Читать книгу Zephany - Joanne Jowell - Страница 8
Hoofstuk 4
ОглавлениеVoor ons verder gaan met die storie, moet ek eers die werklike karakters opsoek.
Cassidy is die eerste lid van die Nurse-gesin wat ’n verskyning in Miché se lewe gemaak het, en gevolglik die eerste persoon wat ek graag wil ontmoet. Miché het ’n goeie verhouding met haar en sal met graagte ’n gesprek bemiddel. Afgesien van die vanselfsprekende rol van hoofprotagonis in haar eie biografie, is Miché ook die primêre skakel met die storie se ander rolspelers en moet sy haar goedkeuring gee dat hulle enige inligting bekend kan maak. Wat Miché betref is die jagseisoen op haar oop verklaar en is sy gereed daarvoor dat alle relevante partye hul volle, eerlike weergawe gee, hoe subjektief dit ook al mag wees.
Miché slaag egter nie daarin om Cassidy in die hande te kry nie. Sy erken dat Cassidy dit die laaste tyd nie maklik gehad het nie, dat sy baie rondbeweeg en in die moeilikheid gekom het by die skool. Kontak tussen hulle, meestal deur middel van WhatsApp, wissel skynbaar tussen eb en vloed, en vandag is dit laagwater. Ek sal dus moet wag.
MICHÉ:
Ek het dié oggend laat by die skool aangekom. Ek het ’n doktersafspraak gehad en moes daardie dag ook nog vir verbruikerstudie kook. Ek het al my goed skool toe gebring, reguit wiskundeklas toe gegaan en gaan sit. Ek het nog nie eers al my boeke uitgehaal nie toe die hoof, doktor De Bruyn, die klaskamer binnekom. Hy kyk na my en sê: “Juffrou Solomon, bring asseblief jou sakke en kom saam met my.”
Ek het gedink gits, wat het ek gedoen? Die jaar is nog jonk! Het hy my gesien stokkiesdraai by die tennisbane of iets? As jy in matriek is, moet jy ’n goeie voorbeeld vir die jonger grade stel, so dis nie ’n goeie ding om deur hom geroep te word nie.
“Waaroor gaan dit? Wat het jy gedoen?” wou my vriende weet.
“Nee, ek het niks gedoen nie, dis nog vroeg in die jaar!”
Ek stap toe by die hoof se kantoor in en daar sit twee vroue. Ek word vertel dat hulle maatskaplike werkers is, en ek herken een van hulle se naam – Leanna Goosen. Op die een of ander manier het dit vir my verband gehou met die dag toe Morné by McDonald’s aangekom het, en ek het gedink miskien het dit alles iets te doen met Cassidy en hoekom sy nou wegbly en nie meer so aanhoudend is nie.
“Hallo, hoe gaan dit?” het hulle gevra terwyl ek gaan sit. Hulle het reeds geweet wat my naam is. “Ons moet jou iets vertel. Vandag kan dalk ’n gebeurtenisvolle dag wees, die dag wat jou lewe verander.”
“Wat bedoel julle met ‘wat my lewe verander’ of ’n ‘gebeurtenisvolle dag’?” wou ek weet.
“Ons neem aan jy het al gehoor van hierdie meisie, Zephany, wat gesteel is,” het een van hulle gesê. “Wel, dit is wat nou aan die gang is …” En van daar af het hulle net op my afgekom met hierdie storie: dat ’n baba in 1997 ontvoer is toe sy ’n paar dae oud was; dat hulle enige moontlikheid dat dié kind nog lewe moet kan uitsluit; dat hulle enige moontlikheid dat ék dalk dié kind kan wees moet kan uitsluit; dat hulle DNS-toetse moet doen. Eerlikwaar, as ek nou daaraan terugdink, voel ek hulle het baie sterk op my afgekom met baie min inligting. Net: Hier het jy dit, dit is wat nou aangaan.
“Ek gaan nie ’n DNS-toets doen nie,” was my eerste reaksie. “Hoekom moet ek? Gee my meer inligting wat my regtig kan oortuig daar is ’n rede vir my om ja te sê vir ’n DNS-toets.”
