Читать книгу Zephany - Joanne Jowell - Страница 4
Proloog
ОглавлениеJy dink jy ken iemand. Veral jou eie ma. Jy weet wanneer sy kwaad of hartseer of platsak is, of ’n verrassingspartytjie beplan. Sy is so sleg met verrassings, jou ma. Jy weet dalk nie presies wat sy beoog nie, maar jy weet sy voer iets in die mou. Sy kan net nie haar eie opgewondenheid vir jou wegsteek nie. Dis nie asof daar ’n spiertjie in haar wang spring en of sy ’n geheime wegsteekplek vir geskenke het nie. Dis net omdat jy haar, ná al die jare, so deksels goed ken.
Jy dink jy ken iemand. Tot jy hulle nie ken nie.
Zephany Nurse het gedink sy ken haar ma. Tot dit geblyk het haar ma is nie haar ma nie.
Om billik te wees, Zephany Nurse het ook nie geweet sy is Zephany Nurse nie tot die dag dat sy uitgevind het haar ma is nie haar ma nie, haar pa is nie haar pa nie, en sy – wat haarself altyd net as Miché Solomon geken het – is eintlik iemand heeltemal anders.
Op 28 April 1997 word baba Zephany Nurse in Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal gebore as eersteling van die ouerpaar Celeste en Morné Nurse.
Op 30 April 1997 verdwyn Zephany uit die hospitaal. ’n Uitgeputte Celeste Nurse het ’n bietjie gedut. Toe sy wakker word, ontdek sy haar baba is weg, blykbaar gesteel deur ’n vrou wat haar voorgedoen het as ’n verpleegster. Celeste onthou sy het die vrou naby Zephany se wiegie sien staan net voor sy ingesluimer het.
Vyf dae ná Zephany se geboorte verlaat Celeste en Morné die hospitaal sonder hul dogter. Hul soektog om haar op te spoor sou 17 jaar duur.
Miché Solomon het grootgeword in ’n gelukkige huis as die enigste biologiese kind van Lavona en Michael Solomon van Retreat, Kaapstad. In 2015 begin sy as aantreklike tienermeisie haar matriekjaar aan die Hoërskool Zwaanswyk te midde van gerugte oor ’n nuwe leerling in graad agt wat soos haar dubbelganger lyk. Miché maak vriende met die jong Cassidy Nurse. Ook na háár mening lyk dié inderdaad na haar en sy geniet oënskynlik die ouer meisie se geselskap.
Omdat sy nie gewoond was aan buitengewoon positiewe of negatiewe aandag by die skool nie, was Miché effens verbaas om op ’n doodgewone skoologgend na die hoof se kantoor ontbied te word. Maar haar effense verbasing het in loutere skok verander toe Miché op daardie allesbehalwe gewone dag, reg daar in dié kantoor, ontdek dat haar hele lewe ’n leuen is. Lavona en Michael was nie haar regte ouers nie. Miché Solomon was nie haar regte naam nie, en sy sou nie daardie aand huis toe gaan nie.
Jy dink jy ken iemand. Veral jou eie ma. Tot dit blyk dat sy jou ontvoerder is.
Dis verwarrend genoeg vir my of jou wat van buite na die situasie kyk om te probeer sin maak van dit alles. Verbeel jou die verwarring vir die jong vrou in die hartjie van dié warboel.
Miché is nie haar geboortenaam nie, hoewel dit die naam op haar geboortesertifikaat is.
Miché is nie die naam wat deur buitestanders gebruik word nie, hoewel dit die een is wat gebruik word deur diegene in die binnekring wat dink hulle ken haar.
Miché is nie die naam wat ons gebruik het om haar te identifiseer sedert die storie bekend geraak het nie, maar dis die een waarmee sy haarself identifiseer, en die naam wat sy gekies het om te behou.
En dit is die naam wat sy hier bekend maak, nadat sy dit lank genoeg geheim gehou het.
Met dié besluit van haar word ’n baanbrekende hofbevel tot niet gemaak – ’n bevel wat die identiteit van Miché Solomon beskerm het tydens die drie jaar sedert sy wetlik meerderjarig geword het. Die regsgeleerdes en maatskaplike werkers wat hulle daarvoor beywer het om hierdie beskermingsbevel so gou moontlik nadat haar wêreld ineengestort het vir haar te bekom, het meer vermag as om haar net teen die indringerige blik van die media te beskerm. Hulle het haar die ruimte en privaatheid geskenk om ’n krisis te bestuur wat selfs die mees ervare psigoanalis sou laat kopkrap. Suigelingskap, die peuterstadium, adolessensie, volwassenheid – geeneen van dié ontwikkelingsfases met hul gepaardgaande krisisse kan kers vashou by die psigososiale katastrofe wat vermoedelik Miché se voorland was nie.
