Читать книгу Moord per suurlemoen - Jelleke Wierenga - Страница 7

Voortvlugtiges

Оглавление

Ben se slaapkamer is op die solder van hulle groot ou Victoriaanse huis. Waar ek en Brunhilde gewoonlik die trap op hardloop, sleep ons ons vandag soos emfiseemlyers aan die trapreling op.

Ek wil nog klop, goed opgevoede kind van my ma wat ek is, maar Brunhilde bars sommer by die deur in.

Ben slaan amper agteroor in sy wieletjiestoel. Soos gewoonlik sit hy voor sy iMac, besig om een van sy honderde rekenaarspeletjies te speel.

“Wat maak julle hier? Wie’s julle?” vra hy, oë groot. Ek sien sy hand kruip na die kannetjie pepersproei wat altyd op sy lessenaar staan.

“Dis ons!” sê Brunhilde vererg.

“Wie’s ‘ons’?”

“Is jy so toe soos Tupperware? Óns!” gil Brunhilde.

Natuurlik klaar dit onmiddellik alle verwarring en verskrikking op, want daar’s net een mens wat so kan gil.

Ons haal ons donkerbrille en musse af, maar iets pla Ben nog.

“Hoekom is julle skielik so … e … uhm … vet? Nie dat dit my pla nie, hoor.” Hy kyk vinnig na Brunhilde. Sy kan dalk ontsteld raak oor die woord “vet”.

Brunhilde gaan ’n model word. Of ’n aktrise. Of ’n operasangeres. Die wêreld gaan in stomme bewondering voor haar kniel. Die woordjie “vet” pas eenvoudig nie in die prentjie nie.

“Wat jy hier sien,” sê ek vir Ben en beduie na my omvang, “is die gevolge van te veel bruinrys, lensies en groente. Ek hét my ma gewaarsku dat dit meer kilojoules as roomys bevat. Die arme Brunhilde se toekomstige loopbaan –”

“Kussings,” knip Brunhilde my kort. “Die polisie soek ons. Bruno het die buurvrou met ’n suurlemoen vermoor.”

Ek vertel liewer nie van die woordewisseling wat hierop tussen my en my suster losgebars het nie. Dit bring Ben darem op die hoogte van sake.

Ben lug sy mening. “Sê nou sy’s nie dood nie. Dalk loop sy al weer springlewendig rond en hier is julle aan die vlug.”

“Dink jy vir een oomblik sy gaan ons nie by die polisie aankla nie?” Brunhilde wring haar hande soos dit ’n toekomstige wenner van Oscar-beeldjies betaam. “Sy gaan sê ons het haar aangerand. Sy gaan sê ons het haar én haar honde aangerand. Dis poging tot moord. Ons gaan saam met ’n klomp moordenaars en verkragters opgesluit word.”

Ek werp my stuiwer in die armbeurs. “Dis ’n moordsaak, al het jy iemand per ongeluk doodgemaak. Die polisie sluit jou dadelik toe, al dink hulle dit was net strafbare manslag.”

“Was dit nie strafbare vrouslag nie?” vra Brunhilde.

“Ha-ha, nie sleg vir ’n logikagestremde nie.”

Brunhilde gee my ’n vernietigende kyk. Dan swaai sy om na Ben en verduidelik met een asemteug ons plan van aksie en sy plek daarin.

“Nee, nee en nee. My broer gaan my vermoor. Hy’s heiliger oor sy Gold Wing as oor sy meisie.” Ben lyk glad nie gelukkig nie.

Ek en Brunhilde gaan sit met ons gekussingde lywe op sy bed, want ons pas nie in stoele nie. Daar is nie tyd om die kussings af te haal nie, want ons is voortvlugtiges.