Hulle vra my toe waar en wanneer ek gebore is.
“Retreat-hospitaal, 30 April 1997.”
Toe sê hulle – en dit is wat my geskok het – dat daar geen rekord is van ’n Miché Solomon wat op of rondom daardie datum in die Retreat-hospitaal gebore is nie.
Ek het totaal verbysterd gevoel.
Hulle sê toe daar is ’n ondersoek aan die gang. Daar was al reeds twee speurders en ’n maatskaplike werker by ons huis – “net om te praat”. My tannie was dié dag by ons huis – sy woon op die eiendom, maar met ’n aparte ingang – so hulle was besig om met haar te praat. Iemand anders het my pa by sy werk en my ma by haar werk gaan haal, het hulle gesê. Hulle het geweet van my broer, wat toe al getroud was, en waar hy werk. Hulle het selfs geweet waar my boyfriend werk.
Ek het onthou my tannie het gesê sy was seker sy word deur iemand in ’n wit kar agtervolg. Sy het my die meeste oggende skool toe geneem, en dieselfde persoon het definitief drie oggende ná mekaar agter haar gery. Maar ons het nooit gedroom dat dít die rede kan wees nie!
Ek het konneksies begin sien met Cassidy, Morné en al die weird goed wat met hulle aangegaan het. Ek was so kwaad, want dit het gevoel of hulle my by hul deurmekaar lewens en familie-issues insleep.
“Goed,” sê ek toe. “Kom ons doen die DNS-toets. Ek is seker dit gaan in elk geval negatief wees.”
Ons het opgestaan om die skool te verlaat en doktor De Bruyn het my ’n drukkie gegee. Tot dusver was ek in ’n skoktoestand en ek dink redelik kalm, maar nou het ek begin huil. In my hart het ek geweet my lewe sal waarskynlik nooit weer dieselfde wees nie, wat ook al die uitslag van die toets is. Ek is alleen hier saam met vreemdelinge; my ma is nie hier nie, my daddy is nie hier nie, my broer, my neefs en niggies – niemand is hier nie. Ek is alleen. En kwaad! Ek wil huis toe gaan, na my ouers toe! Ek wil hulle vra: “Hoekom gebeur dit? Wat is dit wat gebeur?” Dit was alles net te veel. Ek het selfs gevra of hulle nie my ouers se toestemming nodig het vir die DNS-toets nie, maar hulle het gesê ouers hoef nie toestemming vir ’n DNS-toets te gee as ’n kind 12 jaar of ouer is nie. Ek was 17. As ek die DNS-toets wou laat doen, was ek oud genoeg om self te besluit.
Ons het na die Victoria-kliniek gery. Op pad ry ons verby die plek waar my boyfriend gewerk het, en ek het gewens ons kon net daar stop sodat ek na hom toe kan gaan. Ek het iemand aan my kant nodig gehad. Ek het net aanhoudend vir myself gesê hierdie toets gaan negatief wees. Dit kan nie waar wees dat ek aan iemand anders behoort nie, dit maak nie sin nie. Die toets sál negatief wees. Ek het net daaraan vasgeklou.
By die kliniek het hulle my na ’n vertrek geneem en ek moes ’n spul vorms invul. Toe doen hulle ’n speekseltoets en stuur dit weg in ’n geel-en-blou boks.
“Kan ek nou huis toe gaan?” het ek gevra. “Of kan ek teruggaan skool toe?”
“Ons kan dit nie doen nie,” het hulle gesê.
“Hoekom nie?”
“Want ons weet nog nie wat die uitslag van die toets is nie. As jy wel Zephany Nurse is, kan jou ma – of wie ook al jou gevat het – dalk ’n vlugrisiko wees. Ons kan jou nie laat huis toe gaan voor ons weet nie.”
“Maar wanneer sal ons weet wat die uitslag is?”
“Binne ’n dag of twee.”
My hart het in my skoene gesak. Wanneer sou ek huis toe kon gaan?
“Intussen neem ons jou na ’n plek van veiligheid. Jy gaan daar bly tot ons vir seker weet.”
