Читать книгу Branderjaer - Joha van Dyk - Страница 10

Deidre

Оглавление

CRIME CHANNEL SPEEL 24/7 in die Anker-huis.

Vandat Deidre kan onthou is die huis gevul met die klank van die stryd tussen reg en verkeerd. Die wit- en-roomkleurige sitkamer is oopplan, die skuifdeur en groot vensters, met ’n voorliefde vir sonskyn, is oop. Die beige gordyne, roos­pienk orgideë, baie versigtig gekweek deur haar ma – alles in die leef­area is in kontras met die grootskerm-televisie wat preek oor moord, dood en hofsake. Teen skemer klink die see har­der, selfs waar sy op die dek staan, kilometers van die bran­ders af. Hier, teen die voet van die berg, af in die straat van die Volstees, lyk die see soos een van Mieke se rowwe verfstrepe, grysblou teen die horison.

Deidre het nooit seevakansies geken nie. Haar ma het ’n wantroue in seestrome en het nooit juis deelgeneem aan die gemeenskaplike kom-ons-vat-die-kinders-see-toe-uitstappies nie. Gelukkig het haar tannie-hulle langsaan gewoon. Haar neef, Frederik, was altyd die stout een, met sy ouer broer­­­, Bertus, ’n goeie sewe jaar ouer en weg op universiteit. Frederik het haar skelm see toe gevat, haar leer swem en visvang. Dit was Toe. Voor.

Deidre was vier jaar laas werklik op die strand. En dis ’n dag wat sy nooit wil onthou nie. Sy staan eerder op die kant­lyn, op die promenade met die menigte stalletjies en die room­­ys­waentjie. Sy kyk, maar sy gaan nooit nader as wat sy hoef nie. Nou, Saterdag, gaan sy móét. Ja, sy kon vir Louw vra dat hulle iewers anders ontmoet, maar sy kon nie die whats­app vir hom stuur nie. Sy wil nie meer soos ’n laf­aard voel nie. Sy wil ’n punt vir haarself bewys, hoe gering ook al. Sy gaan opdaag en dit gaan iets beteken. Dit moet net.

By die promenade, reg in die middel van Stormbaai se kus­lyn, is Pieter se ma, tannie Helen, se kuns-koffiewinkel, Eden. Dis waar sy daagliks in haar Louboutins koffie be­dien aan die dames van haar boekklub, spinklas en besigheidsirkel. Met die hoeveelheid tyd wat sy pa afwesig is, kan selfs Pieter skaars byhou met al sy bedrywighede. Oom Carl het basies ’n monopolie oor die dorp, sy enigste kompetisie is die ander aandeelhouers in ’n “Ontdekkerskomitee”. Die lede van hierdie komitee, of “kultus”, is glo afstammelinge van die oorspronklike stigters van Stormbaai. Bella wou nog ’n artikel doen vir die Inkvis oor hierdie veronderstelde “ontdekkers” wat van Chancer Bay af gevlug het, maar die skoolhoof, meneer Van Deventer, het dit afgekeur. In ’n klein dorpie sal mense enigiets glo.

“Deidre! Dek gou die tafel, asseblief.”

Deidre trek die skuifdeur toe voor sy die eetgerei uit die eetkamerkas haal en begin dek. Haar ouers se stemme is gedemp in die kombuis van die oopplanvertrek, tussen­deur die gekletter van panne. Die geur van knoffel walm deur die huis.

Deidre hou die moordtoneel op die televisie dop. Die ak­teurs is amateurs. Die man en vrou stry met oordrewe to­neel­spel en melodrama. Tussen hul “toneelspel” deur vang sy dele van haar ouers se gesprek. ’n Gesprek wat afspeel nes die res – soos twee treine wat reguit op mekaar afpyl.

Die pan sis en haar ma skink nog ’n glas wyn.

“So Carl het jou al weer betrek by een van sy planne?”

