Читать книгу Branderjaer - Joha van Dyk - Страница 6

Оглавление

Louw

“WAG GOU!” LOUW ruk die meisiekind terug aan haar mou. Die trui is veels te groot vir haar, maar dit lyk nie of dit haar pla nie. Altans, hy weet dis nie wat haar pla nie, aangesien sy hom probeer doodkyk. Gewoonlik moet Louw eers ’n girl bat voor sy dit doen.

Sy kyk stip na sy hand op haar arm tot hy dit huiwerig los. Hy glimlag, maar dit lyk nie of dit werk nie. Jak sou haar ’n lost cause noem – een van daai meisies wat nooit gecharm kan word nie. Hy dink aan hoe Kruger amper-amper haar oë wou rol, maar tog aan die einde ingegee het met ’n glimlag. Hy ken al haar truuks, maar hy het nie dié een voorsien nie. Hiérdie match is nie voorgestel uit die goedheid van haar hart nie.

Die donkerkop vernou haar oë, sy kruis haar arms oor haar bors en haar lang vlegsel vee oor haar nek. Haar groen irisse blits met elke oomblik wat hulle in die gang staan – groen soos Stellenbosch se eikebome. Moes Kruger hom nou juis met die moeilikste graadelf opsaal? Sy’t die tipe kyk waar­op Medusa jaloers sou wees. Louw trek sy foon uit sy broek­sak.

“Oukei, kan ek jou nommer kry?”

“My nommer?”

Hy hou die foon uit. “Sodat ons oor die werk kan praat?”

“Ja, obviously, ah …” Sy tik haar nommer in, maar voor sy kan vlug, het Louw weer haar mou beet. Sy’s so jumpy. Wat is dit met haar weghardlopery? ’n Flight risk, dis wat Ellis sou sê. Soos een van daai diertjies in die veld wat Ellis altyd probeer “red” het – elkeen van hulle het weggeloop. Ellis se pa het altyd gesê: “Hulle’s wild, seun. Jy kan hulle in jou tuin hou, maar die veld roep hulle altyd terug.”

Weer kyk Deidre afwagtend na hom en Louw besef skielik hy hou nog steeds haar mou vas.

[Blocking, Swanepoel. Jy beweeg sodat jou mede-­­­­akteurs kan beweeg]

“Ons moet seker ’n tyd kry om te begin werk?”

“Môre?” antwoord sy dadelik.

“Vrydae is … nie goed nie, ek het iets aan ná skool.”

“Soos branders?” Haar blik rus op die sny teen sy wang. Skielik voel hy op ’n vreemde manier kwesbaar. Dit lyk of sy regdeur hom kyk.

Hy skud sy kop. “’n Buitemuurse … Dis nie belangrik nie.”

“Saterdag?”

Saterdae is altyd maklik, eksklusief uitgesit vir avonture: Ellis se bergklim-ekskursies, Malherbe se kransduik, Ben se grotte, Jak se … enigiets waaraan hy die dag dink. En Louw se branders. Hierdie Saterdag wag een van die pre-rondes van die Brandertoets – niks stresvols vir Louw nie, aangesien die meeste van die amateurs uitgeskakel gaan word. Wanneer hy daaraan dink, begin sy hart vinniger klop in afwagting. Hy sal maklik ná die tyd ’n wiskundeles kan doen.

“Daar’s eintlik ’n kompetisie Saterdag.” Hy glimlag toe haar kake verstyf, asof sy regmaak om te baklei. Dalk het sy ook ’n bietjie “maklik” nodig. “Hoekom kom jy nie? Ons kan ná die tyd werk?”

“Uh, oukei.” ’n Blos trek weer soos ’n veldbrand oor haar bleek vel, nes toe hy haar in Kruger se deur sien staan het, maar haar oë is vasgepen op hom, vasbeslote, intens. “Dis reg, uh, branderplankry, nè?”

“Ja, naby die promenade.”

“Cool. Groot branders Saterdag?” Sy skuifel onseker. Hoe langer hulle in die gang drentel met branderpraatjies, hoe ongemakliker lyk sy. Louw is net dankbaar sy gluur nie meer nie.

“Ons hoop so, die swell is veronderstel om huge te wees.” Hy druk sy hand in sy broeksak. “Dit maak nie saak nie, selfs die kleineres is die moeite werd.”

“Kort jy nie ’n grote om die kompetisie te wen nie?” frons Deidre.

Sy frons met haar hele gesig. Haar neus kreukel, oë vernou, vol vrae. Haar wenkbroue lig en hy snap sy wag vir ’n antwoord.

