Читать книгу Hoë hakke met hoogwater - Jacolet van den Berg - Страница 8

Simoné

Оглавление

Hoofstuk 4

Die wind roer oor die veld toe hulle by Blouberg indraai, vlaggies wapper verwoed, voetgangers moet aan hulle hoede en rokke vashou. Sy draai strand se kant toe. Die parkeerarea is dolleeg, daar is net ’n paar gesoute seeliefhebbers wat kans sien vir die wind op die strand. Skuimperdjies hardloop wit oor die water en nostalgie nestel in haar. As kind het sy dit so geniet wanneer hulle hierheen gekom het. Haar ma het Blouberg verkies omdat Tafelberg so mooi lyk van hier af.

Die see was nog altyd haar troosplek. Dis waar sy tuis voel. Skuldig kyk sy na die ander twee. Waarskynlik koester hulle nie dieselfde sentimente nie.

Sy parkeer die bussie reg voor die strand. Of die stilte van die ander twee ’n teken van protes of bloot net aanvaarding is, weet sy nie.

Toe sy waag om na haarself in die truspieëltjie te kyk skrik sy vir die gesig wat na haar staar. Wat het die twee besiel om by haar in te klim? Sy lyk soos ’n ontsnapte onder spreiligte. Vuil, verskrik, verwaaid en betraand. Maar hulle is ordentlik genoeg om niks te sê nie. Waaroor sy natuurlik dankbaar is, want haar toekomsplanne is in die weegskaal, eintlik heeltemal in hulle dinges en om nou te hoor hoe sleg sy daar uitsien, is die laaste ding wat sy nodig het. Hoe gaan sy haar kop regkry sodat sy rasionele besluite kan neem? Haar perfekte wêreldjie het soos ’n kaartehuis ineengetuimel, duidelik ’n teken van ’n swak fondasie. Sy het ’n verhouding wat in sy kanon is en ’n risiko van een of ander seksueel oordraagbare siekte omdat haar kêrel fornikeer. Haar pa is ’n beheervraat en sy het ’n aandeel in ’n winkel waarvoor sy na dese eerlikwaar nie meer kans sien nie. Genade, dis nou wat mens ’n moerse boggherop noem. Sy lê met haar kop teen die stut terug en sluit haar oë. As die see maar al haar probleme kon wegspoel, dan het sy nou soos Ingrid Jonker gemaak en die waters ingevaar.

Simoné sit nog ’n oomblik so, loer toe onderlangs na die vrou langs haar. Sy vermoed Andrea is eintlik aangenamer as wat mens met die eerste oogopslag sou dink. Noudat sy regtig vir die vrou kyk, kan sy die tekens van wroeging om haar oë sien. Dit was dalk die rede vir haar belaglikheid om die vrou ’n geleentheid aan te bied. Daar is iets weerloos aan die rooikop al steek sy dit goed agter die stywe broek en paar stiletto’s weg. Lyk of Andrea ’n blaaskans nodig het van wat dit ook al is wat haar opkeil. Moontlik ook hoekom sy so maklik ingestem het om saam te ry.

“Sal ons uitklim en ’n bietjie ons voete in die sand gaan steek?” Sy vra dit met valse opgewektheid. Dalk laat dit die ander twee se gemoedere bedaar.

“Ek is nie juis gedress vir die strand nie.” Andrea beduie geïrriteerd na haar klere.

“As jy só sirkus toe kon gaan, kan jy seker daarmee op die strand sit ook. Ons gaan nie tan of swem nie. Jy sal dit oorleef.”

“Nou goed. Ons is nou hier.” Andrea maak haar deur met ’n sug oop, klim uit en klap dit agter haar toe.

Simoné draai vraend na Maggie wat steeds doodstil sit. As die vrou nie reeds ’n paar sinvolle opmerkings gemaak het nie, sou sy kon dink daar is niemand tuis agter die verskrikte blou kykers nie. Sy bekyk Maggie skaamteloos. Effe te skraal, maar daar is tog tekens van goeie versorging. Welaf, in ag genome haar huis en motor.

