Читать книгу Die daggaboer - Jean-Pierre de Kock - Страница 8
4
ОглавлениеHoe kan vyf mense in drie dae so baie mors? En dit was nie eers drie volle dae nie. Eintlik was dit net twee nagte, met twee halwe dae weerskante.
Elke keer nes hy dink hy is klaar met ’n vertrek, kom hy op nog ’n verskuilde onsindelikheid af. Soos die deurtrekker in die voue van die sitkamerbank – pure cliché wat hy met ’n braaivurk en skuinsgetrekte lip daar uittrek. Of die besef dat dit wat die badkamer se wasbak verstop, niks anders as braaksel kan wees nie. Ui en ander nieherkenbare, onverteerde ietse wat hy met die agterkant van dieselfde braaivurk en lopende water by die drein probeer afwurg.
En nou. Ná hy die hele vloer van die hoofslaapkamer gemop het, die beddegoed afgehaal en vervang het, en al die gebruikte sneesdoekies uit die bedkassie se laai verwyder het, ontdek hy agter die laaikas die bierblikkie wat in ’n plassie van sy eie inhoud lê. Hy wou sê iets ruik nog soos ou kroeg.
Hy oorweeg dit vir die soveelste maal om hulle te bel. Net om hulle te vertel watse varke hulle is. En dat hulle nooit weer op Tierdrif mag kom nie. En … Ag, daar is so baie dinge wat hy wil sê. ’n Lang lys griewe en beledigings waaraan hy werk terwyl hy skrop en vee en was.
Maar wat sal dit tog help, kom hy elke keer tot dieselfde konklusie. Dis nie asof hulle gaan terugry en kom help skoonmaak nie. Of gaan jammer sê en sleg voel nie. Inderwaarheid sal hy verbaas wees as sy geskel enigiets meer as ’n skaterlag ontlok.
Met ’n gesteun kry hy die swaar laaikas net genoeg geskuif om by die besoedelde kol op die houtvloer uit te kom. Op sy knieë vee hy die stinkende verkwisting op. Hy moet drie keer kombuis toe, met ’n hand wat bak staan onder die druppende lap, om die ou bier te gaan uitwring. Hy sal later, as dit droog is, moet kom kyk of die wit kol op sy oregonvloer nog daar is.
Dose!
’n Positiewe uitkoms van die ure lange sterilisasie van die huis is dat dit minstens sy aandag effe verplaas van die oggend se ongewenste besoek. Al hou dit net die gedagte vir ’n wyle op ’n afstand.
Want ten spyte van die omvang en intensiteit van die opruimingstaak bly dit iewers in sy agterkop hinder: dat Everest hom so maklik kon opspoor. En bowenal dat hy net so, sonder aankondiging, by sy woonplek kon opdaag.
Die ergste is dat Everest wéét hoe erg hy oor sy privaatheid is. Of isolasie dan, as jy wil. Veral hý, die klein dwelmbaron van Vermont (vroeër Hawston).
Lennet het daardie eerste oggend mos als uitgepak. Plotseling, eintlik, daar in Everest se ma se kombuisie. Om die wit plastiektafel en -stoele met kakaobruin kussings, terwyl die versameling ou blikke – Weet-Bix, Ouma-beskuit en die res – hulle uit die hoogte van die cremesoda-groen kombuiskas af dophou. Net die een sonneblom-gordyn was voor die venster, die ander een nog pap oor die toonbank langs die wasbak, die tannie besig om hakies in te ryg toe hy daar aankom.
“Wil Mammie nie gou winkel toe gaan nie?” het Everest gesê en onderlangs ’n paar note in haar hand gestop. Sonder om vir ’n oomblik die goue glimlag te laat val óf sy oog van Lennet af te haal.
Mammie het maar gegaan. Nie eers opgekyk of geknik om erkenning aan die besoeker te gee nie.
Voor daardie oggend het Lennet gewoonlik sy dagga by Franklin en Larry gaan aflaai. Hy is nie seker wie van die twee se HOP-huis in Zwelihle dit is nie, en of hulle saam daar bly nie. Maar snaaks genoeg was al twee altyd teenwoordig as hy by die jaart inry om die pakkies te kom aflewer, al het hy nooit vooraf gebel om te reël nie.
Die twee rastas met die swaar lokke en moulose hemde was aan die begin maar skepties as hy daar opdaag. Seker gedink hy is ’n polisieman of ’n ding. Sy wit vel het ook nie gehelp nie.
Mettertyd het hulle meer toeganklik geraak. Hulle het geleer om hom en sy produk te vertrou. Naderhand was hý die een wat die lospraatjies moes kortknip sodat hy die vakuumverpakte sakkies uit die kompartement onder die Mercedes se agtersitplek kon haal. Terwyl hulle nog wou gesels oor hoe en waar en wat hy plant, wou hy net sy geld hê en gaan, sonder om nog “ietsie te vat” saam met hulle.
