Читать книгу Branderjaer - Joha van Dyk - Страница 5

Оглавление

Deidre

DEIDRE HAAT DIT om swak te doen in ’n vak. Sy haat dit amper soveel soos wiskunde. Amper, maar nie genoeg dat sy nie nou voor die wiskunde-onderwyser staan met smekende oë nie. Juffrou Kruger is nie een vir trane nie, maar gelukkig is sy ’n softy as dit kom by ’n tragiese geval. En eerlikwaar, op hierdie stadium is A-kandidaat-Deidre, mejuffrou Vol­punte, se saak redelik tragies.

Juffrou Kruger leun terug in haar stoel en bestudeer Dei­dre van agter haar brilglase. Selfs in ’n stoel, hande oor die armleunings gevou, is juffrou Kruger intimiderend. Deidre het hierdie gesprek menige kere sedert graad tien gehad. As jou ma Renate Anker is en jou wiskundepunt jou gemiddeld aftrek, sal jy van klas tot klas geskuif word tot die gevolgtrekking uiteindelik gemaak is dat die onderwysers nie die pro­bleem is nie. Deidre is die probleem. En sy weet dit nou al ’n ruk lank. Haar oplossing was om dit te ignoreer. Sy trek haarself terug in haar kamer met ekstra leeswerk vir haar ander vakke, probeer opmaak vir die onvermydelike trefslag van wiskunde. Nou lê aansoeke om universiteitstoelating voor en hierdie gesprek moet weer plaasvind. Deidre kan nie vir ewig wegkruip nie.

Toe Kruger uiteindelik oogkontak verbreek en na die toets­punte voor haar loer, ontspan Deidre se skouers net liggies voor sy hulle weer terugstoot. Nie een van hulle het al iets gesê nie, net in stilte gewag vir een of ander oplossing om uit die lug te val. Die dubbel-wiskundeperiodes was hel, soos gewoonlik, maar wat dit nog erger gemaak het, was die wete dat sy presies hier sal moet staan wanneer die pouseklok lui.

Pouses is die beste tyd om onderwysers te druk vir antwoorde – daar’s niks wat ’n onderwyser meer begeer as om leerders te ontglip in hierdie kort twintig minute nie.

“Daar is nie nog onderwysers nie, Anker.” Kruger lig ’n wenkbrou, dit maak ’n negentiggradehoek op haar voorkop.

“Ek weet.” Deidre weet ook wat sal gebeur as sy met haar ouers gaan praat oor nog ’n swak uitslag. Haar pa, terug van ’n besigheidsweek, sal teleurstelling in sy oë dra. Deidre kan opstelle skryf oor hoe woedend haar ma sal wees. Al die hoë punte en prestasies in haar ander vakke beteken eintlik, volgens haar ma, niks in die regte wêreld nie. Al wat dit sal doen is om Die Plan te verwoes. Metafories op te skeur.

Metafories wou Deidre al baie dinge met Die Plan gedoen het.

Die Plan is al sedert graad agt in plek. Doen aansoek vir UCT en Stellenbosch – enigiets anders is ’n mors van tyd. ’n LLB by ’n goeie universiteit (asof dit saakmaak vir iemand wat nie in Regte belangstel nie), dan article by ’n goeie vennootskap. As haar ma haar sin kry, sal sy Deidre druk vir advokaat. Natuurlik is ’n woonstel en ’n kar ingesluit in hierdie blink toekoms. Die Plan is mooi uitgewerk. “Daar sal mans op universiteit wees wat in jou gaan belangstel,” het haar ma haar plegtig ingelig. “Hulle is nie belangrik nie; inteendeel, hulle is net struikelblokke in die pad van ’n goeie toekoms.” ’n Toekoms waarin Deidre alles doen waaroor haar ma ge­droom het – op ’n silwerskinkbord vir haar aangebied.

Kruger se stem ruk haar terug na die werklikheid:

“Jy’s slim, maar hierdie punte . . . Moet jy vir beurse aansoek doen?”

Deidre knik vinnig. Haar tas raak al hoe swaarder hoe langer sy staan, maar sy sit dit nie neer nie, sy gaan sit ook nie in een van die banke nie. Sy moet haar man staan. Sy kort ’n oplossing.

“Juffrou … Daar’s niks wat ek nog kan doen nie. Ek leer vir ’n oopboek-klastoets en dop in elk geval. Ek kan nie weer vir my ma-hulle vra vir ’n tutor nie. Ek het al by baie van hulle lesse gehad, maar niks verbeter nie.” Sy hoop nie Kruger kan sien hoe styf haar skouers is, hoe die spanning haar rugstring laat krom trek en haar hande laat sweet nie.

“Sommige mense is net nie aangelê vir wiskunde nie. Jy doen blykbaar goed in jou ander vakke. Het jy daaraan ge­dink om na Geletterdheid oor te skuif?”

“Dis nie ’n opsie nie.” Deidre byt haar lip. Haar ma is gre­tig om meer op tutors te spandeer, maar dis tevergeefs. Sy’s in elk geval onseker oor haar pa se “besigheid”. Die Ankers praat nie oor finansies nie, maar haar pa lyk meer uitgeput elke keer wanneer hy terugkeer van nog ’n besigheidsweek. Haar ma is heeltyd opgetense. Wat ook al aangaan, nog uitgawes gaan dit nie beter maak nie.