“Kom jy? Trek net jou sandale uit.” Onwillekeurig praat sy sagter met die vrou. Daar is iets breekbaars in haar oë.

Maggie knik en skuif die deur oop. Sy glip haar voete uit die sandale en klim uit. Haar rok wapper om haar bene toe sy langs Andrea gaan staan.

Simoné skop ook haar plakkies uit voor sy die bussie sluit.

“Gaan jy met jou stiletto’s op die sand?” Simoné kyk na die stelte waarop Andrea staan.

Andrea volg haar blik. “Seker nie.” Sy buk en al laat haar jeans nie veel beweegruimte toe nie, kry sy die stilettobandjies op wonderbaarlike wyse los. Sy is ’n hele kop korter toe sy kaalvoet langs hulle staan.

Ineens lyk Andrea meer mens vir Simoné. Dis asof sy op ’n manier wie sy is met die stiletto’s wegsteek, maar kaalvoet haar skanse laat sak.

Skoene in die hand begin Andrea strand toe loop. Maggie huiwer, volg haar toe skoorvoetend. Simoné meet hulle onwillekeurig. Maggie is ’n statige, skraal vrou. Daar is elegansie in haar bewegings al lyk sy platgeslaan. Andrea, daarenteen, is die teenoorgestelde van statig, tog handhaaf sy haar op ’n ander manier.

Hulle gaan staan ’n ent weg van waar die branders breek. Die wind pla, maar is darem trotseerbaar. Vir Simoné in elk geval, sy is gewoond aan wind op die strand. Die sand stort sy later vinnig weer uit haar hare.

“Wat nou?” Andrea kyk na haar asof sy ’n plan moet hê. Met die een hand vang sy haar rooi krulle, dit gaan binnekort ’n gekoekte bos wees. “Ek wil nie lank bly nie, dis onplesierig.”

“Kom ons stap ’n entjie langs die water af, dan kom ons terug.” Die ander twee lyk nie beïndruk met die idee nie. “Ons kan eers net hier op die rots sit ook,” keer sy toe dit lyk of Andrea gaan omdraai. Sy beduie na die rotse links van hulle wat verdwaal in die sand staan.

“Beter plan.” Andrea knik instemmend.

Maggie volg gedwee en hulle gaan sit in ’n ry op die rots. Simoné maak haar oë toe en haal ’n paar keer diep asem. Die klam lug wat teen haar gesig waai, bring in ’n mate verligting en sy wag dat die sout geur van die brekende water en die sand tussen haar tone haar met die gevoel vul dat sy behoort, die seer in haar hart salf sodat sy kan dink wat haar te doen staan. Maar natuurlik sal dit nie so maklik wees nie. Die see kan nie teleurstelling en pyn wegspoel nie. Gefrustreerd maak sy haar oë oop.

Sy kom agter Andrea en Maggie hou haar dop.

“As ek ’n psigopaat is, is julle doppies nou geklink.”

Die ander twee lag nie, glimlag nie eens nie. Andrea lyk eerder asof sy die moontlikheid ernstig oorweeg en die leë uitdrukking in Maggie se oë val haar weer op. Dié vrou is deur diep water of die kluts behoorlik kwyt en sy vermoed dis nie laasgenoemde nie. Iets aan Maggie is te gesofistikeerd, te ordentlik.

“Is jy?” Andrea se mondhoeke pluk baie effens opwaarts.

“Is ek wat?”

“’n Psigopaat.” Sy kan nie agterkom of Andrea ’n grap maak nie.

“Ek is ’n idioot, ontnugter en my hart is flenters, maar ’n psigopaat is darem een ding wat ek met eerlikheid kan sê ek nie is nie. In elk geval nie tot dusver nie.”

“Jy het gesê dis ’n man?” Andrea se blik laat haar ongemaklik voel.

“Mans.”

“Laat ek jou nou een ding sê, hulle is nie jou trane werd nie. Ons almal trap in dieselfde gat. Jou opgehewe oë en rooigesnuifde neus is vermors, want dit raak hulle net mooi niks nie. Hou jou trane vir wanneer een van hulle die emmer geskop het. Mans is bliksems. Hulle soek jou lyf terwyl dit mooi is en dan is dit sommer gerieflik dat jy hulle gemors agter hulle skoonmaak ook.”

