Читать книгу Lot se vrou - Joan Hambidge - Страница 10

Die intieme aard van die digkuns

Оглавление

Hoe weet ek, vra jy my,

’n argument in ’n vers werk of nie?

Jy soek ’n reël, eis jy dringend; die juris

vra vir uitsluitsel, anders blote snuifsels van die gode.

Ek kyk na al die handleidings vir dié stil bedryf,

blaai verwonderd deur Ottone M. Riccio se boek,

ontdek ’n kaart van Praag: Hotel Jalta,

110 00 Praha 1, tel.no. 265541.

Nóg my naam nóg aankoms en vertrek

hier aangestip. Maar in my verbeelding

is ek weer op soek na Franz Kafka se huis

met die klein plattegrond in my hand

na ’n kontinentale ontbyt om ses,

verby die Krym Bar (dit was vóór die internet

ons blitsig kon konnekteer), af, af, af

tot voor die rooi dakke van die asemrowende stad.

Daar was ’n wagtende geliefde, ja,

en ek sou haar ontmoet in St. Petersburg

om die verlore Rembrandts te bespied.

“Die lewe is ’n reis,” staan dit opgeteken

in ’n klein notaboek, “en die liefde ’n hellevaart.”

Later in die Hermitage staan ons verwonderd:

“Die ontering van Haman” en in die meester

se fyn balans tussen donker en lig,

geskiedenis en verbeelding,

weet ek dat daar altyd iets buite woorde lê.

’n Gedig word voltrek in stille toeval.

Lot se vrou

Подняться наверх