Читать книгу Zephany - Joanne Jowell - Страница 7
Hoofstuk 3
ОглавлениеMiché is moeg. Haar gesig is bleek, en sy steier onder die gewig van haar agtmaande-swangerskap.
Sy slaap nie goed tydens hierdie swangerskap nie, en dit ná twee jaar van slaapontbering ter wille van Sofia, wat waarskynlik direk voorafgegaan is deur tallose slapelose nagte namate haar lewe se waarheid verbrokkel het. Sy sê sy is gewoond aan min slaap, maar sy lyk pootuit.
Tot my verbasing raak Miché aansienlik meer opgewek toe ons aan die werk spring met die onderhoud. Ek het gedink sy kan dalk nou al moeg wees daarvan om haar storie te vertel. In die drie jaar sedert D-dag (Michael Solomon se nuttige benaming vir die dag waarop die waarheid ontplof het) het Miché niks buiten haar regte naam weggesteek nie. Sy het elke vraag beantwoord wat aan haar gestel is deur ’n geslote hof, ’n oop pers en almal tussenin. Sy het soveel keer haar lewensverhaal vertel en daaroor gelees dat dit beswaarlik nog hare is. Teen die tyd dat ons die skryf van hierdie boek aanpak, is ek bang sy sal nie weet waar Zephany Nurse eindig en Miché Solomon begin nie, en is ek oortuig daarvan dat ek haar eie vertolking uit haar sal moet trek soos klitsgras uit ’n woltrui.
Inteendeel, dit lyk asof die ervaring om ongebonde te praat, vir so lank of so kort as wat sy lus voel, Miché begeester, ten minste wat vandag betref. Sy bieg dat die sny sjokoladekoek wat sy saamgebring het iets met haar hernude energie te doen kan hê, maar ek vermoed daar steek meer daaragter as die suiker.
Miché is besig om Miché te vind.
En ek wonder: Hoe vind jy iemand wat jy nooit geweet het verlore is nie?
MICHÉ:
Dit was einde Januarie in my matriekjaar – 2015.
Ek onthou my tannie het my dié oggend by die skool afgelaai. My ma het toe gewerk omdat hulle geld vir my moes spaar om hierdie groot matriekbal te hê. My daddy het verkies dat my ma eerder na die huis kyk as om te werk, maar ons het ekstra inkomste nodig gehad.
Dit was die laaste periode van die dag, die rekeningkundeklas, en ’n vriendin sê vir my: “Yo! Ek het nou net jou suster gesien.”
Ek het gelag. “Waarvan praat jy? Jy weet ek het nie ’n suster nie, ek het ’n broer.”
“Ek weet,” sê sy toe, “maar daar is ’n meisie hier wat nés jy lyk. Jy moet haar sien!”
Daarna het mense my aanhoudend vertel daar is hierdie meisie wat vanjaar in graad 8 by die skool begin het wat op ’n druppel water soos ek lyk.
Nie lank ná dié dag nie loop ek in die gang en voel iemand aan my skoolsak pluk. Ek draai om en hierdie meisie vra my: “Is jy Miché?”
“Ja, ek is, wie is jy?”
“Ek is Cassidy Nurse.”
“Is jy die meisie wat almal sê soos ek lyk?”
“Ja,” sê sy.
“Maar niemand lyk soos ek nie. Ek lyk soos ek!”
“Jy hoef nie so cheeky te wees nie!”
“Ek’s g’n cheeky nie, ek wil net weet wie is hierdie Cassidy-meisie, en hoekom het jy my geroep?”
“Nee,” sê sy, “Ek wou net sien hoe jy lyk.”
Ek het dit nie gewys of hardop gesê nie, maar ek weet ek het iets in my binneste gevoel – ’n vreemde sensasie in my borskas. Ek het geredeneer dit was omdat sy so baie soos ek gelyk het – presies soos ek gelyk het toe ek 14 en in graad 8 was. Sy was ’n jonger ek! Ek het ’n prikkeling in my binneste gevoel, maar ek het dit net daar gelaat, onbewus daarvan dat sy my werklike suster kon wees.
Cassidy het my later vertel haar Engels-onderwyser en ander mense in die skool het haar ook gevra of sy ’n suster in matriek het. En haar reaksie was: “Nee, ek het nie ’n ouer suster nie, ek is die oudste.”
Dit was haar eerste jaar in die hoërskool en ek was in my laaste jaar. Een jaar later, en ek sou nie meer daar gewees het nie!
’n Paar dae later het Sofia se pa my ná skool kom haal (hy was toe reeds klaar met matriek en uit die skool). Cassidy het saam met my gestap. Toe ons naby die karre kom, kyk sy na waar haar pa, Morné, vir haar gewag het. Hy het in sy kar gesit en hy het my geroep. Ek het gewaai en soontoe gestap. “Hoe lank is jy al hier by die skool?” het hy my gevra. Ek vertel hom toe dat ek al van graad 8 af daar is en dat ek nou in matriek is. Hy het net geglimlag en gekyk. Ek het totsiens gesê en my lift gaan kry.