“Renate, dis ’n besigheidsgeleentheid,” sug haar pa.

“Jy’s klaar so min by die huis. Hoekom kan jy nie net –”

“Ons het mos ’n ooreenkoms, my vrou. Ons het ooreen­gestem. Beide van ons kan ons beroepe behou en steeds ’n gesin hê …”

“Ek glo ons het eintlik ooreengestem dat ons ons drome moet volg. Myne was om vennoot te wees. Is joune om in Carl Volstee se gat opgekruip te wees?”

Die man gryp die vrou se kraag en haar hande krul by sy nek. Sy wil terugbaklei.

Deidre beweeg om die tafel om nader aan die kombuis te staan, haar oë steeds op die televisie. In die kombuis kap die mes teen die snybord.

“Ek kan nie weer hierdie gesprek voer nie.” Dis vir ’n oom­blik stil. “Jy is ook net saans hier. Wil jy hê ek moet heeldag hier rondwag vir julle om huis toe te kom?”

“Beide ek en Deidre werk baie hard. Sy is onder groot druk om te presteer. Om aanvaar te word by universiteite. Wêreld­klas universiteite,” byt haar ma.

“Dink jy nie jy druk ’n bietjie hard nie? Sy’s klaar ’n A-kandidaat. Dink jy nie –”

“As sy nou glip –”

“Sy’s ’n mens.”

“Dit beteken nie sy moet haarself saboteer –”

Die vrou gryp ’n mes op die toonbank en dit beland in sy rug, maar die man stoot haar agtertoe tot haar kop teen die muur kap, sy vingers steeds om haar nek.

“Sy’s ’n kind. Tye het verander.”

“Het die samelewing al verander? Het misoginie al ver­dwyn? Het patriargie al gebuig?”

“Hemel, Renate.”

“Hierdie is realiteite. Sy moet voorbereid wees vir die struikelblokke daar buite. Weet jy hoeveel huishoudelike geweld, verkragting, onbillike be–”

“Ek verstaan jy wil haar in die beste moontlike posisie –”

Die man se duime klem stywer om die vrou se keel. Onder haar kake knak haar lugpyp – maar hy is besig om uit te bloei. Sy hemp is rooi, sy arms word swakker . . .

“Nee. Jy verstaan nie.” Die mes kletter op die toonbank. “Hoe dink jy moet sy ’n beurs kry, Albie?”

Vir ’n oomblik is dit tjoepstil in die kombuis.

“Renate, ek weet ons lewenstyl … ek verstaan –”

“Totdat jy nie jou neus uit die Volstees se sake hou nie, sal jy nie verstaan nie. Jy’s te diep in iemand anders se idees vasgevang. En dis nie die man wat ’n ooreenkoms met my gemaak het nie.” Haar ma begin weer kap met die mes, harder as tevore.

“O? Was hierdie alles deel van ons ooreenkoms? Hoe wil jy hierdie lewenstyl volhou as ek nie –”

“Jy het my insette. Dis in jou hande. Hou my net daar uit,” sis sy.

Die man val op die vloer; die vrou langs hom.

Deidre probeer soos gewoonlik sien of die akteurs asemhaal ten spyte van die “dood-status”.

“Deidre! Kos is reg.” Haar ma kom ingestap met die pan en slaaibak, werkspakkie steeds glad gestryk, asof sy moeiteloos die dag kafgedraf het.

Deidre kyk van haar na haar pa. “Alles oukei?”

Haar ma se lippe trek in ’n selfversekerde glimlag. “Piekfyn.”

“Ek het net ’n paar werksfunksies vir die volgende paar weke,” sug haar pa toe hy gaan sit, sy elmboë op die tafel, hande geknoop voor sy mond. “So ek gaan vir ’n rukkie bie­tjie harder moet werk. Bietjie langer van die huis af wees.”

