Читать книгу Die daggaboer - Jean-Pierre de Kock - Страница 9

5

Оглавление

Die son is aan die sak, Kaap se kant toe. Die wind het teruggetrek en ’n leemte gelaat waarin selfs die voëls se gekwetter stil geraak het. As hy mooi luister, kan hy die see doer onder teen die kus hoor klop.

Hy sien van ver reeds die twee kopligte aankom. Sigbaar op die kruin van ’n koppie, voor dit afdaal en verdwyn, net om by die volgende oopte weer te verskyn. Eers onhoorbaar, maar dan klink die verlangse geruis van bande op. Dit crescendo soos die voertuig al naderkruip.

Lennet voel verlig toe die motor verby Tierdrif se ingang jaag. Dat sy besoeker op pad is, is altemit. Onvermydelik. Tog voel hy dankbaar vir die paar ekstra minute stilte en ongekompliseerde wéés wat hy gegun word.

Hy hoor die vat-vat van die ABS ’n paar honderd meter verder soos dit verhoed dat die bande gly toe die remme vasslaan. Die kar kom tot stilstand terwyl die stofwolk in sy spoor nog verbywaai. Met die gekerm van die enjin in trurat beweeg dit terug tot by die indraai, trek weer met tollende bande weg, die tweespoorpaadjie op.

Heeltemal te vinnig.

Hy maak sy oë toe. Maar selfs met die wete van wat kom, skrik hy steeds vir die klap van metaal teen klip.

Die slag laat die kar stop. Ná ’n oomblik se huiwering beur dit weer vorentoe, maar nou is daar die klank van blik wat aaklig rammel. Die bestuurder se deur word oopgeruk en sy frustrasie blyk duidelik uit die skelwoorde wat volg. Op sy knieë begin hy in die swak lig die probleem onder die kar soek.

Lennet kom regop van waar hy op sy hurke op die stoep sit.

Met die inspeksie voltooi, klap die motordeur weer toe. Die voertuig kom aansienlik stadiger in die pad op. Metaal vibreer skel bo die sagte geluier van die enjin. ’n Duitse fabrikaat, vermoed Lennet aan die ry LED-kopligte.

Voor die gastehuis word die motor afgeskakel. Die deur word oopgegooi en sommer net so gelos. By die flou liggie van ’n selfoon word verder na die skade gesoek.

Lennet tree nader.

“Naand, Konrad,” groet hy die liggaam waarvan die kop onder die voertuig versteek is.

Asof sy broer enigiets van karre af weet.

“Kyk, as jy net eendag in ’n normale fokken plek kan bly!” kom sy stem van onder die motor. “Dan sal mens nie jou gehuurde kar hoef op te donner om by jou te kom nie.”

“Daar’s ’n teken.”

“Wat?” sê Konrad toe hy regop kom.

Sy broer klink geïrriteerd. Dis nie ’n goeie begin nie.

“Daar’s ’n teken ’n paar meter voor die rots. Dit sê: Pasop, ry stadig – Danger, drive slowly. Jy het dit seker gemis.”

“Maar my donner! Pleks jy herlei die pad of haal die rots uit, nou sit jy bordjies op.”

“Ek sal môreoggend na die kar kyk. Iets het seker net losgekom.”

Konrad druk die foon in sy hempsak. “Nou ja, help seker nie ek hou aan daaroor nie.”

In die stoeplig merk Lennet die baard op. Dit was nie voorheen daar nie. En dit pas glad nie by Konrad nie, hoewel hy dit nie vir hom sal sê nie. Afgesien daarvan lyk sy broer nog presies dieselfde. Steeds net ’n bietjie langer as hyself, en steeds die glimlag wat effens hoër optrek aan die een kant van sy gesig. En toe Konrad hom nadertrek en teen sy bors aandruk, besef hy hoe hy hom gemis het.

“Ek sien jy dra nie meer rok nie.”

“Ja, nè.”