Ongeveer ’n week daarna was ons op die sportveld waar ons geoefen het vir die interhuis-sportdag – ek het toe aan wedlope deelgeneem vir die skool. Cassidy was ook op die veld, en my vriende het my gevra: “Is jy seker jy is nie aangeneem of iets nie?” My reaksie was: “Hoe kan ek aangeneem wees? Dis nou laf.”
Om die een of ander rede het ek jammer gevoel vir Cassidy. Sy het my altyd gegroet en om ons rondgehang. Ek het gedink shame, dié meisie; dalk soek sy ’n ouer suster of iets. Sy sou daar oorkant sit met haar vriende tydens pouse en ek sit diékant by my vriende, en dan vra sy of sy by my kan kom sit. Ons het baie maklik gekliek. Sy was nie soos ’n normale graad 8-kind nie; iets het my onmiddellik aangetrokke laat voel tot haar. Daai sensasie wat ek gekry het toe ek haar die eerste keer sien, het ’n gevoel geword dat ek haar moet beskerm. As ek gedink het haar hare lyk nie reg nie, het ek dit vir haar versorg. Ek het altyd ’n borsel in my skoolsak gehad en as ons badkamer toe gaan, sou ek haar vra of ek haar hare vir haar kan borsel. Dit was weird, hierdie gevoel dat ek vir haar wil sorg.
Ons het saam begin uithang en chill by die skool. Ons het baie oor normale dinge gepraat, en ook oor moeilike dinge. Sy het oopgemaak teenoor my oor haar ouers se egskeiding.
“Hoekom lyk jy so baie soos ek?” het sy my eenkeer gevra.
“Ek weet nie hoekom nie, het ek geantwoord. “Mense het tweelinge, maar hulle is nie bloedverwante nie; hulle lyk net na mekaar.”
Wanneer van die skoolkinders ons gevra het of ons sussies is, het ek as ’n grap gesê: “Miskien in ’n ander lewe.”
Ek het Cassidy gevra of sy ’n ouer suster het, want ek kon sien sy geniet die aandag, amper asof sy gewens het sy het ’n ouer suster met wie sy oor hierdie dinge kon praat. Sy vertel my toe hierdie storie van hoe haar ouer suster as pasgebore baba uit die hospitaal ontvoer is; dat een of ander vrou gesê het sy weet waar die kind is en dat sy hulle sou vertel as hulle haar R50 000 betaal, wat die beloning was vir enigeen wat inligting kon verskaf. Blykbaar was dié vrou ’n familievriend van hulle, en sy het sowaar tronkstraf gekry. Sy is nou al uit die tronk uit, maar hulle het nooit haar suster gevind nie.
Hierdie meisie praat nou nonsens, het ek by myself gedink. Ek kry haar jammer! Sy het nie ’n lewe as sy stories soos dié moet opmaak nie.
“Jy lyk soos my mammie,” het sy eenkeer vir my gesê. Ek het toe geantwoord sy moet vir my ’n foto van haar ma wys. Toe ek dit sien, het ek niks gevoel nie. Ek het gesê nee, ek lyk nie na haar mammie nie en net nog jammerder gevoel vir haar en haar stories.
Ek het my ouers van haar vertel. “Daar is hierdie meisie by die skool, Cassidy Nurse, en sy en ek lyk so eenders. Sy sê haar suster is ontvoer toe sy so twee of drie dae oud was.”
“Ek weet van daai storie en ek ken hom,” sê my daddy toe.
“Wie?” het ek gevra.
“Ek ken die pa, Morné Nurse, ons het in die verlede saam werk gedoen. Onthou jy die winkel waarheen ons gewoonlik gegaan het om elektriese voorrade te koop?” Ek het dié winkel onthou. “Ons ken sy familie van lank terug.”
So my pa het Cassidy se familie geken, en hulle het my pa se suster geken omdat sy in dieselfde straat as hulle gewoon het. Ons het elke jaar met Kersfees soontoe gegaan; ek weet nie hoe hulle my nie in daardie straat gesien het nie.
My mammie se reaksie was om Cassidy na ons huis oor te nooi: “Shame, sy het nie ’n suster nie en nou praat sy met jou. Bring haar hiernatoe.”
Ek dink toe oukei, cool, ek sal haar vra of sy wil oorkom. Iets het daardie dag voorgeval en sy kon nie kom nie, maar ons het ’n foto van ons twee saam geneem wat ek vir my pa gewys het sodat hy kon sien hoe eenders ons lyk.