“So naweke –”

“Naweke is ek by die huis,” glimlag hy wrang. Deidre se ma hou haar pa fyn dop, oë vernou, voor Deidre weer na haar draai.

“Maar alles is oukei?”

Haar ma antwoord in haar advokaat-stem: “Dit sal wees.”

Net voor Deidre gaan sit, skakel haar ma die televisie af.

Sy is ’n beter aktrise as wat Deidre gedink het.

“IS JY MAL?”

“Ek het dit nie voorgestel nie, oukei?”

Pieter druk sy hande in sy kortbroek se sakke en gluur grim­mig na die gelukkige Stormbaai-skare op die strand. “Jy kon enigiets anders voorgestel het,” brom hy. “Of het hy jou tong geknoop?”

Waar hulle staan, sonder die skoolbaadjie wat sy prestasies aan die wêreld verkondig, lyk Pieter jonger, amper kinderlik. Soos in die dae voor hulle besef het die wêreld het verwagtinge. Dan trek sy mond asof hy iets suurs geruik het en Deidre onthou hoekom hulle hier is.

“Sy vriende het hom weggeruk voor ek iets anders kon voorstel,” jok sy.

“Weet jy, ek het gehoor hy’t al met helfte van die meisies in Chancer Hoër geslaap. Daar’s baie stories oor hom.”

“Dalk is hulle nie almal waar nie. Jy weet hoe skinder mense hier,” mompel Deidre, maar iets binne haar wriemel onrustig. “Besides, waar hoor jy die goed? Waar kom al jou skindernuus in elk geval vandaan?”

“Deidre, ek weet jy’t al vergeet hoe ’n sosiale lewe lyk, maar ek is op vier komitees, insluitend die Sosiale Komitee. En ek het ’n gesig wat mense vertrou.” Hy lig sy wenkbroue en wys na sy “neutrale” uitdrukking. “Mense vertel my goed. Ek vra nie altyd daarvoor nie, maar … anyways, ek het gehoor hy’t die een meisie by haar ou afgevry en haar gelos ná haar ou met haar opgebreek het. Letterlik net haar hart gebreek en aanbeweeg. Dis soos ’n sport vir die ouens.”

“Pieter –”

“Komaan, kyk na Human.”

Jak Human het sy pad omtrent deur die grade gevry en al die meisies ewe hartgebroke agtergelaat. Tog soek hulle hom nog steeds. Van Louw se meisies het sy nog nie gehoor nie. Dalk hou hy hulle geheim? Dalk bestaan hulle nie. Dalk laat hy dit nie so ver gaan nie. Wat as hy inmeng by háár lewe? Hy’s haar tutor, sekerlik sal hy nie …

“Dis nie asof ek met hom wil slaap nie. Of vice versa,” keer sy vinnig. “Dis net wiskunde.”

“Ja. Dis net wiskunde.” Pieter kyk weer vinnig na haar met daai frons waarmee hy sit wanneer hy ’n speurverhaal lees, maar sy hou die branders dop. Al die wetsuits lyk dieselfde. Die branderplanke beweeg skerp net voor die brander begin rol, dan ontwaak robfigure in hurkende posisies voordat hulle oor die water gly. Een brander hol uit en rol, ’n branderplankryer glip deur die barrel, maar hy verloor skynbaar sy balans en verdwyn onder die water. Sy trek haar asem in. Een van die ryers hardloop skielik op die strand uit, sy hare donkerrooi teen sy kop geplak.

Malherbe sit van laerskool af saam met Deidre in ’n re­gis­terklas, maar hulle het nooit rede gehad om met mekaar te praat nie. Hy was maar altyd die moody seun ’n paar banke voor haar, met vingers wat gedurig teen sy bank tik. Die seun wat dikwels afwesig is, maar wat met enigiets kan wegkom sodra die Albertyn-van genoem word. Hoewel hy meestal verwaarloos lyk – met deurmekaar hare, die ou, gekraakte horlosie altyd om sy gewrig en die stowwerige skoene – het sy ouers maklik meer geld as die Volstees en die res van die dorp saam. Deidre rek op haar tone, die meerderheid van Storm Hoër se leerders is aan die ander kant van die strand, besig om te rumoer en te ondersteun. Jak gooi vir sy mede-Jaer ’n handdoek en neem Malherbe se branderplank versier met opsigtelike helder vlamme – oranje, rooi en geel – wat lek aan die board se oppervlak.