Lennet sal eerder nie sê hoe lank hy vanmiddag moes soek na ’n kortbroek nie. Dis net makliker as om heeldag-aldag na Konrad se rokgrappies te moet luister soos met sy vorige besoek. Haai, maar kyk hoe fraai lyk sy. Hene, Heidi, jy kan seker nie in daardie rokkie gaan bokke melk nie. ’n Kortbroek is net die eenvoudiger opsie as sy broer kom kuier, maar nou wonder hy opnuut wat van al sy ander kortbroeke geword het.

Die fiets wat Konrad eerste aflaai, lyk lig toe hy dit teen die trappies opdra.

“Jy kan dit maar op die stoep los,” sê Lennet. “Niemand steel hier nie.”

“Ga, daar’s nie ’n manier dat ek ’n fiets van vier en ’n half duisend dollar buite los in hierdie land nie.” Konrad stoot die fiets by die skuifdeur in.

“Waar’s Chloe en … Daniel?” Lennet korrigeer homself net betyds om die naam op Engels uit te spreek.

“Lang storie, kleinboet, lang storie.”

Nie dat sy Kanadese skoonsus se afwesigheid Lennet pla nie. Hy sou dalk nie die spesiaal gekoopte nougat mooi haaks in die middel van elke kopkussing gesit het nie. Maar die meubels se oppervlakke sou nie minder blink of die duvets stywer oor die beddens getrek gewees het nie. Eintlik kan hy nie help om beïndruk met homself te voel toe hy met die instap alles so netjies en op hulle plek sien nie (veral nie ná daai barbare hier was nie). Selfs die twee aardrose en paar takkies heide wat hy sommer haastig in ’n blompot gedruk het, vertoon nou heel skaflik op die eetkamertafel.

Hy het Chloe nog net ’n paar keer ontmoet, maar iets aan haar fyn wipneusie en die bruuskheid van haar snedige opmerkings irriteer hom net. Boonop vermoed hy dat sy ook nie so geneë is met hom nie. Wat seker haar besluit om nie saam te kom nie aangehelp het.

Maar wat ook al tussen haar en Konrad gebeur het, het sy broer duidelik ontstem. Toe hy oor Chloe gevra het … daar was defleksie, die wond blykbaar nog rou.

Ou Konrad het mos ’n manier om hulle te kies.

Eers was dit die Rus in Londen. Wat was haar naam nou weer? Kort en skraal, met lang, krullerige brunetlokke. O ja, Renata. Innemende seegroen oë.

Twee jaar bly hulle saam in Engeland: hy die dokter, sy die grafiese kunstenaar en hoopvolle romansier. Salig met mekaar en die lewe. Besoek selfs Suid-Afrika om Pa te ontmoet.

Net ses maande getroud, toe skei hulle.

Renata was ’n prettige enetjie, maar na Lennet se mening nie maklik om mee getroud te wees nie. Wispelturig is nie die woord nie. ’n Humeur wat kan opvlam uit niks, en die volgende oomblik weer so mak soos laagwater. Dis moontlik haar eksentrieke aard wat Konrad aangetrek het, juis omdat dit so ver verwyder is van sy eie koersvaste persoonlikheid. Sy lyk natuurlik ook na hul ma, maar daaroor durf niemand mos iets sê nie.

Maar wat Renata gekort het in bestendigheid, het sy voor opgemaak in vriendelikheid. Selfs meer so as daar iets te drinke was. Of liewer, verál as daar iets te drinke was. Sy sou aandagtig na jou breedvoerige verduideliking luister oor die wyn se geure en kleure waarop sy bedag moet wees, en dit net daarna in haar keel afgooi asof dit ’n vodkasopie is. Waarna sy laggend haar leë glas sou uithou vir nog. Wakker en regop tot laat in die nag.

Wel, dis die indruk wat Lennet gekry het, die twee keer wat hy haar gesien het. Die eerste keer toe hy vir hulle in Londen gaan kuier het, en ’n jaar later met die sprokiesagtige kasteeltroue in die Skotse Hoogland.

