Читать книгу Die daggaboer - Jean-Pierre de Kock - Страница 6
2
Оглавление“Klop-klop-klop!”
Hy dog eers hy verbeel hom – bloot ’n klankinsetsel in sy sluimering wat sy onderbewuste vir hom uitgedink het.
Maar die stem kom nader. Só naby dat hy die sigaretasem kan ruik.
“Jy lê dam laat, nuh?”
Lennet ruk om van waar hy op sy maag aan die slaap geraak het. ’n Breë glimlag met goud wat aan die vier boonste voortande blink, begroet hom.
Hy skiet regop. “Wat de moer soek jy hier?”
“Chill, my broe. Dis mossie hoe jy ’n business associate groetie.” Everest buk eerbiedig en hou sy regtervuis in ’n rastagroet uit.
“Kom uit my fokken huis uit!” Lennet klap die vuis weg. “En jy’s g’n rasta nie, man.”
Everest trek terug, die goud verdwyn agter toe lippe. “Iemanit mettie vekêre voet uittie kooi geklim. Maa is orraait. Sallittie nog kop toe vattie. Sê jou wat, ek blom solankies binne, kom jy uit wanne jy ready is. Miskienit jy tien dai tyd jou maniere truggekry.”
Hy verdwyn met die karavaan se trappies af.
Lennet hoor hoe die rusbank se vere onder sy effense gewig meegee toe hy gaan sit. Hoe de hel het Everest hom opgespoor?
Die bank kraak toe Everest oorleun om die radio aan te sit. Witruis klink oor die luidsprekers terwyl hy vir ’n stasie soek. KFM. Nee. Radio 2000. Nee. RSG. Nee. Dan weer terug na KFM. ’n Vrouestem sanik oor lost emotions.
Lennet kyk vervaard rond vir iets om homself mee te verdedig. Vir ingeval dit nodig sou wees. Hy trek die laai langs sy bed saggies oop. Die kort snoeiskêr met die fyn lemme bied nie veel nie. Maar soos hy haastig deur die res van die inhoud vroetel, besef hy dis die naaste wat hy nou aan ’n handwapen gaan kom.
Wat van die messe in die kombuislaai? Demmit! Hopelik het Everest homself nie daaraan gehelp nie.
Lennet skud sy kop. Raak hy nou te paranoïes? Hy probeer luister vir beweging in die sitkamer. Maar al wat hy hoor, is musiek en die geluide van Everest wat ’n boodskap op sy selfoon tik.
Lennet swaai sy bene van die bed af, weeg die skêr in sy hand. Dit voel te lig, en die dun lemme wat skerp punt, is skaars ’n duimlengte lank. Maar wat kan hy doen? Hy moet iets hê om mee terug te veg.
Desnoods is daar darem nog sy vuiste ook. Nie dat hy sy kanse hoog ag as hulle handgemeen sou raak nie. Everest is nie juis wat jy ’n swaargewig-teenstander sal noem nie, maar as dinge op ’n bakleiery moet uitloop, is hy amper seker dat Everest met sy straatslim maniere die oorhand sal hê.
Wat soek die man hier? Everest weet goed hoe belangrik sy privaatheid vir hom is. En dat hy nié hier welkom is nie, watter goeie business associates hulle ook al mag wees.
Lennet sit toe-oë, sy pols tik ritmies teen sy voorkop. Dink, dink, dink. Hy moet die situasie reg hanteer. Hierdie kan alles opneuk, alles waarvoor hy gewerk het. En daar’s nie enige kans vir weghol en oor begin nie.
Sy kaftan het nie sakke nie en hy het nie onderklere aan nie, daarom steek hy die skêr by sy regterheup in die lapgordel in. Hopelik sal die band dit daar hou. Hy maan sy skouers om te ontspan en dwing ’n stadige teug lug by sy longe in. Gevolg deur ’n lang uitasem om sy hartklop te laat bedaar.
In die sitkamer sit Everest gemaklik agteroor, arms wyd en oop op die rugleuning van die bank. Sy deodorant en die reuk van Camel Lights hang soos mis in die vertrek. Hy is netjies aangetrek in stywe swart jeans en ’n kersierooi blokkieshemp met wit letters op die sak: Born to love. Hare kaal geskeer langs die kante, ’n swart eiland bo-op. Bene oop en enkels gekruis, die regterkantse blinkbruin skoen wip rustig op en af.
Lennet gaan sit op die karavaan se trappie. Beter om afstand tussen hulle te hou. Dit gee hom minstens ’n paar oomblikke om te reageer as iets sou skeefloop. Hy hou die skêr verskuil agter sy voorarm, daar waar Everest se skrander groenbruin oë dit nie sal opmerk nie.
“Wat maak jy hier?” Sy stem is minder beheers as waarvoor hy gehoop het. Die skril heesheid verklap die spanning in sy bors.
Everest kyk hom verbaas aan. “Wat mean jy? Ek kom hoo hoeganit. Wan ek lê op die lyne maar daars niks responsie. Lyk al djy’s skaam vi ’n man.”