“Stokebrand.”

“Wat?”

“Jak, hy’s mos Stokebrand.” Pieter knak sy vingers voor hy teensinnig weer na die water kyk.

“Ek dog dis Stoke?”

“Ek het iewers gehoor dis verkortings. Daar’s langer name, hulle gebruik dit net nie. Kan hulle nie blameer nie,” mor hy.

“O.” Stokebrand? Sy gaan gou deur die lysie in haar kop. Vuur, Kannie, Klippies, Bitter, Stoke – Stokebrand. Wat de hel is die volle name?

Deidre staan weer op haar tone, trek haar oë skrefies teen die son, skuil onder haar hand se skadu, maar net toe sy dink sy kry Louw in die oog, gaan ’n sirene af. ’n Opgewonde gejuig hardloop deur die skare en iewers weerklink ’n stem in ’n mikrofoon.

Pieter steek sy hande met ’n sug diep in sy broeksakke.

“Dit lyk of jy gemartel is.”

“Ek is.” Pieter koes vir die vuishou wat Deidre na sy arm mik. “Ontspan. Ek doen dit enige tyd vir jou, maar hopelik nooit weer nie.”

“Ek kan nie help juffrou Kruger is –” begin Deidre.

“’n Sadis? Salig onbewus van die feit dat hierdie ou jou nie kan help nie?”

“Sjoe. Dankie vir die vertroue, pel.” Deidre kruis haar arms voor haar bors om die koue te keer.

“Ek wens net ek kan beter verduidelik, dan hoef jy nie aan hierdie shitshow deel te neem nie. Ek vertrou hom nie.”

Deidre sluk aan haar verdediging. Sy kan nie terugbaklei nie, want sy vertrou Louw ook nie. Nè?

“Wie’t gewen?” sug sy uiteindelik.

“Wel, niemand wen nie. Hulle word net deurgesit na die volgende ronde –”

Die meisie langs Pieter se hare wip toe sy na hom draai. “Bitter het gewen.” Sy gee vir Pieter ’n kilowatt-glimlag, maar hy draai net sy rug op haar. Deidre wil haar kop skud. Pieter is so deur die dinges wanneer dit by meisies kom.

“So Bitter blykbaar, maar jy weet daar’s nie nou al eintlik ’n wenner nie. Niemand regtig nie, dis net uitdunne –”

“Jy’t gekom!” Louw kom drawwend nader met sy plank nog onder sy arm, hare sopnat gekrul.

“Jy’t, uh, gesê ek moet,” stotter sy. Flip! Is daar een of ander mind trick wat maak dat sy haar stem verloor sodra ’n Branderjaer voor haar staan?

Louw zip sy wetsuit af tot om sy middel waar sy heupbene net-net uitsteek, sommer net daar voor haar asof dit niks is nie. Sy hoop en bid die koue wind hou haar blos in toom. Hoendervleis slaan uit teen sy vel waar daar plek-plek ’n ou blou kol groen verkleur het. Die mense agter hom het al begin uitmekaargaan, maar dié wat steeds om hulle rondstaan sien hulle raak, fluister, hou aan kyk. Hy let hulle nie eens op nie.

“Ja, sure. Ek weet.” Hy glimlag en Deidre sien die son in sy oë skitter.