Die egskeiding was flink, maar Lennet kon nooit uitvind wat presies alles daartoe bygedra het nie. Daar was definitief ’n tot-hier-toe-en-nie-verder-nie-gebeurtenis. Dan en wan as hy sy broer gebel het, het hy probeer uitvis wat verkeerd geloop het. Maar dit was nie iets wat Konrad wou deel nie. Hy het dit styf teen hom vasgehou, en doen dit nog steeds. Lennet moes op die ou end berus met: “Dit moes net nooit gewees het nie.” Alhoewel hy vermoed daar was ’n derde party betrokke.

Konrad kom die kombuis binne met ’n koelboks wat hy voor die wasbak neerplak. “Het jy een of ander hippiemanier om die vuur aan te steek?” vra hy terwyl hy weer uitstap stoep toe. “Of is hier actually Blitz?”

Lennet lig die swaar boks met moeite tot op die toonbank. Duidelik genoeg kos ingepak vir ’n gesin. “Links teen die braaiplek se muur is ’n houertjie waarop staan ‘Vuuraanstekers’. Die Blitz en smalletjies is daarin.”

Smalletjies, wat ’n lekker woord, dink hy. Gebruik mense dit nog?

Lennet begin die kos uitpak.

Alle geval, dit lyk of Konrad met Chloe wil regmaak wat met Renata verkeerd gegaan het. Sy broer was lief vir Renata, dit weet hy. En wat ook al werklik daar gebeur het, het Konrad geruk. Nogtans het hy kort daarna ’n tweede huwelik aangepak. Met nuwe ywer, al is Chloe soos sy is – ’n regte bitch.

Lennet onthou hoe ontsteld sy pa was toe hy vir die jonggetroudes in Kanada gaan kuier het (Chloe was skaars twee maande ná die troue swanger). Die ou man was gretig om sy eerste kleinkind te ontmoet, maar dit was gou duidelik dat Chloe haar eie manier het van dinge doen. As Oupa net in die rigting van die baba kyk, was sy by met die handsteriliseerder en vermanings. Pasop vir die koppie, moenie te veel swaai nie, sit die lig af, sit hom nou weer terug in sy bedjie, sit sagter die rugby, hou daai gordyne toe, moenie met hom Afrikaans praat nie.

Naderhand wou hy nie eers meer naby “verdomde Engelse” klein Daniel kom nie. “Dis asof sy dink ek’s te Derdewêrelds om aan haar kind te vat, Lennet! Magtig, ek het darem self twee kinders grootgemaak.”

En “magtig” was so na aan ’n vloekwoord as wat sy pa ooit sou kom.

Die groot knak het gekom toe Chloe ná die derde dag van die kuier aankondig dat sy vir Oupa ’n kamer bespreek het by ’n gastehuis net buite die dorp. Gesê met daardie aantreklike glimlag van haar. Arme Konrad moes vir die res van sy pa se vakansie tussen die B&B en sy eie huis jaag om die vrede te bewaar.

Konrad die vredemaker. Laat niemand sê hy probeer nie.

Lennet ruik die sigaretrook wat van die stoep af ingewaai kom. Hy glimlag. Ná al die jare rook die dokter nog steeds. Onverwags bring die reuk ook Everest se besoek vanoggend terug. Maar hy wil nie nou dááraan dink nie.

“Gaan jy vir ons ietsie ingooi of wat?” roep Konrad van die braaiplek af. “Daar’s Coke en Klipdrift in die koelboks.”

“Ek bring.”

Lennet drink net brandewyn as hy sy broer sien. Afgesien van ’n witblitssopie al om die maand by oom Loeser kan hy nie eers onthou wanneer laas hy enige alkohol gedrink het nie.

Hy klief die stuk vleis op sy bord sonder entoesiasme, vol weersin vir die Genuine Texan Steak wat Konrad hier aangebring het. ’n Hele kilogram daarvan in ’n verseëlde plastieksak, deurdrenk met ’n rooibruin marinade. Boonop is die reeds versuipte vleis ná elke draai van die rooster met nog ’n laag sous beloon.