“En ek moet ry?” Ben lyk nóg ongelukkiger. “Ek het nog net een keer met die syspan bestuur … dis nie dieselfde as net die motorfiets nie, die balans is heeltemal anders. En julle weet ek het nie ’n lisensie nie …”

Ek besef skielik dat ons dalk te veel van ons vriend vra. Hoekom Ben met ons vriende gemaak het toe ek en Brunhilde twee jaar gelede op die dorp aangekom het, weet ek nie. Hy’s baie gewild. Een van die skool se beste rugbyspelers. (Ek en Brunhilde glo rugby is vir intellektueel agtergeblewenes. Ons verkondig hierdie minderheidsmening van ons nie baie luid nie.)

Ben se ouers is stinkryk. Hulle het ’n supermark én ’n drankwinkel. Hulle is amper nooit by die huis nie. Ben kan kom en gaan soos hy wil. Hy kry gereeld die blinkste en beste by sy ouers – die nuutste iMac, die slimste iPhone, ’n Bose SoundDock digitale musiekstelsel, rakke vol CD’s, DVD’s en rekenaarspeletjies. Hierdie jaar het sy Mac ’n Intel-vierkernstelsel met ’n skerm van sewe-en-twintig duim. Die hele rekenaar is in die skerm ingebou. Ek sou dag en nag op die internet gewees het as dit myne was.

Ons groen en gesonde huishouding se versameling elektronika bestaan uit ’n radio/CD-speler waarop ons musiek van Bach, Beethoven, Tsjaikofski en sulke oorlede ouens speel. Ma het ’n tweedehandse Nokia-selfoon waarmee jy ’n inbreker kan doodgooi. En ek moet my maar troos met die ensiklopedie in ons troonkamer.

Ben kan elke dag hamburgers met slaptjips en ’n halwe bottel tamatiesous eet as hy wil. En roomys en vla. Slaai en groente is opsioneel.

Ek kan ’n hele paar paragrawe lank so aangaan. Dan is Ben volgens Brunhilde nog aantreklik ook. Dis ’n afdeling waarvan ek nie veel weet nie.

Ben is amper meer by ons huis as syne. Ek dink nie dis oor my onderhoudende geselskap nie. Ek betrap hom dikwels dat hy met ’n vreemde uitdrukking op sy gesig na Brunhilde staar.

Ben se broer Marius studeer in die Kaap. Hy kom gereeld huis toe met sy meisie, vir wie hy spesiaal die syspan aan sy Gold Wing laat sit het. Die fiets staan in een van sy pa-hulle se drie motorhuise totdat hy ’n garage in die Kaap kan kry.

“Ek kan in helse moeilikheid beland as die polisie my aftrek. Ek kan toegesluit word … ek kan ’n rekord kry … Die hoof kan my uit die eerste span skop … of dalk uit die skool …”

Ek en Brunhilde luister stil na Ben se besware. Die stilte hang swaar in die lug toe hy klaar gepraat het. Hy begin ongemaklik rondskuif.

“Wat nou?” vra hy.

Brunhilde kyk hom hartseer aan.

“Ben,” sê sy ná ’n swanger pouse, “ons mag jou nie by hierdie ding insleep nie. Jy’s ons beste vriend. Dis nie reg nie. Dis ons gemors, eintlik Bruno s’n …”

Ek voel lus om die netjiese deken op Ben se bed in repies te skeur.

“’n Mens moet altyd verantwoordelikheid vir jou dade aanvaar. Dis hoe jy volwasse word.” Brunhilde praat Ma woord vir woord na.

Stilte.

Brunhilde: “Jy kan al my besittings kry as ek tronk toe gaan. Ek sal in elk geval nie lewend daar uitkom nie.”

Stilte.

Brunhilde: “Ek wonder of ek en Bruno nie maar moet teruggaan huis toe en die polisie bel nie …”

“Brunhilde!” Ben word rooi tot onder sy blonde haarwortels. “Ek sal nóóit toelaat dat hulle jou in die tronk gooi nie!”

“Dankie, Ben.” Brunhilde glimlag engelagtig. “Maar dan sal ons nou dadelik moet ry … die polisie sal ons eerste hier kom soek.”

