Читать книгу Die daggaboer - Jean-Pierre de Kock - Страница 7

3

Оглавление

Lennet verdiep hom in die foto voorop die CD-kassie: Carlos Kleiber, dirigeerstokkie tussen twee vingers, arms voor hom uitgestrek. ’n Oomblik van vervoering, absolute konsentrasie en beheer oor die Weense Filharmonie voor hom.

Sy selfoon vibreer op die koffietafel. Hy druk dit vinnig dood sonder om te kyk wie bel, maak seker dis af voor hy dit eenkant op die bank gooi. Hy wil nie nou gepla wees nie.

Hy voel ongemaklik in sy eie huis. Alles om hom voel geskend, ontheilig deur Everest se reuk wat steeds in die lug hang. Ontbloot agter die vensters sonder gordyne. Nie dat daar al ooit nut vir ’n toetreksel was nie, sy plekkie is ver van die pad af. En dis selde dat iemand die hele pad tot hier agter ry.

Maar steeds bly steek die gevoel dat ’n paar oë hom van iewers af dophou. Oë wat wonder wat hier binne aangaan. Wat hom met ’n belangstellende grynslag beloer.

“Kom nou,” sê hy hard en skud sy kop.

Soms praat hy so met homself. Dit kom van kindsdag af. Sy pa het altyd gesê dis net ’n mal mens wat só gereeld en só hard monoloë met homself voer. Sy ma het gesê dis ’n gewoonte van intellektuele. Sy pa was moontlik nader aan die waarheid.

Hy twyfel oor die CD in sy hand. Dis iets wat selde gebeur. Gewoonlik weet hy wat hy gaan luister nog voor hy by die rak kom staan. Nou kan hy net nie besluit nie. Wat hom nog meer onrustig maak.

’n Mens moet baie van die “beskawing” se alledaagshede opgee as jy leef soos hy. Dinge wat hy die meeste van die tyd glad nie mis nie. Dis nie asof hy soggens opstaan en verlang na televisie, sosiale media, koerante, nuuswebwerwe of ’n vinnige internetkonneksie nie. Dis eintlik merkwaardig hoe maklik jy jou behoeftes aanpas as jy eers die besluit geneem het.

Maar daar is wel dinge wat hy soms nog mis, hier waar hy verwyder van die samelewing sit. Dinge soos ’n lang bad, of ’n fliek. Of die gemak van gou winkel toe gaan as iets op is. En natuurlik restourantkos.

Noudat hy daaraan dink, sal hy ’n toon gee vir ’n bakkie Phad Thai of gebraaide salm. Of ’n romerige cajun-sous oor calamari-ringe, sag genoeg om in jou mond te smelt.

Hmmm.

Maar ja, selfs uiteet is weglaatbaar as dit moet.

Dis ook nie asof hy baie opsies het nie. Hier is nie geld wat rondlê vir elke week Hermanus toe piekel vir ’n bord kos nie. Behalwe op sy verjaardag, dan gaan eet hy gewoonlik uit. Sommer so op sy eie, en niks spandabelrigs nie. Hy sal net iets bestel wat hy nie self kan voorberei nie. En natuurlik net as daar pitte is. Laas jaar was hy noodgedwonge by die huis met ’n pot ertjiesop vir sy geboortedagviering.

Die een luuksheid, nee, noodsaaklikheid van sy ou lewe wat hy nooit sal kan opgee nie, is musiek. Nou nie daardie koor-en-drie-versies wat vier minute lank is en hom net irriteer nie. Have a heart.

Nee, gee hom Chopin, Pärt, Rachmaninoff, Tsjaikowski en Strawinski. Maar veral Dvořák. Bowenal Dvořák.

Hy het nooit besef hoe klanktam hy was tot hy op Tierdrif kom bly het nie. Hier waar jou ore nie heeldag en aldag belas word met wat jy nié wil hoor nie. Ver weg van advertensieklingels, agtergronddeuntjies wat in openbare plekke op jou neerreën, televisies en radio’s se geblêr, en die buurman se seun wat weer sy dromstel bliksem. Sonder dat hy dit besef het, het hy die vermoë verloor om musiek te beleef. Só vermoei deur die konstante stroom geluidsnippers dat hy naderhand nie meer kon stilsit vir ’n hele beweging sonder om rusteloos te raak nie. Sonder dat sy gedagtes begin dwaal van die onmiddellike nie.

