Читать книгу Zephany - Joanne Jowell - Страница 6
Hoofstuk 2
ОглавлениеDaar is geen tekort aan geheimsinnigheid rondom die naam Zephany Nurse nie, en dit prikkel my nuuskierigheid dat ’n soortgelyke waas Miché Solomon omhul – nie omdat ons nie weet wat met haar gebeur het nie, maar juis omdat ons weet.
Miché het ’n besadigde kalmte aan haar wat haar ouderdom sowel as haar omstandighede weerspreek. Ek het nie verwag dat iemand so jonk, wat al soveel deurgemaak het, met Miché se sagte gemak sou praat nie, dat sy haar situasie in oënskou sou neem met die nugter objektiwiteit van ’n veel ouer, veel wyser mens met veel groter afstand van die storie nie. Dis nie dat Miché met afsydigheid oor haar lewenservarings praat nie, maar eerder dat dit lyk asof sy hulle geweeg, gemeet en in netjies verteerbare vorm ingeneem het. Elke keer as ons ontmoet, betrap ek my dat daardie ou gesegde by my opkom; jy ken dit mos, die een wat lui “when life gives you lemons, make lemonade”? Wel, dit wil voorkom of Miché hier besig is om die een of ander fynproewerdrankie te berei – sy pers net die regte hoeveelheid sap uit die vrug, versigtig, sodat die bitterheid van die skil nie die smaak bederf nie, en verwerk die oorblywende skil tot kompos in ’n poging om goeie gebruik van die oorskot te maak.
Om die waarheid te sê, ek is verbaas dat sy so in een stuk is. Ek dink ek het verwag om ’n gebroke jong vrou aan te tref, een met ’n versplinterde identiteit wat soos ineenpassende skilpoppe met elke weergawe binne sy groter ewebeeld verberg is. As jy die Zephany Nurse-pop oopmaak, gaan jy afkom op die kleiner Miché Solomon-pop binne-in; en as jy die Miché Solomon-pop oopmaak, gaan jy afkom op … wat, presies? Of wie? En sal jy dié een nog verder kan oopwoel?
Hoe rustig Miché ook al voorkom terwyl ons in die winkelsentrum gesels, is ek bewus daarvan dat haar identiteit nog steeds wetlik beskerm word en wil ek verhoed dat haar gewilligheid om haar storie met my te deel deur enige bedreiging van voortydige onthulling aan bande gelê word. Ek dring dus daarop aan dat ons ons sessies na ’n stiller ruimte verskuif, weg van die nuuskierigheid wat noodwendig aangewakker word by verbygangers wat kyk (en probeer om nie te staar nie) na ’n onderhoud wat in die openbaar opgeneem word.
Ons ontmoet in Muizenberg, die plek waar Miché as kind saam met haar pa op die strand gedraf het en wat nog steeds bekende terrein is, aangesien sy nie ver daarvandaan woon nie.
Hoewel dit deel uitmaak van Groter Kaapstad en ongeveer 36 000 inwoners het, voel Muizenberg nog steeds soos die tipe seedorpie wat jy net oor naweke of vir ’n somervakansie sou besoek. Daar is ’n welkome gevoel van anonimiteit wat ek hoop sal meehelp om Miché gemaklik met my en met haar proses van selfonthulling te laat voel.
Ons gaan sit om rustig teen ’n agtergrond van see en sand te gesels. Dit val my op dat Miché ’n bietjie harder en duideliker praat as in die winkelsentrum. Dit kan dalk ’n funksie wees van haar toenemende selfvertroue om haar storie met ’n relatiewe vreemdeling te deel; of dit kan wees omdat ons in ’n stiller omgewing is, met slegs die krysende meeue as kompetisie. Hoe dit ook al sy, ek word terdeë deeglik bewus van ’n interessante paradoks in haar spraak. Haar stemtoon het dikwels ’n hoë, amper kinderlike kwaliteit wat skerp met die volwassenheid van haar insigte kontrasteer.