Langs haar kriewel Maggie onrustig.

Simoné kyk ietwat geskok na Andrea, sy eien nou die bitter trek om die rooikop se mond. Sy het darem bietjie meer simpatie van Andrea verwag. Nie ’n skrobbering omdat sy ’n gebroke hart het nie.

“My man is dood.”

Die woorde val soos klippies in ’n waterpoel tussen hulle. Dit breek die oppervlak, sak weg, maar los rimpelings agter.

Andrea en Simoné kyk gelyk na Maggie, maar dié sien hulle skaars raak. Sy kyk ver oor die branders terwyl die wind haar hare verby haar wange pluk. Die punte raak-raak aan haar geboë skouers.

Verskrik slaan Simoné haar hand oor haar hart. “Wanneer?” Is dit hoekom Maggie so uit die huis gestorm het? En hier bring sy die vrou Blouberg toe. Hoe verskriklik gaan dit nie wees om nou na ’n lyk toe terug te jaag nie. Pleks Maggie eerder gesê het sy het hulp nodig.

“Drie maande gelede.”

“O.” Verligting is so duidelik in die enkele woord dat Simoné skaam kry en skuldig wegkyk. “Ek is jammer.”

Maggie verskuif weer langs haar. “Jy hoef nie te wees nie. Jy ken ons nie.”

Die kort stilte tussen hulle is gelaai met ongemak omdat hulle mekaar nie kan troos nie.

“Ons het nou ’n dop nodig,” verbreek Andrea die stilte onsimpatiek.

“Dit sal help.” Simoné knik instemmend en kyk om na die restaurant ’n ent weg, aan die oorkant van die pad. Die plek is altyd bedrywig op ’n Saterdag. “Ek sal by die restaurant vir ons gaan koop. Julle kan hier wag.” Sy staan sommer op en voel in haar sak vir die bussie se sleutel.

“Ek wil niks hê nie, dankie. Ek het in elk geval nie geld by my nie,” maak Maggie flouerig kapsie. “Ook nie ’n bestuurderslisensie om julle terug Paarl toe te ry nie.”

“Ek sal koop. Ek het genoeg geld by my.” Simoné voel skuldig om Maggie so te stoomroller; die vrou lyk of sy gaan omval as sy teen haar nies.

“Ek het ook geld by my. Moet ek saamkom en jou help dra?” Andrea staan op, lyk desperaat om nie agtergelaat te word nie.

“Nee, ek sal regkom. Jy kan die volgende ronde koop as ons nog wil hê. Wat drink julle?”

“Enigiets. Solank dit genoeg is.” Andrea vang weer haar verwaaide bos hare vas en draai dit in ’n knoop agter haar kop. Die weggebinde hare laat haar heelwat jonger lyk. Middel dertigs, dalk effe jonger.

“Moenie worry nie. Dis een ding waarvan ek seker sal maak.” Sy draf weg sonder om vir Maggie se antwoord te wag. By die bussie leun sy na binne om haar skouersak in die hande te kry. Haar vingers sluit om die banksakkie met die note wat sy by die winkel gevat het en sy huiwer. Demmit, Zane. Hoekom het hy nou hulle lewe so kom opneuk? Sy vou ’n vuis om die note. Ná wat die afgelope tyd verlore geraak het, is dit broodnodige geld. Sy kan nie bekostig om dit weg te drink nie. Maar sy gooi die gedagte van haar af asof dit ’n spinnekop is wat op haar skouer geval het. Verantwoordelik se dinges. Niemand anders is nie, hoekom sal sy wees? Vanaand is sy kwaad genoeg vir Zane en jammer genoeg vir haarself om die onverantwoordelike ding te doen en môre se probleme vir môre te los. Sy moet net in die oomblik leef. Dan is die teleurstellings minder. Sy het mos ’n ryk pa. Nie dat hy ooit bereid was om haar onverdiend vol te stop nie en nog minder was sy bereid om te vra. Suffer in silence. Sy is goed daarmee. Maar daar was nie veel suffering die afgelope twee jaar nie. Sy en Zane was op hulle eie planeet. Hoekom sou hy dan so vreemd begin optree het die afgelope twee maande? Dalk dwelms? Dit kan sy nie glo nie. Miskien ’n ander duister geheim waarvan sy niks weet nie. Genade, sy sal moet uitvind hoeveel meisies hy die afgelope twee jaar op die strand vasgedruk het. In naam is sy immers ’n dokter. Sy weet watse impak sy losbandigheid op haar kan hê.