Maar stilte kweek waardering vir klank – dís wanneer die betekenis agter die musieknote na vore kom. En hier is geen tekort aan stilte nie.

Hy sit die Kleiber terug op sy plek in die rak. Hy luister Beethoven net as hy ontsteld of kwaad is. Nie dat dit verskriklik baie gebeur nie – as jy so ver weg van mense bly, is daar min mense om jou af te pis. Maar daar is af en toe ’n dag dat hy so kwaad raak dat hy net wil begin hardloop tot sy knieë onder hom ingee. Vandag het nou ontaard in so ’n swartgallige dag.

Hy voel egter te kwesbaar vir Beethoven.

The pain and sickness all over me like an animal. Then I realised what it was. The music coming up from the floor was our old friend, Ludwig Van, and the dreaded Ninth Symphony.

Lennet hou nie van geweld nie. Dalk het A Clockwork Orange met sy ultra-geweld sy Beethoven-ervaring vir ewig geknak.

Die keuse kom vanself. Hy mik vir die bekende ligblou boksie, die rande al wit omgekrul van jare se vat. Hy glip die skyf in die speler en gaan sit op die rusbank, druk die knoppie op die afstandbeheer. Dan lê hy terug en luister hoe die laserstraal na die gekose posisie skuif: “Adagio – allegro molto” van Dvořák se Negende, “Die Nuwe Wêreld”-simfonie.

Amper uitgerek, asof die dirigent en orkes sukkel om op dreef te kom. Als so niksvermoedend.

Die ding met Dvořák is die eerlikheid van sy musiek, meer as dié van Beethoven of Brahms. Minder gesofistikeerd. Opreg. Nie bombasties nie. ’n Kinderlike vreugde.

Twee note, unisoon, vir twee eensame horings.

Houtblasers, skaam.

Sy ma het ’n musiekskool by die huis gehad. Wel, minder musiekskool, meer klavierlesse in die sitkamer. En groepskitaarlesse op Vrydagmiddae. Dié het sy gehaat, maar die geld was glo goed.

Hy laat sak sy kop agteroor, een sandaal op die vloer, sy ander been uitgestrek oor die armleuning. Versluier sy oë met sy voorarm.

Dan die slag! Die donderende hou wat neerkom.

En weer. En weer.

En weer. En weer.

Hy was elf of twaalf toe hy Dvořák ontdek het. Sy ma het elke Donderdagaand ’n musiekwaarderingsklas gehou. Teenwoordig was meestal afgetrede ooms en tannies met te veel geld en tyd. Alom die maand ’n ander komponis, maar as dit ’n groot naam was, is daar soms sommer ’n kwartaal uitgesit. Almal met ’n glasie wyn in die hand en ’n bordjie met kaas en peuselhappies, of tertjies wat een van die “leerlinge” gebring het.

Op sulke aande is hy en sy broer, Konrad, verbied om in die onderste deel van die huis te kom, beperk tot hul kamers of die televisiekamer bo. Dan sluip hy saggies en stadig af met die trappe. Hy moet versigtig wees, die hout kraak graag. En in die studeerkamer aan die onderpunt van die trap hoor sy pa gou as iemand verbykom.

Lennet se wegkruipplek is onder die imbuiatafel in die sitkamer. Die roomkleurige tafeldoek hang laag genoeg om ongesiens daaronder te skuil. Van daar af kan hy net die mense se skoene sien. Hy krul teen die muur op en luister saam sonder dat enigiemand vermoed hy is daar.

In galop die horings op die hooftema: die aanvang van die gemoedelike vraag-en-antwoord tussen die orkes se seksies.

“… en Dvořák wou aanvanklik nie na Amerika gaan nie,” klink sy ma se stem op. “Maar mevrou Thurber het aangehou. Hy is oplaas oorreed met ’n goeie salaris en vier maande vakansie in die jaar. Ek sou moontlik ook ja gesê het vir vier maande se betaalde verlof.” Daar word onderlangs gegrinnik. “In September 1892 vertrek Dvořák vanaf Skotland na New York vir ’n tweejaarkontrak.”

Sy ma was so lief vir dié musiek. Kon heeltemal weggevoer raak as sy net verby die radio stap en ’n mooi tema of solo hoor. Haar oë sou toegaan, die hande wat losweg saam dirigeer. Verkwikking.

Dis seker iets wat hy van haar geërf het.