Kos sonder oordadige speserye was een van die makliker aanpassings wat Lennet op Tierdrif moes maak. Hy het nog altyd gedink mense, en veral Suid-Afrikaners, gooi gans te veel ekstra soorte sout en sous op hul kos. Soveel te meer met vleis.

Hy probeer ongemerk die rooibruin sous afskraap, vee sy mes teen die rand van sy bord skoon. Maar steeds sukkel hy om die oorgaar biefstuk afgesluk te kry. Die barbecue is net te oordonderend … te oral. Pleks hy tog maar groente gemaak het soos hy hom voorgeneem het. Want selfs die gekoopte aartappelslaai proe of dit deurweek is van kondensmelk of iets anders wat onhebbelik soet is.

Nie dat hy vir Konrad enigiets oor die kos sal sê nie. Beter as dít weet hy darem. Veral op ’n aand soos vanaand waar die stiltes tussen elke “Gaan gooi vir ons nog enetjie, toe” oneindig lank voel. En “ons” beteken eintlik Konrad, want Lennet het halfpad deur die tweede glas reeds ’n draai in die kop gevoel.

Danksy die droë hout was die kole gou reg. Tussen een-sin-antwoorde soos “Ag, die vlug was orraait”, “Ja, dit gaan oukei by die werk” en “Nee wat, ek kyk nie eintlik meer rugby nie” was Konrad se aandag meestal by die vuur en die braai.

Daarby is Lennet nie een vir wegskram van stilte nie. Allermins. En ja, tussen hulle twee vat dit gewoonlik ’n tydjie om te sinchroniseer ná ’n lang afwesigheid. Veral omdat hul geaardhede so verskillend is en hul lewens so ver van mekaar geleef word.

Dis asof elkeen eers moet herset en daarop fokus dat hy ’n broer het. Moet delf om te onthou dat hulle ’n herkoms en geskiedenis deel. Eers as die herinneringe herleef word en die vervreemding vervaag, kan hulle hulle vereenselwig met die seuns wat hulle was. Die vyfdag-kriekettoetse in die agtertuin. Die saam fietsry skool toe. Die skelm swem in die buurman se swembad (en die keer toe hulle amper gevang is).

Toe Lennet weer ’n slag vra waar Chloe en Daniel dan is, is die bot antwoord: “Ag, net ’n ou meningsverskilletjie.”

Nou hoe werk jy met dit? Hy kan sy broer net so wel hier los en huis toe gaan. Sodat Konrad op sy eie met sy gedagtes kan stoei. Hy kan liewer môre terugkom as om hier afwagtend te sit en hoop dat iets konstruktiefs gepraat of gedoen gaan word.

Soos hy en die taai steak verder handgemeen raak, glip die vurk en moet hy net keer of sy bord kantel af na die teëlvloer. Maar nie eers sy skielike ruk-en-balanseertoertjie trek sy broer se aandag nie.

Dié se bord is skoon geëet. Waar dit eenkant op die stoepmuurtjie staan, is die hale sigbaar van elke happie wat heen en weer gevee is om die laaste leksel sous op te slurp.

Vir die soveelste maal haal Konrad ingedagte sy iPhone uit sy Polo-hemp se borssak. Net om gou te loer, net om seker te maak. Daar is iets desperaats aan hoe hy telkens na die foon gryp, dink Lennet, maar weer eens is daar geen boodskap of oproep nie.

Die foon gly terug in sy bêreplek en Konrad neem weer sy geboë posisie in. Peinsend, sy kop gestut op sy hand terwyl die sigaretkooltjie langs sy gesig al langer raak. Die rook trek reguit op in die stil nag.

Sou hy nog weet van die sigaret? Maar sy broer staar net verlore in die vlamme, wat al hoër brand danksy die hoeveelste hand vol stompies wat netnou opgegooi is. Môre laat ek hom self kap, besluit hy.

Dan kom Konrad skielik regop, sy rug styf. Asof hy pas ’n besluit geneem het en seker is oor dié ding. Hy neem ’n teug uit sy halfvol glas en ’n laaste trek van die sigaret, blaas dit met ’n sug uit en skiet die stompie vuur toe.