Van Zephany na Miché. Van meisie na vrou. Van minderjarige na meerderjarige. Die enigma boei my, en ek begin identiteit as ’n vloeibare kontinuum eerder as ’n vaste toestand verstaan. Ek vermoed dit is iets wat Miché lank gelede al besef het.
MICHÉ:
In my grootwordjare het ek my ma strenger as my pa gevind.
Sy was altyd ’n liefdevolle mens, maar jy het geweet jy moenie met my mammie skoorsoek nie. Ek het my pa om my pinkie gedraai en my ma het die broek gedra in die gesin. Sy het altyd alles onder beheer gehad en dis meestal waar ek geleer het hoe om huishoudelike sake te hanteer, finansies en so aan. Selfs tot vandag toe sal my daddy nog steeds nie op sy eie kan regkom met finansies en om die huis te bestuur nie. My ma was altyd in beheer van die huis en die familie, het hulle altyd bymekaargebring, altyd haar susters gehelp met hul huweliks- en kinderprobleme.
Ek weet sy het al swaar tye beleef, soos die miskraam waarvan ek vertel het. My daddy het my vertel sy het ook al voorheen miskrame gehad. Dit was altyd ’n bekommernis dat dit eendag met my kan gebeur. Ek het haar selfs uitgevra: “Mammie het moeilik kinders gekry, kan dit met my gebeur?” Ek onthou sy het my nog vertel ek sal waarskynlik sukkel om kinders te kry, want dié dinge kan geneties wees.
My ouers het ’n goeie verhouding, maar ek dink dit het die meeste spanning verduur in die tyd toe my daddy nog gedrink het. Hy het saam met sy vriende uitgegaan en my ma het vanselfsprekend nie saamgegaan nie, want sy moes na my en my broer kyk. My pa het nooit in ons teenwoordigheid gedrink nie, hy het altyd uitgegaan en gaan drink. Ek onthou wel dat sy soms kwaad was. Maar my daddy was nie ’n partytjiemens nie. Almal sal jou vertel hy is baie skaam en stil, ’n introvert. Niemand ken sy storie nie, nie eens ek nie. Ek weet nog steeds nie regtig hoe hy voel oor alles wat gebeur het nie.
Hy het verander toe ek siek was met meningitis en hy ’n persoonlike gesprek met die Here gehad het. Daar was redes hoekom hy moes ophou drink en redes hoekom hy moes verander – waarskynlik om hom voor te berei vir wat nou aangaan …
Ek weet my mammie het ’n moeilike verlede gehad. As tiener het ek haar wel uitgevra oor haar lewe, en sy het my stukkies en brokkies vertel. Maar hoe ek die meeste uitgevind het, was uit haar hofverklaring,1 waarop ek afgekom het toe ek in haar laaie rondkrap om kaste leeg te maak nadat sy weg is. Ek het dit ontdek in ’n koevert met my naam op.
Ek het geweet sy was voorheen getroud, en dat sy deur haar eerste man mishandel is. Maar ek het nie geweet hoe erg dit was nie – dat hy haar verkrag het en selfs met elektriese drade geskok het in haar slaap.
My ma het ses broers en susters gehad, en ek het in daardie verklaring gelees dat toe sy omtrent 12 jaar oud was, sy hulle moes neem en laatnag deur Manenberg loop omdat daar geen kos in die huis was nie. Haar ma – my ouma – het hulle gelos en saam met ’n ander man weggeloop.
My ma het op 16 swanger geraak en ’n babadogtertjie gehad. Maar die baba is dood toe sy ses weke oud was. Yolanda was haar naam. Toe my ma dié dag by die huis kom, vertel die familie haar die baba is dood; sy het haar vasgehou tot die ambulans gekom het.
Daarna het sy ’n tweede boyfriend gehad – ek onthou ons het hom eenkeer in die mall gesien, voor hierdie hele ding op die lappe gekom het. My ma het my vertel sy het ’n miskraam met sy baba gehad, maar my broer was toe reeds in haar lewe. My ma het dié man gelos omdat hy blykbaar naar was met my broer. Weet jy hoe sy dit agtergekom het? Want my broer het gebid en sy naam genoem terwyl hy aan die bid was. Hy was omtrent ses jaar oud, en in sy gebed het hy iets genoem van hoe hierdie ou sy lekkergoed wegsteek. Sy het uitgevind dat hy my broer emosioneel mishandel, en sy het hom gelos.