’n Plek van veiligheid? Wat kon veiliger wees as my eie huis met my eie ouers?
Die plek van veiligheid was iewers in Wynberg, dink ek. Die oomblik toe ek daar instap, het ek het geweet ek kan nie daar bly nie. Daar was ook ander kinders daar, maar jy kon sien hulle was weeskinders of weggooikinders, kinders met probleme.
Daar het ’n hele paar mense in die vertrek rondgesit; Leanna Goosen het op die vloer gesit. Dit het gelyk of almal gefassineerd was met my.
“Ek wil graag ’n foto van hierdie gesteelde baba sien,” het ek gesê.
Hulle het ’n groot, dik lêer uitgehaal – ek dink dit was die lêer van kolonel Mike Barkhuizen, die speurder wat die saak ondersoek het. Ek kyk toe na ’n ou foto en sê: “Ag, asseblief, dié baba lyk seriously nie soos ek nie.”
Leanna Goosen het gesê dié foto van ’n pasgebore baba kan dalk anders lyk as ander babafoto’s van my wat ek gesien het omdat ek toe nog opgeswel sou gewees het van die geboorte en wat ook al. En toe sê sy weer: “Kyk, dalk is dit net ’n gebeurtenisvolle dag. Miskien sal die toets nie positief wees nie.” Maar sy het nie oortuig geklink nie. Ek het gedink daar was eenvoudig geen kans dat dit positief sal wees nie. My geloof in my ouers het vas gestaan: Hulle sou nooit so iets doen nie.
Die beste deel van die ervaring was Marshionette Jonkerman, een van die maatskaplike werkers wat ek daar ontmoet het. Sy was anders as die ander wat in die loop van die dag saam met my was. Leanna Goosen en ek het nog nooit regtig oor die weg gekom nie, selfs tot vandag toe. Maar Marshionette was vriendelik, nie so afsydig nie. Ek het gevoel ek kan haar vertrou.
Ek was totaal uitgeput as gevolg van dit alles, en ek het gesê ek moet ’n bietjie gaan lê. Hulle het gesê ek moet my foon afskakel. Ek kon dit nie glo nie. “Julle kan nie vir my sê ek moet my foon afskakel nie, dis op die oomblik soos my life support!” Maar hulle het daarop aangedring. Toe sê ek weer: “Ek het my foon nodig. As enigiets gebeur, het ek my foon nodig.” Maar hulle het aangehou. “Oukei, fine, ek sal my foon afskakel.” Enigiets om ’n paar stil oomblikke te hê om hierdie mal dag te probeer verwerk.
“Wanneer gaan ek huis toe?” het ek weer gevra. “Of as ek nie huis toe kan gaan nie, kan julle my na ’n vriendin se huis toe neem. Sy woon ver van my af, so dis nie naby my huis nie.”
“Nee, jy moet vanaand hier bly.”
“Maar ek kan nie hier bly nie! Weggooikinders bly hier! Julle kan my nie net wegvat uit my stabiele huis nie – ek is nie ’n gebroke kind nie! Keuses kan gemaak word – ek is een van die dae 18 en dan sal ek self kan besluit!”
“Daar is geen ander plek waar jy kan bly nie. Ons kan jou nie stuur na mense wat jy ken nie, want as jou ma verantwoordelik is, sal sy weet waar jy dalk kan wees.”
“Julle bespiegel nou! Daar is geen bewyse dat sy my gevat het nie!”
“Die polisie is op die oomblik by jou ma by julle huis. Hulle bring jou daddy hiernatoe, om jou te sien.”
Dit was toe nie die polisie nie, maar Marshionette wat by ons huis was en daarna soontoe gekom het. Ek het met haar gesels en gemaklik gevoel met haar. Sy het my vertel sy het drie seuns, geen dogters nie, en sy kon sien ek kan doodeenvoudig nie in hierdie plek bly nie. Ons het die moontlikheid bespreek dat ek eerder by haar kan gaan bly. Toe roep hulle my om na ’n ander vertrek te gaan, want my daddy het opgedaag.
