Читать книгу Branderjaer - Joha van Dyk - Страница 12
Louw
Оглавление“DAAR’S ALIENS IN Breekwater.”
Dis hoe Frederik Anker vir Louw en Jak gewaarsku het toe hulle Breekwater met hulle fietse wou binnevaar en verken. Eers jare later sou Louw besef Frederik was reg.
Hy verstaan ook nou hoekom hulle as jong laaities vir die waarskuwing gelag en toe in elk geval Breekwater vermy het. Hulle het altyd geweet iets is nie reg daar nie.
Die eerste keer toe hy daar ingestap het, het hulle met fietse daar aangekom, met puisies en maer arms en vrees. Ben het hulle gewys waarheen sy pa hom gevat het toe hy klein was, en hulle het by die ondergrondse parkeerarea ingery. Hulle’t die fietse op die swart gruis gelos en Ben gevolg tot by ’n deur waarteen ’n swart rot binne ’n kring gespraypaint was. Jak het een of ander sarkastiese opmerking gemaak oor die rot. Ben het hom ’n vuil kyk gegee, maar Malherbe het gelag.
Die ou wat by die deur uitgekom het, het ’n pyp tussen sy tande gehad, die reuk van tabak die enigste skoon ding omtrent sy teenwoordigheid. Boss was nog altyd tingerig – te maer om self te baklei – maar hy het ander skills, so het Ben hulle gewaarsku, skills wat selfs Ben se pa indrukwekkend gevind het. Dis nog iets wat Louw later besef het. Boss het een of ander siekte wat hom so sleg laat lyk, maar in sy hart is hy nes ’n rot. Hy sal jou opvreet as hy honger genoeg is.
Louw het nie geweet wat hulle opgee toe Boss hulle na kantore onder die gebou lei nie. Die Kring was leeg, maar alles was taai – al was daar skoonmakers met moppe en lappe. Die Kring is altyd taai, maak nie saak hoeveel keer dit geskrop word nie.
Toe die deur van ’n kantoor oopgaan en hulle die man agter die lessenaar herken, ’n sigaret tussen sy vingers, was dit asof hulle almal gelyktydig vries. Hy het hulle nader gewuif – die eerste van nog baie bevele wat die Jaers sou nakom. Louw het die man se ring met sy van se wapen op gememoriseer, die trouring aan sy linkerhand, die netjies gestrykte hemp. Hy was te skoon vir hierdie plek, sy gesig te bekend om hier te hoort. Die hoof-Kringmaker. Die man wat ’n ooreenkoms gesluit het met die Rotte, Breekwater se wreedste bende. Die man wat saam met die Rotte hierdie hel geskep het. Die breins agter die muscle.
Hy was nie die man wat hulle gedink het hy is nie.
Ben het hulle voor die tyd gesê dat sy familie bekend is in Breekwater – om die verkeerde redes – en het al die praatwerk gedoen. Hulle het Kalla se misdaad probeer verduidelik, gevra vir empatie. Toe hulle niks kry nie, was daar net een ding oor om haar skuld aan te spreek.
Die kontrak was klaar op die tafel.
Die man het agteroor in sy stoel geleun en die kontrak met ’n selfvoldane glimlag oor sy lessenaar geskuif. Ben kon net na die papiere staar, en niemand wou die keuse maak nie.
Dit was Ellis wat eerste die kontrak geteken het. Toe hy dit doen het Louw net gedink aan Kalla se gesig, die trane wat oor haar wange gerol het. Die bloed.
“Ek het al gehoor van julle,” het die man gesê toe hy die kontrak terugneem en in sy onderste laai toesluit. “Julle’s redelik bekend vir daai stunts van julle. Dis great.” ’n Netjies geplukte wenkbrou het gelig, en vir ’n oomblik het hy nes die cartoon villain gelyk wat Ben altyd op Louw se exam pad geteken het.
“Ons gaan goed saamwerk, seuns. Natuurlik, as julle goed vaar, kan julle altyd aanbly ná hoërskool. Wel, julle twee gaan natuurlik nog ná skool hier wees.” Hy’t sy wit tande geflits vir Jak en Louw. “Die kontrak duur tot die laaste een die skool verlaat het. Pasop dat julle nie druip nie.” Hy’t gelag en geknik. Boss het die deur oopgemaak, hulle ’n toer deur die arena gegee en ’n inligtingspamflet met roosters en voorwaardes oorhandig.
Die Kring het die Branderjaers ingewag.
En hulle het gewillig in die rot se kake ingestap.
