Читать книгу Moord per suurlemoen - Jelleke Wierenga - Страница 8
Wat gaan ons vir Ma sê?
ОглавлениеAs ek geweet het ek sou eendag ’n moordenaar wees wat agter op ’n motorfiets vir die polisie vlug, sou ek begin spaar het vir ’n valhelm en die rit geniet het.
Nou sit ek met ’n heldergeel fietshelm agter op ’n fantastiese toerfiets en vee trane uit my oë. Nie van spyt of hartseer oor die moord nie, maar van die wind. Die stofbril se rek is so los dat die wind dit van my gesig afwaai.
Ben bestuur rustig en windvry agter die skerm van die motorfiets en die skerm van sy wit valhelm. Ter wille van ons veiligheid gun ek hom elke luukse. Maar ek wil stik van bitterheid oor die onregverdigheid van die lewe as ek sien hoe die prinses in die syspan behaaglik sit en rondkyk. Die skerm van die Velorex keer omtrent alle wind af. Én dan dra sy nog die enigste ander valhelm met ’n skerm.
Terwyl ek Brunhilde so tussen die trane deur aangluur, begin sy benoud gebare maak. Dalk het my gedagtes meer krag as wat ek besef. Sy gryp Ben aan die bobeen op ’n manier wat geensins romanties is nie. Hy hou gelukkig kop en beduie dat hy sal aftrek.
Ons het skaars stilgehou, of Brunhilde gil: “Ma! Wat van Ma?!” Was ek ’n meisie, het ek saamgegil, want dit is voorwaar ’n skok dat ons heeltemal van Ma vergeet het.
“Ma gaan haar dóód bekommer! Sy gaan nie weet wát van ons geword het nie! Sy gaan dink die polisie het ons êrens toegesluit en wil nie vir haar sê wáár nie! Ons moet haar nou dádelik bel!”
Ben haal ’n selfoon uit sy baadjie se sak. Wanneer hy dit daarin gesit het, weet ek nie. Ek sal nie verbaas wees as dit ’n foon net vir die leerbaadjie in die garage is nie.
“Wag!” keer ek. “’n Selfoon is gevaarlik.” Ek mag nou wel tegnologies gestremd wees, maar ek lees darem koerant. “Dit verklap jou posisie. Skakel jou foon dadelik af. Ons sal van ’n landlyn af moet bel.”
“Wat ons waar kry?” wil Brunhilde weet.
“Ons moet by Kruispad petrol ingooi,” sê Ben. “Julle kan van die hokkie by die kafee af bel.”
Kosbare vlugtyd word by Kruispad vermors omdat ek en Brunhilde hewig verskil oor wat ons vir Ma moet sê. Ek hou vol dat hoe minder Ma weet, hoe minder kan die polisie uit haar pers. Brunhilde wil sommer met die hele sak patats vorendag kom en selfs die dorp noem waar ons gaan skuil. Dis vir my baie duidelik dat sy nog nie een van die ses-en-dertig episodes van Prison Break op Ben se iMac gesien het nie. Sy het géén idee van hoe ’n mens eintlik voor die gereg moet vlug nie.
’n Groepie plaaslike inwoners drom intussen belangstellend om die Wing en syspan saam. Dis duidelik die opwindendste ding wat in ’n lang tyd hier rond gebeur het.
Ek besluit om op my eersgeboortereg aan te dring. Ek is ’n minuut voor Brunhilde gebore en dus die oudste en verstandigste. Ek bel ons huisnommer en laat die volgende kriptiese boodskap op die antwoordmasjien: “Ma, ons is veilig. Ons is baie lief vir Ma. Ma moenie bekommerd wees nie, hoor.”
Hier teen die einde begin my stem kraak.
Ma verdien dit nie om twee moordenaars vir kinders te hê nie. Dis erg genoeg dat Pa dood is. Ons moes ons huis in Bellville verkoop om te betaal vir Pa se chemoterapie en bestraling en al die behandelings wat nie gewerk het nie. Toe trek ons na Klipkuil in die Klein-Karoo. Ma is nou ’n sjef by die Volkskombuis, ’n restaurant op die dorp.
