Читать книгу Die daggaboer - Jean-Pierre de Kock - Страница 5
1
ОглавлениеLennet sien hulle deur die turksvyblare aankom.
Drie maande terug moes hy nog tot heel bo teen die koppie klim om die padmakers aan te gluur, die stofwolke wat die stootskrapers en ander swaar masjinerie opskop. Maar nou, skaars halfpad op, sien hy reeds die neongeel spikkels van die werkers se konstruksie-onderbaadjies. Hoe hulle daar krioel tussen die hope gruis en toerusting. Hul arbeid skof agter hulle aan, ’n teerslang wat uitgestrek oor die heuweltoppe lê.
Hy kyk terug na die werf toe hy stemme en ’n gelag hoor. ’n Kardeur gaan oop.
Uiteindelik op pad! Die studente. Hy dog die donners kry nooit hulle ry nie.
Hy neem die stofpaadjie tussen die turksvye uit en spring op ’n rots wat seker toentertyd van bo afgerol het. Kyk hoe tasse en ’n koelboks in die wit Toyota Yaris se kattebak gelaai word. Dis lag en gesels en koggel en stoot, maar uiteindelik kry die gesloer om die kar end en met almal in word die deure toegeklap.
Met die wegtrek hoor hy weer die gedoef-doef wat hom tot vroegoggend wakker gehou het. Dit terwyl sy inligtingspamflet duidelik sê geen harde musiek ná tien nie. Maar mense steur hulle mos nie aan reëls nie.
Die Yaris vorder skaars vyftig meter in die tweespoorpaadjie af toe daar ’n kreet uit die huis kom. ’n Vent strompel rugsak oor die skouer uit, kaal bolyf en sonder skoene. Die kar kruip stadiger, maar stop nie. Die laatkomeling moet darem eers ’n entjie agternadraf.
Oplaas word stilgehou en ’n deur oopgemaak vir die hygende agteros. Dit kraai van spot en aanmoediging toe hy induik, die luidsprekers se dreuning wat ontsnap deur die oop deur.
Die motor volg die kronkelpaadjie tot by die grootpad en draai regs, Kaap se kant toe. Lennet krap deur die dun kaftan na ’n jeuk langs sy skaam, luister hoe die basslae al verder uitmekaar by hom aanland.
Dis my eie skuld, dink hy toe hy van die rots af skuur-gly. Dis wat gebeur as jou tariewe te billik is: jy kry studente. Daar was vyf van hulle – drie ouens, twee meisies – wat tot drieuur vanoggend gekuier en rumoer het. Wie weet hoeveel van sy rooipitjie is uitgebrand met die braaivuur wat gisteroggend al elfuur opgesteek is.
Die ergste was die bleddie geraas. Hy vat die voetpaadjie tussen die patrysbosse deur, wikkel sy vinger vies in sy oor. Dis asof die kloppende basklanke nog steeds oor die werf hang. Hoe raak mens gewoond aan sulke musiek?
Of is hy nou té krities? Hy was tog ook vroeër ’n student. Skaars – hy werk op sy vingers uit – veertien jaar terug. Het hy nie ook gewillig saam gehop onder die flikkerende ligte nie?
Hy stop in sy spore toe hy tussen die bosse deur die steenbokooi sien. Oortjies regop en attent in perfekte simmetrie, behalwe vir die skeurtjie in die regteroor. Sy kyk hom verskrik aan waar sy langs ’n Mimetes cucullatus met helderrooi bloeihofies staan, skaars vier karlengtes weg. Van onder digte wimpers loer sy na hom uit haar skuilplek, nie seker of hy haar raakgesien het nie.
Hy sak stadig tot op sy hurke om minder intimiderend te lyk, maar dan spring sy flink weg en verdwyn binne oomblikke in die plaat Leucadendron gandogeri agter die kweektonnel.
Die kweektonnel. Hy hoop net die studente was nie daar in nie – die pamflet sê duidelik toegang is verbode vir gaste. Nie dat hulle hulle daaraan sal steur nie.
Hy stap verder, oordink vir die soveelste maal sy dilemma. Stoot jy die prys per nag op, kry jy weer ander probleme. Dan bel tannies en vra in Europees-geaksentueerde Engels: “Hoeveel sterre?”
“Oneindig baie,” antwoord hy dan grappig. “Meer as wat julle ooit in die stad sal sien.”