“Amerika was in daardie tyd op soek na ’n eiesoortige musiekstyl,” gaan sy ma voort. “Dvořák het bygedra tot die debat deur te sê dat die toekoms van die kontinent se musiek opgesluit lê in die sogenaamde Neger-melodieë. Kundiges beweer dat sekere temas in hierdie simfonie afkomstig is van slawemusiek of dié van Amerikaanse inboorlinge. Die komponis self het egter bevestig dat hy sy eie, oorspronklike temas bloot ingekleur het met die ‘besondersheid van Indiaanse musiek’.”

Lennet kan nie alles onthou wat hy gedink het toe hy die simfonie hoor nie. Maar hy kan presies onthou wat hy gevoel het. Met die tweede beweging het hy besef hy wieg saam. Die musiek het direk gevoel, aanvaardend. Iets persoonliks wat hy nie kon verwoord nie. Dvořák het hom daar tussen die bal-en-klou-tafelpote kom haal en hy wou nóg hê.

Die tweede tema, mineur en met ’n klein melodiese omvang, het iets Indiaans daaromtrent.

“Die bynaam waarmee Dvořák se Negende Simfonie universeel geassosieer word, is ‘Die Nuwe Wêreld’-simfonie. Dit het egter ook bygedra tot die verwarring oor die oorsprong van die werk. Na bewering het die komponis Z Nového svˇeta (Van die Nuwe Wêreld) op die titelblad aangebring net voor die musiek weggeneem is om gekopieer te word. Sy sekretaris het later gesê dit was bedoel as ‘Indrukke en groete vanaf die Nuwe Wêreld’. Dvořák het dit glo grappenderwys bygelas en verklaar: ‘By die huis sal hulle verstaan wat ek bedoel.’”

Met die aankondiging van die derde beweging het Lennet sy pa hoor skuifel agter die toe studeerkamerdeur. Inderhaas, maar versigtig om nie sy teenwoordigheid te verklap nie, het hy net betyds teruggekruip na sy kamer. Maar later die aand, met die ligte af en die huis stil, het Dvořák hom bygebly. Al kon hy nie ’n enkele noot onthou nie.

Hy het die simfonie se bewegings oor en oor geluister. Met oorfone, aangesien sy pa en Konrad begin kla het omdat hy knaend dieselfde “liedjie” speel. Sy ma het hulle natuurlik vermaan oor hulle só na ’n klassieke werk verwys, maar het toegegee dat Lennet liewer die te groot Pioneers moes opsit. So gereeld het hy daarna geluister dat hy later sonder CD die musiek kon herroep.

Noudat hy daaraan terugdink, het sy ma seker vermoed dat hy op Donderdagaande in die sitkamer was. Die toeval is darem net te groot as jy een aand die “New World” vir mense speel, en net die volgende middag kom vra jou seun of jy al van die “World”-komponis gehoor het. Maar sy het niks gesê nie. Sy wou altyd hê een van haar kinders moes verder gaan met musiek.

Die fluit kondig die “Swing low, sweet chariot”-tema vir die eerste keer aan – wye, oop Amerikaanse vlaktes. Die strykers boots die fluittema na.

Lennet, wat darem later sy Graad 6-klaviereksamen deur Unisa geslaag het, het die verste van die twee broers gevorder. Maar sy passie vir musiek lê nie in die speel van ’n instrument nie, eerder in die luister en ervaar daarvan.

Hy tel die afstandbeheer op en skakel die speler af. Genoeg vir nou. Hy wil nie toelaat dat die euforie ontknoop, dat daar ’n afsluiting moet wees nie. Nie nou terwyl hy die musiek in hom voel bruis nie.

Hy hou sy oë toe. Buite is die bekende gesuis van die wind, liggies uit die suide. Die roep van ’n piet-my-vrou. Kapot die hoenderhen skrop voor die deur.

Sy oë gaan stadig oop. Hy laat die lig en beelde van die omgewing versigtig terug. Een asemteug, diep: soet fynbos.

Hy staan op. Onder die wasbak haal hy die 1,5 liter-Valpré-bottel uit waarin hy sy selfgemaakte, veelsydige skoonmaakmiddel hou. Kry agter die deur die mop en bak, en ’n afveelap.

Hy is skaars buite of hy draai terug kombuis toe. Hy is laf as hy dink een lappie gaan die jop gedoen kry.

Met twee ekstra vadoeke oor die skouer stap hy af na die gastehuis terwyl hy opnuut die strykers deur die aanvangsmate van Dvořák Nege dirigeer.

Die daggaboer

Подняться наверх