“IS JY NOG met my?”
Deidre se stem ruk hom terug na die strand. Hy glimlag vinnig – iets wat al hoe makliker raak hoe langer hulle met wiskundeboeke tussen hulle sit.
“Jip, sorry, uh … is jy al klaar?”
Haar wenkbroue lig asof om te sê: Wat dink jy´? En sy draai terug na die syfers in haar werkboek.
[don’t direct your fellow actor]
Louw kyk weer na die handboek. Onder die wenke vir die formule het hy geskryf: Moenie vergeet nie. Toe hy na sy handskrif kyk, kan hy nie help om te onthou hoe sy naam op daardie kontrak staan nie. Louw Swanepoel, netjies uitgeskryf onder sy handtekening.
Deidre blaas die los krulle geïrriteerd uit haar gesig weg. Sy sukkel nou al die hele sessie lank om die hare teruggesteek te hou, maar die vlegsel rebelleer. Louw wil eintlik die rekkie afhaal sodat haar hare los kan hang. Hy kan hom net voorstel hoe –
[Don’t break character]
Hy kyk weer uit oor die see.
Sy het Kruger se klaskamer gekies vir die laaste sessies op Dinsdag en Woensdag, maar hy’t seker gemaak dat Donderdag s’n meer van ’n uitsig het. Weduweekaai het min genoeg mense – die Jaers is by Suidstroom en die skool se kinders sou hulle volg. Hy’t spesiaal gewag tot die meeste van hulle weg is voor hulle geloop het. Hy’s nie lus vir oë nie. Veral nie op Deidre nie. As dit by die Kring moet uitkom …
Deidre was skepties toe hy haar verby die promenade lei na ’n afdraai met ’n vervalle teerpad en heuwels oortrek met lang grasse. Op die heuwel het haar mond ’n bietjie oopgeval toe sy die strand soos ’n vishoek voor hulle sien uitstrek, die steil kranse wat oor hulle uittoring, die ligblou waters van die baai.
Louw kon net na haar kyk.
Nou lê die water skitterend voor hulle. Dis windstil en so ver van die dorp, ’n mens hoor nie eens die karre nie. As toeriste die see wil sien is die promenade die beste plek – sentraal en propvol winkeltjies, kafees en eetplekke.
“Ek verstaan nie hoe dit so maklik vir jou is nie.”
Louw kyk om. Sy het weer opgegee en prentjies in die sand begin teken.
“Gee gou?” Hy vat die boek by haar en lees vinnig deur die som. Met ’n paar strepe van die potlood is die probleem opgelos.
“Sien? Dis nie so moeilik nie.” Hy gooi die potlood neer en leun terug op sy arms. Die son maak hom lui en, besef hy skielik, hy voel vir die eerste keer die week heeltemal kalm. Asof niks hulle hier kan aanraak nie. Dis mal, dink hy weer. Hulle ken mekaar nog net ’n paar weke, maar dit voel soos jare. Asof hy nog altyd haar uitdrukkings probeer ontleed het, haar geterg het, haar wiskundesomme probeer oplos het.
“Sien? Dis onmoontlik, man. Julle’s heeltyd by die see, of in die berge of … hoe kry jy alles gedoen?” Sy klap die handboek toe en leun terug met haar hande in die sand agter haar begrawe.
“Ons is nie heeltyd buite nie,” stry hy halfhartig. Haar wenkbrou lig uitdagend, maar hy raak nou al gewoond daaraan. Eerlikwaar? Dit stuur ’n adrenalien-rush deur hom as hy ’n reaksie kry. Sy dra al haar emosie op haar gesig. Haar gesigsuitdrukkings is oordadig en oordrewe, maar op haar gesig pas dit, en hy wil al hoe meer sien.
Deidre ruk skielik haar foon uit, maak Instagram oop en tik #branderjaer.
“Lo and behold, Bitter,” grynslag sy terwyl sy deur die hordes posts scroll.
Hy wil nie kyk nie. Vandat daardie eerste video die internet getref het, het dit ’n game geword. ’n Speletjie van “wat gaan hulle volgende doen”. Elke toertjie wat gevolg het was meer intens, meer avontuurlustig, meer aangevuur. Asof die adrenalien opgebou het by die skool, totdat hulle weer van rotse afduik, die grootste branders ry, die donkerste grotte ontdek, die stormwater van Kliprivier aandurf. Dis asof alles binne Louw opwen tot die oomblik wanneer hy losgelaat word en uiteindelik kan beweeg soos hy moet.
