel die vingers wat om die stuurwiel klem ’n ander storie vertel.

Hulle is op die Agter-Paarl-pad. Haar hart klop vinniger, maar sy maak nie haar mond oop nie. Sy het net een begeerte en dit is om van Jannie en sy houvrou, of wat Karen Loock ook al was, te vergeet.

By die groter pad sit Simoné die flikkerlig aan en hulle draai links. Toe hulle regs afdraai Durbanville se kant toe, begin Maggie in die bussie rondkyk vir ontsnaproetes. Sy het in die afgelope paar minute haar posisie oordink en kan nou nie glo sy het haar in die twee se hande begewe nie.

Die pad is bekend vir haar. Herinneringe spoel oor haar en sy is lus om in ’n hopie op die sitplek op te krul sodat sy haar oë kan toemaak en probeer vergeet. Nie lank gelede nie het hulle na hierdie einste kanolavelde kom kyk. Jannie het foto’s van die dogters tussen die massas geel blomme geneem. Bianca het steen en been gekla, maar uiteindelik tog geposeer asof sy ’n model is.

Maggie kyk eerder af na haar hande. Haar trouring lê fyn teen die vel van haar ringvinger. Sy het gedink Jannie is gelukkig, soos sy en die dogters. Nooit het sy die indruk gekry dat hy ontevrede was en meer as vir haar wou hê nie. Dalk het sy ook maar net gesien wat sy wou.

“Ontvoer julle my?” Haar oorlewingsdrang verbaas haar. As hulle van plan is om by een van die verlate gehuggies in te draai en haar aan een of ander rampokker te verkwansel in ruil vir dwelms of iets in dié lyn, sal sy verkieslik eerder gouer as later wil weet. Sy het niks by haar nie, nie ’n selfoon of ’n beursie nie. Roof is dus nie ’n opsie nie. Sy sidder om aan ander moontlikhede te dink. In haar lewe het sy nog nooit so ’n onbesonne ding aangevang nie. Maar die lewe het haar ’n onverwagse dwarshou toegedien. Sal sy ooit weer rasioneel kan dink en optree? Hoe sê Bianca wanneer sy kwaad is? See if I care. Sy wens sy kan dieselfde van haar lewe op die oomblik sê.

Simoné en Andrea kyk vir mekaar. Toe begin Simoné lag.

Simoné hou nie op lag nie. Eers gooi sy haar kop agteroor teen die kopstuk, toe skud haar lyf al hoe meer en die klank wat oor haar lippe ontsnap, klink eerder na histerie as vreugde. Maggie bly doodstil sit, haar vraag was darem nie so snaaks nie. Die vrou moet versteur wees.

“Trek af.” Andrea se stem is gebiedend. Haar oë flikker agtertoe en dan terug na Simoné. “Jy gaan ons verongeluk. Ek het ingestem vir ’n joyride, nie ’n ambulansrit nie.”

Andrea se woorde is soos olie op vuur, want ’n nuwe lagbui oorval Simoné. Dié hou darem stil sodat sy oor die stuurwiel kan lê. Met haar kop tussen haar arms bedaar die gelag geleidelik.

“Het sy dalk gedrink?” vra Maggie vir Andrea. Sy weet nog steeds nie of sy ontvoer is en of die twee werklik sommer net ’n vreemdeling opgelaai het omdat hulle vandag lus was om iemand in nood te help nie.

Andrea skud haar kop heen en weer. “Ek weet nie. Ek ken die girl tien minute langer as jy. Sy speel moeder Teresa vandag.”

Simoné het ophou lag en sy leun weer terug teen die sitplek terwyl sy die trane uit haar oë vee. Maggie is nie seker of sy lag of huil nie.

Goed, lyk darem nie of hulle haar ontvoer nie, maar of dit iets positiefs in haar situasie is, weet sy nie. “Miskien moet ons ry. Nou-nou oorval iemand ons hier langs die pad.” Weer verbaas Maggie haarself. Dat sy juis nou haar verantwoordelikheidsin terugkry, is eintlik lagwekkend.

Simoné kry die bussie weer in beweging. “En hier sit ek heelpad op my hoede omdat ek bang is Maggie slaan my van agter oor die kop of doen ’n Hollywood move en spring uit.” Sy lag weer, maar hierdie keer meer beheers.

“Waarheen is ons op pad?” Maggie voel simpel om te vra.

Tot haar verbasing kyk Andrea ook vraend na Simoné.

“Bloubergstrand toe. Ek het gedink julle vra nooit nie.”

Maggie dink ’n oomblik daaroor. “Wat gaan ons daar maak?”

Simoné haal haar skouers op, kyk in die truspieëltjie na Maggie. “Jy wou wegkom. Andrea wou wegkom. Ek het die uitkomkans gebruik.”

Hoë hakke met hoogwater

Подняться наверх