Читать книгу Moord per suurlemoen - Jelleke Wierenga - Страница 6
Op die verkeerde plek op die regte tyd
ОглавлениеBrunhilde is besig om suurlemoene op te tel toe ek gaan kyk by watter veldslag sy my wil betrek. Met my vlugge verstand sit ek gou een suurlemoen en een suurlemoen bymekaar en kom tot die gevolgtrekking dat sy die blaffers van ’n afstand af gaan probeer aanrand. Sy pak ’n hele arsenaal vitamien C-belaaide missiele op die muurtjie van die dammetjie. Toe spring sy op die muurtjie met ’n uitdrukking wat ek net as moorddadig kan beskryf.
“Vat so, jou vrekselse varkgesig!” skree sy en gooi ’n suurlemoen oor die kanferfoelieheining.
Ek wou haar nog daarop wys dat worsies en spanjoele tegnies gesproke nie plat varksnoete het nie, maar ek besef gelukkig betyds dat sy my in haar adrenaliengedrewe toestand ernstige leed kan berokken. Ek besluit dus om die situasie bloot op onbetrokke wyse te observeer.
Ek glo dit was haar bedoeling om óf die worsie óf die spanjoel raak te gooi, maar die halfvrot suurlemoen plop onskadelik ’n hele paar meter van hulle af neer.
“Verdomp!” skree Brunhilde, en gooi nog ’n suurlemoen, en nog een, en nog een, en nog een … Geeneen van haar missiele tref die lewensgroot blaffende teikens nie, maar saai verwoesting onder onskuldige omstanders soos miere, sprinkane, duisendpote en wurms.
Die honde is nou histeries aan ’t blaf en kef. Hulle voel waarskynlik aan dat die vlieënde suurlemoene nie vriendelike vuur is nie.
“Pateties!” merk ek op waar ek langs Brunhilde op die muurtjie staan. Haar tegniek verontrus my so dat ek skoon vergeet van my rol as onbetrokke observeerder. “Ag nee, jy’t vreeslik agteruitgegaan vandat ons laas krieket gespeel het. Ek het so mooi verduidelik hoe jy –”
“Moenie paphande daar staan nie!” gil Brunhilde. “Gee vir my nog suurlemoene aan!”
Ek spring van die muurtjie af en klim op die trapleer langs die suurlemoenboom. Ek pluk vir my ’n ferm krieketbal af. Ek het ’n goeie uitsig op die veld.
“Kyk, Brunhilde …” begin ek, immer die geduldige leermeester. “Só …” Ek hou met my linkerhand aan die leer vas en swaai my regterhand onder van my bobeen af op deur ’n volsirkel …
Doef! Die paaltjies kantel nie, maar hulle hardloop met ’n getjank weg.
“Mooi skoot!” gil Brunhilde van die kantlyn af. “Pot die ander een ook!”
Ek is heel in my skik met my sekure boulwerk en pluk nog ’n krieketbal af.
“Kyk nou mooi, Brunhilde, jy gebruik die krag van jou hele lyf om te boul, nie net jou voorarm nie …”
Doef!
En daar lê die buurvrou. Die moord waarmee die storie begin het, is gepleeg. Met die onwaarskynlike wapen van ’n suurlemoen. ’n Kwessie van op die verkeerde plek op die regte tyd. Of die regte plek op die verkeerde tyd. Of so iets.
Ek klim van die leer af. My bene bewe so dat ek skaars kan staan. “Ons moet gaan kyk of sy nog lewe,” sê ek met ’n stem wat nie soos myne klink nie. “Dalk het sy net flou geval.”
Ek loop na die hekkie tussen ons voor- en agtertuin, maar Brunhilde pluk my so hard terug dat ek amper agteroorslaan.
“Is jy gepik in jou bol?!” fluisterskree sy. “Mense sal ons sien en vir die polisie sê ons was daar. Sê nou iemand sien ons oor haar lyk buk …”
Ek gaan sit stadig op die muurtjie met my kop in my hande.
“Ons kan maar net sowel die polisie bel, Brunhilde. Ons doppies is geklink. Enige aap sal weet dis ons. Die plek lê vol suurlemoene. Van ons boom af. Hoe het hulle daar gekom? Iemand moes hulle gegooi het. Wie? Die buurkinders. Hoekom? Oor die blaffende honde waaroor hulle ma kom kla het. Hulle gooi toe sommer ook die buurvrou dood, want hulle is wrede, moordlustige tieners wat te veel TV kyk … En ons het nie eens ’n televisie nie, dis die ergste.”