En wat haar eerste man betref – wel, gelukkig het sy nie ’n kind by hom gehad nie, want dit was so ’n slegte verhouding.
Ek het nie van al hierdie besonderhede geweet nie. Ek was net bewus van klein dingetjies, meestal uit argumente tussen my ma en haar ma wat ek toevallig gehoor het. My ouma het ’n tyd lank by ons gewoon en hulle twee het aanhoudend baklei. Selfs as hulle oor kleinighede gestry het, het issues uit die verlede ter sprake gekom en het ek my ma letterlik vir my ouma hoor skree: “Jy weet wat jy verkeerd gedoen het!” Al wat ek geweet het, is dat my ouma hulle verlaat het vir ’n ander man – en nog een en nog een.
Ek het my ma uitgevra: “Hoekom stry Mammie altyd met haar? Sy’s jou mammie! Mammie sal nie daarvan hou as ek heeltyd met Mammie baklei nie.” En sy het geantwoord: “Daar is goed uit die verlede, dinge wat sy gedoen het …”
Ek moes maar bly wonder. Ek het nooit regtig geweet wat die besonderhede is nie. Ek het net geweet van die eerste man en dat sy naelskraap lewend uit daardie huwelik gekom het. Hy het op die ou end in die tronk beland, vir diefstal. My tannie het my selfs vertel dat my mammie hom in die tronk gaan besoek het maar iemand in die tronk het haar gewaarsku dat haar man ’n lem tussen sy vingers versteek het met die plan om haar dood te maak. Sy het die bewaarders daarvan vertel en die tronk verlaat. Toe het sy ’n egskeiding aangevra.
Ná hierdie verhoudings en hartseer ontmoet sy toe uiteindelik my pa – ’n totaal ander soort man. My ouers was ’n hele ruk lank vriende voor hulle begin uitgaan het. Hulle het voor mekaar met ander mense uitgegaan, hulle het nooit regtig gedink hulle sou op die ou end by mekaar beland nie.
My daddy was destyds in ’n ander verhouding en hy het ’n dogter. Daar was gerugte dat dit nie sy kind is nie, maar my daddy glo sy is en hy sal haar op baie maniere bystaan, al het hulle nie ’n verhouding soos dié wat ek en hy het nie.
Toe kom Lavona na hom toe en sê sy is swanger met my. Natuurlik vertel hy sy familie, wat vir hom gesê het hy moet doen wat reg is – jy kan nie twee buite-egtelike kinders hê nie. Hulle het getrou toe ek twee jaar oud was, want hy moes eers klaar studeer en daarna gaan werk. Toe hy eers ’n werk gekry het, kon hulle dit bekostig om te betaal vir die troue en die huis waarin ons gewoon het.
Van toe af het dit soos ’n normale lewe gelyk, tot die waarheid uitgekom het dat dit ver van normaal was. Maar ek voel nog steeds hartseer vir my mammie oor die swaar lewe wat sy in haar verlede gehad het. Ek het gehuil nadat ek daardie hofverklaring gelees het waarop ek afgekom het. As jy met haar praat en saam met haar leef, sal jy nooit aanvoel dat sy soveel trauma wegsteek nie. Miskien sal jy optel dat sy baie verdedigend en presies kan wees – dinge moet altyd nét só wees.
Maar een ding wat ek wel weet, is dat ons nooit iets kortgekom het nie. Die vernaamste ding vir haar, en wat sy oor en oor aan my gesê het, is dat sy ons altyd beter wou gee as wat sy self gehad het.
* * *
Dit is ’n gepaste tyd om Michael Solomon, die skynbaar onbewuste “steelpa”, by die verhaal te betrek.