Tog was hulle goed vir hom. Hy mis hulle amper.
“Ek hoo jysie man om mee te praat,” het die opgewekte stem oor die foon gesê. Tot vandag toe weet hy nie waar Everest sy nommer gekry het nie, en Everest wil ook nie sê nie.
Lennet het voorgestel hulle moet sommer by die Wimpy ontmoet, wat is nou meer neutraal as dié? Maar Everest wou niks weet nie.
“Nooit gesien nie! Nettou wôd ons afgelyste.”
Lennet het mos die slegte gewoonte om ja te sê al bedoel hy nee. So toe stem hy in vir ’n ontmoeting in Hawston. En beloof homself agterna, soos telkemale tevore, dat hy van nou af minder van ’n pushover gaan wees.
Skepties oor die man wat so baie praat, het hy by die tafel in die beknopte kombuisie gaan sit. Hy vertrou nie mense met baie woorde nie. En boonop het hy onveilig gevoel. Altemits was hy aan huis by ’n dwelmhandelaar! In Hawston van alle plekke. (Everest het eers later die huis in Vermont, net ’n paar kilometer verder, vir hom en sy ma gekoop. Hoe hy dit kon regkry en steeds die Ontvanger fnuik, bly vir Lennet ’n raaisel.)
Soos die inhoud van die wit bekers met blou, geel en rooi ballonne op soomloos van Ricoffy na J&B met soda verander het, het Lennet se wantroue geleidelik versag. Hy het op ’n eienaardige manier gevoel hy kan die man vertrou, iets wat nie gewoonlik gebeur met ’n eerste ontmoeting nie. Want hoewel hulle wêrelde uitmekaar grootgeword en geleef het, het Everest homself so ontbloot met sy relaas dat Lennet nie anders kon as om simpatie met hom te hê nie.
“Ek was suppose om somebody te wies. Vestaan djy?”
Everest het hard geleer op skool. Topleerling in Hawston Secondary. Toe die opgewondenheid toe hy ’n beurs kry om ingenieurswese te gaan swot op Stellenbosch. Sy ma se trots.
“Eendag gaan ek vi Mammie ’n ôdentlike huis koop,” het hy belowe. “Uit hierie kak plek uit na ’n grand huis in Hermanus. Of maybe evens Vermont?”
Sy het hom altyd gou aangespreek as hy gevloek het, maar dié keer kon hy sien hoe stralend die gedagte haar laat.
Hy sou egter vinnig leer dat ’n beurs jou net so ver kan bring. Terwyl sy kamermaat nagte om gedrink en gepaartie het, kon hy skaars middagete bekostig. Hy was alleen. Verwyderd. Die akademie oorweldigend.
Aan die einde van die eerste semester het hy ingenieurswiskunde gedop. Die nekslag, want dit het beteken dat hy nog ’n jaar sou moes swot om graad te kry. Terwyl sy ma elke ekstra sent van haar Pick n Pay-salaris vir hom aangestuur het, strompel hy reeds oor die eerste hekkie.
Ná die Junievakansie het hy nog drie maande probeer vasbyt, voor die volgende reeks toetse hom finaal verslaan het. Hy is huis toe, verneder.
Skaars ’n week daar, toe jaag sy ma hom uit. “As djy nie wil leerie dan moet djy gat wêk. As djy scheme djy gat hie vriete kry, slaap en poep ruik soes dai luigat van antie Suzie, het ek nuus vi jou.”
Van sy ou skoolkennisse het hom oor sy terugkeer gespot. Hy was dan die “chosen one”, vir wat hang hy nou hiér rond?
Van hulle het maar gepoach, of hier en daar werkies op die dorp gedoen. Maar die groot verskil tussen hulle en hom was dat hulle nooit gedink het hulle sou uit Hawston kon wegkom nie. Maar hy het. En wat is wreder as hoop wat van jou weggeneem is?
Vroeër was hulle jaloers op hom, maar nou staan hy nes hulle in ’n overall en wag langs die pad. “Die irony, my broe,” met ’n wysvinger in sy gesig. “En nou, wies djy nou, huh? ’n Fokkol.”
Hy het soms by sy oom Stan gecasual. Instandhoudingswerk: deure hang, verf, kaste inbou. Van die ouer manne vra hom toe een lunchtyd om gou oor te draf na die rastas vir ’n R5-zol. Dis toe die werk weer opraak – oom Stan het belowe om te laat weet as daar iets opkom – dat Everest terug is na die rastas met ’n idee.