“Wat maak jy hier?” het my daddy gevra toe ek daar instap. “Is jy nie veronderstel om by die skool te wees nie?”
“Daddy, nee! Ek het gedink jy weet ek gaan hier wees.”
“Wat gaan aan?” wou hy weet, en ek kon sien sy oë is bloedbelope. Sy bloeddruk styg as hy stres en jy kon dit sien.
Hy het langs my kom sit en die speurder, Barkhuizen, het oorkant my gaan sit. Hy het met my daddy gepraat en goed gesê soos: “Meneer, as jy probeer weghardloop …” en “Jy kan nie lieg nie, ek sal jou uitvang …”
“Maar ek lieg nie oor enigiets nie!” het my daddy gesê. “Miché is mý kind en ek het haar nie gesteel nie, niemand het haar gesteel nie. Ek was daar die dag toe sy van die hospitaal af gekom het, ek was by die huis en ek het haar gesien!”
Ná die tyd het ek reguit aan Barkhuizen gesê: “Moenie so met my pa praat as daar geen bewyse is nie, julle is net besig om te bespiegel.”
Hy het half gelag en gesê: “Jy het nou hier met ’n groot vis te doen. Dalk verstaan jy nie.”
“Ek verstaan miskien nie alles nie, maar julle het nie aan my bewys ek is die kind wat gesteel is nie. Julle het my maar ’n paar uur gelede vir ’n DNS-toets geneem, en nou probeer jy kom met dreigemente.”
Die maatskaplike werkers het gesê ek moet bedaar. Hulle het gesê ek hoef nie met hom daaroor te praat nie.
“Nee,” het ek gesê, “ek hou nie van die manier waarop jy met my pa praat nie. As julle eenhonderd persent kan sê ek is daardie kind, as die toets dit bewys het, dan het jy die volste reg om so met hom te praat, maar moenie my na ’n vertrek roep en hom voor my ondervra nie, want dit gaan my skade doen.”
My daddy wou my ook kalmeer. “Nee, dis oukei, baby, dis oukei – hulle moet hulle werk doen.” Maar ek het baie kwaad gevoel. Hy het nie eens besef ek kan nie huis toe gaan nie. Hy het gevra of hy my saam met hom huis toe kan neem, en Barkhuizen het gesê: “Nee, jy kan nie, want jy of jou vrou kan dalk met haar vlug.”
Toe herhaal my daddy weer: “Maar ek het regtig nie hierdie kind gesteel nie; ek het niks te doen met wat ook al hier aangaan nie – Miché is my dogter.” Hy was baie verward, en ek dink terselfdertyd ook hartseer, omdat hy nie regtig geweet het wat aangaan nie of dat enigiemand – wat nog te sê sy vrou – so vir hom kon lieg. Meestal kon hy net nie sin maak van enigiets nie. Ek was ook verward, maar ek het standvastig probeer bly, want niemand gaan oor my loop en sommer ondersoeke doen net soos hulle wil nie.
Marshionette het hand bygesit. “Miché kan my kom bly terwyl hierdie hele ding aan die gang is, en dan kyk ons van daar af,” het sy gesê. “Sy lyk nie asof sy hier inpas nie en sy het op die oomblik ’n huis nodig, ten minste ’n mate van stabiliteit, om te verwerk wat aan die gang is.”
“Jy kan nie saam met haar gaan nie,” het my pa geprotesteer. “Sy is ’n vreemdeling.”
“Nee, dis oukei, Daddy. Ek sal by Marshionette gaan bly. Ek wil graag.” Ek het my laat lei deur my intuïtiewe gevoel dat dit die beste was om saam met haar te gaan.
“Nee, jy kan nie wegslaap nie! En ons moet naby mekaar wees vir wat ook al hierdie ondersoek bring.”
“Moenie bekommerd wees nie, Daddy. Hulle kan maar hulle werk doen. Die uitslag is veronderstel om môre te kom. As dit negatief is, sal ek net reguit huis toe kom. Hulle sal my in elk geval nie toelaat om nou saam met Daddy te kom nie.”
