Читать книгу Branderjaer - Joha van Dyk - Страница 7

Оглавление

Deidre

“HOE IS DIT dat jy nie elke dag huis toe rol nie?” Mieke kyk verontwaardig hoe Pieter nog ’n hand vol springmielies in sy mond prop. Mieke het nog altyd ’n vreemde verhouding met kos gehad, maar wanneer Pieter in die omtrek is, is dit net sóveel duideliker, aangesien hy enigiets eetbaars verorber en steeds so skraal bly.

Mieke gryp die papiersak met springmielies by hom en waai dit voor sy gesig. “Hierdie is hoekom jy nog nie ’n meisie het nie.”

Boomtakke gooi skadu’s oor die grasperk. Pieter leun te­rug teen die stam van die boom waaronder hulle gewoonlik pouses sit, balkies blink op sy blazer se lapel.

“Wie’t tyd vir meisies? Hulle’s in elk geval net moeilikheid,” sê hy skouerophalend. “Ek het anyways vir julle.” Hy vee ’n hand oor sy vaalblonde borselkop. Met die aanbreek van branderseisoen het die skoolhoof seuns begin inroep om hare af te skeer, om die anargie en onrustigheid te demp. Branderseisoen is die dorp se besigste tyd, wanneer toeriste gelok word deur die perfekte weer en kompetisies op Stormbaai se strande.

“Wel, óns gaan jou nie date nie,” sing-sê Mieke, terwyl sy deur ’n Vogue blaai wat sy by die kunsonderwyser geleen het.

“Ah, daar kom die Poppies,” verander Pieter die onderwerp met ’n kreun en sit regop. Die Branderpoppies mik ge­woonlik vir die quad waar die Branderjaers tussen ander leer­ders pronk. Die rugby-ouens kom vanaf die rugbyveld ver­by hulle geloop en gaan staan om iets op Dekker Vermaak se foon te kyk. “Check hierdie video oor die Jaers se nuut­ste berg­klim-ekskursie,” sê hy en hou die foon na hulle uit.

“Klippies hang aan ’n tak van ’n cliff af! Daai Stellenbosch copycats kon nie eens verby die eerste steilte kom nie!”

Vaagweg hoor Deidre iemand juig in die video, voor die wind die klank wegruk.

“Kannie het blykbaar ’n nuwe grot ontdek –”

“Weet nie hoe de hel hy by daai spasies inkruip nie.”

“Hallo? Het julle vergeet dis Branderseisoen? Ons kyk Saterdag, nè?”

“Asseblief. Het hierdie mense nie lewens nie?” mompel Pieter en druk nog springmielies in sy mond.

Deidre probeer hard om nie na Pieter te kyk nie. Haar ge­sig voel klaar warm, sy druk haar kneukels teen haar wange om af te koel. Onwillekeurig soek haar oë oor die quad, maar die groep seuns is nog nie op hulle gewone plek nie.

Die Branderjaers kom van jongs af saam met hulle vreemde noemname en vreemde stokperdjies.

Ekstreme stok­perdjies.

Dit het op laerskool begin. Deidre was in juffrou Van Wyk se graadvier-wiskundeklas, ironies genoeg, toe die interkom afgaan en die seuns geroep word. ’n Klomp seuns, van graad vier en vyf het skool gebunk en in Weduweekaai van die rotse af gaan duik. Die duikpunt was ’n goeie tien meter hoog, niks vir ’n grootmens nie, maar vir ’n laerskoolkind?

Wanneer Deidre terugdink, kan sy skaars ’n tyd sonder die Branderjaers onthou.

“Alles uitgesort met Kruger?” vra Pieter skielik langs haar.

“Nee, ons is onderbreek en Kruger het na die kans ge­gryp om my daar uit te kry,” sê sy en leun terug op haar arms.

“Sy ken jou ma.” Mieke kyk nie op van die tydskrif nie. “Jou ma is nie die maklikste vrou by ouervergaderings nie.”

“Advokaat Anker,” sug Pieter. Sy oë trek skrefies soos hy die mense dophou. Nes sy pa. Dis amper vreemd om te dink dat Pieter dalk eendag dieselfde pakke klere as sy pa sal dra, en mense moet aanstel en afdank, kontrakte moet teken – sy hele toekoms voor hom uitgelê in sy pa se besighede. Hoewel hy dit nooit noem nie, wonder Deidre soms of hy gelukkig is met sy lot. Toe hulle jonger was, was dit soveel makliker om nie daaraan te dink nie.

Pieter draai na Deidre: “Wie’t julle in die rede –”

“Volstee. Anker. Le Roux,” klink ’n stem skielik op.

Deidre kyk verskrik op om te sien wie by hulle aangesluit het.

Martin Daniels staan onder by die wal, met die ander lid van hulle vriendekring aan sy arm, Bella Prins. Niemand noem hom Martin nie. Nes die Branderjaers, is hy bekend onder ’n ander naam – Daniels. Bella piksoen sy wang voor sy oorkant Deidre haar plek inneem, lang bruin bene uitgestrek. Bella glimlag vir Daniels, haar vingers besig om haar das netjieser te knoop. Oor haar hande pronk swart ink, nota’s wat sy deur die dag maak vir haar skryfwerk vir die Inkvis. Iemand moet die skoolkoerant interessant hou.