Maggie en Andrea sit steeds net waar sy hulle gelos het toe sy oor die parkeerarea draf. Ineens voel sy simpel om dinge so vooruit te loop. Sy is nou soos iemand wie se kop jeuk as hy hoor van iemand in ’n ander dorp met kopluise. Om nou slapende honde wakker te maak is dom. Sy sal net so gou moontlik seker maak sy is so gesond soos sy dink sy is.

Die restaurant is aan die oorkant van die pad en sy draf vinnig oor toe daar ’n gaping in die verkeer is. Die plek krioel en sy druk haar hare selfbewus agter haar ore in voor sy in die paadjie na die ingang op loop. Miskien moes Andrea eerder gekom het. Soos sy nou lyk, sal sy nie verbaas wees as hulle haar drank weier nie.

“Kan ek ’n drankspyskaart kry, asseblief?” vra sy vir die eerste kelner wat sy teëkom.

“E …” Hy lyk onseker. “Waar sit julle?”

“Net hier buite.” Sy beduie vaagweg oor haar skouer. Nie seker of sy drank sommerso kan koop nie. Dis immers ’n restaurant, nie ’n drankwinkel nie. Sy sit haar hartseerste puppy dog-gesig op. Glimlag so ’n bietjie pateties soos iemand wat haar laaste kragte vir die aksie gebruik.

Hy staar ’n oomblik na haar, knik toe sonder om verder uit te vra en draai weg om een te kry.

Toe hy die spyskaart terugbring, bestudeer sy die inhoud daarvan aandagtig. Maggie lyk nie na die soort wat bier drink nie. Boonop gaan ’n bier op die strand nou te veel herinneringe in haar loswoel. Sy wil nie onthou hoe sy en Zane soms ná ’n heerlike middag in die water op die sand gesit en saam na die sonsondergang gekyk het nie. Sy met haar rug teen sy bors gestut. Haar kop teen sy skouer terwyl sy nou en dan ’n slukkie van sy bier vat. Die knop in haar keel kom vinnig. Sy beduie na die eerste bottel wyn wat sy sien en hou drie vingers vir die kelner op.

Sy wenkbroue skiet dak toe, sy kan die rook uit sy ore sien draai, maar aan sy houding lyk dit of hy haar gaan oorsien en niks sê oor die feit dat sy nie by een van die tafels sit nie. Hy vat die spyskaart by haar en verdwyn na binne.

So half en half verwag sy dat die bestuurder haar onder vier oë gaan kom spreek.

Maar die kelner kom met die drie bottels terug. Hy gee dit nie dadelik vir haar nie. “Ek dra dit vir jou.”

Buite hou hy dit en die strokie na haar toe uit en sy gee die note vir hom.

“Hou die kleingeld.” Dit beteken ’n stewige fooitjie, maar hy bly so diplomaties stil dat sy voel sy skuld hom. “Kan ek ’n kurktrekker by jou leen, asseblief? Ek bring dit nou-nou weer vir jou terug.”

Die kelner lyk onseker. Dalk is dit haar desperate gesig wat hom oorreed, want weer knik hy en haal ’n kurktrekker uit sy voorskootsak. “Ek het twee.”

Sy probeer dankbaar glimlag. Met die bottels stap sy terug na waar die ander twee wag. Selfbewus maak sy asof sy nie die verbykomende motoriste en voetgangers sien nie. Op ’n manier kry sy die trane teruggesluk voor sy weer by Andrea en Maggie aansluit en sy is bly sy hoef nie nog ’n tranedal te verduidelik nie.