“Um, geluk, jy was baie goed. Ek bedoel, obviously was jy goed, maar …”

Sy dink aan die skinderstories, die hashtags, die video’s met die see wat altyd dreun. Die prentjie maak nie sin nie. Het hy regtig al daardie meisies seergemaak? Is die Jaers regtig so sleg soos hulle gedink het? Deidre skud haar kop. Sy kan mos nie alles wat sy gedink het, geglo het, ná ’n tweede ge­sprek ongedaan maak nie.

“Ek moet net aantrek, dan werk ons by die duine? Of kort jy ’n tafel? Daar’s ’n paar op die promenade.”

“Uh, die duine is seker fine.” Deidre sê dit sonder om te dink. Hy wag nie, knik net en hardloop verby haar. Sy draai om en sien hoe die ander Jaers hom met skouerklappe verwelkom. Van hulle duikpakke is al uitgetrek, Malherbe en Ben s’n is afgezip soos Louw s’n, hulle laggende gesigte oop. Ink flits teen Malherbe se skouer toe Louw sy arm om sy pel gooi. Toe sien sy eers die lang stroke blou merke teen Louw se arms. Sy vriende omsluit hom en die ou wat amper bereikbaar voor­gekom het, is weer afgebaken.

“Die duine? Regtig?” snork Pieter. “Hulle’s ’n tight groe­pie. Ek gee hulle dit.” Pieter se lyf is ’n bekende troos langs haar, maar sy kan nie help om na die Branderjaers te staar nie.

“OUKEI, MAAR SAL hulle dit so in die eksamen vra?” Dei­dre byt haar lip.

“Hulle het vir óns, so ek wil hê jy moet hierdie kan doen. Dis way moeiliker as die ander, so as jy hierdie regkry gaan die res maklik wees.” Louw trek ’n streep onder die som in haar handboek. Blykbaar is hy van plan om sy handskrif reg­deur haar wiskundehandboek agter te laat, dis hoe hy werk. Wow. Wie sou ooit kon dink mens sou die woorde “Bran­der­jaer” en “werk” in een sin kon hê? Die piekniekbankies op die promenade is gelukkig leeg vandag, so dit was maklik om te konsentreer. Deidre het woordeloos na die promenade gemik toe hy by haar aansluit en haar volg, sonder om vrae te vra. Verrassend genoeg was die Branderjaer geduldig met haar. Hy’t geweet wanneer om in te gryp en wanneer om haar te laat wroeg. Asof hy begrip het vir wat haar terughou.

Sy pak versigtig haar boeke weg en probeer so hard moontlik om nie aan Louw te raak nie. Toe die wind begin optel, het Louw langs haar op die bankie kom sit en Deidre moes keer om nie weg te skuif nie. Tussen sy verduidelikings deur het sy ongemerk die sny, wat steeds gespikkel is met rou rowe waar hy daaraan gekrap het, op sy wang bekyk. Sy skouers is wyd, sterk van die swemmery. Sy bruingebrande vel wys plek-plek deur die gaatjies van sy ou T-hemp, en die see klou aan hom, die reuk van sout en water en … vryheid? Ingedagte trek sy haar hare terug in ’n los bolla.

“Olifant.”

Sy kyk verskrik op, sy gesig skielik nader aan hare, sy oë geskreef op haar hals. “Huh?”

Hy probeer sy lag inhou toe hy opstaan en sy rugsak optel. “Die olifantjie om jou nek? Grootvoet? Jy hou mos van lees, so jy ken van die grootvoete.”

Sy’t nie besef haar vingers het aan die gekerfde klip-oli­fantjie geraak nie. Dis van die laaste Anker-gesinsvakansie, ’n goeie ses jaar gelede. Die landskap van Knysna is vaag in haar geheue, maar sy onthou die olifant wat sy slurp teen haar nek gedruk het, haar pa wat haar hand vasgehou het, haar ma wat gelag het en foto’s geneem het, hare wild om haar gesig nes Deidre s’n.