’n Mens kan met sekerheid sê dat ons almal op die een of ander punt in ons lewe voor ’n identiteitskrisis te staan kom, gewoonlik in ’n tyd van oorgang. Hoe suksesvol ons ons weg deur so ’n krisis vind, hang af van ons volwassenheid en die hanteringsmeganismes wat ons tot op daardie tydstip in ons lewe ontwikkel het. Dié strategieë is die blink sterre aan die sielkundige uitspansel: volharding, veerkragtigheid, kommunikasie, selfagting, bewustelikheid (“mindfulness”), bevestiging, geloof. Ek kan ’n bladsy vul met al die gonswoord-eienskappe wat ons nie eens weet ons het (of nie het nie) tot die geleentheid opduik waar ons hulle prakties uitleef.
Hopelik was tienerpuisies, katterige skoolmeisies en graadnege-vakkeuses ’n goeie oefenlopie vir Miché as dit by krisisse kom, want hier is die uitklophou wat haar buitengewone identiteitsdilemma betref: Dit het soos ’n donderslag uit ’n helder hemel op haar afgekom. Toe Miché Solomon vir Zephany Nurse ontmoet en ontdek hulle is dieselfde mens, wel … daar is beswaarlik ’n kategorie op die Richterskaal van skokke wat vir dié een voorsiening maak.
Ek is nie van plan om oor die moderne sielkunde en die relevansie van Erik Erikson se teorie oor die fases van psigososiale ontwikkeling uit te brei nie, maar ’n mens vra jouself af: Hoe het Miché Solomon haar ware identiteit ontdek en oorleef sonder om die pad byster te raak? Kan ’n 17-jarige meisie, aan die begin van matriek en op die drumpel van volwassenheid, die sielkundige trauma van ’n foutiewe gesteelde veranderde misleide identiteit hoegenaamd verwerk? Van watter soort stoffasie moet sy gemaak wees om ooit weer enigiemand te vertrou? Sy moet tog seker die kluts kwytgeraak het, van lotjie getik geraak het, uitgehaak het? Sou jy nie ook nie, as jy moes uitvind jou ma het jou hele lewe lank oor jou identiteit gejok?
As die alledaagse soort identiteitskrisis gaan oor verlies (van selfbegrip en wie jy nog altyd geglo het jy is) en verwarring (oor wie jy regtig is), dan is Miché se geval ’n woud. In een reuse-afkapping het sy haar ma, haar familie, haar herkoms, haar naam verloor. Sy het die fisieke én die eksistensiële verloor.
Ek het iets interessants uitgevind oor Erik Erikson, die sielkundige wat die konsep “identiteitskrisis” geskep en die agt ontwikkelingstadia vanaf suigelingskap deur adolessensie tot by laat-volwassenheid uitgestippel het. Erikson is self grootgemaak deur ’n man wat geblyk het nie sy regte pa te wees nie; nes Miché het hy ’n deel van sy vormingsjare onwetend met vals aannames geleef. Sy ma het buite-egtelik swanger geraak, uit haar tuisdorp gevlug en nie die naam van Erikson se biologiese pa bekend gemaak nie. Sy is later getroud met Erikson se pediater, wat hom aangeneem en hom sy van gegee het: Homburger. Erikson het eers laat in sy kinderjare die waarheid oor sy herkoms uitgevind en vir die res van sy lewe die letsels van hierdie wete gedra. Identiteitsontwikkeling het sy persoonlike sowel as sy professionele lewe oorheers. Sy dogter sou later opmerk dat hy sy “psigoanalitiese identiteit” eers gevestig het toe hy sy eie van geskep en aangeneem het: Erikson.
Afgesien van die ooglopende ooreenkoms met Miché se storie van haar ontdekking van die waarheid oor haar herkoms, lei die Erikson-verhaal tot die prikkelende vraag wat soos ou kougom aan die onderkant van ’n skoolbank aan enige identiteitskrisis kleef: Wat beteken ’n naam?
Zephany. Miché. Die twee name is nie heeltemal so verskillend of ver van mekaar as wat hulle klink nie.
Zephany het sy wortels in Hebreeus en beteken “Die Here het verberg”.
Miché is ’n vroulike vorm van Michael en beteken “wat soos God lyk”.
Maar delf ’n bietjie dieper, en jy kom af op Miché in die vorm van ’n werkwoord – ’n aksiewoord wat “om nors te wees, om te versteek/weg te kruip, om te verberg” beteken.