Sy hou die bottels op toe sy voor hulle gaan staan. Dis makliker om dapperheid te wys as pyn. “Ek hoop julle hou van rooiwyn. Shooters was te moeilik om te dra.” Sy kyk na Maggie. “En ek het aangeneem jy is nie ’n bierdrinker nie.” Haar glimlag voel aangeplak, maar ten minste snik sy nie.

“Hoe gaan ons dit drink?” Maggie kyk onseker na die bottel wat Simoné na haar toe uithou, maar uiteindelik vat sy dit tog.

“Uit die bottel. Dis hoekom ek drie gevat het. Ons het nie glase om te deel nie.”

Andrea vat die bottel sonder aarseling by haar. Bestudeer so ewe die etiket asof dit vanaand saak maak wat hulle drink.

Sy gaan sit weer tussen Andrea en Maggie. Plant die bottel in die sand langs haar voete en bring die kurktrekker te voorskyn. “Gawe kelner gewees.”

Met ’n geoefende hand maak sy eers Maggie se bottel oop, toe Andrea s’n. Nou kom die tydjie wat sy as student haar lyf kelner gehou het handig te pas. Met die fooitjies het sy haar eerste branderplank gekoop. En dis waar sy geleer het van wynbottels oopmaak. Als te danke aan haar pa wat haar nooit sou toelaat om haar maandelikse toelaag op surftoerusting te bestee nie.

Die eerste sluk wyn wat sy vat, is te groot en die vrankerige smaak laat haar keelspiere saamtrek. Hierdie wyn is van die soort waaraan heelaand lank geteug behoort te word en nie met ’n paar gulsige slukke weggeslaan moet word nie.

Maggie bekyk haar bottel skepties voor sy ’n versigtige teugie vat. “Nie te sleg nie.” Maar dit lyk nie of sy kans sien vir nog nie, want sy sit die bottel dadelik in die sand langs haar voete neer. Effens agter haar rok, maar Simoné maak asof sy dit nie sien nie.

“Jy moenie mors nie, ek het huurgeld gebruik om dit mee te koop.”

Maggie kyk geskok na haar. “Jy moes nie. Ek sal jou terugbetaal.”

Simoné lag skeefweg. “Dis nie nodig nie, geniet dit net.”

Langs haar ontsnap ’n sug oor Andrea se lippe. “Ek wou nog altyd onder ’n sambreel op ’n strand in die Franse Riviera gelê het met ’n tequila waaraan ek sulke fyn teugies vat, maar merlot op ’n winderige Kaapse strand is seker die beste wat ooit op my pad sal kom. Ek sal beslis nie gou in my lewe by die Franse Riviera uitkom nie. Nie met drie kinders en ’n man wat dink ’n uitstappie mall toe om onderbroeke en sokkies vir hom te gaan koop, is kwaliteit-Andrea-tyd nie.”

“Tequila is ’n Meksikaanse drankie. Op ’n Franse strand wil jy dalk eerder ’n glasie sjampanje drink.” Simoné vat nog ’n sluk wyn.

Andrea gee haar ’n vuil kyk voor sy ook ’n sluk wyn vat en suurderig strandaf tuur.

Simoné is nie seker of dit oor haar flou grappie of die wyn is nie.

“Maggie, hoe is jou man oorlede?” Hoekom sy dit nou vra, sal sy nie weet nie, miskien omdat dit ongeskik is om niks te sê nadat die vrou so ’n bom tussen hulle laat val het nie. Of dalk oor haar opvoeding.

Dis so lank stil dat sy besluit Maggie wil nie oor haar man praat nie, maar voor sy ’n sug van verligting kan slaak, tel Maggie die bottel op en vat ’n sluk. Nie weer ’n teugie nie. ’n Behoorlike sluk. Hierdie keer sit sy nie die bottel dadelik neer nie, sy hou dit op haar knieë en kry dit steeds reg om ordentlik te lyk.

“Hy het ’n hartaanval by die werk gehad.”

“Het hy cholesterol of bloeddrukprobleme gehad?” Sy voel simpel om dit te vra, die man se mediese geskiedenis het niks met haar te make nie. Haar mediese agtergrond is so deel van haar, sy is lus en vlug iewers heen.