Michael is ’n veel meer ontwykende karakter as sy dogter. Hoewel hy glo dag en nag tot Miché se beskikking is, verg dit ’n hele paar pogings voor ek daarin slaag om hom vir ’n onderhoud vas te pen. Miché tree op as tussenganger, reël en kanselleer ons gepoogde ontmoetings terwyl sy werksure en kerkverpligtinge telkens ’n stok in die wiel steek. Al hou sy vol dat Michael gretig is om met my te praat (om haar onthalwe), het Miché haar bedenkinge oor presies hoeveel Michael bereid sal wees om met my te deel weens sy befaamde introversie. Ek hou voet by stuk dat enige perspektief nuttig is as dit by die uitpluis van Miché se storie kom. In dié stadium voorsien ek nie dat ek toegang tot “steelma” Lavona sal kry nie, dus reken ek Michael is die naasbeste bron. Bowendien, as ons durf vergelyk wie die meeste om die bos gelei is in die Zephany Nurse-geval, sou Michael sekerlik om die eerste plek kan meeding.
Uiteindelik kom ons ooreen op ’n Sondagmiddag-onderhoud in Muizenberg, en ek is bly dat die dag ’n sonnige “Cape special” is, warm en luilekker genoeg om die mees geslote lippe losser te maak.
Michael lyk anders as die vorige keer dat ek hom gesien het toe hy Miché se dogter deur die winkelsentrum begelei het. Ons ontmoeting het nou wel nie langer as ’n paar sekondes geduur nie, maar dit neem nogtans ’n oomblik voor ek hom herken, en dié keer kyk ek deeglik.
Michael het ’n vriendelike, oop gesig met ’n gulhartige glimlag, en sy saggeaarde houding maak dat hy aangename geselskap is. Ek word egter van stryk gebring deur ’n gewaarwording van ongemak in die vertrek. By tye voel dit amper soos eerbied, asof hy weet van ’n subtiele magswanbalans waarvan ek onbewus is. Soms is dit doodgewoon behoedsaamheid, asof ons vriendelike mededingers is. Dit kwel my dat ek oorkompenseer met ’n opgewekte pellie-pellie-houding om hom aan my kant te kry. Ek wil nie hê hy moet my lees as vals, of dat ek sy guns probeer wen nie. Ek wil bloot hê hy moet gemaklik genoeg voel om openlik te praat. Maar ek besef, te laat, dat ek dieselfde fout maak as die ma wat so graag wil hê haar onwillige tienerseun moet haar in sy vertroue neem – deur gemeenskaplikheid te veins. Dit is ’n feit dat ek en Michael baie min gemeen het wat ons lewenservarings betref, ten minste op die oog af. En al was hy dalk nog altyd swygsaam van aard, het sy belewenis van die Zephany Nurse-storie – om te ontdek dat sy geliefde dogter wel geliefd mag wees, maar nie sy dogter is nie – ’n kloof tussen hom en feitlik enigiemand anders geplaas. Die mate waarin Miché 17 jaar lank gekul is, geld eweneens vir Michael.
Om Michael oor te haal om te ontdooi teenoor my, om oop te maak in soverre dat hy dit teenoor enigiemand sal doen, moet ek reik na daardie enkele, onbetwisbare ervaring wat ons ongeag agtergrond en omstandighede deel: die veeleisende vreugde van ouerskap.
MICHAEL:
Ek is in Retreat, Kaapstad, gebore en het in Steenberg grootgeword. So, ek het my hele lewe in dié gebied deurgebring. Ek kom uit ’n groot gesin – ek het agt broers en susters, en ek is die jongste. My kinderjare was gelukkig en alles was daar vir my, ek het nie swaargekry nie. Daar is ’n ouderdomsverskil van 24 jaar tussen my en my oudste broer, so die meeste van die broers en susters was reeds uit die huis uit toe ek grootgeword het.
Ek was in Steenberg-hoërskool op skool, maar ek het nie matriek klaargemaak nie. Ek moes gaan help werk. Ek het begin as ’n leerling-elektrisiën en ek is nog steeds in dié bedryf.
In my vrye tyd het ek daarvan gehou om strand toe te gaan en te swem – ek hou nog steeds daarvan. En sport, ek hou van sport. Destyds het ek baie sokker gespeel, maar nou dink ek ek sal dit maar aan die jonger ouens oorlaat.