Daar word selde vir dié kwinkslag gelag.
Hy hét al die toerismegraderingsraad se lys vereistes bestudeer. Televisie en kanale met onderskrifte? Air-con met afstandbeheer? Dis tog nie waarvoor mense op Tierdrif kom bly nie!
Die idee is juis dat hulle hier kan wegkom van die stad – nie om die stad in die kleine op die platteland te kom ervaar nie. Hulle kom tog vir die stilte, die natuur, die afgooi van die stadsjuk met sy geraas en besoedeling, ontvlugting van die gejaag en tyd wat net nooit genoeg is nie.
En dis in elk geval nie asof hy probeer om die One&Only te wees nie.
Die punte wat jou verblyf verdien as die toiletpapier dubbellaag is, was die nekslag vir sy selfsorgeenheid se ster-aansoek. Hy sukkel klaar met die klipriool. Vrouens sien blykbaar nie die notas teen die badkamermure wat hulle vriendelik vermaan om nie sanitêre doekies in die toilet af te spoel nie. Dit staan boonop in die inligtingspamflet ook, maar hy sit telkens agterna met ’n pap gemors.
Dink net hoeveel erger die probleem gaan wees as hy nog moet two-ply ook. Ga.
Die bries bring die soet-sout reuk van see oor die herfsveld. Wanneer laas was hy by die see? Hy moet die koppie heel uit om bietjie van die kus te kan sien.
Sy ergste vermoedens word bevestig toe hy die gastehuis nader. Bykans al die stompies wat hy Vrydag met die kruiwa uit die bloekomlaning aangery het, is weg. Hy het nie getel nie, maar dit was beslis ’n paar honderd. Van dié is skaars twaalf stukkies oor, seker misgekyk in die donker.
Hoeveel beeste het hulle dan gebraai?
Op die stoep staan wyn- en koeldrankglase dof en leeg in ’n klein bende bymekaar op die tafel, met ’n paar verstotelinge hier en daar op die lae stoepmuurtjie, en nog een eenkant op ’n wit plastiekstoel. ’n Tjipssak, leeg en aan flarde, dwaal saam met die luggie oor die klipteëls. Die perlemoenasbak is so vol sigaretstompies dat dit oorloop op die tafel. Die rooster het ’n kol vet op die vloer gedrup waar dit regop langs die braaiplek staan.
Die stoepdeur is nie eers heeltemal toegeskuif nie. Toe hy dit verder laat oopgly, sien hy hoe die meubels oral op aardige plekke staan.
In die kombuis staan die skottelgoed vuil en aangepak om die wasbak. Op die eetkamertafel is borde met skoongeëte skaaptjopsbene en ’n braaibroodjie waaruit net een hap gevat is. En in die braaibak ’n kort hoepel boerewors, verhard in ’n laag vet. Die goudgroen brommer wat opgevlieg het toe hy naderkom, is klaarblyklik so dik gevreet dat hy net twee lam rondtes oor die tafel kan maak voor hy weer in sy marinadeplassie op die imbuiablad neerstryk.
Lennet voel leeg, te getap om die res van die huis te inspekteer.
Hy skuif die deur agter hom toe, draai om en stap weg. Eintlik wil hy terugdraai, die deur weer oopmaak en dit dan toebliksem.
Want dís nie waarvoor hy na Tierdrif gekom het nie.
Dís nie hoe dit veronderstel was om te wees nie.
In die bloekombos tel hy ’n klip op en slinger dit so hard as wat hy kan na ’n boom. Dit donk hard teen die regop stam, maar wip ongedeerd terug. Hy skop in die verbygaan daarna met sy Rocky-sandaal.
Hy kan nie gló hoe kwaad hy is nie. En dat hy homself toelaat om so ontsteld te raak, onthuts hom net verder.
Maar nee, nevermaaind dit, hy kan nie glo hoe morsig mense kan wees nie. Is dit regtig te veel om van gaste te verwag om darem net hulle vuil borde en glase bymekaar te sit? Darem net die meubels reg te skuif en die vullis en leë drankbottels op te tel?
Hy kan hom net indink hoe lyk die badkamers. Om nie van die slaapkamers te praat nie! Verbeel jou wat daai varke als in sy skoon beddens aangevang het. Tien teen een net so met vuil grondvoete geseks tussen sy wit linne. Dalk moet hy eenvoudig die beddegoed aftrek en weggooi.