Ek sê jou nou: As die uitslag negatief was, sou ek nie net reguit huis toe gegaan het en dit net daar gelaat het nie. Ek dink die manier waarop die staat die hele situasie hanteer het, was swak.
* * *
Ek word weer eens getref deur die verskuilde tierwyfie in Miché, hierdie volwasse, selfgeldende gedrag wat al in die vroeë ure van D-dag na vore gekom het: dat dit by haar opgekom het om ’n DNS-toets teen te staan, of om ’n konsensuele skuiwergat te bevraagteken op ’n tydstip dat haar eie hart en verstand skaars tussen op en af sou kon onderskei; dat sy ingespring het om haar pa se eer te verdedig teen wat sy beskou het as “dreigemente” deur die gerespekteerde senior speurder kolonel Mike Barkhuizen, ondanks die feit dat sy in daardie stadium figuurlik gesproke die welpie in die leeukuil was. Ook dat sy ’n bondgenoot gesoek het in Marshionette Jonkerman en ’n blaaskans in haar huis bespeur het. Al hierdie instinktiewe selfbehoud-aksies lyk of hulle buite die ervaringsfeer van ’n geliefde, beskutte, indien nie totaal verwende sewentienjarige prinses lê. Miché het beslis murg in haar pype.
Ek raak nuuskierig om ander verslae van D-dag te hoor, en om te verneem of daardie ander weergawes Miché s’n bekragtig en besef watter durf en moed hierdie kitsvrou toon. Ek veronderstel dit sou een van daardie mylpaaldae wees in die lewe van enige mens wat by hierdie storie betrokke is, ’n dag van flitsfoto-herinneringe wat sy karakters in pynigende detail sal laat onthou presies waar hulle was toe dit gebeur het en hoe dit ontvou het. Vir die Solomons was dit die dag dat hul hele wêreld op sy kop gekeer is. Vir die ondersoekspan was dit die dag dat ’n saak wat al 17 jaar oud is, opgelos is. Vir die Nurse-gesin was dit die antwoord op ’n miljoen gebede. Niemand sal dit maklik vergeet nie.
My mees toeganklike kontak is Miché se pa, Michael. Die swygsame Michael Solomon is tipies lakonies in sy beskrywing van D-dag. Dit is eerder die nie-verbale seine wat sy storie vertel: die gereelde skud van sy reeds geboë hoof, die fronsende wenkbroue op sy bekommerde gelaat, die effense trilling in ’n stem wat reeds dun is van kwelling. Dalk is dit die blatante onvermoë om die regte woorde te vind wat meer veelseggend is as dié wat wel oor sy behoedsame lippe kom.
MICHAEL:
Ek was by die werk toe ek ’n oproep kry om te sê ek moet huis toe bel.
Ek het my vrou gebel en sy het gesê die polisie is daar; hulle ondervra haar oor ’n verlore kind, “maar dis orraait, jy hoef jou nie te bekommer nie”.
Ek het die foon neergesit en weer gaan werk. Tien minute later bel hulle my weer en sê ek moet huis toe gaan. Die polisie wou my glo by die werk kom haal, maar omdat ek by ’n nasionale sleutelpunt werk, sou die sekuriteit hulle nie inlaat nie. Hulle het my nie regtig vertel wat aangaan nie, net gesê ek moet huis toe gaan. Ek het nie geweet wat om te dink nie.
Die bestuurder het my huis toe geneem, maar daar was niemand nie – of was my vrou daar? Nee, sy was nie daar nie, maar kolonel Barkhuizen het my gebel en my gevra om hom in Wynberg te ontmoet. Ek kom toe by hierdie plek aan en sien Miché en al hierdie mense daar rondom die tafel. Maatskaplike werkers, polisie, mense wat ek nie ken nie.
Toe vertel hulle my dis die kind na wie hulle soek in hierdie Zephany Nurse-saak. Wat?! Wat was hier aan die gang?