“Sorrie, kleinboet, ek sit nou hier en bejammer myself net. En eintlik het ons soveel om oor te praat, nè?” Hy gee die vlamme ’n laaste kyk voor hy na Lennet draai. “Wat sê jy nog? Hoe gaan dit regtig hier op Tierdrif? Is jy gelukkig hier in die middel van nêrens?”

Dankie tog, die openingsbal is geboul. Hy hoop net Konrad sien nie die bord met die halfgeëte steak wat hy onder sy stoel versteek het nie.

“So, is jy?” Meer kortaf, terwyl Lennet nog soek na ’n antwoord.

“O, ja. Nee … Nee, ek’s gelukkig hierso. Wil nie op ’n ander plek wees nie.” Vir wat strompel hy so oor sy woorde? Hy kan waaragtig nie dronk wees nie. Of is hy?

Konrad grinnik. “Om eerlik te wees, ek het nooit gedink jy gaan so lank uithou met die hippiebesigheid nie.”

“Ek’s nie ’n hippie nie,” antwoord hy te vinnig.

“Ja, oukei, sorrie. Ek probeer nie lelik wees nie, Lennie. Ek verstaan maar net nie hoe dit werk nie, dis al. Hoe jy dit doen nie. Ek meen, dis orraait vir ’n vakansietjie of so. Ons het self ’n plekkie langs ’n meer waarheen ons naweke ontsnap. Maar om permanent so te leef … Hoe kan jy werklik gelukkig wees hier? So met niks en niemand nie?”

Hy vroetel vir nog ’n sigaret in sy cargo-broek se sak, sy postuur nou gemaklik en ontspanne in die wit plastiekstoel. Wenkbroue gelig, wagtend op ’n antwoord.

“Dis … uhm … dis moeilik om te verduidelik.”

“Maar probeer. Ek wíl verstaan.” Tjiek-tjiek en die sigaret brand.

“Ek onthou eenkeer toe ek by World of Birds in Houtbaai was,” begin Lennet. “Ek het mos gereeld soontoe gegaan, geld geskenk ook. Ek’s mal oor die voëls, en om hul stories te hoor by die mense wat daar werk. Vergiftigde aasvoëls wat gered is. Uile wat raak gery is, maar wat oorleef het … Daai tipe ding.”

’n Tarentaal vlieg iewers verskrik uit sy slaapplek op.

“Hoe ook al, in die park is daar ’n bordjie wat vra: Is die voëls gelukkig hier? Aan die onderkant staan die antwoord dan: Geluk is nie ’n emosie wat voëls ervaar nie. As die inwoners van die park kos en beskutting het, veilig voel en van hul beserings herstel het, is aan al hul behoeftes voldoen en is dit die naaste wat hulle aan geluk kan kom.”

Konrad gooi die laaste sluk drank in sy keel af. Met die glas se neersit dans die twee ysblokkies eensaam op die bodem. Dan lag hy. Gemoedelik.

“Jy kan partykeer so weird wees, kleinboet. Maar oukei. In fact, ek dink nie jy’t enigsins my vraag geantwoord nie, maar dalk wil jy net nie daaroor praat nie.”

“Ek wíl. Miskien druk ek my verkeerd uit. Dis net … my definisie van geluk is anders hier. Met net eenvoud, met al die luukses en onnodighede weggestrip. Ek verlang nie na iets anders nie. Ek leef bloot dag vir dag om in my basiese behoeftes te voorsien. Om seker te maak my plante produseer kos, om my dak reg te maak as dit lek. Jy leer om net te wéés, verstaan? Nie te wonder oor eendag nie. Geluk hier is om bloot te leef.”

“Soos ’n afvlerkvoël? In ’n hok?” Spottend.

Poephol, dink Lennet.