“Ek het gesê dis nog nie reg nie! Dit droog nog nie eers nie. En dat ek jóú sal bel. Hoe het jy my in elk geval opgespoor?”
“Relax, ou. Moenie obsternaat raakie. Daasie foutie. Alles is fine. Ek kom check net op, kom sieke maak my supplier hettie van my vegietie. Wan anmekaa as ek bel –”
“Maar ek het vir jou gesê ek kontak jou as dit reg is,” val hy hom in die rede. “Nou hou jy aan bel, al weet jy ons werk nie so nie. Ek kontak jou as ék reg is, nie andersom nie. So wat soek jy hier? En hoe’t jy uitgevind waar ek bly?”
“My broe. Rêrag nou, chill net. And as for your question: ek’s ’n biesagheidsman wat my clients en suppliers ken. Djy ken my en jy wiet ek ken my job. Hoe difficult kannit nou wies omme hippie whitey te kry wat inne shack bly enne rok dra?”
“Ek is nié ’n donnerse hippie nie.”
Lennet praat snydend, maar Everest hou nie op met glimlag nie. Soos ’n harlekynpop se plastiekkop wat gegiet is om net een uitdrukking te hê. Die deurdringende oë laat Lennet klein voel. Asof Everest neerkyk op hom, asof hy dink dis als ’n grap.
“Wat issit anyway met jou, Lennie? Ek kom allie pad en jy bietie eers ietsie om my keel nat te maak ie. Wietie watse manners djou ma djou geleeritie. Maa dais besides the point nou, die least wat jy darem kan doen, is om my te gan wys hoe lykie product. Waavoo die clients so eagerly wag. Clients wat my ore afbel. Clients wat ek nou al moet wegwys.”
Lennet versit effens, die skêr se punt druk pynlik teen sy bobeen. “Ek wys jou fokkol.”
Everest se glimlag plat af. “Djy dink rêrag hierie isse game, nuh. Djy ignore my soos djy wil, jy skedaddle wanne jy lis is. Wel, it wêkie mee so nie.”
Die stilte is ongemaklik, maar dan lig die frons en is die glimlag weer terug. Everest sit vorentoe, elmboë op sy knieë.
“Ons kan expand, Lennie. Sê net wat djy nodigit. Fans? Pots? Light bulbs? Ons kan groot gan, ek en djy. Nie mee seasonally bound soes nou nie, ons plant en harvest heeljaa. Wil djy nie mee hê nie? Djy bly inne shack, die bleddie government bou groter hophuise as hierie. Think about it. We can make something big. Djy het jou skills, en ekkit myne. Ek verpan alles, my broe, wat sê jy, huh?”
Lennet kan aanvoel Everest wag vir ’n reaksie, maar hy staar net voor hom op die vloer. Hy het ’n fout gemaak om die man te vertrou.
“Kyghie, die tyd stap an. Ek’s laat.” Everest haal sy foon uit sy sak om te kyk hoe laat dit is. ‘Lat ek gan, Lennie. Jy het sieke dinge om te doen, ek oek. Dink net oo wat ek gesêrit. Hoe sê dai ANC-logo? ‘Together we can do more.’ ”
Hy klink weer opgewek, lag ha-ha by homself. “Innie meantime sien ek jou next wiek. Ek sal dan wee innie ronte wies, sal ’n drai kom maak. En please, antwood dai phone as ek bel.”
Lennet se blik het vasgehaak op ’n kol op die rusbank, onder Everest se regterarm. Niks groter as ’n eenrandstuk nie, en dof van al die kere wat hy al gepoog het om dit uit te was. Maar die kol sit steeds daar. Nóg sy selfaangemaakte seep nóg die gekoopte mat-middel, bank-middel, en koekie Sunlight kon dit uitkry.
En hy kan nie eers onthou wie wat op die bank gemors het nie. Was die kol ooit daar toe hy hierheen getrek het? Dit was nie sigbaar toe die bank nog in sy meenthuis in Brackenfell gestaan het nie. Of was dit?
Hy staan nie saam met Everest op nie, reageer nie toe dié iets sê oor whiteys wat geen mens kan verstaan nie. Hy sit net. En staar na die merk op sy bank.
Hy hoor die harde sole oor die sandgrond buite die karavaan wegloop, maar dit voel ver. Droomklanke verwyder van realiteit. Hy sit versonke in die detail van die kol: die vorm wat hy nou besef nie so rond is soos hy altyd gedink het nie, maar effens gepunt, soos ’n borrel wat aan die een kant getrek word.
Tot hy skielik opkyk, sy sintuie weer wakker om die beelde, geluide en reuke rondom hom waar te neem. En hy homself kan terugplaas in die tydlyn van sy bestaan.
Hy skud sy kop liggies. Was dit enigsins werklik?
Toe hy regop kom, verskerp die skêr se steek in sy bobeen.