“Bells, ná skool?” Daniels glimlag nooit, maar wanneer hy dit doen, is dit vir Bella. En wanneer dit gebeur, is dit soos ’n komeet wat deur die hemelruim skiet – jy sien dit, maar dis in ’n oogwink verby.

“Is reg, sommer innie voorportaal, nè?” Bella wag nie vir ’n antwoord nie, skep net ’n hand vol springmielies en leun nader aan Mieke se Vogue. Daniels druk sy hande in sy broek­­sakke, sodat sy maer skouers opgetrek lyk, ’n silwer dog tag blink by sy boonste knoop en Deidre wonder, nie vir die eerste keer nie, waarvoor hy dit verdien het. ’n Wit litteken loop van sy bolip tot onder sy ken en dit laat sy oë donkerder lyk toe hy vir hulle knik en omdraai.

Hoewel hy nooit onbeskof is nie, is dit duidelik hy verdra hulle net omdat hy verlief is op Bella. En hy ís verlief – ’n ou van Breekwater, soos Daniels, laat niemand hom so beheer soos Bella hom beheer nie. Hulle kyk hoe hy wegloop, hare kort geskeer, met littekens merkbaar teen sy kopvel. In graad nege is hy oorgeplaas vanaf Breekwater Hoër, die onderdorp se oorbevolkte skool, na Storm Hoër. Breekwater is basies Storm­baai, maar die klasseverskil het ’n hele ander naam ver­dien. Die paar vriende wat Daniels hier gemaak het, is on­sig­baar. Die meeste mense in die skool vind hom stug, en sy teenwoordigheid intimiderend.

“Hoe loop die reëlings vir social-week, Piet?” vra Bella. Bella se vraag is nie gemik op ’n antwoord nie. Almal weet Pieter het die reëlings vir Sosiale Week al in Januarie gereed gehad. Die Sosiale Komitee is net één van sy passion projects op sy “Reis na Hoofseun”.

Mieke snork liggies. “Vra eerder vir hom hoe gaan dit met die beplanning van sy volgende maaltyd.”

Deidre trek aan ’n garing van haar kous reg onder haar knie, maar bly gefokus op Daniels se rug. In die middel van die quad toring Verfkwas uit – die bottlebrush wat seker al ’n eeu se ringe in sy stam het. Teen die bas is name ge­kerf van geliefdes, vriendekringe, van matriekjare. Die be­ken­de blou-­en-swart anker, wat teen die afkondigingsborde pronk en op hul skoolbaadjies geborduur is, is daar geverf met spray paint, amper so groot soos die menigte graffiti van bran­ders wat regoor die skool verskuil word – onder ban­kies, teen boom­stamme, op die hoek van die hokkie-locker room. Niemand kan dit mis nie.

Nes die Branderjaers. Hulle is immers alom­teenwoordig in die skool. Die rooi-en-geel verf­kwasblom­me dans in die seebries, die skool na genoeg aan die see dat die lug sout proe. Regs van die boom, in sy skadu, het die Branderjaers hul plek­ke nou ingeneem op sementbankies, met die Branderpoppies wat om hulle tjirp – die aanhan­ger­klub wat gewoonlik op en af spring oor hulle volgende kompetisie.

Die rooikop staan uit – Malherbe Albertyn.

Vuur.

’n Pren­tjie van erns, arms oor sy bors gevou waar hy teen die muur leun. Sy das losser as die res, sproete wat tot op sy sleu­tel­been lê waar sy vingers ritmies tik. Die ryk seun wat maak asof hy in die koshuis hoort.

Jak Human is langs hom, uniform pynlik netjies. Mieke het laas jaar ’n groot crush op hom gehad, totdat sy uitge­vind het sy ma is so streng. Sy’t onmiddellik oorbeweeg na die rugbyseuns, en as Deidre Bella se grappe kan glo, die hokkieseuns ook. Dis beter so. ’n Mens hoor heeltemal te veel hoe die meisies oor “Stoke” praat in die badkamers.

En dan is daar Ellis van den Bergh, reserwe vir die eerste rugbyspan, die donkerkop-ou bekend vir sy passie vir bergklim. “Klippies” stamp-stamp aan Ben Palmer wat met sy skateboard probeer flips doen. Almal spot altyd dat Ellis probeer om bruin genoeg te brand sodat hy en Ben, wat klaar redelik na mekaar lyk, as broers gesien kan word. Die skate­board flip is suksesvol en vir ’n oomblik verskyn Ben se noem­naam, “Kannie”, onder die board.

Laaste is daar Louw wat die quad binnetree. Louw Swa­ne­poel. Ster van die seisoen. Die branderplankryer van die strandhuisie by die baai. Sy kop buig en van hier af kan Deidre­­­ dit nie sien nie, maar in die gang was dit duidelik: die effe skewe neus wat definitief al gebreek was, die lippe wat onseker beweeg, onseker van wat sy van hom verwag, die donker hare wat oor sy kraag vee. Vreemd genoeg noem hulle hom “Bitter”. Ná sy met hom gesels het, kan sy nie help om te wonder hoekom nie.