Sêra het hom gewaarsku oor die wit. “Djy’s mal, hoor! Vir wat sit mens sulke light linen op ’n bed? Djy gaan was dat djy hop.”
Maar hy wou nie hoor nie. ’n Mens wil mos hê die plek moet netjies lyk. Wit laat niemand wonder of dit skoon is nie.
En nou? Pleks hy vir haar geluister het.
Anderkant die bloekoms bereik hy sy klein pondok, die ou Sprinter-karavaan waarby hy houtmure en ’n dak aangebou het vir ’n ekstra vertrek. Elke spyker self ingeslaan, van die sinkplate tot die houtvloer. Nou nie ’n paleis nie, maar oorgenoeg vir hom.
Toe hy in die deur gaan staan en sy blik oor die binneruim laat vee, voel dit of hy weer kan asemhaal. Die orde van alles, elke ding op sy regte plek, laat sy dwarrelende gedagtes bedaar. Die yskas wat met krag vanaf die sonpanele links in die kombuis tjirr, die bietjie skottelgoed netjies gewas in die droograk, die formica-kombuistafel wat steeds blink van vanoggend se afvee.
In die sitgedeelte regs lê niks rond om of op die rusbank nie. Die maroen strepe van die mat, die koffietafel en die boek oor stadstuine wat bo-op die hopie tydskrifte lê, is alles haaks. Die boeke en CD’s in die klein regop boekrak netjies en alfabeties gerangskik, soos dit altyd is.
Verligting. Dís hoe mens leef. Nie soos daardie barbare nie.
Hy tel sy selfoon op wat langs die deur bo-op die radio laai, rol met die kontaklys af. Sy duim vee oor Sêra.
Dit lui nie lank nie. “Ja?” antwoord sy.
“Hallo, Sêra?”
“Ja.”
“Kan jy my hoor?” Op die agtergrond is die gehum van ’n masjien.
“Ja, man. Is dit Lennet?”
Hy sug binnetoe. Nie eers die moeite gedoen om te kyk wie se naam op die skerm staan nie.
“Ja. Sêra, jy moet kom. Dis ’n gemors hier. Vyf studente het die hele plek opgedonner. En ek kry mense vanaand … belangrike mense. Sal jy kan kom?”
“Ek sallie kannie.”
“Wat? Hoekom nie? Moet ek jou kom haal?”
“Nee. Ek sallie kan kom helpie.”
“Maar ek het jou nodig! Asseblief, man. Ek sal jou self kom haal. Moet ek jou by Abraham kry?”
“Die vis loop, ek kannie kommie. Ekkit mos laas ge-explain.”
Sy het, ja. As die visfabriek op jou kan vertrou as hulle op kort kennisgewing bel, is hulle later meer geneig om vir jou ’n permanente kontrak te gee.
“En djy pay anyways tight.”
“Ek sal meer betaal, ons kan praat. Asseblief, Sêra, net vandag.”
“Sorrie, nie vedaggie.” Die foon gaan dood.
Fok.
Dis nou al wat hy nodig het. En juis op die dag wat hy dit die minste kan bekostig.
Hy wil haar terugbel, besluit dan daarteen. Dis nie asof hy haar oorreed gaan kry nie.
Hy sit die foon terug op sy plek en stap deur die woonarea, bestyg die twee trappies na die karavaan. Val neer op die opgemaakte bed. Dis halfelf, maar die dag voel reeds lank. En nie net omdat hy al van kwart oor vyf op is nie.
Sy selfoon lui. Seker Sêra wat nou iewers ’n vriendin se dogter of buurvrou se iemand anders uitgekrap het wat kan kom. Haar gat. Sy sal ook net opdaag as die visfabriek staan. Dán kan sy vriendelik en ontfermend wees. Maar laat ’n trôler net by die hawe in.
Hy maak sy gesig in sy kussing toe en skree. Hard en lank tot sy longe leeg is. Voel rustiger toe hy sy asem stadig deur die materiaal intrek.
“The mind is its own place, and in itself can make a heaven of hell, a hell of heaven,” herhaal hy oor en oor. Probeer onthou waar hy die aanhaling gehoor het.
Enigiets om net vir ’n oomblik te vergeet dat die gastehuis voor vanaand sal moet skoon.