Elke toertjie is op Instagram gelaai, Facebook, YouTube.
Hulle het nie gedink die reaksie buite Stormbaai sou so groot wees nie. Hulle wou deel wat hulle doen omdat mense geïnteresseerd was, omdat hulle geniet het wat hulle doen. Hulle het nie gedink ’n laerskool-vriendegroep sou ’n kultus word nie – Branderjaers. Dié wat die ekstreme najaag. Dit was nie lank voor studente en leerders van ander hoërskole dit begin optel en hulle eie kompeterende aard na vore laat kom het nie. Dit maak vir goeie kompetisie en nuwe pelle, maar daar’s altyd iets aan húlle. Die Branderjaers. Sy broers en alles wat hulle is. Hulle het hierdie ding begin. Ekstreem is in hulle bloed.
“Haai, kyk, Natasha het jou die skool sien verlaat op pad strand toe.”
[Subtiel, Swanepoel. Wees onsigbaar vir die gehoor]
“Sy’t uitgelaat dat jy saam met my was,” raai hy.
“A-ha, ja, maar Maandag was jy op Mokerpiek.” Sy loer sydelings na hom. “Jy’t gaan bergklim ná wiskunde.”
“Jou storie het my lus gemaak vir die uitsig.” Hy kyk na haar onder sy arm deur. “Hei! Moenie nou belangrik kom voel nie,” spot hy. “Ellis het in elk geval gesê ons moet oefen.”
Hy het nie. Dit was Louw se voorstel, maar hy kon nie help nie. Nes vanmiddag wou hy daar loop en hom voorstel wat haar uitdrukking sou wees. Wat sou vir haar mooi wees? Waarna sou sy kyk? Wat sou sy gedink het toe sy op daai piek staan en die wêreld daar onder sien?
“Dis fair.” Deidre scroll af, kyk na al die posts en draai haar foon sodat hy die hashtags onder die foto’s en video’s kan sien.
#branderjaer #vuur #klippies #kannie #stoke #bitter #extremeliving
Die strande is vol volleyball en musiek, meisies wat tan en ouens wat touchies speel terwyl hulle die surfers dophou.
Skielik trek haar wenkbroue saam en daardie groen-groen oë kyk na hom. Hy kom regop en hou die branders dop. Die eb en vloed. Alles raak stiller. Alles behalwe die geraas op Deidre se foon.
“Daar’s ’n live video aan die gang.”
#stellieschallenge
Nou en dan hou hy haar gesig dop terwyl sy die video bestudeer. Teen haar neus begin terg daar al sproetjies, die donker sirkels wat Donderdag onder haar oë was, is ligter. Dis asof sy meer wakker is. Hy wil sy hand uitsteek en een van die los krulle agter haar oor indruk –
“Hulle’s by Suidstroom.”
Suidstroom is ’n gewilde strand reg langs die promenade aan Breekwater se kant, maar ver genoeg van die onderdorp dat dit nog veilig is. Louw weet presies waar sy bendebroers is. Hy sluk die skuldgevoel weg en byt die binnekant van sy wang.
“Die ander surf, hoekom is jy nie daar nie?” Sy maak die comments oop.
#mandown
“Ek’s mos hier.” Louw vou sy arms op sy opgetrekte knieë.
“Ja, maar jy kon die tyd kies, hoekom het jy nie … Of hoekom het ons nie daar gaan sit nie? Jy kon tussendeur ’n brander of twee –”
Opgewonde gille trek deur die speaker toe ’n brander klap.
“Sien julle hom?”
“Stoke!”
“Daar’s Malherbe!”
“Jis, Vuur!”
“Waar’s Bitter?”
“Check daai snap!”
“Ek het dit op video!”
“Dis hoekom,” mompel Louw en gryp die foon uit haar hande. Hy sluit die skerm en gooi dit op die handboek. Deidre hou hom dop, maar hy kan nie na haar kyk nie. Anders gaan alles wat hy dink net uitkom en verkeerd klink en –
Hy vat aan die leertoutjie om sy nek, hy’t dadelik ná skool die das van sy nek afgeruk en die eerste twee knope van sy hemp losgemaak. Hulle sit op sy baadjie. Hoe nader dit kom aan die einde van die jaar, hoe meer versmoor voel hy in hierdie klere. Hoe meer wil hy uit sy klasse loop en Malherbe se bakkie vat en net … fokof. Hy krap weer aan die rowe op sy wang. Hy kan nie gaan nie. En selfs wanneer hy hier uitkom moet hy vir nog ’n jaar terugkom.