Nes Daniels verby die Branderjaers skuur, haak hul oë met syne. Louw mik reguit vir Verfkwas, maar Daniels ruk hom tot stilstand. Vir ’n oomblik vries die quad soos hulle daar staan, asof die skool asem ophou vir ’n fight … tot Louw sy skouer losruk. Daniels staar Louw agterna tot hy onder Verf­­kwas se skadu inbeweeg, asof dit verbode gebied is, maar dan verdwyn Daniels by die skoolgebou in. Asof niks gebeur het nie. Deidre breek haar kous se rafel af.

Die Branderjaers is die onaantasbare elite van Stormbaai. Wat kan Daniels moontlik so vyandig teenoor hulle maak? Deidre-hulle is nie aanhangers nie. Pieter is die antitesis van ’n Jaer, maar niemand haat hulle só openlik nie.

“Wat’s Daniels se issue met die Jaers?” vra Deidre vinnig.

Pieter vries, hand vol springmielies halfpad na sy mond. Hulle praat nie met Bella oor haar ou en hoe potensieel skrikwekkend hy voorkom nie – dis ’n ongesproke reël.

Bella steek ’n los sliert hare by haar oor vas voor sy haar kop skud. “Girl, jy’s besig om op droë grond vis te vang. Voel vir my hulle soek altyd rede om mekaar nie te laaik nie. Dink dit het iets met Palmer te doen.”

Deidre loer na die Jaer op die skaatsplank. “Ben Palmer?”

“Ja.” Bella se bruin oë vind hom in die quad. “Martin wil nie daaroor praat nie, maar … het julle geweet hy’t ’n sussie?”

“Daniels?” vra Pieter tussendeur sy kouery.

“Nee, Ben.” Bella kyk weer na die quad voor sy na haar vriende draai. “Sy’s nog in Breekwater. Ek dink … ek meen, met Martin se attitude … ek dink dit het iets met die girl en haar broer te doen. Hoekom hulle almal mekaar nie laaik nie, meen ek.”

“Hulle is lojaal.” Mieke haal ’n skouer op. Selfs sy het nou opgekyk om die seuns se gespanne lywe te bestudeer. “Is daai Erich?”

Pieter kreun. As Mieke ogies maak vir Erich Uys gaan Pie­ter Volstee tien teen een moet matchmake in registerklas.

“Hoe weet jy van die suster, Bells? As dit dan ’n staatsgeheim is.”

Bella se lippe trek in ’n geheimsinnige glimlag. “Hallo? Daar’s perks aan die Inkvis.”

“Asseblief, moenie probeer om die skoolkoerant cool te laat klink nie,” lag Mieke. “Ek gaan jou nie kan ernstig opvat nie.”

“Hei!” Pieter skiet haar knie met sy middelvinger en duim. “Sommige van ons hou van buitemuurse goed, ou­kei?”

“Ja, ja, meneer Hoofseun.”

“Toekomstige hoofseun,” mompel Pieter. “As die Albertyns nie ’n astro skenk en hulle dit eerder vir Malherbe gee nie.”

Deidre sug kliphard. As dit nou weer in ’n debat oor die Branderjaers as kompetisie vir leierskapsposisies ontaard, hoop sy die klok lui gou. Mieke skud die Vogue uit en hou dit voor haar gesig, voor Pieter weer kan begin mor.

“Ek gaan dalk ’n artikel oor die Jaers doen, so jy moet chill, Piet. Van nou af moet ons soveel moontlik oor hulle praat. Ek vat alles wat ek kan kry. Mieke, jy kan dalk vir my ’n arty illustration doen, nè?” Bella ruk ’n pen uit haar baadjiesak en begin nog woorde op haar hand skribbel.

“Soos van die brander?” Mieke sit meer regop, oë gespits op die rowwe graffiti op Verfkwas se stam. “Done.”

“Perfect!” Bella knik voor sy weer begin peuter aan haar das.

“Ugh.”

“Nee, dis nie ‘ugh’ nie.” Bella klap Pieter se been. “Dis interessant. Wat weet ons eintlik van hierdie ouens?”

“Hoekom moet ons enigiets oor hulle weet? Hulle wil niks oor ons weet nie. Hel, ek wed jou twintig rand hulle ken nie eens een van ons se name nie.”

“Is jy jaloers, Piet?” Mieke loer na Deidre oor die Vogue se rand en knipoog.

“Ek’s nie jaloers nie, Mieks, maar hierdie obsessie met hulle is –”

Die klok onderbreek Pieter en hy knyp die brug van sy neus tussen sy wysvinger en duim. Saved by the bell.

Teen die tyd dat Deidre binne is en by haar Engelsklas op die tweede vloer se venster uitkyk, staan die Branderjaers steeds buite in ’n gespanne kring.

Asof die klok nooit gelui het nie.

Branderjaer

Подняться наверх