Читать книгу Moord per suurlemoen - Jelleke Wierenga - Страница 9
’n Twieling
ОглавлениеToe ons hygend by die lorrie kom, word ’n houtleertjie laat sak waarmee ons kan opklim.
Ons bevind ons in die geselskap van ’n groepie plaaswerkers wat op pad dorp toe is vir inkopies en geselskap. Almal sit op houtbankies wat agter op die stokou Dodge vasgebout is.
Sidderend en ratelend kom die lorrie weer in beweging. Dis redelik windvry danksy ’n blou seildakkie met net so twee of drie gate.
Vir ’n lang ruk sê niemand kwiek of kwak nie. Ons medereisigers beloer ons onderlangs en kyk vinnig weg as ons terugloer. Hulle is veral gefassineer deur die twee dikkes. Ek dink hulle het gou besluit Ben is min of meer normaal. Maar die twee wat tegelykertyd so vet en so maer is, kan hulle nie kleinkry nie. Een kleintjie op sy ma se skoot skree elke keer as ek na hom kyk.
“Hoekô het die antie en ooms suffel plêstieksakke?” fluister ’n seuntjie hard vir sy ma.
Sy ma klap hom op die been. “Moenie vi’ djou sta’ en ongeleerd hou voor’ie vriemde mense nie!” Die kêreltjie sit ’n keel op.
Ek voel sleg omdat die kind se weetgierigheid so negatief beloon word en voel ek moet iets sê. “Die antie hou baie van koop.”
’n Stem van agter roep: “Hulle’t kla’ die winkels lieggekoep. Seg vi’ die drywer hy moet briek aanslaan en omdraai!”
Dit breek die ys. Almal lag.
“Foei tog, nôientjie, in jou se toestand moet jy mos nie so langes die pad in die ongenaaklike son loep nie.” Die tandelose ou vroutjie met die verblindende oranje kopdoek kyk Brunhilde medelydend aan.
“Hoe ver het die juffrou nog om te dra? Ek is al die ene aarbene. Nog net ’n maand en ’n bietjie oor,” sê ’n vrou in ’n blou oorrok waarvan die knope skaars kan toekom. Sy vryf trots oor haar massiewe buik.
Brunhilde se mond gaan oop en toe. Ek grawe gou ’n waterbottel uit een van die plastieksakke en gee dit vir haar sodat sy iets konstruktiefs met haar mond kan doen.
Nou voel almal vry om Brunhilde se toestand te bespreek. Ek hoor twee ou ooms vir mekaar vra wat van die wêreld gaan word “as tjênners tjênners kry”.
“En is dié nou die pa?” Die tandelose vroutjie bekyk Ben wat langs Brunhilde op die bankie sit. “Ma’ dit gaan mos ’n móói tjênt wees!”
Ben bloos bloedrooi en trek sy mus amper oor sy oë. Die vroue lag te lekker vir die verwagtende pa wat so skaam is.
Een van die vroue is vas oortuig daarvan dat Brunhilde ’n jongetjieskind gaan kry oor sy so hoog dra. ’n Paar stem saam, maar ander reken die sywaartse boggel dui op ’n meisiekind.
Die tandelose ou vroutjie het ’n heeltemal ander teorie en lê dit baie oortuigend aan dese en gene uit. Sy het al twéé keer so ’n duik oor die middellyn van verwagtende vroue gesien, en dit dui net op één ding: ’n “twieling”.
Dié nuus het groot toejuiging tot gevolg. Van die mans agter in die lorrie kom vorentoe om Ben op die skouer te klop oor sy prestasie. ’n Bottel in ’n papiersak word mededeelsaam na hom uitgehou, maar hy skud skaam sy kop.
“Ons drink nie … ons vlug voor die koeëls van ’n alkoholis,” sê ek. Asems word hoorbaar opgetrek. Ek snak self na my asem oor dié dramatiese wending in ons lewens.
Ons drie se waarvandaan en waarheen is nou op almal se lippe. Van die agterste mense kom sit selfs in die paadjie by ons. Ons sakke word agtertoe aangegee en staangemaak by die twee ou ooms, wat bly sit waar hulle sit. Hulle het seker ook al alles gehoor en gesien.
Ek hou my hand in die lug op vir stilte. Ek begin nogal verstaan van Brunhilde se voorliefde vir die dramatiese oomblik.
“Dis ’n hartseer verhaal …” begin ek. Die volgende paar minute luister ek net so gefassineerd soos die toehoorders na wat oor my lippe vloei. Kortliks kom dit daarop neer dat ons van Parow is – “Jack Parow!” skree iemand en almal juig – en dat Stanley (Ben) vir Charmaine (Brunhilde) op die paal gesit het.