“Nee, ek is nie ’n afvlerkvoël nie. Maar miskien het ek hier geleer om nie alles te oordink nie. Nie heeldag te probeer meet of ek werklik gelukkig is nie. Daar was dae, veral aan die begin, wat ek gedink het miskien moet ek alles oppak en teruggaan. Liewer weer in ’n werk gaan sit wat ek haat, die verkeer, die afhanklikheid van tegnologie, ’n huis en ’n kar koop wat ek nie regtig kan bekostig nie.”

Hy haal diep asem. “Maar die onsekerhede het al minder geraak, tot waar dit nou alles so ver en ondenkbaar voel. Dis soos wanneer jy ophou rook. Aan die begin dink jy heeldag aan hoe lus jy vir ’n sigaret is. Maar soos die tyd aangaan, raak die onttrekking al minder. En die periodes wat jy voel jy kan nie meer uithou nie, raak al korter. Tot jy jouself later nie eers met ’n sigaret in die hand kan indink nie.”

Hy hoop nie Konrad dink hy probeer vir hom preek oor sy rokery nie. Hoekom sal hy wat Lennet is nou oordeel?

“Ag, moenie kwaad raak nie, kleinboet. Ek speel mos maar net. Doen jou hippie-ding. Maar weet net, jy gaan eendag spyt wees. Eendag as hierdie hele land uitmekaarval. Of as jy jouself beseer en nie weer kan opstaan nie en hier’s niemand om jou te help nie. Of as jy as ou man in ’n plaasaanval aangerand word.” Konrad gaap lank. “Hoor maar net wat ek vir jou sê.”

Hy antwoord nie, en sy broer slaan hom speels teen die boarm. Hy probeer maak of dit nie seer was nie.

“Pa lyk sleg, nè?” raak Konrad skielik ernstig. “Ek kan nie dink hy’t so vinnig agteruitgegaan nie. Ek meen, hy’t my herken, maar hy was aanvanklik so deurmekaar dat hy dog ek werk daar.”

Lennet knik. “Ja, nogals.” Hy wil nie verder uitwei nie.

“Hoe gereeld gaan jy soontoe?”

“Seker … Ag, ek kan nie nou presies onthou nie.”

“Wat kan jy nie onthou nie? Ek vra hoe gereeld jy gaan, nie wanneer laas jy daar was nie.”

Lennet vee oor sy gesig. Demmit, hier kom dit nou.

“Ek bedoel, ek was ’n tydjie terug daar. Dis moeilik om tyd te vind. ’n Mens moet seker meer gaan.”

Konrad frons. “Wat bedoel jy met ’n tydjie terug? Wanneer laas was ’n tydjie terug?”

“Ek weet nie, man. Ek … uhm … seker …”

“Was jy al vanjaar daar?”

Vir die soveelste maal wens Lennet dat hy die vermoë gehad het om die regte ding op die regte tyd te sê. Dalk ’n skerpsinnigheid wat die waarheid sal verdoesel en die spanning op Konrad se gesig sal temper tot ’n blote glimlag. Of miskien ’n oortuigende leuen.

Maar hy sit opgeskeep met ’n kop wat eers weke ná die tyd aan die perfekte antwoord sal dink. So al wat hy nou het, is die waarheid. En dáárvan gaan Konrad nie hou nie.

“Nee, ek was nog nie hierdie jaar daar nie.”

Konrad se mond val oop. In eerlike ongeloof.

“Bedoel jy … So jy was nog nie één keer daar nie?” spoeg hy die woorde uit. “En laas jaar? Kon jy darem laas jaar ’n tydjie vind in jou verskriklike druk skedule? Huh? Om net tagtig kilo’s te ry om by jou pa uit te kom?”

Doller as kopaf kan dit nie, besluit Lennet. Kon hy nie maar net gelieg het nie?

“Nee, nie sedert Junie laas jaar nie.”

Konrad gryp na sy hempsak. Iets, dalk ’n stampie wat soos die foon se vibrasie voel of ’n padda wat onwetend die luitoon nageboots het, het hom laat dink daar’s ’n boodskap. Maar nee, weer eens niks. En dit stook sy irritasie net verder.

“Ba!” lag hy skielik. Op daardie manier wat net die een kant van sy gesig laat optrek.