Brunhilde vee trane af. “Jy weet,” sê sy vir Ben, “Ma kom omtrent elke aand eers ná elf by die huis. Doodmoeg. En dan’s sy weer vroeg op om saam met ons ontbyt te eet.”
Asof Ben, wat amper elke dag by ons is, dit nie reeds weet nie. Maar Brunhilde se toestand vereis blykbaar dat sy dit vir hom moet uitspel.
“Ma sal nooit dat ons eiers of hoenders eet wat uit fabrieke kom nie. Die ligte gaan nooit af nie en die arme goed se snawels is afgesaag en hulle staan die hele tyd in hierdie klein draadhokkies.”
Nou huil Brunhilde kliphard, waarskynlik meer oor die lot van fabriekshoenders as oor Ma.
Ben vroetel in sy baadjie se sakke rond en trek ’n spierwit sakdoek uit, netjies gestryk en gevou.
Hy druk die sakdoek in Brunhilde se hand. Toe trap hy rond soos ’n skrophoender wat nie weet hoe en of en wanneer die eier gelê moet word nie.
“Wel,” sê ek, “dit lyk vir my nou na die aangewese tyd om verder te vlug.”
Ek geniet die res van ons vlugtog sonder wind in my gesig of trane. Brunhilde het van haar valhelm afstand gedoen, maar nie sonder betaling nie. Die onregverdigheid van die situasie het hoegenaamd geen indruk op haar gemaak nie.
“Twee strykbeurte.” Sy’t haar onverbiddelike gesig opgesit.
Ek het dadelik ’n klaaglied aangehef. Die ongemaklike waarheid is egter dat ek glad nie omgee om te stryk nie. Nog erger, ek hóú daarvan om te stryk … My gedagtes loop ver en diep draaie terwyl die strykyster sy gang gaan. Ek wonder of daar ’n groep soos Strykers Anoniem is waar ’n mens in ’n kring sit en bely: “My naam is Sus-en-so en ek hou van stryk.”
Die feit dat ek ’n bobaasstryker is, is natuurlik iets wat ek nie graag by die skool verkondig wil hê nie. Ek ys vir die dag dat Brunhilde my hieroor gaan afpers. Dus sorg ek dat ek dikwels in haar teenwoordigheid kerm oor hoe moordend vervelig dit is om te stryk.
Dis voorwaar manjifiek om agter op ’n groot motorfiets te sit en die natuur van agter die skerm van ’n valhelm te aanskou. Die lug is heerlik koel en vars wanneer ons verby ’n dam of rivier ry. Toe ons stadig om die draaie van ’n bergpas gly, stoot ek die skerm op en ruik die vars geur van bossies en berglug. ’n Mens kan amper aan die wolke raak.
Bakenskop, die dorpie waarheen ons vlug, is so sestig kilometer van Klipkuil af. Ons het saam met Ma op Bakenskop gaan huis soek voor ons ’n plek op Klipkuil gekry het.
’n Paar kilometer voor Bakenskop trek Ben op ’n plaaspad af. “Ons sal die fiets moet wegsteek. Dit gaan te veel aandag trek op die dorp. Hier’s ’n ou skuur verder op met die pad. Die baas van die plaas is ’n ou skoolpel van my pa. Skatryk ou van Johannesburg wat net af en toe hier kom.”
“Hoe gaan ons op die dorp kom? Wat van ons klere? En my skoene?” Brunhilde lyk nie gelukkig nie.
“Laat wiel skuur toe, Ben,” sê ek. “My suster kan net hier vir die ryk Johannesburger wag om haar met sy Merc dorp toe te bring.”
’n Uur later stap drie figure langs die teerpad in die rigting van Bakenskop. Verskeie voertuie verminder spoed om die vreemde verskynsels te aanskou. Twee van die verskynsels is ongesond oorgewig om die middellyf, maar so maer soos stokinsekte bo- en onderlangs.
Al wil ek, kan ek nie my duim uitsteek om te ryloop nie, want al tien my vingers is om die handvatsels van plastieksakke gehaak. Ben is nog swaarder belas, met plastieksakke wat selfs van sy gordel bengel. Brunhilde het daarop aangedring dat alles wat sy ingepak het, saamkom “ingeval die Wing gesteel word”.