“Hy was een-en-vyftig, tien jaar ouer as ek. Te jonk. Ek dink daar was besonder baie druk op hom.” Dit lyk of Maggie nog iets wil sê, maar daarteen besluit. Sy vat eerder nog ’n sluk wyn. Ineens sien Simoné die patetiese trek in die skraal skouers. Dis asof die gewig op Maggie se skouers so swaar is dat dit haar fisiek afrem.

“Het jy kinders, Maggie?” Andrea lyk die eerste keer geïnteresseerd.

“Twee dogters. Annemarie is agtien en Bianca vyftien. Hulle kuier die naweek by my ouers in Somerset-Wes.”

Simoné draai die bottel wyn om en om in haar hand. ’n Bejaarde man en vrou kom vingers ineengevleg verbygestap. Die man kyk na hulle terwyl die vrou hom por om vinniger te stap. Drie desperate vroue op die strand, elk met ’n bottel wyn in die hand, is sekerlik nie ’n familievriendelike gesig nie.

Hulle staar die twee ouer mense agterna. Haar ouers stap nie hand aan hand nie, of altans, sy het hulle nog nooit hand aan hand gesien nie. Aan die een kant is dit vertroostend om te weet daar is tog mense wat dié tipe liefde gevind het. Liefde wat mense in hulle grys jare nog hand aan hand op die strand laat loop. Aan die ander kant is dit ’n helse neerdrukkende gedagte, want dis nie wat die meeste mense kry nie. As sy die situasie reg lees, het die twee weerskante van haar dit beslis nie gekry nie. ’n Jaar of twee gelede het sy aan Zane gedink wanneer sy aan vir altyd gedink het, maar dis duidelik sy het die liefdespot ook misgesit. In die begin toe sy Zane ontmoet het, het sy aan sy lippe gehang, kon sy nie ophou om vir hom te kyk nie. Toe het hy alles verteenwoordig wat sy nie geken het of veroorloof was nie. En sy was mal daaroor. Hy was ’n ongeslypte diamant en sy wou hom hê. Wat is die fun aan ’n spul klein blink klippies as jy die ware Jakob kan kry, al is hy dan nou in ’n onverwerkte vorm. Mettertyd het die gevoel getaan, maar sy was steeds gelukkig. Sy was altyd gelukkig, tot twee maande gelede toe sy onraad begin vermoed het.

“Ek het drie.” Simoné kyk verbaas na Andrea wat skielik geselserig klink. “Veertien, twaalf en tien. Almal in hulle storm-en-drang-jare. Ek weet nie hoe hou jy dit met twee dogters nie, een is genoeg om my klaar te maak.”

Maggie haal haar skouers op. “Daar was moeilike maar nooit moedelose tye nie. Ons het mekaar nog altyd met respek behandel.” Haar stem raak dun en sy bly stil. Toe sy weer praat, is die klanke oor haar lippe bitter. “Ek het alles van my vir hierdie huwelik en lewe gegee. Elke dag met ’n glimlag.” Sy bly ’n oomblik stil. “En nou dit. Ek het versorg, getroos, gevoed, geklee, ondersteun. Ek het nooit gekla nie. Dit was my plig en ek was altyd trots daarop.” Dit lyk asof Maggie die bottel van haar af wil wegslinger.

“Mm … Jy is een van daai Stepford Wives wat my nog altyd die ritteltits gegee het.” Andrea se stem dra geen simpatie nie. “Ek kon nog nooit my rol met soveel dankbaarheid en onderdanigheid vervul nie.”

Maggie lyk nie geaffronteerd nie, net oneindig hartseer. “Dis nie maklik om te ontdek jy het ’n leuen geleef nie.”

Toe Simoné opkyk, kyk sy vas in Maggie se blougrys oë. Naakte seer lê in fyn spore oor haar gesig en haar mond is in ’n weerlose lyn vertrek. Dit is waar dat mens se oë ’n spieël na jou hart is, sy ken Maggie nie, maar sy wil saam met die vrou huil. Sy steek haar hand uit en gee Maggie se skouer ’n sagte drukkie.