En toe die Vrydag … Ek onthou dit was ’n Vrydag, want dit was sportdag. Ná skool het ’n klomp van ons McDonald’s toe gestap, want dit is net laer af in die straat waar die skool is. Cassidy het nie geld by haar gehad nie, toe sê ek: “Kom saam met ons. Dis oukei, ek sal vir jou middagete koop. Bel jou daddy en sê hy kan jou by McDonald’s kom haal.”
Morné het McDonald’s toe gekom met die werksbakkie wat hy gebruik het. Hy het aangestap gekom na waar ek gesit het en was besig om met iemand op sy foon te praat. Ek het dit toe nie geweet nie, maar dit was die maatskaplike werker Leanna Goosen met wie hy gepraat het.
Terwyl hy nog op die foon was, het hy my gevra: “Haai, waar woon jy?”
Ek het hom vertel.
“Wanneer is jy gebore?” vra hy toe en ek dink oukei, dis snaaks, maar antwoord maar, want dalk wil hy maar net weet.
“30 April 1997.”
Hy was nog die heeltyd besig om oor die foon te praat. “Het jy ’n foto van jou ma en jou pa?” vra hy toe.
Hy moes toe die een of ander meningsverskil met die maatskaplike werker gehad het – dalk het sy gedink hy was te blatant met wat hy doen of iets – want hy het skielik die foon afgesit en aangebied om vir ons iets te ete te koop.
“Ek het nou net geëet, en Cassidy ook,” het ek gesê.
Hy bied toe aan om vir ons iets te koop om te drink, en ek het gesê dis oukei.
My vriende het buite gesit. “Wat gaan aan?” het hulle my gevra. “Is dié ou ’n bouncer of iets? Wat is sy vibe? Wat gaan aan?”
“Ek weet nie. Hy het aangebied om vir ons kos te koop en ons het al geëet,” het ek geantwoord.
Ek het badkamer toe gegaan en ek dink hy moes ’n gesprek met Cassidy gehad het terwyl ek daar was, want toe ek terugkom was hulle aan die praat. Hy het op ’n vreemde manier na my gekyk en die heeltyd geglimlag. Ek het gewonder of hierdie man nou met my flirt of iets.
Hy het gevra of hy ’n foto van my ma en my pa kan sien. Ek wys hom toe ’n foto van ons op ’n staptog by Kaappunt. Hy het die foto bekyk en opgemerk: “Maar jy lyk nie soos hy nie.”
Toe sê ek: “Ek lyk nie soos my daddy nie, maar ek lyk soos sy familie, ons lyk baie na mekaar.”
“Jy lyk nes Cassidy se ma,” sê die man toe.
“Ek het ’n foto van haar gesien en ek dink nie ek lyk soos sy nie.”
Hy wys my toe ’n foto van haar. Ek skud my kop en sê nee, ek lyk nie soos sy nie.
“Hoekom het jy sportklere aan?” vra hy toe.
“Omdat dit vandag sportdag is en ek van fiksheid hou.”
“Cassidy se ma hou ook van fiksheid en Zumba en sulke goed,” sê hy.
Die goed wat hy gesê het, het geen ander indruk op my gemaak nie as dat dit ’n bietjie vreemd was. Ek het my koeldrank gedrink en toe is Cassidy en Morné daar weg. Maar Morné het my leë koppie saamgeneem nadat ek klaar gedrink het. Hy het gesê hy gaan dit in die asblik gooi, maar toe vat hy dit saam na sy bakkie. Vir my het dit gelyk of hy van plan was om dit weg te gooi, maar toe net vergeet het en dit met hom saamgevat het. Maar toe die waarheid later uitkom en ek terugdink aan alles wat gebeur het, het ek besef ek was omring deur mense wat in werklikheid besig was om my te ondersoek. En daai koppie was die eerste stukkie DNS-getuienis.
Ná dié dag het dit gevoel asof Cassidy my by die skool begin agtervolg. Sy sou vir my staan en wag by die hek as ons ingaan, of by die snoepie tydens pouses. Dit het gevoel asof sy haar in my persoonlike ruimte inwurm. My vriende en ek sou besig wees met ’n gesprek en ons wil graag skinder maar ons kan nie, want sy sit daar, sy is net altyd daar. Dit het my vriende ongemaklik laat voel.
Dalk was ek onbeskof en het ek nie die situasie reg benader nie, maar ek het aan haar gesê dat sy haar heeltyd aan my opdring. Sy het toe begin wegbly en ek het sleg gevoel, want ek is seker ek het haar laat voel dat ek haar nie rondom my wou hê nie. Ons sou by mekaar verbyloop en vir mekaar hallo sê, en dit was nie meer so intens nie. Vir ’n klein rukkie was sy net daardie meisie.