My pa was baie godsdienstig en ons het as gesin aan die Volle Evangeliekerk in Wittebome behoort. Ons het almal in dié kerk grootgeword. Ek is nie nou meer daar nie, maar my broers is nog lede.
Vir ’n tyd lank was ek nie juis deel van die kerk nie, maar ek het gesien hoe dinge nie goed gaan in my lewe nie. Toe maak ek ’n verandering. Ek het aangesluit by JCI (Jesus Celebration International) en ek kan sien dat die kerk my regtig op baie gebiede sterker gemaak het. Dit het baie belangrik vir my geword. Voorheen was ek nie moedig of dapper genoeg om dinge te doen nie. Maar nou is dit anders. En hierdie saak met Miché … Dit was ’n moeilike situasie en ek kon tou opgegooi het, maar danksy die kerk sal ek deurdruk met wat ook al voorlê.
Dis hoe ek my gesin grootgemaak het – dis hoe ek nog steeds probeer om my gesin groot te maak – om ’n goeie vader vir hulle te wees, ’n geestelike vader, om hulle die regte weë te leer.
Ek het Lavona in my laat twintigs ontmoet. Sy is vier jaar ouer as ek. Ons was minstens vier jaar lank net vriende voor ons ’n paartjie geword het. In my vroeë twintigs het ek ’n meisie gehad, en ek het ’n dogter by haar gehad. Ons het lank probeer om die verhouding te laat werk. My pa wou eintlik hê ek moet trou omdat ons Christene is, en hy het my vertel as jy droogmaak moet jy dinge regmaak. So, ek was van plan om met haar te trou, maar dit het net nie gewerk nie. Ek weet nog steeds nie wat skeefgeloop het nie. Sy het wel gesê ek speel te veel sokker en kom saans laat huis toe. Nou sit ek terug en dink dit kon die rede gewees het; ek het meer aandag aan sport gegee en nie genoeg tyd saam met haar by die huis deurgebring nie.
Ek het Lavona ontmoet ’n ruk nadat ek met dié meisie uitgemaak het, of terwyl die verhouding besig was om ten einde te loop. ’n Gemeenskaplike vriend, Phillip, het my saamgeneem na Lavona se ma se plek en ek het haar en haar susters en broers ontmoet. Ek het vanaf die eerste besoek van hulle gehou, en ek het geweet ek sal weer daar gaan kuier. Ons het sokker gespeel en ná die tyd teruggegaan na Lavona se huis, waar ons gesels en na musiek geluister het. Hulle was goeie vriende om te hê: altyd gelukkig, vrolik, spraaksaam. Veral Lavona. Ek het daar gesit en dan doen sy al die praatwerk terwyl ek al die luisterwerk doen. Ek is ’n goeie luisteraar.
Ná ’n ruk het ek begin om alleen by Lavona se huis te gaan kuier. Miskien was dit toe ek gevoelens vir haar begin kry het. Eendag het ons net skielik gesoen en ek dog o gaats, wat het nou gebeur? Sy het altyd probeer om my te help om ’n meisie te kry. As ons almal saam uitgaan, sou sy sê: “Haai, daar is ’n gawe meisie vir jou”, en dan het ek met dié meisie gaan gesels. Almal was verbaas toe ons twee ’n paartjie word, want sy het alewig probeer om my aan ’n meisie te help.
Sedert daardie soen was die twee van ons saam.
Ek het destyds my dogter oor naweke opgepas, en sy het ook saam met my by Lavona se plek oorgebly. Dit was lekker, want daar was ’n goeie verhouding tussen my kind se ma en Lavona. Selfs Miché het grootgeword met my eerste dogter as iemand wat sy geken het. Ek onthou hulle het baklei in die kar as ons gery het. Hulle wou albei voor sit en dan huil Miché. My eerste dogter het altyd gesê: “Ek is die oudste, ek moet voor sit”, maar Miché wou haar nie ’n kans gee nie. Dan het ek hulle al twee agter laat sit! Maar hulle was oulik, gelukkig, en nogal baie saam.