“Ek’s doodhonger,” het Ben verklaar toe die Wing in die skuur staan. “As ons van die kos eet, is daar minder om dorp toe te dra.”
Terwyl ek en Ben op ’n baal strooi sit en sardiens met ons vingers uit ’n blik eet, pak Brunhilde al die goed uit die Wing en die syspan. Sy sit my en Ben se goed eenkant neer, nie juis met die grootste versigtigheid nie. Haar goed organiseer sy in hopies op die strooibale. Toe pak sy dit in die een of ander georganiseerde volgorde in die plastieksakke wat Ben uit die agterkoffer van die Wing opgediep het.
Ek hou my mond dig toe, behalwe om te eet.
Toe Brunhilde klaar is met haar herorganisasie, gooi ek en Ben ons goed in die paar oorblywende plastieksakke en dra die hele spul uit. Ons stoot die fiets in ’n hoek van die skuur waar ’n mens dit nie van buite deur die venster kan sien nie.
Ben trek die swaar houtdeure van die skuur toe. Ek voel half bekommerd om die mooi masjien daar te laat agterbly.
Ben vroetel in die binnesakke van sy leerbaadjie rond. “Dit moet hier êrens wees.” Hy trek ’n dunnerige ketting uit en draai dit ’n paar keer om die soliede ysterhandvatsels van die deur.
Ben voel-voel weer in sy binnesakke rond. Hierdie keer kom ’n kleinerige hangslot te voorskyn. Hy haak dit in twee skakels van die ketting en knip dit toe.
Dié veiligheidsmaatreëls laat my nie juis gerus voel nie. Selfs die onhandigste dief knip die spulletjie in ’n japtrap met ’n tang af.
“Moenie hom vlak kyk nie.” Ben glimlag tevrede. “Dis ’n nuwe soort metaalallooi. Twee keer sterker as titaan en staal. Roes ook nie. Jy sal nie eens met ’n kettingsaag deur hom kom nie.”
“Het ons die towenaar van Oz in ons midde?” vra ek vir Brunhilde. “Wat gaan hy nóg uit sy sakke pluk? ’n Blikman sonder hart? ’n Voëlverskrikker sonder brein? ’n Leeu sonder moed?”
Ben haal sy skouers beskeie op. Hy was nog nooit eintlik ’n ou van veel woorde nie. “Nou ja, wie dra wat?” Hy bekyk die plastieksakke wat soos veelkleurige blomme om ons rondstaan.
Dit was ’n heeltemal oorbodige vraag. Ek en hy dra alles. Nee, ek oordryf nou. Brunhilde dra darem haar mus op haar kop, haar donkerbril op haar neus, haar handsak oor haar regterskouer en ’n sakkie met neute en droëvrugte in haar linkerhand.
Ek hét beswaar aangeteken teen die onregverdige vragverdeling, maar Brunhilde het my bloot geïgnoreer. Vir Ben het sy so geprys oor sy spiere en oor hoe manlik en dapper en hoflik hy is dat hy later eintlik dankbaar was dat hy soveel van haar goed mag dra.
“Brunhilde,” hyg ek terwyl ons in die bakkende laatmiddagson langs die teerpad aanstryk, “ek wil nou nie ondankbaar of iets klink nie, maar ek en Ben het nie duime oor om op te lig nie. Wil jy nie maar een van jou oulike duimpies rondswaai nie? Dalkies kan ons nog voor sononder onder ’n koel stort staan.”
Die woorde “koel stort” doen die ding. Brunhilde steek dadelik haar duim in die lug.
“Links!” hyg ek. “Draai jou duim links na die dorp se kant toe. Ek’s nog nie reg vir ’n geleentheid boontoe nie.”
Ons hoor ’n vragmotor met ’n gesnork van agter af aankom. ’n Ou bruin Dodge-lorrie ry stadig verby ons. ’n Rukkie later stop hy in ’n stofwolk op die skouer van die pad.
“Kom, julle!” skree ek en begin hol.