My suster maak dikwels gebruik van ’n oorredingstegniek bekend as manipulasie. Dit kom daarop neer dat jy iemand so skuldig en sleg laat voel dat hy of sy enigiets sal doen om jou te plesier. Op haar jeugdige leeftyd is Brunhilde reeds ’n meesterlike manipuleerder. Ek het haar al probeer behandel vir dié minder aantreklike karaktertrek, maar sy is helaas nog nie gereed vir terapie nie. Sy haal net haar skouers op en sê sy kan dit nie help dat sy gebore is met ’n talent om ander mense te oorreed nie.

“Nou waarheen gaan ons?” wonder Ben.

Ek en Brunhilde kyk na mekaar. Ons het nie familie by wie ons sommer kan inval nie. Ek onthou skielik van ’n ou skoolpel van Bellville, toe ons nog daar gewoon het.

“Wat van Dennis?” vra ek.

Brunhilde trek haar neus op. “Jy weet ek kan hom nie voor my oë verdra nie. Ek sal nie verbaas wees as hy al uit die skool geskop is nie. Hy –”

“Brunhilde, sal ons dan maar by jou getroude Franse leermeester gaan afsaal? Ek weet jy’s mal oor hom, gek en tot oor jou ore verlief –”

“Ag, bly stil!” spoeg Brunhilde. “Jy praat deur jou nek, soos gewoonlik.”

Ben lyk ontsteld.

“Nou goed,” besluit ek, “dan gaan ons na Dennis. Hy’t ’n buitekamer en ons kan daar bly sonder dat iemand weet ons is daar.”

“Dan gaan jy en Ben maar. Ek sal die polisie alleen hier inwag.” Brunhilde vou haar arms oor haar omvangryke maag.

“Julle,” sê Ben, “ons moet nou soos misdadigers dink. Waarheen vlug iemand wat moord gepleeg het? Na ’n groot stad toe, waar hy tussen die massas kan wegraak. Die polisie gaan padblokkades op al die paaie Kaap toe opstel. Dalk ook op die N1 na die noorde.”

Ben besit soveel rekenaarspeletjies met virtuele boewe dat hy al as kenner op die gebied van misdadige denke en optrede gereken kan word.

“En …?” vra Brunhilde skepties.

“Wel, ons doen die teenoorgestelde. Ons vlug na ’n dorpie hier naby, kruip weg en probeer om ’n goeie prokureur in die hande te kry.”

“Waar gaan ons bly?” Ek voel nie vreeslik lus om in die veld te gaan kampeer nie.

“Al gehoor van B&B’s, broer?” vra Brunhilde.

“Begin pak,” sê ek vir Ben. “Onthou jou tandeborsel.”

Daar is nie ’n stoffie op die Gold Wing nie. Ek wonder of Ben-hulle se huishoudster elke dag die oortreksel afhaal, elke sentimeter van die fiets afstof en poleer, en dan die oortreksel in die verste hoek van die tuin gaan uitskud en versigtig weer oor die fiets trek.

Ek is meer ’n man vir boeke as vir masjiene, maar selfs ek kan ’n fiets soos dié waardeer. Dis ’n 1981-model GL1100 Interstate, ’n klassieke toerfiets met twee sykoffers en ’n agterkoffer, donker maroen met ’n goue streep. Die passasiersitplek het selfs ’n kussinkie vir jou rug.

Die ingevoerde Velorex-syspan is dieselfde kleure as die fiets geverf. Die fiets is klaar ’n spoggerige affêre, maar met die syspan aan maak dit dat mense teen lamppale vasloop.

“Probleempie,” merk ek op toe ek van die glimmende fietskoffers na ons rugsakke kyk. “Tensy hier ’n kompakteermasjien êrens in die garage is, gaan ons rugsakke nooit in daardie koffers pas nie.”

Ben kyk oor sy skouer. Hy is besig is om die motorfiets se sleutels onder die verfblikke op die rakke te soek.

“O ja,” sê hy. “Ek’t vergeet. Ons sal alles moet uitgooi en los in die koffers pak. Die klere kom in die sykoffers en die kos en ander goed in die agterkoffer. Die slaapsakke moet bly.”

Brunhilde trippel rond en trek haar hare.