Miché was bang. Sy het ook nie geweet wat aangaan nie. En toe sê hulle dat hulle haar van my af wegvat. Ek het net gevoel hoe iets in my binneste val, want sy was nog nooit weg van ons af nie, het nooit weggeslaap nie, niks. Eenkeer, gedurende die Paasvakansie, het sy saam met my skoonouers Plettenbergbaai toe gegaan. Toe het ek en my vrou selfs agter hulle aangery om die aand by haar te wees. Ons moes gaan kyk of dit goed gaan met haar.
Selfs al sê sy sy kan vanaand by jou slaap, sal sy bel en sê “Daddy, kom haal my”. Dis hoekom ek nie goed slaap as sy nie daar is nie, want ek weet sy gaan enige oomblik bel dat ek haar moet gaan haal.
Hulle het my gesê sy mag nie huis toe kom nie totdat hulle die uitslag gekry het van ’n toets wat hulle doen om te sien of Miché hierdie gesteelde kind is. Een van die maatskaplike werkers het gesê sy sal haar na haar huis toe neem, en Miché was tevrede met dié idee. Dit het my beter laat voel.
* * *
Dit lyk asof Michael Miché se kwesbaarheid eerder as haar volwassenheid in die situasie onthou. Sy gesigsuitdrukking en herinnerings is meestal sprekend van die verbystering van dié dag, en sy verslag is steeds deur skok vertroebel.
In my poging om die storie breedvoerig te dek, en met Cassidy tydelik buite bereik, wend ek my tot die beamptes. Kolonel Mike Barkhuizen, gereken as Suid-Afrika se “top-polisieman” ten tyde van sy aftrede ’n paar jaar gelede, en die man wat benewens die Zephany Nurse-saak ook suksesse met die oplos van talle ander hoëprofielsake op sy kerfstok het, is net so goed met wegkruip as met uitsnuffel. Geeneen van my opspoorpogings – kontakte wat ek probeer bel het, Facebook-bekruipery of goed geplaaste lokaas – lei my na hom toe nie.
Miché kyk skeef op toe ek voorstel dat ek met Leanna Goosen, die hoof- maatskaplike werker, praat. Al is Miché nie teen die idee gekant nie, is sy ook nie juis ten gunste daarvan nie.
Die beste vis om in dié bepaalde net te vang sou Marshionette Jonkerman wees, in wie Miché ’n bondgenoot raakgesien het. Ofskoon sy ’n ruk laas met Miché in aanraking was, is Marshionette te vinde vir ’n onderhoud – hangende goedkeuring van die minister en die departement – en nooi sy my uit na haar werkplek. Dit is ’n kinder-en-jeugsorgsentrum in Stellenbosch, die dorp waar sy woon.
Die termometer styg ’n graad met elke kilometer wat ek nader aan die beroemde Kaapse wynlande kom. Stellenbosch is vandag snikheet, en ek hoop van harte die privaat kantoor waar ek en Marshionette gaan gesels, gaan so koel wees as wat dit stil is.
Dié inrigting van die provinsiale regering, wat onder die departement van maatskaplike ontwikkeling val, lyk meer na ’n aanhoudingsentrum vir jeugdiges. Ek wonder of dit die soort plek van veiligheid is waarheen Miché op D-dag geneem is. Indien wel, is dit geen wonder nie dat sy haar daarteen verset het om daar oor te bly. Wanneer jy die doringdraad-omheinde terrein binnegaan, is dit moeilik om nie te voel asof jy die een is wat iets verkeerds gedoen het nie. ’n Uitkyktoring waak oor rye eenvormige behuising, en by die enkele ingangspunt word ek as besoeker aan ’n metaalverklikker, skandering van my aktetas en ’n vlugtige visentering deur ’n sekuriteitswag onderwerp.
“Enige wapens?” vra die wag.
“Geen wapens nie. Maar ek het wel ’n pen,” sê ek as ’n grap.
Sy blik bly uitdrukkingloos.
“Wel, jy weet mos wat hulle sê – die pen is magtiger as die swaard.” Ek giggel senuweeagtig, in weerwil van daardie eeue oue waarskuwing om nooit grappies by ’n sekuriteitskontrolepunt te maak nie.
Sy blik is steeds uitdrukkingloos.