Hy het klein begin: ’n paar bankies snags in die parkeerareas agter kuierplekke. Net in Hermanus verkoop, nooit in Hawston self nie. Wil nie met die bendes deurmekaar raak nie. Gebruik (of misbruik) nooit sy eie handelsware nie. “Ek stink mossie na babapoeier nie.”
Hy het die wit mense leer ken en verstaan. Geleer dat jy altyd netjies moet lyk. En as jy een keer ’n slegte produk verkoop, sal hulle jou nie sommer weer vertrou nie. Maar as jy hulle eers hét, en hulle jou nie opdringerig vind of as ’n bedreiging ervaar nie, haak jy hulle vir altyd. En betaal, betaal hulle.
Hy het ’n gereelde klandisie tussen die rykmanswonings begin opbou. Getjommie-tjommie by die mans wat by die gholfbaan uit die kroeg stap, spottend gevra of hulle al gehoor het van sy twintigste putjie. Sy kleurvolle Afrikaaps als deel van die verkoopsman-teater (en beslis nie iets waarmee hy op Stellenbosch te koop geloop het nie).
Natuurlik net vir sekere mense sy selfoonnommer gegee. Sy kliënte weet waar om hom te kry: weeksoggende by die ou hawe, voor die hotelle en eetplekke waar die uitlanders so graag sit. Anders doen hy huisbesoek, vir ’n paar rand ekstra.
’n Betroubare naam loop vanself. Ryk vriende vertel vir hulle vriende. Die kuns is om te weet wanneer om ja te sê en wanneer om te sê jou voorraad is op. Hy was nog net een keer gevang, maar sonder genoeg bewyse is hy weer laat gaan.
Sy produktelys het uitgebrei: bietjie kokaïen, bietjie E uit die Kaap. Maar net as hy dit by ’n betroubare dealer kon kry. Niks tik nie. Hy wou nie te betrokke raak by die junkies nie.
Dagga het die fondasie van sy besigheid gebly. Clean fun. Meestal vir mense wat verveeld is en bietjie opwinding in hulle grênd sesslaapkamerhuise soek. “Sieke te min problems.” Veral as hy die weelde sien waarin hulle leef.
Toe hoor hy van Lennet, die whitey wat elke nou en dan daar verbykom in sy ou, sonverbleikte Mercedes. Sy produk is glo ordentlik, the real thing. Geen pips nie, en geurig.
“Hoe lykit, Lennie? Ek verpan als wat djy kan bring.”
Die eerlikheid van Everest se storie, en seker maar die whisky ook, het hom daardie oggend oortuig.
Daar word nié op Tierdrif gemors nie, alle vullis word gesorteer – ’n omgewingsvriendelike gewoonte wat Lennet ook by sy gaste probeer kweek. In die hoop dat hulle dit by hul eie huise sal voortsit en die wêreld só ’n beter plek sal maak. Noem hom sommer weldoener.
Maar nee, eintlik steek dit hom net dwars in die krop om enigiets wat herwinbaar of steeds bruikbaar is weg te gooi. Daarom het hy elke drom in die kombuis met ’n plakker en sy netjiesste handskrif gemerk: Organiese vullis / Organic waste; Herwinbare vullis / Recyclable waste; Algemene vullis / General waste. Duideliker kon hy dit sekerlik nie maak nie.
Maar al sy goeie bedoelings verbrokkel toe hy die eerste herwinningsdrom se deksel afhaal. Want daar, bo-op ’n toring drankbottels en bebloede foamalite-bakkies waarin vleis was, lê ’n halwe boereworsrol en ’n gebruikte kondoom slap oor ’n visgraat gedrapeer.
Hy kyk nie verder nie. Pluk die sakke uit, knoop toe en dra buitentoe. Werp dit eenkant op die stoep sonder om te probeer onthou watter een is wat. Daar’s nie ’n manier dat hy die varke se vullis vir hulle gaan sorteer nie!
Hy karwei die spul met die kruiwa na die klipplaat duskant die karavaan.
Die vlamme klim teen die swartsakke op. Die plastiek retireer voor die hitte, krimp weg en smeul tot rook, ’n hopie niks. Hier en daar ’n flikkering as papier of iets vlambaars aan die brand slaan.
Dit verbaas hom dat hy nie skuldiger voel nie. Hy sal normaalweg nooit só van huishoudelike vullis ontslae raak nie. Maar dis nou amper terapeuties, of simbolies of iets. Om te staan en kyk hoe die varke se gemors brand. Hoe hulle nalatenskap hier op ’n hoop lê, waar die vuur net roet en as sal oor los.
Hy tree terug toe die walms te verstikkend raak.
Die hele tyd bly Everest in sy gedagtes. Everest wat vriend was, maar wat nie by hul reëlings kon hou nie.
Everest wie se gulsigheid hom nou oor sy drumpel gebring het.