“Dis soms moeilik vir die tutors. Hulle’s besig by universiteite en colleges, dan moet hulle nog ry om hier te wees. Daar’s ook net soveel tutors in Stormbaai. Dalk kan –”

“Skuus, Juffrou, is dit ’n slegte tyd?”

Deidre swaai om na Louw Swanepoel in al sy matrikulant-glorie: das losgeknoop, glimlag pynlik arrogant, ’n ry rowe wat regoor sy wang sny.

As Deidre daar en dan kon uitloop sou sy uithárdloop.

Louw is een van dáárdie ouens. Die ou met die looks, die ou met die guns van die onderwysers. Die ou met die pelle waarna almal kyk wanneer hulle deur die quad loop. Die ou wat homself die meeste van die tyd in stormwaters sal gooi vir ’n gevaarlike brander of selfs teen ’n krans sal afduik vir ’n oomblik van adrenalien. Waaghalsig. Windgat. Weerbars­tig. Alles wat Deidre nie kan verdra nie.

“Swanepoel,” sug Kruger. Sy vryf haar kneukels oor haar voorkop, asof sy voorberei vir ’n lang geveg. “Gee my ’n oomblik.”

“Reg so, Juffrou,” knik hy. Sy blik glip oor Deidre waar sy met haar tas en baadjie in die hand staan. Deidre rol senu­agtig haar trui se moue op, ’n erfstuk van haar neef. Die ka­mer voel skielik te vol met Kruger én Louw, asof sy platgedruk gaan word deur die twee dominerende teenwoordighede. Louw bly staan buite die klas met sonlig wat in sy hare rondspeel, die skoolbaadjie wat span oor breë skouers.

Kruger sug weer, maar sy leun nie terug nie. Sy maak reg om te gaan. Sy sal ’n gesprek met Louw in twee sekondes af­han­del, knak voor sy sjarme en vir Deidre gaan sy definitief nou afskiet. Daar is nie ’n logiese antwoord vir haar pro­bleem nie – alle moontlike opsies weier sy. Haar enigste uitweg is om sover moontlik nie te druip nie.

Onwaarskynlik.

“Eerlikwaar,” begin juffrou Kruger, “jou ander punte is goed en jou gemiddeld …” Daai uilagtige oë glip skielik ver­by Deidre. Deidre rol haar skouers terug. Natuurlik sal die on­der­wyser tydens háár krisis aan Louw aandag gee. Wat het sy verwag? Sy’t hierdie geveg verloor die oomblik toe hy teen die kosyn kom leun het asof hy die skool besit.

Sy haat hom, besluit sy. Sy’t nog nooit ooghare vir hulle gehad nie, veral nie toe hulle vir Pieter begin spot het toe hy as prefek verkies is in graad sewe nie. Toe hulle haar beste vriend begin aanvat het, het haar irritasie met hulle gegroei. Maar nou? Sy haat hom. En sy groepie. En alles waarvoor hulle staan en –

“Swanepoel is geniaal. Beste in sy klas.”

Deidre verstar, vingers wit geklem om die tas se band. “Hoekom is hy dan nie ’n tutor nie, Juffrou?”

Hy en sy bende maak geen geheim daarvan dat hulle nul belangstelling het in enigiets behalwe adrenalien-highs nie. Daai strandkuiers en branders gaan hulle nêrens bring nie. En dis asof die onderwysers net nie omgee nie. Almal moet sien kom klaar, maar die Jaers word alles verskoon. Kruger weet dit. Sy lyk nie geskok oor Deidre se vraag nie. In­teen­deel, sy hanteer dit met gemak.

“Swanepoel het ’n gewoonte om sy branderplankryery bo alles te plaas, maar ek is seker hy besef nou hoe verkeerd dit is.” Sy skiet ’n skerp kyk oor Deidre se skouer.

Moenie omdraai nie. Moenie kyk nie. Hy verdien nie jou aan­dag nie.

“Hy het ’n paar uitstelle en verlore klasse om voor op te maak en ek is seker hy sal nie sukkel om tyd te vind in sy besige skedule om hierdie guns aan my en homself te bewys nie.” Juffrou Kruger se stemtoon laat geen ruimte vir heroorweging nie.

“Guns, Juffrou?” vra Deidre versigtig. Sy weet nie wat Louw met sy gesig doen agter haar rug nie, maar Kruger s’n breek vir die eerste keer vandag in ’n glimlag uit.

“Swanepoel gaan jou tutor, Anker,” sê sy. Sy staan op en gryp haar baadjie van haar stoel af. “Kom. Uit. Al twee van julle,” blaf sy.

Louw het klaar gang toe geglip, maar Deidre volg Kruger stadig tot hulle ook in die gang staan en die onderwyser die klas sluit. Sy draai vir oulaas na Deidre en Louw, lippe wat tergend in ’n amper-glimlag trek. “Ek wil gaan tee drink. Sort dit uit. En …” ’n Frons trek weer tussen haar wenkbroue toe haar oë vinnig begin knip. “Moet mekaar net nie vermoor nie.”

Branderjaer

Подняться наверх