“Nee, meneer, geen wapens nie.”
Ek word binnegelei in ’n ontvangslokaal wat gou die indrukke versag wat deur die buite-aansig gelaat is. Ek gaan sit in ’n gemaklike sitkamer en kyk rondom my na kennisgewings oor kinders se regte en verantwoordelikhede, helderkleurige tekeninge wat vermoedelik die handewerk is van kinders wat hier woon, en die verpligte portrette van Helen Zille, toe premier van die Wes-Kaap, en Albert Fritz, toe minister van maatskaplike ontwikkeling (na wie die afkortings “minister” en “die departement” verwys wat sowel Marshionette as Miché voortdurend gaan gebruik namate die storie ontvou). Daar heers ’n atmosfeer van opgewekte bedrywigheid wat ietwat teenstrydig is met die tralies voor al die omringende vensters.
’n Breë glimlag kondig die aankoms aan van Marshionette Jonkerman, wat my in ’n gang af na haar kantoor begelei.
MARSHIONETTE:
Ek is nie eintlik ’n maatskaplike werker nie. Ek is ’n opgeleide verpleegster, maar ek werk as ’n fasiliteitsbestuurder en onderdirekteur in maatskaplike ontwikkeling. My direkteur is Leanna Goosen, wat aan die hoof was van ons span vir die Zephany/Miché-saak. Die kinder- en jeugsorgsentrums wat die departement bedryf is vir sorgbehoewende kinders, maar daar is verskillende tipes vir verskillende behoeftes. Ons fasiliteite huisves kinders wat uit hul gesinne verwyder is, of kinders met gedragsprobleme wat niemand meer kan beheer nie, of kinders wat mishandel is. Ons het ook die kinder- en jeugsorgsentrum vir kinders wat met die gereg gebots het, asook sentrums vir behandeling teen middelmisbruik.
Ek is nie eintlik oorspronklik aan Miché toegewys nie. Toe die ondersoeke na Miché begin het, het ons ’n vergadering met kolonel Barkhuizen gehad en rolle is aan my en Leanna opgedra. Omdat ek ook ’n professionele verpleegster is, was my rol om seker te maak Lavona – die verdagte – is oukei omdat sy aan hoë bloeddruk ly en hartprobleme het. Leanna se taak was om na die maatskaplike kant van die kind se behoeftes om te sien.
Maatskaplike ontwikkeling het net betrokke geraak toe die kind self betrokke was. Tot in daardie stadium was dit ’n soektog na ’n vermiste persoon. Barkie en sy span het vir ’n baie lang tyd na Miché gesoek. Ek het gehou van daai Barkie – so professioneel, so ’n gentleman. Dit was ’n groot spanpoging, en hy het elke liewe taak uitgestippel. Hy is nou afgetree, maar Barkie bly een van die beste cops wat ek ooit geken het.
So, op dié dag, eerste ding in die oggend, gaan ek saam met Barkie en een van my kollegas na die Solomon-huis. Toe ons daar kom, is Lavona nie daar nie, sy was by die werk. Lavona se suster was daar. Sy woon daar, aan die agterkant van die eiendom. Barkie het vir haar gesê: “Jy moet Lavona nou dadelik bel, want ons is hier vir ’n baie ernstige saak. Weet jy dat Miché nie haar kind is nie?”
Die suster was geskok. “Nee, dis nonsens!” het sy gesê. “Miché is Lavona se kind; my suster het ons almal grootgemaak.”
“Ons vermoed die kind is nie hare nie,” het Barkie gesê.
“Hoe kan jy dit sê? Dis my suster se kind!” Sy was in ’n toestand van algehele skok. Toe bel sy vir Lavona en sê sy moet dadelik huis toe kom.
Terwyl ons vir Lavona wag, vertel Barkie die suster wat hy vermoed. Skielik is dit asof daar ’n lig aangaan en sy sê: “Is dit hoekom Miché nie soos ons familie lyk nie?” Toe vertel sy ons Lavona het ’n babadogtertjie gehad toe sy 16 was, maar die baba is dood toe sy net ’n paar weke oud was. En dat Lavona daarna drie miskrame gehad het.