Ek staan stadig op. My bene voel loodswaar. “Laat ons dit agter die rug kry …”
Voor ek twee treë kan gee, ruk Brunhilde my weer terug. “Is jy ’n agtergeblewene? Lees jy nie koerant nie? Ons gaan op die plek vir moord gearresteer word. Ons gaan agter in ’n vangwa gegooi word. Dan gaan ons in ’n tronksel gegooi word. Saam met moordenaars en verkragters. Jy weet seker wat dan gaan gebeur …”
“Nou wat moet ons doen?” Dis nie dikwels dat ek my suster om raad vra nie.
“Ons moet vlug! Nóú!”
Vlug klink na ’n aantreklike opsie in die lig van die alternatiewe wat Brunhilde uitgespel het.
Ek klim op die muurtjie in die hoop dat die situasie aan die ander kant van die heining al dramaties verbeter het. Die buurvrou lê steeds leweloos op die naat van haar rug tussen ’n klomp suurlemoene. Ek weet nie of ek my dit verbeel nie, maar haar oë lyk omgedop. Die twee honde is doodstil en nêrens te sien nie.
Ek en Brunhilde het nog nooit voor die gereg gevlug nie, maar vreemd genoeg weet ons presies wat om te doen. Ons gryp elkeen ons rugsak uit die gangkas en bondel klere in. Ons prop ook droëvrugte en neute, sardiens, ’n blikoopmaker, ’n sak geelwortels en waterbottels in.
“Tandeborsels!” roep ek.
Ek het ’n taamlike obsessie oor my tande. Ek kry gereeld nagmerries oor hoe hulle in my mond verkrummel. Dit het waarskynlik iets met my naam te doen. Eendag as ek ’n briljante sielkundige is, sal ek myself moet analiseer.
“Slaapsakke!” roep Brunhilde.
Ons gryp ons opgerolde slaapsakke uit die kas en gespe dit onderaan die rugsakke vas. Dankie tog vir ons netjiese ma wat ons tot raserny dryf met haar gedurige “’n plek vir alles en alles op sy plek”. Eendag sal ons haar nog baie dankbaar wees, sê sy altyd. Dié dag het gouer aangebreek as wat ek gedink het.
“Beanies!” roep ek.
’n Mus oor die kop kan enige mens amper onherkenbaar maak.
“Donkerbrille!” roep Brunhilde.
Tipies Brunhilde. Nêrens sonder haar donkerbril nie. Maar dis goeie vermomming saam met die musse.
“Kussings!” roep ek. “Vir onder ons klere om ons vet te laat lyk. Die polisie sal twee lang, maer tieners soek.”
Ons help mekaar om kussings om ons lywe te bind. Toe is dit ’n gesoek na groot genoeg T-hemde.
Ek sê dit eerder nie vir Brunhilde nie, maar ek het nog nooit so ’n eienaardige liggaam soos hare aanskou nie … ’n massiewe middellyf vol vreemde duike en bulte met lang, maer arms en lang, maer bene. Ek wonder hoe ék lyk, maar kyk liewer nie in die spieël nie.
Toe ons met die rugsakke op ons rûe staan, vra Brunhilde: “Waarnatoe?” ’n Verbasend logiese vraag.
“Ons gaan nie ver kom met ons voete nie,” sê ek, half hygend vanweë my omvang en die swaar rugsak. “Ons kan duimgooi. Ons kan maak of ons toeriste is. Niemand lyk snaakser as hulle nie.”
“En beroof word. Of vermoor. Lees jy nie koerant nie?”
“Ben …” sê ek.
“Ons kan nie by hom gaan wegkruip nie. Hulle sal ons heel eerste daar gaan soek.”
“… se broer het ’n motorfiets,” spel ek dit vir haar uit.
“Maar ons kan nie motorfiets ry nie!”
“Ben kan. Kom!”
Ons drafstap die paar blokke na Ben se huis. Party mense sou dit beskryf as skommel en skud.
“Dis dalk nie ’n goeie idee om Ben hierby in te sleep nie. Ons maak van hom ’n medepligtige,” hyg Brunhilde.
“En wat van my?” blaas ek bitter. “Ek sou nog rustig saam met Artemis Fowl in my slaapkamer gesit het as jy my nie by jou probleme ingesleep het nie –”
“Niemand het gesê jy moet ’n vrou doodgooi nie! Kyk in watter gemors het jy my laat beland!”
“Ék jóú … !” Ek is lus en slaan soos ’n tweejarige op die sypaadjie neer en gooi ’n vloermoer van formaat.
Dis hoe ek gewoonlik voel wanneer ek met Brunhilde se logika gekonfronteer word.