Читать книгу Lot se vrou - Joan Hambidge - Страница 13

Die onbetroubare muse

Оглавление

Ons nag in Luxor

toe jy verdwyn

en ek wag in die klein kabine

en hoor hoe passasiers rumoer op die bodek,

selfs die kaptein bel om te hoor: is dit veilig?,

die patryspoort oopmaak en sien hoe twee geliefdes

in die aangrensende vertrek

(die twee logge skepe lê twee sardiens geblik)

met mekaar praat, foto’s van tempels laai op ’n skerm,

watter een sou ek nie nou kon raai,

dalk Karnak? Met ’n half-blinde Nefertiti

koekeloerend

op ’n poskaart gekoop op ’n mark

met gebottelde water,

Koningin Hatshepsoet

in die Deir el-Bahri,

het jou geweldig bekoor.

Daardie nag bevat al die elemente

van die einde van ’n verhouding

en ’n gedig se aanvang;

boonop wis ek nie tóé

dat die gegewe die werklikheid vooruitreis:

jy het in die nag spoorloos verdwyn

en my stil agtergelaat sonder adres

vir daardie poskaart,

’n blote hiëroglief.

In ’n andersoortige kamer,

wag ek steeds op jou:

’n stanza is immers ’n halte, ’n staanplek.

Nou val daar oggendlig oor die volta

van dié verdoemende gedig.

Lot se vrou

Подняться наверх