“Hier’s hy!” sê Ben triomfantlik en hou die sleutels in die lug op. Hy sluit die motorfiets se koffers en die syspan se klein kattebak oop.

“Dis my en Ben se koffer dié!” keer ek toe Brunhilde van haar goed in ons koffer begin stop.

“My koffer is vol,” sê sy kortaf.

“Maar ons klere is nog nie alles in nie!”

“Mans kan met minder klaarkom.”

“Ek glo dit nie!” sê ek en gaan sit op ’n krat. “Ons is op ’n desperate vlugtog en kyk wat sleep sy saam: ’n massiewe handsak, ’n haardroër, ’n groot bottel sjampoe, ’n kombers van ’n handdoek, vier paar skoene … Moenie my sê dis ’n boks seeppoeier daai nie! Hoe de dinges het jy alles in jou rugsak gekry?”

“Ek hoef nie soos ’n boemelaar te lyk net omdat ek vlug nie!”

“Haai julle, ons moenie die koffers oorlaai nie!” waarsku Ben. Hy is besig om die skokbrekers te stel. “Die fiets trek klaar swaar met die syspan en ons is drie mense en julle is swaarder as gewoonlik.”

Ek haal my skouers op. “Dan vlug ek maar met die kussings en klere aan my lyf …”

Op die ou end het ek en Ben een helfte van een koffer behou. Brunhilde se skoene het die hele kattebak van die syspan volgemaak. ’n Hele paar goed het agtergebly, onder meer ’n woordeboek en wasgoedpennetjies. Sy was baie ontevrede.

“Wat van die rugsakke en slaapsakke?” vra ek.

Ben wys na die stapels bokse teen die mure. “Onthou net waar julle dit indruk. Ons kom miskien terug.”

“Wat kyk jy die bokse so?” vra ek.

“Dis dalk ’n goeie idee dat niemand agterkom die Wing is weg nie,” sê die misdaadkenner.

Ons span al ons gesamentlike meetkundige vermoëns in om met bokse, ’n fiets, ’n kruiwa en allerhande stukke tuingereedskap iets te bou wat soos ’n motorfiets en syspan onder ’n oortreksel lyk. Ek hoop maar die huishoudster kom stof nie die motorfiets af nie.

“Nou ja, wie sit waar?” vra Ben toe die argitekswonder voltooi is. “Brunhilde, ek dink jy moet agter my sit –”

“Ek sit in die syspan,” sê Brunhilde ferm.

Ben lyk nogal bekaf.

“Waar’s die valhelms?” vra ek.

Ben kyk rond. “Hier’s net twee.”

“Vat jy die kleinste een,” sê Ben en help vir Brunhilde om die valhelm oor haar kop te trek. Dit duur omtrent ’n ewigheid vir hom om die gespe onder haar ken vas te maak en haar te help om haar donkerbril weer op te sit en vir haar te wys hoe om die skerm op en af te skuif.

“Ben!” sê ek naderhand skerp. “Daar’s een valhelm oor en daar’s twee van ons. Wat nou?”

“Wat? O ja … Die polisie gaan ons beslis aftrek as een van ons sonder ’n helm ry. Is hier nie ’n fietshelm wat êrens rondlê nie?”

Ons vind ’n heldergeel fietshelm en ’n gekrapte stofbril met ’n slap rek. Dis natuurlik my lot om soos ’n ruimte-eeuse insek te lyk. Ek het my bedenkinge oor die wettigheid van ’n trapfietshelm en ’n stofbril op ’n motorfiets, maar dalk kan dit deurgaan vir ’n soort futuristiese valhelm.

Ben trek die swart leerbaadjie aan wat aan ’n haak in die garage hang. “Daar’s nog baadjies in die huis.” Hy bekyk ons krities. “Nee wat, dit sal nie pas nie. Julle moet maar so met die kussings en T-hemde ry.”

Hy stoot die swaar fiets en syspan stadig agteruit uit die motorhuis. Gelukkig is hy lank en groot vir sy ouderdom. As hy nie tot onder sy kuif bloos nie, kan ’n mens hom nogal aansien vir iemand wat al jare lank ’n motorfietslisensie besit.