Dis een van die spesiaalste dinge wat sy besit – sy waag nie om dit onder haar skoolhemp te dra nie. As juffrou Reyneke dit sien sal sy dit afvat sonder om twee keer te dink. Dei­dre se oog vang weer die leertoutjie om Louw se nek. Dis nie asof hy´ bang is dat iemand dit sal afvat nie. Daniels se dog tags word ook verskoon. Asof die onderwysers nie eens die moeite wil doen om hulle gesag op die seuns af te dwing nie. Dan onthou sy van Daniels en Louw by Verfkwas. Sy kan nie help om te wonder wat tussen die twee gebeur het nie, maar as sy nou begin uitvra oor Branderjaer-sake, maak dit haar niks beter as die Branderpoppies nie.

Sy los die olifantjie en pak die laaste handboek weg. “Ah, ja. Dis Dalene Matthee. Voorgeskryf, maar …”

Hy leun teen die tafel. “Neem aan jy’s nie vergeetagtig nie.”

“Inteendeel. Dis van Knysna. Ek weet nie hoekom ek dit dra nie. Dalk soos ’n charm? ’n Good luck charm?”

“Good luck,” knik hy. Hy lig die leertoutjie onder sy Rip Curl-hemp uit. Aan die toutjie hang ’n stukkie glas, ’n kitaar-pick, ’n Cokedoppie, ’n muntstuk en ’n draadanker­tjie wat teen mekaar klingel. “Hier’s my luck.”

“Gaan jy sê wat hulle beteken?” Wat kan so belangrik wees dat hy dit by die skool sal dra?

Louw se kop kantel. “Eendag, dalk.” Hy glimlag en tree agteruit, terug na die strand. “Jy kan die volgende tyd en plek kies. Laat weet my maar.”

Deidre moet haarself forseer om weg te kyk van die brons­bruin lokke, die verbleikte jean en sy kaal voete wat klaar die pad huis toe vat. Die spiere spring in sy skouers soos hy wegstap, vae blou en pers merke teen sy bruingebrande arms. Met moeite staan sy op en begin aanstap na Eden om die draai, waar sy –

“Hei! Deidre!”

Sy swaai om, haar binnegoed in knope, en vang sy blik op haar. Glimlag halfmas, hande in sy jeansakke. Die wind wat trek aan die soom van sy hemp.

“Moenie vergeet nie!”

“DEIDRE, PIETER SÊ jy’s officially deurmekaar met ’n Bran­­derjaer? Ek’s vir ’n week by Christiaan en jy gaan rogue?”

Die son skyn lui deur ’n smal venster in Mieke se kelder-­kamer. Glasskerwe gooi ligpatrone oor die mure waar hulle aan vislyn hang – ’n laerskoolkunsprojek wat perfek ingepas het in die galery wat Mieke beskryf as ’n kamer. Mieke moes haar kamer opgee toe die tweeling gebore is en aftrek na die Wegkruipkamer in die kelder. Bo hulle hoor Deidre Ella, Mieke se sussie, wat haar balletpassies oefen. Mieke steur haar nie eens aan die doef-doef van Ella se voete nie, maar Deidre­­­ loer eers na die dak voor sy antwoord.

“Ek’s nie deurmekaar met hom nie, man, Pieter is net … Pieter. Kruger forseer Louw basies om my te help met wis­kunde.” Deidre het haar kruisbeen tuisgemaak op die ligblou mat voor die spieël. Hoe langer sy na haarself kyk, hoe ongeduldiger raak sy met haar bleek wange teenoor haar don­ker hare. Wanneer het sy so bleek geword? Sy en die girls het altyd op Sondae die koppies agter die visfabrieke uitge­klim om te vergeet van skoolwerk. Wanneer het dit opgehou? Waar is al haar sproete?

“Dis só cool, ek kan nie glo hy tutor jou nie!” Mieke loer bo-oor haar tydskrif na Deidre.

“Dis net wiskunde.”