“Ek is jammer.” Sy weet waaragtig nie waarvoor nie, maar sy weet hierdie donkerkop verdien haar simpatie.

“Wat sal jy doen as jy ná jou man se dood toevallig ontdek daar was ’n Karen Loock in sy lewe wat e-posse gestuur en ontmoetings met hom gereël het waarvan jy niks geweet het nie?”

Sy en Andrea kyk na mekaar. Hier kom ’n blik wurms.

“Kan platonies wees.” Simoné se poging tot nugterheid klink vir haarself naïef.

“Sit jy kruisies agter jou naam by boodskappe vir ’n man wat jy nie intiem ken of wil ken nie?” Emosie flikker deur die holheid van Maggie se stem. “Glip jou man van die huis af weg om ’n platoniese vriendin te ontmoet sonder om jou daarvan te vertel?”

Die stilte rek ongemaklik. Branders breek en die see druis, maar dit kan nie die olifant wat nou tussen hulle kom sit het, wegspoel nie. Daarvoor is sy agterstewe te breed en hy te swaar gelaai met bagasie.

“Ek het my kêrel van twee jaar pas kaal op die strand in iemand anders se arms betrap. Sommerso, onder ’n bos in die sand. Dit nadat ek ontdek het hy besteel ons winkel rot en kaal.” Sy wou dit nie deel nie, nie nou nie, maar dis een van daardie simpel dinge wat mense doen; wys my joune dan wys ek jou myne.

“My man het my vandag aan die keel gegryp omdat sy dag nie volgens plan verloop het nie en ek hom nie die aandag wou gee wat hy gedink het hom toekom nie.”

Simoné se kop ruk na Andrea. Maggie kyk, soos sy, na Andrea se keel. Toe bepaal hulle albei vinnig hulle aandag by die wynbottels.

“Is jy oukei?” waag Simoné om te vra en sy kan nie help om weer na Andrea se keel te kyk nie. Behalwe bedonnerd, lyk Andrea darem oukei.

Andrea knik.

“Andrea –” Maggie se stem is besorg, maar sy kry nie kans om verder te praat nie.

Andrea val haar in die rede. “Fisiek makeer ek niks nie. Julle lyk verniet so ontsteld. Los dit.”

“Wat ’n moerse boggherop.” Simoné vat ’n groot sluk wyn om oogkontak te vermy. Dié bottel gaan te min wees vanaand.

“Dit kan jy weer sê.” Andrea glimlag skeef, maar dit bereik nie haar oë nie.

Simoné laat sak die bottel en waag dit om Andrea in die oë te kyk. “Ek is jammer, Andrea. Jy het kinders by die huis wat seker nou raadop van bekommernis is en ek bring jou al die pad hierheen.” Sy steek nie haar hand na Andrea toe uit soos sy met Maggie gedoen het nie. Sy is nie heeltemal seker hoe mens Andrea aanraak nie.

Andrea haal haar skouers op. “Ek het ’n selfoon. As hulle bekommerd is, kan hulle bel.”

Nie sy óf Maggie sê iets nie. Sy druk haar tone dieper onder die sand in, draai haar kop effens na Maggie om Andrea se blik te vermy.

“Het iemand al gebel?” Maggie vra wat sy te bang was om te vra.

“Nee.” Andrea se stem dra geen selfbejammering nie en vir ’n oomblik is daar iets aan die rooikop wat sy bewonder sonder dat sy haar vinger daarop kan lê.

Sy moes reguit na haar ouma se huis toe gery en haar onder die blommetjiesduvet gaan opkrul het terwyl haar ouma rooibostee en beskuit aandra. Ten minste sou sy haar gebroke hart en gekrenkte ego kon vertroetel het. Sou sy kon slaap en vergeet van haar seer. Nou sit sy tussen twee vroue met harte seerder as hare en sy het nie die vaagste benul wat om vir hulle te sê nie. Hoe skink jy van jou beker in iemand anders s’n as joune byna leeg is?

Hoë hakke met hoogwater

Подняться наверх