Die stilte wat volg, voel vir Lennet oneindig. Fermata op die rus.

Dan kom dit.

“Jy’s selfsugtig, Lennet.”

“Selfsugtig? Hoe is ek selfsugtig?”

“Want jy gee net om vir jouself. En dít is selfsugtig. Jy antwoord nie oproepe nie. Jy antwoord nie whatsapps nie –”

“Ek antwoord met e-pos.”

“E-pos? Wie de donner vereis van sy familie om kontak te hou met e-pos? En veel erger, Lennet, ’n jáár? Jy bly skaars ’n uur van hom af weg, maar vir ’n hele jaar kan jy nie eers by jou eie pa uitkom nie. Jy leef hier vasgevang in jou vrees vir die wêreld!”

Lennet wil nie kwaad raak nie. Hy weet hoe naby sy broer aan hul pa is.

“Ek verstaan, Konrad. Jy’s ontsteld, nou wil jy iemand blameer. Pa gaan baie agteruit.”

“Wat ek nie verstaan nie, is hoe jy net nie fokken omgee nie! Hy is net hier, bý jou. Maar jy kan nie die moeite doen om in jou kar te klim en vir hom te gaan kuier nie.”

Konrad spring op en gaan leun teen ’n stoeppilaar. Briesend. Staar ver die donkerte in, doer na die liggies van ’n plaashuis.

Asof hy hom tot daar wil verbeel, dink Lennet. Net weg wil wees van hier.

“Pa herken niemand meer nie. Jy’t self gesien, het jy nie? Hy weet nie meer wie ons is nie.”

Konrad swaai om. “Beteken dit hy kan maar net daar gelos word om dood te gaan? Jy sit hier in jou karavaan soos ’n plakker en maak asof die regte wêreld se probleme nie bestaan nie. Terwyl jy probeer om ‘net te wees’. Jy leef in ’n fantasie, man! Een waarin net jý belangrik is.”

Hy blaas woedend deur sy neus. “Dit werk nie so nie, Lennet, jy deflekteer net. Die regte wêreld gaan aan. En ons regte mense moet dit face. Al die nare dinge. Die politiek. Die armoede. Die geweld. Siekte. Dood. En waar is Lennet? Te belangrik om homself te vereenselwig met enigiets of meegevoel te hê met enigiemand.”

Afsku vlam in sy oë. “Wat het van jou geword, Lennet? Hoe het jy iemand geraak wat só min kan omgee? Hoekom weier jy om normaal te wees?”

“Want ek wil nie so ongelukkig soos jy wees nie,” glip die woorde uit Lennet se mond. Hy is onmiddellik spyt dat hy dit gesê het.

Konrad tel sy leë glas van die stoepmuurtjie op, gee dit ’n skud. Sy arm trek stadig terug. Daar is ’n slag toe glas en ys teen die muur versplinter.

“Daar was ’n tyd toe ek respek vir jou gehad het. Gedink het jy het iets beet. Maar weet jy wat? Eintlik is jy maar net ’n loser. ’n Loser in ’n karavaan op ’n –”

Mozart se Simfonie no. 40 in G-mineur, eerste beweging. Konrad se foon wat lui. Hy kan nie vinnig genoeg daarna gryp nie.

“Hi, my love … No, I can hear you … I CAN hear you …”

In die verbyloop tref sy plakkie die rand van Lennet se bord. Die bord skiet kletterend oor die stoep. Dit land tussen die glasskerwe dat steak en sousreste oor die teëls spat.

By die deur draai Konrad terug. “Yes, I know what I said, but you have to admit …”

Lennet kan die stem aan die ander kant hoor antwoord, amper hard genoeg om die woorde uit te maak. Konrad kyk na hom om iets te sê, maar die stem oor die foon raak heftiger.

“Chloe, what the hell are you on about? … What? That is nonsense and you know it! … Ah, please, man …”

Lennet bly sit. Hy volg die skermutseling wat toenemend vererger die huis in. Tot die slag van ’n deur wat toeslaan die klank demp.

Die daggaboer

Подняться наверх