“Wiskunde is die taal van liefde,” merk Mieke ligsinnig op. “Dis amper soos ’n Get Into His Pants Free Card.”

“Oukei. Eerstens, eeuw.” Deidre rol haar oë, tot Mieke se vermaak. “Tweedens, ek is honderd persent seker dit is nie. En as dit die taal van liefde is, maak dit sin dat ek suck daar­mee.” Deidre sug en lê terug op die donsige mat. Die lae dak is oortrek met prente van plekke regoor die wêreld. Sy en Mieke het dit begin in graad vyf, toe hulle nog die wêreld wou plat toer. Sy draai haar kop weg van die Skotse Feetjiebrug.

“Hei, meisies!” Die deur swaai oop vir roesbruin modelbene en ’n glimlag so wyd, dit kan net aan Bella Prins be­hoort.

“Bells!” roep Mieke, steeds vasgenael op haar tydskrif. Bella tik met ’n gemanikuurde, inkbesmeerde vinger teen die tyd­skrif se buiteblad voor sy langs Deidre neersak.

“En as jy so gevrek lyk?”

“Sy tob sommer oor haar eerste soen.” Mieke vang Bella se ondersoekende glimlag en skud haar kop.

“Julle is nie snaaks nie.”

“Jan Loubscher in Spin-the-Bottle tel nie regtig nie,” sug Mieke.

“Nou met wie gaan ons haar match?”

“Ons hoef niks te doen nie, Bells.” Terg kreukel om Mieke se oë. “Sy’t self die perfekte kandidaat gekry. Altans, Kruger het.”

“Wag, wat?”

“Man, jy sou geweet het as jy nie heeltyd aan Daniels se lippe hang nie.”

Deidre vee met ’n hand oor haar oë. Beide haar vrien­dinne is ewe sleg wanneer dit kom by ouens kies, maar hulle sal eerder mekaar se keuses kritiseer as na hulle eie kyk. Sy hoef gelukkig nie self vir Bella te verduidelik van die Bran­der­jaer nie – Mieke het dit onder beheer. Soveel so dat Bella onmiddellik op Mieke se ondersteuningstrein klim.

“So trots, girl!” Bella klap haar hande saam, die Gucci-­parfuum wat haar ma vir haar verjaarsdag gekoop het, in ’n walm om haar.

“Daar’s niks om oor trots te wees nie.” Deidre draai om haar in die oë te kyk. “Mieks oorreageer. Hy tutor my net.”

“Jô, maar hy tutor jou ná sy surfkompetisie! Dis so … ek weetie, sexy.”

“Is dit?”

“Ja, dit is,” sug Mieke.

Bella giggel. “Dis ongelooflik dat hy basically sy lewe waag, weet jy? Dis so …”

“Kommerwekkend? ’n Duidelike teken van koppro­ble­me? Dalk dwelms?”

“Ek dink dis super hot.”

As daar een ding is waaroor Mieke kan praat, is dit verhoudings. Sy’s immers ’n expert, selfs meer as Bella wat lank­al gekys het.

Deidre kantel haar kop.

“Hoe gaan dinge met Christiaan?”

’n Glimlag speel om Mieke se lippe. “Eh. Ons sal sien. Ek hou nogal van Erich?”

“Uys?”

“Jip, hy’s in Pieter se registerklas. Elke keer as ek vir Pieter daar kry, loop ons in mekaar vas. Hy’s bitter oulik.”

“Laat ek raai: hy’t jou op ’n koffie-date gevra?”

Mieke se mond pop komies in ’n ronde “o” en haar oë blink stout. “Hoe’t jy´ geweet?”