Zephany. Miché. Sy wat wegkruip. Sy wat verborge is.
Die verborgene.
Hierdie storie wemel van dubbelsinnighede. Daar is minstens twee van alles, of dit nou nuanse of rol betref: ma’s, pa’s, families, protagonis-identiteite. Dit is uiters verwarrend. Sewentien jaar lank is die hartverskeurende geval rondom drie hoofrolle uitgebeeld: die radelose ma Celeste Nurse, die verpletterde pa Morné Nurse, die ontvoerde baba Zephany Nurse. Newekarakters het van tyd tot tyd op die toneel verskyn – speurders, vals leidrade, skimagtige verpleegsterfigure. Toe kom die waarheid uit, en die storie het gou ’n warboel van wortels en takke bygekry. Dit was nie meer moontlik om die een kant van die familie bloot as “biologies” te klassifiseer nie, want hoe moet ’n mens dan na die ander kant verwys? Aanneemfamilie? Kunsmatig? Pseudo?
Wat alles nog meer raaiselagtig gemaak het, was dat “baba” Zephany, ofskoon nie meer ’n baba nie, nog nie wetlik meerderjarig (18) was nie en dus op geen ander wyse geïdentifiseer kon word nie as met die naam waaronder sy nog altyd bekend was: Zephany Nurse. En as Zephany nie geïdentifiseer kon word nie, het dieselfde gegeld vir haar ontvoerder, by wie sy nog heeltyd gewoon en wie se van sy gedeel het. Om Lavona en Michael Solomon te identifiseer sou die naald direk laat wys na Miché Solomon, hul enigste dogter en die kind wat onwetend die middelpunt van ’n ontvoeringsdrama was.
Die media het hul eie strategie ontwikkel om te help voorkom dat reëls oortree word. Hulle het ’n netjiese skeidsmuur in die middel van die storie gebou en die karakters in twee kampe gegroepeer: regte en steel-. Regte ma Celeste Nurse en regte pa Morné Nurse steelma Lavona Solomon (die ontvoerder) en steelpa Michael Solomon (die ontvoerder se man), al moes wie presies die stelery gedoen en wie anders daarvan geweet het nog in die verloop van ’n strafsaak bepaal word. Die hoofkarakter het deurgaans net een naam gehad: Zephany.
In my reis deur die kronkelpaadjies van hierdie storie het ek swaar op die regte/steel- kategorisering gesteun. Maar dit was asof ek dit net nie kon laat werk nie. In elke onderhoud of gesprek oor die storie het ek gevind dat die rolspelers in ’n dolle tweepasdans vasgevang is, dat hulle in my kop en op die bladsy heen en weer oor die skeidslyn beweeg. Ek het gewonder of dit die terminologie is wat my verwar, en ek het probeer om regte te vervang met “biologiese” en steel- met “wat haar grootgemaak het”: Celeste, die biologiese ma, teenoor Lavona, die grootmaakma. Al wat dit gedoen het, was om my op ’n syspoor te bring ten opsigte van die definisie van “ma” en die vraag rondom wat ’n ma definieer. Word moeders gebore of gemaak? Is hulle die wegspring- of die eindstreep? ’n Verstekposisie, of een wat verdien word? Is hulle die punt van herkoms, die reis, of die bestemming?
Ek het aanhoudend na die protagonis van die storie teruggekeer, met die veronderstelling dat hoe deurmekaar dit ook al vir my was, dit oneindig meer so moet wees vir Zephany. Maar namate ek my weg deur die storie se vele afdraaipaaie gebaan het, het ek mettertyd begryp my wie-is-wie-verwarring is nie ’n spieëlbeeld van Zephany se eie verwarring nie. Dit is ’n teenstelling. Vir Zephany Nurse, nee, vir Miché Solomon is haar steelma haar regte ma. Vanweë die gehegtheid wat sy jeens haar voel, kan die ma wat haar grootgemaak het net sowel die ma wees wat aan haar geboorte geskenk het. Boonop het Miché Solomon geen probleem daarmee om Miché Solomon te wees nie – hoe kon sy dus gevind word as sy nooit verlore was nie?
Vir byna twee dekades is die storie van Zephany Nurse aan ons voorgehou vanuit elke perspektief behalwe dié van Zephany Nurse self. Maar Zephany is ’n hersenskim – ’n gedaante met die vorm van ’n pasgebore baba wat deur trauma in die geheue ingebrand is. Miché Solomon – dáár is die bloed en binnegoed; dáár is die kloppende hart van die storie.
Maar daardie storie het ons nog nie gehoor nie. Is dit nie hoog tyd dat dit gebeur nie?