[Prompt?]

Louw skud sy kop, glimlag gereed. Altyd gereed.

Niemand vra hierdie vrae nie. Die meeste girls daag op ná die kompetisie en praat oor hoe cool, hoe rugged, hoe gevaarlik alles is wat hulle doen. Hulle neem foto’s en tag hulle met #branderjaers #bitter #klippies #vuur #kannie en meestal #stoke.

Jak kort eintlik ’n hele ander app om sy fans te akkommodeer. Louw check nie eens meer Instagram nie, maar die mense wat met hulle praat … wanneer laas het iemand gevra oor die tegniese aspekte van surf en gewag vir ’n wérklike antwoord?

Soos Deidre tans wag.

[haal diep asem]

“Die grootte help, maar die hele ervaring, hóé jy die wave ry en wat jy daarmee doen … dis wat dit die moeite werd maak.” Is dit genoeg? Hoe verduidelik hy iets wat hy deesdae net dóén? Wat so natuurlik soos asemhaal is?

“Die ervaring?” Deidre leun nader en jasmyn hang skielik in die lug. Louw se gedagtes dryf onwillekeurig na Stellenbosch en die Regsfakulteit waar hy gereeld verbystap, die struike gepeper met wit blomme in die lente.

[Prompt, asseblief]

Hy rol sy skouers terug. “Die ondervinding soos … die reuk, die kalmte, die koue van die water, hoe die branders beweeg. Alles wat op die strand gebeur verdwyn en dan’s dit net jy en die perde –”

“Perde?” Om hulle maal leerders, loslopers wat van die snoepie na hulle tasse stap, maar Deidre het skynbaar haar hardloopstreke gelos.

Hy krap aan sy kraag waaronder nuwe rofies jeuk, die leertoutjie met sy charms klingel om sy nek. Haar oë volg die klank.

[Don’t let the audience rattle you]

“As die wind waai en die water daai wit skuim op die see maak. Mens noem dit perde.”

Deidre begin iets sê, maar Malherbe en Ben storm skielik op hulle af en gooi Louw van balans af. Hy gryp Malherbe se skouer – altyd die standvastigste een – maar strompel in elk geval.

Ben ruk amper Louw se arm uit lit uit. “Kom ou, Klippies het jaffels by die snoepie gescore.”

“Hanja?” Louw kan die grynslag nie keer nie. Wat Ellis nie vir ’n snoepie-score sal doen nie …

Ben gooi sy kop terug met ’n lag. “Jy weet mos! Sy cave as hy sy ogies bat en praat oor die ‘psigologiese belewenis van bergklim’.”

Malherbe rol sy oë en sien skielik vir Deidre raak. Hy glim­lag versigtig; die glimlag wat hy dra vandat die Albertyns die groot huis teen Kannube Duin gekoop en hiernatoe getrek het. Ben lag oor iets, maar niemand luister nie – iets wat nie sommer gebeur nie. Hulle staar na Louw, wag dat hy haar voorstel, maar haar naam haak in sy keel soos ’n mond vol soutwater. Soos hulle gesprek wat skielik soos ’n knop in sy keel sit.

[Nog ’n prompt, Swanepoel?]

“Jy! Jaers!” Jak spring tussen hulle deur en draai om in ’n agterstevoor draffie. “Kom, ouens! Kannie, daar’s ysies betrokke.”

Die spell is verbreek. Jak wat in hul noemname ingeglip het, herinner Louw aan waar hulle is. Skool. Hier is hy nie Louw nie – hy’s Bitter. Nes Ben Kannie heet. En Malherbe, Vuur. Deidre is skielik net nog ’n hoërskoolmeisie anderkant die gang, en Bitter se broers roep hom agterna. Hy kyk na haar in die wegloop.

Saterdag, vorm sy lippe. Hy hoop dis genoeg van ’n ver­sko­ning, maar haar emosies is nie goed weggesteek nie. Ir­ri­tasie trek aan haar mondhoeke, maar hy’s klaar om die draai en by die trappe af, sy beste vriende om hom, op pad na meisies wat enigiets sal gee vir ’n glimlag. Die donker­kop wyk soos ’n skim na ’n hoek in sy brein. Sy vriende druk ver­by mekaar by die lewenswetenskappeklas se deur en sprint om voor te kom. Nog ’n kompetisie. Nog iets om te jaag. Presies hoe dit moet wees.

Broers en branders.

Branderjaer

Подняться наверх