Deidre se stem is versigtig toe sy weer praat. “Jy kan nie geskok wees oor die aandag nie. Ek meen, is jy nie al gewoond daaraan nie?”
“Mens raak moeg daarvan, Deidre.”
“Ja, maar julle vra daarvoor.”
Sy oë beland op haar en sy leun terug. Irritasie byt aan hom, woorde jeuk binne sy mond, woorde wat hy onder ander omstandighede sou laat uitglip.
“Vra daarvoor?”
“Julle post heeltyd video’s en foto’s. Julle’t jul eie hashtag – hierdie is basies ’n brand wat julle ontwikkel het.”
“Ons was kinders. Toe dit begin het, was ons kids.” Dis al. Hulle was kinders en mense het hulle gemaak in hierdie –
“Wat gevaarlike toertjies gedoen het om aandag te trek.”
Louw se mond hang amper oop, hy byt op die punt van sy tong, voor hy skielik opspring. Die bekende woorde glip van sy tong af voor hy behoorlik sy balans kry: “Waag of waarheid?”
“Wat?” Haar hele gesig trek met vrae, en Louw kan nie help om te glimlag nie. Sy vra die vrae waaroor die meeste mense wonder. Wat niemand actually waag om te vra nie. Sy wil wéét hoekom hulle so is en hy wíl vir haar wys.
“Waag of waarheid? Kies een.”
“Is dit Branderjaer-kode vir truth or dare?”
Louw staar – die vorm van haar lippe wat effens oophang, haar hande wat vasgryp aan die sand, die wind wat oor haar speel soos oor ’n meisie in ’n rom-com. Skielik is dit die maklikste besluit van sy lewe.
Hy ruk sy skoene en sokkies af en gooi hulle teen sy tas.
“Wat –”
Hy gryp haar skoene vas, glip hulle saam met haar sokkies af en trek haar op met ’n vinnige beweging.
“Wat doen jy?” probeer Deidre protesteer, maar Louw lag net en raap haar in sy arms op en begin hardloop.
Sy gil en probeer uit sy arms loskom, maar dis tevergeefs. Die golwe kom al hoe nader. Hy is nie van plan om haar sommer net te los nie. Hy hardloop met haar in die vlak water in en dan is die branders oor hulle.
Louw los haar in die vlak water en duik dieper in. Toe sy kop die water breek, lag hy.
Die lug was nog nooit so soet nie.
“Is jy mal?” proes sy toe sy besef sy kan staan.
“Is dit nie die punt nie?” skater Louw.
’n Lag bars oor Deidre se lippe. Louw kyk met ’n grynslag na haar en sak dan onder die water in. Die skoolklere maak dit moeiliker, maar hy glip deur die water tot hy voor haar is, haar gesig sentimeters van syne. Skielik hoor Louw net sy eie asemhaling, sy hartklop wat al hoe harder word toe hy besef hoe naby hy aan haar is.
Haar glimlag is oorweldigend. Louw kyk na die druppels op haar wimpers, op haar lippe en sy mond voel skielik droog.
Sy hand lig na haar gesig en vang ’n druppel teen haar wang. Die fyn materiaal van haar skoolhemp is amper deurskynend, maar Louw kan nie wegkyk van haar gesig nie. Alles wat hy wil hê, is daar.
“Hierdie gevoel? Jy voel dit, nè?” Sy hande glip na haar heupe en hou haar stil, terwyl die branders liggies teen hulle breek. Sy knik. “Dis hoekom ons dit gedoen het.”
Deidre se asem kom nog vinnig, maar haar glimlag verdwyn stadig. Nes syne.
“Dis nie vir die likes op sosiale media nie.” Hy hoop sy verstaan. Meer as enigiets wil hy hê sy´ moet verstaan wat hy bedoel. “Ons was kinders wat by ’n krans wou afspring en sien wat gebeur. Die vrou wat die video geneem het, het dit op Facebook geplaas. Sy´’t dit vir ons gegee. Ons het net onsself ’n naam gegee toe die ouens ons begin spot het. Toe begin ons goed raak in wat ons doen. Maar hierdie gevoel? Dís hoekom ons dit doen.”
Dis skielik stil tussen hulle. Louw probeer haar effense hartseer mond, die trek van haar oë van die soutwater, die ligte bewing van haar lyf, alles inneem.
Dan breek sy gesig in ’n glimlag oop en hulle verdwyn saam onder die water in.