Ek loer onderlangs na Ben. Hy word afwisselend wit en rooi. Ek wonder of hy my vanaand met ’n opvoupanga uit een van sy baadjie se menigvuldige sakke die ewigheid gaan instuur.
Brunhilde sit soos ’n gewonde godin daar.
Die storie raak al hoe interessanter. Charmaine se pa is ’n gewelddadige alkoholis met ’n missie: om Stanley uit die lewe te help oor sy dogtertjie in die ander tyd is. Hy het Stanley al ’n paar skote met sy 9 mm-Beretta toegedien, maar Stanley het op wonderbaarlike wyse die lewe behou. Grusame littekens onder sy hemp getuig van sy noue ontkomings.
Die spanning, stres en algehele vlambaarheid van die situasie het so erg geword dat die drie van ons besluit het om na familie op Bakenskop te vlug.
Nou hoe pas ek in die prentjie? Ek is Charmaine se geliefde broer, Roger Moore. Ek hou altyd my beskermende hand oor my suster se kome en gane. Waar sy vlug, vlug ek. Al is my welstand nie van die beste nie.
Al die toehoorders kyk na my maag. Dis vir hulle so duidelik soos die daglig op hierdie Vrydagmiddag dat my omvang my welstand negatief beïnvloed.
“Ja …” Ek beduie swak na my opgeswelde voorkant. “My lewer. So groot soos ’n waatlemoen, sê die dokter. Hy’t my oopgesny, een kyk gegee en my dadelik toegewerk. Gewasse soos onkruid.”
Uitroepe van skok begroet hierdie nuus. Ek is self ontsteld oor my ongeneeslike toestand.
“Foei, foei, foei …” Die tandelose ou vroutjie se koppie skud soos dié van ’n knikhondjie in ’n motor se agterruit. “Ai, ai, ai, dit lyken my die verdrietagheid het julle swáár geslat …”
“Sjeim”, “sies tog” en tongklikke van simpatie en medelye klink op. So jonk en al so diep in die kloue van die klipharde lewe … Baie beter as Sewende Laan.
Wáár ons droewige verhaal vandaan kom, weet ek nie. My grys selle het iets van alles bymekaargehark. Alles fiksie, oftewel leuens. Een van die Groot Morele Waardes wat Ma my en Brunhilde gedurig probeer bybring, is dat ons altyd die waarheid moet praat. Al loop die leuen nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel, vertel Ma ons tot vervelens toe.
Intussen het ons op die dorp aangekom. Die lorrie hou met ’n ruk onder ’n groot bloekomboom oorkant ’n supermarkie stil.
Toe ons afklim, stop iemand ’n hoed in my hande. ’n Klompie munte en ’n paar verfrommelde note lê daarin. Ons medereisigers het in die stilligheid ’n kollekte vir ons drie ellendelinge opgeneem.
“Vir julle se behoeftes,” sê die ou tannietjie.
Brunhilde bars in trane uit. Dis nie algemeen bekend nie, maar sy het eintlik ’n klein ou hartjie. Gelukkig gee dit Ben die geleentheid om sy arm om haar te slaan en haar met ’n kraakvars sakdoek by te staan.
“Nee!” protesteer ek. Ek voel nou bitterlik sleg oor al my fabels en versinsels. Hierdie mense het van die bietjie wat hulle het, afgeknyp om drie vreemdelinge te help. Drie voortvlugtige en leuenagtige misdadigers …
“Baie, baie dankie, maar ons kan dit nie vat nie. Regtig. Ons sal regkom. Ons familie sal ons help …”
Maar hulle hou so aan dat ek naderhand maar die geld vat sodat hulle nie slegter as ons voel nie.
Ons skud hand met almal by die lorrie, ook die bestuurder en sy twee voorsitplekpassasiers, wat intussen by die ander van ons tragiese verhaal verneem het. Almal is aangedaan. Brunhilde snik steeds. Ben se arm is steeds om haar skouer. Hy’s die enigste een wat taamlik gelukkig lyk.
“Jy bieter nou ordintlik kyk na die meisietjênt wat jy in die anner tyd gesit het,” groet die tandelose tannie vir Ben. Vir my kyk sy net kopskuddend en medelydend aan.
Toe ons daar wegstap, hoor ek ’n vrou sê: “Sjeim, die meisiekind is nou al deur soveel skokke, dit sal verwonderlik wees as die bybietjie normaal uitkom.”
“Vergeet daarvan, suster. Dis die gouste manier hoe hulle jou opspoor.”
Brunhilde het voorgestel dat ons by ’n kitsbank geld trek vir ’n B&B. Ons het albei al ’n klompie geld gespaar van ons werk as kelners by die Volkskombuis.