Toe loop iets skielik net verkeerd – ek weet nog steeds nie wat nie. Miskien was dit iets tussen die twee vroue, dat hulle ’n argument gehad het waarvan ek nie geweet het nie, maar skielik kon ek nie meer my eerste dogter sien nie. Sy was seker so 10 of 12 jaar oud, en sy het opgehou om oor naweke na ons toe te kom. Ek het nie meningsverskille met haar ma gehad nie, maar sy het die kontak stopgesit. Dis nou vyf jaar sedert ek laas direkte kontak met haar gehad het.
Toe Lavona destyds swanger raak, was ons nog nie getroud nie en het ons nie eens saamgewoon nie. Ek het by my broer gebly en sy in die huis in Seawinds, nie ver van mekaar af nie. Sy was ’n naaldwerkster – wanneer sy nie ’n kontrak met ’n maatskappy gehad het nie, het sy haar eie klere gemaak. Sy was altyd besig om klere te maak, veral sweetpakke.
Ek was verbaas toe Lavona my vertel sy is swanger, want sy het altyd gesê sy sukkel om swanger te raak. Ek het geweet sy het al voorheen miskrame gehad – nie by my nie, maar sy het my reg aan die begin vertel sy het miskrame gehad.
Ons het toe reeds oor trou gepraat. Soos enige paartjie wat altyd saam is, het ons gepraat oor die moontlikheid om saam ’n huis te koop. Lavona het altyd gesê dis nie wys om ongetroud te wees en saam ’n huis te koop nie, want as iets skeefloop, gaan dit chaos afgee. Ek het ook gedink ons behoort eers te trou. Maar intussen het sy swanger geraak.
Ons was almal opgewonde vir haar. En bekommerd. Al was sy fiks en gesond, het almal aanhou sê sy moet dit kalm vat en mooi na haarself kyk omdat ons geweet het sy sukkel om ’n baba die volle nege maande te dra.
Lavona is een van daardie vroue wat regtig swanger gelyk het. Jy weet hoe sommige vroue se gesig opswel, hul neus opswel, hul maag vinnig groter word? Dit het met Lavona ook gebeur, van vroeg af aan. Sy was so ooglopend swanger. Dis hoekom dit moeilik is vir my om enigiets anders te glo …
Soos ek gesê het, ons het nie saamgewoon nie, so ek het haar net altyd gaan besoek. Ek sou Maandagaande na haar toe gaan, en soms ná sokkeroefening, en dan oor naweke. Ek het haar nie elke dag gesien nie, maar ons het oor die foon gesels, of as ons mekaar dalk vir ’n rukkie nie gesien het nie, sê sy: “Kom, laat ek jou nou ’n bietjie sien, ek het nou lank nie vir jou gesien nie”, en dan gaan ek na die een kant van die pad en sy na die ander kant, en ons waai vir mekaar. Dís hoe na ons aan mekaar was.
Op ’n dag, dit was ’n Donderdag, kom ek by Lavona se huis aan ná werk, en buite sit daar ’n spul mense en wag. “O,” het hulle vir my gesê, “daar is ’n verrassing vir jou daarbinne.” Mense het my al reeds gelukgewens en my na binne begelei. Toe gaan ek by die huis in, en die baba was daar. Ek het geweet die baba sou binnekort kom, maar ek nie geweet dit sou dié dag gebeur nie, en dit was so opwindend om by die huis te kom en hierdie babadogtertjie daar aan te tref.
Ek het Lavona gevra hoe dit was en sy het gesê: “Nee, dis orraait, dit was nie so erg nie.” Ek het my ma gaan haal, en ek sien nog daardie prentjie voor my van haar wat die baba vashou. My pa was toe reeds oorlede.
Lavona het verduidelik dat sy daardie oggend hospitaal toe is en geboorte gegee het aan die baba, en dat hulle haar dieselfde aand nog huis toe gestuur het. Ek het vir haar gesê: “Jy’s mos sterk, nè! Ten minste het alles goed gegaan.”