Hy draai die motorfiets op die breë oprit om sodat dit straat se kant toe wys. Toe sluit hy ’n kassie op die fiets oop, haal ’n lap uit en benader die fiets soos ’n werktuigkundige wat met ’n dag se eerlike arbeid gaan begin.

“Wat nou?” vra ek.

“Gaan ons nog vandag wegkom?” Brunhilde trippel rond en probeer haar hare trek, maar alles is onder die valhelm ingedruk.

“Ek moet net eers kyk hoe lyk die olie, remvloeistof en banddruk. Moet ook die druk in die voor- en agterskokbrekers meet. Die fiets staan al amper twee weke. Broer maak my dood as dit iets oorkom.”

Ek sug lank en diep. Dis moeiliker om te begin vlug as wat ek ooit sou kon dink het.

Ben vroetel ’n ruk aan die fiets. “Dis die petrolkraantjie.” Hy wys na ’n metaaldingetjie. “Jy gaan nie ver kom as jy vergeet om hóm oop te draai nie.”

Ek rol my oë. Sonder dié stukkie inligting sou my lewe onvolkome gewees het.

Ben klim op die fiets. “Dis die smoorklep, die choke,” beduie hy en trek ’n knop uit. Hy draai die sleutel en druk ’n knoppie. Die enjin vat dadelik, maar met so ’n gebrul dat ek en Brunhilde na die naaste struik hardloop en platval. As die geraas nie al die dooies in die omgewing gaan laat opstaan nie, sal dit vir seker al die bure na hul kantgordyne lok.

Ben druk die smoorklep in. Nou grom die fiets diep en gelukkig, maar nog steeds teen ’n desibelvlak wat my senuwees laat ratel.

“Ons sal moet petrol ingooi.” Ben klim van die fiets af. Ek en Brunhilde staan nader om op te klim.

“Wag,” sê Ben. “Ek wil net gou kyk hoe lyk die koelmiddel.” Hy buk langs die fiets.

Teen hierdie tyd trippel ek saam met Brunhilde rond.

Uiteindelik sê Ben: “Klim!”

Brunhilde sukkel om met haar kussinglyf in die syspan te kom.

Soos blits is Ben om die motorfiets en slaan die syspan se kap op. Hy help Brunhilde soos ’n prinses by ’n koets in, slaan die kap af en knip dit vas.

“Sit jy nou reg?” vra hy bekommerd. “Pla die goed by jou voete nie te veel nie? Sit jou valhelm –”

Ek draai die versneller oop sodat die fiets ’n brul gee. Dit bring Ben vinnig terug na die linkerkant van die fiets.

“Jou valhelm,” sê ek. “Kan ons asseblief nou rý!”

Ben klim op, trek die koppelaar in en trap die ratpedaal af in eerste.

Uit-ein-de-lik ry ons. Halleluja! Tot voor die toe staalhek. Ben begin in sy sakke vroetel. “Waar’s die ding?” vra hy.

Die “ding” blyk die afstandbeheerder te wees. Wat Ben êrens in die motorhuis neergesit het nadat hy ’n eeu gelede ’n knoppie gedruk en die deur laat oopgaan het.

Toe Ben ná ’n paar jaar nog in die garage rondsoek vir die ding, praat die prinses in die koets in tale: “Nou vlug ek met my verdomde voete!” Met ’n verbasende ratsheid vir haar omvang is sy uit die koets en storm hek toe.

Ek sug moedeloos en laat my kop val, en met dié sien ek die elektroniese wonderwerkie op die troon wat Brunhilde so pas ontruim het.

Ek raap dit op en druk die eerste die beste blou knoppie. Dit sluit Ben in garage nommer een toe. Toe probeer ek die rooi en geel knoppies. Dit laat die ander garagedeure oop- en toegaan. Ben word amper onthoof terwyl hy uithardloop. Met die druk van die groen knoppie skuif die swaar staalhek oop. Brunhilde spring gelukkig betyds af.

Moord per suurlemoen

Подняться наверх