Deidre skud haar kop en sug. Hier sit sy en worry oor sproete en ’n tutorsessie, terwyl Mieke met die rugby- én hokkiespelers doenig is. Asof Mieke se lewe nie besig genoeg is met die tweeling en haar waitressing-skofte by Eden nie. Moenie eens noem van Bella met haar atletiek en die Inkvis én haar vaste ou vanaf graad nege nie. Sy kon nooit verstaan hoekom hulle so jonk al ’n ou wou hê nie. Nou? Nou wens sy enigiemand kan haar kop van die donkeroog-Jaer afhou. Sy’s amper te bang om haar oefeningboek oop te maak, weer na sy handskrif te moet kyk, te onthou waaroor hulle gepraat het en sy stem en –

Die ergste is, sy kan niks onthou nie. Bôggerol. Dis asof iemand haar brein skoongevee het, want sy weet nie waaroor hulle gepraat het nie.

Hel, sy kan nie eens die presiese kleur van sy oë onthou nie. Bygesê, sy kan ook nie onthou wanneer laas sy gaan stap het nie, so dalk is daar ander dinge wat met haar kop smokkel.

“Wanneer laas het ons gaan stap, Mieks?”

“Uh, net voor jou ma so crazy geraak het oor jou toekoms en die beurs en seksisme en … ugh. Al daai. Hoekom?”

“Ek dink ons moet weer begin.”

“Hoekom nie nóú nie?”

Bella kom van ’n lang lyn van fietsryers aan haar ma se kant, en ’n lang lyn van langafstandatlete aan haar pa se kant. Bella is dus nog altyd die aanhouer-wen, kom-ons-spring-­in-die-swembad-met-ons-skoolklere-tipe meisie. Vir die eerste keer kan Deidre nie kreun en Bella se spontane be­sluite weier nie.

Sy moet iets doen, enigiets anders as om aan Louw te dink. Daar’s in elk geval iets vreemds aan haar spieëlbeeld. Asof sy ’n dowwe, uitgewaste weergawe van haar ou self is.

Sy’t gedink sy bewys iets toe sy opgedaag het by die see, maar eintlik het daar iets gebeur – iets wat haar herinner het aan daardie meisie wat Frederik in die branders leer inhardloop het sonder om twee keer te dink. Wat het van haar geword?

Mieke rol op haar maag en gryp haar foon. “Ek laat weet vir Pieter.” Terwyl sy tik, glimlag sy oordrewe. “Jy sal enigiets doen vir die Branderjaer, huh?”

“Dit gaan nie oor hom nie,” keer Deidre.

“Ja, dit doen, Deidre Anker. Ek ken jou al vir ewig, so moe­nie eens probeer jok nie.”

Bella knik. “Jy suck in jok.”

“Mieks –”

“Jy besef elke meisie in die skool sal spring vir jou posisie, nè?” Mieke stoot haarself regop en trek haar vaal hare terug in ’n bokstert.

“Wat bedoel jy?”

“Dis Louw Swanepoel. ’n Branderjaer.” Bella se regter­wenk­brou is netjies gebuig. “Al die meisies jaag hulle. Alle. Meisies.”

“In elk geval, hy’s soos die goue gans –” las Mieke by.

“Die gans wat goue eiers lê.”

“Sien, jy weet waarvan ek praat.” Mieke krap in haar kas vir plakkies. Dis asof niemand anders verander het nie. Mieke en Bella is presies soos hulle was. Voor alles gebeur het. Is dit net sy wat stilstaan? Is dit net sy wat gestagneer en sproete verloor het? Het hulle dit ooit agtergekom? Of het hulle haar net tyd gegee om self te besef sy kan nie alles van Voor uitskakel en vergeet nie?

“Julle oorreageer, Bella. Komaan.”

Bella laat haar oë oor Deidre gly, vingers wat tik-tik teen haar foon. “Ek sien my vriendin wat heeltemal te veel skoenlappers het om skynbaar so kalm te wees.”

’n Paar plakkies tref Deidre se bene en Mieke kom staan oor hulle.

“Kom, ons gaan stap jou skoenlappers weg.”

Branderjaer

Подняться наверх