Jy moet onthou dat dit nog in die tyd voor selfone was. Ons het toe nog briewe aan mekaar geskryf, en vriende het rondgehardloop en vir my briewe gebring wat Lavona gestuur het. Mens kan dit seker liefdesbriewe noem. Ek het hulle gelees en dan bel ek haar van my huis af. Dinge was anders in daai dae. So, toe ek eendag by die huis kom en uitvind dat my kind gebore is en dat alles oukei is, was ek net baie gelukkig. Ons het haar “Miché” genoem – van “Michael”. Ons het reeds ’n Michelle en ’n Michaela in die familie gehad, daarom het ons Miché gekies.
Aan die begin het ek nie graag vir Miché vasgehou nie omdat sy te klein en broos gelyk het om te hanteer, al was sy ’n baba van normale grootte. Om die waarheid te sê, ek dink sy was nogal swaar volgens babastandaarde, maar ek was te senuweeagtig met so ’n klein dingetjie.
Noudat die baba daar was, het ek meer gereeld na Lavona toe gegaan. Ek het elke aand ’n draai daar gemaak om haar met die baba te help en vir haar dinge te bring wat sy nodig gehad het, soos nappies en lappies. Omdat ek dikwels daar aan die slaap geraak het en in elk geval die hele nag daar deurgebring het, het ek besluit om eerder by haar in te trek en haar met Miché te help. Ek was baie besig met werk in dié stadium, ook as bestuurder wat die ouens na die werkterreine vervoer het. Ek het nogal lang ure gewerk, en Lavona het gesê sy sal na al die dokumente en geboorteregistrasie-dinge vir die baba omsien. Sy wou nie hê ek moet tyd afvat by die werk nie, so sy het alles gedurende die dag behartig.
Ek was baie bly om weer ’n pa te wees. Ek het daarvan gedroom om ’n pa vir my eie kinders te wees omdat ek grootgeword het met broers en susters en hulle kinders rondom my. Ek geniet dit regtig om kinders om my te hê.
Ons het twee jaar lank saamgewoon in Lavona se familiehuis, tot my tweede oudste broer op ’n dag vir my sê: “Mike, jy lewe in sonde! Jy kan nie meer so lewe nie. As Daddy hier was, sou hy gesê het jy moet trou.” Dié woorde het my werklik getref, en in die kamer by haar ma se plek vra ek toe uit die bloute vir Lavona om met my te trou. En haar reaksie was: “Hè?”
Ons het getrou en toe nog ’n ruk lank daar gewoon, tot ons die plek gekry het waar ons nou bly, in Hillview. Daar het ons nuut begin, met ons nuwe baba en Lavona se susterskind Gerald. Ek het hom as haar seun en ons verantwoordelikheid aanvaar. ’n Gesin van vier. Ek het geweet ek moet nou meer verantwoordelikheid in die lewe op my neem. Ek kan nie onverskillig wees en net aan myself dink nie; ek moet eerste aan hulle dink. Ek moet ’n permanente werk hê en vir hulle sorg. Dit was my doelwit. Dit is nog steeds. Om vir hulle te sorg.
Ons was gelukkig. Ons het elke dag kos gehad, ons het die dinge gehad wat nodig was. Lavona het ook gewerk, sy was altyd aan die werk. In Januariemaand het sy byvoorbeeld bestellings vir skooluniforms gekry, en dan bestellings vir sokkerklere. Soms het sy deur die nag gewerk. Lavona was altyd liefdevol en sorgsaam en het na ons omgesien. Sy was dol daaroor om dinge vir die baba te maak of te koop.
Dit was altyd vir my lekkerder om by die baba te bly. Ons het destyds na die danse toe gegaan, maar ek het altyd vir die ander gesê: “Julle kan maar gaan, ek sal by Miché bly en na haar kyk.” My lewe het begin verander ná haar koms, en ek wou nie meer so baie uitgaan nie. Dalk is ek vervelig, maar ek het verkies om liewer by haar te bly. Ek het Miché graag naby my gehou. Ek weet nie of dit maar altyd so was en of dit net is as gevolg van wat gebeur het nie, maar ek bekommer my heeltyd oor haar.