“Wel, broer, ek sê jou nóú ek gaan nie in ’n park slaap nie,” sê sy op ’n minder aangename stemtoon.
Ons sit onder ’n boom op die gras by die munisipaliteit en tel ons geld. Ek en Brunhilde het gelukkig nog van die geld oor wat ons laas naweek verdien het.
Ben vroetel in sy baadjie se binnesakke. Ek het agtergekom daar’s tot in die rug van die baadjie sakke. Hy bring ’n dikkerige koevert te voorskyn. Daar’s ’n klomp R200-note in. Dis altyd daar, vir die wis en die onwis, sê hy. Teen dié tyd is ek en Brunhilde nie juis meer verwonderd nie.
Toe ons alles bymekaartel, is dit ’n stewige bedraggie, natuurlik omtrent alles Ben s’n. Die plaaswerkers se geld het hy veilig in een van sy duisternis binnesakke gebêre. Ons gaan nie daaraan raak totdat ons geld heeltemal op is nie.
“Ons sal op die meeste twee dae in ’n B&B kan bly hiermee,” sê Ben. “In ’n taamlik goedkoperige plek.” Hy reis dikwels saam met sy ouers en weet van dié klas van dinge. “Dan moet ons nog kos koop ook.”
“Ons gaan nie op jou nek lê nie, Ben,” sê ek in wat ek hoop ’n ferm stemtoon is. “Ek en Brunhilde sal kelners word en ons –”
“Ek’s rasend honger,” onderbreek Ben my. “Kom ons gaan koop iets om te eet.”
Toe ons al agt-en-twintig plastieksakke by die plaaslike supermarkie se pakkiestoonbank wil ingee, is die pakkiesmeisie glad nie geamuseerd nie. “Ons vat net vier op ’n slag. Ons kan nie die hele wêreld se goed hier stoor nie.”
“Wel,” sê ek, “dan gaan ons maar met vier-en-twintig sakke in. Ek wonder net wat die bestuurder sal sê …”
Die meisie trek ’n verergde gesig. “Nou kom pak dit dan self hier agter op die vloer. En julle beter dit gou kom haal, ek wil nie heelmiddag daaroor val nie.”
Ek en Brunhilde koop nie gebraaide wegneemhoender en tjips in gesmelte polistireenhouers nie, maar uit die mag van die gewoonte volgraantoebroodjies, vrugte, jogurt en water. Sekere mense sou dit as abnormaal beskou. Gelukkig koop Ben ’n hele gebraaide hoender in ’n sak en ’n groot plak neutsjokolade.
Die winkel is besig en ons sluip met ons kos uit sonder dat die pakkiesmeisie ons sien. Sy sou sweerlik agter ons aangehardloop het.
Terwyl ons al kouende aanstap en die inligtingskantoor soek, mymer ek oor waarom ek nou juis die skuilnaam Roger Moore gekies het. Ek is glad nie ’n aanhanger van James Bond-flieks nie. Waarom Roger Moore? Hoekom nie Sigmund Freud nie? Of Carl Jung? Of James Watson? Of Craig Venter? Maar Roger Moore is die eerste naam wat in my kop opgekom het.
Dit tref my soos ’n vuishou teen die voorkop. Ek steier terug en sou geval het as Ben my nie aan die arm gegryp het nie.
“Bruno, is jy okei?” vra hy besorg. “Het jy nie die boom gesien nie?”
“Hy’s spierwit,” sê Brunhilde. “Hier, drink ’n bietjie water.” Sy druk ’n waterbottel teen my lippe.
Ek vat ’n paar slukkies en gaan sit swakkies op die bankie by ’n bushalte.
“’n Gewete is ’n verskriklike ding,” sê ek vir Brunhilde en Ben. “Dit slaap nooit nie. Roger Moore. Moor. Moordenaar.”
Brunhilde voel aan my voorkop. “Dis dalk harsingskudding,” sê sy vir Ben.
“Skuld knaag soos kanker aan die gewete!” bars ek los. “Julle besef dit dalk nie, maar ek het nou net ’n ongelooflike deurbraak gemaak! Ek het die krag van die onderbewussyn ervaar! Dit is ontsettend belangrik vir my toekomstige loopbaan as sielkundige! Ek –”
’n Hele bottel yskoue water in ’n mens se gesig is genoeg om selfs ’n waansinnige tot bedaring te bring. Ek snak ’n minuut of wat na my asem. Water loop in straaltjies van my mus in my oë, oor my ken en onder my T-hemp in. Ek voel hoe die kussings swaar en nat teen my druk.
“Wás dit nou nodig?” proes ek.
“Ja,” sê Brunhilde, “maar as jy dit verkies, sal ek jou klap ook. Dis mos wat hulle met histeriese mense doen.”