Toe Lavona opdaag, was sy baie kalm. Haar suster het niks vir haar oor die foon gesê nie. Sy het geglimlag en gelag toe sy daar aankom. Sy het vir ons tee aangebied. En toe vertel Barkie haar van die kind wat verdwyn het, en wat sy vermoedens is.
“Nee,” het sy saggies gesê. “Miché is mý kind. Hoe kan jy – ek kan jou selfs foto’s wys.” Sy was so vriendelik en kalm – en ek het soort van van haar gehou.
“Maar dis nie jou kind nie,” sê Barkie toe. “Hoekom het jy Swartland toe gegaan om die geboortesertifikaat te kry?”
Sy sê nee, sy het iemand daar besoek. “En ek kan vir julle foto’s wys, die albums is hier rond.” Maar totaal, totaal, heeltemal, heeltemal kalm. Toe sê sy: “Weet julle wat? Miché het ook uitgekom met ’n storie soos dié, wat iemand haar by die skool vertel het. Toe sê ek net: ‘Miché, hoekom het jy nie net vir hulle gesê jy’s my kind nie?’ Dis nonsens, ek het nie eens na haar geluister nie.”
Barkie het ’n hele onderhoud met haar gevoer. Sy het die ganse tyd gefokus en kalm gebly. En sy het aanhou herhaal: “Nee, man, dis nie korrek nie. Miché is mý kind.” Ek het begin glo wat hierdie vrou sê.
Gedurende die onderhoud het ek langs haar gesit en haar dopgehou. Hoewel sy oukei gelyk het, wou ek haar bloeddruk neem, maar sy het gesê: “Nee, dis nie nodig nie. Ek is oukei. Daar’s niks aan hierdie storie nie.”
Sy het haar man gebel om huis toe te kom, maar Barkie het gesê: “Ek dink ons moet Pathcare toe gaan om jou bloed te laat trek vir toetse.”
Lavona was doodrustig. “Natuurlik,” het sy gesê. “Ek het niks om weg te steek nie. Julle kan my vat vir bloedtoetse. Geen probleem nie.”
Op dié tydstip het ek gedink hierdie hele saak was sinloos. Ek het haar regtig geglo.
Toe neem hulle Lavona PathCare toe en ek het na een van ons plekke van veiligheid gegaan, waar hulle Miché net vir daardie rukkie gehou het. Dit was nie ’n plek soos die een waarin ons vandag is nie – dié een is ’n beveiligde sorgfasiliteit. Wynberg is ’n ander vlak van sorg, dit voel beter daar as hier.
Leanna Goosen was betrokke om Miché by die skool te gaan haal terwyl ek by Lavona was. Ek het Miché vir die eerste keer in Wynberg ontmoet. Die oomblik toe ek met haar begin praat, het ek dadelik van hierdie meisie gehou. Sy was so slim en so dierbaar. Hulle het haar foto’s gewys van die Zephany-baba en sy kyk toe na my, iemand wat sy nou net ontmoet het, en vra: “Dis nie ek nie, nè?”
Ons het begin gesels. “Glo jy hierdie mense?” het ek gevra.
“Ek weet nie wat om nou te glo nie,” was haar reaksie.
En toe vertel sy my die hele storie van hoe sy Cassidy ontmoet het en hoe vreemd dinge van toe af vir haar was. Toe sy hoor sy moet oornag by hierdie plek van veiligheid bly, wou sy dit nie doen nie. “Asseblief,” het sy by my gepleit, “ek hou nie van dié plek nie. Ek wil saam met jou gaan.”
Hoewel dit ’n ongewone versoek was, was dit ’n ongewone saak – ons het nog nooit vantevore met enigiets van dié aard te doen gehad nie. En ek het regtig meegevoel met hierdie meisie gehad. Sy was net so lieftallig. “Laat ek net eers die direkteur vra,” het ek toe gesê.
’n Bevel is aan my uitgereik om gedurende daardie tydperk Miché se voog te wees, en sy het saam met my huis toe gegaan.