Ek onthou toe sy in die laerskool was, het sy geval toe sy uitklim by die bus waarin sy skool toe gery het. Sy het gehuil en was baie ontsteld daai dag, en ek was dié aand baie omgekrap toe ek daarvan hoor, want ek wou nie hê sy moet seerkry nie. Ek het vir haar ma gesê sy moet haar nou self skool toe neem en wag tot sy veilig binne is voor sy weggaan. Want dit is nou een ding: Ek wil nie hê my kind moet pyn of hartseer verduur nie. Mense het vir my gesê dis normaal, kinders val en kry skrape en wat ook al. Maar ek wou nie hê sy moet seerkry nie – dis maar net hoe ek gevoel het.
Saans as ek van die werk af kom, het Miché altyd by die venster gewag. As die kar by die huis stop, het sy aangehardloop gekom om my te omhels, selfs nog voor sy behoorlik kon praat. Dis haar manier.
As tiener was sy ook gelukkig by die huis. Sy het nie baie uitgegaan nie, sy het meestal by die huis gebly. Sy was ’n goeie student, haar akademiese prestasie was puik, niks fout daar nie. Sy het altyd graag skool toe gegaan. Ek kan nie onthou dat sy ná skool vir detensie moes agterbly en sulke goed nie. Nee, sy was nie ’n stout kind nie.
Ek het nie geweet van ’n kêrel nie tot ek eendag hierdie outjie op ’n rusbank in die huis sien sit. Lavona het gesê dis ’n vriend van Miché. En ek sien Miché kyk na my, asof sy dink “Wat gaan Daddy nou sê?!” Ek het teruggekyk en na my kamer toe gegaan. My vrou het toe vir my kom sê dis net ’n skoolvriend.
Ek het later vir Miché gesê sy kan vriende hê, maar dat sy weet sy moet eers haar skoolloopbaan voltooi. “Moenie dat seuns jou aandag aflei nie. Maak klaar met skool en weet wat jy in die lewe wil hê.”
Daar was ’n ander outjie wat by haar kom kuier het, maar hy het buite bly staan en dan gaan ek haar roep. Sy het vir my gesê: “Daddy, gaan sê vir hom ek is nie hier nie.”
“O, so nou moet ék vir hom die boodskap gee, maar dis jou vriend!”
Dan het ek uitgegaan na hom toe en hom vertel dat sy nie daar is nie. Ek kon sien hy was teleurgesteld, maar sy het gesê ek moet dit vir hom sê, so ek het dit gedoen – dis dit.
Op die ou end het die seun op die rusbank Sofia se pa geword, maar dit was eers later, ná D-dag …
Oor die algemeen dink ek ons het ’n baie gelukkige, normale huislike lewe gehad. Ek en Lavona het albei hard gewerk om ons gesin te onderhou, en ons het almal na mekaar omgesien. Die kerk was ook ’n belangrike deel van die hele familie se lewe. Al het ek my baie oor Miché bekommer, was ons ten minste almal saam en veilig. Nie soos die Nurse-gesin nie, wie se baba gesteel is. Ek was bewus van die Zephany Nurse-geval, en ek het so hartseer gevoel daaroor. Ek het naby hul familie grootgeword – die plek waar ek sokker gespeel het, was digby hul huis. Ek het altyd gegroet en gesels as ek daar kom. Van hul familielede het selfs saam met ons gewerk; ons was die elektrisiëns op die bouterreine en hulle was die bouers.
Ek het nooit selfs die geringste idee gehad dat Miché nie my kind is nie. Sy het so baie na my familie gelyk. Ek onthou nog ’n keer toe ek haar saamgeneem het na ’n begrafnis. My broer se dogter was ook daar, en Miché het langs haar gestaan. Ek onthou hoe ek gedink het hulle lyk amper soos susters, albei lig van kleur met ligte oë.
Ten minste het ek geweet waar my kinders is. Ek het so jammer gevoel vir die Nurses. Ek het eendag beligtingsmateriaal gaan haal by ’n winkel in Dieprivier waar Morné en sy pa gewerk het. Toe ek Morné sien, dink ek by myself ag shame, dis sy dogter na wie hulle soek … Dis wat elke keer by my opgekom het wanneer ek hom gesien het.